1 K o r i n t h ë r s 1
1 Paulus, 'n geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en die
broeder Sósthenes,
2 aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus
Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus
Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here:
3 Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!
4 Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van God wat aan julle in
Christus Jesus gegee is,
5 dat julle in alle opsigte in Hom ryk gemaak is, in elke woord en alle kennis;
6 soos die getuienis aangaande Christus bevestig is onder julle,
7 sodat julle in geen enkele genadegawe agterstaan nie, terwyl julle wag op die
openbaring van onse Here Jesus Christus,
8 wat julle ook sal bevestig tot die einde toe, om in die dag van onse Here
Jesus Christus onberispelik te wees.
9 God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus
Christus, onse Here.
10 Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om
almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie,
maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.
11 Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande
julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is.
12 Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos,
en ek van Céfas, en ek van Christus.
13 Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in
die naam van Paulus gedoop?
14 Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Crispus en
Gajus,
15 sodat niemand kan sê dat ek in my naam gedoop het nie.
16 Ek het ook nog die huisgesin van Stéfanas gedoop. Verder weet ek nie of ek
iemand anders gedoop het nie.
17 Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te
verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie
verydel mag word nie.
18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar
vir ons wat gered word, is dit die krag van God;
19 want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die
verstand van die verstandige mense tot niet maak.
20 Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van
hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?
21 Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie
geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die
wat glo, te red;
22 want die Jode vra 'n teken en die Grieke soek wysheid,
23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, 'n struikelblok vir die Jode en
dwaasheid vir die Grieke;
24 maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God
en die wysheid van God.
25 Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is
sterker as die mense.
26 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie,
nie baie magtiges, nie baie edeles nie;
27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam;
en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;
28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat
niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak,
29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
30 Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit
God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.
31 Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.
2
1 En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van
God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie,
2 want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus
Christus, en Hom as gekruisigde.
3 Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing;
4 en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid
nie, maar in die betoning van gees en krag,
5 sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag
van God.
6 Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar 'n wysheid nie van hierdie
wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie.
7 Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek
was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid,
8 wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie--want as hulle
dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie--
9 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die
hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.
10 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek
alle dinge, ook die dieptes van God.
11 Want wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens
wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.
12 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat
uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.
13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie,
maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met
geestelike vergelyk.
14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie;
want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit
geestelik beoordeel word.
15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur
niemand beoordeel nie.
16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar
ons het die sin van Christus.
3
1 En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar
soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.
2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie
daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,
3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en
twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens
nie?
4 Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos--is julle
nie vleeslik nie?
5 Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig
geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het.
6 Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.
7 So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.
8 Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon
volgens sy eie arbeid ontvang.
9 Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is
julle.
10 Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos 'n bekwame
boumeester die fondament gelê, en 'n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas
hoe hy daarop bou.
11 Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus
Christus.
12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi,
stoppels--
13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit
deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef
stel, hoedanig dit is.
14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal
word, maar soos deur vuur heen.
16 Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle
woon nie?
17 As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van
God is heilig, en dit is julle.
18 Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in
hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word;
19 want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is
geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang;
20 en verder: Die Here ken die gedagtes van die wyse mense, dat dit nietig is.
21 Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;
22 of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of
teenswoordige of toekomstige dinge--alles behoort aan julle;
23 maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.
4
1 So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die
verborgenhede van God.
2 En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word.
3 Maar vir my beteken dit baie min of ek deur julle of deur 'n menslike regbank
beoordeel word; ja, ek beoordeel myself nie eens nie,
4 want ek is my van geen ding bewus nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig
nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here.
5 Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die
verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die
harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.
6 Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil,
dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle
nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen 'n derde nie.
7 Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit
dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?
8 Alreeds is julle versadig, alreeds het julle ryk geword, sonder ons het julle
geheers. Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!
9 Want dit lyk vir my dat God ons apostels die laaste plek aangewys het as tot
die dood veroordeel; want ons het 'n skouspel geword vir die wêreld, vir die
engele sowel as vir die mense.
