J e s a j a 1
1 Die gesig van Jesaja, die seun van Amos, wat hy gesien het met betrekking
tot Juda en Jerusalem, in die dae van Ussía, Jotam, Agas en Hiskía, die konings
van Juda.
2 Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die HERE spreek: Ek het kinders
grootgemaak en verhoog, maar húlle het teen My oortree.
3 'n Os ken sy besitter en 'n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen
kennis nie, my volk verstaan nie.
4 Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners,
die kinders wat verderflik handel! Hulle het die HERE verlaat, die Heilige van
Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai.
5 Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele
hoof is siek, en die hele hart is krank.
6 Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar
wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie
versag nie.
7 Julle land is 'n wildernis, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer
julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is 'n wildernis soos by 'n
omkering deur vreemdes.
8 En die dogter van Sion het oorgebly soos 'n skermpie in 'n wingerd, soos 'n
slaapplekkie in 'n komkommertuin, soos 'n beleërde stad.
9 As die HERE van die leërskare vir ons nie 'n klein oorblyfsel oorgelaat het
nie--soos Sodom sou ons geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het.
10 Hoor die woord van die HERE, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse
God, volk van Gomorra!
11 Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die HERE. Ek is sat van
die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen
behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie.
12 As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand
geëis--om my voorhowe te vertrap?
13 Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My.
Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste--Ek verdra geen ongeregtigheid
en feestyd nie!
14 Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My 'n oorlas. Ek is
moeg om dit te dra.
15 En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die
gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed.
16 Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë
weg, hou op om kwaad te doen,
17 leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die
wees, verdedig die saak van die weduwee.
18 Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos
skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal
word soos wol.
19 As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.
20 Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word;
want die mond van die HERE het dit gespreek.
21 Ag, hoe het die getroue vesting 'n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid
het daarin vernag--en nou moordenaars!
22 Jou silwer het skuim geword; jou wyn is vervals met water.
23 Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het
omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na. Aan die wees doen hulle geen reg nie,
en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie.
24 Daarom spreek die Here HERE van die leërskare, die Magtige van Israel: o Wee,
Ek sal vir My voldoening verskaf van my teëstanders en My wreek op my vyande!
25 En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou skuim soos met loog uitsuiwer en
al jou looddele wegneem.
26 En Ek sal jou weer regters gee soos vroeër en raadsmanne soos in die begin;
daarna sal jy 'n stad van geregtigheid, 'n getroue vesting genoem word.
27 Sion sal deur strafgerig verlos word en die van hom wat terugkeer, deur
geregtigheid.
28 Maar daar sal verbreking wees van die oortreders en die sondaars almal saam;
en die wat die HERE verlaat, sal omkom.
29 Want hulle sal in die skande kom weens die terpentynbome waar julle behae in
het, en julle sal rooi van skaamte word oor die tuine wat julle verkies het.
30 Want julle sal wees soos 'n terpentynboom waarvan die blare verdor, en soos
'n tuin wat geen water het nie.
31 En die sterke word tot vlas en sy werk tot 'n vonk, en hulle sal altwee
tesame brand sonder dat iemand uitblus.
2
1 Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en
Jerusalem.
2 En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan
op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal
daarheen toestroom.
3 En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die
HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy
paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE
uit Jerusalem.
4 En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal
van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen
nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.
5 Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die HERE!
6 Want U het u volk verwerp, die huis van Jakob, omdat hulle vol is van wat die
Ooste aanbied, en van goëlaars soos die Filistyne, en met die kinders van
vreemdes dryf hulle handel.
7 En hulle land is vol silwer en goud, en daar is geen end aan hulle skatte nie;
en hulle land is vol perde, en daar is geen end aan hulle strydwaens nie.
8 Ook is hulle land vol afgode; voor die werk van hul hande buig hulle hul neer,
voor wat hulle vingers gemaak het.
9 So moet dan die mens neergebuig en die man verneder word; en U moet hulle dit
nie vergewe nie.
10 Gaan in die rots en steek jou weg in die grond vanweë die skrik van die HERE
en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil.
11 Die hoë oë van die mense sal verneder word, en die hoogheid van die manne
neergebuig word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.
12 Want 'n dag is daar vir die HERE van die leërskare oor al wat trots en hoog
is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word;
13 en oor al die hoë en verhewe seders van die Líbanon en oor al die eikebome
van Basan;
14 en oor al die hoë berge en oor al die verhewe heuwels;
15 en oor al die hoë torings en oor al die versterkte mure;
16 en oor al die skepe van Tarsis en oor al die kosbare pronkstukke.
17 Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne
verneder word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.
18 En die afgode sal geheel en al verdwyn.
19 En hulle sal gaan in die spelonke van die rotse en in die gate van die grond
vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as
Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik.
20 In dié dag sal die mens sy silwerafgode en sy goue afgode wat hy vir hom
gemaak het om voor neer te buig, weggooi vir die molle en die vlermuise;
21 om te gaan in die skeure van die rotse en in die klowe van die kranse vanweë
die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom
gereed maak om die aarde te verskrik.
22 Laat staan tog die mens wie se asem in sy neus is; want hoe min is hy werd!
3
1 Want kyk, die Here HERE van die leërskare sal uit Jerusalem en uit Juda
wegneem die stut en die steun, elke stut van brood en elke stut van water,
2 die held en die krygsman, die regter en die profeet en die waarsêer en die
oudste;
3 die owerste oor vyftig en die aansienlike en die raadsman en die knap
ambagsman en die ervare besweerder.
4 En Ek sal seuns hulle vorste maak, en moedswilliges sal oor hulle heers.
5 En die mense sal mekaar verdruk, man teen man, en die een teen die ander; die
seun sal die grysaard, die veragtelike sal die agbare stormloop.
6 As 'n man sy broer aangryp in die huis van sy vader en sê: Jy het 'n kleed, jy
moet owerste oor ons wees, en laat hierdie ingestorte puinhoop onder jou toesig
wees--
7 dan sal hy in dié dag uitroep en sê: Ek kan geen geneesheer wees nie, en in my
huis is geen brood en geen kleed nie; maak my nie 'n owerste van die volke nie.
8 Want Jerusalem het gestruikel, en Juda het geval; want hulle tong en hulle
dade is teen die HERE om sy oë, vol heerlikheid, te trotseer.
9 Die uitdrukking van hulle gesig getuig teen hulle, en hul sonde maak hulle
bekend, soos Sodom, sonder om iets weg te steek. Wee oor hulle siel, want hulle
doen hulself kwaad aan!
10 Sê van die regverdige dat dit met hom goed sal gaan; want die vrug van hul
handelinge sal hulle eet.
11 Wee die goddelose! Met hom gaan dit sleg; want wat sy hande gewerk het, sal
hom aangedoen word.
12 Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. o My volk, jou
leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot 'n dwaalweg
gemaak.
13 Die HERE staan daar om 'n regstryd te voer: Hy tree op om die volke te
vonnis.
14 Die HERE gaan na die gereg met die oudstes en die vorste van sy volk. Ja,
júlle het die wingerd afgewei; wat aan die arm man ontroof is, is in julle
huise.
15 Wat is dit met julle dat julle my volk vertrap en die ellendiges mishandel?
spreek die Here HERE van die leërskare.
16 Verder het die HERE gesê: Omdat die dogters van Sion trots is en loop met
uitgerekte nek en met die oë lok, wegstap met trippelgang en hulle voetringe
laat rinkel,
17 daarom sal die HERE die skedel van die dogters van Sion skurf maak, en die
HERE sal hulle skaamte ontbloot.
18 In dié dag sal die HERE wegneem die sieraad van die voetringe en die
sonnetjies en die maantjies;
19 die oorversiersels en die armbande en die sluiers;
20 die hoofversiersels en die voetkettinkies en die pronkgordels en die
reukflessies en die towermiddels;
21 die vingerringe en die neusringe;
22 die feesklere en die manteltjies en die tjalies en die handsakkies;
23 die handspieëltjies en die hemde en die tulbande en die wye mantels.
24 Dan sal daar in plaas van balsemgeur mufheid wees, en in plaas van 'n gordel
'n tou, en in plaas van gevlegte hare kaalheid, en in plaas van 'n pronkgewaad
'n roukleed, brandmerk in plaas van skoonheid.
25 Jou manne, o Sion, sal deur die swaard val en jou helde in die oorlog.
26 En sy poorte sal klaag en treur, en hy sal uitgeskud op die aarde sit.
4
1 En in dié dag sal sewe vroue een man aangryp en sê: Ons eie brood sal ons eet
en ons eie kleed aantrek; laat net jou naam oor ons genoem word, neem ons
smaadheid weg.
2 In dié dag sal die Spruit van die HERE wees tot sieraad en heerlikheid, en die
vrug van die land tot hoogheid en versiering vir die vrygeraaktes van Israel.
3 En wie in Sion oorgebly het en gespaar is in Jerusalem, dié sal heilig genoem
word, elkeen wat onder die lewendes opgeskrywe is in Jerusalem--
4 as die Here die onreinheid van die dogters van Sion afgewas en die bloedskulde
van Jerusalem daaruit weggespoel het deur die Gees van strafgerig en die Gees
van uitdelging.
5 Dan skep die HERE oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van
samekoms 'n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag; want
oor alles wat heerlik is, sal daar 'n beskutting wees.
6 En daar sal 'n afdak wees vir 'n skaduwee bedags teen die hitte en vir 'n
skuilplek en toevlug teen die stortbui en die reën.
5
1 Laat my tog sing van my Beminde; 'n lied van my Beminde oor sy wingerd! My
Beminde het 'n wingerd op 'n vrugbare heuwel.
2 En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel
wingerdstokke; en Hy het 'n toring daar binne-in gebou en ook 'n parskuip daarin
uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe
voortgebring.
3 Nou dan, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel tog tussen My en my
wingerd.
4 Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie?
Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe
voortgebring?
5 Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy
doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek,
sodat dit vertrap word.
6 En Ek sal dit 'n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie,
maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te
reën nie.
7 Want die wingerd van die HERE van die leërskare is die huis van Israel, en die
manne van Juda is die tuin van sy verlustiging; en Hy het gewag op reg, maar
kyk, dit was bloedvergieting; op geregtigheid, maar kyk, dit was geskreeu!
8 Wee hulle wat huis aan huis trek, akker aan akker voeg, totdat daar geen plek
meer is nie, en julle alleen grondeienaars in die land is.
9 In my ore het die HERE van die leërskare gespreek: Waarlik, baie huise sal 'n
woesteny word, die grotes en mooies sonder inwoner.
10 Want tien morg wingerd sal een enkele bat oplewer, en 'n homer saad sal 'n
efa opbring.
11 Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in
die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit.
12 En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op
die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle
nie.
13 Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle
aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.
14 Daarom het die doderyk sy keel wyd oopgemaak en sy mond uitgerek sonder maat,
en daarin sink hulle adel en hulle menigte en hulle luidrugtigheid en diegene
onder hulle wat uitgelate is.
15 Dan word die mens gebuig en die man verneder, en die oë van die hoogmoedige
mense word verneder.
16 Maar hoog sal die HERE van die leërskare wees deur die strafgerig, en die
heilige God sal Hom as die Heilige laat ken deur geregtigheid.
17 En daar sal lammers wei soos op hulle eie weiveld, en rondtrekkers sal die
puinhope van die ryk mense laat afeet.
18 Wee hulle wat die ongeregtigheid nader trek met koorde van goddeloosheid, en
die sonde soos met wa-toue;
19 wat sê: Laat Hy gou maak, laat Hy sy werk verhaas, dat ons dit kan sien! En
laat die raad van die Heilige van Israel naby wees en kom, dat ons dit kan ken!
20 Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die
lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.
21 Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is.
22 Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te
meng;
23 wat vir 'n omkoopgeskenk die skuldige regverdig verklaar en die reg van die
regverdige hom ontneem.
24 Daarom, soos die vuurtong stoppels verteer en droë gras in die vlam
inmekaarsak, so sal hulle wortel soos poeier word en hulle uitspruitsel soos
stof opstuiwe; omdat hulle die wet van die HERE van die leërskare verwerp het en
die woord van die Heilige van Israel verag het.
25 Daarom het die toorn van die HERE ontvlam teen sy volk en het Hy sy hand teen
hulle uitgestrek en hulle swaar getref, sodat die berge gebeef het en hulle lyke
soos vuilnis op die strate was. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie,
maar is sy hand nog uitgestrek.
26 En Hy sal 'n banier ophef vir die nasies in die verte, en Hy fluit vir dié
volk daar aan die einde van die aarde; en kyk, gou, haastig kom hulle.
27 Geen vermoeide en geen struikelende is onder hulle nie; hulle sluimer of
slaap nie, en die gord van hulle heupe word nie losgemaak nie, en die riem van
hulle skoene breek nie;
28 wie se pyle skerp is en al hulle boë gespan; die pote van hulle perde is soos
'n klipsteen en hulle wiele soos 'n stormwind.
29 Hulle gebrul is soos dié van 'n leeuin, hulle brul soos jong leeus en maak
gedreun en gryp die prooi en sleep weg sonder dat iemand red.
30 En in dié dag sal dit oor hulle dreun soos die gedreun van die see. As iemand
die aarde aanskou, kyk, daar is angsvolle duisternis; en die lig is verduister
deur die wolke.
6
1 In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op 'n hoë en
verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.
2 Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy
aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg.
3 En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE
van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!
4 En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het
vol rook geword.
5 Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man onrein van lippe en
woon onder 'n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE
van die leërskare, gesien!
6 Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met 'n gloeiende kool in sy
hand, wat hy met 'n tang van die altaar af geneem het,
7 en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou
skuld is weg en jou sonde versoen.
8 Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir
ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.
9 En Hy het gespreek: Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan
nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie.
10 Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle
oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie
verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie.
11 Toe sê ek: Hoe lank, Here? En Hy antwoord: Totdat die stede verwoes lê,
sonder inwoners, en die huise sonder mense en die land verwoes is tot 'n
wildernis,
12 en die HERE die mense ver verwyder het en die verlatenheid groot is in die
land.
13 En as nog 'n tiende deel daarin is, sal dit weer wees tot verwoesting; maar
soos by die terpentynboom en die eikeboom--as hulle omgekap word--'n stomp
oorbly, so sal die heilige geslag die stomp daarvan wees.
7
1 En in die dae van Agas, die seun van Jotam, die seun van Ussía, die koning van
Juda, het Resin, die koning van Aram, met Peka, die seun van Remália, die koning
van Israel, opgetrek na Jerusalem om daarteen oorlog te voer; maar hy kon nie
daarteen veg nie.
2 Toe hulle aan die huis van Dawid berig stuur met die woorde: Die Arameërs het
op Efraim toegesak! --het sy hart en die hart van sy volk gebewe soos die bome
van die bos bewe voor die wind.
3 En die HERE het vir Jesaja gesê: Gaan tog uit, Agas tegemoet, jy en jou seun
Sjear Ja-sjub, aan die end van die watervoor van die Boonste Dam, by die
grootpad van die Bleikveld,
4 en sê vir hom: Neem jou in ag en wees gerus; wees nie bevrees en laat jou hart
nie week word oor hierdie twee rokende stukke brandhout nie--weens die gloeiende
toorn van Resin en die Arameërs en van die seun van Remália;
5 omdat Aram onheil teen jou besluit het, Efraim en die seun van Remália, deur
te sê:
6 Laat ons optrek teen Juda en dit skrik aanjaag en dit vir ons verower en die
seun van Tábeal daaroor koning maak.
7 So sê die Here HERE: Dit sal nie tot stand kom nie, en dit sal nie gebeur nie.
8 Want Damaskus is die hoof van Aram, en Resin die hoof van Damaskus, en binne
vyf en sestig jaar sal Efraim verbreek word, sodat dit geen volk meer is nie;
9 en Samaría is die hoof van Efraim, en die seun van Remália die hoof van
Samaría. As julle nie glo nie--voorwaar, dan sal julle nie bevestig word nie!
10 En die HERE het verder met Agas gespreek en gesê:
11 Eis vir jou 'n teken van die HERE jou God: sak diep af na die doderyk, of
klim hoog op boontoe.
12 Maar Agas het geantwoord: Ek sal nie eis nie en die HERE nie versoek nie.
13 Toe sê hy: Luister tog, o huis van Dawid! Is dit vir julle nie genoeg om
mense te vermoei, dat julle my God ook vermoei nie?
14 Daarom sal die HERE self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger
word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.
15 Dikmelk en heuning sal hy eet as hy weet om te verwerp wat kwaad is en om te
kies wat goed is.
16 Want voordat die seuntjie weet om te verwerp wat kwaad is en te kies wat goed
is, sal die land vir wie se twee konings jy bang is, verlate wees.
17 Maar die HERE sal oor jou en jou volk en die huis van jou vader dae laat kom
soos daar nie gekom het van die dag dat Efraim van Juda afgeval het nie--die
koning van Assur!
18 En in dié dag sal die HERE vir die vlieë fluit wat aan die einde van die
strome van Egipte is, en die bye wat in die land Assur is;
19 en hulle sal kom en almal gaan sit in die dale van die steil hoogtes en in
die skeure van die rotse en op al die doringbosse en op die drinkplekke.
20 In dié dag sal die HERE met die skeermes wat anderkant die Eufraat gehuur is,
met die koning van Assur, afskeer die hoof en die hare van die voete; en dit sal
ook die baard wegneem.
21 En in dié dag sal 'n man 'n jong koei en 'n paar skape in die lewe hou;
22 en weens die oorvloed van melk wat hulle gee, sal hy dikmelk eet; want
dikmelk en heuning sal almal eet wat in die land oorgebly het.
23 En in dié dag sal elke plek waar duisend wingerdstokke staan, wat die waarde
van duisend sikkels silwer het, vir die dorings en distels wees.
24 Met pyl en boog sal hulle daarheen kom, want die hele land sal vol dorings en
distels wees.
25 En al die berge wat met die pik bewerk is--daar sal hulle uit vrees vir
dorings en distels nie kom nie; maar dit sal dien om die beeste in te jaag en om
deur die kleinvee vertrap te word.
8
1 Verder het die HERE aan my gesê: Neem vir jou 'n groot tafel en skrywe daarop
met 'n mensegriffel: Netnou is daar buit, gou is daar roof;
2 en Ek wil vir My vertroubare getuies neem: Uría, die priester, en Sagaría, die
seun van Jeberégja.
3 En ek het na die profetes gekom, en sy het swanger geword en 'n seun gebaar;
en die HERE het vir my gesê: Noem hom: Netnou is daar buit, gou is daar roof.
4 Want voordat die seuntjie kan roep: Vader! of: Moeder! sal hulle die rykdom
van Damaskus en die buit van Samaría voor die koning van Assur bring.
5 Verder het die HERE nog met my gespreek en gesê:
6 Omdat hierdie volk die waters van Silóa verag wat saggies vloei, en daar
vreugde is saam met Resin en die seun van Remália--
7 kyk, daarom sal die Here oor hulle laat opkom die sterk en magtige waters van
die Eufraat--die koning van Assur en al sy heerlikheid--en hy sal bo al sy
beddings styg en gaan oor al sy walle;
8 en hy sal in Juda indring, instroom en oorloop; tot die nek toe sal hy kom; en
die uitbreidinge van sy vlerke sal u land in sy breedte vul, o Immánuel!
9 Maak geraas, o volke, en--stort inmekaar; en luister, alle ver plekke van die
aarde! Gord julle en--stort inmekaar; gord julle en--stort inmekaar.
10 Neem 'n besluit, en dit sal verydel word; maak 'n afspraak, en dit sal nie
tot stand kom nie; want God is met ons!
11 Want so het die HERE met my gespreek toe sy hand my oorweldig het en Hy my
vermaan het om nie te wandel op die weg van hierdie volk nie, met die woorde:
12 Julle mag nie alles 'n sameswering noem wat hierdie volk 'n sameswering noem
nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie.
13 Die HERE van die leërskare--Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en
Hy julle verskrikking wees!
14 Dan sal Hy vir julle 'n heiligdom wees, maar 'n klip waar 'n mens teen stamp
en 'n rots waar 'n mens oor struikel, vir die twee huise van Israel, 'n vangnet
en 'n strik vir die inwoners van Jerusalem.
15 En baie onder hulle sal struikel en val en verbreek en verstrik en gevang
word.
16 Bind die getuienis toe, verseël die wet in die hart van my leerlinge.
17 En ek sal wag op die HERE, wat sy aangesig verberg vir die huis van Jakob, en
op Hom hoop.
18 Hier is ek en die kinders wat die HERE my gegee het--tot tekens en
sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die HERE van die leërskare wat op die berg
Sion woon.
19 En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die
geeste wat waarsê, wat piep en mompel--moet 'n volk nie sy God raadpleeg nie;
moet vir die lewendes die dooies gevra word?
20 Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord
nie, is hulle 'n volk wat geen dageraad het nie.
21 Dan sal hulle deur die land trek, beswaard en honger; en as hulle honger het,
sal hulle in toorn uitbreek en hulle koning en hulle God vloek; dan sal hulle na
bo kyk,
22 ook die aarde aanskou, en kyk, daar sal benoudheid en duisternis wees! In
jammernag en donkerheid is hulle gedrywe.
23 Want nie langer sal dit donker wees daar waar benoudheid is nie: in die
eerste tyd het Hy die land Sébulon en die land Náftali in veragting gebring, en
in die laaste tyd bring Hy tot eer die weg na die see, die oorkant van die
Jordaan, die streek van die heidene.
9
1 Die volk wat in duisternis wandel, het 'n groot lig gesien; die wat woon in
die land van die doodskaduwee, oor hulle het 'n lig geskyn.
2 U het die nasie vermenigvuldig, hulle vreugde groot gemaak; hulle is vrolik
voor u aangesig soos iemand vrolik is in die oestyd, soos iemand juig as die
buit verdeel word.
3 Want die juk wat op hulle gedruk het, en die stok wat hulle rug getref het,
die roede van hulle drywer, het U verbreek soos op die dag van Mídian.
4 Want elke soldateskoen wat daar wegstap met gedreun, en die kleed wat in bloed
gerol is, dien tot verbranding, 'n prooi van die vuur.
5 Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is
op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader,
Vredevors--
6 tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon
van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en
deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die
leërskare sal dit doen.
7 Die HERE stuur 'n woord in Jakob, en dit val in Israel;
8 en die hele volk sal dit gewaarword, Efraim en die inwoners van Samaría, wat
in trotsheid en grootsheid van hart sê:
9 Die bakstene het geval, maar met gekapte klip sal ons bou; die wildevyebome is
afgekap, maar ons sal seders in hulle plek neem!
