1 K o n i n g s 1
1 Toe koning Dawid oud en ver op sy dae was, het hulle hom met komberse
toegemaak, maar hy kon nie warm word nie.
2 En sy dienaars sê aan hom: Laat hulle vir my heer die koning 'n jongmeisie
soek, dat sy voor die koning kan staan en vir hom 'n verpleegster wees en in u
skoot lê; dan sal my heer die koning warm word.
3 Hulle het toe in die hele grondgebied van Israel 'n mooi meisie gesoek en
Abísag, die Sunamitiese, gevind en haar by die koning gebring.
4 En die meisie was besonder mooi, en sy was vir die koning 'n verpleegster en
het hom bedien; maar die koning het geen gemeenskap met haar gehad nie.
5 Intussen was Adónia, die seun van Haggit, so vermetel om te dink: Ek sal
koning word! En hy het vir hom waens en perderuiters aangeskaf en vyftig man wat
voor hom uit loop.
6 En sy vader het hom sy lewe lank nie gekrenk deur te sê nie: Waarom maak jy
so? Bowendien was hy ook baie mooi van gestalte, en sy moeder het hom ná Absalom
gebaar.
7 En hy het met Joab, die seun van Serúja, onderhandel en met Abjatar, die
priester, sodat hulle gehelp het as volgelinge van Adónia.
8 Maar Sadok, die priester, en Benája, die seun van Jójada, en Natan, die
profeet, en Símeï en Reï en die helde van Dawid het nie met Adónia saamgegaan
nie.
9 En Adónia het kleinvee en beeste en vetgemaakte vee geslag by die klip Sohélet
wat langs die fontein Rogel staan, en al sy broers, die seuns van die koning, en
al die manne van Juda, die dienaars van die koning, genooi;
10 maar Natan, die profeet, en Benája en die helde en sy broer Salomo het hy nie
genooi nie.
11 Toe sê Natan vir Bátseba, die moeder van Salomo: Het u nie gehoor dat Adónia,
die seun van Haggit, koning geword het sonder dat ons heer Dawid dit weet nie?
12 Kom dan nou, laat ek u tog 'n raad gee, dat u u lewe en die lewe van u seun
Salomo kan red.
13 Gaan en tree binne by koning Dawid en sê vir hom: Het ú nie, my heer die
koning, vir u dienares gesweer en gesê nie: U seun Salomo sal sekerlik koning
word ná my, en hy sal op my troon sit? Waarom het Adónia dan koning geword?
14 Kyk, terwyl u daar nog met die koning spreek, sal ék agter u inkom en u
woorde aanvul.
15 Daarop het Bátseba ingegaan na die koning in die kamer, terwyl die koning
baie oud was en Abísag, die Sunamitiese, die koning bedien.
16 En Bátseba het gebuig en neergeval voor die koning. Toe sê die koning: Wat
wil u hê?
17 En sy antwoord hom: My heer, ú het by die HERE u God vir u dienares gesweer:
U seun Salomo sal sekerlik ná my koning word, en hy sal op my troon sit.
18 Maar kyk, nou het Adónia koning geword sonder dat u, my heer die koning, dit
weet.
19 Want hy het beeste en vetgemaakte vee en kleinvee in menigte geslag en al die
seuns van die koning en Abjatar, die priester, en Joab, die leërowerste, genooi;
maar u dienaar Salomo het hy nie genooi nie.
20 Maar op ú, my heer die koning, is die oë van die hele Israel om hulle te
kenne te gee wie op die troon van my heer die koning ná hom sal sit.
21 Anders sal dit gebeur, sodra my heer die koning met sy vaders ontslaap het,
dat ek en my seun Salomo vir misdadigers gehou sal word.
22 En kyk, terwyl sy nog met die koning spreek, kom die profeet Natan in.
23 En hulle het dit die koning te kenne gegee en gesê: Daar is Natan, die
profeet. Toe kom hy voor die koning en buig hom voor die koning met sy aangesig
na die aarde toe.
24 En Natan sê: My heer die koning, het ú gesê: Adónia sal ná my koning word, en
hy sal op my troon sit?
25 Want hy het vandag gegaan en beeste en vetgemaakte vee en kleinvee in menigte
geslag en al die seuns van die koning en die leërowerstes en Abjatar, die
priester, genooi, en kyk, hulle eet en drink voor hom en sê: Mag koning Adónia
lewe!
26 Maar my, u dienaar, en Sadok, die priester, en Benája, die seun van Jójada,
en Salomo, u dienaar, het hy nie genooi nie.
27 As hierdie saak van my heer die koning uitgegaan het, dan het u aan u
dienaars nie bekend gemaak wie op die troon van my heer die koning ná hom sal
sit nie.
28 Daarop antwoord koning Dawid en sê: Roep Bátseba vir my! En sy het ingekom
voor die koning en voor die koning gaan staan.
29 Toe sweer die koning en sê: So waar as die HERE leef wat my uit alle
benoudheid verlos het,
30 sekerlik, soos ek u by die HERE, die God van Israel, gesweer en gesê het dat
u seun Salomo ná my koning moet word en hy op my troon moet sit in my plek,
sekerlik so doen ek vandag nog.
31 En Bátseba het met die aangesig na die aarde gebuig en voor die koning
neergeval en gesê: Mag my heer die koning Dawid vir ewig lewe!
32 Verder het koning Dawid gesê: Roep vir my Sadok, die priester, en Natan, die
profeet, en Benája, die seun van Jójada. Toe kom hulle in voor die koning,
33 en die koning sê vir hulle: Neem die dienaars van julle heer met julle saam
en laat my seun Salomo op my eie muil ry, en bring hom af na Gihon toe;
34 en laat Sadok, die priester, en Natan, die profeet, hom daar as koning oor
Israel salf, en julle moet op die ramshoring blaas en sê: Mag koning Salomo
lewe!
35 Dan moet julle agter hom optrek, dat hy kan inkom en op my troon sit; want hy
moet koning wees in my plek, en ek het hom aangestel om 'n vors oor Israel en
Juda te wees.
36 Toe antwoord Benája, die seun van Jójada, die koning en sê: Amen! Mag die
HERE, die God van my heer die koning, ook so sê.
37 Soos die HERE met my heer die koning was, mag Hy so met Salomo wees; en mag
Hy sy troon groter maak as die troon van my heer die koning Dawid.
38 Toe het Sadok, die priester, afgegaan saam met Natan, die profeet, en Benája,
die seun van Jójada, en die Kreti en die Pleti, en hulle het Salomo laat ry op
die muil van koning Dawid en hom na Gihon gebring.
39 En die priester Sadok het die horing met olie uit die tent geneem en Salomo
gesalf, en hulle het op die ramshoring geblaas, en die hele volk het gesê: Mag
koning Salomo lewe!
40 Toe gaan die hele volk op agter hom aan, terwyl die volk op fluite speel en
hulle verheug met groot blydskap, sodat die aarde geskeur het van hulle geluid.
41 En Adónia het dit gehoor en al die genooides wat by hom was, toe hulle net
klaar geëet het; Joab het ook die geluid van die ramshoring gehoor en gesê:
Waarom is die geluid van die stad rumoerig?
42 Terwyl hy nog spreek, kom Jónatan, die seun van die priester Abjatar, daar
aan; en Adónia sê: Kom in, want jy is 'n wakker man en bring 'n goeie boodskap.
43 Maar Jónatan antwoord Adónia en sê: Ja, maar ons heer die koning Dawid het
Salomo koning gemaak!
44 En die koning het Sadok, die priester, en Natan, die profeet, en Benája, die
seun van Jójada, en die Kreti en die Pleti met hom saam gestuur, en hulle het
hom op die koning se muil laat ry;
45 en Sadok, die priester, en Natan, die profeet, het hom in Gihon as koning
gesalf, en daarvandaan het hulle met blydskap opgetrek, sodat die stad opgewonde
geraak het; dit is die geluid wat julle gehoor het.
46 En ook het Salomo op die koninklike troon gaan sit.
47 Bowendien het die dienaars van die koning gekom om ons heer die koning Dawid
geluk te wens met die woorde: Mag u God die naam van Salomo beter maak as u naam
en sy troon groter maak as u troon. Toe het die koning op die bed aanbid;
48 en die koning het ook so gesê: Geseënd is die HERE, die God van Israel, wat
vandag gegee het dat een op my troon sit terwyl my oë dit sien.
49 Daarop het al die genooides wat by Adónia was, verskrik opgestaan en elkeen
sy pad gegaan.
50 Maar Adónia was bevrees vir Salomo en het opgestaan en heengegaan en die
horings van die altaar vasgehou.
51 Toe is daar aan Salomo meegedeel en gesê: Kyk, Adónia is bevrees vir koning
Salomo; en kyk, hy hou die horings van die altaar vas en sê: Laat koning Salomo
eers vir my sweer dat hy sy dienaar nie met die swaard sal ombring nie.
52 Daarop sê Salomo: As hy 'n betroubare man sal wees, sal geen haar van hom op
die aarde val nie; maar as daar kwaad in hom gevind word, moet hy sterwe.
53 En koning Salomo het gestuur, en hulle het hom van die altaar afgebring, en
hy het ingekom en hom voor koning Salomo neergebuig. En Salomo het vir hom gesê:
Gaan na jou huis.
2
1 En toe die dae van Dawid nader kom dat hy sou sterwe, het hy sy seun Salomo
bevel gegee en gesê:
2 Ek gaan heen op die weg van die hele aarde: wees dan sterk en word 'n man;
3 en onderhou die ordening van die HERE jou God deur te wandel in sy weë, deur
sy insettinge, sy gebooie en sy verordeninge en sy getuienisse te onderhou, soos
geskrywe is in die wet van Moses, sodat jy voorspoedig kan uitvoer alles wat jy
doen, en alles waartoe jy jou begewe;
4 sodat die HERE sy woord mag vervul wat Hy oor my gespreek het, naamlik: As jou
seuns ag gee op hulle weg deur voor my aangesig getrou te wandel met hulle hele
hart en met hulle hele siel, dan sal daar nie vir jou 'n man op die troon van
Israel ontbreek nie.
5 En jy weet ook self wat Joab, die seun van Serúja, my aangedoen het; wat hy
die twee leërowerstes van Israel, Abner, die seun van Ner, en Amása, die seun
van Jeter, aangedoen het; hoe hy hulle vermoor en oorlogsbloed in vredestyd
vergiet het, sodat hy die gord wat om sy heupe en die skoene wat aan sy voete
was, met oorlogsbloed bevlek het.
6 Handel dan na jou wysheid, en sy grys hare moet jy nie met vrede in die
doderyk laat neerdaal nie.
7 Maar aan die seuns van Barsíllai, die Gileadiet, moet jy guns bewys, en hulle
moet wees onder die wat aan jou tafel eet; want só het hulle na my toe aangekom
toe ek vir jou broer Absalom gevlug het.
8 Verder is daar by jou Símeï, die seun van Gera, die Benjaminiet, uit Bahúrim;
hy naamlik het my gevloek met 'n hewige vloek die dag toe ek na Mahanáim gegaan
het; en hy het afgekom om my te ontmoet by die Jordaan, sodat ek vir hom by die
HERE gesweer en gesê het: Ek sal jou nie met die swaard doodmaak nie.
9 Maar nou moet jy hom nie ongestraf laat bly nie, want jy is 'n wyse man;
daarom sal jy weet wat jy hom moet aandoen, dat jy sy grys hare met bloed in die
doderyk laat neerdaal.
10 Toe het Dawid ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe in die stad van Dawid.
11 En die dae wat Dawid oor Israel geregeer het, was veertig jaar; in Hebron het
hy sewe jaar geregeer, en in Jerusalem het hy drie en dertig jaar geregeer.
12 Daarna het Salomo op die troon van sy vader Dawid gaan sit, en sy koningskap
is goed bevestig.
13 Toe kom Adónia, die seun van Haggit, na Bátseba, die moeder van Salomo, en sy
vra: Is jou koms vrede? En hy antwoord: Vrede.
14 Verder sê hy: Ek het 'n woord vir u. En sy antwoord: Spreek.
15 En hy sê: U weet dat die koningskap myne was en die hele Israel sy aangesig
op my gerig het, dat ek koning sou word; maar die koningskap het oorgegaan en my
broer s'n geword, want deur die HERE was dit vir hom bestem.
16 En nou doen ek een versoek aan u; wys my nie af nie. En sy antwoord hom:
Spreek.
17 Toe sê hy: Spreek tog met koning Salomo, want hy sal u nie afwys nie, dat hy
Abísag, die Sunamitiese, aan my as vrou moet gee.
18 En Bátseba sê: Goed, ék sal met die koning oor jou spreek.
19 Toe Bátseba dan ingaan na koning Salomo om met hom oor Adónia te spreek, het
die koning opgestaan om haar te ontmoet en voor haar gebuig; daarna het hy op sy
troon gaan sit en vir die moeder van die koning 'n stoel laat neersit, en sy het
aan sy regterhand plaas geneem.
20 Toe sê sy: Een klein versoek doen ek aan u; wys my nie af nie. En die koning
antwoord haar: Vra, my moeder, want ek sal u nie afwys nie.
21 En sy sê: Laat Abísag, die Sunamitiese, aan u broer Adónia as vrou gegee
word.
22 Daarop antwoord koning Salomo en sê aan sy moeder: Maar waarom vra u Abísag,
die Sunamitiese, vir Adónia? Vra ook die koningskap vir hom, want hy is my broer
wat ouer is as ek, ja, vir hom en vir Abjatar, die priester, en vir Joab, die
seun van Serúja!
23 En koning Salomo het gesweer by die HERE en gesê: Mag God so aan my doen en
so daaraan toedoen--sekerlik, Adónia het hierdie woord ten koste van sy lewe
gespreek.
24 En nou, so waar as die HERE leef wat my bevestig het en my op die troon van
my vader Dawid laat sit en vir my 'n huis gestig het volgens sy belofte--Adónia
sal sekerlik vandag gedood word!
25 Daarop het koning Salomo gestuur deur die diens van Benája, die seun van
Jójada; en dié het op hom aangeval, sodat hy gesterf het.
26 En vir Abjatar, die priester, sê die koning: Gaan na Anatot op jou grond,
want jy verdien die dood; maar vandag sal ek jou nie doodmaak nie, omdat jy die
ark van die Here HERE voor my vader Dawid uit gedra het en omdat jy deelgenoot
was van alles wat my vader gely het.
27 So het Salomo dan Abjatar verdrywe, sodat hy nie meer priester van die HERE
was nie, om die woord van die HERE te vervul wat Hy oor die huis van Eli in Silo
gespreek het.
28 Toe die gerug by Joab kom--want Joab was aan die kant van Adónia, alhoewel hy
nie aan die kant van Absalom was nie--het Joab gevlug na die tent van die HERE
en die horings van die altaar vasgehou.
29 En aan koning Salomo is meegedeel: Joab het gevlug na die tent van die HERE,
en kyk, daar is hy by die altaar! Toe laat Salomo aan Benája, die seun van
Jójada, weet: Gaan heen, val op hom aan.
30 Daarop het Benája by die tent van die HERE gekom en vir hom gesê: So spreek
die koning: Kom uit. Maar hy sê: Nee, want hier wil ek sterf. En Benája het die
koning 'n antwoord gebring en gesê: Só het Joab gespreek, en só het hy my
geantwoord.
31 Toe beveel die koning hom: Doen soos hy gespreek het: val op hom aan, en
begrawe hom, sodat jy die onskuldige bloed wat Joab vergiet het, van my en my
vader se huis af verwyder;
32 en dat die HERE sy bloed op sy eie hoof laat neerkom, omdat hy op twee manne,
regverdiger en beter as hy, aangeval en hulle met die swaard vermoor het sonder
medewete van my vader Dawid: Abner, die seun van Ner, die leërowerste van
Israel, en Amása, die seun van Jeter, die leërowerste van Juda;
33 en dat hulle bloed op die hoof van Joab en op die hoof van sy nageslag vir
ewig kan neerkom, maar Dawid en sy nageslag en sy huis en sy troon vrede kan hê
van die HERE tot in ewigheid.
34 Toe het Benája, die seun van Jójada, opgegaan en op hom aangeval en hom
gedood; en hy is begrawe in sy huis in die woestyn.
35 Daarop het die koning Benája, die seun van Jójada, in sy plek oor die leër
aangestel; en Sadok, die priester, het die koning aangestel in die plek van
Abjatar.
36 Verder het die koning Símeï laat roep en vir hom gesê: Bou vir jou 'n huis in
Jerusalem, en jy moet daar woon en mag daarvandaan nie uitgaan, nêrens heen nie;
37 die dag dat jy uitgaan en oor die spruit Kidron trek, moet jy voorwaar weet
dat jy sekerlik sal sterwe; jou bloed sal op jou hoof wees.
38 En Símeï sê vir die koning: Dit is goed; soos my heer die koning gespreek
het, so sal u dienaar doen. En Símeï het baie dae in Jerusalem gebly.
39 Maar aan die einde van drie jaar het twee van Símeï se slawe weggeloop na
Agis, die seun van Máäga, die koning van Gat; en aan Símeï is meegedeel en gesê:
Jou slawe is daar in Gat.
40 Toe maak Símeï klaar en saal sy esel op en vertrek na Gat, na Agis toe, om sy
slawe te soek; en Símeï het gegaan en sy slawe van Gat af gebring.
41 Maar aan Salomo is meegedeel dat Símeï uit Jerusalem na Gat weggegaan en
teruggekom het.