10 Ons is dwaas ter wille van Christus, maar julle is verstandig in Christus.
Ons is swak, maar julle sterk. Julle is in aansien, maar ons in oneer.
11 Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en
swerwe ons rond,
12 en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën;
word ons vervolg, ons verdra dit;
13 word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword,
die afskraapsel van almal tot nou toe.
14 Ek skrywe hierdie dinge nie om julle te beskaam nie, maar ek vermaan julle as
my geliefde kinders.
15 Want al sou julle tien duisend tugmeesters in Christus hê, dan het julle tog
nie baie vaders nie; want in Christus Jesus het ek julle vader geword deur die
evangelie.
16 Ek vermaan julle dan, word my navolgers.
17 Daarom het ek Timótheüs, wat my geliefde en getroue seun in die Here is, na
julle gestuur. Hy sal julle herinner aan my handelwyse in Christus, soos ek oral
in elke gemeente leer.
18 Maar sommige het opgeblase geword, asof ek nie na julle sou kom nie;
19 tog sal ek gou na julle kom, as die Here wil, en dan sal ek te wete kom, nie
die woorde van die wat opgeblase is nie, maar hulle krag;
20 want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag.
21 Wat wil julle hê? Moet ek met die roede na julle kom of met liefde en in die
gees van sagmoedigheid?
5
1 'n Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so 'n aard as wat
selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het.
2 En tog is julle opgeblase in plaas dat julle liewer getreur het, sodat hy wat
hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit.
3 Want wat my betref, het ek, liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig,
alreeds besluit asof ek teenwoordig was, om hom wat so iets gedoen het,
4 in die Naam van onse Here Jesus Christus, as julle vergader het en my gees
saam met die krag van onse Here Jesus Christus--
5 om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die
gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.
6 Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat 'n bietjie suurdeeg die hele
deeg suur maak nie?
7 Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle 'n nuwe deeg kan wees--soos julle
inderdaad ongesuurd is--want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik
Christus.
8 Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug
en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.
9 Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie--
10 dit wil sê, nie die hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of
rowers of afgodedienaars in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld
moet uitgaan--
11 maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as
'n broeder bekend, 'n hoereerder is of 'n gierigaard of 'n afgodedienaar of 'n
kwaadspreker of 'n dronkaard of 'n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie
saam eet nie.
12 Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat
binne is nie?
13 Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle
uit.
6
1 Durf iemand van julle wat 'n saak teen 'n ander het, gaan reg soek voor die
onregverdiges en nie voor die heiliges nie?
2 Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld
deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?
3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse
dinge?
4 As julle dan alledaagse regsake het, moet julle dié persone daaroor laat sit
wat in die gemeente die minste geag word.
5 Ek sê dit tot julle beskaming. Is daar dan nie eens een wyse onder julle, wat
uitspraak sal kan doen tussen sy broeders nie?
6 Maar gaan die een broeder met die ander na die regbank, en dit voor
ongelowiges?
7 Dan is dit al werklik 'n gebrek onder julle, dat julle regsake met mekaar het.
Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle jul nie liewer berowe
nie?
8 Maar julle doen onreg en pleeg roof, en dit aan broeders.
9 Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe
nie?
10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of
wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of
kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.
11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is
geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die
Gees van onse God.
12 Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof,
maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.
13 Die voedsel is vir die maag, en die maag is vir die voedsel, maar God sal die
een sowel as die ander tot niet maak. En die liggaam is nie vir hoerery nie,
maar vir die Here; en die Here vir die liggaam.
14 En God het ook die Here opgewek en sal ons opwek deur sy krag.
15 Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie? Sal ek dan die
lede van Christus neem en dit lede van 'n hoer maak? Nee, stellig nie!
16 Of weet julle nie dat hy wat 'n hoer aanhang, met haar een liggaam is nie?
Want die twee, sê Hy, sal een vlees wees.
17 Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.
18 Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat 'n mens doen, is buite die liggaam;
maar wie hoerery bedryf sondig teen sy eie liggaam.
19 Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in
julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?
20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle
gees wat aan God behoort.
