2 S a m u e l 1
1 En ná die dood van Saul, toe Dawid terug was van die verslaan van die
Amalekiete en Dawid twee dae in Siklag gebly het,
2 kom daar op die derde dag 'n man uit die leër, van Saul af, met geskeurde
klere en grond op sy hoof. En toe hy by Dawid kom, val hy op die grond en buig
hom neer.
3 En Dawid sê vir hom: Waar kom jy vandaan? En hy antwoord hom: Ek het ontvlug
uit die leër van Israel.
4 Verder sê Dawid vir hom: Wat het gebeur? Vertel my tog. Toe antwoord hy: Die
manskappe het uit die geveg gevlug, en baie van die manskappe het ook geval en
gesterwe; ja, ook Saul en sy seun Jónatan is dood.
5 En Dawid vra die jongman wat hom die boodskap gebring het: Hoe weet jy dat
Saul en sy seun Jónatan dood is?
6 Daarop sê die jongman wat hom die boodskap gebring het: Ek was bygeval op die
gebergte Gilbóa, en kyk, Saul het op sy spies geleun, terwyl die strydwaens en
perderuiters hom agternasit;
7 en hy het agter hom omgekyk en my gesien en my geroep, en ek het gesê: Hier is
ek.
8 Toe vra hy my: Wie is jy? En ek antwoord hom: Ek is 'n Amalekiet.
9 Daarop sê hy vir my: Kom staan tog by my en maak my van kant, omdat 'n
duiseling my bevang het; want my lewe is nog heeltemal in my.
10 En ek het by hom gaan staan en hom van kant gemaak, want ek het geweet dat hy
ná sy val nie sou leef nie; en ek het die kroon wat op sy hoof en die armband
wat om sy arm was, geneem en dit hier na my heer gebring.
11 Toe gryp Dawid sy klere en skeur dit; net so al die manne wat by hom was.
12 En hulle het gerouklaag en geween en gevas tot die aand toe oor Saul en oor
sy seun Jónatan en oor die volk van die HERE en oor die huis van Israel, omdat
hulle deur die swaard geval het.
13 Verder sê Dawid aan die jongman wat hom die boodskap gebring het: Waar kom jy
vandaan? En hy antwoord: Ek is die seun van 'n vreemde man, 'n Amalekiet.
14 En Dawid sê vir hom: Hoe? Jy was nie bevrees om jou hand uit te steek om die
gesalfde van die HERE om te bring nie?
15 Daarop roep Dawid een van die jongmanne en sê: Kom nader, val op hom aan! En
dié het hom neergeslaan, dat hy gesterf het.
16 En Dawid het vir hom gesê: Jou bloed is op jou hoof, want jou mond getuig
teen jou, omdat jy sê: Ek het die gesalfde van die HERE gedood.
17 Toe het Dawid hierdie klaaglied aangehef oor Saul en oor sy seun Jónatan,
18 en hy het beveel om die kinders van Juda die Booglied te leer; kyk, dit is
geskrywe in die Boek van die Opregte.
19 Die sieraad, o Israel--op jou hoogtes lê dit verslaan. Hoe het die helde
geval!
20 Vertel dit nie in Gat, verkondig dit nie op die strate van Askelon nie, sodat
die dogters van die Filistyne hulle nie verheug, die dogters van die
onbesnedenes nie jubel nie!
21 Berge van Gilbóa, mag op julle geen dou en geen reën en geen velde van
offergawes wees nie! Want daar is die skild van die helde weggegooi, die skild
van Saul, sonder dat dit met olie gesalf is.
22 Sonder die bloed van die gesneuweldes, sonder die vet van die helde het die
boog van Jónatan nie agteruitgewyk en die swaard van Saul nie leeg teruggekeer
nie.
23 Saul en Jónatan, die bemindes en lieflikes, is in hulle lewe en in hulle dood
nie geskeie nie. Vinniger as arende was hulle, sterker as leeus.
24 Dogters van Israel, ween oor Saul, wat julle weelderig beklee het met
skarlaken, wat goue versiersels aangebring het op julle gewaad.
25 Hoe het die helde geval diep in die geveg! Jónatan lê verslaan op jou
hoogtes.
26 Ek is benoud om jou ontwil, my broer Jónatan! Jy was vir my baie lieflik; jou
liefde was vir my wonderliker as die liefde van vroue.
27 Hoe het die helde geval en die oorlogswapens verlore gegaan!
2
1 En daarna het Dawid die HERE geraadpleeg en gesê: Sal ek optrek in een van die
stede van Juda? En die HERE het hom geantwoord: Trek op. Toe sê Dawid: Waarheen
moet ek optrek? En Hy antwoord: Na Hebron.
2 En Dawid het daarheen opgetrek, en ook sy twee vroue, Ahínoam uit Jísreël, en
Abígail, die vrou van Nabal, die Karmeliet.
3 Dawid het ook sy manne wat by hom was, laat optrek, elkeen met sy huisgesin,
en hulle het in die stede van Hebron gaan woon.
4 Daarna het die manne van Juda gekom en Dawid daar as koning oor die huis van
Juda gesalf. Toe hulle aan Dawid meedeel en sê: Dit is die manne van Jabes in
Gílead wat Saul begrawe het,
5 stuur Dawid boodskappers na die manne van Jabes in Gílead om aan hulle te sê:
Mag julle geseënd wees deur die HERE, dat julle hierdie guns bewys het aan julle
heer, aan Saul, en hom begrawe het.
6 Mag die HERE julle dan nou guns en trou bewys, en ek self bewys ook hierdie
goedheid aan julle, omdat julle hierdie ding gedoen het.
7 En nou, laat julle hande sterk wees, en wees wakker manne; want julle heer
Saul is dood. Daarby het die huis van Juda my ook as koning oor hulle gesalf.
8 Maar Abner, die seun van Ner, die leërowerste van Saul, het Isbóset, die seun
van Saul, geneem en hom oorgebring na Mahanáim
9 en hom koning gemaak oor Gílead en oor die Asuriete en oor Jísreël en oor
Efraim en oor Benjamin en oor die hele Israel.
10 Veertig jaar oud was Isbóset, die seun van Saul, toe hy koning geword het oor
Israel, en hy het twee jaar geregeer; net die huis van Juda het Dawid gevolg.
11 En die getal dae wat Dawid koning was in Hebron oor die huis van Juda, was
sewe jaar en ses maande.
12 En Abner, die seun van Ner, met die dienaars van Isbóset, die seun van Saul,
het uitgetrek uit Mahanáim na Gíbeon.
13 Joab, die seun van Serúja, en die dienaars van Dawid het ook uitgetrek. En
toe hulle mekaar ontmoet by die dam van Gíbeon, het hulle gaan sit aan
weerskante van die dam.
14 En Abner sê vir Joab: Laat die jongmanne hulle tog regmaak en voor ons speel.
En Joab sê: Laat hulle regmaak.
15 Toe het hulle opgestaan, en twaalf is vir Benjamin afgetel, naamlik vir
Isbóset, die seun van Saul; en twaalf van die dienaars van Dawid.
16 Maar die een het die ander aan die hoof gegryp, en die een se swaard was in
die sy van die ander, sodat hulle saam geval het; daarom noem hulle dié plek
Veld van Swaardskerptes, wat by Gíbeon is.
17 En dieselfde dag het die geveg buitengewoon hewig geword, maar Abner en die
manne van Israel is verslaan voor die dienaars van Dawid.
18 En daar was drie seuns van Serúja: Joab en Abísai en Asahel; en Asahel was
lig op sy voete soos een van die gemsbokke wat in die veld is.
19 En Asahel het Abner agternagejaag sonder om in sy koers regs of links agter
Abner weg te draai.
20 Toe kyk Abner agter hom om en sê: Is dit jy, Asahel? En hy antwoord: Dit is
ek.
21 En Abner sê vir hom: Draai uit na jou regter-- of linkerhand en gryp vir jou
een van die jongmanne en neem sy uitrusting vir jou. Maar Asahel wou nie agter
hom wegdraai nie.
22 En Abner sê nog 'n keer vir Asahel: Jy moet padgee agter my; waarom moet ek
jou teen die grond slaan? Hoe sou ek dan my aangesig kan ophef voor jou broer
Joab?
23 Maar hy het geweier om weg te draai. Toe steek Abner hom met die agterent van
die spies in die onderlyf, sodat die spies agter hom uitkom en hy daar neerval
en op die plek sterwe. En almal het bly staan wat aankom by die plek waar Asahel
geval en gesterwe het.
24 Maar Joab en Abísai het Abner agternagejaag, en die son het ondergegaan toe
hulle by die heuwel Amma kom wat teenoor Giag lê, aan die pad na die woestyn van
Gíbeon.
25 En die kinders van Benjamin het agter Abner byeengekom en saam een skare
geword, en hulle het gaan staan op die top van 'n sekere heuwel.
26 Toe roep Abner na Joab en sê: Moet die swaard dan vir ewig verteer? Weet jy
nie dat dit oplaas bitter sal wees nie? En hoe lank sal jy nie aan die manskappe
sê dat hulle moet omdraai agter hulle broers vandaan nie?
27 En Joab antwoord: So waar as God leef, waarlik, as jy nie gespreek het nie,
sou die manskappe môre eers weggetrek het, elkeen agter sy broer vandaan.
28 Toe blaas Joab op die ramshoring, en al die manskappe het stilgestaan en
Israel nie langer agternagejaag en nie verder meer geveg nie.
29 Daarop het Abner en sy manne daardie hele nag die Vlakte deurgegaan en deur
die Jordaan getrek en deur die hele Bitron en in Mahanáim aangekom.
30 En Joab het omgedraai agter Abner weg en al die manskappe versamel. En van
Dawid se dienaars is negentien man en Asahel vermis.
31 Maar die dienaars van Dawid het van Benjamin, naamlik onder die manne van
Abner, geslaan--drie honderd en sestig man het gesterwe.
32 En hulle het Asahel opgetel en hom in die graf van sy vader, wat in Betlehem
was, begrawe; en Joab en sy manne het die hele nag deur getrek, sodat dit vir
hulle in Hebron lig geword het.
3
1 En daar was 'n lang oorlog tussen die huis van Saul en die huis van Dawid, en
Dawid het altyd sterker geword, maar die huis van Saul altyd swakker.
2 En vir Dawid is daar seuns in Hebron gebore. En sy eersgeborene was Amnon, by
Ahínoam uit Jísreël;
3 en sy tweede was Kíleab, by Abígail, die vrou van Nabal, die Karmeliet; en die
derde was Absalom, die seun van Máäga, die dogter van Tálmai, die koning van
Gesur;
4 en die vierde Adónia, die seun van Haggit; en die vyfde Sefátja, die seun van
Abítal;
5 en die sesde Jítream, by Egla, die vrou van Dawid. Hulle is vir Dawid in
Hebron gebore.
6 En onderwyl daar oorlog was tussen die huis van Saul en die huis van Dawid,
was Abner besig om homself te versterk in die huis van Saul.
7 Saul het naamlik 'n byvrou gehad wie se naam Rispa was, die dogter van Aja; en
Isbóset het vir Abner gesê: Waarom het jy by die byvrou van my vader ingegaan?
8 Toe word Abner baie kwaad oor die woorde van Isbóset en sê: Is ek dan die
hondskop wat aan Juda behoort? Vandag bewys ek guns aan die huis van Saul, jou
vader, aan sy broers en aan sy vriende; en ek het jou nie in die hand van Dawid
laat raak nie, en tog verwyt jy my vandag die oortreding met 'n vrou?
9 Mag God so aan Abner doen en so daaraan toedoen, sekerlik, soos die HERE Dawid
met 'n eed beloof het, net so sal ek aan hom doen
10 deur die koningskap aan die huis van Saul te ontneem en die troon van Dawid
op te rig oor Israel en oor Juda, van Dan tot Berséba.
11 En hy kon Abner verder geen antwoord gee nie, omdat hy vir hom bang was.
12 Daarop het Abner boodskappers na Dawid in sy plek gestuur om te sê: Aan wie
behoort die land? en: Sluit u verbond met my; en kyk, my hand sal met u wees om
die hele Israel na u toe oor te bring.
13 En hy het gesê: Goed, ék sal met u 'n verbond sluit, maar een ding eis ek van
u, naamlik: U mag my aangesig nie sien nie, of u moet eers Migal, die dogter van
Saul, saambring as u kom om my aangesig te sien.
14 Dawid het ook boodskappers gestuur na Isbóset, die seun van Saul, om te sê:
Gee my vrou Migal met wie ek my verloof het vir honderd voorhuide van die
Filistyne.
15 En Isbóset het gestuur en haar van die man, van Páltiël, die seun van Lais,
afgeneem.
16 En haar man het saam met haar gegaan, terwyl hy agter haar aan loop en ween
tot by Bahúrim. Toe sê Abner vir hom: Gaan terug. En hy het teruggegaan.
17 En Abner het met die oudstes van Israel onderhandel en gesê: Gister sowel as
eergister het julle aldeur Dawid as koning oor julle begeer.
18 Voer dit dan nou uit, want die HERE het van Dawid gespreek en gesê: Deur die
hand van my kneg Dawid sal Ek my volk Israel uit die hand van die Filistyne en
uit die hand van al hulle vyande verlos.
19 En Abner het ook voor die ore van Benjamin gespreek; en Abner het ook gegaan
om voor die ore van Dawid in Hebron te spreek alles wat goed was in die oë van
Israel en in die oë van die hele huis van Benjamin.
20 Toe Abner by Dawid in Hebron kom, en twintig man saam met hom, het Dawid vir
Abner en die manne wat by hom was, 'n maaltyd aangerig.
21 En Abner sê vir Dawid: Ek wil my klaarmaak en die hele Israel by my heer die
koning gaan versamel, dat hulle met u 'n verbond sluit; dan kan u heers oor
alles wat u siel begeer. Daarop het Dawid Abner laat gaan, en hy het in vrede
weggegaan.
22 Intussen kom die dienaars van Dawid en Joab juis van 'n rooftog af, en hulle
bring 'n groot buit met hulle saam. Maar Abner was nie meer by Dawid in Hebron
nie, want dié het hom laat gaan, en hy het in vrede vertrek.
23 Toe Joab en die hele kommando wat saam met hom was, tuis kom, deel hulle aan
Joab mee en sê: Abner, die seun van Ner, het na die koning gekom, en dié het hom
laat gaan, en hy het in vrede vertrek.
24 Daarop kom Joab by die koning en sê: Wat het u gedoen? Kyk, Abner het by u
gekom; waarom het u hom tog laat loop, dat hy somaar weggegaan het?
25 U ken Abner, die seun van Ner, dat hy gekom het om u te mislei en om u
uitgang en u ingang te weet, ja, om alles te weet wat u doen.
26 En Joab het van Dawid af weggegaan en boodskappers agter Abner aan gestuur,
wat hom teruggebring het van die put Hassira af sonder dat Dawid dit geweet het.
27 Toe Abner dan in Hebron terugkom, het Joab hom eenkant toe gelei in die
middel van die poort om vertroulik met hom te praat en hom daar in die onderlyf
gesteek, sodat hy gesterf het, oor die bloed van sy broer Asahel.
28 Toe Dawid dit daarna hoor, sê hy: Ek en my koninkryk is voor die HERE vir
ewig onskuldig aan die bloed van Abner, die seun van Ner.
29 Mag dit losbreek op die hoof van Joab en op sy hele familie, en mag die huis
van Joab nie vry wees van een wat 'n vloeiing het of wat melaats is of wat op
krukke loop of wat deur die swaard val of gebrek aan brood het nie.
30 Joab dan en Abísai, sy broer, het Abner vermoor, omdat hy hulle broer Asahel
by Gíbeon in die geveg gedood het.