42 Daarop laat die koning Símeï roep, en hy sê vir hom: Het ek jou nie by die
HERE besweer en jou gewaarsku nie en gesê: Die dag dat jy uitgaan en êrens heen
trek, moet jy voorwaar weet dat jy sekerlik sal sterwe? En jy het aan my gesê:
Dit is goed; ek het gehoor.
43 Waarom het jy dan die eed by die HERE en die gebod wat ek jou opgelê het, nie
gehou nie?
44 Verder sê die koning vir Símeï: Jy ken self al die boosheid waar jou hart van
weet, wat jy my vader Dawid aangedoen het; daarom laat die HERE jou boosheid op
jou eie hoof neerkom.
45 Maar mag koning Salomo geseënd wees en die troon van Dawid bevestig word voor
die aangesig van die HERE tot in ewigheid!
46 Daarop gee die koning bevel aan Benája, die seun van Jójada: dié het
uitgegaan en op hom aangeval, sodat hy gesterf het.
47 En die koningskap is bevestig in die hand van Salomo.
3
1 En Salomo het hom verswaer met Farao, die koning van Egipte; hy het naamlik
die dogter van Farao geneem en haar in die stad van Dawid ingebring totdat hy
met die bou van sy huis en die huis van die HERE en die muur van Jerusalem
rondom klaar sou wees.
2 Alleenlik het die volk gedurig op die hoogtes geoffer, omdat tot op daardie
dae daar geen huis vir die Naam van die HERE gebou was nie.
3 En Salomo het die HERE liefgehad deur in die insettinge van sy vader Dawid te
wandel; hy het net gedurig op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan.
4 En die koning het na Gíbeon gegaan om daar te offer, omdat dit die vernaamste
hoogte was; duisend brandoffers het Salomo op daardie altaar geoffer.
5 Toe verskyn die HERE in Gíbeon in 'n nagtelike droom aan Salomo; en God het
gesê: Begeer wat Ek jou moet gee.
6 En Salomo sê: U het aan u kneg, my vader Dawid, 'n groot guns bewys, net soos
hy voor u aangesig gewandel het in trou en in geregtigheid en in opregtheid van
hart met U; en U het vir hom hierdie groot guns bewaar, dat U hom 'n seun gegee
het wat op sy troon sit, soos dit vandag is.
7 Nou dan, HERE my God, U het u kneg koning gemaak in my vader Dawid se plek;
maar ek is 'n jong seun; ek weet nie om uit of in te gaan nie.
8 En u kneg is midde onder u volk wat U verkies het, 'n groot volk wat nie getel
of bereken kan word weens die menigte nie.
9 Gee dus aan u kneg 'n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen
goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?
10 En dit was goed in die oë van die Here dat Salomo dit begeer het.
11 En God het vir hom gesê: Omdat jy hierdie versoek gedoen het en nie vir jou
'n lang lewe begeer het en nie vir jou rykdom begeer het en nie die lewe van jou
vyande begeer het nie, maar vir jou verstand begeer het om regsake te verhoor,
12 so doen Ek dan volgens jou woord: Kyk, Ek gee jou 'n wyse en verstandige
hart, sodat een soos jy vóór jou nie gewees het en een soos jy ná jou nie sal
opstaan nie.
13 Ja, selfs wat jy nie begeer het nie, sal Ek jou gee, rykdom sowel as eer,
sodat onder die konings niemand soos jy sal wees al jou dae nie.
14 En as jy in my weë wandel, deur my insettinge en my gebooie te onderhou, soos
jou vader Dawid gewandel het, dan sal Ek jou dae verleng.
15 Toe word Salomo wakker, en--dit was 'n droom! Daarop het hy in Jerusalem
gekom en voor die verbondsark van die Here gaan staan en brandoffers gebring en
dankoffers berei en 'n maaltyd vir al sy dienaars aangerig.
16 In dié tyd kom daar twee vroue wat hoere was, na die koning, en hulle gaan
voor hom staan.
17 En die een vrou sê: Ag, my heer, ek en hierdie vrou woon in een huis, en ek
het by haar in die huis gebaar.
18 En op die derde dag ná my bevalling het hierdie vrou ook gebaar terwyl ons
saam was; niemand anders was by ons in die huis nie, maar net ons twee in die
huis.
19 En die seun van hierdie vrou het in die nag gesterwe, omdat sy op hom gelê
het.
20 Toe staan sy in die middel van die nag op en neem my seun langs my weg terwyl
u dienares slaap; en sy het hom in haar skoot neergelê, maar haar dooie seun in
my skoot neergelê.
21 Toe ek die môre opstaan om my seun te soog, was hy dood; maar in die môre het
ek hom goed bekyk, en dit was nie my seun wat ek gebaar het nie!
22 Maar die ander vrou sê: Nee, maar die lewendige is my seun, en die dooie is
jou seun. Maar die eerste sê: Nee, maar die dooie is jou seun, en die lewendige
is my seun. So het hulle dan voor die koning gestry.
23 Toe dink die koning: Die een sê: Dit is my seun, die lewendige, en jou seun,
die dooie. En die ander sê: Nee, maar die dooie is jou seun, en die lewendige my
seun.
24 Daarop gee die koning bevel: Bring vir my 'n swaard! En hulle het die swaard
voor die koning gebring.
25 En die koning sê: Sny die lewendige kind in twee stukke, en gee die helfte
aan die een en die helfte aan die ander.
26 Maar die vrou wie se kind die lewendige was, het met die koning gespreek,
want haar binneste was ontroerd oor haar seun--sy het gesê: Ag, my heer, gee
haar die lewendige kind en maak hom tog nie dood nie! --terwyl die ander een sê:
Hy sal nie myne en ook nie joue wees nie; sny deur!
27 Toe antwoord die koning en sê: Gee haar die lewendige kind en maak hom in
geen geval dood nie: sy is die moeder.
28 En die hele Israel het gehoor van die vonnis wat die koning uitgespreek het,
en was bevrees vir die koning; want hulle het gesien dat daar goddelike wysheid
in sy binneste was om reg te doen.
4
1 So was koning Salomo dan koning oor die hele Israel.
2 En dít was sy hoofamptenare: Asárja, die seun van Sadok, was die priester;
3 Elihóref en Ahía, die seuns van Sisa, was skrywers; Jósafat, die seun van
Ahílud, was kanselier.
4 En Benája, die seun van Jójada, was oor die leër, en Sadok en Abjatar was
priesters.
5 En Asárja, die seun van Natan, was oor die bestuurders; en Sabud, die seun van
Natan, 'n priester, was die vriend van die koning.
6 En Ahísar was oor die paleis; en Adoníram, die seun van Abda, was oor die
dwangarbeid.
7 Verder het Salomo oor die hele Israel twaalf bestuurders gehad wat die koning
en sy paleis onderhou het; elkeen het 'n maand in die jaar die onderhoud op hom
gehad.
8 En dit is hulle name: Ben-Hur op die gebergte van Efraim;
9 Ben-Deker in Makas en in Saälbim en Bet-Semes en Elon-Bet-Hanan;
10 Ben-Hesed in Arúbbot; hy het Sogo en die hele land Hefer gehad;
11 Ben-Abinádab, die hele hoëveld van Dor; hy het Tafat, die dogter van Salomo,
as vrou gehad.
12 Báäna, die seun van Ahílud, het gehad: Táänag en Megíddo en die hele Bet-Sean
wat langs Sartan onderkant Jísreël lê, van Bet-Sean af tot by Abel-Mehóla, tot
verby Jókmeam.
13 Ben-Geber was in Ramot in Gílead; hy het die dorpe van Jaïr, die seun van
Manasse, gehad wat in Gílead lê; hy het die landstreek Argob gehad wat in Basan
lê: sestig groot stede met mure en kopergrendels.
14 Ahínadab, die seun van Iddo, was in Mahanáim.
15 Ahímaäs in Náftali; hy het ook 'n dogter van Salomo, Basmat, as vrou geneem.
16 Báäna, die seun van Húsai, was in Aser en in Alot;
17 Jósafat, die seun van Parúag, in Issaskar;
18 Símeï, die seun van Ela, in Benjamin;
19 Geber, die seun van Uri, in die land Gílead, die land van Sihon, die koning
van die Amoriete, en van Og, die koning van Basan; en hy was die enigste
bestuurder in die land.
20 Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte;
hulle het geëet en gedrink en was bly.
21 Verder was Salomo heerser oor al die koninkryke van die Eufraat af tot by die
land van die Filistyne, en tot by die grens van Egipte; hulle het belasting
aangebring en Salomo gedien al die dae van sy lewe.
22 En Salomo se voedsel vir een dag was dertig kor fynmeel en sestig kor meel;
23 tien vetgemaakte beeste en twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee,
behalwe die takbokke en gemsbokke en gestippelde takbokke en vetgemaakte ganse.
24 Want hy het geheers oor alles wes van die Eufraat, van Tifsag af tot by Gasa,
oor al die konings wes van die Eufraat, en vrede gehad aan alle kante rondom;
25 sodat Juda en Israel veilig gewoon het, elkeen onder sy wingerdstok en onder
sy vyeboom, van Dan tot Berséba, al die dae van Salomo.
26 Verder het Salomo veertig duisend krippe gehad vir sy trekperde, en twaalf
duisend ryperde.
27 En daardie bestuurders het elkeen in sy maand koning Salomo onderhou en almal
wat aan die tafel van koning Salomo kom; hulle het niks laat kortkom nie.
28 En die gars en die strooi vir die perde en die renperde het hulle gebring op
die plek waar dit moes wees, elkeen volgens sy orde.
29 En God het aan Salomo wysheid gegee en 'n baie groot verstand en 'n ruimte
van insig soos die sand wat aan die seestrand lê,
30 sodat die wysheid van Salomo groter was as die wysheid van al die kinders van
die Ooste en as al die wysheid van Egipte.
31 Ja, hy was wyser as al die mense, as Etan, die Esrahiet, en Heman en Kalkol
en Darda, die seuns van Mahol, sodat hy beroemd was onder al die nasies rondom.
32 En hy het drie duisend spreuke uitgespreek, en sy liedere was duisend en vyf.
33 En hy het oor die bome gespreek, van die seder op die Líbanon tot die hisop
wat teen die muur uitspruit; ook het hy gespreek oor die vee en oor die voëls en
oor die kruipende diere en oor die visse.
34 En van al die volke het hulle gekom om na die wysheid van Salomo te luister,
van al die konings van die aarde wat van sy wysheid gehoor het.
5
1 En Hiram, die koning van Tirus, het sy dienaars na Salomo gestuur, omdat hy
gehoor het dat hulle hom in sy vader se plek as koning gesalf het, want Hiram
was altyd 'n vriend van Dawid.
2 Daarop laat Salomo aan Hiram weet:
3 U weet self dat my vader Dawid geen huis vir die Naam van die HERE sy God kon
bou nie vanweë die oorlog waarmee hulle hom omring het, totdat die HERE hulle
onder sy voetsole gebring het.
4 Maar nou het die HERE my God my rus gegee rondom; daar is geen teëstander en
daar is geen onheil wat dreig nie.
5 En kyk, ek is van plan om vir die Naam van die HERE my God 'n huis te bou soos
die HERE met my vader Dawid gespreek en gesê het: Jou seun wat Ek in jou plek op
jou troon sal sit, hy sal die huis vir my Naam bou.
6 Gee dan nou bevel dat hulle vir my seders uit die Líbanon kap, en laat my
dienaars saam met u dienaars wees, en die loon van u dienaars sal ek u gee net
soos u sê; want u weet self dat onder ons niemand is wat verstaan om bome te kap
soos die Sidoniërs nie.
7 Net toe Hiram die woorde van Salomo hoor, was hy baie bly en sê: Geseënd is
die HERE vandag wat vir Dawid 'n wyse seun gegee het oor hierdie groot volk.
8 Daarop laat Hiram aan Salomo weet: Ek het gehoor wat u my laat weet het; ék
sal doen alles wat u verlang insake die sederhout en die sipreshout.
9 My dienaars sal dit van die Líbanon na die see afbring, en ék sal daar vlotte
van maak op die see, tot by die plek wat u my sal laat weet, en ek sal dit daar
uitmekaar laat neem; dan kan ú dit laat wegneem; en ú moet doen wat ek verlang
deur voedsel aan my huis te lewer.
10 So het Hiram dan aan Salomo sederhout en sipreshout gelewer, soveel as hy wou
hê,
11 terwyl Salomo aan Hiram gelewer het twintig duisend kor koring as voedsel vir
sy huis en twintig kor uitgestampte olie; so het Salomo aan Hiram jaar vir jaar
gelewer.
12 En die HERE het aan Salomo wysheid gegee volgens sy belofte, en daar was
vrede tussen Hiram en Salomo, en hulle twee het 'n verbond gesluit.
13 Verder het koning Salomo uit die hele Israel die dwangarbeiders laat opkom,
sodat die dwangarbeiders dertig duisend man was.
14 En hy het hulle gestuur na die Líbanon, tien duisend elke maand by beurte;
een maand was hulle op die Líbanon, twee maande tuis; en Adoníram was oor die
dwangarbeid.
15 Salomo het ook sewentig duisend draers en tagtig duisend klipkappers op die
gebergte gehad,
16 behalwe die hoofopsigters van Salomo wat oor die werk was, drie duisend drie
honderd wat bevel gevoer het oor die mense wat die werk doen.
17 En die koning het bevel gegee om groot klippe, kosbare klippe uit te breek om
die fondament van die huis met gekapte klippe te lê.
18 En die bouers van Salomo en die bouers van Hiram en die Gibliete het dit
gekap en die boomstamme en die klippe bewerk om die huis te bou.
6
1 En in die vier honderd en tagtigste jaar ná die uittog van die kinders van
Israel uit Egipteland, in die vierde jaar van Salomo se regering oor Israel, in
die maand Sif--dit is die tweede maand--het hy die huis vir die HERE gebou.
2 En die huis wat koning Salomo vir die HERE gebou het, was sestig el in sy
lengte en twintig in sy breedte en dertig el in sy hoogte.
3 En die voorportaal, aan die voorkant van die hoofvertrek van die huis, was
twintig el in sy lengte, oor die breedte van die huis; tien el in sy breedte aan
die voorkant van die huis.
4 En hy het aan die huis vensters gemaak met smal latwerk.
5 En teen die muur van die huis het hy rondom 'n aanbousel opgetrek, aan die
mure van die huis rondom die hoofvertrek en die binneste vertrek, en hy het dit
rondom in verdiepings gemaak.
6 Die onderste verdieping was vyf el in sy breedte en die middelste ses el in sy
breedte en die derde sewe el in sy breedte; want hy het vir die huis rondom
buitekant inkortings gemaak, om nie in die mure van die huis in te las nie.
7 En toe die huis gebou is, is dit opgetrek van klippe, kant en klaar uit die
breekplek: hamers en koubeitels, enige ystergereedskap, is nie gehoor by die
huis toe dit gebou is nie.
8 Die ingang van die onderste verdieping was aan die suidelike sykant van die
huis, en wenteltrappe het opgegaan na die middelste, en van die middelste na die
derde.
9 En toe hy die huis klaar gebou het, het hy die huis oordek, by wyse van vakke
en rye, met sederhout.
10 En hy het die aanbousel teen die hele huis gebou; vyf el was elke verdieping
hoog; en hy het dit aan die huis bevestig met sederbalke.
11 En die woord van die HERE het tot Salomo gekom en gesê:
12 Wat hierdie huis betref, wat jy besig is om te bou--as jy wandel in my
insettinge en my verordeninge uitvoer en al my gebooie onderhou om daarin te
wandel, dan sal Ek my woord wat Ek tot jou vader Dawid gespreek het, aan jou
vervul;
13 dan sal Ek onder die kinders van Israel woon en my volk Israel nie verlaat
nie.
14 Toe Salomo die huis klaar gebou het,
15 het hy die mure van die huis van binne bedek met sederplanke; van die vloer
van die huis af tot by die balke van die plafon het hy dit van binne met hout
belê, en die vloer van die huis het hy met sipresplanke belê.
16 Verder het hy die twintig el van die agterkant van die huis met sederplanke
bedek, van die vloer af tot by die balke, en dit aan die binnekant as 'n
binneste vertrek, as 'n Allerheiligste, gebou.
17 En vooraan was die huis, dit is die hoofvertrek, veertig el.
18 En sederhout was aan die huis binnekant: snywerk van kolokwinte en oop
blomknoppe, dit alles van sederhout; geen klip was daar te sien nie.
19 So het hy dan 'n binneste vertrek binnekant in die middel van die huis
ingerig om die verbondsark van die HERE daar neer te sit.
20 En die binneste vertrek was twintig el in lengte en twintig el in breedte en
twintig el in sy hoogte, en hy het dit oorgetrek met fyn goud; en die altaar het
hy met sederhout bedek.
21 Verder het Salomo die huis van binne met fyn goud oorgetrek, en hy het 'n
afsluiting met goue kettings gemaak voor die binneste vertrek, wat hy met goud
oorgetrek het.
22 En die hele huis het hy met goud oorgetrek, totdat die hele huis daarmee
bedek was; en die hele altaar wat by die binneste vertrek behoort, het hy met
goud oorgetrek.
23 Verder het hy in die binneste vertrek twee gérubs gemaak van oliewenhout,
tien el hoog.
24 En vyf el was die een vlerk van die gérub, en vyf el was die ander vlerk van
die gérub: tien el van die een punt van sy vlerke tot by die ander punt daarvan.
25 En tien el die tweede gérub: altwee die gérubs het een maat en een gestalte
gehad.