10 Maar die HERE gee aan die teëstanders van Resin die oorhand oor hulle, en
hulle vyande sal Hy ophits:
11 die Arameërs van voor en die Filistyne van agter, dat hulle Israel met volle
mond kan opeet. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is
nog uitgestrek.
12 Maar die volk bekeer hulle nie tot Hom wat hulle slaan nie, en hulle soek nie
die HERE van die leërskare nie.
13 Daarom sny die HERE van Israel af kop en stert, palmtak en biesie, op een
dag.
14 Die oudste en aansienlike, dié is die kop, en die profeet wat leuens
profeteer, dié is die stert;
15 en die leiers van hierdie volk het verleiers geword, en dié van hulle wat
gelei word, is op 'n dwaalweg gebring.
16 Daarom sal die Here oor hulle jongmanne nie bly wees nie en Hom nie ontferm
oor hulle wese en hulle weduwees nie; want hulle is almal roekelose mense en
kwaaddoeners, en elke mond spreek goddeloosheid. Ondanks dit alles is sy toorn
nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.
17 Want die goddeloosheid brand soos vuur; dit verteer dorings en distels en
steek die digte takke van die bos aan die brand, sodat hulle in 'n rookpilaar
opstyg.
18 Deur die grimmigheid van die HERE van die leërskare staan die land in vlamme
en het die volk geword soos 'n prooi van die vuur; die een spaar die ander nie.
19 En hulle byt na regs en het honger; hulle vreet na links en word nie versadig
nie; hulle eet elkeen die vlees van sy eie arm:
20 Manasse vir Efraim, en Efraim vir Manasse, en hulle saam is teen Juda.
Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.
10
1 Wee hulle wat heillose insettinge tot wet maak, en die skrywers wat moeite
ywerig voorskrywe,
2 om die armes van die gereg weg te stoot en om die ellendiges onder my volk van
die reg te beroof, sodat die weduwees hulle buit kan word en hulle die wese kan
plunder.
3 Maar wat sal julle doen op die dag van besoeking en by die verwoesting wat van
ver af sal kom? Na wie sal julle vlug om hulp, en waar julle rykdom wegbêre?
4 Hulle kan net maar buig soos geboeides en val soos diegene wat gedood is.
Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.
5 Wee Assur! die roede van my toorn en 'n stok is hy--in hulle hand is my
grimmigheid!
6 Ek sal hom stuur teen 'n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die
volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot 'n
vertrapping te maak soos modder van die strate.
7 Maar hy bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg,
is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie.
8 Want hy sê: Is my vorste nie almal saam konings nie?
9 Het dit met Kalno nie gegaan soos met Kárkemis, met Hamat soos met Arpad, met
Samaría soos met Damaskus nie?
10 Soos my hand die koninkryke van die afgode bereik het, alhoewel hulle gesnede
beelde meer was as dié van Jerusalem en Samaría,
11 sou ek nie, soos ek aan Samaría en sy afgode gedoen het, net so aan Jerusalem
en sy afgode kan doen nie?
12 Maar as die HERE al sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan
sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië
se koning en oor die gepraal van sy hoë oë.
13 Want hy sê: Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid,
want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle
voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos 'n maghebber
neergewerp.
14 En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na 'n voëlnes, en ék
het die hele aarde bymekaargeskraap soos 'n mens eiers bymekaarskraap wat
verlaat is; en daar was niemand wat 'n vlerk verroer of 'n bek oopgemaak of
gepiep het nie.
15 Kan die byl hom beroem teen die wat daarmee kap, of die saag spog teen hom
wat dit trek? Asof 'n staf húlle swaai wat hom ophef, asof 'n stok hóm ophef wat
nie hout is nie!
16 Daarom sal die Here HERE van die leërskare onder sy vettes 'n maerte stuur;
en onder sy heerlikheid sal Hy 'n brand laat uitslaan soos die brand van vuur.
17 En die Lig van Israel sal 'n vuur wees, en sy Heilige 'n vlam; en dit sal sy
distels en sy dorings verbrand en verteer op een dag.
18 Ook sal Hy die heerlikheid van sy bos en van sy vrugteboord verteer, van die
siel af tot die vlees toe, sodat dit is soos wanneer 'n kranke wegkwyn.
19 En die oorblyfsel van die bome van sy bos sal min in getal wees, en 'n
seuntjie sal hulle kan opskrywe.
20 En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die
huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar
hulle sal steun op die HERE, die Heilige van Israel, in opregtheid.
21 Die oorblyfsel sal terugkom, die oorblyfsel van Jakob na die sterke God toe.
22 Want al was jou volk, o Israel, soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel
van hulle sal terugkom; die verdelging is vas besluit en vloei oor van
geregtigheid.
23 Want 'n verdelging wat vas besluit is, sal die Here HERE van die leërskare
voltrek in die midde van die hele aarde.
24 Daarom, so sê die Here HERE van die leërskare: o My volk wat in Sion woon,
wees nie bevrees vir Assur wat jou met die staf slaan en sy stok teen jou ophef
op die manier van Egipte nie.
25 Want nog 'n baie kort rukkie, dan is die grimmigheid ten einde, en my toorn
gaan uit om húlle te vernietig.
26 En die HERE van die leërskare sal oor hom die gésel swaai soos Mídian
verslaan is by die rots Oreb; en sy staf sal wees oor die see, en Hy sal dit
ophef op die manier van Egipte.
27 En in dié dag sal sy las afgly van jou skouer en sy juk van jou nek, en die
juk sal tot niet raak vanweë die vettigheid.
28 Hy oorval Ajat; hy trek deur Migron; in Migmas laat hy sy pakgoed agterbly.
29 Hulle trek oor die nek. Laat Geba ons nagverblyf wees! Rama bewe, Gíbea van
Saul vlug.
30 Skreeu dit uit, dogter van Gallim! Luister, Lais! Arme Anatot!
31 Madména vlug, die inwoners van Gebim soek skuiling!
32 Nog vandag staan hy in Nob, hy swaai sy hand teen die berg van die dogter van
Sion, teen die heuwel van Jerusalem!
33 Maar kyk, die Here HERE van die leërskare slaan met skrikwekkende geweld die
takke af, en die hoog uitgegroeides word omgekap en die verhewenes neergegooi;
34 en Hy sal die digte takke van die bos met die yster omkap, en die Líbanon sal
val deur die Heerlike.
11
1 Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en 'n loot uit sy
wortels sal vrugte dra;
2 en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die
Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE.
3 En Hy het 'n welgevalle aan die vrees van die HERE; en Hy sal nie regspreek na
wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie;
4 maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die
land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy
mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak.
5 En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe
wees.
6 Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf
en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en 'n klein seuntjie sal hulle
aanja.
7 Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet
strooi soos die os;
8 en die suigling speel by die gat van 'n adder, en die gespeende kind steek sy
hand uit na die kuil van 'n basilisk.
9 Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want
die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem
oordek.
10 En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as 'n
banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees.
11 En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die
oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en
Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see;
12 en Hy sal 'n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van
Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit
die vier hoeke van die aarde.
13 Dan sal die naywer van Efraim verdwyn, en die teëstanders van Juda sal
uitgeroei word; Efraim sal Juda nie beny nie, en Juda sal Efraim nie benoud maak
nie.
14 Maar hulle sal die Filistyne op die skouer vlieg teen die weste en saam die
kinders van die Ooste plunder; Edom en Moab is die buit van hulle hand, en die
kinders van Ammon is hulle onderdanig.
15 En die HERE sal die seetong van Egipte met die banvloek tref en deur sy
gloeiende wind sy hand oor die Eufraat swaai en dit uitmekaar slaan in sewe
strome, sodat 'n mens met skoene daardeur kan loop.
16 En daar sal 'n grootpad wees vir die oorblyfsel van sy volk wat oorbly uit
Assur, soos daar een gewees het vir Israel op die dag toe hulle uit Egipteland
opgetrek het.
12
1 En in dié dag sal jy sê: Ek dank U, HERE, dat U toornig op my gewees het; u
toorn is afgewend, en U het my vertroos.
2 Ja, God is my heil, ek sal vertrou en nie vrees nie; want die HERE HERE is my
krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword.
3 En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.
4 En julle sal in dié dag sê: Dank die HERE, roep sy Naam aan, maak sy dade
onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is!
5 Psalmsing tot eer van die HERE, want Hy het heerlike dinge gedoen; laat dit
bekend wees op die hele aarde.
6 Juig en jubel, o inwoners van Sion! Want die Heilige van Israel is groot in
julle midde.
13
1 Godspraak oor Babel wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het.
2 Hef op 'n banier op 'n kaal berg; roep hulle hardop toe, wink met die hand,
dat hulle kan intrek deur die poorte van die edeles.
3 Ek self het my geheiligdes ontbied; ook het Ek my helde tot my toorn geroep,
my manne wat jubel in trotsheid.
4 Hoor, 'n gedruis op die berge soos van baie mense! Hoor, 'n rumoer van die
koninkryke, van versamelde nasies! Die HERE van die leërskare hou wapenskouing
oor 'n oorlogsleër.
5 Hulle kom uit 'n ver land, van die einde van die hemel af, die HERE en die
werktuie van sy grimmigheid, om die hele aarde te verwoes.
6 Huil julle, want die dag van die HERE is naby; hy kom as 'n verwoesting van
die Almagtige.
7 Daarom word al die hande slap, en elke mensehart versmelt;
8 en hulle is verskrik, kry krampe en weë; hulle krimp inmekaar soos een wat
baar; die een kyk die ander verbaas aan; hulle gesigte is vlammende gesigte.
9 Kyk, die dag van die HERE kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om
die aarde 'n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg.
10 Want die sterre van die hemel en sy Oríons sal hulle lig nie laat skyn nie;
die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie.
11 En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle
ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die
hoogmoed van tiranne verneder.
12 En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir.
13 Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met
gebeef, vanweë die grimmigheid van die HERE van die leërskare en vanweë die dag
van sy toorngloed.
14 En soos 'n gemsbok wat gejaag word, en soos kleinvee wat niemand bymekaar
maak nie, sal hulle elkeen draai na sy volk toe en elkeen vlug na sy land toe.
15 Elkeen wat gevind word, word deurboor; en elkeen wat gegryp word, val deur
die swaard.
16 En hulle kinders word voor hul oë verpletter, hul huise geplunder en hul
vroue onteer.
17 Kyk, Ek verwek die Meders teen hulle, wat silwer nie ag nie en in goud geen
behae het nie.
18 Maar hulle boë sal die seuns neerwerp, en hulle sal hul nie ontferm oor die
vrug van die moederskoot nie; hulle oog sal die kinders nie verskoon nie.
19 So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van
die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het.
20 Mense sal daar in ewigheid nie woon nie, en dit sal van geslag tot geslag nie
bewoon word nie; en die Arabier sal daar geen tent opslaan nie, en geen herders
sal hulle vee daar laat lê en rus nie.
21 Maar daar sal boskatte lê, en hulle huise sal vol uile wees; en volstruise
sal daar hou, en veldduiwels daar rondspring.
22 En wildehonde sal huil in sy kastele en jakkalse in die vreugdepaleise; en
naby is sy tyd om te kom, en sy dae sal nie verskuif word nie.
14
1 Want die HERE sal Hom oor Jakob ontferm, en Hy sal Israel nog verkies en hulle
in hul land laat vestig; en die vreemdeling sal hom by hulle voeg, en hulle sal
hul aansluit by die huis van Jakob.
2 En die volke sal hulle neem en op hul woonplek bring; en die huis van Israel
sal hulle in die land van die HERE as besitting verwerwe, as slawe en slavinne;
en hulle sal dié gevange hou wat hulle as gevangenes weggevoer het, en oor hulle
drywers heers.
3 En op die dag as die HERE jou rus gee van jou smart en van jou onrus en van
die harde diensbaarheid waarmee hulle jou laat dien het,
4 dan sal jy hierdie spotlied aanhef oor die koning van Babel en sê: Hoe het die
drywer nou opgehou, opgehou die verdrukking!
5 Die HERE het die stok van die goddelose verbreek, die staf van die heersers,
6 wat die volke verwoes het in grimmigheid met slaan sonder ophou, wat in toorn
oor die nasies geheers het met 'n agtervolging sonder verskoning.
7 Die hele aarde rus, is stil; hulle breek uit in jubel.
8 Ook is die sipresse bly oor jou, die seders van die Líbanon, en hulle sê:
Vandat jy daar lê, klim niemand na ons toe op om ons af te kap nie.
9 Die doderyk daaronder is in beroering om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit
wek om jou ontwil die skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die
konings van die nasies van hulle trone opstaan.
10 Hulle hef almal aan en sê vir jou: Ook jy het kragteloos geword soos ons; jy
het soos ons geword.
11 Jou trots is neergewerp in die doderyk, die geruis van jou harpe; onder jou
is wurms as 'n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking.
12 Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy
teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!
13 En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo
die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die
Noorde.
14 Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!
15 Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die
kuil!
16 Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die
aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het?
17 Die wêreld soos 'n woestyn gemaak en sy stede verwoes het, wat sy gevangenes
nie losgelaat het huis toe nie?
18 Al die konings van die nasies, hulle almal rus met eer, elkeen in sy huis;
19 maar jy is gewerp, ver van jou graf, soos 'n afskuwelike uitspruitsel, oordek
met die wat verslaan is, wat deurboor is met die swaard, wat neerdaal na die
klippe van die grafkuil soos vertrapte aas.
20 Jy word nie met hulle in die graf verenig nie, want jy het jou land verwoes,
jou volk gedood; die nageslag van die kwaaddoeners word vir ewig nie genoem nie.
21 Maak 'n slagbank gereed vir sy seuns, om die ongeregtigheid van hulle vaders
ontwil, dat hulle nie opstaan en die aarde in besit neem en die bodem van die
wêreld vol stede maak nie.
22 So sal Ek dan teen hulle opstaan, spreek die HERE van die leërskare, en van
Babel uitroei die naam en die oorblyfsel, kroos en nageslag, spreek die HERE.
23 En Ek sal dit 'n besitting maak van krimpvarkies en tot waterplasse; en Ek
sal dit wegvee met die besem van verdelging, spreek die HERE van die leërskare.
24 Die HERE van die leërskare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het,
so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand:
25 om Assur te verbreek in my land, en op my berge sal Ek hom vertrap, sodat sy
juk van hulle kan afgly en sy las van hulle skouer kan wyk.
26 Dit is die besluit wat geneem is oor die hele aarde, en dit is die hand wat
uitgestrek is oor al die nasies;
27 want die HERE van die leërskare het dit besluit--wie sal dit kan verydel? En
sy hand is uitgestrek--wie sal dit kan afkeer?
28 In die sterfjaar van koning Agas het hierdie Godspraak uitgegaan.
29 Wees nie bly, o ganse land van die Filistyne, dat die roede verbreek is wat
jou geslaan het nie; want uit die wortel van die slang sal 'n basilisk voortkom,
en sy vrug sal 'n vlieënde draak wees.
30 En die eersgeborenes van die armes sal wei, en die behoeftiges sal veilig lê
en rus; maar jou wortel sal Ek deur honger laat sterwe, en jou oorblyfsel sal hy
doodmaak.
31 Huil, o poort! Skreeu, o stad! Bewe, o ganse land van die Filistyne! Want uit
die noorde kom rook, en daar is geen afswerwer onder sy skare nie.
32 Wat sal hulle dan die boodskappers van die nasie antwoord? Dat die HERE Sion
gegrondves het, en dat die ellendiges van sy volk daarin sal skuil.
15
1 Godspraak oor Moab. Waarlik, in die nag is Ar-Moab verwoes, vernietig!
Waarlik, in die nag is Kir-Moab verwoes, vernietig!
2 Hulle gaan op na die tempel, en Dibon na die hoogtes om te ween; Moab huil op
Nebo en in Medéba; op al hulle hoofde is 'n kaalte, elke baard is afgeskeer.
3 Op hul strate het hulle rouklere aangegord; op hulle dakke en op hulle pleine
huil alles en smelt weg in geween.
4 Hesbon en Eleále skreeu, hulle stem word gehoor tot Jahas toe; daarom hef die
gewapende manne van Moab 'n angsgeskreeu aan, sy siel sidder.
5 My hart skreeu oor Moab, sy vlugtelinge kom tot by Soar, Eglat-Selisia. Want
die hoogte van Luhit beklim hulle met geween; ja, op pad na Horonáim laat hulle
'n geskreeu van verwoesting weerklink;
6 want die waters van Nimrim word 'n woesteny, ja, die gras is verdor, die
grasspruitjies het vergaan, daar is geen groenigheid nie.
7 Daarom gaan hulle die oorwins wat hulle gemaak het, en hulle voorraad, oor die
Wilgerspruit dra.
8 Want die geskreeu gaan rond in die grondgebied van Moab, sy gehuil tot by
Eglaim en sy gehuil tot by Beër-Elim.
9 Want die waters van Dimon is vol bloed; want Ek sal oor Dimon nog meer bring,
'n leeu oor dié van Moab wat ontvlug het, en oor die oorblyfsel van die land.
16
1 Stuur die lammers van die regeerder van die land uit die rotsstreek weg na die
woestyn, na die berg van die dogter van Sion.
2 En soos voëls wat vlug, 'n nes wat verjaag is, sal die dogters van Moab wees
by die driwwe van die Arnon.
3 Gee raad, gee beslissing, maak jou skaduwee soos die nag op die volle middag,
verberg die wat verdryf is, verraai die vlugteling nie!
4 Laat my mense wat verdryf is, by jou vertoef! Aangaande Moab, wees vir hulle
'n skuilplek vanweë die verwoester. Want gedaan is die verdrukker, klaar is dit
met die verwoesting, weg is die vertrappers uit die land!
5 En opgerig is deur goedgunstigheid 'n troon, en daarop sit een in getrouheid
in Dawid se tent, 'n regter wat die reg soek en gou is in geregtigheid.
6 Ons het gehoor van die trotsheid van Moab--hy is baie trots! --van sy hoogmoed
en sy trotsheid en sy grimmigheid, sy onbehoorlike grootpratery.
7 Daarom sal Moab oor Moab huil, almal saam huil; oor die druiwekoeke van
Kir-Haréset sal julle sug, heeltemal verslae.
8 Want die wingerde van Hesbon het verwelk; die wingerdstok van Sibma--sy edele
druiwe het die beheersers van die nasies neergewerp; dit het gekom tot by
Jaéser, dit het in die woestyn ingedwaal; sy ranke het uitgesprei, het oor die
see gegaan.
9 Daarom beween ek die wingerdstok van Sibma met die geween van Jaéser; ek maak
jou nat met my trane, Hesbon en Eleále, omdat die vreugdegeroep jou somervrugte
en jou oes oorval het,
10 en vreugde en gejuig weggeneem is uit die vrugteboord, en in die wingerde nie
gejubel of gejuig word nie; die druiwetrapper trap geen wyn in die parskuipe
nie; Ek het die vreugdegeroep laat ophou.
11 Daarom klaag my ingewande oor Moab soos 'n siter, en my binneste oor
Kir-Heres.
12 En as Moab verskyn, as hy hom vermoei op die hoogte en in sy heiligdom ingaan
om te aanbid, dan sal hy niks uitrig nie.
13 Dit is die woord wat die HERE tevore teen Moab gespreek het.
14 En nou spreek die HERE en sê: Binne drie jaar--soos die jare van 'n
dagloner--sal die heerlikheid van Moab veragtelik gemaak word saam met die hele
groot menigte; en die oorblyfsel sal min, gering, onmagtig wees.
17
1 Godspraak oor Damaskus. Kyk, Damaskus word weggeneem, sodat dit geen stad meer
is nie, maar dit sal 'n vervalle puinhoop word.
2 Die stede Aroër sal verlate wees; vir die troppe vee sal hulle wees wat daar
sal lê sonder dat iemand hulle skrikmaak.
3 En die vesting sal verdwyn uit Efraim, en die koningskap uit Damaskus; en met
die oorblyfsel van Aram sal dit gaan soos met die heerlikheid van die kinders
van Israel, spreek die HERE van die leërskare.
4 En in dié dag sal die heerlikheid van Jakob gering word, en die vet van sy
vlees sal wegteer.
5 En dit sal wees soos wanneer die maaier die ongesnyde graan bymekaarvat en sy
arm die are afmaai; ja, dit sal wees soos wanneer iemand are optel in die dal
Refaim.
6 Maar 'n na-oes sal daarin oorbly soos by die afslaan van die olywe: twee, drie
vruggies bo in die top; vier, vyf in die takke van die vrugteboom, spreek die
HERE, die God van Israel.
7 In dié dag sal die mens kyk na sy Maker, en sy oë sal sien op die Heilige van
Israel;
8 en hy sal nie kyk na die altare nie, die werk van sy hande; en wat sy vingers
gemaak het, sal hy nie aansien nie: die heilige boomstamme en die sonpilare.
9 In dié dag sal die stede wat sy toevlug was, wees soos die bouvalle van die
bos en van die bergtop wat verlaat is vanweë die kinders van Israel, en dit sal
'n wildernis wees.
10 Want jy het vergeet die God van jou heil en nie gedink aan die rots wat jou
toevlug was nie. Daarom lê jy lieflike tuine aan en beplant dit met uitlandse
wingerdstokke;
11 die dag as jy plant, laat jy dit groei, en in die môre laat jy jou saad
uitspruit; maar dit sal wees 'n hoop geoeste graan op die dag van krankheid en
ongeneeslike smart.
12 Wee die gebruis van baie volke--soos die gebruis van die see, so bruis hulle!
En die gedruis van nasies--soos die gedruis van geweldige waters, so maak hulle
gedruis!
13 Nasies maak gedruis soos die gedruis van baie waters; maar Hy dreig hulle, en
hulle vlug ver weg en word gejaag soos kaf van die berge voor die wind en soos
strooi voor die stormwind.
14 In die aand--daar is verskrikking! Voordat dit môre word, is hulle nie meer
nie. Dit is die deel van hulle wat ons plunder, en die lot van hulle wat ons
beroof.
18
1 Wee die land van vlerkgegons wat anderkant die riviere van Kus lê;
2 wat boodskappers stuur oor die groot water en in skuite van biesies oor die
waters! Gaan weg, vinnige boodskappers, na die hoog uitgegroeide nasie met die
blink vel, na die wyd en syd gevreesde volk, die nasie gewoond om te gebied en
te vertrap, wie se land deur riviere deursny word.
3 Al julle bewoners van die wêreld en bewoners van die aarde, as 'n banier
opgehef word op die berge, kyk! En as die basuin geblaas word, luister!