31 Verder het Dawid aan Joab en al die mense wat by hom was, gesê: Skeur julle
klere en gord rouklere aan en rouklaag voor Abner uit! En koning Dawid het agter
die baar aan gegaan.
32 Toe hulle Abner in Hebron begrawe, het die koning sy stem verhef en geween by
die graf van Abner; die hele volk het ook geween.
33 En die koning het 'n klaaglied oor Abner aangehef en gesê: Moes Abner sterwe
soos 'n dwaas sterwe?
34 Jou hande was nie gebind en jou voete nie aangeraak met koperkettings nie.
Soos 'n mens voor kwaaddoeners val, het jy geval. En die hele volk het nog meer
oor hom geween.
35 Daarop kom die hele volk om Dawid te beweeg dat hy brood moet eet terwyl dit
nog dag was; maar Dawid het gesweer en gesê: Mag God so aan my doen en so
daaraan toedoen as ek voor sonsondergang brood of enigiets proe.
36 En die hele volk het dit opgemerk, en dit was goed in hulle oë: soos alles
wat die koning gedoen het, was dit goed in die oë van die hele volk.
37 En die hele volk en die hele Israel het dieselfde dag gemerk dat dit nie van
die koning gekom het om Abner, die seun van Ner, dood te maak nie.
38 Verder het die koning aan sy dienaars gesê: Weet julle nie dat vandag 'n vors
en 'n groot man in Israel geval het nie?
39 Maar ek is vandag swak, alhoewel ek as koning gesalf is, terwyl hierdie
manne, die seuns van Serúja, harder is as ek. Mag die HERE die kwaaddoener
vergelde na sy boosheid!
4
1 Toe die seun van Saul hoor dat Abner in Hebron gesterf het, het sy hande slap
geword, en die hele Israel was verskrik.
2 En die seun van Saul het twee manne, owerstes van bendes, gehad: die naam van
die een was Báëna en die naam van die ander Régab, seuns van Rimmon, die
Beërotiet, uit die kinders van Benjamin, want Beërot is ook by Benjamin gereken.
3 En die Beërotiete het na Gittáim gevlug en was daar vreemdelinge tot vandag
toe.
4 En Jónatan, die seun van Saul, het 'n seun gehad, lam aan altwee voete. Hy was
vyf jaar oud toe die tyding aangaande Saul en Jónatan uit Jísreël gekom het, en
sy oppasser het hom opgetel en gevlug; maar terwyl sy in haar haastigheid vlug,
het hy geval en lam geword; en sy naam was Mefibóset.
5 En die seuns van Rimmon, die Beërotiet, Régab en Báëna, het gegaan en by die
huis van Isbóset gekom op die warmste van die dag toe hy in sy middagslaap lê.
6 En hulle het daar ingekom tot binne-in die huis om koring te gaan haal en hom
in die onderlyf gesteek; en Régab en sy broer Báëna het ontvlug.
7 Hulle het naamlik die huis ingegaan, terwyl hy op sy bed in sy slaapkamer lê,
en hom doodgeslaan en sy hoof afgekap; en hulle het sy hoof saamgeneem en die
hele nag deur geloop met die pad van die Vlakte
8 en die hoof van Isbóset na Dawid in Hebron gebring en aan die koning gesê:
Hier is die hoof van Isbóset, die seun van Saul, u vyand wat u lewe gesoek het;
maar die HERE het aan my heer die koning vandag wraak gegee op Saul en sy
nageslag.
9 Maar Dawid het Régab en sy broer Báëna, die seuns van Rimmon, die Beërotiet,
geantwoord en aan hulle gesê: So waar as die HERE leef wat my siel uit alle
benoudheid verlos het,
10 hom wat aan my berig gebring en gesê het: Kyk, Saul is dood! --terwyl hy in
sy eie oë was soos een wat 'n goeie boodskap bring--het ek gegryp en hom in
Siklag gedood, aan wie ek eintlik boodskappersloon moes gegee het;
11 hoeveel te meer sal ek dan nou nie, as goddelose mense 'n regverdige man in
sy huis op sy bed vermoor, sy bloed van julle hand eis en julle van die aarde
verdelg nie?
12 Toe het Dawid die jongmanne bevel gegee, en dié het hulle gedood en hul hande
en voete afgekap en hulle opgehang by die dam in Hebron; maar die hoof van
Isbóset het hulle geneem en dit begrawe in die graf van Abner in Hebron.
5
1 Toe kom al die stamme van Israel na Dawid in Hebron, en hulle spreek en sê:
Hier is ons, u been en u vlees is ons!
2 Gister sowel as eergister toe Saul koning oor ons was, het ú Israel uit-- en
ingelei; en die HERE het aan u gesê: Jy moet my volk Israel oppas, en jy moet 'n
vors wees oor Israel.
3 So het dan al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom; en koning
Dawid het met hulle 'n verbond in Hebron gesluit voor die aangesig van die HERE,
en hulle het Dawid as koning oor Israel gesalf.
4 Dertig jaar was Dawid oud toe hy koning geword het; veertig jaar het hy
geregeer.
5 In Hebron het hy oor Juda sewe jaar en ses maande geregeer, en in Jerusalem
het hy drie en dertig jaar oor die hele Israel en Juda geregeer.
6 Toe die koning met sy manne na Jerusalem wegtrek teen die Jebusiete, die
bewoners van die land, het hulle met Dawid gespreek en gesê: Jy sal hier nie
inkom nie, maar die blindes en lammes sal jou verdrywe--dit wil sê: Dawid sal
hier nie inkom nie.
7 Maar Dawid het die bergvesting Sion ingeneem; dit is die stad van Dawid.
8 En Dawid het daardie dag gesê: Elkeen wat 'n Jebusiet verslaan, laat hom in
die waterkanaal neerwerp die lammes sowel as die blindes, van wie Dawid se siel
'n afkeer het! Daarom sê hulle: 'n Blinde en 'n lamme mag nie in die huis kom
nie.
9 En Dawid het in die bergvesting gaan woon en dit die stad van Dawid genoem; en
Dawid het rondom, van Millo af na die binnekant, gebou.
10 En Dawid het gedurigdeur groter geword, en die HERE, die God van die
leërskare, was met hom.
11 Toe stuur Hiram, die koning van Tirus, boodskappers na Dawid met sederhout en
skrynwerkers en klipkappers, en hulle het vir Dawid 'n huis gebou.
12 So het Dawid dan gewaar geword dat die HERE hom as koning oor Israel bevestig
en sy koningskap verhef het ter wille van sy volk Israel.
13 En Dawid het uit Jerusalem meer byvroue en vroue geneem, nadat hy uit Hebron
gekom het; en vir Dawid is meer seuns en dogters gebore.
14 En dit is die name van die wat vir hom in Jerusalem gebore is: Sámmua en
Sobab en Natan en Salomo,
15 en Jibhar en Elisúa en Nefeg en Jáfia,
16 en Elisáma en Éljada en Elifélet.
17 Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor Israel gesalf was, het al die
Filistyne opgetrek om Dawid te soek, maar Dawid het dit gehoor en afgetrek na
die bergvesting.
18 En die Filistyne het gekom en hulle versprei in die dal Refáim.
19 Toe het Dawid die HERE geraadpleeg en gesê: Sal ek optrek teen die Filistyne?
Sal U hulle in my hand gee? En die HERE het aan Dawid gesê: Trek op, want Ek sal
die Filistyne verseker in jou hand gee.
20 Daarop het Dawid na Baäl-Pérasim gegaan, en Dawid het hulle daar verslaan en
gesê: Die HERE het voor my heen deur my vyande gebreek soos water deurbreek;
daarom het hy dié plek Baäl-Pérasim genoem.
21 En hulle het hul afgode daar agtergelaat, en Dawid en sy manne het dit
saamgeneem.
22 Maar die Filistyne het nog weer opgetrek en hulle in die dal Refáim versprei.
23 Toe raadpleeg Dawid die HERE, en Hy sê: Jy moet nie optrek nie: trek agter
hulle om en val hulle aan vlak voor die balsembosse.
24 En as jy 'n geruis van voetstappe in die toppe van die balsembosse hoor, moet
jy gou maak, want dan het die HERE voor jou uitgetrek om die leër van die
Filistyne te verslaan.
25 En Dawid het gedoen net soos die HERE hom beveel het, en hy het die Filistyne
verslaan van Gíbeon af tot naby Geser.
6
1 Daarna het Dawid weer al die uitgesoektes in Israel, dertig duisend, versamel;
2 en Dawid het hom klaargemaak en met al die mense opgetrek wat by hom was, van
Báäle-Juda, om die ark van God, waaroor die Naam uitgeroep is, die Naam van die
HERE van die leërskare wat op die gérubs troon, daarvandaan te gaan haal.
3 En hulle het die ark van God op 'n nuwe wa vervoer en dit uit die huis van
Abinádab, wat op die heuwel is, gebring. Terwyl Ussa en Agjo, die seuns van
Abinádab, die wa drywe,
4 met die ark van God, het Agjo voor die ark geloop.
5 En Dawid en die hele huis van Israel het voor die aangesig van die HERE
gespeel met allerhande instrumente van sipreshout, naamlik met siters en harpe
en tamboeryne, en bekkens en simbale.
6 En toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na
die ark van God en dit vasgehou, want die osse het gestruikel.
7 Daarop het die toorn van die HERE teen Ussa ontvlam, en God het hom daar
getref oor dié vergryp, sodat hy daar by die ark van God gesterf het.
8 En Dawid het ontroerd geword, omdat die HERE 'n skeur aan Ussa geskeur het;
daarom het hy daardie plek genoem Peres-Ussa, tot vandag toe.
9 En Dawid het daardie dag vir die HERE bevrees geword en gesê: Hoe kan die ark
van die HERE na my kom?
10 Daarom wou Dawid nie die ark van die HERE by hom in die stad van Dawid laat
inkom nie, maar Dawid het dit na die huis van Obed-Edom, die Gittiet, laat
wegdraai.
11 En die ark van die HERE het drie maande lank in die huis van Obed-Edom, die
Gittiet, gebly, en die HERE het Obed-Edom en sy hele huis geseën.
12 En toe aan koning Dawid meegedeel is: Die HERE het die huis van Obed-Edom en
alles wat aan hom behoort, geseën ter wille van die ark van God, het Dawid
gegaan en die ark van God met vreugde uit die huis van Obed-Edom na die stad van
Dawid gebring.
13 En toe die draers van die ark van die HERE ses treë geloop het, het hy 'n
bees en 'n vetgemaakte kalf geoffer.
14 Daarby het Dawid met alle mag gedans voor die aangesig van die HERE; en Dawid
was omgord met 'n linneskouerkleed.
15 So het Dawid en die hele huis van Israel dan die ark van die HERE met gejuig
en basuingeklank opgehaal.
16 Toe die ark van die HERE die stad van Dawid inkom, kyk Migal, die dogter van
Saul, juis deur die venster en sien koning Dawid huppel en dans voor die
aangesig van die HERE; en sy het hom in haar hart verag.
17 Nadat hulle dan die ark van die HERE ingebring en dit op sy plek neergesit
het binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het, het Dawid brandoffers en
dankoffers gebring voor die aangesig van die HERE.
18 Toe Dawid gereed was met die brandoffer en dankoffers, het hy die volk in die
Naam van die HERE van die leërskare geseën
19 en aan die hele volk, die hele menigte van Israel, manne sowel as vroue, aan
elkeen een broodkoek en een stuk vleis en een rosynekoek uitgedeel. Daarop het
die hele volk elkeen na sy huis gegaan.
20 Toe Dawid terugkom om sy huisgesin te seën, het Migal, die dogter van Saul,
Dawid tegemoetgegaan en gesê: Hoe het die koning van Israel homself vandag
geëer, dat hy homself vandag voor die oë van die slavinne van sy dienaars
ontbloot het soos een van die ligsinnige mense hom somaar ontbloot!
21 Maar Dawid sê vir Migal: Voor die aangesig van die HERE wat my verkies het bo
jou vader en bo sy hele huis, deur my as vors aan te stel oor die volk van die
HERE, oor Israel--ja, voor die aangesig van die HERE sal ek vrolik wees!
22 En ek sal my nog geringer ag as dit--ek sal nederig wees in my eie oë en met
die slavinne van wie jy gepraat het, met hulle sal ek myself eer.
23 En Migal, die dogter van Saul, het tot die dag van haar dood geen kind gehad
nie.
7
1 En terwyl die koning in sy huis woon, nadat die HERE hom rus gegee het van al
sy vyande rondom,
2 sê die koning vir die profeet Natan: Kyk tog, ék woon in 'n huis van
sederhout, maar die ark van God woon binnekant 'n tentdoek.
3 Toe sê Natan aan die koning: Gaan heen, doen alles wat in u hart is, want die
HERE is met u.
4 Maar in dieselfde nag kom die woord van die HERE tot Natan en sê:
5 Gaan sê aan my kneg, aan Dawid: So spreek die HERE: Sou jy vir My 'n huis bou
om in te woon?
6 Ek het tog in geen huis gewoon van die dag af dat Ek die kinders van Israel
uit Egipte laat optrek het tot vandag toe nie; maar Ek het rondgetrek in 'n
tentwoning.
7 Oral waar Ek onder al die kinders van Israel rondgetrek het, het Ek ooit 'n
woord gespreek met een van die stamme van Israel, wat Ek aangestel het om my
volk Israel op te pas, en gesê: Waarom bou julle nie vir My 'n huis van
sederhout nie?
8 So moet jy dan nou aan my kneg, aan Dawid, sê: So spreek die HERE van die
leërskare: Ek self het jou geneem uit die weiveld agter die skape weg, om 'n
vors te wees oor my volk, oor Israel;
9 en Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en het al jou vyande voor jou
uitgeroei; en Ek sal vir jou 'n groot naam maak soos die naam van die grotes wat
op die aarde is;
10 en Ek sal vir my volk Israel 'n plek bestel en hom plant, dat hy op sy eie
plek kan woon en nie langer verontrus word nie. En kwaaddoeners sal hom nie meer
verdruk soos vroeër nie,
11 naamlik van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. Maar
Ek sal jou rus gee van al jou vyande; en die HERE gee jou te kenne dat die HERE
vir jou 'n huis sal stig.
12 As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling
wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig.
13 Hy sal vir my Naam 'n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in
ewigheid.
14 Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees; sodat as hy
verkeerd handel, Ek hom sal straf met 'n menslike roede en met slae van
mensekinders.
15 Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan
Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het.
16 En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou;
jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.
17 Volgens al hierdie woorde en volgens hierdie hele gesig, so het Natan met
Dawid gespreek.
18 Koning Dawid het toe ingegaan en voor die aangesig van die HERE gebly en
gesê: Wie is ek, Here HERE, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het?
19 En dit was nog te gering in u oë, Here HERE, sodat U ook aangaande die huis
van u kneg tot ver in die toekoms gespreek het; en dit is die wet vir mense,
Here HERE!
20 Maar wat sal Dawid nog verder met U spreek? want U ken u kneg, Here HERE.
21 Ter wille van u woord en volgens u hart het U hierdie hele groot saak gedoen,
om dit aan u kneg bekend te maak.
22 Daarom is U groot, HERE God! Want daar is niemand soos U, en daar is geen God
behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het.
23 En wie is soos u volk, soos Israel, 'n enige nasie op die aarde, wat God vir
Hom as 'n volk gaan verlos het, en om vir Hom 'n naam te maak; en om groot dinge
te doen vir hulle en vreeslike dinge aan u land voor u volk uit wat U verlos het
vir U van Egipte, van die heidene en hulle gode?