26 Die hoogte van die een gérub was tien el, en net so die ander gérub.
27 Toe het hy die gérubs in die middel van die binneste vertrek gesit, en die
vlerke van die gérubs was uitgesprei, sodat die vlerk van die een aan die een
muur en die vlerk van die ander gérub aan die ander muur raak, terwyl hulle
vlerke, na die middel van die vertrek toe, vlerk teen vlerk raak.
28 Verder het hy die gérubs met goud oorgetrek.
29 En aan al die mure van die huis rondom, van die binneste en die buitenste
vertrek, het hy figure van gérubs en palmbome en oop blomknoppe laat uitsny.
30 En die vloer van die huis, van die binneste en die buitenste vertrek, het hy
met goud oorgetrek.
31 En as ingang van die binneste vertrek het hy deure van oliewenhout gemaak;
die uitspringende raamwerk van die deurposte het die vorm van 'n vyfhoek gehad.
32 En die twee deurvleuels was van oliewenhout, en daarop het hy figure van
gérubs en palmbome en oop blomknoppe laat uitsny en dit met goud oorgetrek, en
die goud op die gérubs en op die palmbome ingeslaan.
33 En net so het hy vir die ingang van die hoofvertrek gemaak: deurposte van
oliewenhout, vierkantig;
34 en twee deurvleuels van sipreshout: die een vleuel van twee draaibare helftes
en die ander vleuel van twee draaibare helftes.
35 En hy het daarop gérubs en palmbome en oop blomknoppe uitgesny, en met goud,
dun oor die snywerk uitgeslaan, oorgetrek.
36 Verder het hy die binneste voorhof gebou van drie lae gekapte klip en een
laag sederbalke.
37 In die vierde jaar is die fondament van die huis van die HERE gelê, in die
maand Sif,
38 en in die elfde jaar, in die maand Bul--dit is die agtste maand--was die huis
voltooi in al sy dele en volgens al sy vereistes, sodat hy sewe jaar daaraan
gebou het.
7
1 Maar aan sy huis het Salomo dertien jaar gebou en die hele huis voltooi.
2 Hy het naamlik die huis van die Líbanon-bos gebou, honderd el in sy lengte en
vyftig el in sy breedte en dertig el in sy hoogte, op vier rye sederpilare en
sederbalke op die pilare.
3 En dit was van bo oordek met sederhout, op die verdiepings wat rus op die
pilare, vyf en veertig bo-vertrekke, vyftien in 'n ry.
4 En daar was drie rye vensters van latwerk; en oop venster teenoor oop venster,
drie maal.
5 En al die deure met die vensters was vierkantig van houtwerk, en venster was
teenoor venster, drie maal.
6 En die pilare-voorhuis het hy gemaak, vyftig el in sy lengte en dertig el in
sy breedte, met 'n voorportaal daarvoor, naamlik pilare en 'n afdak daaroor.
7 Verder het hy die troonsaal gemaak waar hy reggespreek het, die regsaal, en
dit was bedek met sederhout van vloer tot vloer.
8 Ook sy huis waar hy gewoon het, in die ander voorhof, van die saal af
binnekant toe, was van dieselfde maaksel; en hy het vir die dogter van Farao wat
Salomo geneem het, 'n huis gemaak soos hierdie saal.
9 Dit was alles van kosbare klippe, volgens die maat van gekapte klip, aan die
binne-- en buitekant met die saag bewerk, naamlik van die fondament af tot by
die muurplate, en van die buitekant af tot by die groot voorhof.
10 En die fondament was van kosbare klippe, groot klippe, klippe van tien el en
klippe van agt el.
11 En daar bo-op was kosbare klippe, volgens die maat van gekapte klip, en
sederhout.
12 En die groot voorhof was rondom van drie lae gekapte klip en 'n laag
sederbalke, net soos by die binneste voorhof van die huis van die HERE en by die
saal van die paleis.
13 En koning Salomo het Hiram uit Tirus laat haal.
14 Hy was die seun van 'n weduvrou uit die stam van Náftali, en sy vader was 'n
man van Tirus, 'n kopersmid; en hy was vol wysheid en verstand en kennis om
allerhande werk in koper te maak. Hy het toe by koning Salomo gekom en al sy
werk uitgevoer.
15 Hy het naamlik die twee pilare van koper gevorm; agttien el was die hoogte
van die een pilaar, en 'n lyn van twaalf el kon die tweede pilaar omspan.
16 En hy het twee kapitele gemaak om op die toppe van die pilare te sit,
gietwerk van koper; vyf el was die hoogte van die een kapiteel, en vyf el was
die hoogte van die ander kapiteel.
17 Daar was vlegwerke--die maaksel van die vlegwerk was gedraaide drade, 'n
maaksel van kettinkies--vir die kapitele op die top van die pilare; sewe vir die
een kapiteel en sewe vir die ander kapiteel.
18 Verder het hy die granaatjies gemaak, naamlik twee rye rondom oor die een
vlegwerk, om die kapitele op die top van die pilare te bedek; en net so het hy
vir die ander kapiteel gemaak.
19 En die kapitele op die top van die pilare aan die voorportaal was vier el,
lelievormig,
20 naamlik die kapitele op die twee pilare bo-aan, verby die vlegwerk wat vlak
op die bol was. En die granaatjies was twee honderd, in rye rondom, ook oor die
tweede kapiteel.
21 En hy het die pilare opgerig by die voorportaal van die hoofvertrek. Toe hy
die regterpilaar opgerig het, noem hy dit Jagin; en toe hy die linkerpilaar
opgerig het, noem hy dit Boas.
22 Toe die leliewerk op die top van die pilare was, was die werk aan die pilare
voltooi.
23 Verder het hy die see gemaak van gietwerk; van rand tot rand was tien el,
heeltemal rond; en die hoogte daarvan was vyf el, en 'n lyn van dertig el kon
dit rondom omspan.
24 En kolokwinte onder die rand daarvan het dit rondom omring; tien op die el
het hulle die see rondom omring: twee rye kolokwinte wat aan die gietwerk
daarvan vasgegiet is.
25 Dit het gestaan op twaalf beeste: drie kyk na die noorde, en drie kyk na die
weste, en drie kyk na die suide, en drie kyk na die ooste toe, terwyl die see
bo-op hulle was, en al hulle agterdele was binnekant toe.
26 En die dikte daarvan was 'n handbreed, en sy rand was in die vorm van 'n
bekerrand, soos 'n lelieblom; dit het twee duisend bat gehou.
27 Hy het ook die tien afspoelwaentjies van koper gemaak; die lengte van elke
afspoelwaentjie was vier el, en vier el sy breedte en drie el sy hoogte.
28 En dit was die maaksel van die bak: dit het sluitplate gehad, naamlik
sluitplate tussen die sporte;
29 en op die sluitplate tussen die sporte was leeus, beeste en gérubs; en net so
op die sporte; bokant en onderkant die leeus en beeste was afhangende
kransversierings.
30 En elke afspoelwaentjie het vier koperwiele en koperasse gehad, en sy vier
hoekstyle het skouerstukke gehad; onder teen die wasbak was die skouerstukke
vasgegiet; teenoor elkeen was kranse.
31 En die opening daarvan was binnekant die kraag, en boontoe een el; en die
opening daarvan was rond, in die vorm van 'n voetstuk, anderhalf el; en ook die
opening daarvan was graveerwerk, maar die sluitplate daarvan was vierkantig, nie
rond nie.
32 En die vier wiele was onder die sluitplate, en die kloue van die wiele was in
die bak, terwyl die hoogte van elke wiel anderhalf el was.
33 En die maaksel van die wiele was in die vorm van 'n wawiel; die kloue en die
vellings en die speke en die nawe daarvan was alles gietwerk.
34 En vier skouerstukke was aan die vier hoeke van elke afspoelwaentjie; die
skouerstukke daarvan was met die bak saam uit een stuk.
35 En bo-aan die afspoelwaentjie was daar 'n kraag van 'n half-el hoog,
heeltemal rond; en bo-op die bak was die kloue en sluitplate daarvan, daarmee
saam uit een stuk.
36 En hy het op die vlakke van die kloue en sluitplate daarvan gérubs, leeus en
palmbome gegraveer volgens die ruimte van elkeen, en blomkranse rondom.
37 So het hy die tien afspoelwaentjies gemaak: een en dieselfde gietwerk, een
maat, een vorm het hulle almal gehad.
38 Verder het hy tien koperwaskomme gemaak; elke kom het veertig bat gehou; elke
kom was vier el; een kom was op elke bak van die tien afspoelwaentjies.
39 Toe het hy die afspoelwaentjies opgestel: vyf aan die suidekant van die huis
en vyf aan die noordekant van die huis; maar die see het hy aan die suidekant
van die huis opgestel, teen die ooste na die suide toe.
40 Verder het Hiram die potte en die skoppe en die komme gemaak. So het Hiram
dan al die werk voleindig wat hy vir koning Salomo in die huis van die HERE
gedoen het:
41 twee pilare met die twee bolle van die kapitele wat op die top van die pilare
was, en die twee stukke vlegwerk om die twee bolle van die kapitele op die top
van die pilare te oordek;
42 en die vier honderd granaatjies vir die twee stukke vlegwerk: twee rye
granaatjies vir elke vlegwerk, om die twee bolle van die kapitele bo-op die
pilare te oordek;
43 en die tien afspoelwaentjies en die tien waskomme op die afspoelwaentjies;
44 en die een see en die twaalf beeste onder die see;
45 en die potte en die skoppe en die komme: al hierdie voorwerpe wat Hiram vir
koning Salomo in die huis van die HERE gemaak het, was van gepolyste koper.
46 In die Jordaanstreek waar die grond diep was, tussen Sukkot en Sartan, het
die koning dit gegiet.
47 En Salomo het al die voorwerpe ongeweeg laat bly vanweë die baie groot
menigte; die gewig van die koper is nie bereken nie.
48 Verder het Salomo al die voorwerpe wat in die huis van die HERE was, gemaak:
die goue altaar en die tafel waar die toonbrode op moes lê, van goud;
49 en die kandelaars, vyf regs en vyf links, voor die binneste vertrek, van fyn
goud; en die blomwerk en die lampe en die snuiters, van goud;
50 en die skottels en die messe en die komme en die rookpanne en die vuurpanne,
van fyn goud; en die skarniere vir die deure van die binneste vertrek, van die
Allerheiligste, en vir die deure van die saal, van die hoofvertrek, van goud.
51 En toe al die werk wat koning Salomo in die huis van die HERE gemaak het,
gereed was, het Salomo die geheiligde gawes van sy vader Dawid ingebring; die
silwer en die goud en die voorwerpe het hy in die skatkamers van die huis van
die HERE neergesit.
8
1 Daarna het Salomo die oudstes van Israel en al die stamhoofde, die
familie-owerstes van die kinders van Israel, by koning Salomo in Jerusalem byeen
laat kom om die verbondsark van die HERE uit die stad van Dawid, dit is Sion, op
te bring.
2 En al die manne van Israel het by koning Salomo op die fees vergader in die
maand Étanim, dit is die sewende maand.
3 Toe al die oudstes van Israel daar kom, het die priesters die ark opgeneem
4 en die ark van die HERE en die tent van samekoms gebring saam met al die
heilige voorwerpe wat in die tent was; naamlik die priesters en die Leviete het
dit gebring.
5 En terwyl koning Salomo en die hele by hom vergaderde gemeente van Israel saam
met hom voor die ark staan, het hulle kleinvee en beeste geoffer wat vanweë die
menigte nie getel of bereken kon word nie.
6 Verder het die priesters die verbondsark van die HERE na sy plek gebring, in
die binneste vertrek van die huis, in die Allerheiligste, onder die vlerke van
die gérubs in.
7 Want die gérubs het die vlerke uitgesprei oor die plek van die ark, sodat die
gérubs die ark en sy draaghoute van bo af beskut het.
8 En die draaghoute was so lank, dat die punte van die draaghoute uit die
Heilige, vlak voor die binneste vertrek, gesien kon word, maar verder buitentoe
was hulle nie sigbaar nie; en hulle is daar tot vandag toe.
9 Daar was niks in die ark nie as net die twee kliptafels wat Moses by Horeb
daarin neergelê het, toe die HERE 'n verbond met die kinders van Israel gesluit
het by hulle uittog uit Egipteland.
10 En toe die priesters uit die heiligdom uitgaan, het die wolk die huis van die
HERE vervul.
11 En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die
heerlikheid van die HERE het die huis van die HERE vervul.
12 Toe het Salomo gesê: Die HERE het gesê dat Hy in donkerheid wil woon.
13 Verseker het ek vir U 'n woonhuis gebou, 'n vaste plek vir U om ewig in te
woon.
14 Daarop draai die koning sy aangesig om en seën die hele vergadering van
Israel, terwyl die hele vergadering van Israel staan.
15 En hy sê: Geloofd sy die HERE, die God van Israel, wie se hand volbring het
wat sy mond met my vader Dawid gespreek en gesê het:
16 Van die dag af dat Ek my volk Israel uit Egipte uitgelei het, het Ek geen
stad verkies uit al die stamme van Israel om 'n huis te bou, dat my Naam daar
sou wees nie; maar Ek het Dawid verkies om oor my volk Israel te wees.
17 Toe dit dan in die hart van my vader Dawid was om 'n huis te bou vir die Naam
van die HERE, die God van Israel,
18 het die HERE aan my vader Dawid gesê: Dat dit in jou hart was om vir my Naam
'n huis te bou--daarin het jy goed gehandel, dat dit in jou hart was.
19 Net maar, jy sal die huis nie bou nie, maar jou seun wat uit jou lendene sal
voortkom, dié sal vir my Naam die huis bou.
20 En die HERE het sy woord vervul wat Hy gespreek het, sodat ek opgestaan het
in die plek van my vader Dawid, en ek sit op die troon van Israel soos die HERE
gespreek het; en ek het die huis gebou vir die Naam van die HERE, die God van
Israel,
21 en daar 'n plek ingerig vir die ark, waarin die verbond van die HERE is, met
ons vaders gesluit toe Hy hulle uit Egipteland uitgelei het.
22 Toe het Salomo voor die altaar van die HERE gaan staan, teenoor die hele
vergadering van Israel, en sy hande uitgebrei na die hemel
23 en gesê: HERE, God van Israel, daar is bo in die hemel of onder op die aarde
geen God soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte
wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart,
24 wat vir u kneg, my vader Dawid, u belofte aan hom gehou het; ja, met u mond
het U dit gespreek en met u hand volbring soos dit vandag is.
25 Hou nou ook, HERE, God van Israel, die belofte wat U aan u kneg, my vader
Dawid, gedoen het, naamlik: Daar sal vir jou nooit 'n man voor my aangesig
ontbreek wat op die troon van Israel sal sit nie as jou seuns net hulle weg in
ag neem deur te wandel voor my aangesig soos jy voor my aangesig gewandel het.
26 Laat dan nou, o God van Israel, u woord tog waargemaak word wat U gespreek
het tot u kneg, my vader Dawid.
27 Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel
kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.
28 Wend U dan tot die gebed van u kneg en tot sy smeking, HERE my God, deur te
luister na die geroep en die gebed wat u kneg vandag voor u aangesig bid;
29 sodat u oë oop mag wees nag en dag oor hierdie huis, oor die plek waarvan U
gesê het: My Naam sal daar wees! sodat U mag luister na die gebed wat u kneg na
hierdie plek toe sal bid.
30 Luister dan na die smeking van u kneg en van u volk Israel wat hulle na
hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor elke gebed na u woonplek, na die hemel
toe, en as U dit hoor, vergewe dan.
31 As iemand teen sy naaste sondig en hulle hom 'n eed oplê om hom tot
selfvervloeking te bring en hy voor u altaar in hierdie huis kom sweer,
32 wil U dan hoor in die hemel en handel en u knegte reg verskaf deur die
skuldige skuldig te verklaar en sy wandel op sy hoof te lê en die regverdige
regverdig te verklaar deur hom te gee na sy geregtigheid.
33 As u volk Israel verslaan word voor 'n vyand, omdat hulle teen U gesondig
het, en hulle hul tot U bekeer en u Naam bely en tot U bid en smeek in hierdie
huis,
34 wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u volk Israel vergewe en hulle
terugbring na die land wat U aan hulle vaders gegee het.
35 As die hemel toegesluit bly, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U
gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely en van hulle
sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig,
36 wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel
vergewe--want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel--en gee reën
op u land wat U aan u volk as 'n erfenis gegee het.
37 As daar hongersnood is in die land, as daar pes is, as daar brandkoring,
heuningdou, sprinkane, kaalvreters is, as sy vyand hom in die land, in sy poorte
dit benoud maak, watter plaag, watter siekte ook al,
38 enige gebed, enige smeking wat enigeen van u hele volk Israel sal doen, as
elkeen die plaag van sy hart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe
uitbrei--
39 wil U dan hoor in die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en handel en aan
elkeen gee volgens sy weë, U wat sy hart ken--want U alleen ken die hart van al
die mensekinders--
40 sodat hulle U kan vrees al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons
vaders gegee het.
41 Ja, ook na die uitlander wat nie van u volk Israel is nie, en uit 'n ver land
ter wille van u Naam kom--
42 want hulle sal hoor van u grote Naam en u sterke hand en u uitgestrekte
arm--as hy kom en bid na hierdie huis toe,
43 wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor
die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, om
U te vrees soos u volk Israel, en mag gewaar word dat u Naam uitgeroep is oor
hierdie huis wat ek gebou het.
