G e n e s i s 1
1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die
Gees van God het gesweef op die waters.
3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.
4 Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig
en die duisternis;
5 en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was
aand en dit was môre, die eerste dag.
6 En God het gesê: Laat daar 'n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit
skeiding maak tussen waters en waters.
7 God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is,
geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so.
8 En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die
tweede dag.
9 En God het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel,
sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so.
10 En God het die droë grond aarde genoem, en die versameling van die waters het
Hy see genoem. Toe sien God dat dit goed was.
11 En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad
gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die
aarde. En dit was so.
12 Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle
soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte. Toe
sien God dat dit goed was.
13 En dit was aand en dit was môre, die derde dag.
14 En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om
skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel
vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare.
15 Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee
op die aarde. En dit was so.
16 God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die
dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre.
17 En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die
aarde
18 en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die
lig en die duisternis. Toe sien God dat dit goed was.
19 En dit was aand en dit was môre, die vierde dag.
20 En God het gesê: Laat die waters wemel met 'n gewemel van lewende wesens, en
laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel.
21 En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg,
waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls
volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.
22 En God het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die
waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder.
23 En dit was aand en dit was môre, die vyfde dag.
24 En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle
soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte.
En dit was so.
25 En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die
vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle
soorte. Toe sien God dat dit goed was.
26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat
hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en
oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom
geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en
vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en
die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.
29 Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op
die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal
julle voedsel wees.
30 Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die
kruipende diere op die aarde, waarin 'n lewende siel is, gee Ek al die groen
plante as voedsel. En dit was so.
31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. En dit was aand
en dit was môre, die sesde dag.
2
1 So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag.
2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die
sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.
3 En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het
van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.
4 Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die
dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het,
5 was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die
veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die
aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie.
6 Maar 'n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig.
7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy
neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel geword.
8 Ook het die HERE God 'n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die
mens wat Hy geformeer het, 'n plek gegee.
9 En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om
te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die
tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.
10 En daar het 'n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en
daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword.
11 Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land Háwila
loop waar die goud is.
12 En die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen.
13 En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele
land Kus loop.
14 En die naam van die derde rivier is die Hiddékel. Dit is hy wat oos van Assur
loop. En die vierde rivier is die Frat.
15 Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om
dit te bewerk en te bewaak.
16 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die
tuin mag jy vry eet,
17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet
nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.
18 Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal
vir hom 'n hulp maak wat by hom pas.
19 En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al
die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou
noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam
wees.
20 So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel
en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het hy geen hulp
gevind wat by hom pas nie.
21 Toe het die HERE God 'n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap,
het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak.
22 En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot 'n vrou en
bring haar na die mens.
23 Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my
vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.
24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle
sal een vlees wees.
25 En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam
nie.
3
1 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God
gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie
eet van al die bome van die tuin nie?
2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag
ons eet,
3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God
gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle
sterwe.
4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;
5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos
God sal wees deur goed en kwaad te ken.
6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy 'n lus was vir
die oë, ja, 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van
sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.
7 Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle
het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.
8 En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in
die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van
die HERE God tussen die bome van die tuin.
9 Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy?
10 En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is
naak; daarom het ek my verberg.
11 En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die
boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?
12 En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my
van die boom gegee, en ek het geëet.
13 Daarop sê die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou
antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.
14 Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek
onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof
moet jy eet al die dae van jou lewe.
15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar
saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.
16 Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou
swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees,
en hy sal oor jou heers.
17 En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou
en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie--vervloek
is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou
lewe.
18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van
die veld eet.
19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die
aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.
20 En die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat
lewe.
21 En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit
aangetrek.
22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en
kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die
lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!
23 Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk
waaruit hy geneem is.
24 So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin
van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die
boom van die lewe te bewaak.
4
1 En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en
gesê: Ek het 'n man verkry met die hulp van die HERE.
2 Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het 'n skaapherder geword, en
Kain 'n landbouer.
3 En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE 'n
offer gebring.
4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van
hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien,
5 maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het
sy hoof laat hang.
6 En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?
7 Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie--die
sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor
heers.
8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain
teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.
9 Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie.
Is ek my broer se wagter?
10 En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My
van die aarde af.
11 Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om
die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang.
12 As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; 'n
swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde.
13 Daarop sê Kain vir die HERE: My skuld is te groot om dit te dra.
14 Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig:
'n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my
doodslaan.
15 Maar die HERE sê vir hom: Daarom, as enigeen Kain doodslaan, sal dit
sewevoudig gewreek word. En die HERE het 'n teken gegee aan Kain, sodat enigeen
wat hom kry, hom nie sou doodslaan nie.
16 Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land
Nod, aan die oostekant van Eden.
17 En Kain het sy vrou beken, en sy het swanger geword en Henog gebaar. Daarna
bou hy 'n stad en noem die stad na die naam van sy seun Henog.
18 En vir Henog is Irad gebore; en Irad was die vader van Mehújael; en Mehújael
was die vader van Metúsael; en Metúsael die vader van Lameg.
19 En Lameg het vir hom twee vroue geneem. Die naam van die eerste was Ada, en
die naam van die tweede Silla.
20 En Ada het Jabal gebaar. Hy was die vader van die tentbewoners en die
veeboere.
21 Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die vader van almal wat op siters en
fluite speel.
22 En Silla het ook gebaar, naamlik Tubal-Kain, 'n smid wat allerhande koper--
en ysterinstrumente gemaak het. En die suster van Tubal-Kain was Naéma.
23 En Lameg het aan sy vroue gesê: Ada en Silla, hoor na my stem! Vroue van
Lameg, luister na my woord! Voorwaar, ek slaan 'n man dood wat my wond en 'n
seun wat my kwes.
24 Want Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewe en sewentig maal.
25 En Adam het sy vrou weer beken, en sy het 'n seun gebaar en hom Set genoem.
Want, het sy gesê, God het my 'n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat
Kain hom doodgeslaan het.
26 En ook vir Set is 'n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die
Naam van die HERE begin aanroep.
5
1 Dit is die stamboom van Adam. Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom
gemaak na die gelykenis van God.
2 Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag
toe hulle geskape is.
3 Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy 'n seun verwek na sy
gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem.
4 En die dae van Adam, ná die geboorte van Set, was agt honderd jaar. En hy het
seuns en dogters gehad.
5 So was dan al die dae van Adam wat hy geleef het, nege honderd en dertig jaar,
en hy het gesterwe.
6 Toe Set honderd en vyf jaar oud was, het hy die vader van Enos geword.
7 En Set het ná die geboorte van Enos nog agt honderd en sewe jaar gelewe. En hy
het seuns en dogters gehad.
8 So was dan al die dae van Set nege honderd en twaalf jaar, en hy het gesterwe.
9 Toe Enos negentig jaar oud was, het hy die vader van Kenan geword.
10 En Enos het ná die geboorte van Kenan nog agt honderd en vyftien jaar gelewe.
En hy het seuns en dogters gehad.
11 So was dan al die dae van Enos nege honderd en vyf jaar, en hy het gesterwe.
12 Toe Kenan sewentig jaar oud was, het hy die vader van Mahalálel geword.
13 En Kenan het ná die geboorte van Mahalálel nog agt honderd en veertig jaar
gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
14 So was dan al die dae van Kenan nege honderd en tien jaar, en hy het
gesterwe.
15 Toe Mahalálel vyf en sestig jaar oud was, het hy die vader van Jered geword.
16 En Mahalálel het ná die geboorte van Jered nog agt honderd en dertig jaar
gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
17 So was dan al die dae van Mahalálel agt honderd vyf en negentig jaar, en hy
het gesterwe.
18 Toe Jered honderd twee en sestig jaar oud was, het hy die vader van Henog
geword.
19 En Jered het ná die geboorte van Henog nog agt honderd jaar gelewe. En hy het
seuns en dogters gehad.
20 So was dan al die dae van Jered nege honderd twee en sestig jaar, en hy het
gesterwe.
21 Toe Henog vyf en sestig jaar oud was, het hy die vader van Metúsalag geword.
22 En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog drie honderd jaar met God
gewandel. En hy het seuns en dogters gehad.
23 So was dan al die dae van Henog drie honderd vyf en sestig jaar.
24 En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom
weggeneem.
25 Toe Metúsalag honderd sewe en tagtig jaar oud was, het hy die vader van Lameg
geword.
26 En Metúsalag het ná die geboorte van Lameg nog sewe honderd twee en tagtig
jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
27 So was dan al die dae van Metúsalag nege honderd nege en sestig jaar, en hy
het gesterwe.
28 Toe Lameg honderd twee en tagtig jaar oud was, het hy 'n seun verwek
29 en hom Noag genoem, want hy het gesê: Dit is hy wat ons sal troos oor ons
werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat
die HERE vervloek het.
30 En Lameg het ná die geboorte van Noag nog vyf honderd vyf en negentig jaar
gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
31 So was dan al die dae van Lameg sewe honderd sewe en sewentig jaar, en hy het
gesterwe.
32 En Noag was vyf honderd jaar oud, en Noag het die vader geword van Sem, Gam
en Jafet.
6
1 Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore
is,
2 sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het
vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.
3 Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook
vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar.
4 In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by
die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is
die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.
5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al
die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,
6 het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was
smart in Sy hart.
7 En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die
mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want
dit berou My dat Ek hulle gemaak het.
8 Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE.
9 Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was 'n regverdige, opregte man onder sy
tydgenote. Noag het met God gewandel.
10 En Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet.
11 Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol
geweld.
12 Toe sien God die aarde aan, en--dit was verdorwe, want alle vlees het sy
wandel op die aarde verderwe.
13 En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom;
want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met
die aarde verdelg.
14 Maak vir jou 'n ark van goferhout. Met afdelings moet jy die ark maak en dit
binne en buite met pik bestryk.
15 Só moet jy dit maak: drie honderd el die lengte van die ark, vyftig el sy
breedte en dertig el sy hoogte.
16 'n Opening moet jy aan die ark maak; en op die maat van 'n el moet jy dit aan
die bokant afwerk en die deur van die ark aan die sykant insit. Jy moet dit met
'n onderste, tweede en derde verdieping maak.
17 Want kyk, Ék bring 'n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te
verdelg alle vlees waar 'n lewensgees in is. Alles wat op die aarde is, sal
wegsterwe.
18 Maar met jou sal Ek my verbond oprig; jy moet in die ark gaan, jy en jou
seuns en jou vrou en die vroue van jou seuns saam met jou.
19 En van al wat lewe, van alle vlees, moet jy twee van elke soort in die ark
laat ingaan om dit saam met jou in die lewe te hou: mannetjie en wyfie moet
hulle wees.
20 Van die voëls volgens hulle soorte en van die vee volgens hulle soorte, van
al die kruipende diere van die aarde volgens hulle soorte, twee van elke soort,
moet na jou kom om in die lewe te bly.
21 En jy, neem vir jou van al die voedsel wat geëet word, en versamel dit by
jou, dat dit vir jou en hulle as voedsel kan dien.
22 En Noag het dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen.
7
1 Daarna het die HERE aan Noag gesê: Gaan in die ark, jy en jou hele huisgesin,
want jou het Ek regverdig bevind voor my aangesig in hierdie geslag.
2 Van al die rein diere moet jy vir jou telkens sewe paar neem, die mannetjie
met sy wyfie; maar van die diere wat nie rein is nie, twee, die mannetjie met sy
wyfie.
3 Ook van die voëls van die hemel telkens sewe paar, die mannetjie met die
wyfie, om die geslag in die lewe te hou op die hele aarde.
4 Want oor nog sewe dae sal Ek laat reën op die aarde, veertig dae en veertig
nagte, en al die lewende wesens wat Ek gemaak het, van die aarde verdelg.
5 En Noag het gedoen net soos die HERE hom beveel het.
6 En Noag was ses honderd jaar oud toe die watervloed oor die aarde gekom het.
7 En Noag en sy seuns en sy vrou en die vroue van sy seuns saam met hom het in
die ark gegaan vanweë die waters van die vloed.
8 Van die rein diere en van die diere wat nie rein is nie, en van die voëls en
van alles wat op die aarde kruip,
9 het daar twee-twee na Noag in die ark gegaan, 'n mannetjie en 'n wyfie, soos
God Noag beveel het.
10 Ná die sewe dae kom toe die waters van die vloed op die aarde.
11 In die ses honderdste jaar van die lewe van Noag, in die tweede maand, op die
sewentiende dag van die maand, op dieselfde dag, is al die fonteine van die
groot watervloed oopgebreek, en die sluise van die hemel is geopen;
12 en die stortreën was op die aarde veertig dae en veertig nagte lank.
13 Op daardie selfde dag het Noag en Sem en Gam en Jafet, die seuns van Noag,
sowel as die vrou van Noag en die drie vroue van sy seuns saam met hulle in die
ark gegaan.
14 Hulle en al die wilde diere volgens hulle soorte en al die vee volgens hulle
soorte en al die diere wat op die aarde kruip, volgens hulle soorte en al die
voëls volgens hulle soorte, voëls van allerhande vere--
15 van al die vlees waar 'n lewensgees in was, het twee-twee na Noag in die ark
gegaan.
16 En die wat ingaan, het gegaan as mannetjie en wyfie van alle vlees soos God
hom beveel het. En die HERE het agter hom toegesluit.
17 En die vloed was veertig dae lank op die aarde: die waters het vermeerder en
die ark opgehef, sodat dit opgerys het bo die aarde.
18 En die waters het die oorhand gekry en grootliks vermeerder op die aarde,
terwyl die ark op die waters drywe.
19 En die waters het heeltemal die oorhand gekry op die aarde, sodat al die hoë
berge onder die ganse hemel bedek was.
20 Vyftien el bo hulle het die waters die oorhand gekry, sodat die berge bedek
was.
21 En alle vlees wat op die aarde beweeg, het weggesterwe: die voëls en die vee
en die wilde diere en al die gedierte wat op die aarde wemel, en al die mense.
22 Alles wat die asem van die lewensgees in sy neusgate gehad het, alles wat op
die droë grond was, het doodgegaan.
23 So is dan al die lewende wesens verdelg wat op die aarde was, die mens sowel
as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; hulle is verdelg
van die aarde af. En net Noag het oorgebly en wat by hom in die ark was.
24 En die waters het die oorhand behou oor die aarde honderd en vyftig dae lank.
8
1 En God het gedink aan Noag en aan al die wilde diere en al die vee wat saam
met hom in die ark was; en God het 'n wind oor die aarde laat waai, sodat die
waters gesak het.
2 Ook die fonteine van die watervloed en die sluise van die hemel het toegegaan,
en die stortreën uit die hemel het opgehou.
3 Toe het die waters geleidelik van die aarde teruggegaan, en die waters het
afgeneem aan die end van honderd en vyftig dae.
4 En die ark het in die sewende maand, op die sewentiende dag van die maand, op
die gebergte van Ararat gerus.
5 En die waters het geleidelik afgeneem tot die tiende maand. In die tiende
maand, op die eerste van die maand, het die toppe van die berge sigbaar geword.
6 Toe het Noag aan die end van veertig dae die venster oopgemaak van die ark wat
hy gebou het,
7 en 'n kraai uitgestuur wat gedurig heen en weer gevlieg het totdat die waters
weggedroog het van die aarde af.
8 Daarop laat hy 'n duif van hom af wegvlieg om te sien of die waters oor die
aarde verminder het.
9 Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom
teruggekeer in die ark; want die waters was oor die hele aarde. So het hy dan sy
hand uitgesteek en hom gegryp en in die ark by hom gebring.
10 Daarna het hy weer sewe dae gewag. Toe stuur hy die duif weer uit die ark.
11 En die duif het teen die aand na hom gekom, en daar was 'n groen olyfblad in
sy bek! Toe merk Noag dat die waters oor die aarde verminder het.
12 Daarna wag hy weer sewe dae en stuur die duif uit. Maar hy het nie weer na
hom teruggekeer nie.
13 In die ses honderd en eerste jaar, in die eerste maand, op die eerste van die
maand, het die waters weggedroog van die aarde af. En Noag het die deksel van
die ark weggeneem en uitgekyk, en die aarde was droog--
14 in die tweede maand, op die sewe en twintigste dag van die maand, was die
aarde droog.
15 En God het met Noag gespreek en gesê:
16 Gaan uit die ark, jy en jou vrou en jou seuns en die vroue van jou seuns saam
met jou.
17 Laat saam met jou uitgaan al die diere wat by jou is, van alle vlees: die
voëls en die vee en al die diere wat op die aarde kruip, dat hulle kan wemel op
die aarde en vrugbaar wees en vermeerder op die aarde.
18 Toe gaan Noag uit en sy seuns en sy vrou en die vroue van sy seuns saam met
hom.
19 Al die diere, alles wat kruip, en al die voëls, alles wat op die aarde
beweeg, volgens hulle soorte, het uit die ark uitgegaan.
20 En Noag het vir die HERE 'n altaar gebou en van al die rein diere en al die
rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring.
21 En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart gesê: Ek
sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die
versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie
meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie.
22 Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte,
somer en winter, dag en nag nie ophou nie.
9
1 En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en
vermeerder en vul die aarde.
2 Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al
die voëls van die hemel: alles wat op die aarde beweeg, en al die visse van die
see. Hulle is in julle hand oorgegee.
3 Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante,
gee Ek dit alles aan julle.
4 Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie.
5 Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit
eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die
mens eis.
6 Hy wat die bloed van 'n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word;
want God het die mens na sy beeld gemaak.
7 Maar julle, wees vrugbaar en vermeerder; wemel op die aarde en vermeerder
daarop.
8 Verder het God met Noag en sy seuns by hom gespreek en gesê:
9 Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag ná julle,
10 en met al die lewende wesens wat by julle is: die voëls, die vee en al die
wilde diere van die aarde by julle--al wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al
die diere van die aarde.
11 En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters
van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om
die aarde te verwoes nie.
12 En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en
julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte:
13 my boog gee Ek in die wolke; dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My
en die aarde.
14 As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke,
15 dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die
lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer 'n vloed word om alle
vlees te verdelg nie.
16 As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees
aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op
die aarde is.
17 En God het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het
tussen My en alle vlees wat op die aarde is.
18 En die seuns van Noag wat uit die ark uitgegaan het, was Sem en Gam en Jafet.
En Gam was die vader van Kanaän.
19 Hierdie drie was die seuns van Noag; en met hulle begin die uitbreiding van
al die aardbewoners.
20 En Noag het as landbouer 'n wingerd begin plant.
21 Maar toe hy van die wyn gedrink het, het hy dronk geword en naak in sy tent
gelê.
22 En Gam, die vader van Kanaän, het sy vader se naaktheid gesien en dit aan sy
twee broers daarbuite te kenne gegee.
23 Toe neem Sem en Jafet die bo-kleed en hou dit op hulle skouers terwyl hulle
agteruitloop, en hulle het die naaktheid van hulle vader bedek: hulle gesig was
agtertoe gedraai, sodat hulle die naaktheid van hulle vader nie gesien het nie.
24 Toe Noag van sy wyn wakker word en merk wat sy jonger seun hom aangedoen het,
25 sê hy: Vervloek is Kanaän! 'n Kneg van die knegte moet hy wees vir sy broers.
26 Verder het hy gesê: Geseënd is die HERE, die God van Sem. Maar Kanaän moet sy
dienskneg wees.
27 Mag God aan Jafet ruimte verskaf, en mag hy woon in die tente van Sem! Maar
Kanaän moet sy dienskneg wees.
28 En Noag het ná die vloed drie honderd en vyftig jaar gelewe.
29 So was dan al die dae van Noag nege honderd en vyftig jaar, en hy het
gesterwe.
10
1 En dit is die stamboom van die seuns van Noag: Sem, Gam en Jafet--vir hulle is
daar seuns gebore ná die vloed.
2 Die seuns van Jafet was: Gomer en Magog en Madai en Jawan en Tubal en Meseg en
Tiras.
3 En die seuns van Gomer was: Askenas en Rifat en Togárma.
4 En die seuns van Jawan was: Elísa en Tarsis, die Kittiërs en Dodaniete--
5 uit hulle het verdeeld geraak die kuslande van die nasies, in hulle lande,
elkeen na sy taal, volgens hulle geslagte, in hulle nasies.
6 En die seuns van Gam was: Kus en Misraim en Put en Kanaän.
7 En die seuns van Kus was: Seba en Háwila en Sabta en Raéma en Sábtega. En die
seuns van Raéma: Skeba en Dedan.
8 Kus was ook die vader van Nimrod. Hy het begin om 'n geweldenaar op aarde te
wees.
9 Hy was 'n geweldige jagter voor die aangesig van die HERE. Daarom sê hulle:
Soos Nimrod, 'n geweldige jagter voor die aangesig van die HERE.
10 En die begin van sy ryk was Babel en Ereg en Akkad en Kalne in die land
Sínear.
11 Uit hierdie land het hy getrek na Assur en gebou: Ninevé en Réhobot-Ir en
Kalag
12 en Resen, tussen Ninevé en Kalag--dit is die groot stad.
13 En Misraim was die vader van die Ludiete en Anamiete en Lehabiete en
Naftuhiete
14 en die Patrusiete en Kasluhiete--waaruit die Filistyne voortgekom het--en
Kaftoriete.
15 En Kanaän was die vader van Sidon, sy eersgeborene, en Het
16 en die Jebusiete en Amoriete en Girgasiete
17 en die Hewiete en Arkiete en Siniete
18 en die Arwadiete en Semariete en Hamatiete. En daarna het die geslagte van
die Kanaäniete hulle versprei.
19 En die gebied van die Kanaäniete was van Sidon af in die rigting van Gerar
tot by Gasa, in die rigting van Sodom en Gomorra en Adma en Sebóim tot by Lesa.
20 Dit was die seuns van Gam volgens hulle geslagte, na hulle tale, in hulle
lande, in hulle nasies.
21 En ook vir Sem, die stamvader van al die seuns van Heber, die ouer broer van
Jafet, is seuns gebore.
22 Die seuns van Sem was: Elam en Assur en Arpagsad en Lud en Aram.
23 En die seuns van Aram was: Us en Hul en Geter en Mas.
24 En Arpagsad was die vader van Selag, en Selag van Heber.
25 En vir Heber is twee seuns gebore; die naam van die een was Peleg, want in sy
dae het die aardbewoners verdeeld geraak; en die naam van sy broer was Joktan.
26 En Joktan was die vader van Almódad en Selef en Hasarmáwet en Jerag
27 en Hadóram en Usal en Dikla
28 en Obal en Abímael en Skeba
29 en Ofir en Háwila en Jobab. Hulle almal was seuns van Joktan.
30 En hulle woonplek was van Mesa af in die rigting van Sefar, die berg van die
Ooste.
31 Dit is die seuns van Sem volgens hulle geslagte, na hulle tale, in hulle
lande, volgens hulle nasies.
32 Dit is die geslagte van die seuns van Noag volgens hulle afstamming, in hulle
nasies; en uit hulle het die nasies op die aarde hulle verdeel ná die vloed.
11
1 En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde.
2 En toe hulle wegtrek na die ooste, vind hulle 'n laagte in die land Sínear; en
daar het hulle gaan woon.
3 Daarop sê hulle vir mekaar: Kom laat ons stene vorm en dit goed brand. Hulle
gebruik toe die bakstene vir bousteen en die lymgrond vir klei.
4 En hulle sê: Kom, laat ons vir ons 'n stad bou en 'n toring waarvan die spits
tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons 'n naam maak, sodat ons nie oor die
hele aarde verstrooid raak nie.
5 Toe daal die HERE neer om die stad en die toring te besien waaraan die
mensekinders gebou het.
6 En die HERE sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is
net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees
van wat hulle van plan is om te doen nie.
7 Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van
die ander nie kan verstaan nie.
8 So het die HERE hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; en hulle
het opgehou om die stad te bou.
9 Daarom het hulle dit Babel genoem, want daar het die HERE die taal van die
hele aarde verwar, en daarvandaan het die HERE hulle oor die hele aarde
verstrooi.
10 Dit is die stamboom van Sem: Toe Sem honderd jaar oud was, het hy die vader
van Arpagsad geword, twee jaar ná die vloed.