7
1 Met betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het--dit is goed vir
'n man om 'n vrou nie aan te raak nie.
2 Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar
eie man hê.
3 Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook
die vrou aan die man.
4 Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het
die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.
5 Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir 'n
tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die
Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie.
6 Maar dit sê ek by wyse van toelating, nie by wyse van gebod nie.
7 Want ek wens dat alle mense soos ek was; maar elkeen het sy eie genadegawe van
God, die een so en die ander weer anders.
8 Maar vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is vir hulle goed as hulle
bly soos ek;
9 maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om
te trou as om van begeerte te brand.
10 En aan die getroudes beveel ek--nie ek nie, maar die Here--dat die vrou nie
van die man moet skei nie;
11 en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man
versoen; en dat die man sy vrou nie moet verstoot nie.
12 Maar vir die ander sê ek--nie die Here nie--as enige broeder 'n ongelowige
vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot
nie;
13 en as 'n vrou 'n ongelowige man het, en hy dit goedvind om met haar saam te
lewe, moet sy hom nie verstoot nie.
14 Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is
geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is
hulle heilig.
15 Maar as die ongelowige wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die
broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep.
16 Want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die
vrou sal red?
17 Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here
elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes.
18 Is iemand as 'n besnedene geroep--hy moet die besnydenis nie laat verander
nie; is iemand as onbesnedene geroep--hy moet hom nie laat besny nie.
19 Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding
van die gebooie van God.
20 Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is.
21 Is jy as slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy ook vry kan
word, maak daar des te meer gebruik van.
22 Want die slaaf wat in die Here geroep is, is 'n vrygemaakte van die Here; so
is ook hy wat as vryman geroep is, 'n slaaf van Christus.
23 Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie.
24 Laat elkeen, broeders, in die staat waarin hy geroep is, daarin bly voor God.
25 In verband met die maagde het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my
mening as iemand wat deur die barmhartigheid van die Here betroubaar is.
26 Ek meen dat dit goed is vanweë die aanstaande nood--dat dit goed is vir 'n
mens om so te bly.
27 Is jy aan 'n vrou verbonde, moenie losmaking soek nie; is jy los van 'n vrou,
moenie 'n vrou soek nie.
28 Maar as jy tog trou, sondig jy nie; en as 'n maagd trou, sondig sy nie. Maar
sulke mense sal verdrukking hê vir die vlees, en ek wil julle spaar.
29 Maar dit sê ek, broeders, die tyd is kort; van nou af moet ook die wat vroue
het, wees asof hulle nie het nie;
30 en die wat ween, asof hulle nie ween nie; en die wat bly is, asof hulle nie
bly is nie; en die wat koop, asof hulle nie besit nie;
31 en die wat hierdie wêreld gebruik, asof hulle dit nie ten volle gebruik nie;
want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby.
32 En ek wil hê dat julle onbesorg moet wees. Die ongetroude is besorg oor die
dinge van die Here, hoe hy die Here sal behaag,
33 maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal
behaag.
34 Daar is ook onderskeid tussen 'n vrou en 'n maagd; die ongetroude is besorg
oor die dinge van die Here om heilig te wees na die liggaam sowel as na die
gees, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe sy die man
sal behaag.
35 Ek sê dit tot julle eie voordeel, nie om julle van jul vryheid te beroof nie,
maar met die oog op 'n welvoeglike en onafgebroke toewyding aan die Here.
36 Maar as iemand meen dat hy onwelvoeglik met sy maagd handel as sy oor die
jeugdige leeftyd is, en dit so moet wees, laat hom doen wat hy wil. Hy sondig
nie. Laat hulle trou.
37 Maar hy wat in sy hart vasstaan en nie onder dwang verkeer nie, maar mag het
oor sy eie wil en dit in sy eie hart besluit het om sy maagd te bewaar, hy doen
goed.
38 Daarom, ook hy wat in die huwelik uitgee, doen goed; maar hy wat in die
huwelik nie uitgee nie, doen beter.
39 'n Vrou is deur die wet gebonde so lank as haar man lewe; maar as die man
ontslaap het, is sy vry om te trou met wie sy wil, maar net in die Here.