44 As u volk uittrek in die oorlog teen sy vyand op die pad waarop U hulle
stuur, en hulle bid tot die HERE in die rigting van die stad wat U verkies het,
en van die huis wat ek vir u Naam gebou het,
45 wil dan in die hemel hulle gebed en hulle smeking hoor en aan hulle hul reg
verskaf.
46 As hulle teen U sondig--want daar is geen mens wat nie sondig nie--en U op
hulle toornig is en hulle aan 'n vyand oorgee en hulle veroweraars hulle as
gevangenes wegvoer na die land van die vyand, ver of naby,
47 en hulle dit ter harte neem in die land waarheen hulle as gevangenes
weggevoer is, en hulle hul bekeer en U smeek in die land van die wat hulle
weggevoer het, en sê: Ons het gesondig en verkeerd gehandel, ons was goddeloos--
48 en hulle hul tot U bekeer met hul hele hart en met hul hele siel, in die land
van hul vyande wat hulle weggevoer het, en hulle bid tot U in die rigting van
hulle land wat U aan hulle vaders gegee het, van die stad wat U verkies het, en
die huis wat ek vir u Naam gebou het,
49 wil dan in die hemel, u vaste woonplek, hulle gebed en hulle smeking hoor en
aan hulle hul reg verskaf,
50 en vergeef u volk wat hulle teen U gesondig het, ja, al hulle oortredinge wat
hulle teen U begaan het; en laat hulle barmhartigheid vind voor die wat hulle
weggevoer het, dat dié hulle barmhartig kan wees.
51 Want hulle is u volk en u erfdeel wat U uit Egipte uitgelei het uit die
ystersmeltoond.
52 Mag u oë dan oop wees vir die smeking van u kneg en vir die smeking van u
volk Israel, om na hulle te luister so dikwels as hulle U aanroep.
53 Want U het hulle vir U as erfdeel afgesonder uit al die volke van die aarde,
soos U deur die diens van u kneg Moses gespreek het toe U, Here HERE, ons vaders
uit Egipte uitgelei het.
54 Net toe Salomo gereed was om hierdie hele gebed en smeking tot die HERE te
bid, het hy voor die altaar van die HERE opgestaan uit sy knielende houding, met
sy hande na die hemel uitgebrei;
55 en hy het gaan staan en die hele vergadering van Israel hardop geseën en
gesê:
56 Geloofd sy die HERE wat aan sy volk Israel rus gegee het net soos Hy gespreek
het: geen enkele woord het onvervuld gebly van al die goeie woorde wat Hy deur
die diens van sy kneg Moses gespreek het nie.
57 Mag die HERE onse God met ons wees soos Hy met ons vaders gewees het; mag Hy
ons nie verlaat en ons nie verwerp nie--
58 deur ons hart tot Hom te neig om in al sy weë te wandel en om sy gebooie en
sy insettinge en sy verordeninge wat Hy ons vaders beveel het, te onderhou.
59 En mag hierdie woorde van my, waarmee ek voor die aangesig van die HERE
gesmeek het, dag en nag naby die HERE onse God wees, sodat Hy reg kan verskaf
aan sy kneg en aan sy volk Israel na die eis van elke dag;
60 sodat al die volke van die aarde kan weet dat die HERE God is, niemand meer
nie.
61 Laat julle hart dan volkome met die HERE onse God wees om te wandel in sy
insettinge en sy gebooie te onderhou, soos vandag.
62 En die koning, en die hele Israel saam met hom, was besig om slagoffers voor
die aangesig van die HERE te slag.
63 Salomo het naamlik as die dankoffer wat hy aan die HERE gebring het, twee en
twintig duisend beeste en honderd en twintig duisend stuks kleinvee geslag; so
het hulle dan die huis van die HERE ingewy, die koning en al die kinders van
Israel.
64 Op dié dag het die koning die middel van die voorhof geheilig wat voor die
huis van die HERE was; want daar het hy die brandoffer en die spysoffer en die
vetstukke van die dankoffers berei, omdat die koperaltaar voor die aangesig van
die HERE te klein was om die brandoffer en die spysoffer en die vetstukke van
die dankoffers te bevat.
65 So het Salomo dan in dié tyd die fees gehou en die hele Israel saam met hom,
'n groot vergadering van die ingang na Hamat af tot by die spruit van Egipte,
voor die aangesig van die HERE onse God, sewe dae en sewe dae, veertien dae
lank.
66 Op die agtste dag het hy die volk laat gaan, en hulle het die koning geseën
en na hul tente gegaan, verheug en opgeruimd oor al die goeie dinge wat die HERE
aan sy kneg Dawid en sy volk Israel gedoen het.
9
1 Net toe Salomo gereed was met die bou van die huis van die HERE en die huis
van die koning en elke begeerte wat Salomo wou uitvoer,
2 verskyn die HERE vir die tweede maal aan Salomo soos Hy aan hom verskyn het in
Gíbeon;
3 en die HERE sê vir hom: Ek het jou gebed en jou smeking gehoor wat jy voor my
aangesig uitgespreek het; Ek het hierdie huis wat jy gebou het, geheilig deur my
Naam daar te vestig tot in ewigheid; en my oë en my hart sal daar altyd wees.
4 En wat jou betref, as jy wandel voor my aangesig soos jou vader Dawid gewandel
het, met 'n volkome hart en in opregtheid deur te doen net soos Ek jou beveel
het, en my insettinge en verordeninge onderhou,
5 dan sal Ek die troon van jou koningskap oor Israel vir ewig bevestig, soos Ek
jou vader Dawid beloof het deur te sê: Daar sal vir jou nooit 'n man ontbreek op
die troon van Israel nie.
6 As julle en julle kinders ooit van My afvallig word en my gebooie, my
insettinge wat Ek julle voorgehou het, nie onderhou nie, maar ander gode gaan
dien en voor hulle neerbuig,
7 dan sal Ek Israel uit die land uitroei wat Ek hulle gegee het, en die huis wat
Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig wegwerp, sodat Israel 'n
spreekwoord en 'n spotlied sal word onder al die volke.
8 En hierdie huis wat so hoog is--elkeen wat daarlangs verbygaan, sal hom
verbaas en spot, en hulle sal vra: Waarom het die HERE so gedoen met hierdie
land en met hierdie huis?
9 Dan sal hulle sê: Omdat hulle die HERE hul God verlaat het wat hulle vaders
uit Egipteland uitgelei het, en ander gode aangehang en daarvoor neergebuig en
hulle gedien het--daarom het die HERE al hierdie onheil oor hulle gebring.
10 En aan die einde van twintig jaar waarin Salomo die twee huise, die huis van
die HERE en die huis van die koning, gebou het--
11 Hiram, die koning van Tirus, het Salomo gehelp met sederhout en sipreshout en
goud soveel as hy wou hê--gee koning Salomo aan Hiram twintig stede in die land
Galiléa.
12 En Hiram het uit Tirus uitgetrek om die stede te bekyk wat Salomo hom gegee
het, maar hulle was nie reg in sy oë nie.
13 Daarop sê hy: Wat vir stede is dit wat jy my gegee het, my broer? En hulle
noem dit die land Kabul, tot vandag toe.
14 En Hiram het aan die koning honderd en twintig talente goud gestuur.
15 En dit was die saak van die dwangarbeiders wat koning Salomo laat opkom het
om die huis van die HERE en sy huis en Millo en die muur van Jerusalem en Hasor
en Megíddo en Geser te bou.
16 (Farao, die koning van Egipte, het opgetrek en het Geser ingeneem en dit met
vuur verbrand en die Kanaäniete wat in die stad gewoon het, gedood en dit as 'n
trougeskenk aan sy dogter, die vrou van Salomo, gegee.)
17 So het Salomo dan Geser opgebou en Bet-Horon-Onder
18 en Báälat en Tamar in die woestyn, in die land,
19 en al die voorraadstede wat Salomo gehad het, en die stede vir die strydwaens
en die stede vir die perderuiters en wat Salomo graag wou gebou het in Jerusalem
en in die Líbanon en in die hele land van sy heerskappy.
20 Al die mense wat oorgebly het van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete
en Jebusiete, wat nie uit die kinders van Israel was nie--
21 hulle kinders wat ná hulle in die land oorgebly het, wat die kinders van
Israel nie met die banvloek kon tref nie, dié het Salomo laat opkom vir
dwangarbeid, tot vandag toe.
22 Maar van die kinders van Israel het Salomo niemand 'n slaaf gemaak nie, maar
hulle was krygsmanne en sy dienaars en sy owerstes en sy adjudante en owerstes
oor sy strydwaens en sy perderuiters.
23 Dit was die hoofopsigters van Salomo oor die werk: vyf honderd en vyftig wat
oor die mense wat die werk verrig, bevel gevoer het.
24 Skaars het die dogter van Farao opgetrek uit die stad van Dawid na haar huis
wat hy vir haar gebou het, of hy het Millo gebou.
25 En Salomo het drie maal in die jaar brandoffers en dankoffers gebring op die
altaar wat hy vir die HERE gebou het, hy het naamlik rook laat opgaan by die
altaar wat daar was voor die aangesig van die HERE, sodat hy die huis voltooi
het.
26 Koning Salomo het ook skepe gebou in Éseon-Geber wat by Elot aan die kus van
die Skelfsee in die land Edom lê.
27 Toe stuur Hiram sy dienaars op die skepe, seevaarders wat die see ken, saam
met die dienaars van Salomo;
28 en hulle het in Ofir aangekom en daarvandaan goud gaan haal, vier honderd en
twintig talente, en dit na koning Salomo gebring.
10
1 En toe die koningin van Skeba die gerug van Salomo hoor in verband met die
Naam van die HERE, het sy gekom om hom met raaisels op die proef te stel.
2 En sy het na Jerusalem gekom met 'n baie groot trek, met kamele wat speserye
en 'n menigte goud en edelgesteentes dra; en toe sy by Salomo inkom, het sy met
hom gespreek oor alles wat in haar hart was.
3 En Salomo het haar al haar woorde verklaar; geen woord was vir die koning te
diepsinnig om haar dit te verklaar nie.
4 Toe die koningin van Skeba dan al die wysheid van Salomo sien en die huis wat
hy gebou het,
5 en die voedsel van sy tafel en hoe sy dienaars sit en sy bediendes staan, en
hulle klere, en sy dranke en sy trap waarmee hy opklim in die huis van die HERE,
was daar in haar geen gees meer nie.
6 Daarop sê sy aan die koning: Die woord was waarheid wat ek in my land gehoor
het oor u en oor u wysheid;
7 en ek het die woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë gesien het; en
kyk, die helfte is my nie meegedeel nie. U oortref in wysheid en in welvaart die
gerug wat ek gehoor het.
8 Gelukkig is u manne, gelukkig hierdie dienaars van u wat gedurig voor u staan,
wat u wysheid hoor.
9 Geloofd sy die HERE u God wat behae in u gehad het om u op die troon van
Israel te laat sit! Omdat die HERE Israel vir ewig liefhet, het Hy u as koning
aangestel om reg en geregtigheid te doen.
10 Verder het sy aan die koning honderd en twintig talente goud en 'n groot
menigte speserye en edelgesteentes gegee; daar het nooit weer so 'n menigte
speserye ingekom as wat die koningin van Skeba aan koning Salomo gegee het nie.
11 Maar ook die skepe van Hiram wat goud uit Ofir gaan haal het, het uit Ofir 'n
groot menigte sandelhout en edelgesteentes gebring.
12 En van die sandelhout het die koning trapleunings gemaak vir die huis van die
HERE en die huis van die koning, en siters en harpe vir die sangers; so het daar
geen sandelhout ingekom en is daar nie gesien tot vandag toe nie.
13 En koning Salomo het aan die koningin van Skeba al haar begeerte gegee wat sy
gevra het, bo wat hy haar na die vermoë van koning Salomo gegee het. Daarop het
sy omgedraai en na haar land getrek, sy en haar dienaars.
14 En die gewig van Salomo se inkomste aan goud in een jaar was ses honderd ses
en sestig talente goud,
15 behalwe wat ingekom het van die koopmans wat rondtrek, en van die wins van
die handelaars en van al die konings van die gemengde bevolking en van die
goewerneurs van die land.
16 En koning Salomo het twee honderd groot skilde van geslae goud gemaak; ses
honderd sikkels goud het hy op elke groot skild gebruik;
17 en drie honderd klein skilde van geslae goud; drie mines goud het hy op elke
klein skild gebruik, en die koning het dit in die huis van die Líbanon-bos
gesit.
18 Verder het die koning 'n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud
oorgetrek.
19 Die troon het ses trappe gehad, en die kopstuk van die troon was van agter
rond, en aan weerskante was trapleunings by die sitplek, terwyl twee leeus langs
die leunings staan.
20 Daarby het twaalf leeus daar op die ses trappe aan weerskante gestaan; so
iets is nooit vir enige koninkryk gemaak nie.
21 En die hele drinkservies van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe
van die huis van die Líbanon-bos van fyn goud; silwer was daar nie by nie: dit
is in die dae van Salomo as niks gereken nie.
22 Want die koning het Tarsis-skepe op die see gehad by die skepe van Hiram; een
maal in drie jaar het die Tarsis-skepe ingekom, gelaai met goud en silwer, ivoor
en ape en poue.
23 So het koning Salomo dan groter geword as al die konings van die aarde, in
rykdom en wysheid.
24 En die hele wêreld het die aangesig van Salomo gesoek om sy wysheid te hoor
wat God in sy hart gegee het,
25 terwyl elkeen van hulle sy geskenk saambring: silwervoorwerpe en goue
voorwerpe en klere en wapens en speserye, perde en muile, jaar vir jaar.
26 Verder het Salomo strydwaens en perderuiters versamel, sodat hy veertien
honderd waens en twaalf duisend perderuiters gehad het; en hy het dit in die
stede vir die waens en by die koning in Jerusalem opgestel.
27 Verder het die koning die silwer in Jerusalem gemaak soos klippe en die
seders gemaak soos wildevyebome wat in die Laeveld is, in menigte.
28 En die uitvoer van perde vir Salomo was uit Egipte en uit Kwé; handelaars van
die koning het dit uit Kwé gaan haal teen koopprys.
29 En 'n wa het uit Egipte opgekom, en dit is verkoop vir ses honderd sikkels
silwer, en 'n perd vir honderd en vyftig; en so is dit vir al die konings van
die Hetiete en vir die konings van Aram deur hulle uitgevoer.
11
1 En koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad; en wel behalwe die dogter
van Farao, Moabitiese, Ammonitiese, Edomitiese, Sidoniese, Hetitiese--
2 uit die nasies waarvan die HERE aan die kinders van Israel gesê het: Julle mag
nie met hulle meng nie, en hulle mag nie met julle meng nie; hulle sal voorwaar
julle hart verlei agter hulle gode aan--Salomo het hulle met liefde aangehang.
3 En hy het sewe honderd vroue, vorstinne, gehad, en drie honderd byvroue, sodat
sy vroue sy hart verlei het.
4 En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander
gode aan, sodat sy hart nie volkome met die HERE sy God was soos die hart van sy
vader Dawid nie.
5 En Salomo het agter Astárte, die godin van die Sidoniërs, en agter Milkom, die
verfoeisel van die Ammoniete, aan geloop.
6 So het Salomo dan gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en nie
volgehou om die HERE te volg soos sy vader Dawid nie.
7 Toe het Salomo 'n hoogte gebou op die berg wat oostelik van Jerusalem lê, vir
Kamos, die verfoeisel van die Moabiete, en vir Molog, die verfoeisel van die
kinders van Ammon.
8 En so het hy gedoen vir al sy uitlandse vroue wat rook laat opgaan het en
geoffer het aan hulle gode.
9 Daarom was die HERE toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die HERE,
die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het,
10 en hom bevel gegee het omtrent hierdie saak om nie agter ander gode aan te
loop nie; maar hy het die bevel van die HERE nie gehou nie.
11 Daarom het die HERE vir Salomo gesê: Omdat dit so ver is met jou dat jy my
verbond en my insettinge wat Ek jou beveel het, nie hou nie, sal Ek verseker die
koningskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee.
12 Maar in jou dae sal Ek dit nie doen nie ter wille van jou vader Dawid; uit
die hand van jou seun sal Ek dit afskeur.
13 Maar Ek sal nie die hele koningskap afskeur nie; een stam sal Ek aan jou seun
gee ter wille van my kneg Dawid en ter wille van Jerusalem wat Ek verkies het.
14 En die HERE het vir Salomo as teëstander verwek Hadad, die Edomiet; hy was
van die koninklike familie in Edom.
15 Toe Dawid dan met Edom besig was, en Joab, die leërowerste, opgetrek het om
die gesneuweldes te begrawe, het hy al wat manlik was, in Edom doodgeslaan--
16 want ses maande lank het Joab daar gebly met die hele Israel totdat al die
manlike persone in Edom deur hom uitgeroei was--
17 maar Hadad het ontvlug, hy en saam met hom Edomitiese manne uit die dienaars
van sy vader, om na Egipte te gaan; en Hadad was 'n jong seun.
18 En hulle het uit Mídian weggetrek en in Paran aangekom, en uit Paran manne
met hulle saamgeneem en in Egipte aangekom by Farao, die koning van Egipte, wat
hom 'n huis gegee en aan hom voedsel toegesê en hom grond gegee het.
19 En Hadad het groot guns gevind in die oë van Farao, sodat dié aan hom sy vrou
se suster, die suster van Tágpenes, die gebiedster, as vrou gegee het.
20 En die suster van Tágpenes het vir hom sy seun Genúbat gebaar, maar Tágpenes
het hom in die huis van Farao gespeen, sodat Genúbat in die huis van Farao was
onder die kinders van Farao.