11 En Sem het ná die geboorte van Arpagsad nog vyf honderd jaar gelewe. En hy
het seuns en dogters gehad.
12 Toe Arpagsad vyf en dertig jaar oud was, het hy die vader van Selag geword.
13 En Arpagsad het ná die geboorte van Selag nog vier honderd en drie jaar
gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
14 Toe Selag dertig jaar oud was, het hy die vader van Heber geword.
15 En Selag het ná die geboorte van Heber nog vier honderd en drie jaar gelewe.
En hy het seuns en dogters gehad.
16 Toe Heber vier en dertig jaar oud was, het hy die vader van Peleg geword.
17 En Heber het ná die geboorte van Peleg nog vier honderd en dertig jaar
gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
18 Toe Peleg dertig jaar oud was, het hy die vader van Rehu geword.
19 En Peleg het ná die geboorte van Rehu nog twee honderd en nege jaar gelewe.
En hy het seuns en dogters gehad.
20 Toe Rehu twee en dertig jaar oud was, het hy die vader van Serug geword.
21 En Rehu het ná die geboorte van Serug nog twee honderd en sewe jaar gelewe.
En hy het seuns en dogters gehad.
22 Toe Serug dertig jaar oud was, het hy die vader van Nahor geword.
23 En Serug het ná die geboorte van Nahor twee honderd jaar gelewe. En hy het
seuns en dogters gehad.
24 Toe Nahor nege en twintig jaar oud was, het hy die vader van Tera geword.
25 En Nahor het ná die geboorte van Tera nog honderd en negentien jaar gelewe.
En hy het seuns en dogters gehad.
26 Toe Tera sewentig jaar oud was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en
Haran.
27 En dit is die stamboom van Tera: Tera het die vader geword van Abram, Nahor
en Haran, en Haran van Lot.
28 En Haran het gesterwe terwyl sy vader Tera nog geleef het, in sy
geboorteland, in Ur van die Chaldeërs.
29 En Abram en Nahor het vir hulle vroue geneem. Die naam van Abram se vrou was
Sarai, en die naam van Nahor se vrou was Milka, die dogter van Haran, die vader
van Milka en die vader van Jiska.
30 En Sarai was onvrugbaar, sy het geen kind gehad nie.
31 En Tera het sy seun Abram geneem en Lot, die seun van Haran, sy kleinseun, en
Sarai, sy skoondogter, die vrou van sy seun Abram, en dié het saam met hulle uit
Ur van die Chaldeërs getrek om na die land Kanaän te gaan. En hulle het tot by
Haran gekom en daar gaan woon.
32 En die dae van Tera was twee honderd en vyf jaar, en Tera het in Haran
gesterwe.
12
1 En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit
jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.
2 En Ek sal jou 'n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat
jy 'n seën sal wees.
3 En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in
jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.
4 Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, en Lot het saam met hom
getrek. En Abram was vyf en sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran.
5 En Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem en al hulle
besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het,
en hulle het uitgetrek om na die land Kanaän te gaan en in die land Kanaän
gekom.
6 En Abram het deur die land getrek na die plek Sigem, tot by die terpentynboom
More. Die Kanaäniete was toe in die land.
7 Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land
gee. Toe bou hy daar 'n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het.
8 En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent
opgeslaan tussen Bet-el aan die weste-- en Ai aan die oostekant, en daar vir die
HERE 'n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep.
9 Daarna het Abram al verder na die Suidland weggetrek.
10 En daar was hongersnood in die land, sodat Abram na Egipte afgetrek het om
daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land.
11 En toe hy op die punt staan om Egipte in te trek, het hy met sy vrou Sarai
gespreek: Kyk, ek weet dat jy 'n vrou is mooi van aansien.
12 As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle sê: Dit is sy vrou en hulle sal my
doodmaak en jou laat lewe.
13 Sê tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek
om jou ontwil in die lewe kan bly.
14 Toe Abram dan in Egipte gekom het, sien die Egiptenaars dat die vrou baie
mooi was.
15 Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys. En die vrou
is na die paleis van Farao geneem.
16 En hy het goed gedoen aan Abram om haar ontwil, sodat hy kleinvee en beeste
en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het.
17 Maar die HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai,
die vrou van Abram.
18 Daarop laat Farao Abram roep en hy sê: Wat het jy my nou aangedoen? Waarom
het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie?
19 Waarom het jy gesê: Sy is my suster--sodat ek haar vir my as vrou geneem het?
Daar is jou vrou dan nou; neem haar en gaan weg.
20 En Farao het aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom
weggebring met sy vrou en sy hele besitting.
13
1 So het Abram dan uit Egipte na die Suidland opgetrek, hy met sy vrou en sy
hele besitting, en Lot saam met hom.
2 En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud.
3 En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek
waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai,
4 na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het. En Abram het daar die
Naam van die HERE aangeroep.
5 En Lot, wat saam met Abram getrek het, het ook kleinvee en beeste en tente
gehad.
6 En die land kon hulle nie dra om saam te woon nie, want hulle besittings was
groot, sodat hulle nie saam kon woon nie.
7 En daar het twis ontstaan tussen die veewagters van Abram en die veewagters
van Lot. Ook het die Kanaäniete en Feresiete destyds in die land gewoon.
8 Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen
my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers.
9 Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links,
dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan.
10 Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water
het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van
Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland.
11 En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste
weggetrek. So het hulle dan die een van die ander geskei.
12 Abram het bly woon in die land Kanaän, en Lot het gaan woon in die stede van
die Jordaanstreek en sy tente tot by Sodom opgeslaan.
13 En die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die HERE.
14 En die HERE sê vir Abram nadat Lot van hom geskei het: Slaan tog jou oë op en
kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste;
15 want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in
ewigheid.
16 En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die
stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word.
17 Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal
dit aan jou gee.
18 Toe het Abram al verder tente opgeslaan en gaan woon by die terpentynbome van
Mamre wat by Hebron is; en hy het daar vir die HERE 'n altaar gebou.
14
1 En in die dae van Amrafel, die koning van Sínear, Aríog, die koning van
Ellásar, Kedor-Laómer, die koning van Elam, en Tídeal, die koning van die
nasies,
2 het hulle oorlog gevoer teen Bera, die koning van Sodom, en teen Bisra, die
koning van Gomorra, Síneab, die koning van Adma, en Seméber, die koning van
Sebóim, en teen die koning van Bela, dit is Soar.
3 Hulle het almal hulle leërs verenig in die laagte Siddim, dit is die Soutsee.
4 Twaalf jaar lank het hulle Kedor-Laómer toe al gedien, maar in die dertiende
jaar het hulle opstandig geword.
5 Toe kom Kedor-Laómer in die veertiende jaar, en die konings wat saam met hom
was, en hulle verslaan die Refaïete in Asterot-Karnaim en die Susiete in Ham en
die Emiete in die vlakte van Kirjatáim
6 en die Horiete op hulle gebergte Seïr, tot by El-Paran wat aan die woestyn lê.
7 Daarop het hulle omgedraai en by En-Mispat, dit is Kades, gekom en die hele
land van die Amalekiete verower en ook die Amoriete wat in Háseson-Tamar woon.
8 Toe trek die koning van Sodom uit en die koning van Gomorra en die koning van
Adma en die koning van Sebóim en die koning van Bela, dit is Soar, en stel hulle
in die laagte Siddim in slagorde teen hulle op,
9 teen Kedor-Laómer, die koning van Elam, en Tídeal, die koning van die nasies,
en Amrafel, die koning van Sínear, en Aríog, die koning van Ellásar: vier
konings teen vyf.
10 Maar die laagte Siddim was vol gate in die lymgrond; en toe die konings van
Sodom en Gomorra wegvlug, het hulle daarin geval, en die wat oorgebly het, het
na die gebergte gevlug.
11 En hulle het al die goed van Sodom en Gomorra en al hulle voedsel geneem en
weggetrek.
12 Hulle het ook Lot, Abram se broerskind, en al sy goed geneem en
weggetrek--want hy was in Sodom woonagtig.
13 Toe kom daar een wat vrygeraak het, en vertel dit aan Abram, die Hebreër, wat
woonagtig was by die terpentynbome van Mamre, die Amoriet, broer van Eskol en
broer van Aner; en hulle was bondgenote van Abram.
14 Toe Abram hoor dat sy broer as gevangene weggevoer is, het hy sy geoefende
manne wat in sy huis gebore is, laat uittrek, drie honderd en agtien, en hulle
tot by Dan agtervolg--
15 hy het hulle in die nag van verskillende kante aangeval, hy en sy dienaars,
en hulle verslaan en hulle agtervolg tot by Hoba wat noord van Damaskus lê.
16 En hy het al die goed teruggebring, en ook sy broer Lot en sy goed
teruggebring; en ook die vroue en die manskappe.
17 Ná sy terugkoms van die oorwinning op Kedor-Laómer en die konings wat saam
met hom was, het die koning van Sodom uitgetrek hom tegemoet na die laagte Sawe,
dit is die Koningslaagte.
18 En Melgisédek, die koning van Salem, wat 'n priester van God, die
Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring
19 en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die
Skepper van hemel en aarde.
20 En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe
gee hy hom die tiende van alles.
21 En die koning van Sodom sê vir Abram: Gee my die mense, maar neem die goed
vir uself.
22 Toe antwoord Abram die koning van Sodom: Ek hef my hand op tot die HERE, God,
die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde,
23 dat ek geen draad en geen skoenriem, ja, dat ek niks sal neem van alles wat
uwe is nie, sodat u nie kan sê nie: Ek het Abram ryk gemaak.
24 Niks vir my nie! Net wat die dienaars geëet het en die deel van die manne wat
saam met my getrek het, Aner, Eskol en Mamre, laat dié hulle deel neem.
15
1 Ná hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in 'n gesig en
gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou 'n skild en jou loon is baie groot.
2 Toe vra Abram: Here HERE, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders
heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is?
3 Verder het Abram gesê: Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die
bediende van my huis my erfgenaam wees.
4 Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Hierdie een sal jou erfgenaam
nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou
erfgenaam wees.
5 Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel
die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees.
6 En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.
7 Verder het Hy vir hom gesê: Ek is die HERE wat jou uitgelei het uit Ur van die
Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee.
8 En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?
9 En Hy antwoord hom: Neem vir My 'n driejaaroud vers en 'n driejaaroud bokooi
en 'n driejaaroud ram en 'n tortelduif en 'n jong duif.
10 En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes
teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie.
11 Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag.
12 En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik
en groot duisternis het hom oorval.
13 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees
in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en
verdruk word vier honderd jaar lank.
14 Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en
daarna sal hulle uittrek met baie goed.
15 Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe
word.
16 En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die
Amoriete is tot nog toe nie vol nie.
17 En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en
vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur.
18 Op dié dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit en gesê: Aan jou
nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot
rivier, die Eufraatrivier:
19 die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete
20 en Hetiete en Feresiete en Refaïete
21 en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.
16
1 Maar Sarai, die vrou van Abram, het vir hom geen kinders gebaar nie; en sy het
'n Egiptiese slavin gehad met die naam van Hagar.
2 En Sarai het vir Abram gesê: Jy weet, die HERE het my nie toegelaat om moeder
te word nie. Gaan tog in by my slavin; miskien sal ek uit haar gebou word. En
Abram het na Sarai geluister.
3 Toe neem Sarai, die vrou van Abram, Hagar, die Egiptiese, haar slavin--nadat
Abram tien jaar in die land Kanaän gewoon het--en gee haar aan haar man Abram om
sy vrou te wees.
4 En hy het by Hagar ingegaan, en sy het swanger geword. Maar toe sy sien dat sy
swanger was, het haar meesteres veragtelik in haar oë geword.
5 En Sarai sê vir Abram: Die onreg my aangedoen, is op jou! Ek self het my
slavin in jou skoot gegee, en nou dat sy sien dat sy swanger is, het ek
veragtelik in haar oë geword. Laat die HERE oordeel tussen my en jou.
6 En Abram antwoord Sarai: Daar is jou slavin in jou hand--doen met haar soos
dit goed is in jou oë. Toe het Sarai haar sleg behandel, en sy het van haar af
weggevlug.
7 En die Engel van die HERE het haar by 'n fontein in die woestyn gevind, by die
fontein op pad na Sur,
8 en gevra: Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan, en waar gaan jy heen?
En sy antwoord: Ek vlug van my meesteres Sarai af weg.
9 Toe sê die Engel van die HERE vir haar: Gaan terug na jou meesteres en
verneder jou onder haar hande.
10 Verder sê die Engel van die HERE vir haar: Ek sal jou nageslag grootliks
vermeerder, sodat dit vanweë die menigte nie getel kan word nie.
11 Ook sê die Engel van die HERE vir haar: Kyk, jy is swanger en sal 'n seun
baar, en jy moet hom Ismael noem, want die HERE het jou in jou ellende verhoor.
12 En hy sal 'n wilde-esel van 'n mens wees: sy hand teen almal, en almal se
hand teen hom! En hy sal teenoor al sy broers woon.
13 Toe noem sy die Naam van die HERE wat met haar gespreek het: U is 'n God wat
sien. Want sy het gesê: Het ek hier ook gesien na Hom wat my sien?
14 Daarom noem hulle die put: Put van Lagai-Roï. Dit lê daar tussen Kades en
Bered.
15 En Hagar het vir Abram 'n seun gebaar; en Abram het sy seun wat Hagar gebaar
het, Ismael genoem.
16 En Abram was ses en tagtig jaar oud toe Hagar Ismael vir Abram gebaar het.
17
1 Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir
hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg
wees.
2 En Ek wil my verbond sluit tussen My en jou, en jou buitengewoon vermeerder.
3 Toe val Abram op sy aangesig, en God het met hom gespreek en gesê:
4 Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van 'n menigte
van nasies word.
5 Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham,
want Ek maak jou 'n vader van 'n menigte van nasies.
6 En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en
konings sal uit jou voortkom.
7 En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle
geslagte as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná
jou.
8 En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee,
die hele land Kanaän, as 'n ewige besitting; en Ek sal vir hulle 'n God wees.
9 Verder het God aan Abraham gesê: Maar jy moet my verbond hou, jy en jou
nageslag ná jou, van geslag tot geslag.
10 Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná
jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word--
11 julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal 'n teken
wees van die verbond tussen My en julle.
12 'n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in
julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling
met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie--
13 die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny
word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as 'n ewige verbond.
14 En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid
besny is nie--dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond
verbreek.
15 Verder het God aan Abraham gesê: Sarai, jou vrou, moet jy nie Sarai noem nie,
maar haar naam sal Sara wees.
16 En Ek sal haar seën en jou uit haar ook 'n seun gee; ja, Ek sal haar seën,
sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom.
17 Toe val Abraham op sy aangesig, en hy lag en sê in sy hart: Kan daar vir een
wat honderd jaar oud is, 'n kind gebore word? Of kan Sara, wat negentig jaar oud
is, baar?
18 En Abraham sê aan God: Ag, mag Ismael lewe voor u aangesig!
19 Toe antwoord God: Voorwaar, jou vrou Sara sal vir jou 'n seun baar, en jy
moet hom Isak noem; en Ek sal my verbond met hom oprig as 'n ewige verbond vir
sy nageslag ná hom.
20 Ook wat Ismael aangaan, het Ek jou verhoor. Kyk, Ek seën hom en maak hom
vrugbaar en vermeerder hom buitengewoon. Twaalf vorste sal hy verwek, en Ek sal
hom 'n groot nasie maak.
21 Maar my verbond sal Ek oprig met Isak wat Sara vir jou anderjaar op hierdie
tyd sal baar.
22 En nadat Hy klaar met hom gespreek het, het God van Abraham af opgevaar.
23 Daarop neem Abraham sy seun Ismael en almal wat in sy huis gebore is, en
almal wat met sy geld gekoop is, almal wat manlik was onder die mense in die
huis van Abraham, en hy het die vlees van hulle voorhuid nog op daardie selfde
dag besny, soos God met hom gespreek het.
24 En Abraham was nege en negentig jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid
besny is.
25 En sy seun Ismael was dertien jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid
besny is.
26 Op daardie selfde dag is Abraham en sy seun Ismael besny
27 en al die manne van sy huis--die wat in sy huis gebore en die wat van
vreemdelinge met geld gekoop is, is saam met hom besny.
18
1 Daarna het die HERE aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy
by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag.
2 Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle
sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die
aarde toe.
3 En hy sê: My heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u
kneg verby nie.
4 Laat hulle tog 'n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die
boom.
5 En laat ek 'n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart--daarna kan u verder
gaan--want daarom het u by u kneg aangekom. En hulle antwoord: Doen soos u gesê
het.
6 Toe loop Abraham haastig in die tent na Sara en sê: Maak gou, knie drie mate
meel, die beste, en maak roosterkoeke.
7 Daarop loop Abraham na die beeste en vang 'n jong, mooi kalf en gee dit aan
die dienaar, wat dit gou klaargemaak het.
8 En hy neem dikmelk en soetmelk en die kalf wat hy klaargemaak het, en sit dit
aan hulle voor, terwyl hy self by hulle onder die boom bly staan; en hulle het
geëet.
9 Toe sê hulle vir hom: Waar is Sara, u vrou? En hy antwoord: Daar in die tent.
10 En Hy sê: Ek sal oor 'n jaar sekerlik weer na jou toe kom--dan sal jou vrou
Sara 'n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom
was.
11 Maar Abraham en Sara was oud, ver op hulle dae; dit het met Sara nie meer
volgens die reël van die vroue gegaan nie.
12 En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus hê nadat ek oud geword
het en my heer oud is?
13 Toe sê die HERE vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook
werklik baar nou dat ek oud geword het?
14 Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor 'n jaar, sal Ek na
jou terugkom, en Sara sal 'n seun hê.
15 Maar Sara het dit ontken en gesê: Ek het nie gelag nie--want sy was bang.
Maar Hy sê: Nee, maar jy het gelag.
16 Toe staan die manne daarvandaan op, en hulle het gekyk na die kant van Sodom;
en Abraham het saam met hulle gegaan om hulle weg te bring.
17 Daarop sê die HERE: Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen,
18 terwyl Abraham tog sekerlik 'n groot en magtige nasie sal word en al die
nasies van die aarde in hom geseën sal word?
19 Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou
gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen;
sodat die HERE oor Abraham kan bring wat Hy oor hom gespreek het.
20 Verder het die HERE gesê: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot,
en hulle sonde is waarlik baie swaar.
21 Ek wil neerdaal en sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor
hulle is wat by My gekom het; en so nie, Ek wil dit weet.
22 Toe het die manne daarvandaan weggedraai en na Sodom gegaan, maar Abraham het
nog bly staan voor die aangesig van die HERE.
23 En Abraham het nader gekom en gesê: Sal U ook die regverdige saam met die
goddelose ombring?
24 Miskien is daar vyftig regverdiges binne-in die stad; sal U hulle ook ombring
en die plek nie spaar ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie?
25 Laat dit ver van U wees om so iets te doen: om die regverdige saam met die
goddelose om te bring, sodat die regverdige gelyk is met die goddelose. Laat dit
ver van U wees! Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie?
26 Toe sê die HERE: As Ek in Sodom vyftig regverdiges vind binne-in die stad,
dan sal Ek die hele plek spaar om hulle ontwil.
27 En Abraham antwoord en sê: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te
spreek alhoewel ek stof en as is.
28 Miskien sal daar aan die vyftig regverdiges vyf ontbreek; sal U ter wille van
vyf die hele stad verwoes? En Hy antwoord: Ek sal dit nie verwoes as Ek daar vyf
en veertig vind nie.
29 En hy het nog verder met Hom gespreek en gesê: Miskien sal daar veertig
gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die veertig nie doen nie.
30 Verder sê hy: Laat die Here tog nie toornig wees nie, en mag ek nog iets sê.
Miskien sal daar dertig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit nie doen as Ek
daar dertig vind nie.
31 Toe sê hy: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek. Miskien sal
daar twintig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die twintig
nie verwoes nie.
32 Toe sê hy: Laat die Here tog nie toornig wees nie en laat my net hierdie keer
mag spreek. Miskien sal daar tien gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter
wille van die tien nie verwoes nie.
33 En die HERE het weggegaan toe Hy opgehou het om met Abraham te spreek, en
Abraham het na sy woonplek teruggekeer.
19
1 En die twee engele het in die aand in Sodom aangekom, terwyl Lot in die poort
van Sodom sit; en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan om hulle tegemoet te gaan
en hom gebuig met die aangesig na die aarde toe
2 en gesê: Kyk tog, my here, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die
nag oor en was u voete; dan kan u vroeg opstaan en u reis voortsit. Maar hulle
antwoord: Nee, ons sal op die plein vernag.
3 Maar hy het baie by hulle aangehou, sodat hulle na hom uitgedraai en in sy
huis gekom het. En hy het vir hulle 'n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak,
en hulle het geëet.
4 Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van
Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam.
5 En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na
jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken.
6 Daarop gaan Lot na hulle toe uit voor die ingang en sluit die deur agter hom
toe
7 en sê: My broers, moet tog nie kwaad doen nie.
8 Kyk tog, ek het twee dogters wat geen man beken het nie; laat ek dié na julle
uitbring, en doen met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie manne
moet julle niks doen nie, want daarom het hulle onder die skaduwee van my dak
ingekom.
9 Toe antwoord hulle: Gee pad daar! En hulle sê: Hierdie een het gekom om hier
as vreemdeling te vertoef en wil tog gedurig die baas speel. Nou sal ons jou
meer kwaad doen as aan hulle. En hulle het sterk op die man, op Lot, aangedring
en nader gekom om die deur oop te breek.
10 Maar die manne het hulle hand uitgesteek en Lot by hulle in die huis gebring
en die deur toegesluit.
11 Toe slaan hulle die manne wat by die ingang van die huis was, klein en groot,
met blindheid, sodat hulle tevergeefs na die ingang gesoek het.
12 Daarop sê die manne vir Lot: Wie het jy hier nog? 'n Skoonseun en jou seuns
en jou dogters en almal wat jy het in die stad--bring hulle uit die plek uit;
13 want ons gaan hierdie plek verwoes, omdat die geroep oor hulle groot is voor
die aangesig van die HERE, en die HERE het ons gestuur om dit te verwoes.
14 Toe gaan Lot uit en praat met sy skoonseuns wat met sy dogters sou trou, en
sê: Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die HERE gaan die stad
verwoes. Maar hy was in die oë van sy skoonseuns soos een wat gekskeer.
15 En toe die dag begin breek, het die engele by Lot aangedring en gesê: Maak
jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, dat jy weens die
ongeregtigheid van die stad nie omkom nie.
16 Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters
aan die hand, omdat die HERE hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom
buitekant die stad.
17 En toe hulle hulle na buite uitgelei het, sê Hy: Vlug vir jou lewe! Moenie
omkyk nie, en moenie êrens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die
gebergte, dat jy nie omkom nie!
18 Daarop antwoord Lot hulle: Ag nee, my Here!
19 Kyk tog, u kneg het genade in u oë gevind, en U het u guns groot gemaak wat U
aan my bewys het deur my in die lewe te behou. Maar ek is nie in staat om na die
gebergte te vlug sonder dat die onheil my inhaal en ek sterwe nie.
20 Kyk tog, hierdie stad is naby om daarheen te vlug, en dit is klein. Laat my
tog daarheen vlug--is dit nie klein nie? --dat ek kan lewe!
21 En Hy sê vir hom: Kyk, Ek neem jou ook in hierdie saak in guns aan, sodat Ek
die stad waarvan jy gespreek het, nie sal omkeer nie.
22 Vlug gou daarheen, want Ek kan niks doen voordat jy daar aankom nie. Daarom
noem hulle die stad Soar.
23 Die son het oor die aarde opgegaan toe Lot in Soar aankom.
24 En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE
uit die hemel,
25 en Hy het hierdie stede omgekeer en die hele Jordaanstreek, ook al die
inwoners van die stede en wat op die grond groei.
26 En sy vrou het agter hom omgekyk, en sy het 'n soutpilaar geword.
27 En Abraham is vroeg in die môre na die plek waar hy voor die aangesig van die
HERE gestaan het.