24 En U het u volk Israel vir U bevestig as 'n volk vir U tot in ewigheid; en U,
HERE, het vir hulle 'n God geword.
25 Laat dan nou, HERE God, die woord wat U oor u kneg en oor sy huis gespreek
het, in vervulling gaan tot in ewigheid, en doen soos U gespreek het;
26 sodat u Naam groot kan wees tot in ewigheid deurdat hulle sê: Die HERE van
die leërskare is God oor Israel; en die huis van u kneg Dawid sal voor u
aangesig bestendig wees.
27 Want U, HERE van die leërskare, God van Israel, het die oor van u kneg geopen
en gesê: Ek sal vir jou 'n huis bou; daarom het u kneg vrymoedigheid gevind om
hierdie gebed tot U te bid.
28 En nou, Here HERE, U is God en u woorde is waarheid; en U het u kneg hierdie
goeie saak toegesê.
29 Laat dit U dan nou behaag en seën die huis van u kneg, sodat dit vir ewig
voor u aangesig kan wees; want U, Here HERE, het dit gespreek, en deur u seën
sal die huis van u kneg vir ewig geseënd wees.
8
1 En daarna het Dawid die Filistyne verslaan en hulle onderwerp; en Dawid het
die gesag oor die moederstad uit die hand van die Filistyne geneem.
2 Hy het die Moabiete ook verslaan en hulle gemeet met 'n lyn deur hulle op die
grond te laat lê: en hy het twee mate gemeet om dood te maak en een volle maat
om te laat lewe; en die Moabiete het Dawid se belastingpligtige knegte geword.
3 Verder het Dawid Hadadéser, die seun van Rehob, die koning van Soba, verslaan,
toe dié getrek het om sy mag aan die Eufraatrivier te herstel.
4 En Dawid het van hom duisend sewe honderd perderuiters afgeneem en twintig
duisend man voetgangers, en Dawid het al die trekperde se hakskeensenings
afgesny, maar honderd trekperde daarvan laat oorbly.
5 En die Arameërs van Damaskus het gekom om Hadadéser, die koning van Soba, te
help; maar Dawid het onder die Arameërs twee en twintig duisend man verslaan.
6 En Dawid het wagposte in Aram-Damaskus uitgesit, sodat die Arameërs Dawid se
belastingpligtige knegte was; en die HERE het Dawid die oorwinning gegee oral
waar hy getrek het.
7 En Dawid het die goue skilde geneem wat die dienaars van Hadadéser gedra het,
en dit na Jerusalem gebring.
8 En uit Bétag en uit Berotái, stede van Hadadéser, het koning Dawid ontsaglik
veel koper weggeneem.
9 Toe Toï, die koning van Hamat, hoor dat Dawid die hele leërmag van Hadadéser
verslaan het,
10 stuur Toï sy seun Joram na koning Dawid om hom na die welstand te vra en hom
geluk te wens, omdat hy teen Hadadéser geveg en hom verslaan het--want Hadadéser
het gedurig oorlog gevoer met Toï--en in sy hand was silwer-- en goue en
kopervoorwerpe.
11 Dit het koning Dawid ook aan die HERE geheilig, saam met die silwer en die
goud wat hy geheilig het van al die nasies wat hy onderwerp het:
12 van die Arameërs en die Moabiete en van die kinders van Ammon en van die
Filistyne en van die Amalekiete en van die buit van Hadadéser, die seun van
Rehob, die koning van Soba.
13 En Dawid het naam gemaak toe hy, by sy terugkoms van die neerlaag van die
Arameërs, in die Soutdal agttien duisend Edomiete verslaan het.
14 En Dawid het wagposte in Edom uitgesit, in die hele Edom het hy wagposte
uitgesit, en al die Edomiete het Dawid se knegte geword; en die HERE het Dawid
die oorwinning gegee oral waar hy getrek het.
15 En Dawid het oor die hele Israel geregeer, en Dawid het aan sy hele volk reg
en geregtigheid gedoen.
16 En Joab, die seun van Serúja, was oor die leër; en Jósafat, die seun van
Ahílud, was kanselier.
17 En Sadok, die seun van Ahítub, en Ahiméleg, die seun van Abjatar, was
priesters, en Serája was skrywer.
18 En Benája, die seun van Jójada, was oor die Kreti en die Pleti, en die seuns
van Dawid was priesters.
9
1 En Dawid het gesê: Is daar nog iemand oor van die huis van Saul, dat ek aan
hom guns kan bewys ter wille van Jónatan?
2 En die huis van Saul het 'n dienaar gehad, met die naam van Siba; en hulle het
hom na Dawid geroep, en die koning het hom gevra: Is jy Siba? Toe antwoord hy: U
dienaar!
3 En die koning vra: Is daar nie nog iemand van die huis van Saul, dat ek die
guns van God aan hom kan bewys nie? Toe sê Siba aan die koning: Daar is nog 'n
seun van Jónatan, wat lam is aan altwee voete.
4 En die koning vra hom: Waar is hy? Toe sê Siba aan die koning: Kyk, hy is in
die huis van Magir, die seun van Ammiël, in Lódebar.
5 Daarop het koning Dawid gestuur en hom laat haal uit die huis van Magir, die
seun van Ammiël, uit Lódebar.
6 Toe Mefibóset, die seun van Jónatan, die seun van Saul, by Dawid inkom, het hy
op sy aangesig geval en hom neergebuig. En Dawid het gesê: Mefibóset! En hy het
geantwoord: Hier is u dienaar.
7 En Dawid sê vir hom: Wees nie bevrees nie, want ek sal jou sekerlik guns bewys
ter wille van jou vader Jónatan en al die grond van jou vader Saul aan jou
teruggee, en jy self sal altyddeur aan my tafel brood eet.
8 Toe buig hy en sê: Wat is u dienaar, dat u na 'n dooie hond soos ek is,
omgesien het?
9 En die koning het Siba, die dienaar van Saul, geroep en vir hom gesê: Alles
wat Saul en sy hele huis gehad het, gee ek aan die seun van jou heer.
10 En jy moet vir hom die grond bewerk, jy en jou seuns en jou slawe, en jy moet
voedsel inbring, dat die seun van jou heer brood het om te eet; maar Mefibóset,
die seun van jou heer, sal altyddeur aan my tafel brood eet. En Siba het vyftien
seuns en twintig slawe gehad.
11 Toe sê Siba aan die koning: Net soos my heer die koning sy dienaar beveel, so
sal u dienaar doen; en Mefibóset het aan die tafel van Dawid geëet soos een van
die koning se seuns.
12 En Mefibóset het 'n jong seun gehad met die naam van Miga, en almal wat in
die huis van Siba gewoon het, was Mefibóset se dienaars.
13 En Mefibóset het in Jerusalem gewoon, want hy het altyddeur aan die koning se
tafel geëet; en hy was lam aan altwee voete.
10
1 En daarna het die koning van die kinders van Ammon gesterwe, en sy seun Hanun
het in sy plek koning geword.
2 Toe sê Dawid: Ek wil guns bewys aan Hanun, die seun van Nahas, soos sy vader
aan my guns bewys het. Daarom het Dawid gestuur om hom deur sy dienaars oor sy
vader te troos. Toe die dienaars van Dawid dan in die land van die kinders van
Ammon kom,
3 het die vorste van die kinders van Ammon aan Hanun, hulle heer, gesê: Eer
Dawid u vader in u oë, omdat hy vir u troosters gestuur het? Het Dawid nie sy
dienaars na u gestuur om die stad te deursoek en dit te verken en dit om te keer
nie?
4 Daarop neem Hanun die dienaars van Dawid en skeer die een helfte van hulle
baard af en sny hulle klere in die helfte af, tot by hulle sitplekke; en hy het
hulle laat gaan.
5 En toe hulle aan Dawid hiervan berig bring, stuur hy om hulle tegemoet te
gaan, want die manne was baie skaam. En die koning het gesê: Bly in Jérigo
totdat julle baard weer gegroei het; kom dan terug.
6 Toe die kinders van Ammon sien dat hulle hul gehaat gemaak het by Dawid, het
die kinders van Ammon gestuur en die Arameërs van Bet-Rehob en die Arameërs van
Soba gehuur, twintig duisend voetgangers, en van die koning van Máäga, duisend
man, en die manne van Tob, twaalf duisend man.
7 En Dawid het dit gehoor en Joab met die hele leër, die helde, gestuur.
8 En die kinders van Ammon het uitgetrek en die slagorde opgestel by die ingang
van die poort, terwyl die Arameërs van Soba en Rehob en die manne van Tob en
Máäga afsonderlik in die veld was.
9 Toe Joab sien dat 'n aanval van voor sowel as van agter hom bedreig, het hy
uit al die uitgesoektes in Israel 'n keuse gedoen en hulle opgestel teenoor die
Arameërs.
10 Maar die ander manskappe het hy onder bevel van sy broer Abísai geplaas en
dié het hulle opgestel teenoor die kinders van Ammon.
11 En hy het gesê: As die Arameërs vir my te sterk word, moet jy my te hulp kom,
en as die kinders van Ammon vir jou te sterk word, sal ek kom om jou te help.
12 Wees sterk en laat ons ons sterk hou vir ons volk en vir die stede van onse
God. Mag die HERE dan doen wat goed is in sy oë!
13 Daarop het Joab en die manskappe wat by hom was, nader gekom om teen die
Arameërs te veg, en hulle het vir hom gevlug.
14 Toe die kinders van Ammon sien dat die Arameërs vlug, het hulle ook vir
Abísai gevlug en die stad ingegaan. En Joab het van die kinders van Ammon af
omgedraai en in Jerusalem aangekom.
15 Toe die Arameërs dan sien dat hulle voor Israel verslaan was, het hulle dig
aaneengesluit.
16 Ja, Hadaréser het gestuur en die Arameërs van oorkant die Eufraat laat
uittrek, en hulle het in Helam aangekom, met Sobag, die leërowerste van
Hadaréser, op hulle voorpunt.
17 Intussen het Dawid daarvan berig gekry en die hele Israel versamel en deur
die Jordaan getrek en in Helam aangekom; en die Arameërs het hulle teenoor Dawid
opgestel en teen hom geveg.
18 Maar die Arameërs het vir Israel gevlug, en Dawid het van die Arameërs sewe
honderd trekperde en veertig duisend ruiters gedood, en Sobag, die leërowerste,
so gewond, dat hy daar gesterf het.
19 En toe al die onderhorige konings van Hadaréser sien dat hulle voor Israel
verslaan was, het hulle met Israel vrede gesluit en hulle gedien; en die
Arameërs was bevrees om die kinders van Ammon langer te help.
11
1 En ná verloop van die jaar, teen die tyd dat die konings uittrek, stuur Dawid
Joab en sy dienaars saam met hom uit en die hele Israel. En hulle het die land
van die kinders van Ammon verniel en Rabba beleër, terwyl Dawid in Jerusalem
gebly het.
2 En teen die aand, toe Dawid van sy bed opgestaan het en op die dak van die
paleis wandel, sien hy van die dak af 'n vrou wat besig was om 'n bad te neem;
en die vrou was baie mooi van aansien.
3 En Dawid het ondersoek laat doen na die vrou, en hulle het gesê: Is dit nie
Bátseba, die dogter van Elíam, die vrou van Uría die Hetiet nie?
4 Daarop stuur Dawid boodskappers en laat haar haal. En toe sy by hom inkom, het
hy met haar gemeenskap gehad, terwyl sy haar juis van haar onreinheid gereinig
het. Daarna het sy na haar huis teruggegaan.
5 En die vrou het swanger geword en gestuur om Dawid te laat weet: Ek is
swanger.
6 En Dawid het Joab laat weet: Stuur Uría, die Hetiet, na my. En Joab het Uría
na Dawid gestuur.
7 Toe Uría dan by hom kom, vra Dawid of dit goed gaan met Joab, en of dit goed
gaan met die manskappe, en of dit goed gaan met die oorlog.
8 En Dawid sê vir Uría: Gaan af na jou huis en was jou voete. En toe Uría uit
die paleis uitgaan, het 'n geskenk van die koning hom gevolg.
9 Maar Uría het gaan slaap by die ingang van die paleis, by al die dienaars van
sy heer, en nie na sy huis afgegaan nie.
10 En daar is aan Dawid meegedeel en gesê: Uría het nie na sy huis afgegaan nie.
Toe vra Dawid vir Uría: Kom jy nie van 'n reis af nie? Waarom gaan jy nie af na
jou huis nie?
11 En Uría sê vir Dawid: Die ark en Israel en Juda bly in hutte, en my heer Joab
en die dienaars van my heer is gelaer in die oop veld; sou ek dan in my huis
ingaan om te eet en te drink en by my vrou te slaap? So waar as u leef en u siel
leef, ek sal dit nie doen nie!
12 En Dawid sê vir Uría: Bly vandag ook hier; dan sal ek jou môre laat gaan. En
Uría het dié dag in Jerusalem gebly.
13 Maar die volgende dag het Dawid hom genooi, en hy het voor sy aangesig geëet
en gedrink, en hy het hom dronk gemaak. Toe gaan hy in die aand uit om op sy
slaapplek by die dienaars van sy heer te gaan slaap; maar na sy huis het hy nie
afgegaan nie.
14 En in die môre skrywe Dawid 'n brief aan Joab en stuur dit met Uría weg.
15 En hy het in die brief geskrywe en gesê: Sit Uría op die voorpunt van die
hewigste geveg; trek julle dan agter hom terug, dat hy in die slag kan sneuwel.
16 So het Joab dan, terwyl hy die stad verken, Uría op 'n plek gesit waarvan hy
geweet het dat daar dapper manne was.
17 En toe die manne van die stad uittrek en met Joab veg, het daar van die
manskappe, van die dienaars van Dawid, geval, en Uría, die Hetiet, het ook
gesterwe.
18 Daarop stuur Joab om Dawid die hele beloop van die geveg mee te deel.
19 En hy gee die boodskapper bevel en sê: Net soos jy die hele beloop van die
geveg aan die koning klaar vertel het--
20 as dan die woede van die koning opkom en hy vir jou sê: Waarom het julle so
naby die stad gekom om te veg? Het julle dan nie geweet dat hulle bo van die
muur af sou skiet nie?
21 Wie het Abiméleg, die seun van Jerubbéset, verslaan? Het nie 'n vrou bo van
die muur af 'n boonste meulsteen op hom gegooi, sodat hy in Tebes gesterf het
nie? Waarom het julle so naby die muur gekom? --dan moet jy sê: U dienaar Uría,
die Hetiet, is ook dood!
22 En die boodskapper het gegaan en aangekom en aan Dawid alles vertel wat Joab
hom opgedra het.
23 Die boodskapper het naamlik aan Dawid gesê: Die manne was vir ons te sterk en
het teen ons uitgetrek die veld in, maar ons het hulle teruggedruk tot by die
ingang van die poort.
24 Toe het die boogskutters bo van die muur af op u dienaars geskiet, sodat daar
van die koning se dienaars gesterf het, en u dienaar Uría, die Hetiet, is ook
dood.
25 Daarop het Dawid aan die boodskapper gesê: So moet jy aan Joab sê: Laat
hierdie saak nie so verkeerd wees in jou oë nie, want die swaard verteer die een
sowel as die ander; veg net dapper teen die stad en verwoes dit. So moet jy hom
moed inpraat.
26 Toe die vrou van Uría hoor dat haar man Uría dood was, het sy gerouklaag oor
haar heer.
27 Nadat die routyd verby was, het Dawid gestuur en haar in sy huis opgeneem; en
sy het sy vrou geword en vir hom 'n seun gebaar. Maar die ding wat Dawid gedoen
het, was verkeerd in die oë van die HERE.