21 Maar toe Hadad in Egipte hoor dat Dawid met sy vaders ontslaap het en Joab,
die leërowerste, dood was, sê Hadad vir Farao: Laat my gaan, dat ek na my land
kan trek.
22 Daarop sê Farao vir hom: Maar wat ontbreek jou by my, dat jy meteens begeer
om na jou land te trek? En hy antwoord: Niks nie, maar laat my tog maar gaan.
23 God het ook as teëstander vir hom verwek Reson, die seun van Éljada, 'n
vlugteling van sy heer Hadadéser, die koning van Soba.
24 In die tyd toe Dawid hulle gedood het, het hy manne om hom versamel, sodat hy
owerste van 'n bende was; en hulle het na Damaskus getrek en daarin gewoon en in
Damaskus geregeer.
25 En hy was 'n teëstander van Israel al die dae van Salomo--en dit nog by die
kwaad wat Hadad gedoen het--want hy het 'n afsku van Israel gehad, en hy het oor
Aram koning geword.
26 Ook Jeróbeam, die seun van Nebat, 'n Efraimiet uit Seréda--die naam van sy
moeder was Serúa, 'n weduwee--'n dienaar van Salomo, het sy hand opgehef teen
die koning.
27 En dit was die aanleiding dat hy die hand teen die koning opgehef het: Salomo
het Millo gebou en daardeur die skeur aan die stad van sy vader Dawid toegemaak.
28 En die man Jeróbeam was 'n dapper held. Toe Salomo sien dat die jongman 'n
bekwame arbeider was, het hy hom aangestel oor al die dwangarbeiders van die
huis van Josef.
29 Terwyl Jeróbeam in dié tyd uit Jerusalem uitgaan, kry die profeet Ahía, die
Siloniet, hom op die pad; en dié was bekleed met 'n nuwe mantel; en hulle twee
was alleen in die veld.
30 Toe gryp Ahía die nuwe mantel wat hy aangehad het, en skeur dit in twaalf
stukke,
31 en hy sê vir Jeróbeam: Neem vir jou tien stukke, want so spreek die HERE, die
God van Israel: Kyk, Ek gaan die koninkryk uit die hand van Salomo afskeur en
aan jou die tien stamme gee;
32 maar die een stam sal syne wees ter wille van my kneg Dawid en ter wille van
Jerusalem, die stad wat Ek verkies het uit al die stamme van Israel--
33 omdat hulle My verlaat en hul neergebuig het voor Astárte, die godin van die
Sidoniërs, voor Kamos, die god van die Moabiete, en voor Milkom, die god van die
kinders van Ammon, en nie gewandel het in my weë deur te doen wat reg is in my
oë, naamlik my insettinge en my verordeninge, soos sy vader Dawid nie.
34 Ek sal ewenwel die koningskap as geheel nie uit sy hand neem nie, maar Ek sal
hom as vors aanstel al die dae van sy lewe ter wille van my kneg Dawid wat Ek
verkies het, wat my gebooie en my insettinge gehou het.
35 Maar uit die hand van sy seun sal Ek die koningskap neem en dit aan jou gee,
die tien stamme;
36 en aan sy seun sal Ek een stam gee, sodat my kneg Dawid altyd 'n lamp kan hê
voor my aangesig in Jerusalem, die stad wat Ek vir My verkies het om my Naam
daar te vestig;
37 en Ek sal jou neem, en jy sal regeer oor alles wat jou siel begeer, en jy sal
koning word oor Israel.
38 En as jy luister na alles wat Ek jou beveel en wandel in my weë en doen wat
reg is in my oë deur my insettinge en my gebooie te hou, soos my kneg Dawid
gedoen het, dan sal Ek met jou wees en vir jou 'n bestendige huis stig, soos Ek
vir Dawid gestig het, en Israel aan jou gee.
39 Want Ek wil om hierdie rede die nageslag van Dawid verneder, maar nie vir
altyd nie.
40 En Salomo het geprobeer om Jeróbeam om te bring; maar Jeróbeam het hom
klaargemaak en gevlug na Egipte, na Sisak, die koning van Egipte, en was in
Egipte tot die dood van Salomo.
41 En die verdere geskiedenis van Salomo en alles wat hy gedoen het, en sy
wysheid, is dit nie beskrywe in die Geskiedenisboek van Salomo nie?
42 En die dae wat Salomo in Jerusalem oor die hele Israel geregeer het, was
veertig jaar.
43 Daarna het Salomo met sy vaders ontslaap en is begrawe in die stad van sy
vader Dawid; en sy seun Rehábeam het in sy plek koning geword.
12
1 En Rehábeam het na Sigem gegaan, want die hele Israel het na Sigem gekom om
hom koning te maak.
2 En net toe Jeróbeam, die seun van Nebat, dit hoor--hy was nog in Egipte,
waarheen hy vir koning Salomo weggevlug het, en Jeróbeam was in Egipte
woonagtig,
3 en hulle het hom laat roep--kom Jeróbeam en die hele vergadering van Israel,
en hulle het Rehábeam toegespreek en gesê:
4 U vader het ons juk hard gemaak, maak u dan nou die harde diens van u vader en
sy swaar juk wat hy ons opgelê het, ligter; dan sal ons u dien.
5 En hy sê vir hulle: Gaan weg tot oor drie dae, kom dan terug na my toe. En die
volk het gegaan.
6 Daarop hou koning Rehábeam raad met die oudstes wat voor sy vader Salomo
gedurende sy lewe gestaan het, en hy vra: Wat raai u aan om hierdie volk te
antwoord?
7 En hulle spreek met hom en sê: As u vandag 'n dienaar van hierdie volk word en
hulle dien en hulle antwoord en met vriendelike woorde hulle toespreek, sal
hulle altyd u dienaars wees.
8 Maar hy het die raad van die oudstes wat hulle hom gegee het, in die wind
geslaan en raad gehou met die jongmanne wat saam met hom grootgeword en voor hom
gestaan het.
9 En hy vra hulle: Wat raai julle aan dat ons hierdie volk sal antwoord wat my
toegespreek en gesê het: Maak die juk wat u vader ons opgelê het, ligter?
10 En die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, antwoord hom en sê: Só
moet u hierdie volk antwoord wat met u gespreek en gesê het: U vader het ons juk
swaar gemaak, maar maak u dit ligter oor ons--só moet u hulle antwoord: My
pinkie is dikker as my vader se lendene.
11 Het my vader dan nou 'n swaar juk op julle gelaai--ék sal by julle juk nog
byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig--ék sal julle met gésels
tugtig.
12 Toe Jeróbeam en die hele volk dan by Rehábeam kom op die derde dag soos die
koning gespreek en gesê het: Kom na my terug op die derde dag--
13 het die koning die volk 'n harde antwoord gegee: hy het die raad wat hom deur
die oudstes gegee is, in die wind geslaan
14 en met hulle gespreek volgens die raad van die jongmanne en gesê: Het my
vader julle juk swaar gemaak--ék sal by julle juk nog byvoeg; het my vader julle
met die sweep getugtig--ék sal julle met gésels tugtig.
15 So het die koning dan nie na die volk geluister nie, want dit was 'n
beskikking van die HERE, sodat Hy sy woord sou vervul wat die HERE gespreek het
deur die diens van Ahía, die Siloniet, tot Jeróbeam, die seun van Nebat.
16 Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die
volk die koning geantwoord en gesê: Watter aandeel het ons aan Dawid? en daar is
geen erfdeel aan die seun van Isai nie! Na julle tente toe, Israel! Kyk nou na
jou eie huis, Dawid! Daarop het Israel na sy tente gegaan.
17 Maar oor die kinders van Israel wat in die stede van Juda gewoon het, oor
hulle was Rehábeam koning.
18 Toe stuur koning Rehábeam Adóram wat oor die dwangarbeid was, maar die hele
Israel het hom gestenig, sodat hy gesterf het; en koning Rehábeam het hom tot
die uiterste toe geweer om op 'n wa te klim, om na Jerusalem te vlug.
19 So het die Israeliete dan van die huis van Dawid afvallig geword tot vandag
toe.
20 Sodra die hele Israel gehoor het dat Jeróbeam terug was, het hulle hom na die
vergadering laat roep en hom oor die hele Israel koning gemaak; niemand het die
huis van Dawid gevolg nie, behalwe die stam van Juda alleen.
21 En toe Rehábeam in Jerusalem kom, het hy die hele huis van Juda en die stam
van Benjamin, honderd en tagtig duisend strydbare jong manskappe, vergader om
oorlog te voer teen die huis van Israel, om die koningskap vir Rehábeam, die
seun van Salomo, terug te win.
22 Maar die woord van God het tot Semája, die man van God, gekom en gesê:
23 Spreek met Rehábeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en met die
hele huis van Juda en Benjamin en die orige deel van die volk en sê:
24 So spreek die HERE: Julle mag nie optrek en teen julle broers, die kinders
van Israel, oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis; want van My
het hierdie saak gekom. Hulle het toe geluister na die woord van die HERE en
weer teruggetrek volgens die woord van die HERE.
25 En Jeróbeam het Sigem op die gebergte van Efraim gebou en daarin gewoon, en
daarvandaan uitgetrek en Pnuel gebou.
26 En Jeróbeam het in sy hart gesê: Nou sal die koningskap na die huis van Dawid
terugkeer:
27 as hierdie volk opgaan om offers te bring in die huis van die HERE in
Jerusalem, dan sal die hart van hierdie volk terugkeer na hulle heer, na
Rehábeam, die koning van Juda, en hulle sal my om die lewe bring en teruggaan na
Rehábeam, die koning van Juda.
28 Daarom het die koning raad gehou en twee goue kalwers gemaak en aan hulle
gesê: Julle het lank genoeg opgegaan na Jerusalem--hier is, o Israel, jou gode
wat jou uit Egipteland laat optrek het!
29 En die een het hy in Bet-el opgerig en die ander in Dan opgestel.
30 En hierdie saak het tot sonde geword; ja, die volk het voor die een gaan
aanbid tot by Dan.
31 Hy het ook tempels van die hoogtes gebou en priesters aangestel uit al die
dele van die volk wat nie uit die seuns van Levi was nie.
32 En Jeróbeam het 'n fees gehou in die agtste maand, op die vyftiende dag van
die maand, soos die fees wat in Juda was, en op die altaar geklim. So het hy in
Bet-el gedoen en geoffer aan die kalwers wat hy gemaak het, en ook in Bet-el
priesters aangestel vir die hoogtes wat hy gemaak het.
33 En hy het geklim op die altaar wat hy in Bet-el gemaak het, op die vyftiende
dag in die agtste maand, in die maand wat hy uit sy eie hart versin het, en vir
die kinders van Israel 'n fees ingestel en op die altaar geklim om offerrook te
laat opgaan.
13
1 Toe kom daar 'n man van God uit Juda deur die woord van die HERE in Bet-el
aan, terwyl Jeróbeam op die altaar staan om offerrook te laat opgaan;
2 en hy het uitgeroep teen die altaar deur die woord van die HERE en gesê:
Altaar, altaar, so spreek die HERE: Kyk, 'n seun sal gebore word vir die huis
van Dawid met die naam van Josía, en hy sal op jou slag die priesters van die
hoogtes wat op jou offerrook laat opgaan, en op jou sal mensbene verbrand word.
3 En hy het dieselfde dag 'n wonderteken aangekondig en gesê: Dit is die
wonderteken dát die HERE gespreek het: Kyk, die altaar sal uitmekaarskeur en die
as wat daarop is, afgegooi word.
4 En net toe die koning die woord van die man van God hoor wat hy teen die
altaar in Bet-el uitgeroep het, steek Jeróbeam sy hand uit bo van die altaar af
en sê: Gryp hom! Maar sy hand wat hy teen hom uitgesteek het, het styf geword,
sodat hy dit nie weer kon terugtrek nie.
5 En die altaar is uitmekaargeskeur, en die as is van die altaar afgegooi
volgens die wonderteken wat die man van God aangekondig het deur die woord van
die HERE.
6 Toe begin die koning om aan die man van God te sê: Smeek tog die aangesig van
die HERE jou God om genade en bid vir my, dat my hand tot my terugkeer. En die
man van God het die aangesig van die HERE om genade gesmeek, sodat die hand van
die koning tot hom teruggekeer het en dit soos tevore was.
7 Daarop sê die koning aan die man van God: Kom met my saam huis toe en versterk
jou, en laat ek jou 'n geskenk gee.
8 Maar die man van God sê vir die koning: Al gee u my die helfte van u huis, ek
kan nie met u saamgaan nie, en ek kan geen brood eet of water drink in hierdie
plek nie.
9 Want so het die HERE my bevel gegee deur sy woord en gesê: Jy mag geen brood
eet of water drink nie, en jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan
het nie.
10 Hy het toe met 'n ander pad gegaan en nie teruggekeer met die pad waarmee hy
na Bet-el gekom het nie.
11 En daar het 'n sekere ou profeet in Bet-el gewoon; en sy seuns het gekom en
hom alles vertel wat die man van God dié dag in Bet-el gedoen het; ook die
woorde wat hy met die koning gespreek het. En toe hulle dit aan hul vader
vertel,
12 sê hul vader vir hulle: Met watter pad het hy gegaan? Want sy seuns het die
pad gesien waarmee die man van God weer weg is wat uit Juda gekom het.
13 Toe sê hy aan sy seuns: Saal vir my die esel op. En hulle het vir hom die
esel opgesaal, en hy het daarop gery.
14 En hy het agter die man van God aan gegaan en hom aangetref terwyl hy onder
die terpentynboom sit; en hy sê vir hom: Is jy die man van God wat uit Juda
gekom het? En hy antwoord: Ja.
15 Toe sê hy vir hom: Gaan met my saam huis toe en eet brood.
16 Maar hy antwoord: Ek kan nie met jou saam omdraai of met jou saam ingaan nie;
ek mag ook nie brood eet of met jou saam water in hierdie plek drink nie;
17 want aan my is gesê deur die woord van die HERE: Jy mag daar geen brood eet
of water drink nie; jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.
18 Maar hy sê vir hom: Ek is ook 'n profeet net soos jy, en 'n engel het met my
gespreek deur die woord van die HERE en gesê: Bring hom terug saam met jou na
jou huis, dat hy brood kan eet en water kan drink. Hy het vir hom gelieg.
19 Toe het hy met hom saam omgedraai en in sy huis brood geëet en water gedrink.
20 Maar terwyl hulle aan tafel sit, kom die woord van die HERE tot die profeet
wat hom laat omdraai het;
21 en hy het die man van God wat uit Juda gekom het, toegeroep en gesê: So
spreek die HERE: Omdat jy wederstrewig was teen die mond van die HERE deur nie
die gebod te hou wat die HERE jou God jou beveel het nie,
22 maar omgedraai en brood geëet en water gedrink het in die plek waarvan Hy aan
jou gesê het: Jy moet geen brood eet of water drink nie--daarom sal jou lyk nie
in die graf van jou vaders kom nie.
23 Nadat hy dan geëet en gedrink het, saal hy vir hom die esel op--vir die
profeet wat hy laat omdraai het--
24 en hy gaan weg; toe kom 'n leeu hom teë op die pad en maak hom dood. En sy
lyk het neergewerp op die pad bly lê, terwyl die esel daarlangs staan en die
leeu ook langs die lyk bly staan.
25 Intussen kom daar manne verby wat die lyk op die pad sien lê, terwyl die leeu
langs die lyk staan; en hulle het dit kom sê in die stad waar die ou profeet
woon.
26 Toe die profeet wat hom van die pad af laat omdraai het, dit hoor, sê hy: Dit
is die man van God wat teen die mond van die HERE wederstrewig was; daarom het
die HERE hom aan die leeu oorgegee wat hom verskeur en hom gedood het volgens
die woord van die HERE wat Hy met hom gespreek het.
27 Daarop praat hy met sy seuns en sê: Saal vir my die esel op. En hulle het
opgesaal.
28 Toe gaan hy weg en vind sy lyk neergewerp op die pad, terwyl die esel en die
leeu langs die lyk staan; die leeu het die lyk nie geëet en die esel nie
verskeur nie.
29 Daarna het die profeet die lyk van die man van God opgetel en dit op die esel
gesit en dit teruggebring en in die stad van die ou profeet gekom om te rouklaag
en hom te begrawe.
30 En hy het sy lyk in sy graf neergelê, en hulle het oor hom gerouklaag: Ag, my
broer!
31 En nadat hy hom begrawe het, sê hy aan sy seuns: As ek sterwe, dan moet julle
my begrawe in die graf waar die man van God in begrawe is; lê my bene langs sy
bene neer.
32 Want die woord sal sekerlik uitkom wat hy deur die woord van die HERE
uitgeroep het teen die altaar wat in Bet-el is, en teen al die tempels van die
hoogtes wat in die stede van Samaría is.
33 Ná hierdie gebeurtenis het Jeróbeam nie van sy verkeerde weg teruggekom nie,
maar weer priesters van die hoogtes aangestel uit al die dele van die volk.
Elkeen wat wou, dié het hy aangestel, dat hy een van die priesters van die
hoogtes kon word.
34 En hierdeur was daar sonde vir die huis van Jeróbeam, en wel om dit te
verdelg en uit te roei van die aarde af.
14
1 In dieselfde tyd het Abía, die seun van Jeróbeam, siek geword.
2 En Jeróbeam het vir sy vrou gesê: Maak jou tog gereed en trek ander klere aan,
sodat hulle nie kan merk dat jy die vrou van Jeróbeam is nie, en gaan na Silo;
kyk, daar is die profeet Ahía wat van my gesê het dat ek koning oor hierdie volk
sou word.