28 Toe hy uitkyk oor Sodom en Gomorra en oor die hele land van die
Jordaanstreek, sien hy dat die rook van die land optrek soos die rook van 'n
smeltoond.
29 En onderwyl God die stede van die Jordaanstreek verwoes, het God aan Abraham
gedink en Lot uitgelei uit die omkering toe Hy die stede omgekeer het waar Lot
woonagtig was.
30 En Lot het uit Soar opgetrek en saam met sy twee dogters gaan woon op die
gebergte, want hy was bang om in Soar te bly; daarom het hy saam met sy twee
dogters in 'n spelonk gaan woon.
31 En die oudste het aan die jongste gesê: Ons vader is oud, en daar is geen man
in die land om, na die reël van die ganse aarde, by ons in te gaan nie.
32 Kom, laat ons aan ons vader wyn gee om te drink en met hom gemeenskap hou,
sodat ons deur ons vader 'n geslag in die lewe kan hou.
33 Hulle gee toe dié nag aan hulle vader wyn om te drink, en die oudste het
gekom en met haar vader gemeenskap gehad sonder dat hy dit gewaar het toe sy
gaan lê en toe sy opstaan.
34 Die volgende dag sê die oudste aan die jongste: Kyk, ek het verlede nag met
my vader gemeenskap gehad; laat ons hom vannag weer wyn gee om te drink; gaan
dan in, hou met hom gemeenskap, dat ons deur ons vader 'n geslag in die lewe kan
hou.
35 Hulle gee toe dié nag weer aan hulle vader wyn om te drink, en die jongste
het opgestaan en met hom gemeenskap gehad sonder dat hy dit gewaar het toe sy
gaan lê en toe sy opstaan.
36 So het dan die twee dogters van Lot by hulle vader bevrug geword,
37 en die oudste het 'n seun gebaar en hom Moab genoem. Hy is die vader van die
hedendaagse Moabiete.
38 En die jongste het ook 'n seun gebaar en hom Ben-Ammi genoem. Hy is die vader
van die hedendaagse Ammoniete.
20
1 En Abraham het daarvandaan weggetrek na die Suidland en gaan woon tussen Kades
en Sur en in Gerar as vreemdeling vertoef.
2 En Abraham het van Sara, sy vrou, gesê: Sy is my suster. Toe laat Abiméleg,
die koning van Gerar, Sara haal.
3 Maar God het in die nag by Abiméleg gekom in 'n droom en vir hom gesê: Kyk, jy
sal sterwe ter wille van die vrou wat jy laat haal het, want sy is 'n getroude
vrou.
4 Maar Abiméleg het nog nie naby haar gekom nie; daarom het hy gevra: Here, sal
U ook 'n regverdige nasie ombring?
5 Het hy my nie self gesê nie: Sy is my suster? En sy het self ook gesê: Hy is
my broer. In die onskuld van my hart en in die reinheid van my hande het ek dit
gedoen.
6 Daarop antwoord God hom in die droom: Ek weet ook dat jy dit in die onskuld
van jou hart gedoen het, en Ek self het jou daarvan teruggehou om nie teen My te
sondig nie. Daarom het Ek jou nie toegelaat om haar aan te raak nie.
7 Gee dan nou die man se vrou terug, want hy is 'n profeet; en hy sal vir jou
bid, dat jy kan lewe. Maar as jy haar nie teruggee nie, weet dan dat jy sekerlik
sal sterwe, jy en almal wat aan jou behoort.
8 Abiméleg is toe die môre vroeg op en het al sy dienaars geroep en die hele
saak voor hulle ore vertel. Toe was die manne baie bang.
9 En Abiméleg het Abraham laat roep en hom gevra: Wat het jy ons aangedoen? En
wat het ek teen jou gesondig, dat jy oor my en my koninkryk 'n groot sonde
gebring het? Dinge wat nie mag gebeur nie, het jy my aangedoen.
10 Verder sê Abiméleg vir Abraham: Wat was jou bedoeling dat jy dit gedoen het?
11 En Abraham antwoord: Ek het gedink daar is regtig geen vrees vir God in
hierdie plek nie, sodat hulle my oor my vrou sal doodmaak.
12 En sy is ook werklik my suster; sy is my vader se dogter, maar nie my moeder
se dogter nie; en sy het my vrou geword.
13 En toe God my uit die huis van my vader laat omswerf het, het ek aan haar
gesê: Dit is die guns wat jy van jou kant aan my moet bewys--op elke plek waar
ons kom, moet jy van my sê: Hy is my broer.
14 Toe neem Abiméleg kleinvee en beeste, ook slawe en slavinne, en gee dit aan
Abraham. Ook sy vrou Sara het hy aan hom teruggegee.
15 En Abiméleg sê: Daar lê my land voor jou oop; woon waar dit goed is in jou
oë.
16 En vir Sara sê hy: Hier gee ek aan jou broer duisend sikkels silwer. Kyk, dit
is vir jou 'n bedekking van die oë met betrekking tot elkeen wat by jou is,
sodat jy in elke opsig geregverdig is.
17 Toe het Abraham tot God gebid, en God het Abiméleg gesond gemaak; ook sy vrou
en sy slavinne, sodat hulle kon baar.
18 Want die HERE het elke moederskoot van die huis van Abiméleg geheel en al
toegesluit ter wille van Sara, die vrou van Abraham.
21
1 En die HERE het Sara besoek soos Hy beloof het; en die HERE het aan Sara
gedoen soos Hy gespreek het:
2 Sara het bevrug geword en vir Abraham in sy ouderdom 'n seun gebaar op die
bepaalde tyd wat God genoem het.
3 En Abraham het sy seun wat vir hom gebore is, wat Sara vir hom gebaar het,
Isak genoem.
4 En Abraham het sy seun Isak besny toe hy agt dae oud was, soos God hom beveel
het.
5 En Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak vir hom gebore is.
6 En Sara het gesê: 'n Gelag het God my berei: elkeen wat dit hoor, sal oor my
lag.
7 Verder sê sy: Wie kon ooit aan Abraham voorspel het: Sara soog kinders? Want
ek het 'n seun gebaar in sy ouderdom.
8 En die kind het opgegroei en is gespeen. En Abraham het 'n groot maaltyd berei
op die dag toe Isak gespeen is.
9 Toe sien Sara hoe die seun van Hagar, die Egiptiese slavin, wat sy vir Abraham
gebaar het, spot;
10 en sy sê aan Abraham: Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van
hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie.
11 En die woord was baie verkeerd in die oë van Abraham vanweë sy seun.
12 Maar God het aan Abraham gesê: Laat dit nie verkeerd wees in jou oë ter wille
van die seun en van jou slavin nie. Luister na Sara in alles wat sy van jou
verlang, want deur Isak sal daar vir jou 'n nageslag genoem word.
13 Maar Ek sal ook die seun van die slavin tot 'n nasie maak, omdat hy jou kind
is.
14 Toe is Abraham die môre vroeg op, en hy het brood en 'n sak met water geneem
en dit aan Hagar gegee deur dit op haar skouer te sit, en ook die kind, en haar
weggestuur. Sy het toe weggegaan en rondgedwaal in die woestyn van Berséba.
15 En toe die water in die sak op was, het sy die kind onder een van die bosse
neergewerp
16 en geloop en op 'n afstand gaan sit so ver as 'n boog kan skiet; want sy het
gesê: Ek wil die dood van die kind nie aansien nie. En sy het op 'n afstand gaan
sit en haar stem verhef en geween.
17 Toe hoor God die stem van die seun, en die Engel van God het na Hagar geroep
uit die hemel en haar gevra: Wat is dit met jou, Hagar? Wees nie bevrees nie,
want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is.
18 Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want Ek sal hom 'n
groot nasie maak.
19 Daarop het God haar oë geopen, en sy sien 'n put! En sy het geloop en die sak
vol water gemaak en die seun laat drink.
20 En God was met die seun; en hy het opgegroei en in die woestyn gewoon en 'n
boogskutter geword:
21 hy het in die woestyn Paran gewoon; en sy moeder het vir hom 'n vrou uit
Egipteland geneem.
22 In dié tyd het Abiméleg en Pigol, sy leërowerste, met Abraham gespreek en
gesê: God is met jou in alles wat jy doen.
23 Sweer dan nou vir my hier by God dat jy met my en my kroos en my nageslag nie
vals sal handel nie; dieselfde guns wat ek jou bewys het, moet jy aan my bewys
en aan die land waarin jy as vreemdeling vertoef.
24 En Abraham antwoord: Ek sweer.
25 Maar Abraham het Abiméleg aangespreek oor 'n put wat die dienaars van
Abiméleg met geweld geneem het.
26 Daarop antwoord Abiméleg: Ek weet nie wie dit gedoen het nie, en jy het my
dit ook nie meegedeel nie, en ek het daar ook niks van gehoor nie as net vandag.
27 Toe neem Abraham kleinvee en beeste en gee dit aan Abiméleg; en hulle twee
het 'n verbond gesluit;
28 Abraham het naamlik die sewe ooilammers van die kleinvee eenkant uitgekeer.
29 Toe sê Abiméleg vir Abraham: Wat beteken hierdie sewe ooilammers wat jy
uitgekeer het?
30 En hy antwoord: Die sewe ooilammers moet jy uit my hand aanneem, sodat dit
vir my 'n getuienis kan wees dat ek hierdie put gegrawe het.
31 Daarom noem hulle dié plek Berséba, omdat hulle twee daar gesweer het.
32 So het hulle dan 'n verbond gesluit in Berséba. Daarna het Abiméleg en Pigol,
sy leërowerste, klaargemaak en na die land van die Filistyne teruggegaan.
33 En hy het 'n tamarisk in Berséba geplant en daar die Naam van die HERE, die
ewige God, aangeroep.
34 En Abraham het baie dae as vreemdeling in die land van die Filistyne vertoef.
22
1 Ná hierdie dinge het God Abraham op die proef gestel en aan hom gesê: Abraham!
En hy antwoord: Hier is ek!
2 Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die
land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal
aanwys.
3 Daarop het Abraham die môre vroeg klaargemaak en sy esel opgesaal en twee van
sy dienaars en sy seun Isak saam met hom geneem; en hy het hout gekloof vir 'n
brandoffer en opgestaan en na die plek gegaan wat God hom aangewys het.
4 Op die derde dag toe slaan Abraham sy oë op en sien die plek van ver af.
5 En Abraham sê aan sy dienaars: Bly julle hier met die esel; ek en die seun wil
daarheen gaan om te aanbid en dan na julle terugkom.
6 En Abraham het die hout vir die brandoffer geneem en dit op sy seun Isak
gesit, en die vuur en die mes in sy hand geneem. So het hulle twee dan saam
geloop.
7 Toe spreek Isak met sy vader Abraham en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is
ek, my seun! En hy sê: Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir 'n
brandoffer?
8 En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir 'n brandoffer voorsien,
my seun. So het hulle twee dan saam geloop.
9 Toe hulle kom op die plek wat God hom aangewys het, het Abraham daar die
altaar gebou en die hout reggelê; daarna het hy sy seun Isak gebind en hom op
die altaar bo-op die hout gesit.
10 Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag.
11 Maar die Engel van die HERE het na hom van die hemel af geroep en gesê:
Abraham, Abraham! En hy antwoord: Hier is ek!
12 En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie;
want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie
teruggehou het nie.
13 En toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens 'n ram wat agter in die bos met
sy horings vasgeraak het. En Abraham het gegaan en die ram geneem en dit as
brandoffer in die plek van sy seun geoffer.
14 En Abraham het dié plek genoem: Die HERE sal voorsien! Sodat vandag nog gesê
word: Op die berg van die HERE sal dit voorsien word.
15 Toe roep die Engel van die HERE vir die tweede keer na Abraham van die hemel
af
16 en sê: Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou
seun, jou enigste, nie teruggehou het nie,
17 dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die
sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag
sal die poort van sy vyande in besit neem.
18 En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na
my stem geluister het.
19 En Abraham het na sy dienaars teruggekeer; en hulle het klaargemaak en saam
na Berséba gegaan. En Abraham het in Berséba bly woon.
20 Ná hierdie dinge het hulle aan Abraham berig gebring en gesê: Kyk, Milka het
ook vir jou broer Nahor seuns gebaar:
21 Us, sy eersgeborene, en Bus, sy broer, en Kémuel, die vader van Aram,
22 ook Kesed en Haso en Pildas en Jidlaf en Bétuel.
23 (En Bétuel was die vader van Rebekka.) Hierdie agt het Milka vir Nahor, die
broer van Abraham, gebaar.
24 En sy byvrou met die naam van Reüma, sy het ook Tebag en Gaham en Tahas en
Máäga gebaar.
23
1 En die lewensdae van Sara was honderd sewe en twintig jaar. Dit was die
lewensjare van Sara.
2 En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en
Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween.
3 Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het
gespreek en gesê:
4 Ek is 'n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my 'n graf as besitting by
julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe.
5 Toe antwoord die seuns van Het vir Abraham en sê aan hom:
6 Luister na ons, my heer! U is 'n vors van God onder ons. Begraaf u dode in die
beste graf wat ons het; niemand van ons sal u sy graf weier om u dode te begrawe
nie.
7 Toe staan Abraham op en buig hom voor die volk van die land, voor die seuns
van Het;
8 en hy het met hulle gespreek en gesê: As julle dit goedvind dat ek my dode van
my af weg begrawe, luister dan na my en doen vir my 'n goeie woord by Efron, die
seun van Sohar,
9 dat hy aan my gee die spelonk van Magpéla wat aan hom behoort, wat aan die end
van sy stuk grond lê; laat hy dit vir die volle som aan my gee, dat ek 'n graf
onder julle mag besit.
10 En Efron het tussen die seuns van Het gesit. Toe antwoord Efron, die Hetiet,
vir Abraham voor die ore van die seuns van Het, van almal wat in die poort van
sy stad ingegaan het:
11 Nee, my heer, luister na my. Die stuk grond gee ek aan u; ook die spelonk wat
daarin is, dit gee ek aan u; voor die oë van die seuns van my volk gee ek dit
aan u; begraaf u dode.
12 Daarop het Abraham hom voor die volk van die land neergebuig
13 en met Efron gespreek voor die ore van die volk van die land: Ja, as dit u
is, ag, luister na my! Ek gee die geld vir die stuk grond; neem dit van my aan,
dat ek my dode daar kan begrawe.
14 En Efron het Abraham geantwoord en aan hom gesê:
15 My heer, luister na my. 'n Stuk land van vier honderd sikkels silwer--wat is
dit tussen my en u? Begraaf maar u dode.
16 Toe luister Abraham na Efron, en Abraham het aan Efron die geld afgeweeg
waarvan hy gespreek het voor die ore van die seuns van Het--vier honderd sikkels
silwer gangbaar by die koopman.
17 So het dan die stuk grond van Efron wat in Magpéla teenoor Mamre lê, die stuk
grond en die spelonk wat daarin is, en al die bome op die stuk grond wat op die
ganse gebied daarvan rondom staan,
18 die eiendom van Abraham geword voor die oë van die seuns van Het, voor almal
wat in die poort van sy stad ingegaan het.
19 Daarna het Abraham toe sy vrou Sara begrawe in die spelonk van die stuk grond
van Magpéla, oostelik van Mamre, dit is Hebron, in die land Kanaän.
20 So is dan die stuk grond en die spelonk wat daarin was, deur die seuns van
Het aan Abraham afgestaan om dit as graf in eiendom te besit.
24
1 En Abraham was oud en ver op sy dae, en die HERE het Abraham in alles geseën.
2 Toe sê Abraham aan sy dienaar, die oudste van sy huis wat die opsig gehad het
oor al sy goed: Lê tog jou hand onder my heup,
3 dat ek jou kan laat sweer by die HERE, die God van die hemel en die God van
die aarde, dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die
Kanaäniete onder wie ek woon nie;
4 maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun Isak 'n vrou te
neem.
5 Toe sê die dienaar vir hom: Miskien sal die vrou my nie wil volg na hierdie
land nie. Moet ek u seun dan maar terugbring in die land waaruit u weggetrek
het?
6 En Abraham antwoord hom: Neem jou tog in ag dat jy my seun nie weer daarheen
bring nie.
7 Die HERE, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my
geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die
woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee--Hy sal sy engel voor jou uit
stuur, en jy moet vir my seun daar 'n vrou gaan haal.
8 Maar as die vrou jou nie wil volg nie, dan is jy ontslae van hierdie eed aan
my. Jy moet net my seun nie weer daarheen bring nie.
9 Toe lê die dienaar sy hand onder die heup van Abraham, sy heer, en hy het vir
hom gesweer, met die oog op hierdie saak.
10 En die dienaar het tien kamele van die kamele van sy heer geneem en weggegaan
met allerhande kosbare goed van sy heer by hom: hy het klaargemaak en na
Mesopotámië, na die stad van Nahor, getrek.
11 En hy het die kamele laat neerkniel buitekant die stad by 'n put, teen die
aand, teen die tyd dat die vroue uitgaan om water te skep,
12 en gesê: HERE, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en
bewys guns aan Abraham, my heer.
13 Hier staan ek by die fontein, terwyl die dogters van die manne van die stad
uitkom om water te skep.
14 Laat dit nou tog gebeur: as die dogter aan wie ek sal sê: Hou tog jou kruik,
dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink--dan is sy
dit wat U bestem het vir u kneg Isak, en daaraan sal ek weet dat U guns aan my
heer bewys het.
15 Hy het nog nie klaar gespreek nie, of daar kom Rebekka uit wat vir Bétuel,
die seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer, gebore is, met haar
kruik op haar skouer.
16 En die dogter was baie mooi van aansien, 'n jongmeisie, en geen man het haar
beken nie. En sy het afgedaal na die fontein en haar kruik volgemaak en weer
opgekom.
17 Toe loop die dienaar haar tegemoet en sê: Laat my tog 'n bietjie water uit
jou kruik drink.
18 En sy antwoord: Drink, my heer! Daarop laat sy gou haar kruik op haar hand
afsak en laat hom drink.
19 Nadat sy hom genoeg laat drink het, sê sy: Ek sal vir u kamele ook skep
totdat hulle genoeg gedrink het.
20 Dadelik het sy toe haar kruik in die drinkbak leeggemaak en weer na die put
geloop om te skep en vir al sy kamele geskep.
21 En die man het haar stilswyend betrag om te weet of die HERE sy weg
voorspoedig gemaak het of nie.
22 En toe die kamele genoeg gedrink het, neem die man 'n goue ring, 'n
halfsikkel in gewig, en twee armbande vir haar hande, tien sikkels goud in
gewig.
23 En hy sê: Wie se dogter is jy? Vertel my tog. Is daar plek vir ons in die
huis van jou vader om te vernag?
24 Toe antwoord sy hom: Ek is die dogter van Bétuel, die seun van Milka wat sy
vir Nahor gebaar het.
25 Verder sê sy vir hom: Daar is ook strooi en voer in oorvloed by ons, ook plek
om te vernag.
26 Toe buig die man hom neer en aanbid die HERE
27 met die woorde: Geloofd sy die HERE, die God van Abraham, my heer, wat sy
goedertierenheid en sy trou aan my heer nie onttrek het nie. Wat my aangaan, die
HERE het my op die weg gelei na die huis van die broers van my heer.
28 Daarna het die dogter geloop en in die huis van haar moeder vertel wat daar
gebeur het.
29 En Rebekka het 'n broer gehad met die naam van Laban, en Laban het uitgeloop
na die man buite by die fontein.
30 Want toe hy die ring en die armbande aan die hande van sy suster sien en die
woorde van sy suster Rebekka hoor, naamlik: So het die man met my gespreek--het
hy na die man gegaan, terwyl hy nog daar staan by die kamele by die fontein,
31 en gesê: Kom in, geseënde van die HERE! Waarom staan jy buitekant terwyl ek
die huis reggemaak het en ook plek vir die kamele?
32 En die man het in die huis ingekom--die kamele is afgesaal en vir die kamele
is strooi en voer gegee, en water om sy voete te was en die voete van die manne
wat by hom was.
33 Daarop het hulle ete voor hom neergesit; maar hy het gesê: Ek sal nie eet
voordat ek my saak voorgedra het nie. En hy antwoord: Spreek maar.
34 Toe sê hy: Ek is die dienaar van Abraham.
35 En die HERE het my heer baie geseën, sodat hy groot geword het, en aan hom
kleinvee en beeste, silwer en goud, slawe en slavinne en kamele en esels gegee.
36 En Sara, die vrou van my heer, het vir my heer 'n seun gebaar nadat sy al oud
was; en hy het aan hom alles oorgegee wat hy besit.
37 En my heer het my laat sweer en gesê: Jy moet vir my seun geen vrou neem uit
die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie;
38 maar jy moet gaan na die huis van my vader en na my geslag en vir my seun 'n
vrou gaan haal.
39 Toe het ek aan my heer gesê: Miskien sal die vrou my nie volg nie.
40 Maar hy het my geantwoord: Die HERE voor wie se aangesig ek gewandel het, sal
sy engel met jou saamstuur, en Hy sal jou weg voorspoedig maak, sodat jy vir my
seun 'n vrou uit my geslag en uit die huis van my vader kan gaan haal.
41 Dan sal jy ontslae wees van die eed aan my: as jy by my geslag kom en hulle
haar aan jou nie wil gee nie, dan is jy ontslae van die eed aan my.
42 Ek het toe vandag by die fontein gekom en gesê: HERE, God van Abraham, my
heer, as U dan my weg waar ek op gaan, voorspoedig wil maak--
43 ek staan hier by die fontein laat dit nou tog gebeur: die jongmeisie wat
uitkom om te skep en aan wie ek sal sê: Laat my tog 'n bietjie water uit jou
kruik drink--
44 en wat my sal antwoord: Drink u self, en ook vir u kamele sal ek skep--sy is
die vrou wat die HERE vir die seun van my heer bestem het.
45 Ek het nog nie klaar in my hart gespreek nie of daar het Rebekka uitgekom met
haar kruik op die skouer en na die fontein afgedaal en geskep. Ek het toe vir
haar gesê: Laat my tog drink!
46 En sy het dadelik haar kruik van haar laat afsak en gesê: Drink, en ek sal u
kamele ook laat drink. En ek het gedrink, en sy het ook die kamele laat drink.
47 Toe vra ek haar en sê: Wie se dogter is jy? En sy antwoord: Die dogter van
Bétuel, die seun van Nahor wat Milka vir hom gebaar het. Daarop het ek die ring
aan haar neus gesit en die armbande aan haar hande,
48 en ek het my in aanbidding neergebuig voor die HERE en die HERE geloof, die
God van Abraham, my heer, wat my op die regte weg gelei het om die dogter van my
heer se broer vir sy seun te gaan haal.
49 As julle dan nou guns en trou aan my heer wil bewys, sê dit vir my; en so
nie, sê dit vir my, dat ek regs of links kan gaan.
50 Toe antwoord Laban en Bétuel en sê: Van die HERE kom die saak; ons kan jou
daar geen kwaad of goed van spreek nie.
51 Daar staan Rebekka voor jou, neem haar en gaan heen, dat sy 'n vrou kan wees
vir die seun van jou heer, soos die HERE gespreek het.
52 Toe die dienaar van Abraham hulle woorde hoor, het hy hom voor die HERE
neergebuig na die aarde toe.
53 Daarna het die dienaar silwer-- en goue goed en klere uitgehaal en dit aan
Rebekka gegee; ook aan haar broer en haar moeder het hy kosbare geskenke gegee.
54 En hulle het geëet en gedrink, hy en die manne wat by hom was, en die nag
oorgebly. Toe hulle die môre vroeg opgestaan het, sê hy: Laat my trek na my
heer!
55 Maar haar broer en haar moeder sê: Laat die dogter 'n dag of tien by ons bly;
daarna kan jy heengaan.
56 Maar hy antwoord hulle: Moet my nie ophou nie aangesien die HERE my weg
voorspoedig gemaak het; laat my trek, dat ek na my heer kan gaan.
57 Toe sê hulle: Laat ons die dogter roep en haar self vra.
58 En hulle het Rebekka geroep en haar gevra: Wil jy met hierdie man saamgaan?
En sy antwoord: Ja.