40 Sy is egter gelukkiger as sy so bly, volgens my gevoele. En ek meen dat ek
ook die Gees van God het.
8
1 En met betrekking tot die offervleis aan die afgode weet ons dat ons almal
kennis het. Die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig.
2 As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos 'n mens behoort
te weet nie.
3 Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken.
4 Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat 'n
afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een.
5 Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die
aarde is--soos daar baie gode en baie here is--
6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom,
en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
7 Die kennis is egter nie in almal nie; maar sommige, nog altyd bewus van die
afgod, eet dit as 'n afgodsoffer, en hulle gewete, wat swak is, word besoedel.
8 Maar die voedsel bring ons nie nader by God nie; want as ons eet, het ons geen
oorvloed nie, en as ons nie eet nie, ly ons geen gebrek nie.
9 Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien 'n struikelblok word vir
die wat swak is nie.
10 Want as iemand jou wat kennis het, aan tafel sien in 'n afgodstempel, sal sy
gewete, as hy 'n swak man is, nie aangemoedig word om van die offervleis aan die
afgode te eet nie?
11 En moet die swakke broeder vir wie Christus gesterf het, verlore gaan deur
jou kennis?
12 Maar deur so teen die broeders te sondig en hulle gewete wat swak is, seer te
maak, sondig julle teen Christus.
13 Daarom, as voedsel my broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid geen
vleis eet nie, om my broeder nie te laat struikel nie.
9
1 Is ek nie 'n apostel nie? Is ek nie vry nie? Het ek nie Jesus Christus, onse
Here, gesien nie? Is julle nie my werk in die Here nie?
2 As ek vir ander geen apostel is nie, is ek dit tog seker vir julle, want julle
is die seël op my apostelskap in die Here.
3 My verantwoording aan die wat my beskuldig, is dít:
4 Het ons dan geen vryheid om te eet en te drink nie?
5 Het ons dan geen reg om 'n suster as vrou met ons rond te neem net soos die
ander apostels en die broers van die Here en Céfas nie?
6 Of het net ek en Barnabas geen reg om die hande-arbeid na te laat nie?
7 Wie dien ooit as soldaat op eie koste? Wie plant 'n wingerd en eet nie van sy
vrug nie? Of wie pas 'n kudde op en geniet nie van die melk van die kudde nie?
8 Sê ek dit miskien menslikerwys, of sê die wet dit nie ook nie?
9 Want in die wet van Moses is geskrywe: 'n Os wat graan dors, mag jy nie
muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer?
10 Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe,
omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop,
deelagtig te word.
11 As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit 'n groot saak as ons julle
stoflike goed maai?
12 As ander deel het aan die reg op julle diens, het ons nie nog meer nie? Ons
het ewenwel nie gebruik gemaak van hierdie reg nie, maar ons verdra alles om
geen hindernis vir die evangelie van Christus te veroorsaak nie.
13 Weet julle nie dat die wat met die heilige dinge werk, uit die heiligdom eet
nie; en dat die wat by die altaar besig is, met die altaar deel nie?
14 So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van
die evangelie moet lewe.
15 Maar ék het van geeneen van hierdie dinge gebruik gemaak nie. En ek skryf dít
nie met die bedoeling dat dit so met my moet wees nie, want dit sou vir my beter
wees om te sterwe as dat iemand my roem sou verydel.
16 Want as ek die evangelie verkondig, is dit vir my geen roem nie; want die
dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!
17 Want as ek dit vrywillig doen, het ek loon; maar as ek dit onwillig doen, is
'n rentmeesterskap aan my toevertrou.
18 Watter loon het ek dan? Dat as ek die evangelie verkondig, ek die evangelie
van Christus kosteloos bring, om nie van my reg in die evangelie ten volle
gebruik te maak nie.
19 Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om
soveel van hulle as moontlik te win.
20 Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder
die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win.