3 En neem met jou saam tien brode en koeke en 'n kruik met heuning, en gaan na
hom toe; hy sal jou te kenne gee wat met die seun sal gebeur.
4 En die vrou van Jeróbeam het so gedoen--haar gereedgemaak en na Silo gegaan en
in die huis van Ahía gekom; en Ahía kon nie sien nie, want sy oë was styf vanweë
sy ouderdom.
5 Maar die HERE het vir Ahía gesê: Kyk, die vrou van Jeróbeam kom om jou te
raadpleeg oor haar seun, want hy is siek; so en so moet jy vir haar sê. En toe
sy inkom, terwyl sy haar as 'n vreemde aanstel,
6 en Ahía die geluid van haar voete hoor toe sy by die deur inkom, sê hy: Kom
in, vrou van Jeróbeam! Waarom stel jy jou so vreemd aan? Aan my is 'n harde
boodskap aan jou toevertrou.
7 Gaan sê vir Jeróbeam: So spreek die HERE, die God van Israel: Omdat Ek jou
onder die volk uit verhef het en jou as 'n vors oor my volk Israel aangestel het
8 en die koningskap van die huis van Dawid afgeskeur en dit aan jou gegee het,
maar jy nie soos my kneg Dawid was wat my gebooie gehou en My met sy hele hart
nagevolg het om net te doen wat reg is in my oë nie,
9 maar jy meer kwaad gedoen het as al jou voorgangers en vir jou ander gode en
gegote beelde gaan maak het om My te terg en My agter jou rug gewerp het--
10 kyk, daarom bring Ek onheil oor die huis van Jeróbeam en sal van Jeróbeam
uitroei al wat manlik is in Israel, sonder uitsondering; en Ek sal die huis van
Jeróbeam skoon wegvee soos 'n mens drek wegvee totdat daar niks van oor is nie.
11 Die een wat van Jeróbeam in die stad sterwe, hom sal die honde eet; en wat in
die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet, want die HERE het dit
gespreek.
12 Maak jou dan klaar, gaan na jou huis; as jou voete die stad inkom, sal die
kind sterwe.
13 En die hele Israel sal hom beklaag en hom begrawe, want hy alleen van
Jeróbeam sal in 'n graf kom, omdat in hom iets goeds voor die HERE, die God van
Israel, te vinde was in die huis van Jeróbeam.
14 Maar die HERE sal vir Hom 'n koning oor Israel verwek wat die huis van
Jeróbeam dié dag sal uitroei; ja, wat sê ek? Nou al.
15 En die HERE sal Israel slaan, soos 'n riet in die water heen en weer beweeg,
en sal Israel uitruk uit hierdie goeie land wat Hy aan hulle vaders gegee het,
en hulle anderkant die Eufraat verstrooi, omdat hulle hul heilige boomstamme
gemaak en die HERE geterg het.
16 En Hy sal Israel oorgee vanweë die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het en
waarmee hy Israel laat sondig het.
17 Toe het die vrou van Jeróbeam haar klaargemaak en weggegaan en in Tirsa
aangekom. Net toe sy op die drumpel van die huis kom, het die seun gesterwe.
18 En hulle het hom begrawe, en die hele Israel het hom beklaag volgens die
woord van die HERE wat Hy gespreek het deur die diens van sy kneg, die profeet
Ahía.
19 En die verdere geskiedenis van Jeróbeam, hoe hy oorlog gevoer en hoe hy
geregeer het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van
Israel.
20 En die dae wat Jeróbeam geregeer het, was twee en twintig jaar; en hy het
ontslaap met sy vaders, en sy seun Nadab het in sy plek koning geword.
21 En Rehábeam, die seun van Salomo, was koning in Juda; een en veertig jaar was
Rehábeam oud toe hy koning geword het, en sewentien jaar het hy geregeer in
Jerusalem, die stad wat die HERE verkies het uit al die stamme van Israel om sy
Naam daar te vestig. En die naam van sy moeder was Naäma, die Ammonitiese.
22 En Juda het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en sy ywer
opgewek, meer as al die dade van hulle vaders, deur hul sondes wat hulle gedoen
het.
23 En hulle het ook vir hulle hoogtes gebou en klippilare en heilige boomstamme
op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.
24 En daar was ook skandseuns in die land; hulle het gehandel volgens al die
gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdrywe
het.
25 In die vyfde jaar van koning Rehábeam trek Sisak, die koning van Egipte, toe
teen Jerusalem op,
26 en hy neem die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die huis
van die koning weg; ja, hy het alles weggeneem; ook al die goue skilde wat
Salomo gemaak het, het hy weggeneem.
27 Daarop maak koning Rehábeam in die plek daarvan koperskilde, en hy het dit
aan die owerstes van die hardlopers toevertrou wat die deur van die koning se
huis bewaak het.
28 So dikwels as die koning in die huis van die HERE ingaan, dra die hardlopers
dit en bring dit weer terug in die wagkamer van die hardlopers.
29 En die verdere geskiedenis van Rehábeam en alles wat hy gedoen het, is dit
nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?
30 En daar was gedurigdeur oorlog tussen Rehábeam en Jeróbeam.
31 En Rehábeam het ontslaap met sy vaders en is begrawe by sy vaders in die stad
van Dawid; en die naam van sy moeder was Naäma, die Ammonitiese; en sy seun Abía
het in sy plek koning geword.
15
1 En in die agttiende jaar van koning Jeróbeam, die seun van Nebat, het Abía oor
Juda koning geword.
2 Hy het drie jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Máäga,
die dogter van Abísalom.
3 En hy het gewandel in al die sondes van sy vader wat hy voor hom gedoen het;
en sy hart was nie volkome met die HERE sy God soos die hart van sy vader Dawid
nie.
4 Maar ter wille van Dawid het die HERE sy God vir hom 'n lamp in Jerusalem
gegee deur sy seun ná hom te verwek en Jerusalem in stand te hou,
5 omdat Dawid gedoen het wat reg was in die oë van die HERE, sonder om af te wyk
van alles wat Hy hom beveel het, al die dae van sy lewe, behalwe in die saak van
Uría, die Hetiet.
6 En daar was oorlog tussen Rehábeam en Jeróbeam, al die dae van sy lewe.
7 En die verdere geskiedenis van Abía en alles wat hy gedoen het, is dit nie
beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? Daar was ook oorlog
tussen Abía en Jeróbeam.
8 En Abía het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe in die stad van Dawid; en
sy seun Asa het in sy plek koning geword.
9 In die twintigste jaar dan van Jeróbeam, die koning van Israel, het Asa koning
van Juda geword.
10 En hy het een en veertig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy
moeder was Máäga, 'n dogter van Abísalom.
11 En Asa het gedoen wat reg was in die oë van die HERE net soos sy vader Dawid:
12 hy het die skandseuns uit die land laat wegtrek en al die drekgode verwyder
wat sy vaders gemaak het.
13 Ja, selfs sy moeder Máäga het hy as gebiedster afgesit, omdat sy 'n
afgryslike voorwerp vir Asjéra gemaak het; en Asa het die afgryslike voorwerp
omgekap en in die dal Kidron verbrand.
14 Die hoogtes is wel nie afgeskaf nie, maar Asa se hart was volkome met die
HERE al sy dae.
15 En hy het die heilige gawes van sy vader en sy heilige gawes in die huis van
die HERE gebring: silwer en goud en allerhande voorwerpe.
16 En daar was oorlog tussen Asa en Baésa, die koning van Israel, al hulle dae.
17 En Baésa, die koning van Israel, het teen Juda opgetrek en Rama gebou om
niemand van Asa, die koning van Juda, te laat uit-- of ingaan nie.
18 Toe neem Asa al die silwer en die goud wat oorgebly het in die skatkamers van
die huis van die HERE en die skatte van die huis van die koning, en gee dit in
die hand van sy dienaars; en koning Asa het hulle gestuur na Bénhadad, die seun
van Tabrímmon, die seun van Hésjon, die koning van Aram wat in Damaskus gewoon
het, om te sê:
19 Daar is 'n verbond tussen my en u, tussen my vader en u vader; kyk, ek stuur
'n geskenk van silwer en goud; gaan verbreek u verbond met Baésa, die koning van
Israel, dat hy kan optrek, weg van my af.
20 En Bénhadad het geluister na koning Asa en die owerstes van sy leërmagte teen
die stede van Israel gestuur, en Ijon en Dan en Abel-Bet-Máäga en die hele
Kínnerot met die hele land Náftali verwoes.
21 En net toe Baésa dit hoor, het hy opgehou om Rama te bou en in Tirsa gebly.
22 Toe roep koning Asa die hele Juda op--niemand was vry nie--en hulle het die
klippe en balke van Rama, waarmee Baésa gebou het, weggedra; en daarmee het
koning Asa Geba in Benjamin en Mispa gebou.
23 En die res van die verdere geskiedenis van Asa en al sy magtige dade en alles
wat hy gedoen het, en die stede wat hy gebou het, is dit nie beskrywe in die
Kroniekboek van die konings van Juda nie? Maar in die tyd van sy ouderdom het hy
aan sy voete gely.
24 En Asa het ontslaap met sy vaders en is by sy vaders begrawe in die stad van
sy vader Dawid; en sy seun Jósafat het in sy plek koning geword.
25 En Nadab, die seun van Jeróbeam, het koning geword oor Israel in die tweede
jaar van Asa, die koning van Juda, en hy het twee jaar oor Israel geregeer.
26 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en gewandel in die
weg van sy vader en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het.
27 Maar Baésa, die seun van Ahía, van die huis van Issaskar, het 'n sameswering
teen hom gesmee, en Baésa het hom verslaan by Gíbbeton wat aan die Filistyne
behoort, terwyl Nadab en die hele Israel besig was om Gíbbeton te beleër.
28 So het Baésa hom dan gedood in die derde jaar van Asa, die koning van Juda,
en koning geword in sy plek.
29 En sodra hy koning was, het hy die hele huis van Jeróbeam omgebring; hy het
van Jeróbeam niks laat oorbly wat asemhaal nie, totdat hy hom verdelg het,
volgens die woord van die HERE wat Hy gespreek het deur die diens van sy kneg
Ahía, die Siloniet--
30 vanweë die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen en waarmee hy Israel laat sondig
het, deur sy geterg waarmee hy die HERE, die God van Israel, geterg het.
31 En die verdere geskiedenis van Nadab en alles wat hy gedoen het, is dit nie
beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
32 En daar was oorlog tussen Asa en Baésa, die koning van Israel, al hulle dae.
33 In die derde jaar van Asa, die koning van Juda, het Baésa, die seun van Ahía,
oor die hele Israel koning geword in Tirsa, vier en twintig jaar lank.
34 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en gewandel in die
weg van Jeróbeam en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het.
16
1 Toe het die woord van die HERE gekom tot Jehu, die seun van Hanáni, teen
Baésa, en gesê:
2 Omdat Ek jou uit die stof opgehef en jou as 'n vors oor my volk Israel
aangestel het, maar jy in die weg van Jeróbeam gewandel en my volk Israel laat
sondig het, om My te terg deur hulle sondes,
3 daarom sal Ek Baésa en sy huis skoon wegvee, en Ek sal jou huis maak soos die
huis van Jeróbeam, die seun van Nebat.
4 Die een wat van Baésa in die stad sterwe, hom sal die honde eet, en wie van
hom in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet.
5 En die verdere geskiedenis van Baésa en wat hy gedoen het, en sy magtige dade,
is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
6 En Baésa het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe in Tirsa; en sy seun Ela
het in sy plek koning geword.
7 Ook het die woord van die HERE deur die diens van Jehu, die seun van Hanáni,
die profeet, gekom teen Baésa en teen sy huis, nie alleen oor al die kwaad wat
hy in die oë van die HERE gedoen het, deur Hom te terg met sy handewerk om soos
die huis van Jeróbeam te wees nie, maar ook omdat hy hom verslaan het.
8 In die ses en twintigste jaar van Asa, die koning van Juda, het Ela, die seun
van Baésa, oor Israel koning geword in Tirsa, twee jaar lank.
9 Maar sy dienaar Simri, die owerste oor die helfte van die strydwaens, het 'n
sameswering teen hom gesmee: terwyl hy hom dronk gedrink het in Tirsa, in die
huis van Arsa, wat oor die paleis in Tirsa was,
10 het Simri ingekom en hom verslaan en hom gedood in die sewe en twintigste
jaar van Asa, die koning van Juda, en hy het in sy plek koning geword.
11 En toe hy koning was, terwyl hy op die troon sit, het hy die hele huis van
Baésa verwoes; hy het vir hom niemand laat oorbly wat manlik is nie, ook nie sy
bloedwrekers en vriende nie.
12 So het Simri dan die hele huis van Baésa verdelg volgens die woord van die
HERE wat Hy gespreek het oor Baésa deur die diens van die profeet Jehu,
13 vanweë al die sondes van Baésa en die sondes van sy seun Ela wat hulle gedoen
het en waarmee hulle Israel laat sondig het, om die HERE, die God van Israel, te
terg met hulle nietige afgode.
14 En die verdere geskiedenis van Ela en alles wat hy gedoen het, is dit nie
beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
15 In die sewe en twintigste jaar van Asa, die koning van Juda, was Simri sewe
dae lank koning in Tirsa, terwyl die manskappe Gíbbeton beleër wat aan die
Filistyne behoort het.
16 En toe die manskappe wat beleër, hoor sê: Simri het 'n sameswering gesmee en
ook die koning doodgeslaan, het die hele Israel Omri, die leërowerste, koning
gemaak oor Israel, dieselfde dag in die laer.
17 En Omri het opgetrek en die hele Israel saam met hom van Gíbbeton af en Tirsa
beleër.
18 Net toe Simri sien dat die stad ingeneem is, het hy in die vesting van die
koning se huis ingegaan en die huis van die koning bo-op hom aan die brand
gesteek, sodat hy gesterf het,
19 vanweë sy sondes wat hy begaan het deur te doen wat verkeerd was in die oë
van die HERE, deur te wandel in die weg van Jeróbeam en in sy sonde wat hy
gedoen het om Israel te laat sondig.
20 En die verdere geskiedenis van Simri en sy sameswering wat hy gesmee het, is
dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
21 Toe is die volk van Israel verdeel in twee helftes: een helfte van die volk
het Tibni, die seun van Ginat, gevolg om hom koning te maak, en die ander helfte
het Omri gevolg.
22 Maar die volk wat Omri gevolg het, was te sterk vir die volk wat Tibni, die
seun van Ginat, gevolg het; en Tibni het gesterwe, en Omri het koning geword.
23 In die een en dertigste jaar van Asa, die koning van Juda, het Omri oor
Israel koning geword, twaalf jaar lank; in Tirsa was hy ses jaar koning.
24 En hy het die berg Samaría van Semer gekoop vir twee talente silwer en die
berg bebou en die stad wat hy gebou het, Samaría genoem na die naam van Semer,
die eienaar van die berg.
25 En Omri het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en meer kwaad
gedoen as al sy voorgangers.
26 Hy het naamlik gewandel in al die weë van Jeróbeam, die seun van Nebat, en in
sy sondes waarmee hy Israel laat sondig het, om die HERE, die God van Israel, te
terg met hulle nietige afgode.
27 En die verdere geskiedenis van Omri, wat hy gedoen het, en sy magtige dade
wat hy verrig het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van
Israel nie?
28 En Omri het ontslaap met sy vaders en is in Samaría begrawe; en sy seun Agab
het in sy plek koning geword.
29 En Agab, die seun van Omri, het oor Israel koning geword in die agt en
dertigste jaar van Asa, die koning van Juda; en Agab, die seun van Omri, het in
Samaría oor Israel twee en twintig jaar geregeer.
30 En Agab, die seun van Omri, het gedoen wat kwaad is in die oë van die HERE,
meer as al sy voorgangers.
31 En dit was nog die minste dat hy in die sondes van Jeróbeam, die seun van
Nebat, gewandel het: hy het Isébel, die dogter van Et-Baäl, die koning van die
Sidoniërs, as vrou geneem, en Baäl gaan dien en voor hom neergebuig,
32 en vir Baäl 'n altaar opgerig in die huis van Baäl wat hy in Samaría gebou
het.
33 Ook het Agab die heilige boomstam gemaak, en Agab het nog meer gedoen om die
HERE, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel, sy voorgangers.
34 In sy dae het Hiël, van Bet-el, Jérigo opgebou; ten koste van Abíram, sy
eersgeborene, het hy sy fondament gelê, en ten koste van Segub, sy jongste, sy
poorte opgerig, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Josua,
die seun van Nun, gespreek het.
17
1 En Elía, die Tisbiet, uit Tisbe in Gílead, het vir Agab gesê: So waar as die
HERE, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou
of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!
2 Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê:
3 Gaan hiervandaan weg en draai jou na die ooste toe en steek jou weg by die
spruit Krit wat oos van die Jordaan is;
4 en jy moet uit die spruit drink, en Ek het aan die kraaie bevel gegee om jou
daar te onderhou.
5 En hy het gegaan en gehandel volgens die woord van die HERE: hy het gaan bly
by die spruit Krit wat oos van die Jordaan is.
6 En die kraaie het vir hom smôrens brood en vleis gebring, en saans brood en
vleis, en hy het uit die spruit gedrink.
7 Maar ná verloop van tyd het die spruit opgedroog, want daar was geen reën in
die land nie.