4 Want so het die HERE vir my gesê: Ek wag rustig en aanskou uit my woonplek,
soos glinsterende hitte bo die sonlig, soos 'n douwolk in die hitte van die
oestyd.
5 Want voor die oes, as die bloeisel volgroeid is en die blom 'n ryp
druiwekorrel word, sal Hy die ranke afsny met snoeimesse en die lote wegkap;
6 hulle word almal saam oorgegee aan die roofvoëls van die berge en aan die
wilde diere van die aarde; en die roofvoëls sal daarop die somer deurbring, en
al die wilde diere van die aarde sal daarop oorwinter.
7 In dié tyd sal aan die HERE van die leërskare geskenke gebring word van die
hoog uitgegroeide volk met die blink vel en van die wyd en syd gevreesde volk,
die nasie gewoond om te gebied en te vertrap, wie se land deur riviere deursny
word, na die plek van die Naam van die HERE van die leërskare, na die berg Sion.
19
1 Godspraak oor Egipte. Kyk, die HERE ry op 'n vinnige wolk en kom na Egipte
toe; en die afgode van Egipte wankel voor sy aangesig, en die hart van Egipte
smelt in sy binneste.
2 En Ek sal Egipte teen Egipte ophits, sodat hulle sal veg, elkeen teen sy broer
en elkeen teen sy naaste, stad teen stad, koninkryk teen koninkryk.
3 En die gees van Egipte sal radeloos word in sy binneste, en sy planne sal Ek
verwar; dan raadpleeg hulle die afgode en die besweerders en die geeste van
afgestorwenes en die geeste wat waarsê.
4 En Ek sal Egipte oorgee in die hand van 'n harde meester, en 'n strenge koning
sal oor hulle heers, spreek die Here HERE van die leërskare.
5 En die waters sal uit die groot waterplas verdwyn, en die rivier sal uitdroog
en droog lê.
6 En die strome sal stink; die strome van Egipte sal swak word en uitdroog; riet
en biesies sal verwelk.
7 Die weivelde by die Nyl, by die mond van die Nyl, en elke saailand van die Nyl
sal verdor, verwaai en nie meer wees nie.
8 En die vissers sal klaag, en almal wat hoeke in die Nyl uitgooi, rou bedrywe;
en die wat visnette uitsprei oor die waters, sal verkwyn.
9 En die bewerkers van uitgekamde vlas staan beskaamd, en die wewers van wit
stowwe.
10 En sy steunpilare word verbrysel; almal wat vir loon werk, sielsbedroef.
11 Die vorste van Soan is net dwase, die raad van Farao se slimste raadgewers
het domheid geword. Hoe kan julle vir Farao sê: Ek is 'n seun van die wyse
manne, 'n seun van die konings uit die voortyd?
12 Waar is hulle dan, jou wyse manne? Laat hulle jou tog te kenne gee, dat 'n
mens kan weet wat die HERE van die leërskare oor Egipte besluit het.
13 Die vorste van Soan het dwase geword, die vorste van Nof is bedroë; Egipte is
op 'n dwaalweg gebring deur hulle wat die hoeksteen van die stamme is.
14 Die HERE het daarin 'n gees van bedwelming gegiet, en Egipte is op 'n
dwaalweg gebring in al sy werk, soos 'n dronkaard tuimel in sy uitbraaksel.
15 So is daar dan vir Egipte geen werk wat gedoen word deur kop of stert,
palmtak of biesie nie.
16 In dié dag sal die Egiptenaars wees soos die vroue: hulle sal bewe en vrees
vir die handgeswaai van die HERE van die leërskare wat Hy teen hulle swaai.
17 En die land Juda sal vir die Egiptenaars 'n skrik wees: as iemand daarvan
melding maak by hulle, bewe hulle vanweë die besluit van die HERE van die
leërskare wat Hy teen hulle geneem het.
18 In dié dag sal daar vyf stede in Egipteland wees wat die taal van Kanaän
spreek en by die HERE van die leërskare sweer; een sal genoem word: Stad van
verwoesting.
19 In dié dag sal daar 'n altaar wees vir die HERE binne-in Egipteland en 'n
gedenksteen vir die HERE by die grens.
20 En dit sal wees 'n teken en 'n getuie vir die HERE van die leërskare in
Egipteland; as hulle die HERE aanroep vanweë die verdrukkers, sal Hy aan hulle
'n redder stuur en 'n stryder wat hulle sal verlos.
21 En die HERE sal Hom aan die Egiptenaars bekend maak, en die Egiptenaars sal
die HERE ken in dié dag; en hulle sal Hom dien met slagoffers en spysoffers en
geloftes doen aan die HERE en dit betaal.
22 En die HERE sal die Egiptenaars slaan, slaan en genees; en hulle sal hul tot
die HERE bekeer, en Hy sal hulle verhoor en hulle genees.
23 In dié dag sal daar 'n grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal
in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die HERE
dien.
24 In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, 'n seën in die
midde van die aarde,
25 omdat die HERE van die leërskare hom geseën het, met die woorde: Geseënd is
my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!
20
1 In die jaar toe die tartan na Asdod gekom het, toe Sargon, die koning van
Assirië, hom gestuur het, en hy teen Asdod geveg en dit ingeneem het;
2 in dié tyd het die HERE deur die diens van Jesaja, die seun van Amos, gespreek
en gesê: Gaan gord die haarmantel van jou heupe af los, en trek jou skoene van
jou voete af. Hy het toe so gedoen en naak en kaalvoet geloop.
3 Daarop het die HERE gesê: Soos my kneg Jesaja naak en kaalvoet geloop het,
drie jaar lank, as teken en sinnebeeld met betrekking tot Egipte en Kus,
4 so sal die koning van Assirië die gevangenes van Egipte en die ballinge van
Kus wegdrywe, jonk en oud, naak en kaalvoet en ontbloot aan die agterdele--'n
smaad vir Egipte.
5 En hulle sal verslae wees en beskaamd staan vanweë Kus, hulle toeverlaat, en
vanweë Egipte, hulle trots.
6 En die inwoners van hierdie kusland sal in dié dag sê: Kyk, só gaan dit met
ons toeverlaat waarheen ons gevlug het om hulp, om gered te word van die koning
van Assirië--hoe sal óns dan ontvlug?
21
1 Godspraak oor die woestyn van die see. Soos stormwinde in die Suidland
deurtrek, kom dit uit die woestyn, uit 'n vreeslike land!
2 'n Harde gesig is my te kenne gegee: Die ontroue handel troueloos, en die
verwoester verwoes. Trek op, Elam! Beleër, Médië! Aan alle gesug maak Ek 'n
einde.
3 Daarom is my heupe vol siddering, weë het my aangegryp soos die weë van een
wat baar; ek buig my krom, sodat ek nie hoor nie; ek is verskrik, sodat ek nie
sien nie.
4 My hart duisel, angs oorval my; dit maak vir my die skemeraand wat ek liefhet,
tot 'n verskrikking.
5 Hulle maak die tafel gereed, hulle sprei die tapyt, hulle eet, drink.... Staan
op, o vorste, salf die skild!
6 Want so het die Here vir my gesê: Gaan heen, sit 'n wag uit; laat hom te kenne
gee wat hy sien;
7 en sien hy 'n stoet ruiters, twee aan twee, 'n stoet esels, 'n stoet kamele,
dan moet hy skerp luister, so skerp as hy kan.
8 En hy het geroep soos 'n leeu. Op die wagtoring, Here, staan ek gedurig by
dag, en op my wagpos stel ek my al die nagte.
9 En kyk, daar kom 'n stoet manne, ruiters twee aan twee. Toe het hy aangehef en
gesê: Geval, geval het Babel, en hulle het al die gesnede beelde van sy gode
verbrysel teen die grond.
10 o My vertrapte en gedorste volk, wat ek gehoor het van die HERE van die
leërskare, die God van Israel, het ek julle bekend gemaak.
11 Godspraak oor Duma. Daar roep een my toe van Seïr af: Wagter, hoe ver is dit
in die nag? Wagter, hoe ver in die nag?
12 Die wagter sê: Die môre kom, en ook die nag. Wil julle vra, vra; keer terug,
kom.
13 Godspraak teen Arabië. In die bos in Arabië moet julle vernag, karavane van
die Dedaniete!
14 Bring vir die dorstige water tegemoet! Die inwoners van die land Tema het die
vlugteling met brood teëgekom.
15 Want hulle het gevlug vir swaarde, vir die swaard wat uitgetrek en vir die
boog wat gespan is, en vir die druk van die oorlog.
16 Want so het die Here vir my gesê: Binne 'n jaar--soos die jare van 'n
dagloner--sal al die heerlikheid van Kedar verdwyn.
17 En wat oorbly van die getal boë van die Kedareense helde, sal min wees; want
die HERE, die God van Israel, het dit gespreek.
22
1 Godspraak oor die dal van die gesig. Wat is dit dan met jou dat jy, jou hele
bevolking, op die dakke geklim het,
2 rumoerige, woelige stad, uitgelate vesting? Die wat in jou verslaan is, is nie
deur die swaard verslaan en het nie in die oorlog gesterwe nie.
3 Al jou owerstes het almal saam gevlug, sonder boog is hulle gebind; almal wat
in jou gegryp is, is almal saam gebind; hulle het ver weggevlug.
4 Daarom sê ek: Kyk weg van my af, dat ek bitterlik kan ween; dring nie aan om
my te troos oor die verwoesting van die dogter van my volk nie;
5 want dit is 'n dag van rumoer en vertrapping en verwarring deur die Here, die
HERE van die leërskare, in die dal van die gesig--omgooi van mure en geskreeu na
die gebergte toe!
6 En Elam het die pylkoker geneem, met waens, manskappe, ruiters; en Kir het die
skild ontbloot.
7 Dan word jou beste dale met strydwaens gevul, en die ruiters staan gereed in
die rigting van die poort;
8 en die beskutting van Juda word weggeneem. En in dié dag kyk jy na die wapens
in die Huis van die Bos,
9 en julle sien die skeure van die stad van Dawid, dat hulle baie is, en julle
vang die waters van die Onderste Dam op.
10 En julle tel die huise van Jerusalem, en die huise breek julle af om die muur
te versterk.
11 En julle maak 'n dam tussen die twee mure vir die water van die Ou Dam; maar
julle kyk nie na Hom wat dit gedoen het nie, en Hom wat dit lankal beskik het,
sien julle nie.
12 En in dié dag roep die Here, die HERE van die leërskare, tot geween en tot
rouklag en tot kaalskering en tot omgording van die roukleed;
13 maar kyk, daar is vreugde en vrolikheid, beeste word doodgemaak en skape
geslag, vleis geëet en wyn gedrink, met die woorde: Laat ons eet en drink, want
môre sterf ons.
14 Maar die HERE van die leërskare het Hom in my ore geopenbaar en gesê:
Waarlik, hierdie ongeregtigheid word vir julle nie versoen totdat julle sterwe
nie! sê die Here, die HERE van die leërskare.
15 So sê die Here, die HERE van die leërskare: Kom, gaan in by daardie
bestuurder, by Sebna, wat oor die paleis aangestel is, en sê:
16 Wat het jy hier, en wie het jy hier, dat jy vir jou hier 'n graf uitgekap het
soos een wat in die hoogte sy graf uitkap, wat in die rots vir hom 'n woning
uithol?
17 Kyk, die HERE sal jou wegslinger, soos 'n man iets wegslinger, en jou vas
inmekaar rol,
18 jou vas inmekaar draai soos 'n tol garing, jou soos 'n bal wegslinger na 'n
land wat alkante toe wyd is; daar sal jy sterwe, en daar sal jou pronkwaens
wees, o skandvlek van die huis van jou heer!
19 En Ek sal jou wegstoot uit jou pos, en uit jou plek sal Hy jou wegruk.
20 En in dié dag sal Ek my kneg Éljakim, die seun van Hilkía, roep;
21 en Ek sal hom jou gewaad aantrek en hom gord met jou gordel, en jou mag sal
Ek in sy hand lê, en hy sal vir die inwoners van Jerusalem en vir die huis van
Juda 'n vader wees.
22 En Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê; en hy sal
oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie.
23 En Ek sal hom inslaan soos 'n pen in 'n vaste plek, en hy sal 'n eretroon
wees vir die huis van sy vader.
24 En hulle sal aan hom ophang die hele swaarte van die huis van sy vader, die
spruite en die wilde lote, al die klein huisraad, van komme af tot allerhande
kruike toe.
25 In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal die pen padgee wat in 'n
vaste plek ingeslaan is: dit word afgebreek en val, en die drag goed wat daaraan
hang, raak tot niet, want die HERE het dit gespreek.
23
1 Godspraak oor Tirus. Huil, skepe van Tarsis! want dit is verwoes, sodat daar
geen huis, geen terugkeer meer is nie. Uit die land van die Kittiërs het dit aan
hulle openbaar geword.
2 Staan verstom, inwoners van die kusland! Die koopmans van Sidon wat oor die
see vaar, het jou vroeër gevul.
3 En op groot waters is die saad van Sigor, die oes van die Nyl, in hom
ingebring; en so het hy 'n handelswins vir die nasies geword.
4 Staan beskaamd, Sidon, want die see, die vesting van die see, spreek en sê: Ek
het geen weë gehad en nie gebaar nie, en ek het geen jongmanne grootgemaak of
jongedogters opgevoed nie.
5 As die tyding na Egipte kom, beef hulle daar van angs by die tyding aangaande
Tirus.
6 Vaar na Tarsis oor, huil, inwoners van die kusland!
7 Is dít julle uitgelate stad wat in die dae van die voortyd sy oorsprong het,
wie se voete hom ver weggedra het om in vreemde lande te vertoef?
8 Wie het dit besluit oor Tirus, die uitdeler van krone, wie se koopmans vorste,
wie se handelaars die edeles van die aarde was?
9 Die HERE van die leërskare het dit besluit, om te ontheilig al die pralende
trots, om die edeles van die aarde in veragting te bring.
10 Stroom oor jou land soos die Nyl, dogter van Tarsis! Daar is geen gordel meer
wat hinder nie.
11 Hy het sy hand uitgestrek oor die see, koninkryke laat sidder! Die HERE het
bevel gegee met betrekking tot Kanaän, dat sy vestings verwoes moet word.
12 En Hy het gesê: Jy sal verder nie meer uitgelate wees nie, o onteerde
jonkvrou, dogter van Sidon! Maak jou klaar, vaar oor na die Kittiërs toe; ook
daar sal jy geen rus hê nie.
13 Kyk, die land van die Chaldeërs--dit is die volk wat tot niet gegaan het:
Assur het dit bestem vir die woestyndiere, het sy wagtorings daarteen opgerig,
het die paleise daarvan verwoes, het dit 'n puinhoop gemaak.
14 Huil, skepe van Tarsis, want julle vesting is verwoes!
15 En in dié dag sal Tirus vergeet word, sewentig jaar lank, soos die dae van
een koning. Aan die einde van sewentig jaar sal dit met Tirus gaan volgens die
hoerelied:
16 Neem die siter, gaan rond in die stad, vergete hoer! Speel mooi, sing baie,
dat hulle aan jou kan dink.
17 En aan die einde van sewentig jaar sal die HERE op Tirus ag gee, en sy sal
terugkeer na haar hoereloon en hoereer met al die koninkryke van die aarde wat
op die aardbodem is.
18 Maar haar handelswins en haar hoereloon sal aan die HERE heilig wees; dit sal
nie opgehoop of weggesit word nie; maar haar wins sal wees vir die wat voor die
aangesig van die HERE woon, om te eet tot versadiging en vir pragtige klere.
24
1 Kyk, die HERE maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om
en verstrooi sy bewoners.
2 Dieselfde lot tref die volk en die priester, die slaaf en sy heer, die slavin
en haar meesteres, die koper en die verkoper, die uitlener en die lener, die
skuldeiser en die skuldenaar.
3 Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die HERE het
hierdie woord gespreek.
4 Die aarde treur, dit verwelk; die wêreld versmag, dit verwelk; en die hoogstes
van die mense van die aarde versmag.
5 Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette
oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek.
6 Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die
bewoners van die aarde deur 'n gloed verteer en bly daar min mense oor.
7 Die mos treur, die wingerdstok verwelk, almal wat bly van hart is, sug.
8 Weg is die vreugde van die tamboeryne, die gedruis van die uitgelate mense hou
op, weg is die vreugde van die siter!
9 Hulle drink geen wyn onder gesang nie; die sterk drank smaak bitter vir die
wat dit drink.
10 Verbreek is die verlate vesting; al die huise staan toegesluit, sodat niemand
daar kan inkom nie.
11 Daar is 'n gejammer oor wyn op die strate; al die vrolikheid het ondergegaan,
die vreugde van die aarde is verban.
12 Wat in die stad oorgebly het, is verwoesting; en die poort is tot 'n puinhoop
stukkend geslaan.
13 Want so sal dit wees op die aarde, onder die volke, soos by die afslaan van
die olywe, soos by die na-oes as die druiwe-oes verby is.
14 Hulle daar hef hul stem op, hulle jubel; vanweë die majesteit van die HERE
juig hulle van die see af:
15 Daarom, eer die HERE in die lande van die son, op die kuslande van die see
die Naam van die HERE, die God van Israel!
16 Van die einde van die aarde af hoor ons lofgesange: Glorie aan die
regverdige! Maar ek sê: Ek teer weg, ek teer weg, wee my! Die ontroues handel
troueloos, en in troueloosheid handel die ontroues troueloos.
17 Die skrik en die kuil en die strik oor jou, o bewoner van die aarde!
18 En hy wat vlug vir die skrikgeroep, val in die kuil; en hy wat uit die kuil
uitklim, word in die strik gevang. Want die sluise uit die hoogte het oopgegaan,
en die fondamente van die aarde bewe.
19 Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel,
die aarde word geheel en al geskud.
20 Die aarde waggel geheel en al soos 'n dronkaard en swaai heen en weer soos 'n
naghut; en sy oortreding is swaar op hom; en hy sal val en nie weer opstaan nie.
21 En in dié dag sal die HERE besoeking doen oor die leërskare van die hoogte in
die hoogte en oor die konings van die aarde op die aarde;
22 en hulle sal opgesluit word soos gevangenes opgesluit word in 'n kuil en
bewaar word in 'n kerker; maar ná baie dae sal daar op hulle ag gegee word.
23 En die maan sal rooi word van skaamte, en die son sal skaam wees; want die
HERE van die leërskare sal regeer op die berg Sion en in Jerusalem, en voor sy
oudstes sal daar heerlikheid wees.
25
1 HERE, U is my God! U sal ek verhoog; u Naam sal ek loof; want U het wonders
gedoen, raadsbesluite uit ver tye, waarheid en trou.
2 Want U het van 'n stad 'n hoop klippe gemaak, van 'n versterkte vesting 'n
puinhoop; 'n paleis van vreemdes, dat dit geen stad meer is nie; vir ewig sal
dit nie herbou word nie.
3 Daarom sal 'n magtige volk U eer, die vesting van tirannieke nasies U vrees.
4 Want U was 'n vesting vir die arme, 'n vesting vir die behoeftige toe hy
benoud was; 'n skuilplek teen die stortreën, 'n skaduwee teen die hitte--want
die geblaas van die tiranne is soos 'n stortreën teen 'n muur.
5 Soos hitte in 'n dor land het U die rumoer van vreemdes gedemp, soos hitte
deur die skaduwee van 'n wolk; die triomfsang van die tiranne moes verstom.
6 En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei 'n
maaltyd van vetspyse, 'n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van
gesuiwerde ou wyn.
7 En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke
omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is.
8 Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle
aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem;
want die HERE het dit gespreek.
9 En hulle sal in dié dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy
ons kan verlos; dit is die HERE op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees
oor sy hulp.
10 Want die hand van die HERE sal rus op hierdie berg; maar Moab sal vertrap
word op sy plek soos strooi vertrap word in die water van 'n miskuil.
11 En as hy sy hande daarin uitsprei soos 'n swemmer dit uitsprei om te swem,
dan sal Hy sy trotsheid afdruk tegelyk met die kunsgrepe van sy hande.
12 En die steil versterkings van jou mure werp Hy neer, gooi Hy af, laat Hy kom
tot op die grond, tot in die stof.
26
1 In dié dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: 'n Sterk stad het
ons; God stel heil tot mure en skanse.
2 Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar!
3 U sal 'n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op
U.
4 Vertrou op die HERE vir ewig, want in die Here HERE is 'n ewige rots.
5 Want Hy het die bewoners van die hoogte neergewerp, die steil vesting; Hy het
dit afgegooi, afgegooi tot by die grond, dit laat kom tot in die stof.
6 Die voet vertrap dit, die voete van die ellendige, die voetstappe van die
armes.
7 Die pad van die regverdige is gelyk; U maak die spoor van die regverdige
gelyk.
8 Ook in die weg van u oordele het ons U verwag, o HERE! Tot u Naam en tot u
gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit.
9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U;
want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld
geregtigheid.
10 Word aan die goddelose genade bewys, dan leer hy geen geregtigheid nie; wat
onreg is, doen hy in 'n land van reg, en hy sien die hoogheid van die HERE nie.
11 HERE, is u hand opgehef, hulle sien dit nie; maar hulle sal dit sien en
beskaamd staan; die ywer vir die volk, ook die vuur teen u teëstanders sal hulle
verteer.
12 HERE, U sal vir ons vrede beskik, want U het ook al ons werk vir ons
volbring.
13 HERE, onse God, ander here buiten U het oor ons geheers, maar deur U alleen
prys ons ú Naam.
14 Dooie mense herlewe nie, skimme staan nie op nie; daarom het U hulle besoek
en verdelg en alle gedagtenis aan hulle laat vergaan.
15 U het, o HERE, die nasie vermeerder; U het die nasie vermeerder, Uself
verheerlik; U het al die grense van die land uitgebrei.
16 HERE, in benoudheid het hulle U gesoek; hulle het stille gebede uitgegiet toe
u tugtiging hulle getref het.
17 Soos 'n bevrugte vrou wat naby die tyd kom dat sy moet baar, inmekaar krimp,
skreeu in haar weë, so was ons vanweë u aangesig, o HERE!
18 Ons was swanger, het weë gehad--dit was asof ons wind gebaar het; ons het die
land geen redding aangebring nie, en daar is geen wêreldbewoners gebore nie.
19 U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die
stof woon! Want u dou is 'n dou van die lig, en die aarde sal aan skimme die
lewenslig skenk.
20 Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe,
verberg jou vir 'n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan.