12
1 Daarom het die HERE Natan na Dawid gestuur. Toe hy by hom inkom, sê hy vir
hom: Daar was twee manne in 'n sekere stad, die een was ryk en die ander arm.
2 Die ryke het 'n groot menigte kleinvee en beeste gehad,
3 maar die arme het glad niks gehad nie, behalwe een klein ooilammetjie wat hy
gekoop en in die lewe gehou het, en wat by hom en saam met sy kinders groot
geword het; dit het van sy stukkie brood geëet en uit sy beker gedrink en in sy
skoot geslaap, en dit was vir hom soos 'n dogter.
4 En toe daar besoek kom by die ryk man, het hy ontsien om van sy kleinvee of
beeste te neem om vir die reisiger wat by hom gekom het, iets te berei; daarom
het hy die ooilam van die arm man geneem en dit berei vir die man wat by hom
gekom het.
5 En Dawid het baie kwaad geword vir die man en aan Natan gesê: So waar as die
HERE leef, die man wat dit gedoen het, moet sterwe!
6 En die ooilam moet hy viervoudig teruggee, omdat hy hierdie ding gedoen het en
geen ontferming geken het nie.
7 Toe sê Natan vir Dawid: U is die man! So sê die HERE, die God van Israel: Ék
het jou as koning gesalf oor Israel, en Ék het jou gered uit die hand van Saul;
8 en Ek het die huis van jou heer aan jou gegee, en die vroue van jou heer in
jou skoot, en Ek het die huis van Israel en Juda aan jou gegee; en as dit te min
was, sou Ek aan jou nog meer sulke dinge daarby wil voeg.
9 Waarom het jy die woord van die HERE verag deur te doen wat verkeerd is in sy
oë? Uría, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan, en sy vrou het jy vir jou
as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor
het.
10 En nou sal die swaard vir ewig van jou huis nie wyk nie, omrede dat jy My
verag het en die vrou van Uría, die Hetiet, geneem het om jou vrou te wees.
11 So sê die HERE: Kyk, Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek, en jou vroue
voor jou oë neem en aan jou naaste gee, sodat hy by jou vroue sal slaap voor die
oog van hierdie son.
12 Want jy het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal hierdie ding doen voor die
hele Israel en in die volle sonlig.
13 En Dawid sê vir Natan: Ek het gesondig teen die HERE! En Natan sê vir Dawid:
So het die HERE dan ook u sonde vergewe: u sal nie sterf nie.
14 Maar omdat u die vyande van die HERE deur hierdie saak aanleiding gegee het
om grootliks te laster, sal die kind wat vir u gebore is, ook sekerlik sterwe.
15 Toe gaan Natan na sy huis. En die HERE het die kind wat die vrou van Uría vir
Dawid gebaar het, getref, sodat dit ernstig siek geword het.
16 En Dawid het die aangesig van God gesoek vir die kind, en Dawid het 'n tyd
lank gevas en na binne gegaan en die hele nag deur op die grond gelê.
17 Daarop kom die oudstes van sy huis na hom en wou hom van die grond laat
opstaan, maar hy wou nie; ook het hy geen brood saam met hulle geëet nie.
18 En op die sewende dag het die kind gesterwe; en die dienaars van Dawid was
bevrees om hom te vertel dat die kind dood was, want hulle het gesê: Kyk, toe
die kind nog in die lewe was, het ons met hom gespreek, maar hy het nie na ons
geluister nie. Hoe kan ons dan vir hom sê: Die kind is dood! --hy kan 'n
verkeerde ding doen.
19 Maar toe Dawid sien dat sy dienaars onder mekaar fluister, het Dawid gemerk
dat die kind dood was. En Dawid sê aan sy dienaars: Is die kind dood? En hulle
antwoord: Hy is dood.
20 Toe het Dawid van die grond opgestaan en hom gewas en gesalf en ander klere
aangetrek en in die huis van die HERE gegaan en aanbid. Daarop het hy in sy huis
gekom en gevra dat hulle brood aan hom moet voorsit; en hy het geëet.
21 Toe vra sy dienaars hom: Wat is dit vir 'n ding wat u gedoen het? Ter wille
van die lewende kind het u gevas en geween, maar net toe die kind dood was, het
u opgestaan en brood geëet.
22 En hy sê: Toe die kind nog in die lewe was, het ek gevas en geween, want ek
het gedink: Wie weet--die HERE kan my genadig wees, sodat die kind in die lewe
bly.
23 Maar nou is hy dood--waarom sou ek dan vas? Sal ek hom nog kan terugbring? Ek
gaan na hom, maar hy sal na my nie terugkeer nie.
24 Daarna het Dawid sy vrou Bátseba getroos en by haar ingegaan en by haar
geslaap. En sy het 'n seun gebaar, en hy het hom Salomo genoem. En die HERE het
hom liefgehad,
25 en Hy het hom deur Natan, die profeet, Jedídja laat noem, ter wille van die
HERE.
26 En Joab het teen Rabba van die kinders van Ammon geveg en die koningstad
ingeneem.
27 Daarop stuur Joab boodskappers na Dawid om te sê: Ek het teen Rabba geveg,
ook het ek die waterstad ingeneem.
28 Maak u dan nou die orige manskappe bymekaar en beleër die stad en neem dit
in, sodat ék nie die stad inneem en my naam daaroor uitgeroep word nie.
29 Toe maak Dawid al die manskappe bymekaar, en hy het weggetrek na Rabba,
daarteen geveg en dit ingeneem.
30 En hy het die kroon van hulle koning van sy hoof afgeneem, waarvan die gewig
'n talent goud was, met 'n kosbare steen daarin, en dit het op die hoof van
Dawid gekom; en 'n baie groot buit van die stad het hy uitgebring.
31 En die manskappe wat daarin was, het hy uitgebring en hy het hulle aan die
werk gesit by die saag en by ysterpenne en ysterbyle, en hulle laat oorbring na
die steenoonde; en so het hy met al die stede van die kinders van Ammon gedoen.
Toe het Dawid met al die manskappe na Jerusalem teruggegaan.
13
1 En daarna het dit gebeur. Absalom, die seun van Dawid, het naamlik 'n mooi
suster gehad met die naam van Tamar, en Amnon, die seun van Dawid, was verlief
op haar.
2 En Amnon het dit hom so aangetrek, dat hy siek was oor sy suster Tamar; want
sy was 'n jongmeisie, en dit was in Amnon se oë onmoontlik om haar iets aan te
doen.
3 Maar Amnon het 'n vriend gehad, met die naam van Jónadab, 'n seun van Dawid se
broer Símea; en Jónadab was 'n baie skrander man.
4 En dié vra hom: Waarom lyk jy môre vir môre so bedruk, seun van die koning?
Sal jy my dit nie te kenne gee nie? Toe sê Amnon vir hom: Ek is verlief op
Tamar, die suster van my broer Absalom.
5 Toe sê Jónadab vir hom: Gaan lê op jou bed en hou jou siek. As jou vader dan
kom om jou te sien, moet jy vir hom sê: Laat my suster Tamar tog kom en my iets
gee om te eet en die ete voor my oë klaarmaak, dat ek dit kan sien en uit haar
hand eet.
6 En Amnon het gaan lê en hom siek gehou. Toe die koning kom om hom te sien, sê
Amnon aan die koning: Laat my suster Tamar tog kom en voor my oë twee koekies
maak, dat ek uit haar hand kan eet.
7 Daarop het Dawid na Tamar in die huis gestuur en gesê: Gaan tog in die huis
van jou broer Amnon en maak vir hom ete klaar.
8 Toe gaan Tamar in die huis van haar broer Amnon terwyl hy daar lê, en sy het
deeg geneem en geknie en koekies voor sy oë gemaak en die koekies gebak.
9 En sy het die pan geneem en dit voor hom omgekeer, maar hy het geweier om te
eet. En Amnon het gesê: Laat almal van my weggaan! En almal het van hom
weggegaan.
10 Toe sê Amnon aan Tamar: Bring die ete in die slaapkamer, dat ek uit jou hand
kan eet. En Tamar het die koekies wat sy gemaak het, geneem en vir haar broer
Amnon in die slaapkamer gebring.
11 Terwyl sy dit nader bring na hom om te eet, het hy haar gegryp en vir haar
gesê: Kom lê by my, my suster!
12 Maar sy sê vir hom: Asseblief nie, my broer, onteer my nie, want so iets mag
in Israel nie gedoen word nie; moenie so 'n skande begaan nie.
13 Waar sou ék tog met my skande heen, en jy sou soos een van die dwase in
Israel wees; spreek dan tog nou met die koning, want hy sal my nie van jou
terughou nie.
14 Maar hy wou nie na haar luister nie en het haar oorweldig en haar onteer en
met haar gemeenskap gehad.
15 Toe het Amnon 'n baie groot afkeer van haar gekry, ja, die afkeer wat hy van
haar gekry het, was groter as die liefde waarmee hy haar liefgehad het; en Amnon
sê vir haar: Staan op, gaan weg!
16 Maar sy sê vir hom: Aangaande die kwaad om my weg te stuur, dit is groter as
die ander wat jy my aangedoen het. Maar hy wou nie na haar luister nie.
17 Daarop roep hy sy kneg wat hom bedien, en sê: Stuur hierdie vrou tog van my
af weg buitentoe, en sluit die deur agter haar toe.
18 En sy het 'n lang rok met moue aangehad, want sulke mantels het die
koninklike dogters wat maagde was, gedra. Toe sy bediende haar buitentoe
uitgebring en die deur agter haar toegesluit het,
19 het Tamar as op haar hoof gestrooi en daardie lang rok met moue geskeur;
daarby het sy haar hand op haar hoof gelê en aldeur geloop en weeklaag.
20 En haar broer Absalom sê vir haar: Was jou broer Amnon by jou? Swyg dan nou,
my suster! Hy is jou broer, sit jou hart nie op hierdie saak nie. So het Tamar
dan as 'n verlatene in die huis van haar broer Absalom gebly.
21 Toe koning Dawid al hierdie dinge hoor, het hy baie kwaad geword.
22 Maar Absalom het met Amnon geen kwaad of goed gepraat nie, maar Absalom het
Amnon gehaat, omdat hy sy suster Tamar onteer het.
23 En ná twee volle jare het Absalom skeerders gehad in Baäl-Hasor wat by Efraim
is, en Absalom het al die seuns van die koning genooi.
24 Daarop kom Absalom by die koning en sê: Kyk tog, u dienaar het skeerders.
Laat die koning en sy dienaars tog met u dienaar saamgaan.
25 Maar die koning sê vir Absalom: Ag nee, my seun, laat ons tog nie almal
saamgaan nie, sodat ons jou nie lastig val nie. En hy het by hom aangehou, maar
hy wou nie gaan nie en het hom die afskeidseën gegee.
26 Daarop sê Absalom: So nie, laat my broer Amnon tog saam met ons gaan. Maar
die koning sê vir hom: Waarom moet hy met jou saamgaan?
27 Toe Absalom dan by hom aanhou, het hy Amnon en al die seuns van die koning
met hom saam laat gaan.
28 En Absalom het sy dienaars bevel gegee en gesê: Let tog op, net soos Amnon se
hart vrolik is van die wyn en ek vir julle sê: Slaan Amnon dood! dan moet julle
hom doodmaak. Wees nie bevrees nie; het ék julle dit nie beveel nie? Wees sterk
en wees wakker manne.
29 En die dienaars van Absalom het met Amnon gedoen soos Absalom hulle beveel
het. Toe het al die seuns van die koning opgestaan, en hulle het elkeen op sy
muil geklim en gevlug.
30 Terwyl hulle op pad was, kom die gerug by Dawid: Absalom het al die seuns van
die koning doodgeslaan en nie een van hulle het oorgebly nie.
31 Toe staan die koning op en skeur sy klere en gaan lê op die grond, terwyl al
sy dienaars met geskeurde klere daarby staan.
32 Maar Jónadab, die seun van Dawid se broer Símea, het geantwoord en gesê: My
heer moet nie dink dat hulle al die jongmanne, die seuns van die koning, gedood
het nie, maar Amnon alleen is dood, want dit was aan die gesig van Absalom te
sien van die dag af dat hy sy suster Tamar onteer het.
33 My heer die koning moet dit dan nou nie ter harte neem en dink al die seuns
van die koning is dood nie. Maar Amnon alleen is dood.
34 En Absalom het gevlug. Toe die jongman wat op wag staan, sy oë opslaan, sien
hy dat daar 'n groot skare kom van 'n pad agter hom, aan die kant van die berg.
35 En Jónadab sê aan die koning: Kyk, daar kom die seuns van die koning; volgens
die woord van u dienaar, so het dit gebeur.
36 En net toe hy klaar gespreek het--daar kom die seuns van die koning aan en
verhef hulle stem en ween. En ook die koning en al sy dienaars het geween met 'n
baie groot geween.
37 Maar Absalom het gevlug en na Tálmai, die seun van Ammíhur, die koning van
Gesur, gegaan. En Dawid het al die dae gerou oor sy seun.
38 En Absalom het gevlug en na Gesur gegaan, en hy was daar drie jaar lank.
39 En die gees van koning Dawid het baie verlang om na Absalom uit te gaan, want
hy het homself getroos oor Amnon, dat hy dood was.
14
1 Toe Joab, die seun van Serúja, merk dat die hart van die koning aan Absalom
verkleef was,
2 het Joab na Tekóa gestuur en daarvandaan 'n skrander vrou laat haal en aan
haar gesê: Stel jou tog aan soos een wat treur, en trek rouklere aan; en salf
jou nie met olie nie, maar hou jou soos 'n vrou wat al baie dae rou oor 'n dode.
3 Gaan dan na die koning en spreek met hom volgens hierdie woord. En Joab het
die woorde in haar mond gelê.
4 En die vrou uit Tekóa het by die koning ingekom en op haar aangesig op die
grond geval en gebuig en gesê: Help, o koning!
5 Toe vra die koning haar: Wat wil jy hê? En sy sê: Voorwaar, ek is 'n weduwee
en my man is dood.
6 En u dienares het twee seuns gehad, en hulle twee het met mekaar geveg in die
veld; en daar was niemand om hulle uitmekaar te maak nie, sodat die een die
ander neergeslaan en hom gedood het.
7 En kyk, toe staan die hele geslag op teen u dienares, en hulle sê: Gee hom wat
sy broer doodgeslaan het, dat ons hom kan doodmaak vir die lewe van sy broer wat
hy vermoor het, ja, ook die erfgenaam kan verdelg. So wil hulle dan my vuurkool
wat oorgebly het, uitdoof om vir my man geen naam of oorblyfsel op die aardbodem
te laat bly nie.
8 En die koning antwoord die vrou: Gaan na jou huis, en ek sal oor jou bevel
gee.
9 Daarop sê die vrou uit Tekóa aan die koning: Op my, my heer die koning, en op
my familie sal die skuld rus, maar die koning en sy troon is onskuldig.
10 En die koning antwoord: Elkeen wat met jou spreek, moet jy na my bring, dan
sal hy jou verder nie meer aanraak nie.
11 En sy sê: Laat die koning tog dink aan die HERE u God, sodat die bloedwreker
nie te veel vernieling aanrig en hulle my seun nie verdelg nie. Toe sê hy: So
waar as die HERE leef, nie een haar van jou seun sal op die grond val nie!
12 En die vrou vra: Laat u dienares tog 'n woord met my heer die koning spreek.
En hy antwoord: Spreek.
13 Toe sê die vrou: Waarom het u dan so iets bedink teen die volk van God? Want
daardeur dat die koning hierdie woord spreek, is hy soos 'n skuldige deurdat die
koning sy eie verstotene nie laat terugkom nie.