8 Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê:
9 Maak jou klaar, gaan na Sarfat wat by Sidon is, en bly daar; kyk, daar het Ek
aan 'n weduwee bevel gegee om jou te onderhou.
10 Daarop het hy hom gereedgemaak en na Sarfat gegaan; en toe hy by die ingang
van die stad kom, was 'n weduwee juis besig om daar houtjies bymekaar te maak.
En hy roep haar en sê: Gaan haal tog vir my 'n bietjie water in die kan, dat ek
kan drink.
11 Terwyl sy loop om dit te gaan haal, roep hy na haar en sê: Bring tog vir my
'n stukkie brood saam.
12 Maar sy antwoord: So waar as die HERE u God leef, ek het nie 'n broodkoek
nie, net maar 'n handvol meel in die pot en 'n bietjie olie in die kruik; en
hier maak ek nou 'n paar houtjies bymekaar; dan gaan ek en maak dit vir my en my
seun klaar, dat ons dit kan eet en sterwe.
13 En Elía sê vir haar: Wees nie bevrees nie, gaan heen, doen volgens jou woord;
maar maak eers daarvan vir my 'n broodkoekie en bring dit uit vir my; daarna kan
jy vir jóu en jou seun iets klaarmaak.
14 Want so sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak
en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die HERE
reën op die aarde sal gee.
15 En sy het gegaan en gehandel volgens die woord van Elía; en sy het geëet--sy
en hy en haar gesin dae lank:
16 die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder
geword nie, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Elía
gespreek het.
17 Ná hierdie dinge het die seun van die vrou, die eienares van die huis, siek
geword; en sy siekte was baie ernstig, totdat daar geen asem meer in hom
oorgebly het nie.
18 Toe sê sy vir Elía: Wat het ek met u te doen, man van God! U het na my gekom
om my ongeregtigheid in gedagtenis te bring en my seun dood te maak!
19 Maar hy antwoord haar: Gee jou seun vir my. En hy het hom van haar skoot af
geneem en hom opgedra na die bo-kamer waar hy self gewoon het, en hom op sy bed
neergelê;
20 en hy het die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, het U selfs oor die
weduwee by wie ek as vreemdeling vertoef, 'n onheil gebring deur haar seun te
laat sterwe?
21 Daarop het hy hom drie maal uitgestrek oor die kind en die HERE aangeroep en
gesê: HERE my God, laat die siel van hierdie kind tog in hom terugkeer.
22 En die HERE het Elía verhoor; en die siel van die kind het in hom
teruggekeer, sodat hy weer lewendig geword het.
23 Daarop neem Elía die kind en bring hom af uit die bo-kamer in die huis en gee
hom aan sy moeder; en Elía sê: Kyk, jou seun lewe!
24 En die vrou sê vir Elía: Nou weet ek dit dat u 'n man van God is en dat die
woord van die HERE in u mond waarheid is.
18
1 En geruime tyd daarna het die woord van die HERE in die derde jaar tot Elía
gekom en gesê: Gaan heen, vertoon jou aan Agab, dan wil Ek reën gee op die
aarde.
2 En Elía het gegaan om hom aan Agab te vertoon. En die hongersnood was swaar in
Samaría.
3 Toe laat Agab Obádja, wat oor die paleis was, roep. En Obádja het die HERE
baie gevrees.
4 Want toe Isébel die profete van die HERE uitgeroei het, het Obádja honderd
profete geneem en hulle vyftig by vyftig man in 'n spelonk weggesteek en hulle
met brood en water onderhou.
5 En Agab het vir Obádja gesê: Trek deur die land na al die waterfonteine en na
al die spruite; miskien sal ons gras kry, sodat ons die perde en muile in die
lewe kan hou en van die vee nie hoef uit te roei nie.
6 En hulle het die land onder mekaar verdeel om dit deur te trek: Agab het
afsonderlik met een pad getrek, en Obádja het afsonderlik met 'n ander pad
getrek.
7 Terwyl Obádja op pad was, kom Elía hom meteens tegemoet; en toe hy hom herken,
val hy op sy aangesig en vra: Is dit u, my heer Elía?
8 En hy sê: Dit is ek; gaan sê aan jou heer: Elía is daar.
9 Maar hy vra: Wat het ek gesondig, dat u u dienaar oorgee in die hand van Agab
om my om die lewe te bring?
10 So waar as die HERE u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar my heer
nie heen gestuur het om u te soek nie; en as hulle sê: Hy is nie hier nie--dan
laat hy die koninkryk en die nasie sweer dat hulle u nie kon vind nie.
11 En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar!
12 As ek nou van u af weggaan en die Gees van die HERE u wegneem--ek weet nie
waarheen nie--en ek kom om Agab berig te bring en hy vind u nie, dan sal hy my
doodmaak; en u dienaar vrees die HERE van sy jeug af.
13 Is dit nie aan my heer meegedeel wat ek gedoen het toe Isébel die profete van
die HERE gedood het nie: dat ek van die profete van die HERE honderd man, vyftig
by vyftig, in 'n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou het?
14 En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar! dat hy my kan doodmaak!
15 Maar Elía sê: So waar as die HERE van die leërskare leef, voor wie se
aangesig ek staan, ek sal my verseker vandag aan hom vertoon!
16 En Obádja het Agab tegemoetgegaan en hom dit meegedeel; en Agab het Elía
tegemoetgegaan.
17 En net toe Agab Elía sien, vra Agab vir hom: Is dit jy, jou beroerder van
Israel?
18 Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie,
deurdat u die gebooie van die HERE verlaat het en agter die Baäls aan geloop
het.
19 Stuur dan nou, laat die hele Israel by my bymekaarkom op die berg Karmel, ook
die vier honderd en vyftig profete van Baäl en die vier honderd profete van
Asjéra wat aan die tafel van Isébel eet.
20 En Agab het gestuur onder al die kinders van Israel en die profete op die
berg Karmel bymekaar laat kom.
21 En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee
gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar
die volk het hom niks geantwoord nie.
22 Toe sê Elía vir die volk: Ek het alleen oorgebly as profeet van die HERE,
terwyl die profete van Baäl vier honderd en vyftig is.
23 Maar laat hulle vir ons twee bulle gee; dan kan hulle vir hul een bul uitkies
en dit in stukke verdeel en op die hout sit, maar sonder om vuur te maak; en ék
sal die ander bul gereedmaak en op die hout sit, maar ek sal geen vuur maak nie.
24 Roep julle dan die naam van julle god aan, en ék sal die Naam van die HERE
aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees. En die hele volk het
geantwoord en gesê: Die woord is goed.
25 Verder het Elía aan die profete van Baäl gesê: Kies vir julle een bul uit en
maak dit eerste gereed, want julle is die meeste; en roep die naam van julle god
aan, maar julle mag geen vuur maak nie.
26 En hulle het die bul wat hy hulle gegee het, geneem en dit gereedgemaak en
die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: o Baäl, gee ons
antwoord! Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En hulle het
rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het.
27 En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is
mos 'n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is
seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word.
28 En hulle het hard geroep en hulleself volgens hul gebruik met swaarde en
spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het.
29 En toe die middag verby was, het hulle begin raas tot op die tyd dat die
spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie, en
geen opmerksaamheid nie.
30 Toe sê Elía vir die hele volk: Kom nader na my. En die hele volk het nader
gekom na hom; en hy het die altaar van die HERE herstel wat afgebreek was.
31 Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se
kinders tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam
wees--
32 en hy bou met die klippe 'n altaar in die Naam van die HERE. Daarna het hy 'n
sloot gemaak rondom die altaar, 'n ruimte vir omtrent twee mate saad,
33 en die hout gerangskik en die bul in stukke verdeel en bo-op die hout gelê.
34 Toe sê hy: Maak vier kruike vol water en giet dit op die brandoffer en op die
hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede maal. En hulle het dit vir die tweede
maal gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde maal. En hulle het dit vir die
derde maal gedoen,
35 sodat die water rondom die altaar geloop het; en ook die sloot het hy vol
water gemaak.
36 En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom
en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat
U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen
het.
37 Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God
is, en dat U hulle hart tot U laat terugkeer.
38 Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en
die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek.
39 En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die
HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God!
40 Maar Elía sê vir hulle: Gryp die profete van Baäl! Laat niemand van hulle
vryraak nie! En hulle het hul gegryp; en Elía het hulle afgebring na die spruit
Kison en hulle daar geslag.
41 Toe sê Elía vir Agab: Trek op, eet en drink, want hoor, die gedruis van die
reën!
42 En Agab het opgetrek om te eet en te drink; maar Elía het op die top van die
Karmel geklim en hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë
gesteek.
43 Daarop sê hy vir sy dienaar: Klim tog op, kyk uit na die see. En hy het
opgeklim en uitgekyk en geroep: Daar is niks nie. Toe sê hy: Gaan weer--sewe
maal.
44 En die sewende maal roep hy: Daar gaan 'n wolkie soos 'n man se hand op uit
die see. Toe sê hy: Gaan op, sê vir Agab: Span in en trek af, dat die reën jou
nie terughou nie.
45 En in 'n oogwink was die hemel swart van wolke en wind, en 'n groot reën het
gekom; en Agab het op die wa geklim en weggetrek na Jísreël;
46 maar die hand van die HERE was oor Elía, sodat hy sy heupe omgord en voor
Agab uit geloop het in die rigting na Jísreël.
19
1 En Agab het aan Isébel meegedeel alles wat Elía gedoen het, ja, alles--hoe hy
al die profete met die swaard gedood het.
2 Daarop stuur Isébel 'n boodskapper na Elía om te sê: Mag die gode so doen en
so daaraan toedoen--sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel
van een van hulle.
3 Toe hy dit sien, het hy hom klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan. En
toe hy in Berséba in Juda aangekom het, het hy sy dienaar daar laat agterbly;
4 maar self het hy 'n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder 'n besembos
gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel
weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie.
5 Daarop gaan hy lê en raak onder 'n besembos aan die slaap; en kyk, daar raak
'n engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet!
6 Toe hy opkyk, was daar aan sy koppenent 'n broodkoek, op warm klippe gebak, en
'n kruik water. En hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.
7 En die engel van die HERE het weer vir die tweede maal gekom en hom aangeraak
en gesê: Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel.
8 Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel
veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb.
9 En hy het daar in 'n spelonk gegaan en die nag daar oorgebly. En kyk, die
woord van die HERE het tot hom gekom en vir hom gesê: Wat maak jy hier, Elía?
10 En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare;
want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u
profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my
lewe om dit weg te neem.
11 En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die HERE. En
kyk, die HERE het verbygegaan, terwyl 'n groot en sterk wind die berge skeur en
die rotse verbreek voor die HERE uit; in die wind was die HERE nie. En ná die
wind 'n aardbewing; in die aardbewing was die HERE nie.
12 En ná die aardbewing 'n vuur; in die vuur was die HERE nie. En ná die vuur
die gesuis van 'n sagte koelte.
13 En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan
en by die ingang van die spelonk gaan staan. En daar kom 'n stem na hom wat sê:
Wat maak jy hier, Elía?
14 En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare;
want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u
profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het; en hulle soek my
lewe om dit weg te neem.
15 Maar die HERE sê vir hom: Gaan terug op jou pad na die woestyn van Damaskus,
en gaan heen en salf Hásael as koning oor Aram.
16 En Jehu, die seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel; en Elísa, die
seun van Safat, uit Abel-Mehóla, moet jy salf as profeet in jou plek.
17 En die een wat van die swaard van Hásael vryraak, hom sal Jehu doodmaak; en
wat van die swaard van Jehu vryraak, hom sal Elísa doodmaak.
18 Maar Ek sal sewe duisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor
Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie.
19 Hy het toe daarvandaan weggegaan en Elísa, die seun van Safat, aangetref
terwyl hy aan ploeë was met twaalf paar osse voor hom en hy self by die twaalfde
paar was; en Elía het by hom verbygegaan en sy mantel op hom gewerp.
20 Daarop het hy die osse verlaat en agter Elía aan geloop en gesê: Laat ek tog
my vader en my moeder soen; daarna sal ek u volg. En hy antwoord hom: Gaan
terug, want wat het ek aan jou gedoen?
21 Hy draai toe agter hom om en neem die paar osse en slag dit; en met die osse
se trekgoed het hy hulle vleis gekook en aan die mense gegee, en hulle het
geëet; daarna het hy hom klaargemaak en Elía gevolg en hom gedien.
20
1 En Bénhadad, die koning van Aram, het sy hele leër versamel--twee en dertig
konings was saam met hom, met perde en strydwaens--en opgetrek en Samaría beleër
en daarteen geveg.
2 Ook het hy boodskappers na Agab, die koning van Israel, gestuur in die stad
3 en hom laat weet: So sê Bénhadad: U silwer en u goud, dit is myne; en u
mooiste vroue en kinders, hulle is myne.
4 Toe antwoord die koning van Israel en sê: Volgens u woord, my heer die koning,
ek is uwe met alles wat ek het!
5 Daarop kom die boodskappers weer en sê: So spreek Bénhadad: Ek het u wel laat
weet: U silwer en u goud en u vroue en u kinders moet u aan my gee.
6 Maar môre sulke tyd sal ek my dienaars na u stuur, dat hulle u huis en die
huise van u dienaars deursoek; en hulle sal alles wat begeerlik is in u oë, in
hulle hand lê en wegneem.
7 Toe roep die koning van Israel al die oudstes van die land en sê: Let tog op
en kyk hoe die man moeilikheid soek, want hy het na my gestuur om my vroue en my
kinders en my silwer en my goud te laat haal, en ek het dit hom nie geweier nie.
8 Maar al die oudstes en die hele volk antwoord hom: Luister nie, en u mag nie
inwillig nie.
9 Daarom het hy aan die boodskappers van Bénhadad gesê: Sê aan my heer die
koning: Alles wat u die eerste keer u dienaar laat weet het, sal ek doen; maar
hierdie ding kan ek nie doen nie. En die boodskappers het weggegaan en hom
antwoord gebring.
10 Daarop laat Bénhadad hom weet: Mag die gode so aan my doen en so daaraan
toedoen--die puin van Samaría is nie genoeg vir die holle hande van al die
manskappe wat my voetstappe volg nie!
11 Maar die koning van Israel het dit geantwoord: Sê vir hom: Die een wat hom
vasgord, moet hom nie beroem soos die een wat hom losgord nie.
12 En toe hy hierdie woord hoor, terwyl hy besig was om te drink, hy en die
konings in die tente, sê hy aan sy dienaars: Gooi walle op! En hulle het walle
opgegooi teen die stad.
13 Opeens kom daar 'n profeet na Agab, die koning van Israel, en sê: So spreek
die HERE: Het jy hierdie hele groot menigte gesien? Kyk, Ek gee hulle vandag in
jou hand, dat jy kan weet dat Ek die HERE is.
14 En Agab sê: Deur wie? En hy antwoord: So spreek die HERE: Deur die jongmanne
van die owerstes van die provinsies. En hy sê: Wie moet die geveg begin? En hy
antwoord: U.
15 Toe tel hy die jongmanne van die owerstes van die provinsies, en hulle was
twee honderd twee en dertig; en ná hulle tel hy al die manskappe, al die kinders
van Israel: sewe duisend.
16 En hulle het op die middag uitgetrek terwyl Bénhadad hom dronk gedrink het in
die tente, hy en die konings, die twee en dertig konings wat sy bondgenote was.
17 En die jongmanne van die owerstes van die provinsies het eerste uitgetrek.
Maar Bénhadad het uitgestuur, en hulle het hom berig gebring en gesê: Uit
Samaría het manne uitgetrek.
18 En hy sê: As hulle vir vrede uitgetrek het, gryp hulle lewendig; en as hulle
vir oorlog uitgetrek het, gryp hulle lewendig.
19 Daarop trek die jongmanne van die owerstes van die provinsies uit die stad
uit en die leër agter hulle aan;
20 en hulle verslaan elkeen sy man, sodat die Arameërs gevlug en Israel hulle
agtervolg het. Maar Bénhadad, die koning van Aram, het vrygekom op 'n perd met
perderuiters saam.
21 En die koning van Israel het uitgetrek en perde en strydwaens verslaan, sodat
hy 'n groot slag onder die Arameërs geslaan het.
22 Toe kom die profeet na die koning van Israel en sê vir hom: Gaan, wees sterk;
en ondersoek en kyk wat u moet doen; want ná verloop van 'n jaar sal die koning
van Aram teen u optrek.
23 Want die dienaars van die koning van Aram het vir hom gesê: Hulle gode is
berggode; daarom was hulle vir ons te sterk; maar as ons met hulle op die vlakte
veg, sal ons sekerlik sterker wees as hulle.
24 Daarom, doen hierdie ding: Verwyder die konings, elkeen uit sy plek, en stel
goewerneurs aan in hulle plek.
25 En werf self vir u 'n leër soos die leër wat u verloor het, en perde soos dié
perde, en strydwaens soos dié waens; en laat ons teen hulle in die vlakte veg;
dan sal ons sekerlik sterker wees as hulle. En hy het na hulle geluister en so
gedoen.
26 En ná verloop van 'n jaar het Bénhadad die Arameërs gemonster en opgetrek na
Afek om teen Israel te veg.
27 Die kinders van Israel is ook gemonster en van lewensmiddele voorsien, en het
hulle tegemoetgetrek; en die kinders van Israel het teenoor hulle laer opgeslaan
soos twee klompies bokke, terwyl die land vol Arameërs was.
