1 P e t r u s 1
1 Petrus, 'n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die
verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadocië, Asië en Bithínië,
2 uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van
die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus:
Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!
3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote
barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die
opstanding van Jesus Christus uit die dode,
4 sodat ons 'n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry,
wat in die hemele bewaar is vir ons
5 wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat
gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.
6 Daarin verheug julle jul, al word julle nou--as dit nodig is--'n kort tydjie
bedroef onder allerhande beproewinge,
7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat
vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en
heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;
8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al
sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met 'n onuitspreeklike en
heerlike blydskap,
9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.
10 Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die
genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors,
11 en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat
in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus
sou kom en die heerlikheid daarna.
12 Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié
dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan
julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is--dinge
waarin die engele begerig is om in te sien.
13 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op
die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.
14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die
begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.
15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele
lewenswandel heilig word,
16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.
17 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel
volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle
vreemdelingskap;
18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud,
losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,
19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en
vlekkeloos,
20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in
hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,
21 julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid
gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.
22 As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot
ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit 'n
rein hart;
23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit
onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.
24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos 'n blom
van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,
25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan
julle verkondig is.
2
1 Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle
kwaadpratery;
2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die
woord, dat julle daardeur kan opgroei,
3 as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is.
4 Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by
God uitverkore en kosbaar is;
5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige
priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus
Christus.
6 Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore en kosbare
hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.
7 Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord:
Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword; en: 'n Steen
des aanstoots en 'n rots van struikeling--
8 vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is,
waarvoor hulle ook bestem is.
9 Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk,
'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die
duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,
10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe
geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.
11 Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou
van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;
12 en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle
kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle
aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.
13 Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here--of
dit die koning is as opperheer,
14 of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat
goed doen, te prys.
15 Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van
die dwase mense tot swye sal bring,
16 as vrymense en nie asof julle die vryheid het as 'n dekmantel vir die
boosheid nie, maar as diensknegte van God.
17 Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer.
18 Diensknegte, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die
wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is.
19 Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra
deur onregverdig te ly.
20 Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan
word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly--dit is genade by God.
21 Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle
'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg;
22 Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie;
23 wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie
gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel;
24 wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die
sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees
is.
25 Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die
Herder en Opsiener van julle siele.
3
1 Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige
aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder
woorde gewin kan word
2 as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.
3 Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud
en aantrek van klere nie,
4 maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van 'n
sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.
5 Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself
versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig,
6 soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders
julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie.
7 Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike
geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die
genade van die lewe is--sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.
8 En eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en
ontferming, vriendelik.
9 Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën
inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan
beërwe.
10 Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir
wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie.
11 Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en
dit najaag.
12 Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed,
maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.
13 En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie?
14 Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En
vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie.
15 Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om
verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop
wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;
16 met behoud van 'n goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle
kwaad spreek soos van kwaaddoeners, húlle beskaam mag word wat julle goeie
lewenswandel in Christus belaster.
17 Want dit is beter, as die wil van God dit eis, dat julle ly wanneer julle
goed doen as wanneer julle kwaad doen.
18 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die
onregverdiges, om ons tot God te bring--Hy wat wel gedood is na die vlees, maar
lewend gemaak deur die Gees;
19 in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis,
20 wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag
het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit
is agt, siele deur water heen gered is;
21 waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as 'n aflegging van die
vuilheid van die vlees nie, maar as 'n bede tot God om 'n goeie gewete--deur die
opstanding van Jesus Christus
22 wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl
engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.
4
1 Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met
dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde,
2 om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense
te leef nie, maar volgens die wil van God.
3 Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene
volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap,
brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye.
4 Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saamloop in dieselfde uitgieting van
losbandigheid nie, en hulle laster.
5 Hulle sal rekenskap gee aan Hom wat gereed staan om die lewende en die dode te
oordeel.
6 Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel
geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees.
7 En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan
bid.
8 Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte
sondes bedek.
9 Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer.
10 Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos
goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.
11 As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit
wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word
deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid.
Amen.
12 Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat
tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;
13 maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly
wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan
jubel.
14 As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die
Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel
gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik.
15 Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een
wat hom met die sake van 'n ander bemoei nie.
16 Maar wanneer iemand as 'n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God
verheerlik in hierdie opsig.
17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as
dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van
God ongehoorsaam is?
18 En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die
sondaar verskyn?
19 So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as
die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.
5
1 Ek vermaan die ouderlinge onder julle, ek wat 'n mede-ouderling en getuie van
die lyde van Christus is, wat ook 'n deelgenoot is van die heerlikheid wat
geopenbaar sal word:
2 Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang
nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid;
3 ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde.
4 En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van
heerlikheid ontvang.
5 Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met
ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die
hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.
6 Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog
op die regte tyd.
7 Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.
8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n
brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.
9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat
dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.
10 En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige
heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons 'n kort tyd gely het, julle volmaak,
bevestig, versterk en grondves!
11 Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.
12 Deur Silvánus, die getroue broeder, soos ek meen, het ek kortliks aan julle
geskrywe om julle te vermaan en om te betuig dat dit die ware genade van God is
waarin julle staan.
13 Die mede-uitverkorene in Babilon en Markus, my seun, groet julle.
14 Groet mekaar met 'n kus van liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus
Jesus is! Amen.