59 Daarop het hulle Rebekka, hulle suster, en haar oppasser laat trek saam met
die dienaar van Abraham en sy manne.
60 En hulle het Rebekka geseën en aan haar gesê: Ons suster, mag jy duisende van
tien duisende word, en mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem!
61 Toe het Rebekka en haar diensmeisies hulle klaargemaak en op die kamele
weggery en die man gevolg. So het die dienaar dan Rebekka saamgeneem en
weggetrek.
62 En Isak het uit die rigting van die put Lagai-Roï gekom; want hy het gaan
woon in die Suidland.
63 En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld. En toe hy sy oë
opslaan, sien hy meteens kamele aankom.
64 Rebekka het ook haar oë opgeslaan en Isak gesien. Toe het sy van die kameel
afgegly
65 en aan haar dienaar gesê: Watter man is dit wat ons tegemoetloop in die veld?
En die dienaar antwoord: Dit is my heer. Toe neem sy die sluier en bedek haar.
66 Daarop het die dienaar aan Isak alles vertel wat hy gedoen het.
67 En Isak het haar in die tent van sy moeder Sara ingebring en Rebekka geneem,
en sy het sy vrou geword; en hy het haar liefgehad. So is Isak dan getroos ná
die dood van sy moeder.
25
1 En Abraham het weer 'n vrou geneem met die naam van Ketúra.
2 En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag
gebaar.
3 En Joksan was die vader van Skeba en Dedan; en die kinders van Dedan was die
Assuriete, Letusiete en Leümmiete.
4 En die seuns van Mídian was: Efa en Efer en Henog en Abída en Eldaä. Hulle
almal was seuns van Ketúra.
5 En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het,
6 maar aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee en
hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland.
7 En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy geleef het: honderd
vyf en sewentig jaar.
8 Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en
afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel.
9 En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die
stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê,
10 die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het. Daar is Abraham
begrawe en sy vrou Sara.
11 Ná die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën; en Isak het gewoon by
die put Lagai-Roï.
12 En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die
Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het--
13 dit is die name van die seuns van Ismael, hulle name volgens hulle
afstamming: die eersgeborene van Ismael, Nébajot; dan Kedar en Adbeël en Mibsam
14 en Misma en Duma en Massa,
15 Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma.
16 Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers,
twaalf vorste volgens hulle volkstamme.
17 En dit is die lewensjare van Ismael: honderd sewe en dertig jaar; en hy het
die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote.
18 En hulle het gewoon van Háwila tot by Sur wat oos van Egipte lê in die
rigting van Assur. Teenoor al sy broers het hy hom gevestig.
19 En dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham was die
vader van Isak.
20 En Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van Bétuel, die
Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou
geneem het.
21 En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar;
en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het.
22 En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so
gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg.
23 En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke
sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die
ander volk; en die oudste sal die jongste dien.
24 En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar 'n tweeling in haar
skoot.
25 En die eerste is gebore--rooi, geheel en al soos 'n mantel van hare. Daarom
het hulle hom Esau genoem.
26 En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou.
Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle
geboorte.
27 En die seuns het opgegroei: Esau het 'n ervare jagter geword, 'n man van die
veld; maar Jakob was 'n vredeliewende man wat in tente gewoon het.
28 En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het
Jakob liefgehad.
29 En Jakob het 'n kooksel klaargemaak en Esau het moeg uit die veld gekom.
30 Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is
moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem.
31 En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my.
32 En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan?
33 Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy
eersgeboortereg aan Jakob verkoop.
34 En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en
gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.
26
1 En daar was hongersnood in die land, buiten die eerste hongersnood wat in die
dae van Abraham gewees het. Daarom het Isak getrek na Abiméleg, die koning van
die Filistyne, na Gerar.
2 En die HERE het aan hom verskyn en gesê: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in
die land wat Ek jou sal aanwys.
3 Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën;
want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed
bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het.
4 En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou
nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die
aarde geseën word;
5 omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge
en my wette onderhou het.
6 So het Isak dan in Gerar gebly.
7 En toe die manne van die plek hom na sy vrou vra, antwoord hy: Sy is my
suster. Want hy was bang om te sê: My vrou--anders sal die manne van die plek,
so het hy gedink, my miskien doodmaak ter wille van Rebekka; want sy was mooi
van aansien.
8 En toe hy al 'n lang tyd daar was, kyk Abiméleg, die koning van die Filistyne,
deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou.
9 En Abiméleg het Isak geroep en gesê: Kyk, sy is dan tog jou vrou! Hoe kon jy
dan verklaar: Sy is my suster? En Isak antwoord hom: Ja, ek het gedink ek kan
miskien om haar ontwil my lewe verloor!
10 En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die
mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy 'n skuld oor ons gebring het!
11 Daarop gee Abiméleg bevel aan die hele volk en sê: Wie hierdie man of sy vrou
aanraak, sal sekerlik gedood word.
12 Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die
HERE het hom geseën.
13 En die man het groot geword en altyddeur groter geword totdat hy baie groot
was:
14 hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Filistyne
hom beny het.
15 En al die putte wat die dienaars van sy vader in die dae van sy vader Abraham
gegrawe het, dié het die Filistyne toegestop en met grond opgevul.
16 Toe sê Abiméleg vir Isak: Trek weg van ons, want jy het vir ons veels te
magtig geword.
17 Daarop het Isak vandaar weggetrek en laer opgeslaan in die dal by Gerar en
daar bly woon.
18 En Isak het die putte weer oopgegrawe wat hulle in die dae van sy vader
Abraham gegrawe het, en wat die Filistyne ná die dood van Abraham toegestop het,
en dit genoem na die name wat sy vader daaraan gegee het.
19 En terwyl die dienaars van Isak in die dal grawe, vind hulle daar 'n put met
lewendige water.
20 En die herders van Gerar het getwis met die herders van Isak en gesê: Dit is
óns water. Daarom het hy die put Esek genoem, omdat hulle met hom onenigheid
gehad het.
21 Daarop grawe hulle 'n ander put, en daaroor het hulle ook getwis. Daarom het
hy dit Sitna genoem.
22 Toe het hy vandaar versit en 'n ander put gegrawe, en daaroor is nie getwis
nie. Daarom het hy dit Réhobot genoem en gesê: Ja, nou het die HERE vir ons
ruimte gemaak en kan ons vrugbaar wees in die land.
23 Daarna het hy vandaar opgetrek na Berséba.
24 En die HERE het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die God van
Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën
en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg.
25 Toe bou hy daar 'n altaar, en hy het die Naam van die HERE aangeroep en daar
sy tent opgeslaan; en die dienaars van Isak het daar 'n put gegrawe.
26 Daarop kom Abiméleg na hom van Gerar af, saam met Ahussat, sy vriend, en
Pigol, sy leërowerste.
27 En Isak het hulle gevra: Waarom het julle na my gekom terwyl julle my haat en
my van julle af weggestuur het?
28 Toe antwoord hulle: Ons het duidelik gesien dat die HERE met jou is. Daarom
het ons gedink: Laat daar tog 'n eed tussen ons wees, tussen ons en jou; en laat
ons 'n verbond met jou sluit:
29 jy moet ons geen kwaad doen nie, net soos ons jou nie aangeraak en aan jou
niks as goed gedoen het nie en jou in vrede weggestuur het. Jy is nou eenmaal
die geseënde van die HERE.
30 Toe berei hy vir hulle 'n maaltyd, en hulle het geëet en gedrink.
31 En hulle is die môre vroeg op en het vir mekaar 'n eed gesweer. Daarop het
Isak hulle laat gaan, en hulle het in vrede van hom af weggetrek.
32 Dieselfde dag kom toe die dienaars van Isak en vertel hom van die put wat
hulle gegrawe het, en sê vir hom: Ons het water gekry.
33 En hy het dit Seba genoem. Daarom is die naam van die stad Berséba tot vandag
toe.
34 Toe Esau veertig jaar oud was, het hy Judit, die dogter van Beëri, die
Hetiet, vir hom as vrou geneem, en Basmat, die dogter van Elon, die Hetiet.
35 En hulle was vir Isak en Rebekka 'n bitter verdriet.
27
1 Toe Isak oud geword het en sy oë swak was, sodat hy nie kon sien nie, het hy
sy oudste seun Esau geroep en vir hom gesê: My seun! En hy het hom geantwoord:
Hier is ek!
2 Toe sê hy: Kyk tog, ek het oud geword, ek weet die dag van my dood nie.
3 Neem dan nou tog jou wapens, jou pylkoker en jou boog, en gaan uit in die veld
en jag vir my 'n stuk wild
4 en maak vir my lekker ete klaar soos ek dit graag wil hê; en bring dit vir my
om te eet; sodat my siel jou kan seën voordat ek sterwe.
5 En Rebekka het geluister terwyl Isak met sy seun Esau spreek. En Esau het in
die veld gegaan om 'n stuk wild te jag en dit te bring.
6 Toe het Rebekka met haar seun Jakob gespreek: Kyk, ek het jou vader met jou
broer Esau hoor spreek en sê:
7 Bring vir my 'n stuk wild en maak vir my lekker ete, dat ek kan eet en jou kan
seën voor die aangesig van die HERE voor my dood.
8 My seun, luister dan nou na my, na wat ek jou beveel.
9 Loop nou na die kleinvee en gaan haal vir my daar twee mooi bokkies, dat ek
jou vader daarvan 'n lekker ete kan maak soos hy dit graag wil hê.
10 Dan moet jy dit na jou vader bring, dat hy kan eet; sodat hy jou kan seën
voor sy dood.
11 Toe sê Jakob vir sy moeder Rebekka: Kyk, my broer Esau is 'n harige man en ek
is 'n gladde man.
12 Miskien sal my vader my betas, en ek sal in sy oë wees soos 'n spotter; so
sou ek dan 'n vloek oor my bring en nie 'n seën nie.
13 Maar sy moeder antwoord hom: Laat jou vloek op my wees, my seun! Luister net
na my en gaan haal dit vir my.
14 Toe het hy dit gaan haal en na sy moeder gebring. En sy moeder het daarvan 'n
lekker ete gemaak soos sy vader dit graag wou hê.
15 Ook neem Rebekka die beste klere van Esau, haar oudste seun, wat by haar in
die huis was, en sy trek dit vir Jakob, haar jongste seun, aan;
16 en die velle van die bokkies trek sy oor sy hande en oor die gladdigheid van
sy nek,
17 en sy gee die lekker ete en die brood wat sy gemaak het, in die hand van
Jakob, haar seun.
18 Toe kom hy by sy vader en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek! Wie is
jy, my seun?
19 En Jakob sê aan sy vader: Ek is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen soos u my
beveel het. Rig u tog op, sit en eet van my wildsvleis, dat u siel my kan seën.
20 Daarop het Isak aan sy seun gesê: Hoe het jy dit so gou gekry, my seun? En hy
antwoord: Omdat die Here u God dit my laat teëkom het.
21 En Isak sê vir Jakob: Kom tog nader, dat ek jou kan betas, my seun, of jy
waarlik my seun Esau is of nie.
22 En Jakob het nader gekom na sy vader Isak, en hy het hom betas en gesê: Die
stem is Jakob se stem, maar die hande is Esau se hande.
23 Maar hy het hom nie geëien nie, omdat sy hande harig was soos sy broer Esau
se hande; en hy het hom geseën.
24 Hy het naamlik gevra: Is jy waarlik my seun Esau? En hy het geantwoord: Ja.
25 Toe sê hy: Bring dit vir my nader, dat ek van die wildsvleis van my seun kan
eet, sodat my siel jou kan seën. En hy het dit vir hom nader gebring, en hy het
geëet. Hy het vir hom ook wyn gebring, en hy het gedrink.
26 Daarop sê sy vader Isak vir hom: Kom tog nader en soen my, my seun!
27 En hy het nader gekom en hom gesoen. Toe ruik hy die geur van sy klere, en hy
seën hom en sê: Kyk, die geur van my seun is soos die geur van die veld wat die
HERE geseën het.
28 En mag God jou gee van die dou van die hemel en van die vet grond van die
aarde en oorvloed van koring en mos.
29 Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees 'n heerser oor jou
broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is
hulle wat jou vloek, en geseënd hulle wat jou seën.
30 Maar toe Isak Jakob klaar geseën het en Jakob nog skaars van sy vader Isak af
weggegaan het, kom sy broer Esau van die jag af,
31 en hy maak ook 'n lekker ete en bring dit na sy vader en sê aan sy vader:
Laat my vader hom oprig en eet van die wildsvleis van sy seun, sodat u siel my
kan seën.
32 En sy vader Isak vra hom: Wie is jy? En hy antwoord: Ek is u seun Esau, u
eersgeborene.
33 Toe skrik Isak geweldig en sê: Wie is dit dan wat wild gejag en vir my
gebring het? En ek het van alles geëet voordat jy gekom het, en hom geseën--ook
sal hy geseënd bly!
34 Toe Esau die woorde van sy vader hoor, skreeu hy met 'n baie groot en bitter
geroep, en hy sê vir sy vader: Seën my ook, my vader!
35 En hy antwoord: Jou broer het gekom met bedrog en jou seën weggeneem.
36 Daarop sê hy: Sou hulle hom Jakob noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip
het? My eersgeboortereg het hy geneem, en daar het hy nou my seën geneem! Verder
vra hy: Het u vir my geen seën oorgehou nie?
37 Toe antwoord Isak en sê vir Esau: Kyk, ek het hom as heerser oor jou gestel
en aan hom al sy broers as dienaars gegee; en ek het hom met koring en mos
versorg. Wat kan ek dan nou vir jóu doen, my seun?
38 Daarop het Esau aan sy vader gevra: Het u net een seën, my vader? Seën my
ook, my vader! En Esau het sy stem verhef en geween.
39 Toe antwoord sy vader Isak en sê vir hom: Kyk, ver van die vet grond van die
aarde sal jou woonplek wees, en ver van die dou van die hemel daarbo.
40 En van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou
kragte inspan, sal jy sy juk van jou nek afruk.
41 En Esau was Jakob vyandig gesind vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën
het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby;
dan sal ek my broer Jakob doodmaak.
42 Maar toe hulle aan Rebekka die woorde van Esau, haar oudste seun, vertel,
stuur sy en laat Jakob, haar jongste seun, roep en sê vir hom: Kyk, jou broer
Esau sal hom op jou wreek deur jou dood te maak.
43 My seun, luister dan nou na my: maak jou klaar, vlug tog na Haran, na my
broer Laban,
44 en bly 'n rukkie by hom tot die woede van jou broer bedaar,
45 tot die toorn van jou broer teen jou bedaar en hy vergeet het wat jy hom
aangedoen het. Dan sal ek stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle
altwee op een dag verloor?
46 Verder sê Rebekka vir Isak: Ek is moeg vir my lewe vanweë die dogters van
Het. As Jakob 'n vrou neem uit die dogters van Het, soos húlle is, uit die
dogters van die land--waarvoor lewe ek dan?
28
1 Toe het Isak Jakob geroep en hom geseën; en hy het hom bevel gegee met die
woorde: Jy mag geen vrou neem uit die dogters van Kanaän nie.
2 Maak jou klaar, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Bétuel, jou moeder se
vader, en gaan haal vir jou daar 'n vrou uit die dogters van Laban, jou moeder
se broer.
3 En mag God, die Almagtige, jou seën en jou vrugbaar maak en jou vermeerder,
sodat jy 'n menigte van volke kan word.
4 En mag Hy jou gee die seën van Abraham, aan jou en jou nageslag saam met jou,
dat jy die land van jou vreemdelingskap in besit kan neem wat God aan Abraham
gegee het.
5 So het Isak Jakob dan weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban,
die seun van Bétuel, die Arameër, die broer van Rebekka, die moeder van Jakob en
Esau.
6 Toe Esau sien dat Isak Jakob geseën en hom na Paddan-Aram weggestuur het om
daar vir hom 'n vrou te gaan haal, terwyl hy hom geseën en hom bevel gegee het
met die woorde: Jy mag geen vrou uit die dogters van Kanaän neem nie;
7 en dat Jakob na sy vader en sy moeder geluister het om na Paddan-Aram te gaan;
8 en toe Esau sien dat die dogters van Kanaän sleg was in die oë van sy vader
Isak,
9 het Esau na Ismael gegaan en Máhalat, die dogter van Ismael, die seun van
Abraham, die suster van Nébajot, by sy vroue vir hom as vrou geneem.
10 En Jakob het uit Berséba vertrek en na Haran gegaan.
11 Daarop kom hy by 'n plek waar hy die nag oorgebly het, want die son was al
onder. En hy neem een van die klippe van die plek en sit dit onder sy hoof, en
hy gaan lê en slaap op dié plek.
12 En hy het gedroom--daar is 'n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot
aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs
neergedaal het.
13 En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou
vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan
jou en jou nageslag gee;
14 en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na
die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al
die geslagte van die aarde geseën word.
15 En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal
jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek
gedoen het wat Ek jou gesê het.
16 Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die HERE is op hierdie
plek, en ék het dit nie geweet nie.
17 En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier
niks anders as 'n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel.
18 Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit
het, en rig dit as 'n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet.
19 En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus.
20 En Jakob het 'n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te
bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om
aan te trek,
21 en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God
wees.
22 En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal 'n huis van God wees,
en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.
29
1 Toe lig Jakob sy voete op en gaan na die land van die kinders van die Ooste.
2 En meteens sien hy 'n put in die veld en drie troppe kleinvee wat daarby lê,
want uit dié put het hulle die vee laat drink; en daar was 'n groot klip op die
opening van die put.
3 En as al die troppe daar bymekaarkom, rol hulle die klip weg van die opening
van die put en laat die vee drink; daarna sit hulle die klip weer op die opening
van die put op sy plek.
4 Toe sê Jakob vir hulle: My broers, waar is julle vandaan? En hulle antwoord:
Ons kom van Haran.
5 En hy vra hulle: Ken julle vir Laban, die seun van Nahor? En hulle antwoord:
Ons ken hom.
6 Verder sê hy vir hulle: Gaan dit goed met hom? En hulle antwoord: Dit gaan
goed; en daar kom sy dogter Ragel aan met die vee.
7 En hy sê: Kyk, die dag is nog lank; dit is nie tyd om die vee bymekaar te maak
nie. Laat die vee drink, en gaan heen, laat hulle wei.
8 Toe antwoord hulle: Ons kan nie voordat al die troppe bymekaar is nie; dan rol
hulle die klip weg van die opening van die put, en ons laat die vee drink.
9 Terwyl hy nog met hulle praat, kom Ragel met die kleinvee van haar vader aan,
want sy het hulle opgepas.
10 Toe Jakob Ragel sien, die dogter van Laban, sy moeder se broer, en die vee
van Laban, sy moeder se broer, loop Jakob nader en rol die klip weg van die
opening van die put, en hy laat die vee drink van Laban, sy moeder se broer.
11 En Jakob het Ragel gesoen en sy stem verhef en geween.
12 En Jakob het Ragel vertel dat hy haar vader se broer en die seun van Rebekka
was. Daarop het sy geloop en dit aan haar vader vertel.
13 Toe Laban die tyding hoor van Jakob, die seun van sy suster, loop hy hom
tegemoet en omhels hom en soen hom en bring hom in sy huis. En hy het aan Laban
al hierdie dinge vertel.
14 Toe sê Laban vir hom: Waarlik, jy is my been en my vlees. En hy het by hom 'n
volle maand gebly.
15 Daarop het Laban aan Jakob gevra: Sou jy my verniet dien, omdat jy my broer
is? Sê my wat jou loon moet wees.
16 En Laban het twee dogters gehad--die naam van die oudste was Lea, en die naam
van die jongste Ragel.
17 En Lea het dowwe oë gehad, maar Ragel was skoon van gestalte en mooi van
aansien.
18 En Jakob het Ragel liefgehad, daarom het hy gesê: Ek sal u sewe jaar dien vir
Ragel, u jongste dogter.
19 Toe antwoord Laban: Dit is beter dat ek haar aan jou gee as dat ek haar aan
'n ander man gee. Bly by my.
20 So het Jakob dan sewe jaar gedien vir Ragel; en hulle was in sy oë soos 'n
paar dae, omdat hy haar liefgehad het.
21 Toe sê Jakob vir Laban: Gee tog my vrou, want my dienstyd is om, dat ek by
haar kan ingaan.
22 Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en 'n maaltyd berei.
23 Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy
het by haar ingegaan.
24 En Laban het aan haar sy slavin Silpa gegee, naamlik aan sy dogter Lea, as
slavin.
25 En die anderdagmôre--daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het
u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan
bedrieg?
26 En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor
die oudste weg te gee nie.
27 Hou die volle bruilofsweek met haar; dan sal ons jou die ander een ook gee
vir die diens wat jy nóg sewe jaar by my moet volbring.
28 En Jakob het so gedoen: hy het die volle bruilofsweek met haar gehou. Toe gee
hy sy dogter Ragel aan hom as vrou.
29 En Laban het aan sy dogter Ragel sy slavin Bilha gegee as slavin vir haar.
30 En hy het ook by Ragel ingegaan en Ragel ook meer liefgehad as Lea. En hy was
by hom nóg sewe jaar in diens.
31 En toe die HERE sien dat Lea die nie-geliefde was, het Hy haar skoot geopen;
maar Ragel was onvrugbaar.
32 En Lea het bevrug geword en 'n seun gebaar en hom Ruben genoem; want sy het
gesê: Gewis, die HERE het my ellende aangesien, want nou sal my man my liefhê.
33 En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en gesê: Gewis, die HERE het
gehoor dat ek die nie-geliefde is en my hierdie een ook gegee. En sy het hom
Símeon genoem.
34 En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en gesê: Nou eindelik sal my
man aan my geheg wees, omdat ek vir hom drie seuns gebaar het. Daarom het sy hom
Levi genoem.
35 En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en gesê: Dié keer sal ek die
HERE loof. Daarom het sy hom Juda genoem. En sy het opgehou met baar.
30
1 En toe Ragel sien dat sy vir Jakob geen kinders baar nie, het Ragel jaloers
geword op haar suster en aan Jakob gesê: Gee vir my kinders of anders sterf ek.
2 Toe het Jakob kwaad geword vir Ragel en gevra: Is ek dan in die plek van God
wat die vrug van die skoot aan jou onthou het?
3 En sy antwoord: Daar is my slavin Bilha; gaan by haar in, dat sy op my knieë
kan baar en ek ook uit haar gebou kan word.
4 Daarop het sy aan hom haar slavin Bilha as vrou gegee, en Jakob het by haar
ingegaan.
5 En Bilha het swanger geword en vir Jakob 'n seun gebaar.
6 Toe sê Ragel: God het aan my reg verskaf en my ook verhoor en my 'n seun
gegee. Daarom het sy hom Dan genoem.
7 En Bilha, die slavin van Ragel, het weer bevrug geword en vir Jakob 'n tweede
seun gebaar.
8 Toe sê Ragel: Ek het bomenslike worstelinge met my suster geworstel en ook
oorwin. En sy het hom Náftali genoem.
9 En toe Lea sien dat sy opgehou het met baar, neem sy haar slavin Silpa en gee
haar aan Jakob as vrou.
10 En Silpa, die slavin van Lea, het vir Jakob 'n seun gebaar.
11 Toe sê Lea: Gelukkig! En sy het hom Gad genoem.
12 Daarna het Silpa, die slavin van Lea, vir Jakob 'n tweede seun gebaar.
13 Toe sê Lea: Ek, gelukkige! want die dogters sal my gelukkig prys. En sy het
hom Aser genoem.
14 En Ruben het in die dae van die koringoes gegaan en in die veld liefdesappels
gevind en dié na sy moeder Lea gebring. Toe sê Ragel vir Lea: Gee my tog van jou
seun se liefdesappels.
15 Maar sy antwoord haar: Is dit nie genoeg dat jy my man geneem het nie, dat jy
ook my seun se liefdesappels wil neem? En Ragel sê: Daarom mag hy vir jou seun
se liefdesappels vannag by jou slaap.