21 Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet--al is ek nie sonder die
wet van God nie, maar onder die wet van Christus--om die wat sonder die wet is,
te win;
22 vir die swakkes het ek soos 'n swakke geword om die swakke te win; vir almal
het ek alles geword om in alle geval sommige te red.
23 En ek doen dit ter wille van die evangelie, dat ek 'n deelgenoot daarvan kan
word.
24 Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat
een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.
25 En elkeen wat aan 'n wedstryd deelneem, onthou hom in alles--húlle nogal om
'n verwelklike krans te ontvang, maar ons 'n onverwelklike.
26 Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos
een wat nie in die lug slaan nie.
27 Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek
vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.
10
1 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal
onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het,
2 en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see,
3 en almal dieselfde geestelike spys geëet het,
4 en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit 'n
geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.
5 Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is
neergeslaan in die woestyn.
6 En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na
slegte dinge soos hulle begerig was nie.
7 En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe
is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel.
8 En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het
op een dag drie en twintig duisend geval.
9 En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en
hulle het deur die slange omgekom.
10 En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle
het deur die verderwer omgekom.
11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as 'n
waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
12 Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
13 Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie; maar God is
getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy
sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.
14 Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens.
15 Ek spreek soos met verstandige mense; oordeel self wat ek sê:
16 die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die
gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie
die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?
17 Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan
die een brood.
18 Let op Israel na die vlees: het die wat die offers eet, nie gemeenskap met
die altaar nie?
19 Wat sê ek dan? Dat 'n afgod iets is, of dat 'n afgodsoffer iets is?
20 Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God
nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie.
21 Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels
nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van
die duiwels nie.
22 Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?
23 Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof,
maar nie alles stig nie.
24 Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van 'n ander.
25 Eet alles wat in die slaghuis verkoop word sonder om navraag te doen, ter
wille van die gewete.
26 Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.
27 En as een van die ongelowiges julle nooi en julle is gewillig om te gaan, eet
dan alles wat julle voorgesit word sonder om navraag te doen, ter wille van die
gewete.
28 Maar as iemand aan julle sê: Dit is afgodsoffer--moet dit dan nie eet nie,
ter wille van hom wat dit te kenne gegee het, en ter wille van die gewete--want
die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan--
29 ek bedoel die gewete, nie van jouself nie, maar van die ander; want waarom
word my vryheid geoordeel deur 'n ander se gewete?
30 En as ek iets met danksegging geniet, waarom word ek belaster oor iets
waarvoor ek dank?
31 Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van
God.
32 Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van
God nie;
33 net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié
van baie, sodat hulle gered kan word.
11
1 Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.
2 En ek prys julle, broeders, dat julle in alles aan my dink en aan die leringe
vashou soos ek dit aan julle oorgelewer het.
3 Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en
die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.
4 Elke man wat bid of profeteer met iets op sy hoof, doen sy hoof oneer aan;
5 maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer
aan; want dit is een en dieselfde asof haar hoof geskeer is.
6 Want as 'n vrou se hoof nie bedek is nie, laat sy dan ook haar hare afsny;
maar as dit vir 'n vrou lelik is om haar hare af te sny of te skeer, laat sy
haar hoof bedek.
7 Want 'n man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van
God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man.
8 Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man.
9 Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter
wille van die man.
10 Daarom moet die vrou 'n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die
engele.
11 En tog, in die Here is die man nie sonder die vrou nie, en die vrou ook nie
sonder die man nie.
12 Want soos die vrou uit die man is, so is ook die man deur middel van die
vrou; maar alles is uit God.
13 Oordeel self: Is dit betaamlik dat 'n vrou met onbedekte hoof tot God bid?
14 Of leer ook die natuur self julle nie dat as 'n man lang hare dra, dit vir
hom 'n oneer is nie;
15 maar as 'n vrou lang hare dra, dit vir haar 'n eer is, omdat die lang hare
vir haar gegee is as 'n bedekking?
16 Maar as iemand meen om twisgierig te wees, ons het nie so 'n gewoonte nie, en
ook die gemeentes van God nie.
17 Maar terwyl ek dit beveel, kan ek dit nie prys nie dat julle saamkom, nie ten
goede nie maar ten kwade.
