E f e s i ë r s 1
1 Paulus, 'n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, aan die
heiliges wat in Éfese is, en die gelowiges in Christus Jesus:
2 Genade vir julle en vrede van God, onse Vader, en die Here Jesus Christus!
3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het
met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,
4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om
heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,
5 deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem
deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil,
6 tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die
Geliefde.
7 In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na
die rykdom van sy genade,
8 wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand,
9 deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy
welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het,
10 om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die
hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig--
11 in Hom in wie ons ook 'n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe
verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die
raad van sy wil,
12 sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op
Christus gehoop het,
13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van
julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is
met die Heilige Gees van die belofte,
14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy
heerlikheid.
15 Daarom--vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle
is en die liefde tot al die heiliges--
16 hou ek ook nie op om vir julle te dank as ek aan julle in my gebede dink nie,
17 dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan
julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee,
18 verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy
roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges
is;
19 en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die
werking van die krag van sy sterkte
20 wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat
sit het aan sy regterhand in die hemele,
21 bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word,
nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.
22 En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge
aan die gemeente gegee,
23 wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.
2
1 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes
2 waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens
die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die
ongehoorsaamheid werk,
3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees
toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature
kinders van die toorn net soos ook die ander.
4 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee
Hy ons liefgehad het,
5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus--uit
genade is julle gered--
6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,
7 sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade
in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.
8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie:
dit is die gawe van God;
9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God
voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
11 Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes
genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig
word,
12 dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van
Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop
en sonder God in die wêreld.
13 Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die
bloed van Christus.
14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding
afgebreek het
15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van
gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in
Homself tot een nuwe mens kon skep
16 en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan
die vyandskap doodgemaak het.
17 En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan
die wat naby was;
18 want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.
19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van
die heiliges en huisgenote van God,
20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus
self die hoeksteen is,
21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die
Here,
22 in wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees.
3
1 Om hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van Christus Jesus vir julle wat
heidene is--
2 as julle ten minste gehoor het van die bediening van die genade van God wat
aan my verleen is vir julle,
3 dat Hy aan my deur 'n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid, soos ek
tevore kortliks geskryf het;
4 waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van Christus
kan verstaan,
5 wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou
aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik
6 dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en
mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie
7 waarvan ek 'n dienaar geword het, volgens die gawe van die genade van God wat
aan my gegee is ooreenkomstig die werking van sy krag.
8 Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder
die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig,
9 en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid
wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus
Christus,
10 sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die
menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word,
11 volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here,
12 in wie ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof
in Hom.
13 Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word by my verdrukkinge ter wille van
julle nie. Dit is julle eer.
14 Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus,
15 van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang,
16 dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag
versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens,
17 sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die
liefde gewortel en gegrond is,
18 en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp
wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is,
19 en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul
kan word tot al die volheid van God.
20 En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens
die krag wat in ons werk,
21 aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte
tot in ewigheid! Amen.
4
1 Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die
roeping waarmee julle geroep is,
2 met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar
in liefde verdra
3 en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die
vrede.
4 Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle
roeping;
5 een Here, een geloof een doop,
6 een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.
7 Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van
Christus.
8 Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange
geneem en gawes aan die mense gegee.
9 Maar dít: Hy het opgevaar--wat beteken dit anders as dat Hy ook eers
neergedaal het in die onderste dele van die aarde?
10 Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die
hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring.
11 En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste,
ander as herders en leraars,
12 om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam
van Christus,
13 totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die
Seun van God, tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van
Christus;
14 sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en
weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense,
deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;
15 maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom
wat die Hoof is, naamlik Christus,
16 uit wie die hele liggaam--goed saamgevoeg en saamverbind deur die
ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in
sy mate--die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.
17 Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die
ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie--
18 mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God
deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart;
19 wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in
hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.
20 Maar julle het Christus nie so leer ken nie,
21 as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die
waarheid is in Jesus:
22 dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur
die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan,
23 en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed
24 en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware
geregtigheid en heiligheid.
25 Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want
ons is mekaar se lede.
26 Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn
nie;
27 en gee aan die duiwel geen plek nie.
28 Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur
met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die
een wat gebrek het.
29 Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net 'n woord wat
goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.
30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot
die dag van verlossing.
31 Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle
verwyder word, saam met alle boosheid.
32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos
God ook in Christus julle vergewe het.
5
1 Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders;
2 en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons
oorgegee het as 'n gawe en offer aan God tot 'n lieflike geur.
3 Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie
genoem word nie, soos dit die heiliges betaam;
4 ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer
danksegging.
5 Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat 'n
afgodedienaar is, 'n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.
6 Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van
God oor die kinders van die ongehoorsaamheid.
7 Wees dan nie hulle deelgenote nie.
8 Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here--wandel
soos kinders van die lig.
9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en
waarheid.
10 En beproef wat die Here welbehaaglik is;
11 en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar
bestraf dit liewer.
12 Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem.
13 Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles
wat openbaar word, is lig.
14 Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus
sal oor jou skyn.
15 Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;
16 en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.
17 Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van
die Here is.
18 Moenie dronk word van wyn nie--daarin is losbandigheid; maar word met die
Gees vervul.
19 Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en
psalmsing in julle hart tot eer van die Here,
20 terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here
Jesus Christus,
21 en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.
22 Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.
23 Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die
gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.
24 Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook
in alles aan hul eie mans wees.
25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente
liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het
26 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,
27 sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of
iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.
28 So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy
eie vrou liefhet, het homself lief;
29 want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit,
net soos die Here die gemeente.
30 Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene.
31 Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en
hulle twee sal een vlees word.
32 Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die
gemeente.
33 In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net
soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.
6
1 Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.
2 Eer jou vader en jou moeder--dit is die eerste gebod met 'n belofte--
3 sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.
4 En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en
vermaning van die Here.
5 Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing,
in opregtheid van julle hart, soos aan Christus;
6 nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat
die wil van God van harte doen
7 en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie,
8 omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal
ontvang, of hy 'n slaaf is of 'n vryman.
9 En, here, doen dieselfde teenoor hulle en laat staan die dreigemente, omdat
julle weet dat ook julle eie Here in die hemele is en by Hom geen aanneming van
die persoon is nie.
10 Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.
11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die
liste van die duiwel.
12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede,
teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen
die bose geeste in die lug.
13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan
bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.
14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van
die geregtigheid aan,
15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.
16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die
vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.
17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees--dit is die
woord van God--
18 terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees,
en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges
19 en vir my, sodat 'n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met
vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak,
20 waarvoor ek 'n gesant is in kettings, sodat ek daarin vrymoediglik mag spreek
soos ek moet spreek.
21 En dat julle ook my omstandighede kan ken, hoe dit met my gaan, alles sal
Tíchikus, die geliefde broeder en getroue dienaar in die Here, julle bekend maak.
22 Ek het hom juis daarvoor na julle gestuur, dat julle ons omstandighede kan
ken en hy julle harte kan troos.
23 Vrede vir die broeders en liefde, met geloof, van God die Vader en die Here
Jesus Christus!
24 Die genade sy met almal wat onse Here Jesus Christus in onverganklikheid
liefhet! Amen.