16 Toe Jakob dan die aand uit die veld kom, gaan Lea hom tegemoet met die
woorde: Jy moet na my kom, want ek het jou eerlik gehuur vir my seun se
liefdesappels. En hy het dié nag by haar geslaap.
17 En God het Lea verhoor: sy het bevrug geword en vir Jakob 'n vyfde seun
gebaar.
18 Toe sê Lea: God het my loon gegee, omdat ek my slavin aan my man gegee het.
En sy het hom Issaskar genoem.
19 En Lea het weer bevrug geword en vir Jakob 'n sesde seun gebaar.
20 Toe sê Lea: God het my 'n mooi geskenk gegee; nou sal my man eindelik by my
woon, want ek het vir hom ses seuns gebaar. En sy het hom Sébulon genoem.
21 En daarna het sy 'n dogter gebaar en haar Dina genoem.
22 En God het aan Ragel gedink, en God het haar verhoor en haar skoot geopen:
23 sy het bevrug geword en 'n seun gebaar. Toe sê sy: God het my smaad
weggeneem.
24 En sy het hom Josef genoem en gesê: Mag die HERE vir my 'n ander seun daar
byvoeg!
25 En nadat Ragel Josef gebaar het, sê Jakob vir Laban: Laat my trek, dat ek na
my woonplek en my land kan gaan.
26 Gee my vroue en my kinders waarvoor ek u gedien het, dat ek kan gaan; want u
weet self hoe ek u gedien het.
27 Daarop antwoord Laban hom: As ek nou guns in jou oë gevind het--ek het
waargeneem dat die HERE my om jou ontwil geseën het.
28 Verder sê hy: Bepaal vir my jou loon, en ek sal dit gee.
29 Toe antwoord hy hom: U weet self hoe ek u gedien het en wat u vee by my
geword het.
30 Want min was dit wat u vóór my koms gehad het, en dit het sterk vermeerder;
en die HERE het u geseën op my voetspoor. Wanneer sal ek dan nou ook vir my huis
werk?
31 En hy vra: Wat moet ek jou gee? Toe antwoord Jakob: U hoef my niks te gee
nie. As u hierdie ding vir my wil doen, wil ek weer u kleinvee oppas, ja,
versorg--
32 ek sal vandag deur al u kleinvee deurgaan en daaruit al die gestippelde en
bont vee uitkeer; al die vee onder die skaaplammers wat swart is, en die bontes
en gestippeldes onder die bokke, dit moet my loon wees.
33 En my regverdigheid sal later vir my getuig: as u kom om my loon na te gaan,
sal alles wat nie gestippel of bont is onder die bokke, en wat nie swart is
onder die skaaplammers nie, gesteelde goed by my wees.
34 Toe antwoord Laban: Goed, laat dit wees volgens jou woord!
35 En hy het dieselfde dag uitgekeer die gestreepte en bont bokke en al die
gestippelde en bont bokooie, almal wat wit aan hulle gehad het, en almal wat
swart was onder die skaaplammers, en dié aan sy seuns afgegee.
36 En hy het 'n afstand van drie dae bepaal tussen hom en Jakob; en Jakob het
die orige kleinvee van Laban opgepas.
37 Toe neem Jakob vir hom groen latte van populier--, amandel-- en plataanhout,
en hy skil daarin wit strepe, sodat die wit van die latte uitkom;
38 en hy sit die latte wat hy geskil het, vlak voor die vee in die trogge, in
die drinkbakke waar die vee kom drink het; en hulle het verhit geword as hulle
kom drink.
39 En die vee het verhit geword by die latte, en die vee het gelam gestreeptes,
gestippeldes en bontes.
40 Toe skei Jakob die lammers, en hy draai die koppe van die vee na die
gestreeptes en almal wat swart was onder Laban se vee. En hy het vir hom
afsonderlike troppe gemaak en dié nie onder Laban se vee gesit nie.
41 En elke keer as die sterkste diere verhit word, sit Jakob die latte voor die
oë van die vee in die trogge, sodat hulle verhit sou word by die latte.
42 Maar as die vee swakkerig was, het hy dit nie ingesit nie; so was dan die
swakkes vir Laban en die sterkes vir Jakob.
43 En die man het buitengewoon uitgebrei en baie kleinvee en slavinne en slawe
en kamele en esels gehad.
31
1 Toe hoor hy die woorde van die seuns van Laban, dat hulle sê: Jakob het alles
geneem wat ons vader s'n was; en uit wat ons vader s'n was, het hy al hierdie
rykdom verwerf.
2 Jakob het ook meteens aan die aangesig van Laban gesien dat hy nie meer vir
hom was soos gister en eergister nie.
3 En die HERE het aan Jakob gesê: Gaan terug na die land van jou vaders en na
jou familie; en Ek sal met jou wees.
4 Toe stuur Jakob en laat Ragel en Lea veld toe roep na sy kleinvee
5 en sê vir hulle: Ek sien dat die aangesig van julle vader teenoor my nie meer
is soos gister en eergister nie, maar die God van my vader was met my.
6 En julle weet self dat ek met al my krag julle vader gedien het;
7 maar julle vader het my bedrieg: hy het my loon tien maal verander. Maar God
het hom nie toegelaat om my skade aan te doen nie.
8 As hy sê: Die gestippeldes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestippeldes.
En as hy sê: Die gestreeptes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestreeptes.
9 So het God dan die vee van julle vader weggeneem en aan my gegee.
10 Eenkeer, in die tyd toe die kleinvee verhit was, het ek my oë opgeslaan en in
'n droom gesien dat die bokramme wat die kleinvee dek, gestreep, gestippeld en
bont was.
11 En die Engel van God sê vir my in die droom: Jakob! En ek antwoord: Hier is
ek!
12 En Hy sê: Slaan tog jou oë op en kyk: al die bokramme wat die kleinvee dek,
is gestreep, gestippeld en bont, want Ek het alles gesien wat Laban jou aandoen.
13 Ek is die God van Bet-el waar jy die gedenksteen gesalf het, waar jy aan My
'n gelofte gedoen het. Maak jou dan nou klaar, trek weg uit hierdie land en gaan
terug na jou geboorteland.
14 Toe antwoord Ragel en Lea en sê vir hom: Het ons nog deel of erfenis in die
huis van ons vader?
15 Word ons nie deur hom as vreemdelinge beskou nie? Want hy het ons verkoop en
die geld wat deur ons verkry is, geheel en al deurgebring.
16 Want al die rykdom wat God van ons vader weggeneem het, kom ons en ons
kinders toe. Doen dan nou alles wat God jou gesê het.
17 Toe maak Jakob hom klaar en laai sy kinders en sy vroue op die kamele,
18 en hy voer al sy vee weg en al sy goed wat hy versamel het, die vee wat syne
was, wat hy in Paddan-Aram versamel het, om te gaan na sy vader Isak in die land
Kanaän.
19 Onderwyl Laban gaan om sy kleinvee te skeer, het Ragel die huisgode van haar
vader gesteel.
20 En Jakob het Laban, die Arameër, mislei deur hom nie te vertel dat hy wou
vlug nie.
21 So het hy dan gevlug met alles wat hy gehad het: hy het hom klaargemaak en
deur die Eufraat gegaan en sy aangesig gerig na die gebergte van Gílead.
22 En op die derde dag kry Laban die tyding dat Jakob gevlug het.
23 Daarop het hy sy broers saam met hom geneem en hom agternagejaag, 'n afstand
van sewe dae, en hom ingehaal in die gebergte van Gílead.
24 Maar God het na Laban, die Arameër, in die nag gekom in 'n droom en vir hom
gesê: Pas nou op dat jy met Jakob geen goed of kwaad spreek nie.
25 En Laban het Jakob ingehaal; Jakob het sy tent al opgeslaan gehad in die
gebergte, en Laban met sy broers het dit opgeslaan in die gebergte van Gílead.
26 Toe vra Laban vir Jakob: Wat het jy gedoen dat jy my mislei en my dogters
soos krygsgevangenes weggevoer het?
27 Waarom het jy stilletjies gevlug en my mislei en my dit nie vertel nie, dat
ek jou met vrolikheid en liedere, met tamboeryn en siter kon weggebring het?
28 Ook het jy my nie toegelaat om my seuns en dogters te soen nie. Nou het jy
dwaas gehandel.
29 Dit is in my mag om julle skade aan te doen, maar die God van julle vader het
verlede nag met my gespreek en gesê: Pas nou op om met Jakob geen goed of kwaad
te spreek nie.
30 Nou is jy dan eenmaal aan trek, omdat jy so erg verlang het na die huis van
jou vader--maar waarom het jy my gode gesteel?
31 Toe antwoord Jakob en sê vir Laban: Omdat ek bevrees was, want ek het gedink
u sal miskien u dogters met geweld van my wegneem.
32 Die een by wie u u gode vind--hy mag nie lewe nie! Ondersoek wat by my is, in
teenwoordigheid van ons broers, en neem dit vir u. Maar Jakob het nie geweet dat
Ragel dit gesteel het nie.
33 Toe gaan Laban in die tent van Jakob en in die tent van Lea en in die tent
van die twee slavinne, maar hy het niks gekry nie; en toe hy uit die tent van
Lea uitgaan, kom hy in die tent van Ragel.
34 Maar Ragel het die huisgode geneem en dit in die kameelsaal weggepak en
daarop gaan sit. En Laban het die hele tent deurgevoel, maar niks gekry nie.
35 Daarop sê sy vir haar vader: My heer moet nie baie kwaai kyk nie, omdat ek
nie vir u kan opstaan nie; want dit gaan met my volgens die reël van die vroue.
En hy het gesoek maar die huisgode nie gekry nie.
36 Toe word Jakob kwaad, en hy het met Laban getwis; en Jakob het geantwoord en
vir Laban gesê: Wat is my oortreding, wat is my sonde, dat u my so vurig
agternagesit het?
37 Nou dat u al my goed deurgevoel het--wat het u van al u huisraad gevind? Sit
dit hier neer voor my broers en u broers, en laat hulle oordeel tussen ons twee.
38 Twintig jaar was ek nou by u. U skaap-- en bokooie het geen misdrag gehad
nie, en die ramme van u kleinvee het ek nie geëet nie.
39 Wat die wilde diere verskeur het, het ek nie na u gebring nie: ek moes dit
vergoed; van my hand het u dit geëis, of dit al bedags gesteel is of snags
gesteel is.
40 Ek was 'n man wat bedags deur die hitte verteer is en snags deur die koue, en
my slaap het gevlug van my oë.
41 Twintig jaar was ek nou in u huis; veertien jaar het ek u gedien vir u twee
dogters en ses jaar vir u kleinvee; en u het my loon tien maal verander.
42 As die God van my vader, die God van Abraham en die Vrees van Isak, nie aan
my kant was nie--ja, dan sou u my met leë hande weggestuur het. God het my
ellende en die moeitevolle arbeid van my hande aangesien en verlede nag
geoordeel.
43 Toe antwoord Laban en sê vir Jakob: Die dogters is my dogters, en die seuns
is my seuns, en die kleinvee is my kleinvee, ja, alles wat jy sien, is myne;
maar my dogters--wat sal ek hulle vandag kan aandoen of aan hulle seuns wat
hulle gebaar het?
44 Kom dan nou, laat ons 'n verbond sluit, ek en jy, dat dit 'n getuie tussen my
en jou kan wees.
45 Daarop het Jakob 'n klip geneem en dit as gedenksteen opgerig.
46 En Jakob het aan sy broers gesê: Bring klippe bymekaar! En hulle het klippe
gaan haal en 'n hoop gemaak en daar op die hoop geëet.
47 En Laban het dit Jegar-Sahadúta genoem, maar Jakob het dit Gal-ed genoem.
48 Toe sê Laban: Hierdie hoop is vandag 'n getuie tussen my en jou. Daarom het
hulle dit Gal-ed genoem,
49 en ook Mispa, omdat hy gesê het: Mag die HERE wag hou tussen my en jou as ons
mekaar nie meer sien nie.
50 As jy my dogters mishandel, en as jy vroue neem by my dogters, dan is geen
mens by ons nie: Kyk, God is getuie tussen my en jou.
51 Verder sê Laban vir Jakob: Daar is dié hoop klippe, en daar is die
gedenksteen wat ek tussen my en jou opgerig het--
52 hierdie hoop klippe is getuie, en die gedenksteen is getuie dat ék na jou
kant toe hierdie hoop nie sal verbytrek nie, en dat jy na my kant toe hierdie
hoop en hierdie gedenksteen nie sal verbytrek met slegte bedoelinge nie.
53 Die God van Abraham en die God van Nahor, die God van hulle vader, sal regter
tussen ons wees. En Jakob het gesweer by die Vrees van sy vader Isak.
54 Toe het Jakob 'n offer gebring op die gebergte en sy broers genooi om brood
te eet. En hulle het brood geëet en die nag in die gebergte oorgebly.
55 En Laban het die môre vroeg opgestaan en sy seuns en sy dogters gesoen en
hulle geseën. Daarna het Laban vertrek en teruggekeer na sy woonplek.
32
1 Jakob het ook verder gereis, en die engele van God het hom ontmoet.
2 Toe hy hulle sien, sê Jakob: Dit is 'n leër van God! En hy het die plek
Mahanáim genoem.
3 En Jakob het boodskappers uitgestuur voor hom uit na sy broer Esau in die land
Seïr, die landstreek van Edom,
4 en aan hulle bevel gegee met die woorde: So moet julle aan my heer, aan Esau,
sê: So sê Jakob, u dienaar--ek het as vreemdeling vertoef by Laban en daar gebly
tot nou toe;
5 en ek het beeste en esels, kleinvee en slawe en slavinne verwerf, en my heer
dit laat weet, sodat ek guns mag vind in u oë.
6 En die boodskappers het na Jakob teruggekom en gesê: Ons het by u broer Esau
gekom, en hy trek u alreeds tegemoet en vier honderd man saam met hom.
7 Toe het Jakob baie bevrees en benoud geword, en hy het die mense wat by hom
was, sowel as die kleinvee en beeste en kamele in twee laers verdeel;
8 want hy het gedink: As Esau op die een laer afkom en dit verslaan, sal die
laer wat oorbly, vryraak.
9 En Jakob het gesê: o God van my vader Abraham en God van my vader Isak, o
HERE, wat my beveel het: Gaan terug na jou land en na jou familie, en Ek sal aan
jou goed doen--
10 ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het;
want ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword.
11 Red my tog uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang
vir hom, dat hy sal kom en my doodslaan, die moeder saam met die kinders.
12 U het tog self gesê: Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak
soos die sand van die see wat vanweë die menigte nie getel kan word nie.
13 En hy het die nag daar oorgebly en van wat in sy besit was, 'n geskenk geneem
vir sy broer Esau:
14 twee honderd bokooie en twintig bokke, twee honderd skaapooie en twintig
ramme,
15 dertig kameelkoeie wat in die melk was, met hulle kalfies, veertig koeie en
tien bulle, twintig eselinne en tien jong esels;
16 en hy het hulle aan sy dienaars afgegee, elke trop afsonderlik, en aan sy
dienaars gesê: Trek voor my uit, en laat 'n plek oop tussen trop en trop.
17 Daarop gee hy aan die eerste een bevel en sê: As my broer Esau jou teëkom en
jou vra: Aan wie behoort jy, en waarheen gaan jy, en wie s'n is die goed daar
voor jou?
18 dan moet jy antwoord: U dienaar Jakob s'n. Dit is 'n geskenk wat hy aan my
heer Esau stuur; en kyk, hy self kom ook agter ons aan.
19 En hy het ook bevel gegee aan die tweede en aan die derde en aan almal wat
agter die troppe geloop het, en gesê: Net so moet julle Esau antwoord as julle
hom kry--
20 julle moet sê: Kyk, ook u dienaar Jakob kom agter ons aan. Want hy het
gedink: Laat ek hom versoen met die geskenk wat voor my uit gaan, en daarna sy
aangesig sien--miskien sal hy my in guns aanneem.
21 So het die geskenk dan voor hom uit gegaan, maar hy self het dié nag in die
laer gebly.
22 En hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue en sy twee slavinne en sy
elf kinders geneem en deur die drif van die Jabbok getrek:
23 hy het hulle geneem en hulle deur die rivier laat trek, ook laat deurtrek wat
aan hom behoort het.
24 Maar Jakob het alleen agtergebly, en 'n Man het met hom geworstel tot
dagbreek.
25 En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen,
sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom.
26 Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U
nie laat gaan nie tensy dat U my seën.
27 En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob.
28 Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het
geworstel met God en met die mense en het oorwin.
29 Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy
tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën.
30 Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van
aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered.
31 En die son het vir hom opgegaan net toe hy Pnuel verby was; en hy was mank
aan sy heup.
32 Daarom eet die kinders van Israel die heupsening, wat aan die heupbeen is,
tot vandag toe nie, omdat Hy Jakob op die heupbeen, aan die heupsening, geslaan
het.
33
1 En Jakob het sy oë opgeslaan, en toe hy meteens Esau sien aankom en vier
honderd man saam met hom, het hy die kinders onder Lea en Ragel en onder die
twee slavinne verdeel.
2 En hy het die slavinne met hulle kinders eerste, en Lea met haar kinders
daaragter, en Ragel en Josef laaste opgestel;
3 maar hy self het voor hulle uit gegaan en hom sewe maal na die aarde gebuig,
totdat hy by sy broer gekom het.
4 Toe loop Esau hom tegemoet en omhels hom en val hom om die hals en soen hom;
en hulle het geween.
5 Daarna het hy sy oë opgeslaan en die vroue en kinders gesien en gesê: Wie het
jy daar by jou? En hy antwoord: Die kinders wat God uit genade aan u dienaar
geskenk het.
6 En die slavinne het nader gekom, hulle en hulle kinders, en hul neergebuig.
7 En Lea het ook nader gekom met haar kinders en hul neergebuig; en daarna het
Josef nader gekom en Ragel en hul neergebuig.
8 Daarop sê hy: Wat is jou bedoeling met daardie hele laer wat ek teëgekom het?
En hy antwoord: Om guns te vind in die oë van my heer.
9 Maar Esau sê: Ek het baie, my broer! Wat joue is, laat dit joue bly!
10 Toe antwoord Jakob: Ag nee, as ek nou guns in u oë gevind het, neem dan my
geskenk uit my hand aan. Want juis daarom het ek u aangesig te sien gekry soos
'n mens die aangesig van God sien, en u het behae in my gehad.
11 Neem tog my begroetingsgeskenk wat u aangebied is, want God het my genade
bewys, en ek het volop. En hy het by hom aangehou, sodat hy dit aangeneem het.
12 Daarop sê hy: Laat ons opbreek en verder trek, en ek sal langs jou trek.
13 Maar hy antwoord hom: My heer weet dat die kinders swak is, en dat ek
lammerooie en melkkoeie by my het; as 'n mens hulle net een dag ooreis, dan
sterf al die kleinvee.
14 My heer moet maar voor sy dienaar uit trek, en ék sal op my gemak trek na die
gang van die vee wat voor my uit gaan, en na die gang van die kinders, tot ek by
my heer in Seïr aankom.
15 Toe sê Esau: Laat my tog van die manskappe wat by my is, by jou laat staan.
En hy antwoord: Waarvoor dan? Laat my guns in die oë van my heer vind!
16 So het Esau dan dié dag teruggegaan padlangs na Seïr toe.
17 Maar Jakob het na Sukkot weggetrek en vir hom 'n huis gebou en takkrale vir
sy vee gemaak. Daarom het hy die plek genoem Sukkot.
18 En Jakob het behoue aangekom by die stad Sigem wat in die land Kanaän is, toe
hy van Paddan-Aram gekom het--hy het sy laer voor die stad opgeslaan
19 en die stuk grond gekoop waar hy sy tent opgeslaan het, van die seuns van
Hemor, die vader van Sigem, vir honderd geldstukke.
20 Daar het hy ook 'n altaar opgerig en dit genoem: Die God van Israel is God.
34
1 En Dina, die dogter van Lea, wat sy vir Jakob gebaar het, het uitgegaan om die
dogters van die land te leer ken.
2 Toe Sigem, die seun van Hemor, die Hewiet, die vors van die land, haar sien,
het hy haar gegryp en met haar gemeenskap gehad en haar onteer.
3 En sy siel het verkleef geraak aan Dina, die dogter van Jakob; en hy het die
dogter liefgehad en na die hart van die dogter gespreek.
4 Sigem het ook met sy vader Hemor gespreek en gesê: Neem daardie dogter vir my
as vrou.
5 Toe Jakob dan hoor dat hy sy dogter Dina onteer het, was sy seuns by sy vee in
die veld; en Jakob het geswyg totdat hulle gekom het.
6 En Hemor, die vader van Sigem, het na Jakob uitgegaan om met hom te spreek.
7 En die seuns van Jakob het uit die veld gekom toe hulle dit hoor; en die manne
was gegrief en baie kwaad, omdat hy 'n skanddaad in Israel begaan het deur met
die dogter van Jakob gemeenskap te hou: so iets mag nie gebeur het nie.
8 Toe spreek Hemor met hulle en sê: Die siel van my seun Sigem is verlief op
julle dogter: gee haar tog aan hom as vrou
9 en verswaer julle met ons: gee aan ons julle dogters, en neem vir julle ons
dogters.
10 Bly maar by ons woon, en die land sal voor julle oop lê; woon en trek rond
daarin en verwerf vaste besittings daarin.
11 En Sigem sê vir haar vader en haar broers: Laat my guns vind in julle oë, en
wat julle van my eis, sal ek gee.
12 Vra my 'n baie groot koopprys en geskenk, en ek sal dit gee soos julle aan my
sê; gee my net die dogter as vrou.
13 Toe antwoord die seuns van Jakob vir Sigem en Hemor, sy vader, met
bedrog--hulle het so gespreek, omdat hy hulle suster Dina onteer het--
14 en sê vir hulle: Ons kan dit nie doen om ons suster aan 'n man te gee wat die
voorhuid het nie, want dit sou 'n skande vir ons wees.
15 Net op hierdie voorwaarde kan ons inwillig: as julle word soos ons deurdat
almal wat manlik is onder julle, besny word.
16 Dan sal ons ons dogters aan julle gee, en ons sal julle dogters vir ons neem;
en ons sal by julle woon en een volk word.
17 Maar as julle nie na ons luister om besny te word nie, dan neem ons ons
dogter en ons trek weg.
18 En hulle woorde was goed in die oë van Hemor en in die oë van Sigem, die seun
van Hemor.
19 En die jongman het nie versuim om dit te doen nie, want hy het sin gehad in
die dogter van Jakob, en hy was die mees geëerde in die hele huis van sy vader.
20 Toe gaan Hemor en sy seun Sigem na die poort van hulle stad, en hulle spreek
met die manne van hul stad en sê:
21 Hierdie manne lewe in vrede met ons; daarom, laat hulle in die land woon en
daarin rondtrek: die land lê mos alkante toe wyd voor hulle. Ons kan hulle
dogters vir ons as vroue neem, en ons sal ons dogters aan hulle gee.
22 Maar net op hierdie voorwaarde sal die manne inwillig om by ons te woon, om
een volk te word: as almal wat manlik is onder ons, besny word soos hulle besny
is.
23 Hulle vee en hulle besittings en al hulle diere--sal dit nie ons s'n wees
nie? Laat ons net inwillig, sodat hulle by ons kan bly woon.
24 En hulle het geluister na Hemor en na sy seun Sigem almal wat uit sy
stadspoort uitgegaan het; en almal wat manlik was, is besny, almal wat uit sy
stadspoort uitgegaan het.
25 Maar op die derde dag, toe hulle in die pyn was, neem die twee seuns van
Jakob, Símeon en Levi, broers van Dina, elkeen sy swaard, en hulle oorval die
sorgelose stad en slaan almal dood wat manlik was.
26 Hulle slaan ook Hemor en sy seun Sigem dood met die skerpte van die swaard;
daarna neem hulle Dina uit die huis van Sigem uit en vertrek.
27 Die seuns van Jakob het op die gesneuweldes afgekom en die stad geplunder,
omdat hulle hulle suster onteer het.
28 Hulle kleinvee en hulle beeste en hulle esels--wat in die stad en in die veld
was--het hulle weggeneem.