18 Want in die eerste plek hoor ek dat, as julle saamkom in die gemeente, daar
skeuringe onder julle is, en gedeeltelik glo ek dit.
19 Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes onder
julle openbaar kan word.
20 As julle dus saamkom, dan wil dit nie sê dat julle die nagmaal van die Here
eet nie.
21 Want as julle eet, gebruik elkeen eers sy eie ete; en die een het honger en
die ander is dronk.
22 Het julle dan geen huise om in te eet en te drink nie? Of verag julle die
gemeente van God, en maak julle dié beskaamd wat nie het nie? Wat sal ek vir
julle sê? Sal ek julle prys? Hierin prys ek julle nie.
23 Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die
Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het;
24 en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my
liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.
25 Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe
testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my
gedagtenis.
26 Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig
julle die dood van die Here totdat Hy kom.
27 Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink,
sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.
28 Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker
drink.
29 Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink 'n oordeel oor
homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie.
30 Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en 'n aantal het
ontslaap.
31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.
32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie
saam met die wêreld veroordeel mag word nie.
33 Daarom, my broeders, as julle saamkom om te eet, wag vir mekaar;
34 en as iemand honger het, laat hom by die huis eet, sodat julle nie tot 'n
oordeel saamkom nie. Die ander sake sal ek reël wanneer ek kom.
12
1 En wat die geestelike gawes betref, broeders, wil ek nie hê dat julle onkundig
moet wees nie.
2 Julle weet dat julle heidene was, weggevoer na die stomme afgode net soos
julle ook al gelei is.
3 Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek,
Jesus 'n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie,
behalwe deur die Heilige Gees.
4 Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees;
5 en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here;
6 en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles
in almal werk.
7 Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat
nuttig is.
8 Want aan die een word deur die Gees 'n woord van wysheid gegee, en aan die
ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees;
9 aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan 'n ander genadegawes van
gesondmaking deur dieselfde Gees;
10 aan 'n ander werkinge van kragte, aan 'n ander profesie, aan 'n ander
onderskeiding van die geeste, aan 'n ander allerhande tale, aan 'n ander uitleg
van tale.
11 Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik
uitdeel soos Hy wil.
12 Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een
liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.
13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of
Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.
14 Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie.
15 As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die
liggaam nie--behoort hy daarom nie aan die liggaam nie?
16 En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die
liggaam nie--behoort hy daarom nie aan die liggaam nie?
17 As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al
gehoor was, waar sou die reuk wees?
18 Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het.
19 As almal een lid was, waar sou die liggaam wees?
20 Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam.
21 En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof
vir die voete: Ek het julle nie nodig nie.
22 Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk;
23 en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met
oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid,
24 terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam
saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee,
25 sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede
gelyke sorg vir mekaar mag dra.
26 En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die
lede saam bly.
27 Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.
28 En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten
tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van
gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale.
29 Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie
leraars nie, almal is tog nie kragte nie?
30 Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit
uitlê?
31 Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle 'n nog
uitnemender weg.
13
1 Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie,
dan het ek 'n klinkende metaal of 'n luidende simbaal geword.
2 En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die
kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie
die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.
3 En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te
word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.
4 Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die
liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie,
5 handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd
nie, reken die kwaad nie toe nie,
6 is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.
7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
8 Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë--hulle sal tot niet gaan; of
tale--hulle sal ophou; of kennis--dit sal tot niet gaan.
9 Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.
10 Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.
11 Toe ek 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind,
geredeneer soos 'n kind; maar nou dat ek 'n man is, het ek die dinge van 'n kind
afgelê.
12 Want nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel, maar eendag van aangesig tot
aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten
volle geken is.
13 En nou bly geloof, hoop, liefde--hierdie drie; maar die grootste hiervan is
die liefde.
14
1 Jaag die liefde na, en beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar
veral om te profeteer.
2 Want hy wat in 'n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want
niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.
3 Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en
bemoediging.
4 Hy wat in 'n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die
gemeente.
5 Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer.
Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê,
sodat die gemeente stigting kan ontvang.