14 Want ons moet eenmaal sterwe en soos water wees wat uitgegooi word op die
grond, wat 'n mens nie weer kan versamel nie; en God neem die lewe nie weg nie,
maar Hy koester gedagtes om 'n verstotene nie van Hom af te stoot nie.
15 Dat ék dan nou kom om hierdie woord met my heer die koning te spreek, was
omdat die volk my bevrees gemaak het. Maar u dienares het gedink: Laat ek tog
met die koning gaan spreek; miskien sal die koning die wens van u dienares
uitvoer.
16 Want die koning sal seker luister om sy dienares te red uit die hand van die
man wat probeer om my en my seun saam uit die erfdeel van God uit te roei.
17 Verder het u dienares gedink: Mag tog die woord van my heer die koning tot
gerusstelling wees. Want soos 'n engel van God, so is my heer die koning om goed
en kwaad te verstaan. En mag die HERE u God met u wees!
18 Toe antwoord die koning die vrou en sê: Steek tog vir my niks weg wat ek jou
sal vra nie. En die vrou sê: Laat my heer die koning maar spreek.
19 Daarop vra die koning: Het Joab die hand in dit alles met jou saam? En die
vrou antwoord en sê: So waar as u siel leef, my heer die koning, dit is
onmoontlik om regs of links af te wyk van alles wat my heer die koning gespreek
het; ja, u dienaar Joab, hy het my bevel gegee, en hy het al hierdie woorde in u
dienares se mond gelê.
20 Om die saak 'n ander voorkoms te gee, het u dienaar Joab hierdie ding gedoen.
Maar my heer is wys soos die wysheid van 'n engel van God om alles te weet wat
op die aarde gebeur.
21 En die koning sê vir Joab: Nou kyk, ek voer hierdie wens uit. Gaan dan heen,
bring die jongman Absalom terug.
22 Daarop val Joab op sy aangesig op die grond en hy buig hom neer en seën die
koning. En Joab sê: Vandag weet u dienaar dat ek guns in u oë gevind het, my
heer die koning, omdat die koning die wens van sy dienaar uitvoer.
23 En Joab het hom klaargemaak en na Gesur gegaan en Absalom na Jerusalem
gebring.
24 En die koning het gesê: Hy kan in sy huis intrek, maar my aangesig mag hy nie
sien nie. En Absalom het in sy huis ingetrek, maar die aangesig van die koning
nie gesien nie.
25 En in die hele Israel was daar geen man so mooi soos Absalom, so geprys nie:
van sy voetsool af tot sy hoofskedel toe was daar geen gebrek aan hom nie.
26 En as hy sy hoof laat skeer--hy het dit naamlik aan die end van elke jaar
laat skeer, omdat dit vir hom te swaar was, daarom het hy dit laat skeer--dan
het die hare van sy hoof twee honderd sikkels geweeg volgens die koninklike
gewig.
27 En vir Absalom is drie seuns gebore en een dogter met die naam van Tamar, 'n
vrou wat mooi van aansien was.
28 En Absalom het twee volle jare in Jerusalem gewoon sonder dat hy die aangesig
van die koning gesien het.
29 Daarom het Absalom Joab laat roep, om hom na die koning te stuur, maar hy wou
nie na hom kom nie; en hy het nog vir die tweede keer gestuur, maar hy wou nie
kom nie.
30 Daarop sê hy aan sy dienaars: Kyk, Joab se stuk land is langsaan myne, en hy
het gars daarop; gaan steek dit aan die brand. En Absalom se dienaars het die
stuk land aan die brand gesteek.
31 Toe staan Joab op en kom by Absalom in die huis en vra hom: Waarom het jou
dienaars die stuk land wat aan my behoort, aan die brand gesteek?
32 En Absalom sê vir Joab: Kyk, ek het na jou gestuur om te sê: Kom hierheen,
dat ek jou na die koning kan stuur om te vra: Waarvoor het ek van Gesur af
gekom? Dit was vir my beter as ek nog daar was. Ek wil dan nou die aangesig van
die koning sien, en as daar by my skuld is, laat hy my dan doodmaak.
33 Toe het Joab na die koning gegaan en hom dit meegedeel. En hy het Absalom
geroep, en dié het na die koning gegaan en voor hom gebuig met sy aangesig na
die aarde toe, voor die koning; en die koning het Absalom gesoen.
15
1 En daarna het Absalom vir hom 'n wa en perde aangeskaf en vyftig man om voor
hom uit te loop.
2 Verder het Absalom gereeld vroeg opgestaan en langs die pad na die poort gaan
staan; en Absalom het elkeen wat 'n saak gehad het om na die koning te kom vir
regspraak, aangeroep en gesê: Uit watter stad is jy? As hy dan antwoord: U
dienaar is uit een van die stamme van Israel--
3 dan sê Absalom vir hom: Kyk, jou saak is goed en reg, maar van die koning se
kant sal niemand jou gehoor gee nie.
4 Verder het Absalom gesê: Mag hulle my as regter in die land aanstel, dat
elkeen wat 'n geskil of regsaak het, na my kan kom; dan sal ék aan hom reg laat
geskied.
5 En elke keer as iemand nader kom om voor hom te buig, steek hy sy hand uit en
gryp hom en soen hom.
6 Op dié manier het Absalom met al die Israeliete gehandel wat vir regspraak na
die koning kom, sodat Absalom die hart van die manne van Israel gesteel het.
7 En ná verloop van vier jaar het Absalom aan die koning gesê: Laat my tog gaan
en my gelofte wat ek aan die HERE gedoen het, in Hebron betaal;
8 want u dienaar het 'n gelofte gedoen toe ek in Gesur in Aram gewoon het, en
gesê: As die HERE my werklik in Jerusalem terugbring, sal ek die HERE dien.
9 Toe sê die koning vir hom: Gaan in vrede! En hy het hom klaargemaak en na
Hebron gegaan.
10 Verder het Absalom spioene uitgestuur onder al die stamme van Israel om te
sê: As julle die geluid van die ramshoring hoor, moet julle sê: Absalom is
koning in Hebron!
11 En uit Jerusalem het twee honderd man met Absalom saamgetrek wat genooi was
en in hulle onskuld gegaan het sonder dat hulle van die hele saak iets geweet
het.
12 Absalom het ook, terwyl hy die slagoffers bring, Agitófel, die Giloniet, 'n
raadgewer van Dawid, uit sy stad, uit Gilo, laat roep. So het dan die
sameswering sterk geword en die mense aldeur meer by Absalom aangesluit.
13 Toe daar dan 'n boodskapper by Dawid kom en sê: Die hart van die manne van
Israel is agter Absalom aan--
14 het Dawid aan al sy dienaars wat by hom in Jerusalem was, gesê: Maak klaar en
laat ons vlug, want daar sal vir ons geen ontkoming wees voor Absalom uit nie!
Maak gou om weg te kom, sodat hy ons nie miskien gou inhaal en onheil oor ons
bring en die stad met die skerpte van die swaard verslaan nie.
15 En die dienaars van die koning sê vir die koning: Net soos my heer die koning
verkies--hier is u dienaars!
16 En die koning het uitgegaan met sy hele huis agter hom aan, maar die koning
het tien byvroue agter laat bly om die huis op te pas.
17 En toe die koning met al die mense agter hom aan uitgetrek het, het hulle bly
staan by die verste huis,
18 onderwyl al sy dienaars langs hom verbytrek, ook al die Kreti en al die
Pleti. Ook al die Gittiete, ses honderd man wat uit Gat agter hom aan gekom het,
het voor die koning verbygetrek.
19 En die koning sê vir Ittai, die Gittiet: Waarvoor sou jy ook met ons
saamgaan? Draai om en bly by die koning, want jy is 'n uitlander en ook 'n
balling uit jou woonplek.
20 Jy het gister gekom, en vandag sou ek jou laat rondswerwe om met ons saam te
trek terwyl ek wie weet waarheen gaan! Draai om, en bring jou broers terug. Mag
guns en trou met jou wees!
21 Maar Ittai het die koning geantwoord en gesê: So waar as die HERE leef en my
heer die koning leef, voorwaar, op die plek waar my heer die koning sal wees vir
dood of vir lewe, daar sal u dienaar sekerlik ook wees!
22 Toe sê Dawid vir Ittai: Gaan, trek dan verby! En Ittai, die Gittiet, het
verbygetrek met al sy manne en al die kinders wat by hom was.
23 En die hele land het hardop gehuil terwyl al die mense verbytrek; en die
koning het deur die spruit Kidron getrek; en al die mense het deurgetrek op pad
na die woestyn.
24 En kyk, Sadok was ook daar, en al die Leviete by hom wat die verbondsark van
God dra, en hulle het die ark van God neergesit--Abjatar het ook
opgetrek--totdat al die mense uit die stad tot die laaste toe deurgetrek het.
25 Toe sê die koning vir Sadok: Bring die ark van God terug in die stad. As ek
genade vind in die oë van die HERE, sal Hy my terugbring, en Hy sal my dit en sy
woning laat sien.
26 Maar as Hy so sê: Ek het in jou geen behae nie--hier is ek! Laat Hy met my
doen soos goed is in sy oë.
27 Verder het die koning aan die priester Sadok gesê: U is tog siener? Gaan in
vrede na die stad terug, en julle twee seuns, Ahímaäs, jou seun, en Jónatan, die
seun van Abjatar, met julle saam.
28 Kyk, ek vertoef by die woestyndriwwe totdat daar 'n woord van julle kom om my
in te lig.
29 En Sadok en Abjatar het die ark van God teruggebring na Jerusalem en daar
gebly.
30 En Dawid het die hoogte van die olywe opgeklim, terwyl hy aldeur loop en
ween; en sy hoof was bedek, en hy het kaalvoet geloop; en al die mense wat by
hom was, hulle het elkeen sy hoof bedek en opgegaan en aldeur geween.
31 Nadat aan Dawid meegedeel is: Agitófel is onder die samesweerders met Absalom
saam, het Dawid gesê: o HERE, verydel tog die raad van Agitófel!
32 En toe Dawid tot bo-op die top kom, waar hulle God aanbid het, ontmoet Húsai,
die Arkiet, hom daar, met geskeurde rok en grond op sy hoof.
33 En Dawid sê vir hom: As jy saam met my verder gaan, sal jy my tot 'n las
wees.
34 Maar as jy teruggaan na die stad en vir Absalom sê: U dienaar, o koning, wil
ek wees; tevore was ek wel u vader se dienaar, maar nou is ek u dienaar--dan kan
jy vir my die raad van Agitófel verydel.
35 En is die priesters Sadok en Abjatar nie daar saam met jou nie? Alles wat jy
dan hoor uit die huis van die koning, moet jy aan Sadok en Abjatar, die
priesters, te kenne gee.
36 Kyk, hulle twee seuns is daar by hulle, Ahímaäs van Sadok en Jónatan van
Abjatar, en deur hulle moet julle alles wat julle verneem, aan my laat weet.
37 Daarop het Húsai, die vriend van Dawid, in die stad gekom, terwyl Absalom
aankom na Jerusalem.
16
1 Nadat Dawid van die top af 'n entjie verder getrek het, kom Siba, die dienaar
van Mefibóset, meteens hom tegemoet met 'n paar opgesaalde esels en op hulle
twee honderd brode en honderd rosynekoeke en honderd somervrugte en 'n sak wyn.
2 En die koning het Siba gevra: Wat wil jy hiermee maak? En Siba sê: Die esels
is vir die huis van die koning om op te ry, en die brood en die somervrugte vir
die dienaars om te eet, en die wyn vir die vermoeides in die woestyn om te
drink.
3 En die koning vra: Maar waar is die seun van jou heer? En Siba sê vir die
koning: Kyk, hy het daar in Jerusalem gebly, want hy dink: Vandag sal die huis
van Israel my vader se koningskap aan my teruggee.
4 Daarop sê die koning vir Siba: Kyk, alles wat aan Mefibóset behoort, is joue.
En Siba sê: Ek buig my neer! Mag ek genade vind in u oë, my heer die koning!
5 En toe koning Dawid tot by Bahúrim gekom het, kom daarvandaan juis 'n man te
voorskyn uit die geslag van die huis van Saul met die naam van Símeï, die seun
van Gera; hy het uitgekom en gedurigdeur gevloek
6 en Dawid en al die dienaars van koning Dawid met klippe gegooi, alhoewel al
die mense en al die helde aan sy regter-- en aan sy linkerkant was.
7 En dit het Símeï gesê terwyl hy vloek: Weg, weg, jou bloedvergieter en jou
deugniet!
8 Die HERE het al die bloed van die huis van Saul, in wie se plek jy koning
geword het, op jou laat neerkom; en die HERE het die koningskap in die hand van
jou seun Absalom gegee, en hier is jy nou in jou ongeluk, omdat jy 'n
bloedvergieter is.
9 Toe vra Abísai, die seun van Serúja, vir die koning: Waarom moet hierdie dooie
hond my heer die koning vloek? Laat ek tog oorstap en sy kop afslaan!
10 Maar die koning sê: Wat het ek met julle te doen, seuns van Serúja? As hy
vloek, en as die HERE aan hom gesê het: Vloek Dawid! wie mag dan vra: Waarom
maak jy so?
11 Verder het Dawid aan Abísai en al sy dienaars gesê: Kyk, my seun wat uit my
liggaam voortgekom het, soek my lewe: hoeveel te meer dan nou die Benjaminiet?
Laat hom staan, dat hy vloek, want die HERE het hom dit beveel.
12 Miskien sal die HERE my ellende aansien en sal die HERE my goed vergelde vir
die vloek wat my vandag tref.
13 Dawid en sy manne het toe met die pad getrek, terwyl Símeï al langs hom aan
die kant van die berg gedurig loop en vloek, en al langs hom met klippe gooi en
stof maak.
14 En moeg het die koning en al die mense wat by hom was, by die Jordaan
aangekom en daar asem geskep.
15 Intussen het Absalom en al die manskappe, die manne van Israel, in Jerusalem
aangekom, en Agitófel was by hom.
16 En net toe Húsai, die Arkiet, die vriend van Dawid, by Absalom kom, sê Húsai
vir Absalom: Mag die koning leef, mag die koning leef!
17 Maar Absalom vra vir Húsai: Is dit jou liefde teenoor jou vriend? Waarom het
jy nie saam met jou vriend getrek nie?
18 Toe sê Húsai vir Absalom: Nee, maar aan hom wat die HERE verkies, en hierdie
volk en al die manne van Israel, aan hom behoort ek, en by hom sal ek bly.
19 En ten tweede: Wie sal ék dien? Is dit nie voor die aangesig van sy seun nie?
Soos ek voor u vader gedien het, so sal ek voor u wees.
20 Daarop sê Absalom vir Agitófel: Julle moet raad gee onder mekaar wat ons moet
doen.
21 En Agitófel sê vir Absalom: Gaan in by die byvroue van u vader wat hy laat
agter bly het om die huis op te pas. Dan sal die hele Israel hoor dat u u gehaat
gemaak het by u vader, en die hande van almal wat by u is, sal versterk word.
22 Hulle het toe vir Absalom 'n tent op die dak opgeslaan, en Absalom het voor
die oë van die hele Israel by die byvroue van sy vader ingegaan.
23 En die raad wat Agitófel in dié dae gegee het, was asof 'n mens die woord van
God geraadpleeg het. So was elke raad van Agitófel vir Dawid sowel as vir
Absalom.
17
1 Verder het Agitófel vir Absalom gesê: Laat ek tog twaalf duisend man uitsoek
en my klaarmaak en Dawid vannag agternajaag,
2 dat ek hom kan oorval, terwyl hy moeg en slap van hande is, en hom verskrik;
dan sal al die mense vlug wat by hom is, en ek sal net die koning neerslaan.