21 Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die
bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar
maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek
nie.
27
1 In dié dag sal die HERE met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen
oor die Leviátan, die vinnige slang, en oor die Leviátan, die kronkelende slang;
en Hy sal die draak doodmaak wat in die groot water is.
2 In dié dag sal daar wees 'n wingerd van skuimende wyn--sing daarvan!
3 Ek, die HERE, bewaak dit: elke oomblik sal Ek hom bevogtig; Ek sal hom nag en
dag bewaak, sodat niks hom kan tref nie.
4 Geen grimmigheid is by My nie. Kry Ek doring of distel, in oorlog sou Ek
daarop aanval, dit alles saam verbrand.
5 Of hulle moet my beskutting aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak.
6 In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat
hulle die wêreld vol vrugte sal maak.
7 Het Hy hom geslaan met die slag wat sy teëstander getref het? Of is hy gedood
met 'n slagting soos die wat deur Hom gedood is?
8 Met mate het U met hom afgereken toe U hom verstoot het; Hy het hom verdrywe
met sy geweldige wind op die dag van die oostewind.
9 Daarom sal hiermee die skuld van Jakob versoen word, en dit is die volle vrug
van die wegneming van sy sonde: as hy al die altaarklippe maak soos verbryselde
kalkklippe, die heilige boomstamme en die sonpilare nie meer oprys nie.
10 Want die versterkte stad is eensaam, 'n woning wat ontvolk en verlate is soos
die woestyn; daar wei kalwers en daar lê hulle, en hulle eet sy takke af.
11 As sy takke verdor het, word hulle afgebreek; vroue kom en steek dit aan die
brand; want dit is 'n volk sonder verstand. Daarom sal hulle Maker Hom nie oor
hulle ontferm nie en sal hulle Formeerder aan hulle geen genade bewys nie.
12 En in dié dag sal die HERE vrugte afslaan, van die stroom van die Eufraat af
tot by die spruit van Egipte, en júlle sal ingesamel word, een vir een, o
kinders van Israel!
13 En in dié dag sal daar met 'n groot basuin geblaas word; dan sal kom die wat
verlore is in die land Assur en die wat verdryf is in Egipteland, en hulle sal
die HERE aanbid op die heilige berg in Jerusalem.
28
1 Wee die trotse kroon van die dronkaards van Efraim, en wee die blom wat
verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal van hulle
wat deur die wyn verslaan is.
2 Kyk, die Here het een wat sterk en magtig is, soos 'n haelstorm, 'n storm vol
verwoesting, soos 'n stortbui van geweldige, oorlopende waters wat teen die
grond gooi met krag.
3 Met voete sal vertrap word die trotse kroon van die dronkaards van Efraim;
4 en die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die
vrugbare dal, sal wees soos 'n voorvy voor die vrugte-oes: iemand sien dit
skaars of, terwyl dit nog in sy hand is, sluk hy dit weg.
5 In dié dag sal die HERE van die leërskare wees tot 'n sierlike kroon en 'n
pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk,
6 en tot 'n gees van strafgerig vir hom wat sit oor die gereg, en tot 'n sterkte
vir hulle wat die geveg terugdring na die poort toe.
7 En ook die manne hier wankel deur die wyn en waggel deur sterk drank; priester
en profeet wankel deur sterk drank, hulle is verward van die wyn, hulle waggel
van sterk drank, hulle wankel as hulle gesigte sien, hulle waggel by die
regspraak.
8 Want al die tafels is vol walglike uitbraaksel, sodat daar geen plek is nie.
9 Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar
maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is?
10 Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier
'n bietjie, daar 'n bietjie.
11 Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur 'n vreemde tong met hierdie volk
spreek,
12 Hy wat aan hulle gesê het: Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit
is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie.
13 Daarom sal die woord van die HERE vir hulle wees gebod op gebod, gebod op
gebod, reël op reël, reël op reël, hier 'n bietjie, daar 'n bietjie, sodat hulle
kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word.
14 Daarom, hoor die woord van die HERE, julle spotters, heersers oor hierdie
volk wat in Jerusalem is!
15 Omdat julle sê: Ons het 'n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk
het ons 'n verdrag aangegaan; as die golwende gésel deurtrek, sal hy na ons nie
kom nie; want ons het die leuen ons skuilplek gemaak en ons in bedrog
weggesteek--
16 daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek lê in Sion 'n grondsteen, 'n beproefde
steen, 'n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig
wees nie.
17 En Ek sal die reg tot 'n riglyn maak, en die geregtigheid tot 'n skietlood;
en die hael sal die leuendak wegruk en die water die skuilplek wegspoel.
18 En julle verbond met die dood sal uitgewis word, en julle verdrag met die
doderyk nie standhou nie; as die golwende gésel deurtrek, sal julle deur hom
vertrap word.
19 So dikwels as hy deurtrek, sal hy julle gryp; want môre vir môre sal hy
deurtrek, by dag en by nag. En dit sal net verskrikking wees om so 'n openbaring
te verneem.
20 Want die bed sal te kort wees dat iemand hom daarop kan uitrek, en die
kombers te smal dat iemand hom daarin kan toedraai.
21 Want die HERE sal Hom gereed maak soos by die berg Pérasim; Hy sal aanstorm
soos in die dal by Gíbeon om sy werk te doen--vreemd is sy werk! En om sy daad
te verrig--ongehoord is sy daad!
22 Gedra julle dan nou nie soos spotters, dat julle bande nie vaster word nie;
want ek het van die Here HERE van die leërskare gehoor 'n verdelging wat vas
besluit is, oor die hele aarde.
23 Luister, en hoor na my stem; let op, en hoor my woord!
24 Ploeg die ploeër die hele dag om te saai? Skeur hy sy akker oop, en eg hy die
hele dag?
25 Is dit nie só nie: As hy dit bo-op gelykgemaak het, gooi hy swart komyn uit
en strooi komyn en saai koring in rye en gars in vakke en spelt langs die kant.
26 En sy God het hom onderrig hoe om dit te doen, Hy leer hom.
27 Want swart komyn word nie met die slee gedors nie, en die wawiel word nie oor
komyn gerol nie; maar swart komyn word uitgeslaan met 'n stok en komyn met 'n
hout.
28 Word broodkoring fyngestamp? Nee, nie altyddeur dors hulle dit nie; en al
dryf hulle die wawiel en die perde daaroor--hulle stamp dit nie fyn nie.
29 Ook dit kom van die HERE van die leërskare: Hy is wonderbaar van raad, groot
van beleid.
29
1 Wee Ariël, Ariël, stad waar Dawid laer opgeslaan het! Voeg jaar by jaar; laat
die feeste hulle kringloop volbring--
2 dan sal Ek Ariël benoud maak, en daar sal geklaag en geklag wees, en dit sal
vir My soos Ariël wees.
3 En Ek sal in 'n kring teen jou laer opslaan en jou met wagposte beleër en
skanse teen jou oprig.
4 Dan sal jy diep uit die grond spreek, en op dowwe toon sal jou woord uit die
stof voortkom; en jou stem sal uit die grond opkom soos dié van die gees van 'n
afgestorwene, en uit die stof sal jou woord piep.
5 Maar die menigte van jou vyande sal word soos dun stof, en die menigte van die
tiranne soos kaf wat wegwaai; en dit sal heeltemal onverwags gebeur.
6 Vanweë die HERE van die leërskare sal jy in genade besoek word, met donder en
aardbewing en groot gedruis, wind en storm en die vlam van 'n verterende vuur.
7 En soos 'n droom, 'n naggesig, sal die menigte van al die nasies wees wat
oorlog toe trek teen Ariël, ja, almal wat teen hom oorlog toe trek en teen sy
bergvesting en hom benoud maak.
8 En soos 'n hongerige droom dat hy eet, maar hy word wakker en--sy siel is
leeg; en soos 'n dorstige droom dat hy drink, maar hy word wakker en--hy is moeg
en sy siel versmag: só sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe
trek teen die berg Sion.
9 Vertoef, en verwonder julle! Wees blind en verblind! Hulle is dronk, maar nie
van wyn nie; hulle waggel, maar nie van sterk drank nie.
10 Want die HERE het oor julle uitgegiet 'n gees van diepe slaap, en Hy het
julle oë--die profete--toegesluit en julle hoofde--die sieners--toegebind.
11 So het dan die gesig van al hierdie dinge vir julle geword soos die woorde
van 'n verseëlde boek wat hulle gee aan iemand wat kan lees, met die woorde:
Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie, want dit is verseël.
12 Of hulle gee die boek aan iemand wat nie kan lees nie, met die woorde: Lees
dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie lees nie.
13 En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer
met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My
'n aangeleerde mensegebod is,
14 daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en
wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van
hulle verstandige mense sal wegskuil.
15 Wee hulle wat planne diep verberg vir die HERE, wie se werk in duisternis
plaasvind; en hulle sê: Wie sien ons en wie ken ons?
16 o Julle verkeerdheid! Of moet die pottebakker beskou word as klei, dat die
maaksel van sy maker kan sê: Hy het my nie gemaak nie, en die vormsel van sy
vormer kan sê: Hy het geen verstand nie?
17 Sal dit nie nog 'n baie kort rukkie duur dat die Líbanon in 'n vrugteboord
verander word, en die vrugteboord vir 'n bos gereken word nie?
18 En in dié dag sal die dowes Skrifwoorde hoor, en uit donkerheid en duisternis
sal die oë van die blindes sien.
19 En die ootmoediges sal vreugde op vreugde smaak in die HERE, en die
behoeftiges onder die mense sal juig in die Heilige van Israel.
20 Want gedaan is dit met die tiran, en klaar is dit met die spotter, en
uitgeroei is almal wat op ongeregtigheid bedag is--
21 hulle wat 'n mens as sondaar brandmerk ter wille van 'n woord, en strikke
span vir hom wat vir die reg opkom in die poort, en die regverdige met nietige
voorwendsels wegstoot.
22 Daarom, so sê die HERE tot die huis van Jakob, Hy wat Abraham verlos het:
Jakob sal nou nie meer beskaamd staan nie, en nou sal sy aangesig nie meer bleek
word nie;
23 want as hy, as sy kinders die werk van my hande in sy midde sien, sal hulle
my Naam heilig; ja, hulle sal die Heilige van Jakob heilig en vir die God van
Israel met ontsag vervul wees;
24 en hulle wat dwalende van gees is, sal insig verkry, en die murmureerders sal
lering aanneem.
30
1 Wee die opstandige kinders, spreek die HERE, wat 'n plan uitvoer, maar dit is
nie uit My nie; wat 'n verbond sluit, en dit is nie uit my Gees nie, om sonde op
sonde te stapel;
2 wat gaan om na Egipte af te trek, en hulle raadpleeg my mond nie, om toevlug
te soek onder die beskutting van Farao en om te skuil in die skaduwee van
Egipte.
3 Maar die beskutting van Farao sal julle tot skande wees, en die skuiling in
die skaduwee van Egipte tot smaadheid.
4 Want hulle vorste is in Soan, en hulle boodskappers het in Hanes aangekom;
5 almal staan beskaamd vanweë die volk wat hulle geen voordeel aanbring nie,
geen hulp en geen voordeel nie, maar skande en smaadheid daarby.
6 Godspraak oor die diere van die Suidland. In 'n land van benoudheid en angs,
waar leeuin en leeu uitkom, adder en vlieënde draak, vervoer hulle op die rugge
van esels hul rykdomme en op die bulte van kamele hul skatte, na 'n volk wat
geen voordeel bring nie.
7 En Egipte--nietig en leeg is sy hulp; daarom noem ek dit: Rahab wat stilsit.
8 Gaan nou in, skryf dit op 'n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in
'n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid.
9 Want dit is 'n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet
van die HERE nie wil hoor nie;
10 wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie
wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry;
11 wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons
aangesig verdwyn!
12 Daarom, so sê die Heilige van Israel: Omdat julle hierdie woord verwerp en
vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun,
13 daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos 'n los stuk wat wil val, wat
oorhang in 'n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom.
14 Ja, Hy sal dit verbreek soos die kruik van 'n pottebakker verbreek word, wat
sonder verskoning stukkend geslaan word, sodat by die brokstukke daarvan geen
skerf gevind word om vuur uit die vuurherd te gaan haal of om water uit die kuil
te skep nie.
15 Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê
julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie
16 en het gesê: Nee, maar op perde sal ons vlieg--daarom sal julle moet vlug!
en: Op renperde sal ons ry--daarom sal julle vervolgers laat jaag!
17 Een duisend van julle sal vlug vir die oorlogsgeroep van een enkele, vir die
oorlogsgeroep van vyf, totdat julle oorbly soos 'n vlagpaal op 'n bergtop en
soos 'n banier op 'n heuwel.
18 En daarom sal die HERE met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en
daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die HERE is 'n God
van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag!
19 Want 'n volk sal op Sion, in Jerusalem, woon; jy sal nie meer ween nie;
sekerlik sal Hy jou genade bewys op jou hulpgeroep; sodra Hy hoor, antwoord Hy
jou.
20 Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar
jou leraars sal hulle nie langer verberg nie--maar jou oë sal jou leraars sien;
21 en jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop!
wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.
22 En julle sal verontreinig die oortreksel van jou gesnede beelde van silwer en
die beslag van jou gegote beeld van goud; jy sal dit weggooi soos iets wat
besoedel is. Weg daarmee! sal jy daarvan sê.
23 Dan sal Hy reën gee vir die saad waarmee jy die grond besaai, en broodkoring
wat die grond voortbring, en dit sal smaaklik en voedsaam wees; jou vee sal in
dié dag wei op 'n uitgestrekte weiveld;
24 en die osse en die esels wat die grond bewerk, sal voer met sout eet, wat
uitgewan is met skop en gaffel;
25 en op elke hoë berg en op elke verhewe heuwel sal strome wees, waterlope, op
die dag van die groot slagting as die torings val.
26 En die lig van die maan sal wees soos die lig van die son, en die lig van die
son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag as die HERE die
breuk van sy volk verbind en die wond gesond maak wat aan hulle geslaan is.
27 Kyk, die Naam van die HERE kom van ver af, sy toorn brand, swaar wolke kom
op; sy lippe is vol grimmigheid en sy tong soos 'n verterende vuur,
28 en sy asem soos 'n oorlopende stroom wat tot by die nek kom--om nasies te sif
met 'n sif van vernietiging; en 'n toom wat verkeerd stuur, is in die kakebene
van die volke.
29 Die lied sal by julle wees soos in die nag as die fees gevier word, en julle
sal vrolik wees van hart soos die wat met die fluite loop, om te kom op die berg
van die HERE, na die Steenrots van Israel.
30 En die HERE sal sy stem vol majesteit laat hoor en die neerdaling van sy arm
laat sien, met grimmige toorn en die vlam van 'n verterende vuur, storm en
stortreën en haelkorrels.
31 Want vir die stem van die HERE sal Assur verskrik wees; met die stok sal Hy
slaan,
32 en elke swaai van die roede wat vir hom beskik is, wat die HERE op hom laat
val, sal wees onder begeleiding van tamboeryn en sitermusiek, en met 'n
uitgeswaaide vegtersarm sal Hy teen hulle veg.
33 Want 'n Tofet is van gister af gereedgemaak, ook is dit vir die koning berei;
diep en wyd het Hy die houtstapel daarvan aangelê met vuur en hout in menigte;
die asem van die HERE is soos 'n stroom van swawel wat dit aan die brand steek.
31
1 Wee hulle wat na Egipte aftrek om hulp en hulle verlaat op perde, en wat
vertrou op strydwaens, omdat daar baie is, en op ruiters, omdat hulle baie
talryk is, maar hulle sien nie op die Heilige van Israel en hulle soek nie die
HERE nie.
2 Nogtans is Hy ook wys, en Hy laat die onheil kom en trek sy woorde nie terug
nie: Hy sal opstaan teen die huis van die kwaaddoeners en teen die helpers van
die wat ongeregtigheid werk.
3 Ja, die Egiptenaars is mense en nie God nie, en hulle perde is vlees en nie
gees nie; as die HERE sy hand uitstrek, dan struikel die helper, en wie gehelp
is, val; en saam gaan hulle almal te gronde.
4 Want so het die HERE vir my gesê: Soos 'n leeu en 'n jong leeu knor oor sy
prooi wanneer die volle getal herders teen hom bymekaargeroep word, sonder dat
hy skrik vir hulle stem of ingee vir hulle geraas--só sal die HERE van die
leërskare neerdaal om in die stryd uit te trek teen die berg Sion en teen sy
heuwel.
5 Soos voëls wat fladder, so sal die HERE van die leërskare Jerusalem beskut,
beskut en red, verskoon en bevry.
6 Bekeer julle tot Hom van wie die kinders van Israel diep afgeval het.
7 Want in dié dag sal hulle elkeen sy silwerafgode en sy goue afgode verwerp,
wat julle hande vir julle tot sonde gemaak het.
8 En Assur sal val deur die swaard, nie van 'n man nie; en die swaard, nie van
'n mens nie, sal hom verteer; en hy sal voor die swaard vlug, en sy jongmanne
sal dienspligtig word;
9 en sy rots sal uitmekaar stuif van skrik, en sy vorste sal verskrik die banier
verlaat, spreek die HERE, wat 'n vuur het op Sion en 'n oond in Jerusalem.
32
1 Kyk, 'n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens
reg.
2 En elkeen sal wees soos 'n toevlug teen die wind en 'n skuiling teen die
stortreën, soos waterstrome in 'n dor streek, soos die skaduwee van 'n swaar
rots in 'n land wat versmag.
3 Dan sal nie meer verblind wees die oë van die wat sien nie; en die ore van
hulle wat hoor, sal luister;
4 en die hart van die onbedagsames sal leer om te verstaan, en die tong van die
hakkelaars sal gou wees om duidelik te spreek;
5 die dwaas sal nie meer 'n edele genoem word nie, en van die skelm sal nie gesê
word dat hy vernaam is nie.
6 Want 'n dwaas spreek dwaasheid en sy hart bring onheil voort, deur
goddeloosheid te bedrywe en dwaling te spreek oor die HERE, deur die begeerte
van die hongerige onvervuld te laat en die drank van die dorstige te laat
ontbreek.
7 En die skelm--sy middele is sleg, hy beraam skandelike dade om die ellendiges
te ruïneer met leuentaal, ook as die behoeftige spreek wat reg is.
8 Maar die edele beraam edele dade, en hy hou stand in wat edel is.
9 Staan op, geruste vroue, hoor my stem! Sorgelose dogters, luister na my woord!
10 'n Jaar en 'n paar dae--en julle sal sidder, sorgelose dogters! Want dit is
gedaan met die druiwe-oes, daar sal geen insameling van vrugte kom nie.
11 Bewe, geruste vroue! Sidder, sorgelose dogters! Trek julle uit, ontbloot
julle en gord rougewade om julle lendene.
12 Hulle slaan op die bors vanweë die begeerlike velde, vanweë die vrugbare
wingerdstok;
13 vanweë die akkers van my volk wat met dorings en distels opskiet, ja, vanweë
al die huise van vreugde van die uitgelate stad.
14 Want die paleis is verlate, die stadsgewoel is in eensaamheid verander; die
Heuwel en die Wagtoring dien as spelonke vir ewig, 'n vreugde vir die
wilde-esels, 'n weiveld vir die troppe vee--
15 totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn
'n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir 'n bos gereken.
16 En die reg woon in die woestyn, en die geregtigheid hou verblyf in die
vrugteboord.
17 En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van
die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid.
18 En my volk sal woon in 'n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke
van ongestoorde rus.
19 Maar dit sal hael as die bos inmekaarstort en die stad wegsak in die laagte.
20 Welgeluksalig is julle wat by alle waters saai, wat die voet van os en esel
vry laat loop!
33
1 Wee jou, verwoester, wat self nie verwoes is nie, en troubreker teen wie nie
troueloos gehandel is nie! As jy klaar is met verwoes, sal jy verwoes word; en
as jy klaar is met troubreuk, sal hulle troueloos teen jou handel.
2 HERE, wees ons genadig, op U wag ons; wees hulle arm elke môre, ja, ons
verlossing in die tyd van benoudheid!
3 Vir die dawergeluid vlug die volke; vanweë u verheffing word die nasies
verstrooi.
4 Dan word julle buit weggeskraap soos sprinkane wegskraap; soos sprinkane
hardloop, hardloop hulle daarop los.
5 Die HERE is verhewe, want Hy woon in die hoogte; Hy het Sion vervul met reg en
geregtigheid.
6 En daar sal bestendigheid van jou tye wees, 'n rykdom van volle verlossing,
van wysheid en kennis; die vrees van die HERE sal sy skat wees.
7 Kyk, die helde skreeu daarbuite, die boodskappers van vrede ween bitterlik.
8 Die grootpaaie is verlate; die wat padlangs trek, bly weg. Hy het die verbond
verbreek, die stede gering geag, mense nie gereken nie.
9 Die land treur, dit verwelk; die Líbanon staan beskaamd, dit verkwyn; Saron
het geword soos 'n woestynvlakte, Basan en Karmel staan sonder blare.
10 Nou sal Ek opstaan, sê die HERE; nou sal Ek My verhef, nou sal Ek My oprig.
11 Julle gaan swanger van strooi, julle sal stoppels baar; julle geblaas is 'n
vuur wat julle sal verteer.
12 Dan word die volke 'n kalkbrandery, afgekapte doringbosse wat met vuur
verbrand word.
13 Hoor, julle wat ver is, wat Ek gedoen het; en julle wat naby is, erken my
mag!
14 Die sondaars in Sion bewe, siddering het die roekelose aangegryp. Hulle sê:
Wie van ons kan woon by 'n verterende vuur, wie van ons kan woon by 'n ewige
gloed?
15 Hy wat in geregtigheid wandel en spreek wat reg is, wat gewin deur afpersinge
versmaad, wat sy hande uitskud om geen omkoopgeskenk aan te gryp nie, wat sy oor
toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie
te sien nie--
16 hy sal op hoogtes woon, rotsvestings is sy burg; sy brood word hom gegee, sy
water is gewis.
17 Jou oë sal die Koning in sy skoonheid aanskou, dit sal 'n wyd uitgestrekte
land sien.
18 Jou hart sal die deurgestane verskrikking oordink en sê: Waar is hy wat getel
het? Waar is hy wat geweeg het? Waar is hy wat die torings opgeskryf het?
19 Jy sal die onbeskaamde volk nie meer sien nie, die volk met duister,
onverstaanbare spraak, met onbegryplike hakkeltong.
