2 T i m o t h e ü s 1
1 Paulus, 'n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, ooreenkomstig
die belofte van die lewe wat in Christus Jesus is,
2 aan Timótheüs, my geliefde kind: Genade, barmhartigheid, vrede van God die
Vader en Christus Jesus, onse Here!
3 Ek dank God, wat ek van my voorouers af in 'n rein gewete dien, wanneer ek
onophoudelik nag en dag aan jou in my gebede dink,
4 terwyl ek verlang om jou te sien as ek aan jou trane dink, sodat ek met
blydskap vervul kan word,
5 en as ek my herinner die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het
in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Euníce, en wat--daarvan is ek oortuig--ook
in jou is.
6 Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te
wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande.
7 Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en
liefde en selfbeheersing.
8 Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie,
maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God
9 wat ons gered en geroep het met 'n heilige roeping, nie volgens ons werke nie,
maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus
geskenk is,
10 maar wat nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus
Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid
aan die lig gebring het deur die evangelie,
11 waarvoor ek aangestel is as prediker en apostel en leraar van die heidene.
12 Om hierdie rede ly ek ook hierdie dinge; maar ek skaam my nie, want ek weet
in wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pand te bewaar tot
dié dag toe.
13 Hou as voorbeeld van gesonde woorde dié wat jy van my gehoor het, in die
geloof en liefde wat in Christus Jesus is.
14 Bewaar jou goeie pand deur die Heilige Gees wat in ons woon.
15 Jy weet dit dat almal wat in Asië is, hulle van my afgekeer het, onder wie
Figéllus en Hermógenes is.
16 Mag die Here aan die huis van Onesíforus barmhartigheid bewys, want hy het my
dikwels verkwik en hom oor my kettings nie geskaam nie;
17 maar toe hy in Rome gekom het, het hy my baie ywerig gesoek en gevind.
18 Mag die Here hom skenk dat hy barmhartigheid mag verkry van die Here in dié
dag! En jy weet baie goed hoeveel dienste hy in Éfese bewys het.
2
1 Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is;
2 en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue
manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer.
3 Ly dan verdrukking soos 'n goeie krygsman van Jesus Christus.
4 Niemand wat 'n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die
lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf
het.
5 En verder, as iemand aan 'n wedstryd deelneem, word hy nie bekroon as hy nie
volgens die reëls gewedywer het nie.
6 Die landbouer wat swaar werk, behoort eerste van die vrugte te geniet.
7 Dink na oor wat ek sê; en mag die Here jou insig gee in alles!
8 Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is
volgens my evangelie,
9 waarin ek verdrukking ly tot die boeie toe soos 'n kwaaddoener; maar die woord
van God is nie gebonde nie.
10 Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die
verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.
11 Dit is 'n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met
Hom lewe.
12 As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook
verloën.
13 As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.
14 Herinner aan hierdie dinge en betuig voor die Here dat hulle geen woordestryd
moet voer wat tot geen nut is nie, maar net tot ondergang van die hoorders.
15 Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as 'n werker wat hom nie
hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.
16 Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al
verder voortgaan in goddeloosheid,
17 en hulle woord sal voortwoeker soos 'n kanker, onder wie daar Himenéüs en
Filétus is,
18 wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al
plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om.
19 Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die
wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van
die ongeregtigheid.
20 Maar in 'n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie,
maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer.
21 As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy 'n voorwerp tot eer wees,
geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk.
22 Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid,
geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep.
23 En die dwase en onverstandige strydvrae moet jy afwys, omdat jy weet dat dit
twis verwek;
24 en 'n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor
almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra.
25 Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien
bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie,
26 en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle
deur hom gevang was om sy wil te doen.
3
1 Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters,
trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,
3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed,
sonder liefde vir die goeie,
4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van
God;
5 mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.
Keer jou ook van hierdie mense af.
6 Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat
met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word,
7 wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.
8 En net soos Jannes en Jambres Moses teëgestaan het, so staan ook hierdie mense
die waarheid teë, mense verdorwe in die verstand, onbetroubaar ten opsigte van
die geloof.
9 Maar hulle sal nie verder voortgaan nie, want hulle dwaasheid sal vir almal
duidelik wees, soos ook dié van daardie manne geword het.
10 Maar jy het my navolger geword in leer, lewenswandel, planne, geloof,
lankmoedigheid, liefde, lydsaamheid,
11 vervolginge, lyding, soos my te beurt geval het in Antiochíë, in Ikónium, in
Listre. Watter vervolginge het ek nie al verdra nie! En die Here het my uit
almal verlos.
12 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.
13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle
wat verlei en verlei word.
14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van
wie jy dit geleer het,
15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot
saligheid deur die geloof in Christus Jesus.
16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging,
tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.
4
1 Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die
dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:
2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in
alle lankmoedigheid en lering;
3 want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie,
maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars
sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van 'n evangelis;
vervul jou bediening.
6 Want ek word alreeds as 'n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is
naby.
7 Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof
behou.
8 Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die
regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan
almal wat sy verskyning liefgehad het.
9 Beywer jou om gou na my te kom.
10 Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het, en
het na Thessaloníka vertrek, Crescens na Galásië, Titus na Dalmásië.
11 Lukas is alleen by my. Markus moet jy gaan haal en saam met jou bring, want
hy kan my baie tot diens wees.
12 Tíchikus het ek na Éfese gestuur.
13 As jy kom, moet jy die reismantel bring wat ek by Carpus in Troas laat bly
het, en die boeke, veral die perkamente.
14 Alexander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom
vergeld na sy werke!
15 Jy moet ook vir hom oppas, want hy het ons woorde sterk teëgestaan.
16 In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my
verlaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie!
17 Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking
heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor; en ek is uit die bek
van die leeu verlos.
18 En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse
koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.
19 Groet Prisca en Aquila en die huis van Onesíforus.
20 Erástus het in Korinthe gebly. Trófimus het ek siek in Miléte agtergelaat.
21 Beywer jou om voor die winter te kom. Eubúlus en Pudens en Linus en Claudia
en al die broeders groet jou.
22 Mag die Here Jesus Christus met jou gees wees! Die genade sy met julle! Amen.