3 En ek sal die hele volk na u terugbring: die terugkeer van almal hang af van
die man wat u soek; die hele volk sal tevrede wees.
4 En die woord was reg in die oë van Absalom en in die oë van al die oudstes van
Israel.
5 Maar Absalom het gesê: Roep tog ook Húsai, die Arkiet, en laat ons ook hoor
wat hy sê.
6 Toe Húsai by Absalom inkom, het Absalom met hom gespreek en gesê: So het
Agitófel gespreek. Sal ons sy raad opvolg? So nie, spreek jy dan.
7 En Húsai sê vir Absalom: Die raad wat Agitófel hierdie keer gegee het, is nie
goed nie.
8 Verder het Húsai gesê: U weet dat u vader en sy manne helde is en bitter van
siel soos 'n beer wat van haar kleintjies beroof is in die veld; ook is u vader
'n krygsman, en hy sal nie by die volk vernag nie.
9 Kyk, nou het hy hom weggesteek in een van die kuile of in een van die ander
plekke, en as daar al by die begin enkele onder hulle val en die mense dit hoor,
sal hulle sê: Die manskappe wat Absalom volg, het 'n neerlaag gely!
10 Dan sal selfs hy wat 'n dapper man is, wat 'n hart het soos 'n leeu se hart,
heeltemal versmelt; want die hele Israel weet dat u vader 'n held is, en dat
dapper manne by hom is.
11 Maar ek raai aan: Laat die hele Israel van Dan tot Berséba, soos sand wat aan
die seestrand is in menigte, voltallig by u versamel word; en u moet persoonlik
in die stryd trek.
12 En as ons by hom kom in een van die plekke waar hy hom bevind, dan val ons op
hom neer soos dou op die aarde val, sodat daar van hom en van al die manne wat
by hom is, selfs nie een oorbly nie.
13 En as hy hom in 'n stad terugtrek, moet die hele Israel toue aanbring na
daardie stad, en ons sal dit wegsleep na die spruit totdat daar selfs geen
klippie meer te vinde is nie.
14 Toe sê Absalom en al die manne van Israel: Die raad van Húsai, die Arkiet, is
beter as die raad van Agitófel. Maar die HERE het dit beskik om die goeie raad
van Agitófel te verydel, sodat die HERE die onheil oor Absalom kon bring.
15 En Húsai het aan Sadok en Abjatar, die priesters, gesê: So en so het Agitófel
Absalom en die oudstes van Israel aangeraai, maar so en so het ek aangeraai.
16 Stuur dan nou gou, en laat Dawid weet: Vernag nie by die woestyndriwwe nie,
maar trek sekerlik deur; anders word die koning en al die mense wat by hom is,
vernietig.
17 Intussen het Jónatan en Ahímaäs by die fontein Rogel gestaan, terwyl 'n
diensmeisie gaan om vir hulle berig te bring; hulle moes dan weer gaan en dit
aan koning Dawid oorbring. Want hulle moes hulle nie laat sien deur in die stad
in te gaan nie.
18 Maar 'n seun het hulle gesien en dit aan Absalom meegedeel. Toe gaan hulle
twee haastig weg en kom by die huis van 'n man in Bahúrim wat 'n put op sy erf
gehad het, en hulle het daarin afgesak.
19 En die vrou het 'n doek geneem en dit bo-oor die put oopgetrek en
graankorrels daarop uitgestrooi, sodat 'n mens niks kon merk nie.
20 Toe Absalom se dienaars by die vrou in die huis kom, vra hulle: Waar is
Ahímaäs en Jónatan? En die vrou sê vir hulle: Hulle het die watertjie
deurgegaan. En hulle het gesoek maar niks gekry nie, en na Jerusalem
teruggegaan.
21 Nadat hulle weg was, het hulle uit die put opgeklim en verder gegaan en aan
koning Dawid berig gebring en aan Dawid gesê: Maak julle klaar en trek gou die
water deur, want so het Agitófel teen julle raad gegee.
22 Daarop het Dawid hom klaargemaak, en al die mense wat by hom was, en die
Jordaan deurgetrek. Teen dat dit die môre lig geword het, het selfs nie een
ontbreek wat nie die Jordaan deurgetrek het nie.
23 En toe Agitófel sien dat sy raad nie opgevolg is nie, saal hy die esel op en
maak hom klaar, en hy het na sy huis in sy stad gegaan en aan sy huis bevel
gegee en homself gewurg. So het hy dan gesterwe; en hy is begrawe in die graf
van sy vader.
24 En Dawid het al in Mahanáim aangekom terwyl Absalom deur die Jordaan trek, hy
en al die manne van Israel saam met hom.
25 En Absalom het Amása in Joab se plek oor die leër aangestel; en Amása was die
seun van 'n man met die naam van Jitra, die Ismaeliet wat ingegaan het by
Abígail, die dogter van Nahas, die suster van Serúja, Joab se moeder.
26 En Israel en Absalom het laer opgeslaan in die land Gílead.
27 Net toe Dawid in Mahanáim aankom, bring Sobi, die seun van Nahas, uit Rabba
van die kinders van Ammon, en Magir, die seun van Ammiël, uit Lódebar, en
Barsíllai, die Gileadiet, uit Rógelim,
28 beddegoed en skottels en erdegoed en koring en gars en meel en gebraaide
koring en bone en lensies, ook gebraai,
29 en heuning en dikmelk en kleinvee en kaas van beesmelk na Dawid om te eet, en
na die mense wat by hom was, want hulle het gesê: Die mense het honger en is
moeg en het dors geword in die woestyn.
18
1 En Dawid het die manskappe gemonster wat by hom was, en owerstes oor duisend
en owerstes oor honderd oor hulle aangestel.
2 En Dawid het die manskappe uitgestuur: 'n derde deel onder bevel van Joab, en
'n derde onder Abísai, die seun van Serúja, die broer van Joab, en 'n derde
onder Ittai, die Gittiet; en die koning het aan die manskappe gesê: Ek sal ook
seker saam met julle uittrek.
3 Maar die manskappe het gesê: U mag nie uittrek nie, want as ons miskien vlug,
sal hulle nie op ons ag gee nie; ja, al sterwe die helfte van ons, hulle sal nie
op ons ag gee nie, want u is soos tien duisend van ons. Dit is dan nou beter dat
u ons van die stad uit te hulp kom.
4 Toe sê die koning vir hulle: Wat goed is in julle oë, sal ek doen. En die
koning het langs die poort gaan staan, terwyl al die manskappe by honderde en by
duisende uittrek.
5 En die koning het Joab en Abísai en Ittai bevel gegee en gesê: Saggies met die
jongman, met Absalom. En al die manskappe het gehoor toe die koning aan al die
owerstes bevel gee omtrent Absalom.
6 Daarop trek die manskappe uit, die veld in om Israel te ontmoet; en die geveg
het plaasgevind in die bos van Efraim.
7 En die manskappe van Israel is daar voor die dienaars van Dawid verslaan, en
die neerlaag was dié dag daar groot, twintig duisend.
8 Maar die geveg is daar uitgebrei oor die oppervlakte van die hele land, en die
bos het daardie dag onder die mense meer verteer as wat die swaard verteer het.
9 En die dienaars van Dawid het Absalom onverwags aangetref terwyl Absalom op 'n
muil ry; en toe die muil onder die digte takke van 'n groot terpentynboom
ingaan, het sy hoof in die terpentynboom vasgehaak, sodat hy tussen hemel en
aarde bly hang het, terwyl die muil onder hom wegloop.
10 Toe die man dit sien, het hy aan Joab berig gebring en gesê: Kyk, ek het
Absalom aan 'n terpentynboom sien hang.
11 En Joab sê vir die man wat hom die berig gebring het: En as jy dit gesien
het, waarom het jy hom dan nie daar teen die grond neergeslaan nie? Dan moes ek
jou tien silwerstukke en een gord gegee het.
12 Maar die man sê vir Joab: Al kon ek ook duisend silwerstukke op my hande
weeg, ek sou my hand tog nie uitsteek teen die seun van die koning nie; want die
koning het u en Abísai en Ittai voor ons ore bevel gegee en gesê: Julle, wie dan
ook, moet vir die jongman Absalom sorg.
13 Of as ek vals teen sy lewe gehandel het--niks tog bly vir die koning verborge
nie--dan sou u opsy gestaan het.
14 Toe sê Joab: Ek wil nie so by jou vertoef nie! En hy het drie spiese in sy
hand geneem en dié in die hart van Absalom gesteek, terwyl hy nog lewendig was
binne-in die terpentynboom.
15 En tien jongmanne, wapendraers van Joab, het nader gekom en Absalom
doodgeslaan.
16 Daarop blaas Joab op die ramshoring, en al die manskappe het omgedraai en
Israel nie meer agtervolg nie, want Joab het die manskappe teruggehou.
17 Toe het hulle Absalom geneem en hom in die bos in 'n groot kuil gegooi en 'n
baie groot hoop klippe bo-op hom gestapel, onderwyl die hele Israel elkeen na sy
tent vlug.
18 En Absalom het gedurende sy lewe die gedenksteen wat in die koningsdal staan,
geneem en vir homself opgerig met die woorde: Ek het geen seun om my naam in
gedagtenis te hou nie; en hy het die gedenksteen na sy naam genoem, en dit word
tot vandag toe genoem die gedenkteken van Absalom.
19 Daarop sê Ahímaäs, die seun van Sadok: Laat my tog hardloop en aan die koning
die goeie boodskap bring dat die HERE aan hom reg verskaf het teenoor sy vyande.
20 Maar Joab sê vir hom: Jy is nie vandag 'n man vir 'n boodskap nie, maar
anderdag kan jy 'n boodskap bring--vandag mag jy nie die boodskap bring nie juis
omdat die seun van die koning dood is.
21 Toe sê Joab vir die Kusiet: Gaan vertel die koning wat jy gesien het! En die
Kusiet het voor Joab gebuig en gehardloop.
22 Maar Ahímaäs, die seun van Sadok, het nog 'n keer aan Joab gesê: Laat kom wat
wil--laat my tog ook agter die Kusiet aan hardloop. En Joab vra: Waarom wil jy
dan nou hardloop, my seun? Vir jou is daar tog geen boodskappersloon te kry nie.
23 Laat kom wat wil, sê hy, ek hardloop. En hy antwoord hom: Hardloop! En
Ahímaäs het met die pad na die Jordaanstreek gehardloop en die Kusiet
verbygegaan.
24 En terwyl Dawid tussen die twee poortingange sit, het die wag op die dak van
die poort op die muur geklim; en toe hy sy oë opslaan, sien hy meteens 'n man
alleen hardloop.
25 Toe het die wag uitgeroep en dit aan die koning meegedeel. En die koning sê:
As hy alleen is, dan is daar 'n goeie boodskap in sy mond. Terwyl hy al nader en
nader kom,
26 sien die wag 'n ander man hardloop; en die wag het die poortwagter toegeroep
en gesê: Kyk, daar hardloop nog 'n man alleen. Daarop sê die koning: Hy bring
ook 'n goeie boodskap.
27 Verder het die wag gesê: Ek sien die gang van die eerste is soos die gang van
Ahímaäs, die seun van Sadok. Toe sê die koning: Hy is 'n goeie man, en hy kom
met 'n goeie boodskap.
28 En Ahímaäs het uitgeroep en aan die koning gesê: Vrede! En hy het hom voor
die koning gebuig met sy aangesig na die aarde en gesê: Geloofd sy die HERE u
God wat die manne oorgelewer het wat hulle hand teen my heer die koning opgetel
het.
29 Toe vra die koning: Gaan dit goed met die jongman, met Absalom? En Ahímaäs
antwoord: Ek het 'n groot gewoel gesien toe Joab die dienaar van die koning,
naamlik u dienaar, gestuur het, maar ek het nie geweet wat dit was nie.
30 Daarop sê die koning: Gaan opsy en kom hier staan. Toe hy dan opsy gaan en
daar bly staan,
31 kom die Kusiet juis aan; en die Kusiet sê: My heer die koning moet die blye
boodskap ontvang dat die HERE aan u vandag reg verskaf het teenoor almal wat
teen u opgestaan het.
32 En die koning het die Kusiet gevra: Gaan dit goed met die jongman, met
Absalom? En die Kusiet sê: Mag dit met die vyande van my heer die koning en met
almal wat teen u opstaan om kwaad te doen, gaan soos met dié jongman!
33 Toe het die koning baie ontroerd geword en opgeklim na die bovertrek van die
poort en geween; en hy het rondgeloop en só gesê: My seun Absalom, my seun, my
seun Absalom! Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het! Absalom, my seun, my
seun!
19
1 En aan Joab is meegedeel: Kyk, die koning ween en bedryf rou oor Absalom.
2 En daardie dag het die oorwinning vir die hele volk 'n roubedryf geword, omdat
die volk dié dag hoor sê het: Die koning is bedroef oor sy seun.
3 Daarom het die volk dié dag stilletjies die stad ingekom, net soos mense wat
skaam is, wegsluip as hulle in die geveg gevlug het.
4 En die koning het sy gesig toegemaak, en die koning het hardop uitgeroep: My
seun Absalom! Absalom, my seun, my seun!
5 Toe kom Joab by die koning in die huis en sê: U het vandag die aangesig van al
u dienaars beskaamd gemaak, wat vandag u lewe en die lewe van u seuns en dogters
en die lewe van u vroue en die lewe van u byvroue gered het,
6 deur lief te hê diegene wat u haat, en te haat diegene wat u liefhet; want u
gee vandag te kenne dat owerstes en onderdane vir u niks is nie, want ek merk
vandag dat, as Absalom lewendig en ons almal vandag dood was, dit dan in u oë
reg sou gewees het.
7 Staan dan nou op, gaan uit en spreek na die hart van u dienaars, want ek sweer
by die HERE--as u nie uitgaan nie, sal sekerlik vannag geen man by u bly nie; en
dit sal vir u 'n groter onheil wees as al die onheile wat u oorgekom het van u
jeug af tot nou toe.
8 En die koning het opgestaan en in die poort gaan sit; en hulle het die hele
volk laat weet en gesê: Kyk, die koning sit in die poort. Daarna het die hele
volk voor die koning gekom. Maar Israel het gevlug elkeen na sy tente toe.
9 En die hele volk onder al die stamme van Israel het onder mekaar getwis en
gesê: Die koning het ons verlos uit die hand van ons vyande, en hy het ons gered
uit die hand van die Filistyne, en nou moes hy die land uit vlug vir Absalom;
10 en Absalom wat ons oor ons gesalf het, het in die geveg gesneuwel: waarom is
julle dan nou nalatig om die koning terug te bring?
11 Toe het koning Dawid gestuur na Sadok en Abjatar, die priesters, om te sê:
Spreek met die oudstes van Juda en vra: Waarom sou julle die laastes wees om die
koning terug te bring na sy huis? (Die gesegde van die hele Israel het naamlik
die koning in sy huis bereik.)
12 Julle is my broers; my been en my vlees is julle: waarom sou julle dan die
laastes wees om die koning terug te bring?
13 En vir Amása moet julle sê: Is jy nie my been en my vlees nie? Mag God so aan
my doen en so daaraan toedoen as jy nie al die dae leërowerste voor my in die
plek van Joab sal wees nie!
14 So het hy dan die hart van al die manne van Juda sonder uitsondering geneig,
sodat hulle die koning laat weet het: Kom terug, u met al u dienaars.
15 Daarop het die koning teruggegaan en by die Jordaan aangekom; en Juda het na
Gilgal gekom om die koning tegemoet te gaan, om die koning oor die Jordaan te
bring.
