J a k o b u s 1
1 Jakobus, 'n dienskneg van God en die Here Jesus Christus, aan die twaalf
stamme wat in die verstrooiing is: Groete!
2 Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge
val,
3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.
4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en
sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.
5 En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan
almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.
6 Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is
soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.
7 Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie--
8 so 'n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.
9 Maar laat die broeder wat gering is, roem in sy hoogheid,
10 en die ryke in sy geringheid, want soos 'n blom van die gras sal hy verbygaan.
11 Want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af,
en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal die ryke ook in sy weë
verwelk.
12 Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het,
sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom
liefhet.
13 Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want
God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.
14 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok
word.
15 Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot
volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.
16 Moenie dwaal nie, my geliefde broeders.
17 Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van
die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.
18 Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat
ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees.
19 So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om
te praat, stadig om toornig te word.
20 Want die toorn van 'n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie.
21 Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang
met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red.
22 En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.
23 Want as iemand 'n hoorder van die woord is en nie 'n dader nie, dié is soos
'n man wat sy natuurlike gesig in 'n spieël sien;
24 want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.
25 Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly,
hy sal, omdat hy nie 'n vergeetagtige hoorder is nie, maar 'n dader van die werk,
gelukkig wees in wat hy doen.
26 As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou
nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is tevergeefs.
27 Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en
weduwees in hulle verdrukking te besoek en jouself vlekkeloos te bewaar van die
wêreld.
2
1 My broeders, laat julle geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die
heerlikheid, nie wees met aanneming van die persoon nie.
2 Want as daar in julle vergadering 'n man inkom met goue ringe aan die vingers,
met 'n pragtige kleed aan, en daar kom ook 'n arm man in met vuil klere aan;
3 en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op
hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier
onder my voetbank sit--
4 het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde
oorlegginge geword nie?
5 Luister, my geliefde broeders--het God nie die armes van hierdie wêreld
uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof
het aan die wat Hom liefhet nie?
6 Maar julle het die arm man oneer aangedoen. Is dit nie juis die rykes wat
julle oorweldig en julle voor die regbanke sleep nie?
7 Is dit nie hulle wat die edele Naam belaster wat oor julle aangeroep is nie?
8 As julle ewenwel die koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou
naaste liefhê soos jouself--dan doen julle goed.
9 Maar as julle partydig is, doen julle sonde en word deur die wet as oortreders
bestraf.
10 Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal
skuldig geword.
11 Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie
doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy 'n oortreder
van die wet geword.
12 Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid
geoordeel sal word.
13 Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys
het nie; en die barmhartigheid roem teen die oordeel.
14 Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het
nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?
15 As daar nou 'n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek
het,
16 en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word
versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie--wat baat
dit?
17 Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.
18 Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit
jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.
19 Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.
20 Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?
21 Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op
die altaar geoffer het nie?
22 Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome
geword het uit die werke?
23 En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot
geregtigheid gereken, en hy is 'n vriend van God genoem.
24 Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen
uit die geloof nie?
25 En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die
boodskappers ontvang en met 'n ander pad weggestuur het nie?
26 Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die
werke dood.
3
1 Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons 'n
groter oordeel sal ondergaan.
2 Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy
'n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou.
3 Kyk, ons sit stange in die perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam kan wees,
en ons stuur hulle hele liggaam daarmee.
4 Kyk, ook die skepe, alhoewel hulle so groot is en deur hewige winde
voortgedryf word, word gestuur deur 'n baie klein roer net waarheen die stuurman
wil.
5 Net so is die tong ook 'n klein lid en beroem hom op groot dinge--kyk hoe 'n
groot hoop hout steek 'n klein vuurtjie aan die brand.
6 Die tong is ook 'n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so 'n plek neem
die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele
lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek.
7 Want elke soort natuur van wilde diere en voëls en kruipende sowel as seediere
word getem en is getem deur die menslike natuur.
8 Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is 'n onbedwingbare kwaad, vol
dodelike gif.
9 Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na
die gelykenis van God gemaak is.
10 Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so
te wees nie.
11 'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie?
12 'n Vyeboom, my broeders, kan tog nie olywe voortbring, of 'n wingerdstok vye
nie? So kan geen fontein brak en vars water voortbring nie.
13 Wie is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy goeie lewenswandel sy
werke in sagmoedige wysheid toon.
14 Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en
lieg teen die waarheid nie.
15 Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels;
16 want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.
17 Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik,
geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.
18 En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.
4
1 Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van
julle welluste wat in julle lede stryd voer nie?
2 Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan
niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid
nie.
3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle
welluste deur te bring.
4 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld
vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n
vyand van God.
5 Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat
in ons woon?
6 Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar
aan die nederiges gee Hy genade.
7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.
8 Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en
suiwer die harte, julle dubbelhartiges!
9 Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en
julle blydskap in bedruktheid.
10 Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.
11 Broeders, moenie van mekaar kwaad spreek nie. Dié wat kwaad spreek van sy
broeder en sy broeder oordeel, spreek kwaad van die wet en oordeel die wet; en
as jy die wet oordeel, is jy nie 'n dader van die wet nie, maar 'n regter.
12 Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf. Maar jy, wie is
jy wat 'n ander oordeel?
13 Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar
een jaar deurbring en handel drywe en wins maak--
14 julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe?
Dit is tog maar 'n damp wat vir 'n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.
15 In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat
doen.
16 Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.
17 Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.
5
1 Kom nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom.
2 Julle rykdom is bedorwe, en julle klere is deur die motte verniel.
3 Julle goud en silwer is verroes, en hulle roes sal tot 'n getuienis teen julle
wees en sal soos 'n vuur julle vlees verteer. Julle het skatte vergader in die
laaste dae.
4 Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle
agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore
van die Here van die leërskare.
5 Julle het op die aarde 'n weelderige en losbandige lewe gelei; julle het jul
harte vet gevoer soos op 'n slagdag.
6 Veroordeel, vermoor het julle die regverdige; hy versit hom nie teen julle nie.
7 Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die
landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat
dit die vroeë en die laat reën ontvang het.
8 Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die
Here is naby.
9 Moenie teen mekaar sug nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk,
die Regter staan voor die deur.
10 Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in
die Naam van die Here gespreek het.
11 Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die
lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat
die Here vol medelye en ontferming is.
12 Maar bo alles, my broeders, moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie
by die aarde nie en ook geen ander eed nie; maar laat julle ja ja wees en julle
nee nee, sodat julle nie onder 'n oordeel val nie.
13 Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat
hom psalmsing.
14 Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente
inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met
olie gesalf het.
15 En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig.
Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.
16 Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die
vurige gebed van 'n regverdige het groot krag.
17 Elía was 'n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën
nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie;
18 en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug
laat uitspruit.
19 Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom
bekeer,
20 laat hy weet dat die een wat 'n sondaar van sy dwaalweg bekeer, 'n siel uit
die dood sal red en 'n menigte sondes sal bedek.