29 En al hulle goed en al hulle kinders en hulle vroue het hulle as gevangenes
weggevoer en as buit, en ook alles wat in die huise was.
30 Toe sê Jakob vir Símeon en Levi: Julle het my ontroer dat julle my gehaat
gemaak het by die inwoners van die land, die Kanaäniete en Feresiete, terwyl ek
'n klein klompie is. As hulle hul teen my versamel, sal hulle my verslaan, en ek
sal verdelg word, ek en my huis.
31 Toe antwoord hulle: Hoe durf hy dan ons suster as 'n hoer behandel!
35
1 Daarna het God vir Jakob gesê: Maak jou klaar, trek op na Bet-el en woon daar;
en bou daar 'n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op die vlug was
vir jou broer Esau.
2 Toe sê Jakob aan sy huisgesin en aan almal wat by hom was: Verwyder die
vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan;
3 en laat ons klaarmaak en optrek na Bet-el; en ek sal daar 'n altaar bou vir
die God wat my geantwoord het op die dag van my benoudheid en by my was op die
weg wat ek gegaan het.
4 Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die
ringe aan hulle ore, en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by
Sigem is.
5 En toe hulle weggetrek het, kom daar 'n skrik van God op die stede rondom
hulle, sodat hulle die seuns van Jakob nie agternagejaag het nie.
6 So het Jakob dan in Lus aangekom wat in die land Kanaän is dit is Bet-el--hy
en al die mense wat by hom was.
7 en hy het daar 'n altaar gebou en die plek El Bet-el genoem, omdat God daar
aan hom geopenbaar is toe hy vir sy broer gevlug het.
8 En Debora, die oppasser van Rebekka, het gesterwe, en sy is begrawe onderkant
Bet-el, onder die eikeboom. En hulle het dit genoem: Eik van geween.
9 Toe verskyn God weer aan Jakob, by sy terugkoms uit Paddan-Aram, en Hy seën
hom;
10 en God sê vir hom: Jou naam is Jakob; jy sal verder nie Jakob genoem word
nie, maar Israel sal jou naam wees. En Hy het hom Israel genoem.
11 Verder sê God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder.
'n Nasie, ja, 'n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou
lendene voortkom.
12 En die land wat Ek aan Abraham en Isak gegee het, sal Ek aan jou gee; en aan
jou nageslag ná jou sal Ek die land gee.
13 Toe het God van hom af opgevaar op die plek waar Hy met hom gespreek het.
14 En Jakob het 'n gedenksteen opgerig op die plek waar Hy met hom gespreek het,
'n gedenksteen van klip, en daarop 'n drankoffer uitgegiet en olie daarop
gegooi.
15 En Jakob het die plek waar God met hom gespreek het, Bet-el genoem.
16 Daarna het hulle van Bet-el af weggetrek. En toe daar nog 'n kort ent pad was
om by Efrat te kom, moes Ragel baar; en sy het dit swaar gehad by die bevalling.
17 En terwyl sy dit swaar het by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: Wees
nie bevrees nie, want dit is ook 'n seun vir u.
18 En toe haar siel uitgaan--want sy het gesterwe--noem sy hom Ben-Oni. Maar sy
vader het hom Benjamin genoem.
19 So het Ragel dan gesterwe; en sy is begrawe op die pad na Efrat, dit is
Betlehem.
20 En Jakob het 'n gedenksteen op haar graf opgerig; dit is die gedenkteken van
die graf van Ragel tot vandag toe.
21 En Israel het weggetrek en sy tent opgeslaan aan die ander kant van
Migdal-Eder.
22 En terwyl Israel in dié land woon, het Ruben gegaan en met Bilha, sy vader se
byvrou, gemeenskap gehad. En Israel het dit gehoor. En die seuns van Jakob was
twaalf.
23 Die seuns van Lea was: Ruben, die eersgeborene van Jakob, daarna Símeon en
Levi en Juda en Issaskar en Sébulon.
24 Die seuns van Ragel: Josef en Benjamin.
25 En die seuns van Bilha, die slavin van Ragel: Dan en Náftali.
26 En die seuns van Silpa, die slavin van Lea: Gad en Aser. Dit is die seuns van
Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is.
27 En Jakob het by sy vader Isak gekom in Mamre, by Kirjat-Arba, dit is Hebron,
waar Abraham as vreemdeling vertoef het, en ook Isak.
28 En die dae van Isak was honderd en tagtig jaar.
29 En Isak het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is by sy volksgenote
versamel, oud en afgeleef. En sy seuns Esau en Jakob het hom begrawe.
36
1 En dit is die geskiedenis van Esau, dit is Edom.
2 Esau het sy vroue geneem uit die dogters van Kanaän: Ada, die dogter van Elon,
die Hetiet, en Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van Síbeon, die Hewiet;
3 en Basmat, die dogter van Ismael, die suster van Nébajot.
4 En Ada het vir Esau gebaar Élifas, en Basmat het gebaar Réhuel.
5 En Oholibáma het gebaar Jehus en Jáelam en Korag. Dit is die seuns van Esau
wat vir hom gebore is in die land Kanaän.
6 Toe neem Esau sy vroue en sy seuns en sy dogters en al die mense van sy huis,
sy vee en al sy diere en al sy besittings wat hy in die land Kanaän verwerf het,
en hy trek na 'n land, wég van sy broer Jakob af;
7 want hulle besittings was te groot om saam te woon, en die land van hulle
vreemdelingskap kon hulle nie dra vanweë hulle vee nie.
8 En Esau het gaan woon in die gebergte Seïr. Esau, dit is Edom.
9 Dit is dan die geskiedenis van Esau, die vader van die Edomiete, in die
gebergte Seïr.
10 Dit is die name van die seuns van Esau: Élifas, die seun van Ada, die vrou
van Esau; Réhuel, die seun van Basmat, die vrou van Esau.
11 En die seuns van Élifas was: Teman, Omar, Sefo en Gáetam en Kenas.
12 En Timna was 'n byvrou van Élifas, die seun van Esau; en sy het vir Élifas
gebaar Amalek. Dit is die seuns van Ada, die vrou van Esau.
13 En dit is die seuns van Réhuel: Nahat en Serag, Samma en Missa. Dit was die
seuns van Basmat, die vrou van Esau.
14 En dit was die seuns van Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van
Síbeon, die vrou van Esau--sy het vir Esau gebaar Jehus en Jáelam en Korag.
15 Dit is die stamhoofde onder die seuns van Esau. Die seuns van Élifas, die
eersgeborene van Esau, was: die stamhoof Teman, die stamhoof Omar, die stamhoof
Sefo, die stamhoof Kenas,
16 die stamhoof Korag, die stamhoof Gáetam, die stamhoof Amalek. Dit is die
stamhoofde van Élifas in die land Edom; dit is die seuns van Ada.
17 En dit is die seuns van Réhuel, die seun van Esau: die stamhoof Nahat, die
stamhoof Serag, die stamhoof Samma, die stamhoof Missa. Dit is die stamhoofde
van Réhuel in die land Edom. Dit is die seuns van Basmat, die vrou van Esau.
18 En dit is die seuns van Oholibáma, die vrou van Esau: die stamhoof Jehus, die
stamhoof Jáelam, die stamhoof Korag. Dit is die stamhoofde van Oholibáma, die
dogter van Ana, die vrou van Esau.
19 Dit is die seuns van Esau, en dit is hulle stamhoofde. Dit is Edom.
20 Dit is die seuns van Seïr, die Horiet, die eerste inwoners van die land:
Lotan en Sobal en Síbeon en Ana
21 en Dison en Eser en Disan. Dit is die stamhoofde van die Horiete, die seuns
van Seïr in die land Edom.
22 En die seuns van Lotan was Hori en Hemam; en die suster van Lotan was Timna.
23 En dit is die seuns van Sobal: Alwan en Manáhat en Ebal, Sefo en Onam.
24 En dit is die seuns van Síbeon: Aja en Ana. Dit is dié Ana wat die warm
fonteine in die woestyn gekry het toe hy die esels van sy vader Síbeon opgepas
het.
25 En dit is die seuns van Ana: Dison; en Oholibáma was die dogter van Ana.
26 En dit is die seuns van Dison: Hemdan en Esban en Jitran en Keran.
27 Dit is die seuns van Eser: Bilhan en Saäwan en Akan.
28 Dit is die seuns van Disan: Us en Aran.
29 Dit is die stamhoofde van die Horiete: die stamhoof Lotan, die stamhoof
Sobal, die stamhoof Síbeon, die stamhoof Ana,
30 die stamhoof Dison, die stamhoof Eser, die stamhoof Disan. Dit is die
stamhoofde van die Horiete volgens hulle stamme in die land Seïr.
31 En dit is die konings wat geregeer het in die land Edom voordat daar 'n
koning geregeer het oor die kinders van Israel:
32 Bela, die seun van Beor, het geregeer in Edom; en die naam van sy stad was
Dinhába.
33 En ná die dood van Bela het Jobab, die seun van Serag, van Bosra, in sy plek
geregeer.
34 En ná die dood van Jobab het Husam, uit die land van die Temaniete, in sy
plek geregeer.
35 En ná die dood van Husam het Hadad, die seun van Bedad, wat die Mídianiete
verslaan het in die veld van Moab, in sy plek geregeer, en die naam van sy stad
was Awit.
36 En ná die dood van Hadad het Samla van Másreka in sy plek geregeer.
37 En ná die dood van Samla het Saul van Réhobot, aan die rivier, in sy plek
geregeer.
38 En ná die dood van Saul het Baäl-Hanan, die seun van Akbor, in sy plek
geregeer.
39 En ná die dood van Baäl-Hanan, die seun van Akbor, het Hadar in sy plek
geregeer; en die naam van sy stad was Pahu; en die naam van sy vrou was
Mehetábeël, die dogter van Matred, die dogter van Mésahab.
40 Dit is die name van die stamhoofde van Esau, volgens hulle geslagte, volgens
hulle woonplekke, met hulle name: die stamhoof Timna, die stamhoof Alwa, die
stamhoof Jetet.
41 die stamhoof Oholibáma, die stamhoof Ela, die stamhoof Pinon,
42 die stamhoof Kenas, die stamhoof Teman, die stamhoof Mibsar,
43 die stamhoof Mágdiël, die stamhoof Iram. Dit is die stamhoofde van Edom,
volgens hulle verblyfplekke in die land van hulle besitting. Dit is Esau, die
stamvader van die Edomiete.
37
1 En Jakob het gewoon in die land van die vreemdelingskap van sy vader, in die
land Kanaän.
2 Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die
kleinvee opgepas saam met sy broers--hy was nog jonk--met die seuns van Bilha en
die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerug oor
hulle na hulle vader oorgebring.
3 En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom 'n
seun van die ouderdom; en hy het vir hom 'n lang rok met moue gemaak.
4 Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle
hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.
5 Ook het Josef 'n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het
hulle hom nog meer gehaat.
6 Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het.
7 Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan
en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf
neerbuig.
8 Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor
ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.
9 Daarna het hy nog 'n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê:
Kyk, ek het nog 'n droom gehad--die son en die maan en elf sterre het hulle voor
my neergebuig.
10 Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en
aan hom gesê: Wat is dit vir 'n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek
en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?
11 En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte
gehou.
12 En sy broers het die kleinvee van hulle vader by Sigem gaan oppas.
13 Toe sê Israel vir Josef: Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom,
laat ek jou na hulle toe stuur. En hy antwoord hom: Hier is ek!
14 Toe sê hy vir hom: Gaan tog verneem na die welstand van jou broers en die
welstand van die vee, en bring vir my berig terug. So het hy hom dan uit die dal
van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom.
15 Daarop kry 'n man hom terwyl hy in die veld ronddwaal, en die man vra hom:
Wat soek jy?
16 En hy antwoord: Ek soek my broers. Vertel my tog waar hulle die vee oppas.
17 Toe sê die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê:
Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in
Dotan gevind.
18 En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle
listig raad gehou teen hom om hom dood te maak.
19 En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan!
20 Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: 'n
Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.
21 Toe Ruben dit hoor, het hy hom uit hulle hand gered deur te sê: Laat ons hom
nie doodslaan nie.
22 Ruben het ook vir hulle gesê: Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie
put wat in die woestyn is, maar moenie die hand aan hom slaan nie--sodat hy hom
uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring.
23 En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang
moue wat hy aangehad het,
24 en hulle neem hom en gooi hom in die put. Maar die put was leeg; daar was
geen water in nie.
25 Daarna het hulle gaan sit om brood te eet; en toe hulle hul oë opslaan, sien
hulle meteens 'n reisgeselskap Ismaeliete wat uit Gílead kom--hulle kamele
gelaai met speserye en balsem en gom op pad om dit na Egipte af te bring.
26 Toe sê Juda aan sy broers: Watter voordeel is dit dat ons ons broer doodmaak
en sy bloed verberg?
27 Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom
wees nie, want hy is ons broer, ons vlees. En sy broers het na hom geluister.
28 En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit
opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels
silwer. En húlle het Josef na Egipte gebring.
29 Toe Ruben by die put terugkom, was Josef nie in die put nie! Daarop skeur hy
sy klere,
30 en hy gaan na sy broers terug en sê: Die seun is nie daar nie! En ek, waar
moet ek heen?
31 Toe neem hulle Josef se rok, en hulle slag 'n bok en steek die rok in die
bloed,
32 en hulle stuur die lang rok weg en laat dit na hulle vader bring met die
woorde: Dit het ons gevind. Kyk tog goed of dit die rok van u seun is of nie.
33 En hy het dit herken en gesê: Die rok van my seun! 'n Wilde dier het hom
opgeëet. Verskeur, verskeur is Josef!
34 Toe skeur Jakob sy klere en trek 'n roukleed om sy heupe, en hy het oor sy
seun gerou, baie dae lank.
35 En al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy
het geweier om hom te laat troos en gesê: Nee, treurende sal ek na my seun in
die doderyk afdaal! So het sy vader hom dan beween.
36 En die Midianiete het hom na Egipte verkoop aan Pótifar, 'n hofdienaar van
Farao, die owerste van die lyfwag.
38
1 In dié tyd het Juda afgetrek, van sy broers af weg, en uitgedraai na 'n man
van Adúllam met die naam van Hira.
2 En Juda het daar die dogter van 'n Kanaänitiese man gesien met die naam van
Sua; en hy het met haar getrou en by haar ingegaan.
3 En sy het bevrug geword en 'n seun gebaar, en sy het hom Er genoem.
4 Daarna het sy weer bevrug geword en 'n seun gebaar en hom Onan genoem.
5 En sy het nog weer 'n seun gebaar en hom Sela genoem; en hy was in Kesib toe
sy hom gebaar het.
6 En Juda het vir Er, sy eersgeborene, 'n vrou geneem, en haar naam was Tamar.
7 Maar Er, die eersgeborene van Juda, het die HERE mishaag. Daarom het die HERE
hom laat sterwe.
8 Toe sê Juda vir Onan: Gaan in by die vrou van jou broer en sluit die
swaershuwelik met haar en verwek vir jou broer 'n nageslag.
9 Maar Onan het geweet dat die nageslag nie syne sou wees nie; daarom het hy,
elke keer as hy by die vrou van sy broer ingaan, dit op die grond verderwe om
vir sy broer geen nageslag te gee nie.
10 En dit was verkeerd in die oë van die HERE wat hy gedoen het; daarom het Hy
hom ook laat sterwe.
11 Toe sê Juda vir Tamar, sy skoondogter: Bly 'n weduwee in die huis van jou
vader totdat my seun Sela groot is. Want hy het gedink: Anders sterwe hy ook
soos sy broers! So het Tamar dan gaan woon in die huis van haar vader.
12 En ná verloop van geruime tyd het die dogter van Sua, die vrou van Juda,
gesterwe. En toe Juda klaar getreur het, het hy opgegaan na die skeerders van sy
kleinvee, na Timna toe, hy en sy vriend Hira, die Adullamiet.
13 En hulle het Tamar te kenne gegee en gesê: Kyk, jou skoonvader gaan op na
Timna om sy kleinvee te skeer.
14 Toe trek sy die klere van haar weduweeskap uit en bedek haar met 'n sluier en
draai haar toe; en sy het gaan sit by die ingang van Enaim wat op die pad na
Timna lê. Want sy het gesien dat Sela groot geword het, maar sy was aan hom nie
as vrou gegee nie.
15 Toe Juda haar sien, het hy haar vir 'n hoer gehou, omdat sy haar gesig
toegebind het;
16 en hy het na haar uitgedraai by die pad en gesê: Kom tog, laat my by jou
ingaan; want hy het nie geweet dat dit sy skoondogter was nie. En sy vra: Wat
sal jy my gee as jy by my ingaan?
17 En hy antwoord: Ek sal jou 'n boklam van die kleinvee af stuur. Toe sê sy: As
jy 'n pand gee totdat jy dit stuur.
18 En hy sê: Wat is die pand wat ek jou moet gee? Toe antwoord sy: Jou seëlring
met die bandjie en jou staf wat in jou hand is. Hy gee dit toe aan haar en gaan
by haar in, en sy het by hom swanger geword.
19 En sy het opgestaan en weggegaan en haar sluier afgehaal en die klere van
haar weduweeskap aangetrek.
20 En Juda het die boklam gestuur deur middel van sy vriend, die Adullamiet, om
die pand uit die hand van die vrou te gaan haal. Maar hy het haar nie gevind
nie.
21 Toe vra hy die mense van haar woonplek: Waar is daardie hoer wat in Enaim by
die pad was? En hulle antwoord: Hier was geen hoer nie.
22 Daarop gaan hy na Juda terug met die berig: Ek het haar nie gevind nie. En
die mense van die plek het ook gesê: Hier was geen hoer nie.
23 Toe sê Juda: Laat sy dit hou, dat ons nie 'n bespotting word nie. Kyk, ek het
hierdie boklam gestuur, maar jy het haar nie gevind nie.
24 Ná omtrent drie maande het hulle Juda laat weet en gesê: Tamar, jou
skoondogter, het gehoereer, en sy is ook swanger deur hoerery! En Juda sê: Bring
haar uit, dat sy verbrand kan word.
25 Terwyl sy uitgebring word, laat sy haar skoonvader dit weet: By die man aan
wie hierdie dinge behoort, is ek swanger. En sy het gesê: Kyk tog mooi aan wie
hierdie seëlring en bandjies en staf behoort.
26 En Juda het dit herken en gesê: Sy het reg teenoor my, want ek het haar mos
nie aan my seun Sela gegee nie. En hy het haar verder nie meer beken nie.
27 En toe sy sou baar, was daar 'n tweeling in haar skoot.
28 En terwyl sy baar, het een die hand uitgesteek; en die vroedvrou het dit
gegryp en 'n rooi draad om sy hand gebind en gesê: Hierdie een is eerste gebore.
29 Maar toe hy sy hand teruggetrek het, word sy broer gebore! En sy sê: Hoe
kragtig het jy deurgebreek! En hulle het hom Peres genoem.
30 En daarna is sy broer gebore aan wie se hand die rooi draad was. En hulle het
hom Serag genoem.
39
1 En Josef is afgebring na Egipte; en Pótifar, 'n hofdienaar van Farao, die
owerste van die lyfwag, 'n Egiptiese man, het hom gekoop uit die hand van die
Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het.
2 En die HERE was met Josef, sodat hy 'n voorspoedige man was; en hy het in die
huis van sy heer, die Egiptenaar, gebly.
3 En toe sy heer sien dat die HERE met hom was, en dat die HERE alles wat hy
doen, in sy hand voorspoedig maak,
4 het Josef guns in sy oë gevind en hom gedien; en hy het hom aangestel oor sy
huis, en alles wat in sy besit was, aan hom oorgegee.
5 En vandat hy hom aangestel het oor sy huis en oor alles wat in sy besit was,
het die HERE die huis van die Egiptenaar geseën ter wille van Josef; ja, die
seën van die HERE was by alles wat syne was, in die huis en op die veld.
6 En hy het alles wat syne was, aan Josef oorgelaat, sodat hy met sy hulp van
niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy geëet het. En Josef was
skoon van gestalte en mooi van aansien.
7 Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê:
Kom hou gemeenskap met my.
8 Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer gesê: Kyk, deur my is dit dat
my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het
hy aan my oorgegee.
9 Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe
u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen
God?
10 En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister
om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie,
11 kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die
huisgenote binne was nie.
12 Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het sy
kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop.
13 Toe sy dan sien dat hy sy kleed in haar hand laat bly en buitentoe gevlug
het,
14 roep sy na haar huisgenote en sê aan hulle: Kyk, hy het vir ons 'n Hebreeuse
man hier gebring om met ons gek te skeer; hy het na my gekom om met my
gemeenskap te hê, en ek het hard geskreeu;
15 en toe hy hoor dat ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat
agterbly en gevlug en na buite geloop.
16 En sy het sy kleed by haar neergelê totdat sy heer tuisgekom het.
17 En sy het hom met dieselfde woorde aangespreek en gesê: Die Hebreeuse kneg
wat jy vir ons hier gebring het, het na my gekom om met my gek te skeer;
18 en toe ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en na
buite gevlug.
19 Toe sy heer die woorde hoor waarmee sy vrou hom aanspreek: So en so het jou
kneg aan my gedoen--het hy baie kwaad geword;
20 en die heer van Josef het hom laat vang en hom in die gevangenis gesit op die
plek waar die gevangenes van die koning opgesluit was; en hy was daar in die
gevangenis.
21 Maar die HERE was met Josef, en Hy het goedertierenheid aan hom bewys en hom
guns verleen in die oë van die owerste van die gevangenis.
22 En die owerste van die gevangenis het almal wat in die gevangenis opgesluit
was, aan Josef toevertrou; en alles wat daar te doen was, het hy gedoen.
23 Die owerste van die gevangenis het glad nie na iets omgekyk wat aan hom
toevertrou was nie, omdat die HERE met hom was; en wat hy doen, het die HERE
voorspoedig laat wees.
40
1 Ná hierdie dinge het die skinker van die koning van Egipte en die bakker hulle
misgaan jeens hulle heer, die koning van Egipte,
2 sodat Farao baie kwaad geword het vir sy twee hofdienaars, die voorman van die
skinkers en die voorman van die bakkers.
3 En hy het hulle in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag,
in die gevangenis, die plek waar Josef gevange was.
4 En die owerste van die lyfwag het Josef by hulle aangestel om hulle te bedien.
En hulle was 'n tyd lank in bewaring.
5 En hulle het altwee 'n droom gehad, elkeen sy droom, in dieselfde nag, elkeen
'n droom met besondere betekenis, die skinker en die bakker van die koning van
Egipte, wat in die gevangenis gevange gesit het.
6 En Josef het die volgende môre by hulle gekom en gesien dat hulle ontstemd
was.
7 Toe vra hy die hofdienaars van Farao wat by hom in bewaring was in die huis
van sy heer, en sê: Waarom lyk julle aangesig vandag so droewig?
8 En hulle antwoord hom: Ons het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan
uitlê nie. En Josef vra hulle: Is uitlegging nie 'n saak van God nie? Vertel my
tog.
9 Toe vertel die voorman van die skinkers aan Josef sy droom en sê vir hom: In
my droom was daar 'n wingerdstok voor my,
10 en aan die wingerdstok was drie ranke; en skaars het hy gebot of sy bloeisel
was uit, sy trosse het ryp druiwe geword.
11 En die beker van Farao was in my hand. En ek het die druiwe geneem en dit in
die beker van Farao uitgedruk en die beker in die hand van Farao gegee.
12 Toe sê Josef vir hom: Dit is die uitlegging daarvan: die drie ranke is drie
dae.
13 Binne drie dae sal Farao jou hoof verhef--jou in jou rang herstel; en jy sal
die beker van Farao in sy hand gee net soos vroeër toe jy sy skinker was.
14 Hou my tog net in gedagte as dit met jou goed gaan, en bewys my tog 'n guns
en maak melding van my by Farao en bring my uit hierdie huis uit;
15 want ek is gesteel, ja gesteel, uit die land van die Hebreërs, en ek het hier
ook niks gedoen dat hulle my in die gevangenis gesit het nie.