16 En Símeï, die seun van Géra, die Benjaminiet, wat uit Bahúrim was, het hom
gehaas en saam met die manne van Juda afgekom om koning Dawid te ontmoet,
17 en duisend man uit Benjamin was saam met hom; verder Siba, die dienaar van
Saul se huis, met sy vyftien seuns en sy twintig slawe saam met hom; en hulle
het voor die koning al die Jordaan bereik.
18 En die pont het heen en weer gevaar om die huis van die koning oor te bring
en te doen wat goed was in sy oë. En Símeï, die seun van Géra, het voor die
koning neergeval toe hy die Jordaan sou oortrek
19 en aan die koning gesê: My heer moet my die skuld nie toereken en daar nie
aan dink hoe u dienaar verkeerd gehandel het op die dag dat my heer die koning
uit Jerusalem uitgetrek het, deurdat die koning dit ter harte sou neem nie.
20 Want u dienaar weet dat ék gesondig het; maar soos u sien, vandag het ek die
eerste van die hele huis van Josef afgekom om my heer die koning tegemoet te
gaan.
21 Toe het Abísai, die seun van Serúja, geantwoord en gesê: Moet Símeï nie
hieroor gedood word, dat hy die gesalfde van die HERE gevloek het nie?
22 Maar Dawid sê: Wat het ek met julle te doen, seuns van Serúja, dat julle
vandag my teëstanders word? Sou iemand vandag in Israel gedood word? Want weet
ek dan nie dat ek vandag koning oor Israel is nie?
23 Daarop sê die koning aan Símeï: Jy sal nie sterf nie. En die koning het vir
hom gesweer.
24 Mefibóset, die kleinseun van Saul, het ook afgekom die koning tegemoet, en hy
het sy voete nie skoongemaak en sy baard nie geskeer en sy klere nie gewas van
die dag af dat die koning weggegaan het tot op die dag dat hy behoue teruggekom
het nie;
25 en toe hy in Jerusalem die koning tegemoetkom, sê die koning vir hom: Waarom
het jy nie met my saamgetrek nie, Mefibóset?
26 En hy antwoord: My heer die koning, my dienaar het my bedrieg; want u dienaar
het gedink: Ek wil vir my die esel laat opsaal, dat ek daarop kan ry en met die
koning kan saamtrek, want u dienaar is lam.
27 Hy het ewenwel u dienaar by my heer die koning belaster, maar my heer die
koning is soos 'n engel van God: doen dan wat goed is in u oë.
28 Want my hele familie was by my heer die koning niks anders as manne wat die
dood verdien nie; tog het u u dienaar opgeneem onder die wat aan u tafel eet:
watter regsaanspraak het ek dan nog meer om my verder op die koning te beroep?
29 Toe sê die koning vir hom: Waarom nog meer woorde? Ek sê: Jy en Siba moet die
grond verdeel.
30 En Mefibóset het die koning geantwoord: Hy kan ook alles neem nadat my heer
die koning behoue in sy huis gekom het.
31 Barsíllai, die Gileadiet, het ook afgekom van Rógelim en met die koning oor
die Jordaan getrek om hom oor die Jordaan weg te bring.
32 En Barsíllai was baie oud, 'n man van tagtig jaar, en hy het die koning
onderhou gedurende sy verblyf in Mahanáim, want hy was 'n baie vermoënde man.
33 Toe sê die koning vir Barsíllai: Trek jy saam met my oor, dan sal ek jou by
my in Jerusalem onderhou.
34 Maar Barsíllai het die koning geantwoord: Hoeveel sal die dae van my
lewensjare dan wees, dat ek saam met die koning moet opgaan na Jerusalem?
35 Ek is vandag tagtig jaar oud. Kan ek tussen goed en kwaad onderskei? of sal u
dienaar kan proe wat ek eet en wat ek drink? of sal ek nog kan aanhoor die stem
van die sangers en die sangeresse? Waarom sal u dienaar my heer die koning dan
nog tot 'n las wees?
36 U dienaar kan net 'n entjie saam met die koning trek oor die Jordaan. Waarom
tog sou die koning hierdie vergelding aan my doen?
37 Laat u dienaar tog maar omdraai, dat ek kan sterf in my stad by die graf van
my vader en my moeder; maar hier is u dienaar Kimham. Laat hy saam met my heer
die koning oortrek, en doen aan hom wat goed is in u oë.
38 En die koning sê: Kimham kan saam met my oortrek, dan sal ek aan hom doen wat
goed is in jou oë, en alles wat jy verkies om aan my op te dra, sal ek vir jou
doen.
39 Toe trek die hele volk die Jordaan oor. En nadat die koning ook oorgetrek
het, soen die koning Barsíllai en groet hom; en hy het na sy woonplek
teruggegaan.
40 Daarop het die koning verder getrek na Gilgal, en Kimham het saam met hom
getrek, en die hele volk van Juda en ook die helfte van die volk van Israel het
die koning verder gebring.
41 Meteens kom toe al die manne van Israel by die koning aan en sê aan die
koning: Waarom het ons broers, die manne van Juda, u gesteel en die koning en sy
huis en al die manne van Dawid saam met hom oor die Jordaan gebring?
42 Daarop antwoord al die manne van Juda die manne van Israel: Omdat die koning
aan my verwant is; maar waarom is jy tog kwaad oor hierdie saak? Het ons ooit
iets van die koning geëet, of is iets as 'n porsie vir ons weggedra?
43 En die manne van Israel het die manne van Juda geantwoord en gesê: Ek het
tien aandele aan die koning en ook meer reg op Dawid as jy. Waarom het jy my dan
veragtelik behandel? Was my woord dan nie die eerste om my koning terug te bring
nie? Maar die woord van die manne van Juda was heftiger as die woord van die
manne van Israel.
20
1 En daar was by geval 'n deugniet met die naam van Seba, die seun van Bigri, 'n
Benjaminiet--hy het op die ramshoring geblaas en gesê: Ons het geen deel aan
Dawid, en ons het geen erfdeel aan die seun van Isai nie: elkeen na sy tente
toe, o Israel!
2 Daarop trek al die manne van Israel van Dawid af weg, agter Seba, die seun van
Bigri, aan; maar die manne van Juda het hulle koning aangehang van die Jordaan
af tot by Jerusalem.
3 Toe Dawid in sy huis in Jerusalem kom, het die koning die tien vroue, die
byvroue wat hy laat agterbly het om die huis op te pas, geneem en in 'n bewaakte
huis gesit en hulle onderhou, maar nie by hulle ingegaan nie; en hulle was
opgesluit tot die dag van hulle dood as lewenslange weduwees.
4 Daarna sê die koning aan Amása: Roep vir my die manne van Juda binne drie dae
byeen; kom staan jy dan hier.
5 En Amása het gegaan om Juda byeen te roep, maar het langer weggebly as die
bepaalde tyd wat hy vir hom vasgestel het.
6 Toe sê Dawid aan Abísai: Nou sal Seba, die seun van Bigri, ons meer kwaad doen
as Absalom; neem jy die dienaars van jou heer en jaag hom agterna, sodat hy nie
miskien vir hom versterkte stede vind en ons oog uitruk nie.
7 En daar het uitgetrek, agter hom aan, die manne van Joab en die Kreti en die
Pleti en al die helde--hulle het uit Jerusalem uitgetrek om Seba, die seun van
Bigri, agterna te jaag.
8 Terwyl hulle by die groot klip was wat by Gíbeon lê, kom Amása voor hulle uit.
En Joab was omgord met sy wapenrok as sy kleed en daaroor was 'n gord met 'n
swaard wat in die skede aan sy heupe vasgemaak was, en terwyl hy voortgaan, het
dit geval.
9 En Joab sê vir Amása: Gaan dit goed met jou, my broer? En Joab het met die
regterhand die baard van Amása gegryp om hom te soen.
10 En Amása was nie op sy hoede vir die swaard wat in die hand van Joab was nie.
Toe steek hy hom daarmee in die onderlyf en stort sy ingewande op die grond uit
sonder om hom 'n tweede steek te gee, sodat hy gesterf het. Daarop het Joab en
sy broer Abísai Seba, die seun van Bigri, agternagejaag.
11 Maar 'n man uit die dienaars van Joab het daar by hom bly staan en gesê: Wie
in Joab behae het en wie vir Dawid is, laat hom Joab volg!
12 Terwyl Amása in die middel van die pad hom in die bloed lê en wentel en die
man sien dat al die manskappe bly staan, het hy Amása uit die pad uit weggeneem
na die veld en 'n kleed oor hom gegooi, omdat hy sien dat elkeen wat by hom kom,
daar bly staan.
13 Toe hy hom uit die pad verwyder het, trek al die manskappe verby agter Joab
aan om Seba, die seun van Bigri, agterna te jaag.
14 En dié het deur al die stamme van Israel getrek na Abel en Bet-Máäga en die
hele Berim; en hulle het byeengekom en ook agter hom aan gegaan.
15 En hulle het gekom en hom in Abel-Bet-Máäga beleër en 'n wal teen die stad
opgegooi, wat teen die voorskans opgerys het. Terwyl al die manskappe van Joab
besig was met verwoes om die muur te laat val,
16 roep 'n wyse vrou uit die stad: Luister, luister! Sê tog vir Joab: Kom
hierheen, dat ek met u kan spreek.
17 En toe hy nader kom na haar, sê die vrou: Is u Joab? En hy antwoord: Ja. En
sy sê vir hom: Hoor die woorde van u dienares. En hy antwoord: Ek hoor.
18 Daarop spreek sy en sê: Vroeër was hulle gewoond om só te sê: Laat hulle Abel
maar net raadpleeg! en so het hulle 'n saak afgehandel.
19 Ek is een van die vredeliewendes, van die getroues in Israel. U is daarop uit
om 'n stad te vernietig, nogal 'n moeder in Israel. Waarom wil u die erfdeel van
die HERE te gronde rig?
20 En Joab antwoord en sê: Dit is ver, ver van my, dat ek te gronde sou rig en
dat ek sou verwoes!
21 Die saak is nie so nie; maar 'n man van die gebergte van Efraim met die naam
van Seba, die seun van Bigri, het sy hand opgehef teen die koning, teen Dawid:
lewer hom alleen uit, dan wil ek van die stad af wegtrek. En die vrou sê vir
Joab: Kyk, sy hoof sal oor die muur na u toe gegooi word.
22 En die vrou het haar in haar wysheid tot die hele volk gewend, en hulle het
die hoof van Seba, die seun van Bigri, afgekap en na Joab oorgegooi. Toe het hy
op die ramshoring geblaas, en hulle is verstrooi, weg van die stad af, elkeen na
sy tente; en Joab het na Jerusalem, na die koning teruggegaan.
23 En Joab was oor die hele leër van Israel, en Benája, die seun van Jójada, oor
die Kreti en oor die Pleti;
24 en Adóram was oor die dwangarbeid, en Jósafat, die seun van Ahílud, was
kanselier.
25 En Seja was skrywer; en Sadok en Abjatar priesters.
26 En ook Ira, die Jaïriet, was priester by Dawid.
21
1 En toe daar in die dae van Dawid 'n hongersnood was, drie jaar lank, jaar ná
jaar, het Dawid die aangesig van die HERE gesoek; en die HERE het gesê: Vanweë
Saul en vanweë sy huis waarop bloedskuld rus, omdat hy die Gibeoniete omgebring
het.
2 Toe roep die koning die Gibeoniete en sê vir hulle--die Gibeoniete het naamlik
nie behoort tot die kinders van Israel nie, maar by 'n oorblyfsel van die
Amoriete; en hoewel die kinders van Israel vir hulle gesweer het, het Saul
probeer om hulle om te bring in sy ywer vir die kinders van Israel en Juda--
3 Dawid dan het aan die Gibeoniete gesê: Wat moet ek vir julle doen, en waarmee
moet ek versoening doen, dat julle die erfdeel van die HERE kan seën?
4 Daarop sê die Gibeoniete vir hom: Dit is ons teenoor Saul en sy huis nie te
doen om silwer en goud nie, en dit gaan vir ons nie daarom om iemand in Israel
dood te maak nie. En hy vra: Wat dink julle dan moet ek vir julle doen?
5 En hulle sê vir die koning: Die man wat ons vernietig het en planne teen ons
beraam het om ons te verdelg sonder dat ons in enige grondgebied van Israel kan
voortbestaan--
6 laat sewe manne van sy seuns aan ons gegee word, dat ons hulle voor die HERE
kan ophang in Gíbea van Saul, die uitverkorene van die HERE! En die koning het
gesê: Ek sal hulle gee.
7 Maar die koning het Mefibóset, die seun van Jónatan, die seun van Saul,
verskoon vanweë die eed by die HERE wat tussen hulle was, tussen Dawid en
Jónatan, die seun van Saul.
8 Toe neem die koning die twee seuns van Rispa, die dogter van Aja, wat sy vir
Saul gebaar het, Armóni en Mefibóset, en die vyf seuns van Merab, die dogter van
Saul, wat sy vir Adriël, die seun van Barsíllai, die Meholatiet, gebaar het;
9 en hy het hulle oorgegee in die hand van die Gibeoniete, wat hulle opgehang
het op die berg voor die aangesig van die HERE, sodat al sewe tesame omgekom
het; en hulle is gedood in die eerste dae van die oes, in die begin van die
gars-oes.
10 En Rispa, die dogter van Aja, het 'n sak geneem en dit vir haar oopgespan op
die rots, van die begin van die oes af totdat daar water uit die hemel op hulle
gegiet het, en sy het die voëls van die hemel oordag nie toegelaat om op hulle
te gaan sit nie, en ook nie die diere van die veld in die nag nie.
11 Toe aan Dawid meegedeel is wat Rispa, die dogter van Aja, die byvrou van
Saul, gedoen het,
12 het Dawid gegaan en die bene van Saul en die bene van sy seun Jónatan van die
burgers van Jabes in Gílead gaan haal, wat dit van die plein van Bet-San gesteel
het, waar die Filistyne hulle opgehang het op die dag toe die Filistyne Saul op
Gilbóa verslaan het.
13 En hy het die bene van Saul en die bene van sy seun Jónatan daarvandaan
weggebring. Hulle het ook die bene van die wat opgehang is, versamel,
14 en die bene van Saul en van sy seun Jónatan in die land Benjamin, in Sela, in
die graf van sy vader Kis begrawe; en hulle het alles gedoen volgens die bevel
van die koning. En daarna het God Hom oor die land ontferm.
15 En toe die Filistyne weer oorlog gehad het met Israel, het Dawid afgetrek, en
sy dienaars saam met hom, en hulle het teen die Filistyne geveg, en Dawid het al
moeg geword.
16 En Jisbi-Benob wat uit die kinders van die Refaïete was--die gewig van sy
spies was drie honderd sikkels koper in gewig, en hy was omgord met 'n nuwe
swaard--het gedink om Dawid te verslaan.
17 Maar Abísai, die seun van Serúja, het hom gehelp en die Filistyn verslaan en
hom gedood. Toe het die manne van Dawid hom besweer en gesê: U mag nie meer saam
met ons uittrek na die geveg nie, dat u die lamp van Israel nie uitblus nie.
18 En daarna was daar weer oorlog met die Filistyne in Gob. Toe het Síbbegai,
die Husatiet, Saf, uit die kinders van die Refaïete, verslaan.
19 En daar was weer oorlog met die Filistyne in Gob; en Élhanan, die seun van
Jáäre-Orgim uit Betlehem, het Góliat, die Gittiet, wie se spiessteel soos 'n
wewersbalk was, verslaan.
20 En daar was weer oorlog in Gat; en daar was 'n baie lang man, met ses vingers
aan elke hand en ses tone aan elke voet, vier en twintig in getal, en hy was ook
'n afstammeling van die Refaïete.
21 En hy het Israel gehoon, maar Jónatan, die seun van Símea, die broer van
Dawid, het hom verslaan.