20 Aanskou Sion, die stad van ons feestelike samekoms! Jou oë sal Jerusalem sien
as veilige woonplek, as tent wat nie wegtrek nie, waarvan die penne nooit meer
uitgeruk word nie en geeneen van sy toue ooit losgeskeur word nie.
21 Maar daar sal die HERE vir ons heerlik wees; dit sal 'n plek van riviere
wees, van breë strome; geen vloot van roeiskepe sal daarop vaar nie, en geen
trotse skip sal daaroor gaan nie.
22 Want die HERE is ons Regter, die HERE is ons Aanvoerder, die HERE is ons
Koning: Hy sal ons verlos.
23 Jou toue hang slap, hulle hou die voetstuk van hulle mas nie styf nie, hulle
ontplooi nie die banier nie; dan word roofbuit verdeel in menigte, selfs die
lammes maak buit.
24 En geen inwoner sal sê: Ek is siek nie; aan die mense wat daarin woon, is die
skuld vergewe.
34
1 Kom nader, o volke, om te hoor; en nasies, luister! Laat die aarde hoor, en
die volheid daarvan, die wêreld en alles wat daaruit voortkom.
2 Want die toorn van die HERE is oor al die nasies, en grimmigheid oor al hulle
leërskare; Hy het hulle met die banvloek getref, Hy het hulle oorgegee om geslag
te word.
3 En hulle gesneuweldes sal weggewerp word, en die stank van hulle lyke gaan op,
en die berge smelt van hulle bloed.
4 En al die leërskare van die hemel vergaan, en die hemel word inmekaar gerol
soos 'n boek en al sy leërskare val af soos 'n blad van die wingerdstok afval en
soos vye afval van die vyeboom.
5 Want my swaard het dronk geword in die hemel; kyk, dit kom af op Edom en op
die volk van my banvloek, om geoordeel te word.
6 Die swaard van die HERE is vol bloed, dit drup van vet, van die bloed van
lammers en bokke, van die niervet van ramme; want die HERE het 'n slagoffer in
Bosra en 'n groot slagting in die land Edom.
7 Dan val die buffels saam met hulle, en die jong stiere saam met die stiere; en
hulle land word dronk van bloed, en hulle stof versadig van vet.
8 Want die HERE hou 'n dag van wraak, 'n jaar van vergelding in die regsaak van
Sion.
9 En sy strome sal in pik verander word en sy stof in swawel, en sy land sal
brandende pik word.
10 Dit sal snags of oordag nie uitgeblus word nie; vir ewig gaan sy rook op; van
geslag tot geslag lê dit woes, vir altyd en ewig trek niemand daardeur nie.
11 Maar die pelikaan en die krimpvarkie neem dit in besit, en die uil en die
kraai woon daarin. En Hy sal die riglyn van woestheid daaroor span en die
skietlood van vormloosheid.
12 Sy edeles--daar sal hulle geen koninkryk meer uitroep nie, en met al sy
vorste is dit gedaan.
13 En sy paleise word begroei met dorings, brandnekels en distels sal in sy
vestings wees. En dit sal 'n lêplek van jakkalse, 'n verblyf vir die volstruise
wees.
14 En boskatte kom wildehonde teë, en veldduiwels ontmoet mekaar; ook woon die
naggees daar in vrede en vind 'n rusplek vir hom.
15 Daar maak die pylslang sy nes en lê eiers en broei dit uit en koester haar
kleintjies daar in die skaduwee; ook sal die kuikendiewe daar bymekaarkom, die
een by die ander.
16 Soek in die boek van die HERE en lees! Nie een van hierdie wesens ontbreek
nie, die een mis die ander nie; want my mond--dié het dit beveel, en sy
Gees--dié het hulle bymekaargebring.
17 En Hy het vir hulle die lot gewerp, en sy hand het die land aan hulle met die
meetsnoer uitgedeel; tot in ewigheid sal hulle dit besit, van geslag tot geslag
daarin woon.
35
1 Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei
soos 'n narsing;
2 dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van
die Líbanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal
sien die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God.
3 Versterk die slap hande en maak die struikelende knieë vas.
4 Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk,
julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle
verlos.
5 Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word.
6 Dan sal die lamme spring soos 'n takbok, en die tong van die stomme sal jubel;
want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.
7 En die gloeiende grond sal 'n waterplas word, en die dorsland fonteine van
water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met
riete en biesies.
8 En dáár sal 'n grootpad wees en 'n weg wat die heilige weg genoem sal word;
geen onreine sal daarop voorttrek nie, maar vir húlle sal dit wees; wie die weg
bewandel--selfs die dwase sal nie dwaal nie.
9 Dáár sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar
aangetref word nie; maar die verlostes sal daarop wandel;
10 en die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en
ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar
kommer en gesug vlug weg.
36
1 En in die veertiende jaar van koning Hiskía het Sánherib, die koning van
Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en dit verower.
2 Toe stuur die koning van Assirië die rábsake uit Lagis na Jerusalem, na koning
Hiskía met 'n swaar leër; en hy het gaan staan by die watervoor van die Boonste
Dam, by die grootpad van die Bleikveld.
3 Daarop gaan Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna,
die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, na hom toe uit.
4 En die rábsake sê vir hulle: Sê tog aan Hiskía: So spreek die groot koning,
die koning van Assirië: Wat is dit vir 'n vertroue wat jy koester?
5 Jy dink: Net 'n woord van die lippe is raad en dapperheid vir die oorlog. Op
wie vertrou jy nou, dat jy teen my in opstand kom?
6 Kyk, jy vertrou op dié geknakte rietstok, op Egipte, wat, as iemand daarop
leun, in sy hand ingaan en dit deurboor; so is Farao, die koning van Egipte, vir
almal wat op hom vertrou.
7 Maar as jy vir my sê: Ons vertrou op die HERE onse God--is dit nie Hy wie se
hoogtes en wie se altare Hiskía verwyder het nie deur aan Juda en Jerusalem te
sê: Voor hierdie altaar moet julle buig?
8 Nou dan, wed tog met my heer, die koning van Assirië, en ek sal jou twee
duisend perde gee as jy vir jou ruiters daarop kan lewer.
9 Hoe sal jy dan die aanval van 'n enkele goewerneur van my heer se geringste
dienaars kan afslaan? Maar jy vertrou op Egipte vir strydwaens en perderuiters!
10 Het ek dan nou sonder die HERE teen hierdie land opgetrek om dit te verwoes?
Die HERE het vir my gesê: Trek op teen hierdie land en verwoes dit.
11 Toe sê Éljakim en Sebna en Joa vir die rábsake: Praat tog met u dienaars
Aramees, want ons verstaan dit; en moenie met ons Joods praat voor die ore van
die manskappe wat op die muur is nie.
12 Maar die rábsake het gesê: Het my heer my na jou heer en na jou gestuur om
hierdie woorde te spreek? Is dit nie na die manne wat op die muur sit, dat hulle
hul eie drek kan eet en hul eie water kan drink saam met julle nie?
13 Toe gaan die rábsake staan en roep hardop in die Joodse taal en sê: Hoor die
woorde van die groot koning, die koning van Assirië!
14 So sê die koning: Laat Hiskía julle nie bedrieg nie, want hy sal julle nie
kan red nie.
15 En Hiskía moet julle nie op die HERE laat vertrou nie deur te sê: Die HERE
sal ons sekerlik red; hierdie stad sal nie in die hand van die koning van
Assirië oorgegee word nie.
16 Luister nie na Hiskía nie; want so sê die koning van Assirië: Sluit met my
vriendskap en trek uit na my toe en eet elkeen van sy wingerdstok en elkeen van
sy vyeboom en drink elkeen die water van sy put,
17 totdat ek kom en julle meeneem na 'n land soos julle land, 'n land van koring
en mos, 'n land van brood en wingerde.
18 Laat Hiskía julle nie verlei nie deur te sê: Die HERE sal ons red! Het die
gode van die nasies elkeen sy land gered uit die hand van die koning van
Assirië?
19 Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar die gode van Sefarváim? En het
hulle miskien Samaría gered uit my hand?
20 Wie is daar onder al die gode van hierdie lande wat hulle land gered het uit
my hand, dat die HERE Jerusalem uit my hand sou red?
21 Maar hulle het stilgebly en hom niks geantwoord nie; want dit was die bevel
van die koning: Julle moet hom nie antwoord nie.
22 Toe het Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die
skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, met geskeurde klere by Hiskía
gekom en hom die woorde van die rábsake te kenne gegee.
37
1 En toe koning Hiskía dit hoor, het hy sy klere geskeur en hom met 'n roukleed
bedek en in die huis van die HERE gegaan.
2 Daarna stuur hy Éljakim, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en die
oudstes van die priesters, met rouklere bedek, na die profeet Jesaja, die seun
van Amos.
3 En hulle sê vir hom: So sê Hiskía: Vandag is 'n dag van benoudheid en straf en
lastering; want die kinders het tot by die geboorte gekom, maar daar is geen
krag om te baar nie.
4 Miskien sal die HERE u God die woorde hoor van die rábsake wat deur sy heer,
die koning van Assirië, gestuur is om die lewende God te smaad, en sal Hy hom
straf oor die woorde wat die HERE u God gehoor het; hef dan 'n gebed op vir die
oorblyfsel wat nog aanwesig is.
5 En toe die dienaars van koning Hiskía by Jesaja kom,
6 sê Jesaja vir hulle: So moet julle jul heer antwoord: So spreek die HERE:
Vrees nie vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die dienaars van die koning
van Assirië My gelaster het nie.
7 Kyk, Ek sal 'n gees in hom gee, dat hy 'n gerug hoor en na sy land terugtrek;
en Ek sal hom in sy land deur die swaard laat val.
8 Daarop het die rábsake teruggegaan en die koning van Assirië aangetref terwyl
hy besig was om teen Libna te veg; want hy het gehoor dat hy van Lagis af
weggetrek het.
9 En toe hy van Tírhaka, die koning van Kus, hoor sê: Hy het uitgetrek om teen u
te veg--toe hy dit hoor, stuur hy boodskappers na Hiskía met die opdrag:
10 So moet julle aan Hiskía, die koning van Juda, sê: Laat u God op wie u
vertrou, u nie bedrieg nie deur te sê: Jerusalem sal nie in die hand van die
koning van Assirië oorgegee word nie.
11 Kyk, u het self gehoor wat die konings van Assirië aan al die lande gedoen
het deur dit met die banvloek te tref, en sou ú gered word?
12 Het die gode van die nasies wat my vaders uitgeroei het, hulle gered--Gosan
en Haran en Resef en die kinders van Eden wat in Telássar was?
13 Waar is die koning van Hamat en die koning van Arpad en die koning van die
stad Sefarváim, van Hena en Iwa?
14 En toe Hiskía die brief uit die hand van die boodskappers ontvang en dit
gelees het, het hy opgegaan na die huis van die HERE; en Hiskía het dit
uitgesprei voor die aangesig van die HERE,
15 En Hiskía het tot die HERE gebid en gesê:
16 o HERE van die leërskare, God van Israel wat op die gérubs troon! U alleen is
die God van al die koninkryke van die aarde; U het die hemel en die aarde
gemaak.
17 o HERE, neig u oor en luister! HERE, open u oë en kyk en hoor al die woorde
van Sánherib, wat hy gestuur het om die lewende God te smaad!
18 Waarlik, HERE, die konings van Assirië het al die lande en hulle gebied
verwoes
19 en hulle gode in die vuur gegooi; want dit was geen gode nie, maar werk van
mensehande, hout en klip--daarom kon hulle dié vernietig.
20 HERE onse God, verlos ons dan nou uit sy hand, sodat al die koninkryke van
die aarde kan weet dat U, HERE, dit alleen is.
21 Toe laat Jesaja, die seun van Amos, vir Hiskía weet: So spreek die HERE, die
God van Israel: Wat jy tot My gebid het aangaande Sánherib, die koning van
Assirië, het Ek gehoor.
22 Dit is die woord wat die HERE oor hom gespreek het: Die jonkvrou, die dogter
van Sion, verag jou, bespot jou; agter jou skud die dogter van Jerusalem die
hoof.
23 Wie het jy gesmaad en gelaster? En teen wie het jy die stem verhef en jou oë
hoogmoedig opgehef? Teen die Heilige van Israel!
24 Deur jou dienaars het jy die HERE gesmaad en gesê: Met die menigte van my
strydwaens het ek geklim op die hoogte van die berge, die uithoeke van die
Líbanon, en ek wil sy statige seders, die keur van sy sipresse, omkap en
deurdring tot sy uiterste hoogte, sy bos wat is soos 'n tuin.
25 Ék het gegrawe en water gedrink en laat met die sool van my voete al die
strome van Egipte opdroog.
26 Het jy dit nie gehoor nie? Van lankal het Ek dit berei, van die dae van die
voortyd af dit beskik. Nou het Ek dit laat kom, dat jy versterkte stede tot
puinhope kom verwoes.
27 En hulle inwoners was magteloos, het verskrik en beskaamd gestaan; hulle was
soos plante van die veld en groen grassies, soos gras van die dakke en 'n
koringland voordat dit are skiet.
28 Maar Ek ken jou sit en jou uitgang en jou ingang en hoe jy teen My raas.
29 Omdat jy teen My raas en jou trotsheid opgekom het in my ore, daarom sal Ek
my haak in jou neus sit en my toom tussen jou lippe en jou terugbring met die
pad waarmee jy gekom het.
30 En dit sal vir jou die teken wees: Eet hierdie jaar wat vanself opslaan, en
in die tweede jaar wat dan nog opkom; maar in die derde jaar--saai en oes, en
plant wingerde en eet die vrugte daarvan.
31 Dan sal die vrygeraaktes wat oorgebly het van die huis van Juda, weer wortel
skiet ondertoe en vrugte dra boontoe.
32 Want uit Jerusalem sal 'n oorblyfsel uitgaan en vrygeraaktes van die berg
Sion. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.
33 Daarom, so sê die HERE aangaande die koning van Assirië: Hy sal in hierdie
stad nie inkom en daar geen pyl in skiet nie en dit met geen skild aanval en
daar geen wal teen opwerp nie.
34 Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan; maar in hierdie stad sal hy
nie inkom nie, spreek die HERE.
35 En Ek sal hierdie stad beskut om dit te verlos, om My en om my kneg Dawid
ontwil.
36 Toe het die engel van die HERE uitgetrek en in die laer van Assirië honderd
vyf en tagtig duisend verslaan. En toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak--was
dit almal dooie liggame.
37 En Sánherib, die koning van Assirië, het opgebreek en weggetrek en
teruggegaan en in Ninevé gebly.
38 En toe hy hom neerbuig in die tempel van sy god Nisrog, het sy seuns
Adramméleg en Saréser hom met die swaard neergeslaan. Maar hulle het ontvlug na
die land Ararat; en sy seun Esar-Haddon het koning geword in sy plek.
38
1 In dié dae het Hiskía dodelik siek geword; en die profeet Jesaja, die seun van
Amos, het by hom gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Gee bevel aan jou
huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie.
2 Toe draai Hiskía sy gesig na die muur, en hy het tot die HERE gebid
3 en gesê: Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met 'n
volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskía het
bitterlik geween.
4 Toe het die woord van die HERE tot Jesaja gekom en gesê:
5 Gaan sê vir Hiskía: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het
jou gebed gehoor, jou trane gesien; kyk, Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg,
6 en Ek sal jou uit die hand van die koning van Assirië red en ook hierdie stad;
en Ek sal hierdie stad beskut.
7 En dit sal vir jou die teken wees van die kant van die HERE, dat die HERE
hierdie woord wat Hy gespreek het, sal volbring:
8 Kyk, Ek sal die skaduwee op die grade wat dit gedaal het deur die son op die
grade van Agas se sonnewyser, laat teruggaan, tien grade agteruit. En die son
het tien grade teruggegaan op die grade wat dit gedaal het.
9 Geskrif van Hiskía, die koning van Juda, toe hy siek was en van sy siekte
gesond geword het.
10 Ek het gesê: In die bloei van my dae moet ek heengaan in die poorte van die
doderyk; ek word beroof van my orige jare.
11 Ek het gesê: Ek sal die HERE nie sien nie, die HERE, in die land van die
lewendes; ek sal die mense nie meer aanskou onder die inwoners van die wêreld
nie.
12 My woning is opgebreek en van my af weggevoer soos 'n herderstent; ek het my
lewe opgerol soos 'n wewer sy weefsel; Hy sny my van die wewersbalk af; van dag
tot nag gee U my prys.
13 Bring ek myself tot bedaring tot die môre--soos 'n leeu só verbreek Hy al my
beendere; van dag tot nag gee U my prys.
14 Soos 'n swaweltjie of kraanvoël, so het ek gepiep; ek het gekir soos 'n duif;
my oë het dof gekyk na bo: HERE, ek is benoud, wees U my Borg!
15 Wat sal ek spreek, aangesien Hy my dit beloof het en Hy self dit gedoen het?
Ek sal soetjies voortgaan al my jare vanweë die bitterheid van my siel.
16 Here, by hierdie dinge leef 'n mens, en geheel en al is daarin die lewe van
my gees: laat my dan gesond word en laat my lewe!
17 Kyk, tot heil het die bitter, ja, bitter lyde my geword; maar U, U het my
siel liefgehad en getrek uit die kuil van vernietiging. Want U het al my sondes
agter u rug gewerp.
18 Want die doderyk sal U nie loof nie, die dood U nie prys nie; die wat in die
kuil neerdaal, sal op u trou nie hoop nie.
19 Die lewende, die lewende, dié sal U loof, soos ek vandag; die vader maak aan
die kinders u trou bekend.
20 Die HERE staan gereed om my te verlos; daarom sal ons op my snaarinstrumente
speel al die dae van ons lewe, by die huis van die HERE.
21 En Jesaja het gesê: Laat hulle 'n vyekoek neem en dit op die sweer sit, dat
hy gesond kan word.
22 En Hiskía het gesê: Wat is die teken dat ek na die huis van die HERE sal
opgaan?
39
1 In dié tyd het Meródag Báladan, die seun van Báladan, die koning van Babel, 'n
brief en 'n geskenk aan Hiskía gestuur; want hy het gehoor dat hy siek was en
gesond geword het.
2 En Hiskía was bly oor hulle en het hulle sy skathuis laat sien, die silwer en
die goud en die speserye en die kosbare olie en sy hele wapenhuis en alles wat
te vinde was in sy skatkamers; daar was niks in sy huis of in sy hele ryk wat
Hiskía hulle nie laat sien het nie.
3 Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskía en sê vir hom: Wat het hierdie
manne gesê en waarvandaan het hulle na u gekom? En Hiskía antwoord: Uit 'n ver
land het hulle na my gekom, uit Babel.
4 En hy sê: Wat het hulle in u huis gesien? En Hiskía antwoord: Hulle het alles
gesien wat in my huis is; daar is niks in my skatkamers wat ek hulle nie laat
sien het nie.
5 Toe sê Jesaja vir Hiskía: Hoor die woord van die HERE van die leërskare:
6 Kyk, daar kom dae dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders opgehoop het
tot vandag toe, na Babel weggevoer sal word; daar sal niks oorbly nie, sê die
HERE.
7 En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem,
dat hulle hofdienaars word in die paleis van die koning van Babel.
8 Toe sê Hiskía vir Jesaja: Die woord van die HERE wat u gespreek het, is goed.
Ook sê hy: Daar sal tog vrede en bestendigheid wees in my dae!
40
1 Troos, troos my volk, sê julle God.
2 Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is,
dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het
vir al haar sondes.
3 'n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak
gelyk in die wildernis 'n grootpad vir onse God!
4 Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult
moet 'n gelykte en die rotsagtige plekke 'n laagte word.
5 En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal
dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek.
6 'n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy
aanvalligheid soos 'n blom van die veld.
7 Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas.
Voorwaar, die volk is gras!
8 Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in
ewigheid.
9 o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op 'n hoë berg! o Jerusalem,
verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie
bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God!
10 Kyk, die Here HERE sal kom as 'n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is
by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.
11 Hy sal sy kudde laat wei soos 'n herder; Hy sal die lammers in sy arm
vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.
12 Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met
'n span die maat geneem, en in 'n drieling die stof van die aarde opgevang, en
die berge geweeg met 'n weegtoestel en die heuwels met 'n weegskaal?
13 Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig?
14 Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer
aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg
van volledige insig?
15 Kyk, die nasies is soos 'n druppel aan die emmer, en soos 'n stoffie aan die
weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos 'n stoffie!
16 En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer
nie.
17 Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom
gereken.
18 By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?
19 Die ambagsman giet 'n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt
silwerkettings.
20 Wie te arm is vir so 'n offergawe, kies 'n stuk hout wat nie vergaan nie; hy
soek vir hom 'n kunsvaardige ambagsman om 'n beeld op te rig wat nie wankel nie.
21 Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend
gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie?
22 Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane;
Hy span die hemele uit soos 'n dun doek en sprei dit uit soos 'n tent om in te
woon.
23 Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in
nietigheid;
24 skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in
die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg
soos 'n stoppel.
25 By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige.
26 Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy
laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam,
vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie
een gemis nie.
27 Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE
verborge, en my reg gaan by my God verby?
28 Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die HERE,
Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen
deurgronding van sy verstand nie.
29 Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte
het nie.
30 Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs;
31 maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos
die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat
nie.
41
1 Luister in stilte na My, o eilande, en laat die volke nuwe krag kry; laat
hulle aankom, laat hulle dan spreek; laat ons saam na die gereg gaan.
2 Wie het hom uit die Ooste verwek vir wie die oorwinning tegemoet tree by elke
voetstap? Wie gee nasies aan hom oor en laat hom konings vertrap, wie se swaard
hulle maak soos stof, wie se boog hulle maak soos 'n dwarrelende stoppel,
3 dat hy hulle agtervolg, ongehinderd verbytrek, die pad met sy voete nie betree
nie?
4 Wie het dit gedoen en tot stand gebring? Hy wat die geslagte roep van die
begin af; Ek, die HERE, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.
5 Die eilande het dit gesien en gevrees, die eindes van die aarde het gebewe;
hulle het nader gekom en toegestroom.
6 Die een het die ander gehelp en aan sy metgesel gesê: Wees sterk!
7 En die ambagsman het die goudsmid versterk, hy wat met die hamer plat slaan,
hom wat op die aambeeld slaan, terwyl hy van die soldeersel sê: Dit is goed!
Daarna slaan hy dit vas met spykers, dat dit nie wankel nie.
8 Maar jy, Israel, my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham,
my vriend,
9 jy, wat Ek gegryp het van die eindes van die aarde en van sy uithoeke geroep
het, en Ek het aan jou gesê: Jy is my kneg; jou het Ek uitverkies en jou nie
verwerp nie.