28 Toe kom die man van God nader en sê aan die koning van Israel: So spreek die
HERE: Omdat die Arameërs gesê het: Die HERE is 'n god van die berge, en Hy is
nie 'n god van die laagtes nie--daarom sal Ek hierdie hele groot menigte in jou
hand gee, dat julle kan weet dat Ek die HERE is.
29 En hulle was sewe dae lank teenoor mekaar gelaer; maar op die sewende dag het
die geveg begin, en die kinders van Israel het van die Arameërs honderd duisend
voetgangers op een dag verslaan.
30 En die wat oor was, het na Afek, na die stad gevlug, en die muur het op die
sewe en twintig duisend man geval wat oor was. Bénhadad, wat ook die stad
ingegaan het, het van kamer tot kamer gevlug.
31 Toe sê sy dienaars vir hom: Kyk tog, ons het gehoor dat die konings van die
huis van Israel genadige konings is; laat ons tog rouklere om ons heupe bind en
bande om ons hoofde en uitgaan na die koning van Israel; moontlik sal hy u in
die lewe behou.
32 Toe het hulle rouklere om hul heupe vasgegord en bande om hul hoofde en na
die koning van Israel gekom en gesê: U dienaar Bénhadad sê: Laat my tog lewe! En
hy antwoord: Lewe hy dan nog? Hy is my broer.
33 En die manne het hulle dit dadelik toegeëien as 'n gunstige voorteken van sy
kant en gesê: Bénhadad is u broer! Daarop sê hy: Gaan haal hom. En Bénhadad het
uitgekom na hom, en hy het hom op die wa laat klim.
34 En Bénhadad sê vir hom: Die stede wat my vader van u vader afgeneem het, sal
ek teruggee, en u kan vir u winkelstrate aanlê in Damaskus soos my vader in
Samaría aangelê het. En ek, sê Agab, sal u op hierdie verbond laat gaan. Hy het
toe 'n verbond met hom gesluit en hom laat gaan.
35 Daarna het 'n sekere man uit die profete-seuns deur die woord van die HERE
aan sy maat gesê: Slaan my tog! Maar die man het geweier om hom te slaan.
36 Toe sê hy vir hom: Omdat jy nie na die stem van die HERE geluister het nie,
kyk, as jy van my af weggaan, sal 'n leeu jou doodmaak. En toe hy van hom af
weggaan, het 'n leeu hom gekry en hom gedood.
37 Daarna het hy 'n ander man gekry en gesê: Slaan my tog! En die man het hom so
geslaan, dat hy hom gewond het.
38 Toe vertrek die profeet en gaan die koning op die pad voorstaan; daarby maak
hy homself onkenbaar met 'n verband oor sy oë.
39 En terwyl die koning verbygaan, roep hy na die koning en sê: U dienaar het
uitgetrek in die geveg; en daar kom iemand eenkant toe en bring 'n man na my en
sê: Bewaak hierdie man; as hy ooit gemis word, sal jou lewe in die plek van sy
lewe wees, of jy sal 'n talent silwer moet betaal.
40 Maar onderwyl u dienaar hier en daar besig was, het hy verdwyn. Toe sê die
koning van Israel vir hom: So is jou vonnis: jy het dit self bepaal.
41 Daarop neem hy gou die verband van sy oë af weg en die koning van Israel
herken hom, dat hy een van die profete was.
42 En hy sê vir hom: So spreek die HERE: Omdat jy die man wat deur my banvloek
getref was, uit die hand laat gaan het, daarom sal jou siel in die plek van sy
siel en jou volk in die plek van sy volk wees.
43 En die koning van Israel het na sy huis getrek, verbitterd en toornig, en hy
het in Samaría aangekom.
21
1 En ná hierdie dinge het dít gebeur: Nabot, 'n Jisreëliet, het in Jísreël 'n
wingerd gehad, wat langs die paleis van Agab, die koning van Samaría, was.
2 En Agab het met Nabot gespreek en gesê: Gee my jou wingerd, dat dit my
groentetuin kan word, want dit is naby, langsaan my huis; dan sal ek jou in die
plek daarvan 'n wingerd gee wat beter is; of as dit goed is in jou oë, sal ek
jou die koopprys daarvan in silwer gee.
3 Maar Nabot het vir Agab gesê: Mag die HERE my daarvoor bewaar dat ek die
erfdeel van my vaders aan u sou gee!
4 Toe kom Agab in sy huis, verbitterd en toornig oor die woord wat Nabot, die
Jisreëliet, met hom gespreek het, naamlik: Ek mag nie die erfdeel van my vaders
aan u gee nie. En hy het op sy bed gaan lê en sy gesig omgedraai en geen brood
geëet nie.
5 Daarop kom sy vrou Isébel by hom en sê vir hom: Waarom is jou gees dan so
verbitterd dat jy geen brood eet nie?
6 En hy antwoord haar: Omdat ek met Nabot, die Jisreëliet, gespreek en aan hom
gesê het: Gee my jou wingerd vir geld, of as jy wil, sal ek jou 'n wingerd in
die plek daarvan gee--maar hy het gesê: Ek mag my wingerd nie aan u gee nie.
7 Toe sê sy vrou Isébel vir hom: Oefen jy nou die koningskap oor Israel uit?
Staan op, eet brood, en laat jou hart vrolik wees: ek sal jou die wingerd van
Nabot, die Jisreëliet, gee.
8 Daarop het sy briewe in die naam van Agab geskrywe en met sy seël dit verseël
en die brief gestuur aan die oudstes en die edeles wat in sy stad was, wat by
Nabot gewoon het.
9 En in die briewe het sy dit geskrywe: Roep 'n vasdag uit, en sit Nabot vooraan
onder die volk;
10 en sit twee manne, deugniete, teenoor hom, wat teen hom getuig en sê: Jy het
God en die koning gevloek! Lei hom dan uit en stenig hom, dat hy sterwe.
11 Die manne van sy stad, die oudstes en die edeles wat in sy stad gewoon het,
maak toe soos Isébel hulle laat weet het, soos geskrywe was in die briewe wat sy
aan hulle gestuur het.
12 Hulle het 'n vasdag uitgeroep en Nabot vooraan onder die volk gesit.
13 Toe kom die twee manne, deugniete, en gaan sit teenoor hom; en die deugniete
het teen hom, teen Nabot, voor die volk getuig en gesê: Nabot het God en die
koning gevloek. Daarop lei hulle hom buitekant die stad uit en stenig hom, sodat
hy gesterf het.
14 Daarna laat hulle Isébel weet: Nabot is gestenig en is dood.
15 Net toe Isébel hoor dat Nabot gestenig en dood was, sê Isébel vir Agab: Staan
op, neem die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, in besit wat hy geweier het om
vir geld aan jou te gee; want Nabot leef nie, maar is dood.
16 Net toe Agab hoor dat Nabot dood was, het Agab opgestaan om na die wingerd
van Nabot, die Jisreëliet, af te gaan om dit in besit te neem.
17 Maar die woord van die HERE het tot Elía, die Tisbiet, gekom en gesê:
18 Maak jou klaar, gaan af Agab, die koning van Israel, wat in Samaría is,
tegemoet; kyk, hy is in die wingerd van Nabot, waarheen hy afgegaan het om dit
in besit te neem.
19 En jy moet met hom spreek en sê: So sê die HERE: Het jy doodgeslaan en ook in
besit geneem? Verder moet jy met hom spreek en sê: So spreek die HERE: Op die
plek waar die honde die bloed van Nabot gelek het, sal die honde ook jou eie
bloed lek.
20 Daarop sê Agab vir Elía: Het jy my gekry, my vyand? En hy antwoord: Ek het u
gekry, omdat u uself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die
HERE!
21 Kyk, Ek gaan onheil bring oor jou en jou skoon wegvee; en Ek sal van Agab
uitroei al wat manlik is in Israel, sonder uitsondering.
22 En Ek sal jou huis maak soos die huis van Jeróbeam, die seun van Nebat, en
soos die huis van Baésa, die seun van Ahía; weens die geterg waarmee jy My
geterg het, en dat jy Israel laat sondig het.
23 En ook oor Isébel het die HERE gespreek en gesê: Die honde sal Isébel eet by
die voorskans van Jísreël.
24 Die een wat van Agab in die stad sterwe, hom sal die honde eet, en wie in die
veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet.
25 Waarlik, daar was niemand soos Agab wat homself verkoop het om te doen wat
verkeerd is in die oë van die HERE nie, omdat sy vrou Isébel hom verlei het.
26 En hy het baie afskuwelik gehandel deur agter die drekgode aan te loop net
soos die Amoriete gedoen het wat die HERE voor die kinders van Israel uit
verdrywe het.
27 En toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en 'n roukleed om sy
lyf gebind en gevas; hy het ook met die roukleed geslaap en stadig rondgeloop.
28 Toe kom die woord van die HERE tot Elía, die Tisbiet, en sê:
29 Het jy gesien dat Agab hom voor my aangesig verneder het? Omdat hy hom voor
my aangesig verneder het, sal Ek die onheil in sy dae nie bring nie; in die dae
van sy seun sal Ek die onheil oor sy huis bring.
22
1 Hulle het toe drie jaar lank stil gesit, dat daar geen oorlog was tussen Aram
en Israel nie.
2 Maar in die derde jaar het Jósafat, die koning van Juda, afgekom na die koning
van Israel.
3 En die koning van Israel vra sy dienaars: Weet julle dat Ramot in Gílead aan
ons behoort? En ons sit stil sonder om dit uit die hand van die koning van Aram
te neem!
4 Daarna sê hy vir Jósafat: Sal u saam met my in die oorlog trek na Ramot in
Gílead? En Jósafat antwoord die koning van Israel: Ek is soos u, my volk soos u
volk, my perde soos u perde.
5 Verder het Jósafat aan die koning van Israel gesê: Raadpleeg tog eers die
woord van die HERE.
6 Toe laat die koning van Israel die profete bymekaarkom, omtrent vier honderd
man, en hy sê aan hulle: Sal ek teen Ramot in Gílead trek om te veg of dit laat
staan? En hulle antwoord: Trek op, en die HERE sal dit in die hand van die
koning gee.
7 Maar Jósafat sê: Is hier nie nog 'n profeet van die HERE, dat ons deur hom kan
raadpleeg nie?
8 En die koning van Israel antwoord Jósafat: Daar is nog een man om deur hom die
HERE te raadpleeg; maar ék haat hom, omdat hy oor my niks goeds profeteer nie,
maar onheil: Miga, die seun van Jimla. En Jósafat sê: Die koning moet nie so
spreek nie!
9 Daarop roep die koning van Israel 'n hofdienaar en sê: Gaan haal Miga gou, die
seun van Jimla.
10 Onderwyl die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, elkeen op sy
troon sit, bekleed met koninklike klere, op 'n dorsvloer by die ingang van die
poort van Samaría, en al die profete voor hulle profeteer,
11 het Sedekía, die seun van Kenaäna, vir hom ysterhorings gemaak en gesê: So
spreek die HERE: Hiermee sal u die Arameërs stoot totdat hulle vernietig is.
12 En al die profete het so geprofeteer en gesê: Trek op na Ramot in Gílead en u
sal voorspoedig wees, en die HERE sal dit in die hand van die koning gee.
13 Toe sê die boodskapper wat gegaan het om Miga te roep, vir hom dít: Kyk tog,
die woorde van die profete is uit een mond goed vir die koning: laat jou woord
tog wees soos die woord van een van hulle, en spreek goeie dinge.
14 Maar Miga sê: So waar as die HERE leef, voorwaar, wat die HERE vir my sê, dit
sal ek spreek!
15 Toe hy by die koning kom, sê die koning vir hom: Miga, sal ons na Ramot in
Gílead trek om te veg, of sal ons dit laat staan? En hy antwoord hom: Trek op,
en u sal voorspoedig wees, en die HERE sal dit in die hand van die koning gee.
16 En die koning sê vir hom: Hoeveel maal moet ek jou besweer dat jy niks as die
waarheid in die Naam van die HERE tot my moet spreek nie?
17 Daarop antwoord hy: Ek het die hele Israel gesien, verstrooid op die berge
soos skape wat geen wagter het nie. En die HERE het gesê: Hulle het geen heer
nie; laat hulle elkeen in vrede teruggaan na sy huis.
18 Toe sê die koning van Israel vir Jósafat: Het ek u nie gesê nie--hy profeteer
oor my niks goeds nie, maar onheil?
19 Verder sê hy: Daarom, hoor die woord van die HERE: Ek het die HERE sien sit
op sy troon terwyl al die hemelse leërskare by Hom staan, aan sy regter-- en aan
sy linkerhand.
20 En die HERE het gesê: Wie sal Agab oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot
in Gílead? En die een het so gesê, en die ander weer so.
21 Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die HERE staan en sê:
Ek sal hom oorhaal. En die HERE vra hom: Waarmee?
22 En hy sê: Ek sal uitgaan en 'n leuengees word in die mond van al sy profete.
En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so.
23 En nou, kyk, die HERE het 'n leuengees in die mond van al hierdie profete van
u gegee, en die HERE het onheil oor u gespreek.
24 Daarop kom Sedekía, die seun van Kenaäna, nader en hy slaan Miga op die
kakebeen en sê: Hoe dan het die Gees van die HERE van my af weggegaan om met jou
te spreek?
25 En Miga antwoord: Kyk, jy sal dit sien op dieselfde dag as jy van kamer tot
kamer sal gaan om jou weg te steek.
26 Maar die koning van Israel sê: Neem Miga en bring hom terug by Amon, die
owerste van die stad, en by Joas, die seun van die koning.
27 En jy moet sê: So spreek die koning: Sit hierdie man in die gevangenis en
spysig hom met brood van verdrukking en water van verdrukking totdat ek behoue
tuiskom.
28 Daarop sê Miga: As u ooit behoue tuiskom, dan het die HERE nie deur my
gespreek nie. Verder sê hy: Volke, luister almal saam!
29 En die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, het opgetrek na
Ramot in Gílead.
30 En die koning van Israel het vir Jósafat gesê: Ek sal my onkenbaar maak en in
die geveg kom; trek ú maar u eie klere aan. So het die koning van Israel hom dan
onkenbaar gemaak en in die geveg gegaan.
31 En die koning van Aram het aan die owerstes van sy twee en dertig strydwaens
bevel gegee en gesê: Julle moet nie klein of groot beveg nie, net die koning van
Israel alleen.
32 En sodra die owerstes van die waens Jósafat sien, sê hulle: Dit is sekerlik
die koning van Israel! En hulle het weggeswaai om teen hom te veg; maar Jósafat
het geskreeu.
33 En toe die owerstes van die waens sien dat dit nie die koning van Israel was
nie, draai hulle agter hom weg.
34 Toe het 'n man in sy eenvoudigheid die boog gespan en die koning van Israel
getref tussen die aanhegsels en die pantser. Daarop sê hy aan sy drywer: Ruk om
en bring my uit die leër uit, want ek is gewond.
35 En die geveg het dié dag toegeneem, terwyl die koning hom staande hou in die
strydwa teenoor die Arameërs; maar in die aand het hy gesterwe, en die bloed van
die wond het in die wa se bak gevloei.
36 En teen sonsondergang gaan 'n geskreeu deur die leër: Elkeen na sy stad en
elkeen na sy land toe!
37 En die koning het dood in Samaría aangekom, en die koning is in Samaría
begrawe.
38 En toe hulle die wa uitspoel by die dam van Samaría, het die honde sy bloed
gelek (terwyl die hoere hulle daarin was), volgens die woord van die HERE wat Hy
gespreek het.
39 En die verdere geskiedenis van Agab en alles wat hy gedoen het, en die
ivoorhuis wat hy gebou het, en al die stede wat hy gebou het, is dit nie
beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
40 En Agab het ontslaap met sy vaders, en sy seun Ahásia het in sy plek koning
geword.
41 En Jósafat, die seun van Asa, het koning geword oor Juda in die vierde jaar
van Agab, die koning van Israel.
42 Jósafat was vyf en dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf en
twintig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Asúba, die
dogter van Silhi.
43 En hy het geheel en al in die weg van sy vader Asa gewandel--daarvan het hy
nie afgewyk nie--deur te doen wat reg was in die oë van die HERE.
44 Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog op die hoogtes geoffer
en rook laat opgaan.
45 En Jósafat het vrede gesluit met die koning van Israel.
46 En die verdere geskiedenis van Jósafat en sy magtige dade wat hy gedoen het,
en hoe hy oorlog gevoer het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die
konings van Juda nie?
47 Ook die skandseuns wat uit die dae van sy vader Asa nog oor was, het hy uit
die land uitgeroei.
48 Daar was toe nie 'n koning in Edom nie; 'n plaasvervanger was regeerder.
49 Jósafat het Tarsis-skepe gebou om in Ofir goud te gaan haal; maar hulle het
nie gegaan nie, want die skepe het in Éseon-Geber skipbreuk gely.
50 Toe sê Ahásia, die seun van Agab, vir Jósafat: Laat my dienaars saam met u
dienaars op die skepe gaan. Maar Jósafat wou nie.
51 En Jósafat het ontslaap met sy vaders en is by sy vaders begrawe in die stad
van sy vader Dawid; en sy seun Joram het koning geword in sy plek.
52 Ahásia, die seun van Agab, het koning geword oor Israel in Samaría in die
sewentiende jaar van Jósafat, die koning van Juda, en het twee jaar oor Israel
geregeer.
53 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE--hy het gewandel in
die weg van sy vader en in die weg van sy moeder en in die weg van Jeróbeam, die
seun van Nebat, wat Israel laat sondig het.
54 En hy het Baäl gedien en voor hom neergebuig en die HERE, die God van Israel,
geterg, net soos sy vader gedoen het.