2 T h e s s a l o n i c e n s e 1
1 Paulus en Silvánus en Timótheüs aan die gemeente van die Thessalonicense in
God onse Vader en die Here Jesus Christus:
2 Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!
3 Ons moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle
geloof grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal
groter word,
4 sodat ons self in die gemeentes van God oor julle roem vanweë jul volharding
en geloof onder al julle vervolginge en die verdrukkinge wat julle verduur--
5 'n teken van die regverdige oordeel van God, dat julle die koninkryk van God
waardig geag mag word, waarvoor julle ook ly;
6 aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te
vergelde,
7 en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die
openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele
8 in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op
die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.
9 Hulle sal as straf ondergaan 'n ewige verderf, weg van die aangesig van die
Here en van die heerlikheid van sy sterkte,
10 wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in
almal wat glo, in daardie dag; want ons getuienis het by julle geloof gevind.
11 Daarom bid ons ook altyd vir julle dat onse God julle die roeping waardig mag
ag, en dat Hy alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk van die geloof met
krag volkome mag maak,
12 sodat die Naam van onse Here Jesus Christus in julle verheerlik kan word en
julle in Hom, ooreenkomstig die genade van onse God en die Here Jesus Christus.
2
1 Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus
Christus en ons vereniging met Hom,
2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie--deur gees of
deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees--asof die dag van
Christus al daar is.
3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en
die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf
4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van
aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy
God is.
5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was
nie?
6 En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word.
7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat
hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is;
8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van
sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,
9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige
dade en tekens en wonders van die leuen
10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan,
omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.
11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,
12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae
gehad het in die ongeregtigheid.
13 Maar ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin
word, dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking
van die Gees en geloof in die waarheid,
14 waartoe Hy julle geroep het deur ons evangelie om die heerlikheid van onse
Here Jesus Christus te verkry.
15 So dan, broeders, staan vas en hou julle aan die voorskrifte wat julle geleer
is òf deur 'n woord òf deur 'n brief van ons.
16 En mag onse Here Jesus Christus self en onse God en Vader, wat ons liefgehad
het en 'n ewige troos en goeie hoop in genade gegee het,
17 julle harte vertroos en julle versterk in alle goeie woorde en werke!
3
1 Verder, broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê
en verheerlik word net soos by julle;
2 en dat ons verlos mag word van die verkeerde en slegte mense, want die geloof
is nie die deel van almal nie.
3 Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose.
4 En ons vertrou aangaande julle in die Here dat julle doen en ook sal doen wat
ons julle beveel.
5 Mag die Here julle harte rig tot die liefde van God en die lydsaamheid van
Christus!
6 Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat
julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die
oorlewering wat hy van ons ontvang het nie.
7 Want julle weet self hoe julle ons moet navolg, want ons het ons nie onordelik
onder julle gedra nie;
8 ook het ons nie brood by iemand kosteloos geëet nie; maar ons het met arbeid
en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie.
9 Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as 'n voorbeeld te
stel, dat julle ons kan navolg.
10 Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie
wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.
11 Want ons hoor dat sommige onder julle onordelik wandel, dat hulle nie werk
nie, maar bemoeisiek is.
12 Sulke mense beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus, om rustig te
werk en hulle eie brood te eet.
13 En julle, broeders, moet nie in goeddoen verflou nie.
14 En as iemand aan ons woord in hierdie brief nie gehoorsaam is nie, teken dié
man en hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy skaam kan word.
15 En beskou hom nie as 'n vyand nie, maar vermaan hom as 'n broeder.
16 En mag Hy, die Here van die vrede, julle altyd vrede gee op allerlei wyse!
Mag die Here met julle almal wees!
17 Die groete van Paulus, met my eie hand, wat 'n teken is in elke brief; so
skryf ek.
18 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.