10 Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek
is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my
reddende regterhand.
11 Kyk, hulle almal sal beskaamd staan en in die skande kom wat op jou toornig
is; hulle sal word soos niks, en jou teëparty sal omkom.
12 Jy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie--die manne wat met jou twis; hulle
sal word soos niks en soos 'n nietige ding--die manne wat teen jou oorlog voer.
13 Want Ek, die HERE jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees
nie bevrees nie, Ek help jou.
14 Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ék help jou, spreek die
HERE, en jou Losser is die Heilige van Israel.
15 Kyk, Ek maak jou tot 'n skerp, nuwe dorsslee wat baie tande het: jy sal berge
dors en fyn maal, en heuwels maak soos kaf.
16 Jy sal hulle uitwan, en die wind sal hulle wegneem en die storm hulle
verstrooi; maar jy sal juig in die HERE, jou beroem op die Heilige van Israel.
17 Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie; hulle tong
verdroog van dors; Ek, die HERE, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal
hulle nie verlaat nie.
18 Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal
die woestyn 'n waterplas maak en die dor land waterbronne.
19 Ek sal in die woestyn gee die seder, die akasia en die mirt en die
wilde-olyfboom; Ek sal in die wildernis plant die sipres, die plataan en die
denneboom, dié almal;
20 sodat hulle almal saam kan sien en beken en opmerk en verstaan dat die hand
van die HERE dit gedoen het en die Heilige van Israel dit geskape het.
21 Bring julle regsaak voor, sê die HERE; bring julle bewysgronde aan, sê die
Koning van Jakob.
22 Laat hulle aanbring en ons te kenne gee wat gaan gebeur! Gee te kenne die
vorige dinge, hoedanig hulle was, sodat ons daarop kan ag gee en van die afloop
daarvan kan kennis neem. Of laat ons die toekomende dinge hoor!
23 Gee te kenne dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is;
ja, doen goed of doen kwaad, dat ons verbaas kan staan en dit saam kan sien.
24 Kyk, julle is niks, en julle werk is niks; 'n gruwel is hy wat julle uitkies.
25 Ek het uit die Noorde een verwek, en hy het gekom; van die opgang van die son
af een wat my Naam sal aanroep; en hy kom oor die owerstes soos oor modder, en
soos 'n pottebakker die klei trap.
26 Wie het dit te kenne gegee van die begin af, dat ons daar kennis van kan
neem; of vantevore al, dat ons kan sê: Hy het reg? Ja, daar is niemand wat dit
te kenne gee, ja, niemand wat dit laat hoor, ja, niemand wat julle woorde hoor
nie.
27 As die Eerste sê Ek aan Sion: Hier, hier is dit! En aan Jerusalem gee Ek 'n
verkondiger van goeie boodskap.
28 En Ek kyk rond, maar daar is niemand nie; en onder hulle, maar daar is geen
raadgewer, dat Ek hulle kan vra en hulle antwoord kan gee nie.
29 Kyk, hulle is almal niks, hulle werke is niks, wind en nietigheid is hulle
gegote beelde.
42
1 Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel 'n welbehae
het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring.
2 Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie.
3 Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie;
met getrouheid sal Hy die reg uitbring.
4 Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het
nie; en die eilande wag op sy leer.
5 So sê God, die HERE, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde
uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem
gee en die gees aan wie daarop wandel:
6 Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en
gee U as 'n verbond van die volk, as 'n lig van die nasies,
7 om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die
gevangenis diegene wat in die duisternis sit.
8 Ek is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my
lof aan die gesnede beelde nie.
9 Kyk, die vorige dinge het gekom, en nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle
uitspruit, laat Ek julle dit hoor.
10 Sing tot eer van die HERE 'n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde
af--julle wat op die see vaar, en alles wat daarin is, eilande en bewoners
daarvan.
11 Laat die woestyn en sy stede uitroep, die dorpe waar Kedar woon! Laat die
rotsbewoners jubel, van die top van die berge af skreeu!
12 Laat hulle aan die HERE die eer gee en sy lof in die eilande verkondig!
13 Die HERE sal uittrek soos 'n held; Hy sal die ywer opwek soos 'n krygsman; Hy
sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar.
14 Ek het baie lank geswyg, My stil gehou, My bedwing. Ek sal uitskreeu soos een
wat baar, Ek sal hard asemhaal en hyg tegelykertyd.
15 Ek sal berge en heuwels woes maak en al hulle plante laat verdroog; en Ek sal
riviere tot eilande maak en waterplasse laat opdroog.
16 En Ek sal blindes lei op 'n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op
paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit
en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat
nie.
17 Maar die wat op gesnede beelde vertrou, wat aan gegote beelde sê: Julle is
ons gode--dié sal agteruitwyk, diep beskaamd staan.
18 Hoor, julle dowes, en kyk, julle blindes, om te kan sien.
19 Wie is blind buiten my kneg en doof soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is
blind soos die vertroude vriend, en blind soos die kneg van die HERE?
20 Jy het wel baie dinge gesien, maar daar geen ag op gegee nie; die ore oop
gehad, maar jy hoor nie.
21 Dit het die HERE behaag ter wille van sy geregtigheid om die onderwysing
groot en heerlik te maak.
22 En tog is dit 'n beroofde en geplunderde volk; hulle is almal gebonde in
kerkers, verborge in gevangenisse; hulle het 'n buit geword sonder dat iemand
red, 'n plundering sonder dat iemand sê: Gee terug!
23 Wie onder julle luister na hierdie dinge? Wie merk op, hoor dit ook vir die
toekoms?
24 Wie het Jakob oorgegee as 'n plundering en Israel aan die berowers? Is dit
nie die HERE teen wie ons gesondig het nie? En hulle wou in sy weë nie wandel
nie en het na sy wet nie geluister nie.
25 Daarom het Hy oor hulle uitgestort die gloed van sy toorn en die geweld van
die oorlog; en dit het hulle rondom aan die brand gesteek, maar hulle het dit
nie bemerk nie; en dit het hulle gebrand, maar hulle het dit nie ter harte
geneem nie.
43
1 Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel:
Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy
is myne!
2 As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere--hulle sal jou
nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam
sal jou nie brand nie.
3 Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland; Ek het
Egipte gegee as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.
4 Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek
mense in jou plek en volke vir jou lewe.
5 Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou geslag van die ooste af
aanbring en jou versamel van die weste af.
6 Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my
seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af,
7 elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek
geformeer, wat Ek ook gemaak het.
8 Bring uit die volk wat blind is en tog oë het, en die dowes wat ore het.
9 Al die nasies het saam vergader, en die volke is versamel. Wie onder hulle kan
sulke dinge verkondig? En laat hulle ons die vorige dinge bekend maak! Laat
hulle hul getuies bring, dat hulle in die gelyk gestel kan word; en laat hulle
hoor en sê: Dit is die waarheid!
10 Júlle is my getuies, spreek die HERE, en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat
julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is--voor My is geen God
geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie.
11 Ek, Ek is die HERE, en daar is geen Heiland buiten My nie.
12 Ék het verkondig en verlos en dit laat hoor, en daar was geen ander god onder
julle nie; en julle is my getuies, spreek die HERE, en Ek is God.
13 Ook van vandag af is Ek dit, en niemand red uit my hand nie; Ek werk, en wie
kan dit keer?
14 So sê die HERE, jou Losser, die Heilige van Israel: Om julle ontwil het Ek na
Babel gestuur, en Ek sal hulle almal as vlugtelinge laat afdaal, naamlik die
Chaldeërs, in die skepe waarop hulle gejuig het.
15 Ek is die HERE, julle Heilige; die Skepper van Israel, julle Koning.
16 So sê die HERE wat in die see 'n weg en in die sterk waters 'n pad gemaak
het,
17 wat waens en perde, leërmag en held laat uittrek het; tesame lê hulle, hulle
sal nie opstaan nie; hulle is uitgeblus, soos 'n lamppit uitgedoof.
18 Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het
nie.
19 Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk
nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.
20 Die wilde diere van die veld sal My eer, die jakkalse en die volstruise; want
Ek gee waters in die woestyn, riviere in die wildernis om my volk, my
uitverkorene, te laat drink.
21 Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig.
22 Nogtans het jy My nie aangeroep, o Jakob, dat jy jou vir My sou vermoei het
nie, o Israel!
23 Jy het vir My nie gebring die kleinvee van jou brandoffers nie, en met jou
slagoffers het jy My nie geëer nie; Ek het jou geen oorlas aangedoen met
spysoffers en jou nie vermoei met wierook nie.
24 Jy het vir My geen kalmoes met geld gekoop en met die vet van jou slagoffers
My nie verkwik nie; maar jy het My oorlas aangedoen met jou sondes, jy het My
vermoei met jou ongeregtighede.
25 Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes
dink Ek nie.
26 Maak My indagtig; laat ons teen mekaar pleit; vertel jy, dat jy in die gelyk
gestel kan word.
27 Jou eerste vader het gesondig, en jou tolke het teen My oortree.
28 So het Ek dan heilige vorste ontheilig en Jakob aan die banvloek oorgegee en
Israel aan beskimpinge.
44
1 Maar luister nou, my kneg Jakob, en Israel wat Ek uitverkies het!
2 So sê die HERE, jou Maker en jou Formeerder van die moederskoot af, wat jou
help: Wees nie bevrees nie, Jakob, my kneg, en Jesúrun wat Ek uitverkies het!
3 Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my
Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge.
4 En hulle sal uitspruit tussen die gras in, soos wilgerbome by waterlope.
5 Die een sal sê: Ek behoort aan die HERE; en die ander sal die naam van Jakob
uitroep; en die ander sal met sy hand skrywe: Ek behoort aan die HERE, en hom
met die erenaam Israel noem.
6 So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die
leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God
nie.
7 En wie roep soos Ek--laat hom dit dan te kenne gee en aan My voorlê--vandat Ek
die volk van die ou tyd gegrond het? En laat hulle die toekomstige dinge en wat
sal gebeur, te kenne gee.
8 Wees nie verskrik nie, en moenie bewe nie! Het Ek jou dit nie lank tevore laat
hoor en te kenne gegee nie? En júlle is my getuies! Is daar 'n God buiten My?
Ja, daar is geen rotssteen nie; Ek ken geeneen nie.
9 Hulle wat gesnede beelde maak, is almal nietigheid, en hulle lieflinge bring
geen voordeel nie; en hulle getuies--dié sien niks en weet niks, sodat hulle
beskaamd staan.
10 Wie maak 'n god en giet 'n beeld wat geen voordeel aanbring nie?
11 Kyk, al sy aanhangers sal beskaamd staan; en die ambagsmanne is uit die
mense! Laat hulle almal bymekaarkom, gaan staan, verskrik wees, tesame beskaamd
staan!
12 Die ystersmid het 'n byl en werk in die gloed; en hy maak hom met hamers en
bewerk hom met sy sterk arm; daarby word hy honger en het geen krag nie; drink
hy geen water nie, dan word hy moeg.
13 Die timmerman span 'n lyn; hy trek hom af met 'n potlood; hy bewerk hom met
skawe en teken hom met 'n passer en maak hom na die beeltenis van 'n man, na die
skoonheid van 'n mens, om in 'n huis te woon.
14 Een gaan sederbome afkap, en hy neem 'n steeneik of 'n eikeboom en laat een
vir hom opgroei onder die bome van die bos. Hy het 'n pynboom geplant, en die
reën het dit grootgemaak.
15 Dan dien dit die mens as brandhout, en hy neem daarvan en maak hom warm; ook
steek hy dit aan die brand en bak brood; ook maak hy daar 'n god van en buig hom
daarvoor neer; hy maak daar 'n gesnede beeld van en kniel daarvoor neer.
16 Die helfte daarvan het hy in die vuur verbrand: by die een helfte eet hy
vleis, hy maak braaivleis klaar en word versadig; ook maak hy hom warm en sê:
Ha, ek het warm geword, ek het vuur gesien!
17 En van wat oor is, maak hy 'n god, sy gesnede beeld; hy kniel daarvoor neer
en buig hom en aanbid dit en sê: Red my, want u is my god!
18 Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie
sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie;
19 en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te
sê nie: Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die
kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die
oorblyfsel daarvan 'n gruwel maak? Sal ek neerkniel voor 'n stuk hout?
20 Hy wat hom besig hou met as, 'n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel
nie kan red, of kan sê nie: Is daar geen leuen in my regterhand nie?
21 Dink aan hierdie dinge, o Jakob en Israel! Want jy is my kneg; Ek het jou
geformeer; jy is my kneg, Israel! Jy sal deur My nie vergeet word nie.
22 Ek delg jou oortredinge uit soos 'n newel en jou sondes soos 'n wolk; keer
terug na My, want Ek het jou verlos.
23 Jubel, o hemele, want die HERE het dit gedoen. Juig, dieptes van die aarde!
Breek uit in gejubel, o berge, bosse en al die bome daarin! Want die HERE het
Jakob verlos, en Hy sal Homself verheerlik aan Israel.
24 So sê die Here, jou Verlosser, en Hy wat jou geformeer het van die
moederskoot af: Ek is die HERE wat alles volbring, wat die hemel uitspan, Ek
alleen, en wat die aarde uitsprei--wie was met My? --
25 wat die tekens van die leuenprofete vernietig en die waarsêers tot dwase
maak; wat die wyse agteruit laat wyk en hulle kennis domheid maak;
26 wat die woord van sy kneg vervul en die voorsegging van sy boodskappers
volbring; wat van Jerusalem sê: Dit moet bewoon word; en van die stede van Juda:
Hulle moet herbou word, en Ek sal sy puinhope oprig;
27 wat vir die diepte sê: Verdroog! en jou riviere sal Ek laat verdroog;
28 wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag
deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond
word.
45
1 So sê die HERE aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om
nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor
hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie:
2 Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek
en ystergrendels stukkend slaan.
3 En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge
rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die HERE is wat jou by jou naam roep, die God
van Israel;
4 ter wille van Jakob, my kneg, en Israel, my uitverkorene, het Ek jou by jou
naam geroep; Ek het jou 'n erenaam gegee, hoewel jy My nie geken het nie.
5 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek
omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie,
6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat
daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie;
7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil
skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
8 Laat dit drup, o hemele, van bo af, en laat die wolke vloei van geregtigheid;
laat die aarde oopgaan, en laat heil voortkom en geregtigheid; laat hulle saam
uitspruit. Ek, die HERE, het dit geskape.
9 Wee hom wat met sy Formeerder twis--'n potskerf by erdepotskerwe! Sal dan die
klei sê aan die wat dit vorm: Wat maak jy? Of jou werk sê: Hy het geen hande
nie!
10 Wee hom wat vir die vader sê: Waarom verwek u? en vir die vrou: Waarom het u
weë?
11 So sê die HERE, die Heilige van Israel en sy Formeerder: Vra My aangaande die
toekomstige dinge; vertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe!
12 Ek het die aarde gemaak en die mens daarop geskape; Ek--my hande het die
hemel uitgespan, en Ek het aan sy ganse leërskare bevel gegee.
13 Ek het hom verwek in geregtigheid, en al sy weë sal Ek gelykmaak; hy sal my
stad bou en my ballinge loslaat sonder koopprys en sonder geskenk, sê die HERE
van die leërskare.
14 So sê die HERE: Die opbrings van Egipte en die handelswins van Kus en die
Sabeërs, manne van hoë gestalte, sal na jou toe oorkom en joue wees; hulle sal
agter jou loop; in kettings sal hulle oortrek en hulle voor jou buig; hulle sal
jou smeek en sê: Waarlik, God is in jou; en anders is daar geen, geen God meer
nie!
15 Waarlik, U is 'n God wat U verborge hou, die God van Israel, die Heiland.
16 Hulle het beskaamd gestaan en ook in die skande gekom, hulle almal; hulle het
tesame met skande heengegaan--die wat afgode maak.
17 Israel word verlos deur die HERE met 'n ewige verlossing; julle sal nie
beskaamd staan of in die skande kom tot in alle ewigheid nie.
18 Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het--Hy is God! --wat die aarde
geformeer en dit gemaak het--Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes
te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word--Ek is die HERE, en daar is
geen ander nie.
19 Ek het in die geheim nie gespreek nie--op 'n plek van die donker land; Ek het
aan die geslag van Jakob nie gesê: Soek My tevergeefs nie. Ek is die HERE wat
geregtigheid spreek, wat regte dinge verkondig.
20 Versamel julle en kom, kom almal nader, julle wat uit die nasies ontvlug het!
Hulle weet niks, wat die hout van hul gesnede beeld dra en 'n god aanbid wat nie
kan verlos nie.
21 Verkondig en bring voor, ja, laat hulle saam raad hou: Wie het dit van ouds
af laat hoor, lank tevore dit verkondig? Is dit nie Ek, die HERE, nie? En buiten
My is daar geen ander God nie: 'n regverdige en reddende God is daar buiten My
nie.
22 Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is
God, en daar is geen ander nie.
23 Ek sweer by Myself; geregtigheid gaan uit my mond, 'n woord wat nie herroep
word nie: dat voor My elke knie sal neerbuig, by My elke tong sal sweer.
24 Hulle sal van My sê: Alleen in die HERE is volle geregtigheid en sterkte; na
Hom sal hulle kom; maar hulle almal sal beskaamd staan wat op Hom toornig is.
25 In die HERE sal geregverdig word en hulle beroem die hele geslag van Israel.
46
1 Bel het inmekaargesak, Nebo staan krom; hulle afgode is vir die diere en die
vee; beelde wat julle rondgedra het, is opgelaai, 'n vrag vir die vermoeide
diere.
2 Saam staan hulle krom, inmekaargesak; hulle kon die vrag nie red nie, maar het
self in gevangenskap gegaan.
3 Luister na My, o huis van Jakob en die hele oorblyfsel van die huis van
Israel, julle wat deur My gedra is van die moederskoot af, opgeneem is van die
geboorte af;
4 en tot die ouderdom toe is Ék dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle
dra; Ék het dit gedoen, en Ék sal julle opneem, en Ék sal dra en red.
5 By wie wil julle My vergelyk en My net so maak en My gelykstel, dat ons
eenders kan wees?
6 Hulle wat goud uit die geldsak skud en silwer afweeg met die weegskaal, huur
'n goudsmid, en hy maak daar 'n god van; hulle kniel neer, ook buig hulle.
7 Hulle hef hom op die skouer; hulle dra hom en sit hom op sy plek neer. Daar
staan hy! Hy wyk nie van sy plek nie; ook al roep iemand hom, hy antwoord nie;
hy verlos hom nie uit sy benoudheid nie.
8 Dink hieraan en wees beslis; neem dit ter harte, o afvalliges!
9 Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen
ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie;
10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie
gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;
11 wat 'n roofvoël roep uit die Ooste, die man van my raad uit 'n ver land; soos
Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit
ook doen.
12 Luister na My, julle wat hard is van hart, julle wat ver is van die
geregtigheid!
13 Ek bring my geregtigheid naby; dit is nie ver nie, en my heil sal nie vertoef
nie; en Ek gee heil in Sion, aan Israel my heerlikheid.
47
1 Kom af en sit in die stof, jonkvrou, dogter van Babel! Sit op die grond sonder
troon, dogter van die Chaldeërs! Want jy sal nie langer genoem word die
vertroetelde en verwénde nie.
2 Neem die handmeul en maal meel; slaan jou sluier op, tel die kleed op,
ontbloot die been, trek deur die riviere!
3 Laat jou skaamte ontbloot word, ja, jou skande gesien word! Ek sal wraak neem
en geen mens verskoon nie.
4 Ons Verlosser--sy Naam is HERE van die leërskare, die Heilige van Israel.
5 Sit doodstil, en gaan in die duisternis, dogter van die Chaldeërs! want jy sal
nie langer genoem word gebiedster van die koninkryke nie.
6 Ek was toornig op my volk, Ek het my erfdeel ontheilig en hulle in jou hand
oorgegee: jy het hulle geen barmhartigheid bewys nie, op die grysaard het jy jou
juk baie swaar laat druk
7 en gesê: Ek sal in ewigheid wees, gebiedster vir altyd; jy het hierdie dinge
nie ter harte geneem nie, aan die einde daarvan nie gedink nie.
8 Hoor dan nou dit, wellustige wat so veilig sit, wat in jou hart sê: Dit is ek
en niemand anders nie! Ek sal nie as weduwee sit of kinderloosheid ken nie.
9 Hierdie twee dinge sal dan in 'n oomblik, op een dag, oor jou kom:
kinderloosheid en weduweeskap; in volle maat sal hulle jou oorval, ondanks die
veelheid van jou towerye, ondanks die groot menigte van jou besweringe.
10 En jy het op jou boosheid vertrou, jy het gesê: Niemand sien my nie! Jou
wysheid en jou kennis het jou verlei, sodat jy in jou hart gesê het: Ek is dit,
en niemand anders nie!
11 Daarom oorval 'n onheil jou wat jy nie sal weet om te besweer nie; en 'n
onheil val op jou wat jy nie kan versoen nie, en skielik oorval jou 'n
verwoesting sonder dat jy dit weet.
12 Tree tog op met jou besweringe en met die menigte van jou towerye waarmee jy
jou vermoei het van jou jeug af; miskien kan jy iets uitrig, miskien kan jy
skrik aanjaag!
13 Jy het jou vermoei met die menigte van jou planne; laat hulle tog optree en
jou red--die wat die hemel indeel, die sterrekykers wat elke maand laat weet wat
oor jou sal kom.
14 Kyk, hulle het geword soos stoppels, vuur het hulle verbrand; hulle kan
hulself nie red uit die mag van die vlam nie--dit is geen kool om by warm te
word nie, geen vuur om daarvoor te sit nie!
15 Dit het jy aan hulle--jou koopmans--met wie jy jou vermoei het van jou jeug
af; elkeen dwaal sy eie koers; niemand is daar wat jou red nie.
48
1 Hoor dit, huis van Jakob wat julleself noem met die naam van Israel en uit die
waters van Juda voortgekom het, wat sweer by die Naam van die HERE en die God
van Israel roem, maar nie in waarheid of in geregtigheid nie--
2 want hulle noem hul na die heilige stad en steun op die God van Israel, HERE
van die leërskare is sy Naam.
3 Die vorige dinge het Ek lankal verkondig, en uit my mond het dit uitgegaan, en
Ek het dit laat hoor; skielik het Ek dit volbring, en dit het gekom.