22 Hierdie vier was afstammelinge van die Refaïete in Gat, en hulle het geval
deur die hand van Dawid en deur die hand van sy dienaars.
22
1 En Dawid het die woorde van hierdie lied tot die HERE gespreek op die dag toe
die HERE hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul.
2 En hy het gesê: Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder;
3 God is my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my
rotsvesting en my toevlug, my verlosser; van geweld het U my verlos.
4 Ek roep die HERE aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos.
5 Want die golwe van die dood het my omring, strome van onheil het my oorval.
6 Bande van die doderyk het my omring, strikke van die dood het my teëgekom.
7 Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het geroep tot my God; en
uit sy paleis het Hy my stem gehoor, en my hulpgeroep was in sy ore.
8 Toe het die aarde geskud en gebewe, die fondamente van die hemel het gesidder
en geskud, omdat Hy toornig was.
9 Rook in sy neus het opgegaan, en 'n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom
het gebrand.
10 En Hy het die hemel gebuig en neergedaal, en wolkedonkerheid was onder sy
voete.
11 En Hy het op 'n gérub gery en gevlieg; ja, Hy het verskyn op die vlerke van
die wind.
12 En Hy het duisternis rondom Hom as hutte gestel, versameling van waters,
diktes van wolke.
13 Uit die glans voor Hom het gloeiende kole gebrand.
14 Uit die hemel het die HERE gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat
hoor.
15 En Hy het pyle uitgestuur en hulle verstrooi, bliksems en hulle verwar.
16 En die beddings van die see het sigbaar geword, die fondamente van die wêreld
is blootgelê, deur die dreiging van die HERE, vanweë die geblaas van die wind
van sy neus.
17 Uit die hoogte het Hy sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, my uit groot
waters getrek.
18 Hy het my verlos van my magtige vyand, van my haters, omdat hulle te sterk
was vir my.
19 Hulle het my oorval op die dag van my nood, maar die HERE was my steun.
20 En Hy het my uitgelei in die ruimte, Hy het my gered, omdat Hy behae in my
gehad het.
21 Die HERE het met my gehandel na my geregtigheid; na die reinheid van my hande
het Hy my vergelde.
22 Want ek het die weë van die HERE gehou en nie goddeloos van my God afgewyk
nie.
23 Want al sy verordeninge was voor my, en sy insettinge--daar het ek nie van
afgewyk nie.
24 Maar ek was opreg voor Hom, en ek was op my hoede vir my ongeregtigheid.
25 So het die HERE my dan vergelde na my geregtigheid, na my reinheid voor sy
oë.
26 By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg,
27 by die reine, rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.
28 En U verlos die verdrukte volk, maar u oë is teen die hoogmoediges; U
verneder hulle.
29 Want U is my lamp, o HERE! En die HERE laat my duisternis opklaar.
30 Want met U loop ek 'n bende storm, met my God spring ek oor 'n muur.
31 Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy is 'n
skild vir almal wat by Hom skuil.
32 Want wie is God buiten die HERE, en wie 'n rots buiten onse God?
33 Die God wat my sterk toevlug is, en Hy het vir my 'n weg volkomelik
uitgesoek.
34 Hy maak my voete soos dié van herte en laat my staan op my hoogtes.
35 Hy leer my hande om oorlog te voer, sodat my arms 'n koperboog span.
36 En U het my die skild van u uitredding gegee, en u neerbuigende goedheid het
my groot gemaak.
37 U het my voetstap onder my ruim gemaak, en my enkels het nie gewankel nie.
38 Ek het my vyande agtervolg en hulle verdelg en nie teruggekom voordat ek
hulle vernietig het nie.
39 Ja, ek het hulle vernietig en hulle verbrysel, sodat hulle nie weer opgestaan
het nie, maar onder my voete geval het.
40 En U het my met krag omgord vir die stryd, U het my teëstanders onder my laat
buk.
41 En U het my vyande vir my laat vlug; my haters, dié het ek vernietig.
42 Hulle het rondgekyk, maar daar was geen verlosser nie; na die HERE, maar Hy
het hulle nie geantwoord nie.
43 Toe het ek hulle vermaal soos die stof van die aarde, soos modder van die
strate het ek hulle fyngemaal, hulle vertrap.
44 En U het my gered uit die getwis van my volk; U het my bewaar as 'n hoof van
nasies; 'n volk wat ek nie geken het nie, het my gedien.
45 Uitlanders het al kruipende na my gekom; sodra hulle van my gehoor het, was
hulle gehoorsaam aan my.
46 Uitlanders word kragteloos en kom met siddering uit hulle vestings.
47 Die HERE leef! En geloofd sy my rots, en laat verhoog wees die God wat die
rots is van my heil!
48 Die God wat my die wraak gee en volke onder my neerwerp;
49 en wat my uitlei onder my vyande uit; ja, U verhef my bo my teëstanders, U
bevry my van die man van geweld.
50 Daarom wil ek U loof, o HERE, onder die nasies, en tot eer van u Naam wil ek
psalmsing;
51 Hy is dit wat die verlossing van sy koning groot maak en goedertierenheid
bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en aan sy nageslag tot in ewigheid.
23
1 En dit is die laaste woorde van Dawid: Dawid spreek, die seun van Isai, en die
man wat hoog geplaas was, spreek, die gesalfde van die God van Jakob en die
lieflike in die sange van Israel:
2 Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong.
3 Die God van Israel het gesê, die Rots van Israel het tot my gespreek: 'n
Heerser oor mense, 'n regverdige, 'n heerser in die vrees van God,
4 is soos die môrelig by sonsopgang, 'n môre sonder wolke as deur die glans ná
die reën grasspruitjies uit die aarde uitkom.
5 Want is my huis nie so by God nie? Want Hy het 'n ewige verbond vir my
daargestel wat in alles gereël en verseker is; want al my heil en alle
welgevalle, ja, sal Hy dit nie laat uitspruit nie?
6 Maar deugniete, hulle almal is soos weggegooide dorings, want 'n mens vat dit
nie met die hand nie;
7 en elkeen wat hulle wil aanraak, wapen homself met 'n yster of die steel van
'n spies, en met vuur word hulle op daardie plek heeltemal verbrand.
8 Dit is die name van die helde wat Dawid gehad het: Joseb-Bassebet, 'n
Tagkemoniet, die hoof van die adjudante; hy was Adino, die Esniet, teen agt
honderd wat op een keer gesneuwel het.
9 En ná hom was Eleásar, die seun van Dodo, die Ahohiet, onder die drie helde by
Dawid; toe hulle die Filistyne uitgedaag het wat daar bymekaar was om te veg, en
die manne van Israel weggetrek het,
10 het hy opgestaan en onder die Filistyne geslaan totdat sy hand moeg geword en
sy hand aan die swaard gekleef het, sodat die HERE daardie dag 'n groot
oorwinning bewerk het. En die manskappe het teruggekom agter hom aan net om te
buit.
11 En ná hom was Samma, die seun van Age, die Harariet. Toe die Filistyne by
Legi bymekaarkom, waar 'n stuk land was vol lensies en die volk vir die
Filistyne gevlug het,
12 het hy hom opgestel in die middel van die stuk land en dit afgeneem en die
Filistyne verslaan, sodat die HERE 'n groot oorwinning bewerk het.
13 En drie van die dertig hoofde het afgetrek en teen die oestyd by Dawid by die
spelonk van Adúllam aangekom, terwyl 'n hoop Filistyne in die laer staan in die
dal Refáim.
14 En Dawid was toe in die bergvesting; en 'n besetting van die Filistyne was
toe in Betlehem.
15 En Dawid het 'n begeerte voel opkom en gesê: Wie sal vir my water gee om te
drink uit die put van Betlehem wat by die poort is?
16 Toe het die drie helde deur die laer van die Filistyne gebreek en water
geskep uit die put van Betlehem wat by die poort was, en dit gedra en na Dawid
gebring; maar hy wou dit nie drink nie, en het dit tot eer van die HERE
uitgegiet
17 en gesê: Dit is ver van my, HERE, dat ek dit sou doen! Sou ek die bloed drink
van die manne wat met lewensgevaar gegaan het? En hy wou dit nie drink nie. Dit
het die drie helde gedoen.
18 En Abísai, die broer van Joab, die seun van Serúja, hy was hoof van die drie,
en hy het sy spies geswaai oor drie honderd wat gesneuwel het, en het 'n naam
gehad onder die drie.
19 Was hy onder die drie nie geëer nie? sodat hy hulle owerste geword het, maar
tot by die eerste drie het hy nie gekom nie.
20 Verder Benája, die seun van Jójada, 'n sterk man, groot van daad, uit
Kábseël; hy het die twee groot helde van Moab verslaan; en hy het afgegaan en 'n
leeu binne-in 'n kuil doodgeslaan op 'n sneeudag.
21 Hy het ook 'n Egiptenaar verslaan, 'n mooi man; en in die hand van die
Egiptenaar was 'n spies; maar hy het na hom afgegaan met 'n stok en die spies
uit die hand van die Egiptenaar geruk en hom met sy eie spies doodgesteek.
22 Dit het Benája, die seun van Jójada, gedoen; en hy het 'n naam gehad onder
die drie helde.
23 Hy was geëerd onder die dertig, maar tot by die drie het hy nie gekom nie; en
Dawid het hom aangestel oor sy lyfwag.
24 Asahel, die broer van Joab, was onder die dertig; Élhanan, die seun van Dodo,
uit Betlehem;
25 Samma, die Harodiet; Elíka, die Harodiet;
26 Heles, die Paltiet; Ira, die seun van Ikkes, die Tekoïet;
27 Abiëser, die Anatotiet; Mebunnái, die Husatiet;
28 Salmon, die Ahohiet; Máharai, die Netofatiet;
29 Heleb, die seun van Baäna, die Netofatiet; Ittai, die seun van Ribai, uit
Gíbea van die kinders van Benjamin;
30 Benája, die Pirhatoniet; Híddai, uit Nahale-Gaäs;
31 Abi-Albon, die Arbatiet; Asmáwet, die Barhumiet;
32 Éljagba, die Sáälboniet; die seuns van Jasen; Jónatan;
33 Samma, die Harariet; Ahíam, die seun van Sarar, die Harariet;
34 Elifélet, die seun van Ahasbái, die seun van 'n Maägatiet; Elíam, die seun
van Agitófel, die Giloniet;
35 Hésro, die Karmeliet; Páärai, die Arbiet;
36 Jigeal, die seun van Natan, uit Soba; Bani, die Gadiet;
37 Selek, die Ammoniet; Náharai, die Beërotiet, die wapendraer van Joab, die
seun van Serúja;
38 Ira, die Jitriet; Gareb, die Jitriet
39 Uría, die Hetiet--almal saam sewe en dertig.
24
1 En die toorn van die HERE het weer teen Israel ontvlam, en Hy het Dawid teen
hulle aangehits en gesê: Gaan tel Israel en Juda.
2 Toe sê die koning vir Joab, die leërowerste, wat by hom was: Trek tog rond
onder al die stamme van Israel, van Dan tot Berséba, en tel julle die volk,
sodat ek die getal van die volk kan weet.
3 En Joab het aan die koning gesê: Ja, mag die HERE u God by die volk honderd
maal meer byvoeg as wat hulle ook al is, en die oë van my heer die koning dit
sien; maar waarom het my heer die koning behae in hierdie saak?
4 Maar die woord van die koning het die oorhand gehad oor Joab en die
leërowerstes, en Joab het met die leërowerstes van die koning af uitgegaan om
die volk Israel te tel.
5 En hulle het deur die Jordaan gegaan en laer opgeslaan by Aroër, regs van die
stad wat binne-in die dal van Gad lê, en tot by Jaéser.
6 Verder het hulle in Gílead gekom en in die land Tagtim-Hodsi en na Dan-Jaän
gekom en rondom na Sidon.
7 En hulle het gekom by die vesting Tirus en al die stede van die Hewiete en
Kanaäniete, en hulle het uitgekom in die suide van Juda in Berséba.
8 So het hulle dan deur die hele land rondgetrek en in Jerusalem aangekom aan
die einde van nege maande en twintig dae.
9 En Joab het die getal van die getelde volk aan die koning gegee; en Israel was
agt honderd duisend weerbare manne wat die swaard uittrek, en die manne van Juda
vyf honderd duisend man.
10 Maar Dawid se gewete het hom gekwel nadat hy die volk getel het, en Dawid het
aan die HERE gesê: Ek het swaar gesondig deur wat ek gedoen het; HERE, vergeef
dan nou tog die skuld van u kneg, want ek het baie dwaas gehandel.
11 Toe Dawid die môre opstaan--die woord van die HERE het naamlik tot die
profeet Gad, die siener van Dawid, gekom en gesê:
12 Gaan heen en spreek met Dawid: So sê die HERE: Drie dinge lê Ek jou voor;
kies vir jou een daaruit, dat Ek jou dit kan aandoen--
13 toe het Gad by Dawid gekom en dit aan hom bekend gemaak en aan hom gesê: Wil
jy dat daar sewe jaar lank hongersnood in jou land kom, of wil jy drie maande
lank vlug voor jou teëstanders uit dat hulle jou agtervolg, of moet daar drie
dae lank pes wees in jou land? Ondersoek nou en sien watter antwoord ek my
Sender moet bring.
14 Daarop sê Dawid vir Gad: Ek is baie benoud; laat ons tog val in die hand van
die HERE, want sy barmhartighede is groot, maar laat my in die hand van mense
nie val nie.
15 En die HERE het 'n pes onder Israel beskik van die môre af tot op die
bepaalde tyd, en van Dan tot Berséba het daar van die volk sewentig duisend man
gesterwe.
16 Maar toe die engel sy hand uitsteek na Jerusalem om dit te verwoes, het dit
die HERE berou oor die onheil, en Hy het aan die engel wat die verwoesting onder
die volk moes aanrig, gesê: Genoeg, trek nou jou hand terug! Die engel van die
HERE was toe by die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.
17 Toe Dawid sien hoe die engel onder die volk doodslaan, het hy tot die HERE
gespreek en gesê: Kyk, ék het gesondig, en ék het verkeerd gehandel, maar wat
het hierdie skape gedoen? Laat u hand tog teen my wees en teen my familie.
18 Daarop kom Gad dieselfde dag by Dawid en sê vir hom: Gaan op, bou vir die
HERE 'n altaar op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.
19 En Dawid het opgegaan volgens die woord van Gad, soos die HERE beveel het.
20 Toe Arauna opkyk en die koning met sy dienaars na hom sien oorkom, het Arauna
uitgegaan en hom voor die koning met sy aangesig na die aarde gebuig.
21 En Arauna het gesê: Waarom kom my heer die koning na sy dienaar? Daarop sê
Dawid: Om die dorsvloer van jou te koop, om vir die HERE 'n altaar te bou, sodat
die plaag onder die volk kan ophou.
22 Maar Arauna sê vir Dawid: My heer die koning kan neem en offer wat goed is in
sy oë, kyk, daar is die beeste as die brandoffer en die sleë en die trekgoed van
die beeste as hout.
23 Dit gee Arauna alles, o koning, aan die koning. Verder het Arauna aan die
koning gesê: Mag die HERE u God 'n behae in u hê.
24 Maar die koning het Arauna geantwoord: Nee, maar ek wil dit verseker van jou
koop vir sy prys; en ek wil nie verniet aan die HERE my God brandoffers bring
nie. En Dawid het die dorsvloer en die beeste gekoop vir vyftig sikkels silwer.
25 Toe het Dawid daar vir die HERE 'n altaar gebou en brandoffers en dankoffers
gebring; en die HERE het Hom oor die land ontferm, en die plaag is van Israel
afgewend.