16 Toe die voorman van die bakkers sien dat hy 'n gunstige uitlegging gegee het,
sê hy aan Josef: Ook in my droom--toe was daar drie mandjies met witbrood op my
hoof,
17 en in die boonste mandjie was allerhande eetware vir Farao deur bakkers
klaargemaak, en die voëls het dit uit die mandjie bo-op my hoof weggepik.
18 Toe antwoord Josef en sê: Dit is die uitlegging daarvan--die drie mandjies is
drie dae.
19 Binne drie dae sal Farao jou hoof bo-oor jou verhef--hy sal jou aan 'n paal
ophang, en die voëls sal jou vlees van jou af wegpik.
20 En op die derde dag, die verjaarsdag van Farao, het hy 'n maaltyd vir al sy
dienaars berei en die hoof van die voorman van die skinkers en die hoof van die
voorman van die bakkers te midde van sy dienaars verhef--
21 hy het die voorman van die skinkers herstel in sy skinkersamp, sodat hy die
beker in die hand van Farao kon gee,
22 maar die voorman van die bakkers het hy opgehang soos Josef dit aan hulle
uitgelê het.
23 En die voorman van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, maar hom
vergeet.
41
1 Ná verloop van twee volle jare het Farao gedroom dat hy by die Nyl staan;
2 en kyk, daar kom sewe koeie uit die Nyl uit op wat mooi van aansien en vet van
vleis was, en hulle het gaan wei in die rietgras.
3 En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie uit die Nyl uit op wat lelik van
aansien en maer van vleis was, en hulle het by die ander koeie op die wal van
die Nyl gaan staan.
4 En die koeie wat lelik van aansien en maer van vleis was, het die sewe koeie
wat mooi van aansien en vet was, opgeëet. Toe het Farao wakker geword.
5 En hy het weer aan die slaap geraak en nog 'n keer gedroom; en kyk, sewe vet
en mooi are skiet op aan een steel;
6 en ná hulle spruit daar sewe are uit wat maer en deur die oostewind verskroei
was;
7 en die maer are het die sewe vet en vol are verslind. Toe het Farao wakker
geword en kyk, dit was 'n droom!
8 Dié môre was sy gees onrustig, en hy het al die towenaars en al die wyse manne
van Egipte laat roep; en Farao het aan hulle sy droom vertel, maar niemand kon
dit aan Farao uitlê nie.
9 Toe het die voorman van die skinkers met Farao gespreek en gesê: Ek moet
vandag my sondes in gedagtenis bring.
10 Farao was baie kwaad vir sy dienaars en het my in bewaring gegee in die huis
van die owerste van die lyfwag, my en die voorman van die bakkers.
11 En ons het in dieselfde nag 'n droom gehad, ek en hy; ons het gedroom, elkeen
'n droom met besondere betekenis.
12 En daar was by ons 'n Hebreeuse jongman, 'n kneg van die owerste van die
lyfwag--aan hom het ons dit vertel, en hy het ons drome vir ons uitgelê; aan
elkeen het hy die uitlegging volgens sy droom gegee.
13 En soos hy ons dit uitgelê het, so het dit gebeur--my het hy in my rang
herstel, maar hom opgehang.
14 Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal,
en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom.
15 Toe sê Farao vir Josef: Ek het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan
uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy 'n droom net hoef te hoor om
dit uit te lê.
16 En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao 'n
gunstige antwoord gee.
17 Toe sê Farao vir Josef: Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die
Nyl,
18 en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van
uiterlik was, en hulle het gaan wei in die rietgras.
19 En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van
uiterlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland
nie gesien nie.
20 En die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opgeëet:
21 dié het in hulle maag ingegaan, maar 'n mens kon nie merk dat hulle in hul
maag ingegaan het nie; want hulle aansien was lelik soos in die begin. Toe het
ek wakker geword.
22 Daarna het ek in my droom gesien, en kyk, sewe vol en mooi are skiet op aan
een steel.
23 En ná hulle spruit daar sewe are uit wat dor, maer en deur die oostewind
verskroei was;
24 en die sewe maer are het die sewe mooi are verslind. En ek het dit aan die
towenaars meegedeel, maar niemand kon my inligting gee nie.
25 Toe sê Josef vir Farao: Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van
plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee.
26 Die sewe mooi koeie is sewe jare; en die sewe mooi are is sewe jare; die
droom is een en dieselfde.
27 En die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare; en
die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are sal sewe jare van hongersnood
wees.
28 Dit is die woord wat ek tot Farao gespreek het: wat God van plan is om te
doen, het Hy Farao laat sien.
29 Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland;
30 maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in
Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer.
31 En van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens dié hongersnood
wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees.
32 En wat dit betref dat die droom twee maal vir Farao herhaal is--dit is omdat
die saak deur God vas besluit is en God dit gou sal doen.
33 Laat Farao dan nou uitkyk na 'n verstandige en wyse man en hom aanstel oor
Egipteland.
34 Farao moet so maak en opsigters oor die land aanstel en in die sewe jare van
oorvloed die vyfde deel hef van die opbrings van Egipteland.
35 En hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, versamel en
onder leiding van Farao koring ophoop as voedsel in die stede en dit wegbêre.
36 So sal dan die voedsel 'n voorraad wees vir die land vir die sewe jare van
hongersnood wat in Egipteland sal kom, sodat die land nie deur die hongersnood
te gronde gaan nie.
37 En die woord was goed in die oë van Farao en van al sy dienaars.
38 Daarop het Farao aan sy dienaars gesê: Kan ons wel iemand vind soos hierdie
man in wie die Gees van God is?
39 En Farao sê vir Josef: Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is
daar niemand verstandig en wys soos jy nie.
40 Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik;
alleen deur die troon sal ek groter wees as jy.
41 Verder het Farao vir Josef gesê: Kyk, ek stel jou aan oor die hele
Egipteland.
42 Toe trek Farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan die hand van Josef;
en hy het hom fyn linneklere laat aantrek en die goue ketting om sy hals gehang
43 en hom laat ry op sy tweede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Pas op!
So het hy hom dan oor die hele Egipteland aangestel.
44 En Farao sê vir Josef: Ek is Farao, maar sonder jou mag niemand sy hand of
voet in die hele Egipteland verroer nie.
45 En Farao het Josef genoem Sáfenat-Panéag en aan hom Asenat, die dogter van
Potiféra, die priester van On, as vrou gegee. En Josef het uitgetrek oor
Egipteland.
46 En Josef was dertig jaar oud toe hy voor Farao, die koning van Egipte,
gestaan het; en Josef het van Farao af weggegaan en die hele Egipteland
deurgetrek.
47 En die land het met handvolle opgelewer in die sewe jare van oorvloed.
48 Toe het hy al die voedsel van die sewe jare versamel wat in Egipteland gekom
het, en voedsel in die stede weggesit--die voedsel van die land wat rondom elke
stad was, het hy daarin weggesit.
49 So het Josef dan 'n baie groot hoeveelheid koring opgehoop soos die sand van
die see, totdat hulle opgehou het om te tel, want dit was ontelbaar.
50 En vir Josef is twee seuns gebore--voordat die jaar van hongersnood gekom
het--wat Asenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, vir hom gebaar
het.
51 En Josef het die eersgeborene Manasse genoem; want, het hy gesê, God het my
al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my vader.
52 En die tweede het hy Efraim genoem; want, het hy gesê, God het my vrugbaar
gemaak in die land van my ellende.
53 Toe het die sewe jare van oorvloed wat daar in Egipteland was, ten einde
gekom,
54 en die sewe jare van hongersnood het begin aankom soos Josef voorspel het. En
daar was hongersnood in al die lande, maar in die hele Egipteland was daar
brood.
55 En toe die hele Egipteland honger gely en die volk na Farao geroep het om
brood, sê Farao aan al die Egiptenaars: Gaan na Josef, doen wat hy julle sê.
56 En die hongersnood was oor die hele oppervlakte van die aarde, en Josef het
alles waarin iets was, oopgemaak en aan die Egiptenaars verkoop; en die
hongersnood was swaar in Egipteland.
57 En die hele wêreld het na Josef in Egipte gekom om koring te koop, want die
hongersnood was swaar op die hele aarde.
42
1 Toe Jakob merk dat daar koring in Egipte was, het Jakob aan sy seuns gesê: Wat
kyk julle so na mekaar?
2 En hy sê: Kyk, ek het gehoor dat daar koring in Egipte is; trek daarheen af,
en koop vir ons daar koring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie.
3 Daarop het tien van Josef se broers afgetrek om koring uit Egipte te koop.
4 Maar Benjamin, die broer van Josef, het Jakob nie saam met sy broers gestuur
nie; want hy het gedink: Altemit kan 'n ongeluk hom oorkom.
5 So het die seuns van Israel dan gekom om koring te koop onder diegene wat daar
aangekom het; want daar was hongersnood in die land Kanaän.
6 En Josef was die maghebber oor die land, hy wat aan al die mense van die land
koring verkoop het; daarom het die broers van Josef gekom en hulle voor hom met
die aangesig na die aarde gebuig.
7 Sodra Josef sy broers sien, het hy hulle herken maar hom vreemd teenoor hulle
gehou en hulle hard aangespreek en vir hulle gesê: Waar kom julle vandaan? En
hulle antwoord: Uit die land Kanaän om voedsel te koop.
8 En Josef het sy broers herken, maar húlle het hom nie herken nie.
9 Toe dink Josef aan die drome wat hy aangaande hulle gedroom het; en hy sê vir
hulle: Julle is spioene, julle het gekom om te kyk waar die land oop is.
10 Maar hulle het hom geantwoord: Nee, my heer, maar u dienaars het gekom om
voedsel te koop.
11 Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen
spioene nie.
12 Toe sê hy vir hulle: Nee, maar julle het gekom om te kyk waar die land oop
is.
13 En hulle antwoord: U dienaars is twaalf in getal, ons is broers, seuns van
een man in die land Kanaän; en kyk, die jongste is nou by ons vader, maar die
een is daar nie meer nie.
14 Toe sê Josef vir hulle: Dit is wat ek julle gesê het: Julle is spioene!
15 Hieraan sal julle getoets word: so waar as Farao leef, julle sal hiervandaan
nie trek tensy dat julle jongste broer hierheen kom nie.
16 Stuur een van julle, dat hy julle broer gaan haal, maar júlle moet in die
gevangenis bly. So sal dan julle woorde getoets word, of die waarheid by julle
is of nie. So waar as Farao leef, julle is spioene!
17 Daarop het hy hulle saam drie dae lank in bewaring laat hou.
18 En op die derde dag sê Josef vir hulle: Doen dit, dan sal julle lewe; ek
vrees God!
19 As julle eerlike mense is, laat een van julle broers gevange bly in die huis
waar julle in bewaring is; maar gaan júlle, bring die koring vir die honger van
julle huisgesinne weg,
20 en bring julle jongste broer na my toe--dan sal julle woorde waar gemaak
word, en julle sal nie sterwe nie. En hulle het so gedoen.
21 Toe sê hulle vir mekaar: Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons
die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie
geluister het nie--daarom kom hierdie benoudheid oor ons.
22 Daarop antwoord Ruben hulle: Het ek nie vir julle gesê nie: Besondig julle
nie aan die seun nie? Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so word dan ook sy
bloed geëis.
23 En hulle het nie geweet dat Josef dit verstaan nie, want daar was 'n tolk
tussen hulle.
24 Toe draai hy hom van hulle af weg en ween. Daarna het hy na hulle teruggegaan
en met hulle gespreek; en hy het Símeon onder hulle uitgeneem en hom voor hulle
oë gebind.
25 Daarop gee Josef bevel om hulle sakke vol koring te maak en elkeen se geld
weer in sy sak te sit en om aan hulle padkos vir die reis saam te gee. En so is
aan hulle gedoen.
26 En hulle het die koring op hulle esels gelaai en daar weggetrek.
27 En toe die een sy sak oopmaak om sy esel in die herberg voer te gee, sien hy
sy geld; en kyk, dit was somaar bo in sy sak!
28 En hy sê vir sy broers: My geld is teruggegee; hier lê dit dan ook in my sak!
Toe het hulle hart hul begewe, en hulle draai verskrik na mekaar toe en sê: Wat
het God ons nou aangedoen?
29 En hulle het by hul vader Jakob in die land Kanaän gekom en hom alles vertel
wat hulle wedervaar het en gesê:
30 Die man, die heer van die land, het ons hard aangespreek en ons vir spioene
van die land gehou.
31 Maar ons het aan hom gesê: Ons is eerlike mense, ons is geen spioene nie.
32 Ons is twaalf broers, seuns van ons vader; die een is daar nie meer nie, en
die jongste is nou by ons vader in die land Kanaän.
33 Daarop het die man, die heer van die land, aan ons gesê: Hieraan sal ek weet
dat julle eerlike mense is--laat een van julle broers by my bly; en neem vir die
honger van julle huisgesinne en trek weg,
34 en bring julle jongste broer na my toe; dan sal ek weet dat julle geen
spioene is nie. As julle eerlike mense is, sal ek julle broer aan julle
teruggee, en julle mag in die land rondtrek.
35 En toe hulle hul sakke leegmaak, was elkeen se bondeltjie geld daar in sy
sak! En toe hulle hul bondeltjies geld sien, hulle en hul vader, was hulle
bevrees.
36 Daarop sê Jakob, hulle vader, vir hulle: Julle beroof my van kinders. Josef
is weg! En Símeon is weg! En Benjamin wil julle wegneem! Alles is teen my!
37 Toe spreek Ruben sy vader aan en sê: U kan my twee seuns doodmaak as ek hom
nie na u terugbring nie. Vertrou hom aan my toe, en ék sal hom na u terugbring.
38 Maar hy sê: My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer is dood,
en hy het alleen oorgebly; en as 'n ongeluk hom oorkom op die pad wat julle sal
gaan, dan sal julle my grys hare met kommer in die doderyk laat afdaal.
43
1 En die hongersnood was swaar in die land.
2 En nadat die koring wat hulle uit Egipte gebring het, opgeëet was, sê hulle
vader vir hulle: Gaan koop vir ons weer 'n bietjie voedsel.
3 Toe het Juda hom geantwoord: Die man het ons uitdruklik gewaarsku en gesê:
Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by julle is nie.
4 As u ons broer saam met ons stuur, sal ons aftrek en vir u voedsel koop;
5 maar as u hom nie stuur nie, sal ons nie aftrek nie; want die man het aan ons
gesê: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by julle is nie.
6 Toe sê Israel: Waarom het julle so verkeerd teen my gehandel deur die man te
vertel dat julle nog 'n broer het?
7 En hulle antwoord: Die man het uitdruklik na ons en ons familie gevra met die
woorde: Lewe julle vader nog? Het julle nog 'n broer? Toe het ons hom dit te
kenne gegee volgens hierdie woorde. Kon ons dan ooit weet dat hy sou sê: Bring
julle broer af?
8 Daarop sê Juda aan sy vader Israel: Stuur die seun saam met my; dan sal ons
klaarmaak en wegtrek, sodat ons kan lewe en nie sterwe nie--ons en ook u en ons
kinders nie.
9 Ek sal vir hom borg wees; van my hand kan u hom eis. As ek hom nie na u bring
en voor u stel nie, sal ek lewenslank teenoor u skuldig staan.
10 Ja, as ons nie getalm het nie, waarlik dan was ons nou al twee maal terug.
11 Toe het Israel, hulle vader, vir hulle gesê: As dit so is, doen dan dit: neem
van die opbrings van die land in julle sakke en bring vir die man 'n geskenk
af--bietjie balsem en bietjie heuning, speserye en gom, neute en amandels;
12 en neem dubbel soveel geld met julle saam en bring die geld wat weer bo in
julle sakke gesit is, met julle saam terug. Miskien was dit 'n vergissing.
13 En neem julle broer--maak julle klaar en gaan terug na die man.
14 En mag God, die Almagtige, julle barmhartigheid verleen by die man, sodat hy
julle ander broer en Benjamin saam met julle kan laat trek! En ek--as ek van
kinders beroof is, dan is ek beroof.
15 Daarop neem die manne dié geskenk, en hulle neem dubbel soveel geld saam met
hulle en ook Benjamin, en hulle het klaargemaak en na Egipte afgetrek en voor
Josef gaan staan.
16 Toe Josef Benjamin by hulle sien, sê hy aan die opsigter oor sy huis: Bring
die manne in die huis en slag slagvee en maak dit gereed, want die manne moet
vanmiddag by my eet.
17 En die man het gedoen soos Josef beveel het, en die man het die manne in die
huis van Josef gebring.
18 En die manne het gevrees, omdat hulle in die huis van Josef gebring is, en
gesê: Ter wille van die geld wat die vorige keer in ons sakke teruggekom het,
word ons ingebring om ons te oorrompel, ons te oorval en ons as slawe te neem,
saam met ons esels.
19 Daarom het hulle nader gekom na die man wat oor die huis van Josef was, en
met hom gespreek by die ingang van die huis
20 en gesê: Ag, my heer, ons het die vorige keer net afgetrek om voedsel te
koop,
21 maar toe ons in die herberg kom en ons sakke oopmaak, was elkeen se geld bo
in sy sak--ons geld volgens sy gewig--en ons het dit saam met ons teruggebring.
22 Ons het ook ander geld saam met ons afgebring om voedsel te koop. Ons weet
nie wie ons geld in ons sakke gesteek het nie.
23 Toe antwoord hy: Vrede vir julle! Moenie bang wees nie! Julle God en die God
van julle vader het julle 'n skat in jul sakke gegee. Julle geld het by my
gekom. Daarop het hy Símeon na hulle uitgebring.
24 En die man het die manne in die huis van Josef gebring en water aan hulle
gegee, en hulle het hul voete gewas; hy het ook hulle esels voer gegee.
25 En hulle het die geskenk reggemaak teen dat Josef die middag sou kom, want
hulle het gehoor dat hulle daar brood sou eet.
26 Toe Josef dan in die huis kom, het hulle vir hom die geskenk binnegebring wat
by hulle was, en hulle voor hom neergebuig na die aarde toe.
27 En hy het hulle na hul welstand gevra en gesê: Gaan dit goed met julle ou
vader van wie julle gespreek het? Leef hy nog?
28 En hulle antwoord: Dit gaan goed met u dienaar, ons vader; hy lewe nog. En
hulle het hul eerbiedig neergebuig.
29 Toe slaan hy sy oë op en sien sy broer Benjamin, die seun van sy moeder, en
sê: Is dit julle jongste broer van wie julle met my gespreek het? Daarop sê hy:
Mag God jou genadig wees, my seun!
30 En Josef het gou gemaak, want sy binneste was ontroerd oor sy broer: hy het
geleentheid gesoek om te ween en in die kamer gegaan en daar geween.
31 Daarna het hy sy gesig gewas en uitgekom en hom bedwing en gesê: Bring die
ete op!
32 Toe bring hulle dit vir hom besonders op en vir hulle besonders en vir die
Egiptenaars wat by hom eet, besonders; want die Egiptenaars mag nie saam met die
Hebreërs eet nie, omdat dit vir die Egiptenaars 'n gruwel is.
33 En hulle het gaan sit volgens sy bepaling, die eersgeborene na sy
eersgeboorte en die jongste na sy jonkheid. Toe kyk die manne mekaar verbaas
aan.
34 Hierop het hy aan hulle porsies uitgedeel van die ete wat voor hom staan;
maar die porsie van Benjamin was vyf maal groter as die porsies van hulle almal.
En hulle het gedrink en saam met hom vrolik geword.
44
1 Toe gee hy bevel aan die opsigter oor sy huis en sê: Maak die sakke van die
manne vol met lewensmiddele soveel as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld
bo in sy sak;
2 en my beker, die silwerbeker, moet jy bo in die jongste se sak sit saam met
die geld vir sy koring. En hy het gehandel volgens die woord wat Josef gespreek
het.
3 Toe dit die môre lig word, het hulle die manne laat trek, hulle met hul esels.
4 Hulle het uit die stad uitgetrek, hulle was nog nie ver nie toe Josef aan die
opsigter oor sy huis sê: Maak jou klaar en jaag die manne agterna; en as jy
hulle inhaal, vra hulle dan: Waarom het julle kwaad vir goed vergelde?
5 Is dit nie die ding waaruit my heer drink en waarmee hy altyd waarneem nie?
Julle het verkeerd gehandel met wat julle gedoen het.
6 En hy het hulle ingehaal en hierdie woorde aan hulle meegedeel.
7 Toe sê hulle vir hom: Waarom spreek my heer sulke woorde? Dit is ver van u
dienaars om so iets te doen.
8 Kyk, geld wat ons bo in ons sakke gevind het, het ons uit die land Kanaän aan
u teruggebring hoe sou ons dan silwer of goud uit die huis van u heer kan steel?
9 Dié een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterwe; en ons sal ook my
heer se slawe wees.
10 Toe sê hy: Nou goed, laat dit wees soos julle gesê het. Dié een by wie dit
gevind word, is my slaaf. Maar júlle sal vry wees.
11 Daarop het hulle gou elkeen sy sak op die grond neergesit en elkeen sy sak
oopgemaak.
12 En hy het gesoek; hy het begin by die oudste en opgehou by die jongste; en
die beker is in Benjamin se sak gevind.
13 Toe skeur hulle hul klere, en elkeen laai sy esel, en hulle gaan na die stad
terug.
14 En Juda het saam met sy broers in die huis van Josef gekom, terwyl hy nog
daar was, en hulle het voor hom neergeval op die grond.
15 Daarop sê Josef vir hulle: Wat is dit nou wat julle gedoen het? Weet julle
nie dat 'n man soos ek dit ongetwyfeld moet waarneem nie?
16 En Juda antwoord: Wat kan ons aan my heer sê? Wat kan ons spreek? En waarmee
kan ons ons regverdig? God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind. Kyk,
ons is my heer se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gevind is.
17 Maar hy sê: Dit is ver van my om dit te doen; die man by wie die beker gevind
is, dié sal my slaaf wees. Maar trek júlle in vrede op na julle vader.
18 Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, mag u dienaar tog 'n woord
spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie,
want u staan gelyk met Farao.
19 My heer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle 'n vader of broer?
20 En ons het my heer geantwoord: Ons het 'n ou vader; en daar is 'n jong seun,
'n kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van
sy moeder, en sy vader het hom lief.
21 Toe het u aan u dienaars gesê: Bring hom af na my toe, dat ek my oog op hom
kan rig.
22 En ons het my heer geantwoord: Die seun kan sy vader nie verlaat nie, want sy
vader sal sterwe as hy hom verlaat.
23 Daarop het u aan u dienaars gesê: As julle jongste broer nie saam met julle
afkom nie, sal julle my aangesig nie weer sien nie.
24 En toe ons na u dienaar, my vader, opgetrek het en hom die woorde van my heer
te kenne gegee het,
25 het ons vader gesê: Gaan koop weer vir ons 'n bietjie voedsel.
26 Maar ons het gesê: Ons kan nie aftrek nie. As ons jongste broer by ons is,
sal ons aftrek; want ons mag die aangesig van die man nie sien as ons jongste
broer nie by ons is nie.
27 En u dienaar, my vader, het aan ons gesê: Júlle weet dat my vrou vir my twee
gebaar het--
28 die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: Voorwaar, hy is verskeur,
verskeur! En ek het hom tot hiertoe nie gesien nie.
29 As julle nou hierdie een ook van my af wegneem en hom 'n ongeluk oorkom, dan
sal julle my grys hare met droefenis in die doderyk laat afdaal.
30 As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is
nie--terwyl sy siel innig aan hom verkleef is--
31 sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die
grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal.
32 Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê
het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig
staan.
33 Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en
laat die seun saam met sy broers optrek.
34 Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar
net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie!
45
1 Toe kon Josef hom nie langer bedwing voor almal wat by hom gestaan het nie, en
hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe
Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie.
2 Daarop bars hy in trane uit, sodat die Egiptenaars en ook die huis van Farao
dit gehoor het.
3 En Josef sê vir sy broers: Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon
hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom.
4 Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê
hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het.
5 Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat
julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor
julle uit gestuur.
6 Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar
waarin nie geploeg of geoes sal word nie.
7 Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle 'n oorblyfsel op die aarde
te verseker en om julle in die lewe te hou tot 'n groot verlossing.