4 Omdat Ek geweet het dat jy halsstarrig is, en jou nek 'n ystersening is, en
jou voorhoof koper,
5 daarom het Ek jou dit lank tevore verkondig; voordat dit gekom het, het Ek jou
dit laat hoor, dat jy nie sou sê: My afgod het dit gedoen, of my gesnede beeld
of my gegote beeld het dit beveel nie.
6 Jy het dit gehoor--aanskou dit alles! Sal júlle dit dan nie verkondig nie? Van
nou af laat Ek jou nuwe dinge hoor en geheime wat jy nie geweet het nie.
7 Nou is hulle geskape en nie tevore nie; en voor vandag het jy niks daarvan
gehoor nie, dat jy nie sou sê: Kyk, ek het dit geweet nie!
8 Ja, jy het dit nie gehoor nie, ook het jy dit nie geweet, ook het jou oor
tevore nie daarvoor oopgegaan nie; want Ek het geweet dat jy baie troueloos
handel, en dat jy van die moederskoot af 'n oortreder genoem is.
9 Om my Naam ontwil vertraag Ek my toorn, en om my roem ontwil bedwing Ek My jou
ten goede, om jou nie uit te roei nie.
10 Kyk, Ek het jou gelouter, maar nie soos silwer nie; Ek het jou beproef in die
smeltkroes van ellende.
11 Om My ontwil, om My ontwil sal Ek dit doen--want ag, hoe is my Naam
ontheilig! --en Ek sal my eer aan geen ander gee nie.
12 Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die
Eerste, ook is Ek die Laaste.
13 Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as
Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam.
14 Kom bymekaar, julle almal, en luister! Wie onder hulle het dit verkondig? Hy
vir wie die HERE liefhet, sal sy welbehae voltrek aan Babel, en sy mag aan die
Chaldeërs.
15 Ek, Ek het dit gespreek, ook hom geroep; Ek het hom laat kom, en in sy weg
sal hy voorspoedig wees.
16 Kom julle nader na My, hoor dit: Ek het van die begin af nie in die geheim
gespreek nie; van die tyd af dat dit gebeur, is Ek daar! En nou het die Here
HERE my met sy Gees gestuur.
17 So sê die HERE, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die HERE jou
God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.
18 Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos
'n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see;
19 dan sou jou nakomelinge gewees het soos die sand, en die wat uit jou liggaam
voortkom, soos die korreltjies daarvan; sy naam sou nie uitgeroei of verdelg
word voor my aangesig nie!
20 Gaan weg uit Babel, vlug weg van die Chaldeërs! Verkondig met jubelklank,
laat dit hoor, bring dit uit tot by die einde van die aarde! Sê: Die HERE het sy
kneg Jakob verlos;
21 en hulle het geen dors gehad nie, in die woesteny het Hy hulle gelei; Hy het
water uit die rots vir hulle laat stroom en die rots geklowe, sodat die waters
weggevloei het.
22 Geen vrede, sê die HERE, vir die goddelose nie!
49
1 Hoor na My, eilande, en luister, volke wat ver is! Die HERE het My geroep van
die moederskoot af, van my geboorte af het Hy my naam genoem.
2 En Hy het my mond gemaak soos 'n skerp swaard, in die skaduwee van sy hand het
Hy My verberg; en Hy het My 'n skerp pyl gemaak, in sy pylkoker My weggesteek;
3 en Hy het vir My gesê: Jy is my kneg, Israel, in wie Ek My verheerlik.
4 Maar Ék het gesê: Tevergeefs het Ek My vermoei, my krag vir niks en vrugteloos
verteer! Nogtans is my reg by die HERE, en my loon is by my God.
5 En nou sê die HERE wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te
wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word--en
Ek word geëer in die oë van die HERE, en my God is my sterkte--
6 Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme
van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot 'n lig
van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.
7 So sê die HERE, die Verlosser van Israel, sy Heilige, aan die diep veragte,
aan Hom wat 'n afsku is by die volk, 'n Kneg van die heersers: Konings sal dit
sien en opstaan, vorste, en hulle sal hul neerbuig ter wille van die HERE wat
getrou is, van die Heilige van Israel wat U uitverkies het.
8 So sê die HERE: In die tyd van die welbehae het Ek U verhoor, en in die dag
van heil het Ek U gehelp; en Ek behoed U en gee U as 'n verbond van die volk, om
die land weer op te rig, om verwoeste erfenisse te laat beërwe;
9 om te sê aan die gevangenes: Gaan uit! aan hulle wat in duisternis is: Kom te
voorskyn! By die paaie sal hulle wei, en op al die kaal heuwels sal hulle
weiveld wees.
10 Hulle sal geen honger en geen dors hê nie, en die woestyngloed en die son sal
hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies
aanbring na die fonteine van water.
11 En Ek sal al my berge tot 'n weg maak, en my grootpaaie sal opgevul wees.
12 Kyk, hulle hiér kom van ver, en kyk, hulle dáár kom van die noorde en van die
weste, en hulle dáár kom uit die land van die Siniete.
13 Jubel, o hemele, en juig, aarde; en berge breek uit in gejubel! Want die HERE
het sy volk getroos en ontferm Hom oor sy ellendiges.
14 Maar Sion sê: Die HERE het my verlaat, en die Here het my vergeet!
15 Kan 'n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van
haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!
16 Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.
17 Jou seuns kom gou, maar jou verwoesters en jou vernielers sal van jou af
wegtrek.
18 Slaan jou oë rondom op en kyk: hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou
toe! So waar as Ek leef, spreek die HERE, sekerlik sal jy hulle almal aansit
soos 'n versiersel, hulle ombind soos 'n bruid.
19 Want jou puinhope en jou verwoeste plekke en jou verwoeste land--sekerlik,
nou sal jy te nou wees vir die inwoners, en die wat jou verslind het, is ver
weg!
20 Nog sal die kinders waarvan jy beroof is, voor jou ore sê: Die plek is te nou
vir my; maak vir my plek, dat ek kan woon!
21 Dan sal jy in jou hart sê: Wie het vir my hierdie kinders gebaar, aangesien
ek kinderloos en onvrugbaar was, verban en verstote? En wie het hulle
grootgemaak? Kyk, ek het toe alleen oorgebly; hierdie kinders--waar was húlle?
22 So sê die Here HERE: Kyk, Ek sal my hand ophef na die nasies en my banier
opsteek na die volke; dan sal hulle jou seuns aan die boesem bring, en jou
dogters sal op die skouer gedra word;
23 en konings sal jou oppassers wees, hulle vorstinne jou pleegmoeders; hulle
sal voor jou neerbuig met die aangesig na die aarde toe en die stof van jou
voete lek; en jy sal weet dat Ek die HERE is, dat hulle nie beskaamd staan wat
My verwag nie.
24 Sal van 'n held die buit afgeneem word? Of sal die gevangenes van 'n
regverdige ontvlug?
25 Waarlik, so sê die HERE: Ja, die gevangenes van die held sal afgeneem word,
en die buit van die tiran sal ontvlug; en jou bestryder sal Ék bestry en jou
kinders sal Ek verlos.
26 En Ek sal jou verdrukkers hulle eie vlees laat eet, en van hulle eie bloed
sal hulle dronk word soos van mos. Dan sal alle vlees gewaar word dat Ek, die
HERE, jou Heiland is, en jou Verlosser die Magtige van Jakob.
50
1 So sê die HERE: Waar is tog die skeibrief van julle moeder waarmee Ek haar
verstoot het? Of wie is daar van my skuldeisers aan wie Ek julle verkoop het?
Kyk, weens jul ongeregtighede is julle verkoop, en weens jul oortredinge is
julle moeder verstoot.
2 Waarom het Ek gekom en daar was niemand nie, het Ek geroep en niemand
geantwoord nie? Is my hand werklik te kort om te verlos, of is daar in my geen
krag om uit te red nie? Kyk, deur my dreiging maak Ek die see droog; Ek maak die
riviere tot 'n woestyn, sodat hulle visse stink, omdat daar geen water is nie,
en hulle sterwe van dors.
3 Ek beklee die hemel met swartheid en bedek dit met 'n roukleed.
4 Die Here HERE het My 'n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide
te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die
leerlinge.
5 Die Here HERE het my oor geopen, en Ek was nie wederstrewig nie; Ek het nie
agteruitgewyk nie.
6 Ek het my rug gegee vir die wat slaan, en my wange vir die wat die hare
uitpluk; my aangesig het Ek nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie.
7 Maar die Here HERE help My; daarom kom Ek nie in die skande nie; daarom het Ek
my aangesig gemaak soos 'n keisteen, en Ek weet dat Ek nie beskaamd sal staan
nie.
8 Hy is naby wat My reg verskaf. Wie wil met My 'n regsaak begin? --laat ons
saam optree! Wie is my teëparty? --laat hom nader kom na My toe!
9 Kyk, die Here HERE help My: wie is dit wat My kan veroordeel? Kyk, hulle sal
almal verslyt soos 'n kleed; die mot sal hulle eet.
10 Wie is daar onder julle wat die HERE vrees, wat na die stem van sy Kneg
luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? --laat hy
vertrou op die Naam van die HERE en steun op sy God!
11 Kyk, julle almal wat 'n vuur aansteek, wat julle met vuurpyle omgord--wandel
in die vlam van julle vuur en onder die vuurpyle wat julle aangesteek het! Van
my hand het dit julle oorgekom; in smart sal julle neerlê.
51
1 Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die HERE soek! Aanskou
die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe
is.
2 Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle gebaar het; want as eenling
het Ek hom geroep en hom geseën en hom vermenigvuldig.
3 Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn
soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal
daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere.
4 Luister na My, my volk, en neig die oor tot My, my nasie! Want 'n wet sal van
My uitgaan, en Ek sal my reg vasstel as 'n lig van die volke.
5 My oorwinning is naby, my heil trek uit en my arms sal die volke oordeel; op
My sal die eilande wag, en op my arm sal hulle hoop.
6 Slaan julle oë op na die hemel en aanskou die aarde daaronder; want die hemel
sal soos rook verdwyn en die aarde soos 'n kleed verslyt en sy bewoners soos
muskiete sterwe; maar my heil sal vir ewig bestaan en my geregtigheid nie
verbreek word nie.
7 Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is!
Wees nie bevrees vir die smaad van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie;
8 want die mot sal hulle opeet soos 'n kleed, en die wurm sal hulle verteer soos
wol; maar my geregtigheid sal vir ewig bestaan en my heil van geslag tot geslag.
9 Ontwaak, ontwaak, beklee u met sterkte, arm van die HERE! Ontwaak soos in die
dae van die voortyd, onder die geslagte van lank gelede. Is dit nie u wat Rahab
neergekap, wat die seemonster deurboor het nie?
10 Is dit nie u wat die see, die waters van die groot wêreldvloed drooggemaak
het nie, wat van die dieptes van die see 'n pad gemaak het vir die deurtog van
die verlostes nie?
11 So sal dan die losgekooptes van die HERE teruggaan en na Sion kom met
gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle
verkry; kommer en gesug vlug weg.
12 Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet
sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? --
13 dat jy vergeet die HERE wat jou gemaak het, wat die hemel uitgesprei en die
aarde gegrond het; dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van
die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid
van die verdrukker?
14 Die in boeie gekromde word gou losgelaat en sal nie sterwend in die kuil
neerdaal nie, en sy brood sal nie ontbreek nie.
15 Maar Ek is die HERE jou God wat die see in beroering bring, sodat sy golwe
bruis; HERE van die leërskare is sy Naam!
16 En Ek het my woorde in jou mond gelê en in die skaduwee van my hand jou
verberg; om die hemel te plant en die aarde te grond en aan Sion te sê: My volk
is jy!
17 Ontwaak, ontwaak, staan op, Jerusalem, jy wat uit die hand van die HERE die
beker van sy grimmigheid gedrink het; die kelk van bedwelming het jy uitgedrink,
uitgesuig.
18 Nie een van al die seuns wat sy gebaar het, het haar gelei nie; en nie een
van al die seuns wat sy grootgemaak het, het haar aan die hand gegryp nie.
19 Hierdie twee dinge het jou oorgekom--wie het medelyde met jou? --verwoesting
en verbreking, hongersnood en swaard. Hoe sou ek jou kan troos?
20 Jou kinders het onmagtig gelê by al die straathoeke soos 'n eland in 'n
vangkuil, vol van die grimmigheid van die HERE, van die dreiging van jou God.
21 Daarom, hoor tog dit, ellendige, en jy wat dronk is, maar nie van wyn nie!
22 So sê jou Here, die HERE, en jou God wat die saak van sy volk verdedig: Kyk,
Ek neem die beker van bedwelming uit jou hand, die kelk van my grimmigheid; jy
sal dit verder nie meer drink nie.
23 Maar Ek sal dit in die hand gee van die wat jou droefheid aandoen, wat vir
jou gesê het: Buig, dat ons oor kan gaan; en jy moes jou rug maak soos die grond
en soos 'n straat vir die wat daaroor gaan.
52
1 Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan,
o Jerusalem, heilige stad! Want in jou sal verder geen onbesnedene of onreine
meer kom nie.
2 Skud jou los uit die stof, staan op, sit neer, o Jerusalem! Maak los die bande
aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion!
3 Want so sê die HERE: Vir niks is julle verkoop, julle sal ook sonder geld
gelos word.
4 Want so sê die Here HERE: In vroeër dae het my volk afgetrek na Egipte om daar
as vreemdeling te vertoef, en Assur het hom sonder rede verdruk.
5 Maar nou, wat vind Ek hier? spreek die HERE; want my volk is vir niks
weggeneem, sy oorheersers maak geraas, spreek die HERE, en my Naam word
gedurigdeur die hele dag gelaster.
6 Daarom sal my volk my Naam leer ken; daarom sal hulle weet op dié dag dat dit
Ek is wat spreek: Hier is Ek!
7 Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring,
wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan
Sion sê: Jou God is Koning!
8 Hoor! Jou wagte! Hulle verhef die stem, hulle jubel almal saam; want hulle
sien vlak voor hulle oë hoe die HERE terugkeer na Sion.
9 Breek uit, jubel almal saam, puinhope van Jerusalem! Want die HERE het sy volk
getroos, Jerusalem verlos.
10 Die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die
eindes van die aarde sal sien die heil van onse God.
11 Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan
uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die
HERE!
12 Want julle sal nie baie haastig weggaan en nie soos vlugtelinge vertrek nie;
want die HERE trek voor julle uit, en die God van Israel is julle agterhoede.
13 Kyk, my Kneg sal voorspoedig wees, Hy sal hoog en verhewe, ja, baie hoog
word.
14 Soos baie hulle oor U verstom het--so misvormd was sy voorkoms, geen mens
meer nie, en sy gestalte was nie soos dié van 'n mensekind nie--
15 so sal Hy baie nasies laat opspring, konings sal hulle mond oor Hom toehou;
want wat aan hulle nie vertel is nie, sien hulle; en wat hulle nie gehoor het
nie, word hulle gewaar.
53
1 Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE
geopenbaar?
2 Hy tog het soos 'n loot voor sy aangesig opgespruit en soos 'n wortel uit droë
grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie,
en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.
3 Hy was verag en deur die mense verlaat, 'n man van smarte en bekend met
krankheid; ja, soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons
het Hom nie geag nie.
4 Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte--dié het Hy gedra;
maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.
5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons
ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op
Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
6 Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die
HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.
7 Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak
nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is
voor sy skeerders--ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.
8 Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote--wie
het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille
van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.
9 En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by 'n ryke was Hy in sy
dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het
nie.
10 Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as
sy siel 'n skuldoffer aangebied het, sal Hy 'n nakroos sien; Hy sal die dae
verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees.
11 Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur
sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle
skuld dra.
12 Daarom sal Ek Hom 'n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit
verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders
getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid
het.
54
1 Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie! Breek uit in gejubel en juig, jy
wat geen weë gehad het nie! Want die kinders van die eensame is meer as die
kinders van die getroude, sê die HERE.
2 Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings
oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in.
3 Want jy sal regs en links uitbreek, en jou nageslag sal nasies in besit neem
en verwoeste stede bevolk.
4 Wees nie bevrees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie; en vrees geen skande
nie, want jy sal nie nodig hê om te bloos nie; maar jy sal die skande van jou
jonkheid vergeet en aan die smaad van jou weduweeskap nie meer dink nie.
5 Want jou Maker is jou Man; HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige
van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word.
6 Want soos 'n verlate vrou en 'n bedroefde van gees het die HERE jou geroep, en
soos 'n vrou uit die jeugtyd as sy versmaad was, sê jou God.
7 Vir 'n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou
vergader.
8 In 'n uitstorting van toorn het Ek vir 'n oomblik my aangesig vir jou verberg,
maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die HERE, jou
Verlosser.
9 Soos in die dae van Noag is dit vir My: soos Ek gesweer het dat die waters van
Noag nie meer oor die aarde sou gaan nie, so het Ek gesweer dat Ek nie op jou
toornig sal wees of jou sal dreig nie.
10 Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou
nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer.
11 Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in
sierklei, en Ek grondves jou in saffiere;
12 en jou borswerings maak Ek van robyne en jou poorte van karbonkels en jou
hele ringmuur van edelgesteentes.
13 En al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders
sal groot wees.
14 Deur geregtigheid sal jy bevestig word; wees ver van verdrukking, want jy
hoef nie bevrees te wees nie; en ver van verskrikking, want dit sal nie by jou
kom nie.
15 As hulle ook die aanval begin--dit is nie uit My nie; wie jou aanval, sal oor
jou val.
16 Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en 'n wapen voortbring
volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.
17 Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat
teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte
van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE.
55
1 o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop
en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!
2 Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat
nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle
siel hom in vettigheid verlustig.
3 Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met
julle 'n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid.
4 Kyk, Ek het hom tot 'n getuie van die volke gemaak, tot 'n vors en 'n gebieder
van die nasies.
5 Kyk, nasies wat jy nie geken het nie, sal jy roep; en nasies wat jou nie geken
het nie, sal na jou hardloop, ter wille van die HERE jou God en van die Heilige
van Israel, omdat Hy jou verheerlik het.
6 Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.
7 Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy
hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want
Hy vergeef menigvuldiglik.
8 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie,
spreek die HERE.
9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my
gedagtes as julle gedagtes.
10 Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie
terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit
en saad gee aan die saaier en brood aan die eter;
11 so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My
terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek
dit stuur.
12 Want met vreugde sal julle uittrek en met vrede gelei word; die berge en
heuwels sal voor julle in gejubel uitbreek, en al die bome van die veld in die
hande klap.
13 Vir 'n doringboom sal 'n sipres opgaan; vir 'n distel sal 'n mirteboom
opgaan; en dit sal vir die HERE wees tot 'n naam, tot 'n ewige teken wat nie
uitgeroei sal word nie.
56
1 So sê die HERE: Bewaar die reg en doen geregtigheid; want my heil is naby om
te kom en my geregtigheid om geopenbaar te word.
2 Welgeluksalig is die mens wat dit doen en die mensekind wat daaraan vashou;
wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en sy hand terughou, dat dit
geen kwaad doen nie.
3 En laat die uitlander wat hom by die HERE aangesluit het, nie spreek en sê:
Die HERE sal my gewis afskei van sy volk nie; en laat die ontmande nie sê: Kyk,
ek is 'n droë boom nie.
4 Want so sê die HERE aan die ontmandes wat my sabbatte hou en verkies wat My
behaag en vashou aan my verbond:
5 Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure 'n gedenkteken en 'n naam gee
wat beter is as seuns en dogters; 'n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie
uitgeroei sal word nie.
6 En die uitlanders wat hulle by die HERE aangesluit het, om Hom te dien en om
die Naam van die HERE lief te hê deur sy knegte te wees--elkeen wat die sabbat
hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en hulle wat vashou aan my verbond,
7 hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in
my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op
my altaar; want my huis sal 'n huis van gebed genoem word vir al die volke.
8 Die Here HERE wat versamel diegene wat van Israel verdryf is, spreek: Ek sal
by hom nog meer versamel, by sy versameldes.
9 Al julle wilde diere van die veld, kom eet! Al julle wilde diere in die bos!
10 Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde
wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer.
11 En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie; en herders is hulle
wat nie weet om op te merk nie; almal loop hulle eie pad, elkeen na sy
onregverdige wins, almal saam.
12 Kom, sê hulle, laat ek wyn gaan haal, en laat ons sterk drank drink, en die
dag van môre sal wees soos vandag, buitengewoon groot!
57
1 Die regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; en die
vromes word weggeruk sonder dat iemand daarop let; want die regverdige word
weggeruk vanweë die boosheid.
2 Hy gaan in die vrede in: hulle sal rus op hulle bedde--hy wat sy reguit pad
loop.
3 Maar julle, kom hierheen, kinders van 'n towerheks, geslag van 'n owerspeler
en van haar wat hoereer!
4 Oor wie maak julle jul vrolik? Oor wie spalk julle die mond oop, steek julle
die tong uit? Is julle nie kinders van oortreding, 'n leuenagtige geslag nie,
5 wat verhit is by die terpentynbome, onder elke groen boom; wat die kinders
slag in die dale, onderkant die rotsklowe?
6 By die gladde klippe van die dal is jou deel; dit, dit is jou lot; ook het jy
vir hulle drankoffers uitgegiet, spysoffers gebring! Sou Ek daarmee vrede hê?
7 Jy het jou bed op 'n hoë en verhewe berg gemaak; ook het jy daar opgeklim om
offers te bring.
8 En agter die deur en die deurpos het jy jou gedenkteken gesit; want, ontrou
aan My, het jy jou bed ontbloot en beklim en wyd gemaak, en jy het vir jou
bepaal die loon wat van hulle moes kom; jy het hulle byslaap liefgehad, jy het
die vlees gesien.
9 En jy het na die koning getrek met olie en jou salf baie gemaak; en jy het jou
boodskappers gestuur na ver plekke, ja, diep na die doderyk toe.
10 Jy het moeg geword deur jou groot reis; tog het jy nie gesê: Dit is
tevergeefs nie! Vernuwing van jou krag het jy gevind; daarom het jy nie uitgeput
geraak nie.
11 Maar vir wie was jy bedug en bevrees? --want jy het 'n leuenaar geword en aan
My nie gedink nie; jy het dit nie ter harte geneem nie. Is dit nie omdat Ek swyg
nie, en dit baie lank al, dat jy My nie vrees nie?
12 Ék sal jou geregtigheid bekend maak en jou werke, dat hulle jou geen voordeel
bring nie.
13 As jy skreeu, laat jou hoop gode jou red; maar die wind lig hulle almal op,
'n luggie neem hulle weg. Maar wie op My vertrou, sal die land beërwe en my
heilige bergland in besit neem.