6 Maar nou, broeders, as ek na julle kom en in tale spreek, tot watter nut sal
ek vir julle wees as ek nie met julle spreek òf deur 'n openbaring, òf deur
kennis, òf deur profesie, òf deur lering nie?
7 Net soos met lewelose dinge wat 'n klank gee, 'n fluit of 'n siter, as hulle
nie 'n onderskeid in toon laat hoor nie, hoe sal 'n mens weet wat op die fluit
of siter gespeel word?
8 Want as die basuin ook 'n onduidelike klank gee, wie sal klaarmaak vir die
oorlog?
9 Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie,
hoe sal 'n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in
die wind praat.
10 Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en geeneen daarvan is
sonder klank nie.
11 As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker 'n
vreemdeling wees, en die spreker sal vir my 'n vreemdeling wees.
12 So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om uit te
munt tot stigting van die gemeente.
13 Daarom moet hy wat in 'n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê.
14 Want as ek in 'n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar.
15 Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die
verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand
psalmsing.
16 Anders, as jy met die gees dank, hoe sal hy wat die plek van 'n onkundige
inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie?
17 Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie.
18 Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal;
19 maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand spreek om ook
ander te onderrig, as tien duisend woorde in 'n taal.
20 Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die
boosheid en wees volwassenes in die verstand.
21 In die wet is geskrywe: Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe
tot hierdie volk spreek, en ook so sal hulle na My nie luister nie, sê die Here.
22 Die tale is dus 'n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges;
die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges.
23 As die hele gemeente dan saam vergader het en hulle sou almal in tale spreek
en daar kom onkundiges of ongelowiges binne, sal hulle nie sê dat julle
kranksinnig is nie?
24 Maar as almal profeteer en daar 'n ongelowige of 'n onkundige binnekom, dan
word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel;
25 en so kom die geheime van sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig
val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is.
26 Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van
julle 'n psalm of 'n lering of 'n taal of 'n openbaring of 'n uitlegging--laat
alles tot stigting geskied.
27 En as iemand in 'n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en
by beurte; en laat een dit uitlê.
28 Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in die gemeente swyg, en laat hy
met homself en met God spreek.
29 Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel.
30 Maar as daar iets geopenbaar is aan 'n ander wat daar sit, laat die eerste
swyg.
31 Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal
bemoedig word.
32 En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe;
33 want God is nie 'n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die
gemeentes van die heiliges.
34 Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te
spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê.
35 Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is
lelik vir vroue om in die gemeente te spreek.
36 Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen
gekom?
37 As iemand meen dat hy 'n profeet of 'n geestelike mens is, moet hy erken dat
wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is.
38 Maar as iemand onkundig is, laat hom onkundig bly.
39 Daarom, broeders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar
in tale gespreek word nie.
40 Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.
15
1 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het,
wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,
2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek
dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.
3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het,
dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die
Skrifte;
5 en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf.
6 Daarna het Hy verskyn aan oor die vyf honderd broeders tegelyk, waarvan die
meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het.
7 Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels;
8 en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.
9 Want ek is die geringste van die apostels, wat nie werd is om 'n apostel
genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het.
10 Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie
tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek
nie, maar die genade van God wat met my is.
11 Of dit nou ek of hulle is, so preek ons en so het julle geglo.
12 As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige
onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie?
13 As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek
nie.
14 En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs
ook julle geloof;
15 en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het
dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode
nie opgewek word nie.
16 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie;
17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is
julle nog in julle sondes;
18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.
19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van
alle mense.
20 Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van
die wat ontslaap het.
21 Want aangesien die dood deur 'n mens is, is die opstanding van die dode ook
deur 'n mens.
22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus
lewend gemaak word;
23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan
Christus behoort by sy koms.
24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as
Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.
25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel
het.
26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.
27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles
onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp
het.
28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom
onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal
kan wees.
29 Anders, wat sal hulle doen wat hulle vir die dode laat doop, as die dode
geheel en al nie opgewek word nie? Waarom laat hulle hul nog vir die dode doop?
30 Waarom is ons ook elke uur in gevaar?
31 Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus
Jesus, onse Here.