8 Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my 'n
raadsman van Farao gemaak en 'n gebieder oor sy hele huis en 'n regeerder in die
hele Egipteland.
9 Trek gou op na my vader en sê vir hom: So spreek u seun Josef: God het my 'n
gebieder oor die hele Egipteland gemaak. Kom af na my, moenie versuim nie!
10 En u kan in die land Gosen woon en naby my wees, u en u kinders en u
kindskinders en u kleinvee en u beeste en alles wat u besit.
11 En ek sal u daar onderhou, want daar sal nog vyf jaar hongersnood wees; sodat
u nie verarm nie, u en u huis en alles wat aan u behoort.
12 En kyk, julle oë sien dit, en die oë van my broer Benjamin, dat dit my mond
is wat met julle spreek.
13 Vertel my vader dan van al my heerlikheid in Egipte en van alles wat julle
gesien het, en bring my vader gou hierheen af.
14 Toe val hy sy broer Benjamin om die hals en ween; en ook Benjamin het aan sy
hals geween.
15 En hy het al sy broers gesoen en aan hulle hals geween; en daarna het sy
broers met hom gespreek.
16 Toe die gerug in die huis van Farao gehoor word dat Josef se broers gekom
het, was dit goed in die oë van Farao en van sy dienaars.
17 En Farao het met Josef gespreek: Sê aan jou broers: Doen dit, laai julle
diere en trek weg na die land Kanaän.
18 En gaan haal julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe, dan sal ek
julle die beste van Egipteland gee; en eet die vettigheid van die land.
19 Jy kry dan bevel--doen dit: Neem vir julle uit Egipteland waens vir julle
kinders en julle vroue, en vervoer julle vader en kom.
20 En julle hoef geen spyt te hê oor julle huisraad nie, want die beste van die
hele Egipteland is julle s'n.
21 Die seuns van Israel het toe so gedoen; en Josef het vir hulle waens verskaf
volgens die bevel van Farao en hulle padkos gegee vir die reis.
22 Hy het aan hulle almal, man vir man, 'n stel nuwe klere gegee; maar aan
Benjamin het hy drie honderd sikkels silwer en vyf stel nuwe klere gegee.
23 En net so het hy ook aan sy vader gestuur tien esels, gelaai met die beste
goed van Egipte, en tien eselinne, gelaai met koring en brood en voedsel vir sy
vader op die reis.
24 Daarop het hy sy broers weggestuur, en hulle het vertrek; en hy het aan hulle
gesê: Moenie vir mekaar kwaad word op die pad nie.
25 En hulle het opgetrek uit Egipte en in die land Kanaän aangekom by hulle
vader Jakob.
26 Toe hulle hom vertel: Josef lewe nog--en dat hy regeerder is in die hele
Egipteland--het sy hart beswyk, want hy het hulle nie geglo nie.
27 Maar toe hulle hom al die woorde van Josef te kenne gee wat hy met hulle
gespreek het, en hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te vervoer, het
die gees van Jakob, hulle vader, lewendig geword.
28 En Israel het gesê: Dit is genoeg! My seun Josef lewe nog! Ek sal gaan en hom
sien voordat ek sterwe.
46
1 En Israel het weggetrek met alles wat aan hom behoort het, en in Berséba
gekom; en hy het offerandes gebring aan die God van sy vader Isak.
2 En God het tot Israel gespreek in naggesigte en gesê: Jakob, Jakob! En hy
antwoord: Hier is ek!
3 Toe sê Hy: Ek is God, die God van jou vader. Moenie bevrees wees om na Egipte
af te trek nie, want Ek sal jou daar 'n groot nasie maak.
4 Ek sal saam met jou aftrek na Egipte, en Ek sal jou gewis ook weer laat
optrek; en Josef sal jou oë toedruk.
5 Daarna het Jakob weggetrek van Berséba af. En die seuns van Israel het hulle
vader Jakob met hulle kinders en hulle vroue op die waens gelaai wat Farao
gestuur het om hom te vervoer.
6 En hulle het hul vee en besittings geneem wat hulle in die land Kanaän verwerf
het, en in Egipte gekom, Jakob en sy hele geslag saam met hom:
7 sy seuns en sy kleinseuns saam met hom; sy dogters en kleindogters en sy hele
geslag het hy saam met hom in Egipte gebring.
8 En dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het--Jakob en
sy seuns. Die eersgeborene van Jakob was Ruben.
9 En die seuns van Ruben: Henog en Pallu en Hesron en Karmi.
10 En die seuns van Símeon: Jémuel en Jamin en Ohad en Jagin en Sohar en Saul,
die seun van die Kanaänitiese vrou.
11 En die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merári.
12 En die seuns van Juda: Er en Onan en Sela en Peres en Serag. Maar Er en Onan
het gesterwe in die land Kanaän; en die seuns van Peres was Hesron en Hamul.
13 En die seuns van Issaskar: Tola en Puwa en Job en Simron.
14 En die seuns van Sébulon: Sered en Elon en Jágleël.
15 Dit is die seuns van Lea wat sy vir Jakob gebaar het in Paddan-Aram, saam met
sy dogter Dina; al die siele van sy seuns en dogters was drie en dertig.
16 En die seuns van Gad: Sifjon en Haggi, Suni en Esbon, Eri en Aródi en Areëli.
17 En die seuns van Aser: Jimna en Jiswa en Jiswi en Bería en Serag, hulle
suster; en die seuns van Bería: Heber en Málkiël.
18 Dit is die seuns van Silpa wat Laban aan sy dogter Lea gegee het; en sy het
vir Jakob hierdie sestien siele gebaar.
19 Die seuns van Ragel, die vrou van Jakob: Josef en Benjamin.
20 En vir Josef is in Egipteland gebore Manasse en Efraim wat Asenat, die dogter
van Potiféra, die priester van On, vir hom gebaar het.
21 En die seuns van Benjamin: Bela en Beger en Asbel, Gera en Naäman, Egi en
Ros, Muppim en Huppim en Ard.
22 Dit is die seuns van Ragel wat vir Jakob gebore is, almal saam veertien
siele.
23 En die seuns van Dan: Husim.
24 En die seuns van Náftali: Jágseël en Guni en Jeser en Sillem.
25 Dit is die seuns van Bilha wat Laban aan sy dogter Ragel gegee het; en sy het
hulle vir Jakob gebaar, almal saam sewe siele.
26 Al die siele wat aan Jakob behoort het en, uit sy heup afkomstig, na Egipte
gegaan het, behalwe die vroue van die seuns van Jakob, was almal saam ses en
sestig siele.
27 En die seuns van Josef wat vir hom in Egipte gebore is, was twee siele. Al
die siele van die huis van Jakob wat in Egipte gekom het, was sewentig.
28 En hy het Juda voor hom uit gestuur na Josef, dat dié voor hom uit die pad
moes wys na Gosen; en hulle het in die land Gosen aangekom.
29 Toe span Josef sy wa in, en hy trek op, sy vader Israel tegemoet na Gosen. En
toe hy homself aan hom vertoon, het hy om sy hals geval en lank aan sy hals
geween.
30 En Israel sê vir Josef: Nou kan ek sterwe nadat ek jou aangesig gesien het,
dat jy nog leef!
31 Daarna het Josef met sy broers en die huis van sy vader gespreek: Ek sal
optrek en aan Farao vertel en aan hom sê: My broers en die huis van my vader wat
in die land Kanaän was, het na my gekom.
32 En die manne is herders van kleinvee--want hulle was veeboere--en hulle het
hul kleinvee en hul beeste en alles wat hulle besit, saamgebring.
33 En as Farao julle laat roep en sê: Wat is julle nering?
34 dan moet julle antwoord: U dienaars was veeboere van ons jeug af tot nou toe,
ons sowel as ons vaders--sodat julle in die land Gosen kan woon. Want elke
herder van kleinvee is vir die Egiptenaars 'n gruwel.
47
1 Daarop het Josef gekom en aan Farao vertel en gesê: My vader en my broers en
hulle kleinvee en beeste en alles wat hulle besit, het gekom uit die land
Kanaän, en daar is hulle nou in die land Gosen.
2 En hy het uit die getal van sy broers vyf man saamgeneem en hulle aan Farao
voorgestel.
3 Toe sê Farao aan sy broers: Wat is julle nering? En hulle antwoord Farao: U
dienaars is herders van kleinvee, ons sowel as ons vaders.
4 Verder sê hulle vir Farao: Ons het gekom om as vreemdelinge in die land te
vertoef, want daar is geen weiding vir die kleinvee van u dienaars nie, omdat
die hongersnood in die land Kanaän swaar is. Laat u dienaars dan nou tog in die
land Gosen woon.
5 Daarop het Farao met Josef gespreek en gesê: Jou vader en jou broers het na
jou gekom.
6 Egipteland lê voor jou oop; laat jou vader en jou broers in die beste deel van
die land woon; hulle kan in die land Gosen woon. En as jy weet dat daar onder
hulle bekwame manne is, stel hulle dan aan as vee-opsigters oor my eiendom.
7 Toe bring Josef sy vader Jakob in en stel hom aan Farao voor. En Jakob het
Farao gegroet met 'n seënwens.
8 Daarop sê Farao vir Jakob: Hoeveel is die dae van jou lewensjare?
9 En Jakob het Farao geantwoord: Die dae van die jare van my vreemdelingskap is
honderd en dertig jaar. Min in getal en vol teëspoed was die dae van my
lewensjare, en hulle het nie gehaal by die dae van die lewensjare van my vaders
gedurende die dae van hulle vreemdelingskap nie.
10 Toe het Jakob Farao gegroet met 'n seënwens en van Farao af weggegaan.
11 En Josef het vir Jakob en sy broers woonplekke aangewys en aan hulle
besitting in Egipteland gegee, in die beste deel van die land, in die landstreek
Raämses, soos Farao beveel het.
12 En Josef het sy vader en sy broers en die hele huis van sy vader met brood
onderhou ooreenkomstig die getal van die kinders.
13 En daar was in die hele land geen brood nie, want die hongersnood was baie
swaar, sodat Egipteland en die land Kanaän uitgeput was weens die hongersnood.
14 En Josef het al die geld versamel wat in Egipteland en in die land Kanaän te
vinde was, vir die koring wat hulle gekoop het, en Josef het die geld in die
paleis van Farao gebring.
15 En toe die geld in Egipteland en in die land Kanaän op was, het al die
Egiptenaars na Josef gekom en gesê: Gee vir ons brood! En: Waarom moet ons voor
u oë sterwe, want die geld is gedaan?
16 En Josef antwoord: Gee julle vee, dan sal ek dit aan julle gee vir julle vee
as die geld gedaan is.
17 Toe bring hulle hul vee na Josef, en Josef het aan hulle brood gegee vir die
perde en die besitting aan kleinvee en beeste en vir die esels; en hy het hulle
dié jaar versorg met brood vir die waarde van al hulle besittings aan vee.
18 Toe dié jaar om was, het hulle na hom gekom in die tweede jaar en vir hom
gesê: Ons kan dit vir my heer nie wegsteek nie, maar die geld is op en die
besitting aan vee is my heer s'n. Daar het niks vir my heer oorgebly nie as net
ons lyf en ons grond.
19 Waarom moet ons voor u oë te gronde gaan, ons sowel as ons landerye? Koop ons
en ons grond vir brood, dan sal ons met ons grond aan Farao diensbaar wees; en
gee saadkoring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie, en dat die grond nie woes
word nie.
20 So het Josef dan al die grond van Egipte vir Farao opgekoop, want die
Egiptenaars het elkeen sy stuk grond verkoop, omdat die hongersnood vir hulle te
swaar was. So het die land dan Farao se eiendom geword.
21 En wat die volk betref--hy het hulle laat verhuis na die stede, van die een
end van die Egiptiese gebied na die ander end daarvan.
22 Net die grond van die priesters het hy nie gekoop nie; want die priesters het
'n vaste inkomste van Farao ontvang en van hulle vaste inkomste geëet wat Farao
hulle toegestaan het. Daarom het hulle hul grond nie verkoop nie.
23 Toe sê Josef aan die volk: Kyk, ek het vandag julle en jul grond vir Farao
gekoop: daar is saadkoring vir julle, dat julle die grond kan besaai.
24 En by die insameling moet julle 'n vyfde deel aan Farao afgee, en die ander
vier dele sal julle eiendom wees, as saad vir die land en as voedsel vir
julleself en die wat in julle huise is, en as voeding vir julle kinders.
25 En hulle antwoord: U het ons lewe gered. Laat ons guns mag vind in die oë van
my heer, dan sal ons die dienaars van Farao wees.
26 En Josef het dit 'n wet gemaak tot vandag toe vir die saaigrond van
Egipte--die vyfde deel behoort aan Farao. Net die grond van die priesters alleen
het nie die eiendom van Farao geword nie.
27 So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste
besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder.
28 En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob,
die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was.
29 En toe die dae van Israel nader kom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef
laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou
hand onder my heup en bewys my liefde en trou--begrawe my tog nie in Egipte nie.
30 Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe
my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord.
31 Toe sê hy: Sweer my dit tog. En hy het vir hom gesweer. Toe het Israel in
aanbidding gebuig oor die koppenent van die bed.
48
1 Ná hierdie dinge het hulle aan Josef meegedeel: Kyk, u vader is siek. Toe neem
hy sy twee seuns, Manasse en Efraim, met hom saam.
2 En hulle het aan Jakob berig gebring en gesê: Kyk, u seun Josef kom na u toe.
Daarop het Jakob sy krag versamel en op die bed gaan sit.
3 En Jakob het vir Josef gesê: God, die Almagtige, het aan my verskyn by Lus, in
die land Kanaän, en my geseën
4 en vir my gesê: Kyk, Ek sal jou vrugbaar maak en jou vermeerder en jou tot 'n
menigte van volke maak, en Ek sal aan jou nageslag ná jou hierdie land as ewige
besitting gee.
5 Nou dan, jou twee seuns wat vir jou in Egipteland gebore is voordat ek in
Egipte na jou gekom het, is myne. Efraim en Manasse sal myne wees net soos Ruben
en Símeon.
6 Maar jou nakomelinge wat jy ná hulle verwek het, sal joue wees. Hulle sal na
die naam van hulle broers genoem word in dié se erfdeel.
7 En toe ek van Paddan gekom het, het Ragel by my gesterwe in die land Kanaän,
op die reis toe daar nog 'n kort ent pad was om by Efrat te kom; en ek het haar
daar begrawe langs die pad na Efrat, dit is Betlehem.
8 Toe Israel die seuns van Josef sien, sê hy: Wie is dit?
9 En Josef antwoord sy vader: Dit is my seuns wat God my hier gegee het. En hy
sê: Bring hulle tog by my, dat ek hulle kan seën.
10 Maar Israel se oë was swaar van ouderdom, hy kon nie sien nie. En toe hy
hulle by hom bring, het hy hulle gesoen en hulle omhels.
11 En Israel sê vir Josef: Ek het geen gedagte gehad om jou aangesig te sien
nie, en kyk, God het my ook jou nageslag laat sien.
12 Daarop laat Josef hulle van sy knieë af weggaan, en hy buig hom met sy
aangesig na die aarde toe.
13 En Josef neem hulle twee Efraim met sy regterhand, links van Israel, en
Manasse met sy linkerhand, regs van Israel en hy bring hulle by hom.
14 Toe steek Israel sy regterhand uit en lê dit op die hoof van Efraim, hoewel
hy die jongste was, en sy linkerhand op die hoof van Manasse: hy het sy hande
oorkruis gehou, want Manasse was die eersgeborene.
15 En hy het Josef geseën en gesê: Die God voor wie se aangesig my vaders
Abraham en Isak gewandel het, die God wat my as Herder my lewe lank gelei het
tot vandag toe,
16 die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het--mag Hy die seuns seën, en mag
deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag
hulle vermeerder in die land in menigte.
17 Toe Josef sien dat sy vader sy regterhand op die hoof van Efraim gelê het,
was dit verkeerd in sy oë; en hy het die hand van sy vader gegryp om dit van die
hoof van Efraim op die hoof van Manasse oor te bring.
18 En Josef sê aan sy vader: Nie so nie, my vader; want hierdie een is die
eersgeborene: lê u regterhand op sy hoof.
19 Maar sy vader weier en sê: Ek weet, my seun, ek weet. Hy sal ook 'n volk
word, en hy sal ook groot word; nogtans sal sy jongste broer groter wees as hy,
en sy nageslag sal 'n menigte van nasies word.
20 So het hy hulle dan dié dag geseën en gesê: Met jou sal Israel 'n seën
toewens, met die woorde: Mag God jou maak soos Efraim en soos Manasse! So het hy
dan Efraim voor Manasse gestel.
21 Daarop sê Israel vir Josef: Kyk, ek gaan sterwe, maar God sal met julle wees,
en Hy sal julle terug laat gaan na die land van julle vaders.
22 En ék gee jou een stuk land bo jou broers, wat ek met my swaard en my boog
van die Amoriete afgeneem het.
49
1 Daarna het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan
verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.
2 Versamel en hoor, seuns van Jakob, en luister na Israel, julle vader!
3 Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die
vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag!
4 Opbruising soos van waters--jy sal die vernaamste nie wees nie, want jy het
die bed van jou vader beklim; toe het jy dit ontheilig. Hy het my bed beklim.
5 Símeon en Levi is broers. Hulle wapens is werktuie van geweld.
6 Laat my siel nie kom in hulle raad nie, laat my eer nie eens wees met hulle
vergadering nie. Want in hul toorn het hulle manne doodgeslaan, en in hulle
moedswilligheid het hulle beeste vermink.
7 Vervloek is hulle toorn, want dit is heftig; en hulle grimmigheid, want dit is
hard. Ek sal hulle verdeel in Jakob en hulle verstrooi in Israel.
8 Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou
vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig.
9 Juda is 'n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom,
hy gaan lê soos 'n leeu en soos 'n leeuin; wie sal hom opjaag?
10 Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit
totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.
11 Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die
edelste wynstok; Hy was sy kleed in wyn en sy gewaad in druiwebloed.
12 Hy is donkerder van oë as wyn en witter van tande as melk.
13 Sébulon sal woon by die strand van die see; en hy sal by die strand van die
skepe wees, met die sykant na Sidon toe.
14 Issaskar is 'n sterkgebeende esel wat tussen die veekrale lê.
15 Toe hy sien dat die rus goed en die land lieflik is, het hy sy skouer gebuig
om te dra, en hy moes dwangarbeid verrig.
16 Dan sal aan sy volk reg verskaf net soos enigeen van die stamme van Israel.
17 Laat Dan 'n slang wees op die weg, 'n horingslang op die pad, wat die perd
aan die hakskene byt, sodat sy ruiter agteroorval.
18 Op u verlossing wag ek, HERE!
19 Gad--'n bende sal hom aanval, maar hy sal hulle aan die hakskeen gryp.
20 Aser, sy spys is vet, en hy lewer koninklike lekkernye.
21 Náftali is soos 'n wildsbok so vry, hy wat mooi woorde laat hoor.
22 Josef is 'n jong vrugteboom, 'n jong vrugteboom by 'n fontein; sy takke klim
oor die muur.
23 Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry,
24 maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die
hande van die Magtige van Jakob--daarvandaan waar die Herder, die Steen van
Israel, is,
25 van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige
wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed
wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot.
26 Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige
berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van
Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers.
27 Benjamin is 'n wolf wat verskeur; in die môre eet hy sy prooi, en in die aand
deel hy buit uit.
28 Húlle almal is die twaalf stamme van Israel; en dit is wat hulle vader aan
hulle gesê het, en hy het hulle geseën; hy het hulle geseën, elkeen volgens sy
besondere seën.
29 Daarna het hy hulle bevel gegee en aan hulle gesê: Ek word versamel by my
volk. Begrawe my by my vaders in die spelonk wat op die stuk grond van Efron,
die Hetiet, is;
30 in die spelonk wat op die stuk grond van Magpéla is, wat oos van Mamre lê, in
die land Kanaän; die stuk grond wat Abraham van Efron, die Hetiet, as
eiendomsgraf gekoop het.
31 Daar het hulle Abraham begrawe en Sara, sy vrou; daar het hulle Isak begrawe
en Rebekka, sy vrou; en daar het ek Lea begrawe--
32 die stuk grond en die spelonk wat daarin is, wat gekoop is van die seuns van
Het.
33 Toe Jakob klaar sy bevele aan sy seuns gegee het, trek hy sy voete terug op
die bed en blaas die asem uit; en hy is by sy volksgenote versamel.
50
1 Toe val Josef op sy vader se aangesig, en hy het oor hom geween en hom gesoen.
2 En Josef het aan sy dienaars, die geneeshere, bevel gegee om sy vader te
balsem. En die geneeshere het Israel gebalsem.
3 En veertig dae het daarvoor verbygegaan; want so lank duur die dae van
balseming. En die Egiptenaars het hom sewentig dae lank beween.
4 En toe die dae van geween oor hom verby was, het Josef met die huis van Farao
gespreek en gesê: As ek dan guns in julle oë gevind het, spreek tog dit voor die
ore van Farao:
5 My vader het my laat sweer en gesê: Kyk, ek gaan sterwe; in my graf wat ek vir
my in die land Kanaän uitgekap het, daar moet jy my begrawe. Laat my dan nou tog
optrek en my vader begrawe. Daarna sal ek terugkom.
6 En Farao sê: Trek op en begrawe jou vader soos hy jou laat sweer het.
7 Toe het Josef opgetrek om sy vader te begrawe, en al die dienaars van Farao,
die oudstes van sy huis, het saam met hom opgetrek, en al die oudstes van
Egipteland;
8 ook die hele huis van Josef en sy broers en die huis van sy vader. Net hulle
kinders en hulle kleinvee en hulle beeste het hulle in die land Gosen laat
agterbly.
9 En saam met hom het opgetrek strydwaens sowel as ruiters, sodat dit 'n baie
groot trek was.
10 En toe hulle by die Steekdoring-dorsvloer kom, wat oos van die Jordaan lê,
het hulle daar 'n groot en baie swaar rouklag gehou. En hy het oor sy vader rou
laat bedrywe sewe dae lank.
11 Toe die inwoners van die land, die Kanaäniete, die roubedryf by die
Steekdoring-dorsvloer sien, sê hulle: Dit is 'n swaar rou vir die Egiptenaars.
Daarom het hulle dit Abel-Misraim genoem, wat oos van die Jordaan lê.
12 En sy seuns het met hom gedoen net soos hy hulle beveel het:
13 sy seuns het hom weggebring na die land Kanaän en hom begrawe in die spelonk
van die stuk grond van Magpéla, die stuk grond wat Abraham as eiendomsgraf
gekoop het van Efron, die Hetiet, oos van Mamre.
14 Daarna het Josef na Egipte teruggegaan, hy en sy broers en almal wat saam met
hom opgetrek het om sy vader te begrawe, nadat hy sy vader begrawe het.
15 Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê
nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die
kwaad wat ons hom aangedoen het!
16 Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood
bevel gegee met hierdie woorde:
17 So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en
hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die
oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle
met hom spreek.
18 En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u
slawe.
19 Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die
plek van God?
20 Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om
te doen soos dit vandag is, om 'n groot volk in die lewe te hou.
21 Wees dan nou nie bevrees nie: ék sal julle en julle kinders onderhou. So het
hy hulle dan getroos en na hulle hart gespreek.
22 En Josef het in Egipte gewoon, hy en die huis van sy vader. En Josef het
honderd en tien jaar gelewe.
23 En Josef het van Efraim kinders gesien van die derde geslag. Ook die kinders
van Magir, die seun van Manasse, is op Josef se knieë gebore.
24 En Josef het aan sy broers gesê: Ek gaan sterwe, maar God sal gewis op julle
ag gee en julle uit hierdie land laat optrek na die land wat Hy aan Abraham,
Isak en Jakob met 'n eed beloof het.
25 En Josef het die seuns van Israel laat sweer en gesê: As God sekerlik op
julle ag sal gee--bring dan my gebeente hiervandaan op.
26 En Josef het gesterwe, honderd en tien jaar oud. En hulle het hom gebalsem,
en hy is in 'n kis gesit in Egipte.