14 En hulle sal sê: Vul op, vul op, berei die weg, verwyder die struikelblok uit
die weg van my volk.
15 Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam:
Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige
van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die
hart van die verbryseldes.
16 Want Ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie, want die
gees sou voor my aangesig versmag en die siele wat Ek self gemaak het.
17 Ek was toornig vanweë die ongeregtigheid van hulle hebsug en het hulle
geslaan terwyl Ek My toornig verberg het; ewenwel het hulle afkerig voortgegaan
op hulle eie weg.
18 Ek het hulle weë gesien, en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan
hulle weer vertroosting skenk, naamlik aan hulle treuriges.
19 Ek skep die vrug van die lippe; vrede, vrede vir die wat ver en die wat naby
is, sê die HERE; en Ek sal hulle genees.
20 Maar die goddelose is soos 'n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom
nie, en sy waters gooi slyk en modder op.
21 Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie!
58
1 Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos 'n basuin! En
verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes.
2 Wel soek hulle My dag vir dag en het 'n behae in die kennis van my weë! Soos
'n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle
My na die regverdige verordeninge; hulle het 'n behae in die toenadering tot
God.
3 Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit
nie? --Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en
julle jaag al jul arbeiders aan.
4 Kyk, om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle
vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie.
5 Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy
sy hoof buig soos 'n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit
vas en 'n dag wat die HERE welgevallig is?
6 Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van
goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die
verdruktes en elke juk stukkend breek?
7 Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges,
swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom
klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?
8 Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit;
en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou
agterhoede wees.
9 Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal
sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die
vinger en die leuenagtige woord,
10 en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig;
dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.
11 En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou
gebeente sterk maak; en jy sal wees soos 'n tuin wat goed besproei is en soos 'n
fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.
12 En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van
vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte
mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak.
13 As jy jou voet terughou van die sabbat--om nie jou sake op my heilige dag te
doen nie, en as jy die sabbat 'n verlustiging noem en die heilige dag van die
HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie
geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie;
14 dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes
van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond
van die HERE het dit gespreek.
59
1 Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te
swaar om te hoor nie;
2 maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God,
en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.
3 Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid;
julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg.
4 Daar is niemand wat aanklaag in geregtigheid en niemand wat 'n regstryd voer
in waarheid nie; hulle vertrou op nietigheid en spreek valsheid, met moeite gaan
hulle swanger en baar onheil.
5 Basilisk-eiers broei hulle uit, en spinnerakke weef hulle; hy wat van hulle
eiers eet, moet sterwe; en as dit stukkend gedruk word, bars daar 'n adder uit.
6 Hulle weefsels deug nie vir klere nie, en met hulle voortbrengsels kan niemand
hom toemaak nie; hulle werke is onheilswerke, en die daad van geweld is in hulle
hande.
7 Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldige bloed te
vergiet; hulle gedagtes is onheilsgedagtes, verwoesting en verbreking is in
hulle paaie.
8 Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle
maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie.
9 Daarom is die reg ver van ons en bereik die geregtigheid ons nie; ons wag op
lig, maar kyk, daar is duisternis; op 'n helder skynsel, maar ons wandel in
dikke donkerheid.
10 Ons tas rond langs die muur soos blindes, en soos die wat geen oë het nie,
tas ons rond; ons struikel op die middag soos in die skemeraand; ons is onder
die gesondes soos dooie mense.
11 Ons brom almal soos bere, en soos duiwe kir ons aanhoudend; ons wag op reg,
maar dit is nie daar nie; op heil--dit bly ver van ons.
12 Want ons oortredinge is baie voor U, en ons sondes getuig teen ons; want ons
oortredinge staan voor ons, en ons ongeregtighede--ons ken hulle:
13 die afval en verloëning van die HERE en afwyking van agter onse God; die
uitspreek van verdrukking en oortreding, die opneem en uitstoot van leuentaal
uit die hart.
14 So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want
die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie.
15 Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder. Toe
het die HERE dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie.
16 En Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand
tussenbei tree nie; daarom het sy arm Hom gehelp en sy geregtigheid het Hom
ondersteun.
17 En Hy het geregtigheid aangetrek soos 'n pantser, en die helm van heil was op
sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as kleding en Hom gewikkel in
die ywer soos in 'n mantel.
18 Volgens die dade, daarmee ooreenkomstig sal Hy vergelde: grimmigheid aan sy
teëstanders, vergelding aan sy vyande; aan die eilande sal Hy die loon vergelde.
19 En hulle sal die Naam van die Here vrees van die westekant af, en sy
heerlikheid van die opgang van die son af; want Hy sal kom soos 'n saamgeperste
stroom wat die asem van die HERE aandrywe.
20 Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van
oortreding, spreek die HERE.
21 Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die HERE: My Gees wat op jou
is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en
ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos,
sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie.
60
1 Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan
oor jou op.
2 Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar
oor jóu sal die HERE opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.
3 En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang.
4 Slaan jou oë rondom op en kyk--hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe;
jou seuns kom van ver, en jou dogters word op die heup gedra.
5 Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim
word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies
kom na jou toe aan.
6 'n Menigte kamele sal jou oordek, die jong kamele van Mídian en Efa; hulle sal
almal uit Skeba kom; hulle bring goud en wierook en verkondig met blydskap die
roemryke dade van die HERE.
7 Al die kleinvee van Kedar sal vir jou versamel word, die ramme van Nebájot sal
jou dien; hulle kom as welgevallige offer op my altaar, en Ek sal my heerlike
huis heerlik maak.
8 Wie is dit wat daar aangevlieg kom soos 'n wolk en soos duiwe na hulle
vensters?
9 Ja, op My wag die eilande, en die skepe van Tarsis kom vooraan, om jou seuns
van ver te bring. Hul silwer en hul goud is by hulle, vir die Naam van die HERE
jou God en vir die Heilige van Israel, omdat Hy jou heerlik gemaak het.
10 En uitlanders sal jou mure bou, en hulle konings sal jou dien; want in my
toorn het Ek jou geslaan, maar in my welbehae het Ek My oor jou ontferm.
11 En jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit
word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings
in triomftog.
12 Want die nasie en die koninkryk wat jou nie sal dien nie, sal ondergaan, en
dié nasies sal seker verwoes word.
13 Die heerlikheid van die Líbanon sal na jou toe kom, die sipres, die plataan
en die denneboom almal saam, om te versier die plek van my heiligdom; en Ek sal
die plek van my voete heerlik maak.
14 En die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en
almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou
noem: Stad van die HERE, Sion van die Heilige van Israel.
15 In plaas dat jy verlate en gehaat is sonder dat iemand daar deurtrek, sal Ek
jou maak tot 'n ewige heerlikheid, 'n vreugde van geslag tot geslag.
16 En jy sal die melk van nasies suig en die bors van konings suig en sal weet
dat Ek, die HERE, jou Heiland is, en jou Losser die Magtige van Jakob.
17 Vir koper bring Ek goud en vir yster bring Ek silwer, en vir hout koper en
vir klippe yster; en Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou
bestuurders.
18 Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie--van geen verwoesting of
verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte
Lof.
19 Die son sal bedags jou lig nie meer wees nie, en as glans sal die maan vir
jou geen skynsel gee nie; maar die HERE sal vir jou wees 'n ewige lig, en jou
God sal jou sieraad wees.
20 Jou son sal nie meer ondergaan nie, en jou maan nie kleiner word nie; want
die HERE sal vir jou wees 'n ewige lig, en die dae van jou treurigheid is verby.
21 En jou volk sal almal regverdiges wees, vir ewig sal hulle die land besit--as
lote deur My geplant, 'n werk van my hande, tot my verheerliking.
22 Die kleinste sal 'n geslag word en die geringste 'n magtige nasie. Ek, die
HERE, sal dit op die regte tyd gou laat kom.
61
1 Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om 'n blye
boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die
gebrokenes van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die
geboeides opening van die gevangenis;
2 om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die HERE en 'n dag van die wraak
van onse God; om al die treurendes te troos;
3 om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir
as, vreugde-olie vir treurigheid, 'n gewaad van lof vir 'n verslae gees; sodat
hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, 'n planting van die HERE, tot
sy verheerliking.
4 En hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer
oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag.
5 Die vreemdelinge sal staan en julle kleinvee oppas, en uitlanders sal julle
landbouers en wynboere wees.
6 Maar júlle sal priesters van die HERE genoem word; aan julle sal gesê word:
Dienaars van onse God! Julle sal die rykdom van die nasies eet en op hulle
heerlikheid julle beroem.
7 In plaas van julle skande ontvang julle 'n dubbele deel; en in plaas van die
smaad sal hulle jubel oor hul deel. Daarom sal hulle in hul land 'n dubbele deel
in besit neem, ewige vreugde geniet.
8 Want Ek, die HERE, het die reg lief; Ek haat die roof met onreg, en Ek sal
hulle getrou hul loon gee en 'n ewige verbond met hulle sluit.
9 En hulle nageslag sal bekend word onder die nasies en hulle nakomelinge onder
die volke; almal wat hulle sien, sal hulle daarvoor aansien dat hulle 'n geslag
is wat die HERE geseën het.
10 Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met
die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel--soos 'n
bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos 'n bruid wat haar
versier met haar juwele.
11 Want soos die aarde sy plante voortbring, en soos 'n tuin sy gewasse laat
uitspruit, so sal die Here HERE geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog
van al die nasies.
62
1 Ter wille van Sion sal Ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil
wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos 'n glans en sy heil soos 'n
fakkel wat brand.
2 En die nasies sal jou geregtigheid sien en al die konings jou heerlikheid; en
jy sal met 'n nuwe naam genoem word wat die mond van die HERE sal noem.
3 En jy sal 'n sierlike kroon wees in die hand van die HERE en 'n koninklike
tulband in die hand van jou God.
4 Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou land sal nie meer genoem
word Wildernis nie. Maar jy sal genoem word: my welbehae, en jou land: die
getroude; want die Here het 'n behae in jou, en jou land sal getroud wees.
5 Want soos 'n jonkman 'n jongedogter trou, so sal jou kinders jou trou; en soos
die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees.
6 o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en
die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy
beloftes--moenie rus nie
7 en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot 'n lof
op aarde!
8 Die HERE het gesweer by sy regterhand en by sy magtige arm: Waarlik, Ek sal
jou koring nie meer gee dat jou vyande dit eet nie, en uitlanders sal jou mos
nie drink waarvoor jy gewerk het nie.
9 Maar hulle wat dit insamel, sal dit eet en die HERE prys; en hulle wat dit
oes, sal dit drink in my heilige voorhowe.
10 Gaan in, gaan in deur die poorte, berei die weg van die volk! Vul op, vul op
die grootpad, gooi die klippe weg, steek 'n banier op oor die volke!
11 Kyk, die HERE laat dit hoor tot by die einde van die aarde: Sê aan die dogter
van Sion: Kyk, jou heil kom; kyk, sy loon is by Hom en sy beloning is voor sy
aangesig.
12 En hulle sal genoem word: die heilige volk, die verlostes van die HERE; en jy
sal genoem word: die begeerde, die stad wat nie verlaat is nie.
63
1 Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar,
pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek
wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos.
2 Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap?
3 Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek
het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle
lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het.
4 Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het
gekom.
5 En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar
daar was niemand wat ondersteun nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid
het My ondersteun.
6 En Ek het volke vertrap in my toorn en hulle dronk gemaak in my grimmigheid;
en Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop.
7 Ek sal die goedertierenhede van die HERE prys, die roemryke dade van die HERE,
ooreenkomstig alles wat die HERE aan ons bewys het, en die veelvuldige goedheid
jeens die huis van Israel wat Hy aan hulle bewys het, na sy barmhartighede en na
die grootheid van sy goedertierenhede.
8 Want Hy het gesê: Hulle is tog my volk, kinders wat nie sal lieg nie. So het
Hy dan vir hulle 'n Heiland geword.
9 In al hulle benoudheid was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle
verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hy hulle verlos; en Hy het hulle
opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd.
10 Maar húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir
hulle in 'n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry.
11 Toe het sy volk gedink aan die dae van die ou tyd, van Moses: Waar is Hy wat
hulle uit die see laat optrek het saam met die herder van sy kudde? Waar is Hy
wat sy Heilige Gees in hulle midde gegee het?
12 Wat sy heerlike arm laat trek het aan die regterhand van Moses; wat die
waters voor hulle uit gekloof het, om vir Hom 'n ewige Naam te maak?
13 Wat hulle deur die watervloede laat trek het soos 'n perd deur die woestyn,
sonder om te struikel?
14 Soos vee wat aftrek in die laagte, het die Gees van die HERE hulle na die rus
gelei. Só het U u volk gelei, om vir U 'n heerlike Naam te maak.
15 Kyk van die hemel neer en aanskou uit u heilige en heerlike woning! Waar is u
ywer en u magtige dade? Die ontroering van u binneste en u barmhartighede het
hulle jeens my ingehou.
16 Want U is ons Vader! Want Abraham weet van ons nie, en Israel ken ons nie. U,
o HERE, is ons Vader; ons Verlosser is van ouds af u Naam.
17 HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat
ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u
erfdeel!
18 U heilige volk het dit vir 'n kort rukkie besit; ons teëstanders het u
heiligdom vertrap.
19 Ons het geword soos hulle oor wie U nie van ouds af geheers het nie, oor wie
u Naam nie uitgeroep is nie.
64
1 Ag, as U maar die hemele wou skeur, wou neerdaal, dat die berge wankel voor u
aangesig
2 --soos vuur die houtjies aan die brand steek, vuur die water laat opborrel--om
u Naam aan u teëstanders bekend te maak, sodat nasies voor u aangesig kan bewe
3 wanneer U vreeslike dinge doen waar ons nie op gehoop het nie--as U maar wou
neerdaal, sodat die berge wankel voor u aangesig!
4 Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het 'n God
gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U.
5 U kom hom tegemoet wat met vreugde geregtigheid beoefen, hulle wat aan U dink
op u weë. Kyk, U was toornig, en ons het gesondig; in dié toestand was ons baie
lank, en--sal ons verlos word?
6 En ons het almal geword soos 'n onreine, en al ons geregtighede soos 'n
besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het
ons weggevoer soos die wind.
7 En daar was niemand wat u Naam aangeroep het, wat hom beywer het om U aan te
kleef nie; want U het u aangesig vir ons verberg en laat ons wegsmelt deur ons
ongeregtighede.
8 Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en
ons almal is die werk van u hand.
9 HERE, wees nie uitermate toornig nie, en dink nie vir ewig aan die
ongeregtigheid nie; aanskou dit tog dat ons almal u volk is.
10 U heilige stede het 'n woestyn geword; Sion het 'n woestyn geword, Jerusalem
'n wildernis.
11 Ons heilige en heerlike huis waar ons vaders U geloof het, is met vuur
verbrand, en al wat vir ons dierbaar was, het 'n puinhoop geword.
12 HERE, sal U by hierdie dinge U bedwing? Sal U swyg en ons uitermate verdruk?
65
1 Ek het My laat raadpleeg deur wie na My nie gevra het nie; Ek het My laat vind
deur die wat My nie gesoek het nie; aan 'n nasie wat na my Naam nie genoem is
nie, het Ek gesê: Hier is Ek, Hier is Ek!
2 Ek het my hande die hele dag uitgebrei na 'n opstandige volk wat wandel op 'n
weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan;
3 'n volk wat My gedurigdeur in die aangesig terg, wat offer in tuine en rook
laat opgaan op bakstene;
4 wat in die grafte sit en vernag in verborge plekke; wat varkvleis eet, en daar
is brokke onrein vleis in hulle skottels;
5 wat sê: Bly daar! Kom nie naby my nie, want ek is heilig vir jou! Hierdie
mense is 'n rook in my neus, 'n vuur wat die hele dag brand.
6 Kyk, dit staan voor my aangesig geskrywe; Ek sal nie swyg nie, tensy dat Ek
dit vergeld het; ja, Ek sal dit vergelde in hulle boesem--
7 julle ongeregtighede en die ongeregtighede van julle vaders tesame, sê die
HERE; dat hulle offerrook laat opgaan het op die berge en My smaadheid aangedoen
het op die heuwels--ja, Ek sal vóór alles hulle loon in hulle boesem toemeet.
8 So spreek die HERE: Soos wanneer iemand mos vind in 'n tros druiwe en sê:
Verniel dit nie, want daar is 'n seën in--sal Ek doen ter wille van my knegte,
om nie alles te verniel nie.
9 En Ek sal 'n nakroos uit Jakob laat voortkom en uit Juda die erfbesitter van
my berge; en my uitverkorenes sal dit erflik in besit neem en my knegte daar
woon.
10 En Saron sal 'n weiveld vir kleinvee word, en die dal Agor 'n lêplek vir
beeste, vir my volk wat My gesoek het.
11 Maar julle wat die HERE verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat 'n tafel
dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot--
12 Ek sal julle bestem vir die swaard, en julle almal sal buig om geslag te
word, omdat Ek geroep maar julle nie geantwoord het nie, Ek gespreek maar julle
nie geluister het nie, maar gedoen het wat verkeerd is in my oë en verkies het
wat My nie behaag nie.
13 Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger
bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly
wees, maar julle sal beskaamd staan.
14 Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is, maar júlle sal skreeu
van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees.
15 En julle sal jul naam vir my uitverkorenes as 'n woord van verwensing laat
agterbly, en die Here HERE sal jou ombring. Maar sy knegte sal Hy noem met 'n
ander naam,
16 sodat hy wat homself seën in die land, hom sal seën by die God van waarheid;
en hy wat sweer in die land, sal sweer by die God van waarheid, omdat die vorige
benoudhede vergeet is en verborge vir my oë.
17 Want kyk, Ek skep nuwe hemele en 'n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal
nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.
18 Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep
Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees.
19 En Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk; en daarin sal nie meer
gehoor word die stem van geween of die stem van geskreeu nie.
20 Daarvandaan sal nie meer kom 'n suigling van 'n paar dae of 'n grysaard wat
sy dae nie vol uitlewe nie; want 'n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie
sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word.
21 En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet:
22 hulle sal nie bou dat 'n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat 'n
ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome,
en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.
23 Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want
hulle is 'n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is
by hulle.
24 En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek.
25 Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos 'n bees, en
stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf
aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE.
66
1 So sê die HERE: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete.
Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek
sal wees?
2 Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek
die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees,
en wat bewe vir my woord.
3 Wie 'n bees as offer slag, is soos hy wat 'n man doodslaan; wie 'n lam offer,
soos hy wat 'n hond se nek breek; wie 'n spysoffer bring--dit is varkbloed; wie
wierook as gedenkoffer bring, is soos hy wat 'n afgod prys. Soos húlle hul eie
weë verkies het en hulle siel 'n behae het in hul verfoeisels,
4 so sal Ek ook hulle ongeluk verkies en wat hulle met skrik vervul, oor hulle
laat kom; omdat Ek geroep en niemand geantwoord het nie, Ek gespreek en hulle
nie gehoor het nie; maar hulle het gedoen wat verkeerd is in my oë, en verkies
wat My nie behaag nie.
5 Hoor die woord van die HERE, julle wat vir sy woord bewe! Julle broers, julle
haters wat julle verstoot om my Naam ontwil, sê: Laat die HERE heerlik word, dat
ons julle vreugde kan aanskou! Maar hulle sal beskaamd staan!
6 Hoor--'n rumoer uit die stad! Hoor--uit die tempel! Hoor--dit is die HERE wat
sy vyande hulle dade vergeld!
7 Voordat sy weë gekry het, het sy gebaar; voordat smart oor haar gekom het, is
sy van 'n seuntjie verlos.
8 Wie het so iets gehoor? Wie het sulke dinge gesien? Word 'n land op een enkele
dag gebore? Of word 'n nasie met een slag gebaar? Want Sion het weë gekry,
meteens haar kinders gebaar.
9 Sou Ek naby die geboorte bring en nie laat baar nie? sê die HERE. Of sou Ek
wat laat baar, self toesluit? sê jou God.
10 Wees bly saam met Jerusalem en juig oor haar, almal wat haar liefhet! Wees
vrolik saam met haar, baie vrolik, almal wat oor haar treurig gewees het!
11 sodat julle kan suig en versadig word aan die bors van haar vertroostinge;
sodat julle kan uitdrink en julle verlustig in die oorvloed van haar
heerlikheid.
12 Want so sê die HERE: Kyk, die vrede lei Ek na haar toe soos 'n rivier en die
rykdom van die nasies soos 'n oorlopende stroom; en julle sal suig, julle sal op
die heup gedra word en op die knieë getroetel word.
13 Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle
sal in Jerusalem getroos word.
14 En julle sal dit sien, en julle hart sal vrolik wees, en julle gebeente sal
groei soos die jong gras; dan sal die hand van die HERE bekend word aan sy
knegte, en Hy sal op sy vyande grimmig wees.
15 Want kyk, die HERE sal kom in vuur, en sy waens soos 'n stormwind, om in
hittigheid sy toorn te openbaar en in vuurvlamme sy dreiging.
16 Want met vuur en met sy swaard sal die HERE strafgerig hou oor alle vlees, en
hulle wat deur die HERE verslaan is, sal baie wees.
17 Die wat hulleself heilig en hulleself reinig vir die tuine, terwyl hulle die
een nadoen wat in die middel staan; wat varkvleis eet en verfoeisels en
muise--almal saam sal hulle tot niet raak, spreek die HERE.
18 Maar Ek ken hulle werke en hulle gedagtes; die tyd kom dat Ek al die nasies
en tonge versamel; en hulle sal kom en my heerlikheid sien.
19 En Ek sal 'n teken onder hulle doen, en vrygeraaktes uit hulle stuur na die
nasies, na Tarsis, Pul en Lud, wat die boog span, na Tubal en Jawan, na die ver
kuslande wat my tyding nie gehoor en my heerlikheid nie gesien het nie; en hulle
sal my heerlikheid onder die nasies verkondig.
20 En hulle sal al julle broers bring uit al die nasies as offergawe aan die
HERE, op perde en op waens en in draagstoele en op muilesels en op kamele na my
heilige berg, na Jerusalem, sê die HERE, net soos die kinders van Israel die
spysoffer in 'n rein voorwerp bring na die huis van die HERE.
21 En ook sal Ek uit hulle priesters en Leviete neem, spreek die HERE.
22 Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal
bestaan, spreek die HERE, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees.
23 En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom
om te aanbid voor my aangesig, sê die HERE.
24 En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan
het; want hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie, en
hulle sal afgryslik wees vir alle vlees.