32 As ek in Éfese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel
was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink,
want môre sterf ons!
33 Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.
34 Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis
van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.
35 Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom
hulle?
36 Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie.
37 En wat jy saai--jy saai nie die liggaam wat sal word nie, maar 'n blote
korrel, byvoorbeeld van koring of van iets anders.
38 Maar God gee dit 'n liggaam soos Hy gewil het, en aan elkeen van die
saadkorrels sy eie liggaam.
39 Alle vlees is nie dieselfde vlees nie, maar die vlees van mense is anders as
die vlees van vee, en dié van visse anders as dié van voëls.
40 En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die
hemelse is anders as dié van die aardse.
41 Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan
en anders die heerlikheid van die sterre; want die een ster verskil in
heerlikheid van die ander ster.
42 So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid,
daar word opgewek in onverganklikheid;
43 daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai
in swakheid, daar word opgewek in krag.
44 'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek. Daar
is 'n natuurlike liggaam, en daar is 'n geestelike liggaam.
45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het 'n lewende siel geword;
die laaste Adam 'n lewendmakende Gees.
46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die
geestelike.
47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die
hemel.
48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse
mens is, so is ook die hemelse mense.
49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van
die hemelse dra.
50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie
kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
51 Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie,
maar ons sal almal verander word,
52 in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal
weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.
53 Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie
sterflike moet met onsterflikheid beklee word.
54 En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie
sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat
geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.
55 Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?
56 Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet.
57 Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.
58 Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig
in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie
tevergeefs is nie.
16
1 Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir
die gemeentes van Galásië gereël het.
2 Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar
namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.
3 En wanneer ek aangekom het, sal ek die persone wat julle goedkeur, met briewe
stuur om julle gawe na Jerusalem te bring.
4 En as dit die moeite werd is dat ek ook gaan, kan hulle saam met my reis.
5 Maar ek sal na julle kom nadat ek deur Macedónië gereis het, want ek gaan deur
Macedónië.
6 En moontlik sal ek by julle vertoef of ook oorwinter, sodat julle my kan
voorthelp waarheen ek ook al mag reis.
7 Want ek wil julle nie nou net in die verbygaan sien nie, maar ek hoop om 'n
tyd lank by julle te bly as die Here dit toelaat.
8 Maar ek sal in Éfese bly tot pinkster toe.
9 Want 'n groot en kragtige deur het vir my oopgegaan, en daar is baie
teëstanders.
10 En as Timótheüs kom, sorg dat hy sonder vrees by julle is, want hy doen die
werk van die Here net soos ek.
11 Laat niemand hom dan minag nie, maar help hom verder in vrede, dat hy na my
toe kan kom; want ek wag vir hom saam met die broeders.
12 Met betrekking tot die broeder Apollos, by hom het ek sterk aangedring om
saam met die broeders na julle te gaan; maar hy was heeltemal onwillig om nou te
gaan; hy sal egter gaan wanneer die tyd vir hom geleë is.
13 Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk.
14 Laat alles by julle in liefde geskied.
15 En ek versoek julle, broeders--julle weet dat die huisgesin van Stéfanas die
eersteling van Acháje is en dat hulle hul tot diens van die heiliges gestel
het--
16 dat julle ook onderworpe moet wees aan sulke mense en aan elkeen wat saamwerk
en arbei.
17 En ek verbly my oor die aankoms van Stéfanas en Fortunátus en Acháïcus, omdat
hulle my gemis aan julle vergoed het.
18 Want hulle het my gees verkwik en julle s'n ook. Erken sulke manne dan.
19 Die gemeentes van Asië groet julle. Aquila en Priscílla saam met die gemeente
wat in hulle huis is, laat vir julle baie groete weet in die Here.
20 Al die broeders groet julle. Groet mekaar met 'n heilige kus.
21 Die groete van Paulus, met my eie hand.
22 As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom 'n vervloeking
wees! Maranáta!
23 Die genade van die Here Jesus Christus sy met julle!
24 My liefde met julle almal in Christus Jesus! Amen.