R i g t e r s 1
1 En ná die dood van Josua het die kinders van Israel die HERE geraadpleeg en
gesê: Wie van ons moet eerste optrek teen die Kanaäniete om teen hulle te veg?
2 En die HERE het gesê: Juda moet optrek. Kyk, Ek gee die land in sy hand.
3 Toe sê Juda aan sy broer Símeon: Trek saam met my op in my aandeel, dat ons
die Kanaäniete kan beveg, dan sal ek ook met jou saam optrek in jou aandeel. En
Símeon het saam met hom getrek;
4 en toe Juda optrek, het die HERE die Kanaäniete en Feresiete in hul hand
gegee, sodat hulle tien duisend man van hulle by Besek verslaan het.
5 En hulle het Adóni-Besek aangetref in Besek en teen hom geveg, en die
Kanaäniete en Feresiete verslaan.
6 En toe Adóni-Besek wegvlug, het hulle hom agternagejaag en hom gevang en sy
duime en sy groottone afgekap.
7 Daarop sê Adóni-Besek: Sewentig konings met afgekapte duime en groottone het
onder my tafel krummels opgetel: soos ek gedoen het, so het God my vergeld. En
hulle het hom na Jerusalem gebring, en daar het hy gesterwe.
8 En die kinders van Juda het teen Jerusalem geveg en dit ingeneem en dit met
die skerpte van die swaard verslaan en die stad aan die brand gesteek.
9 En daarna het die kinders van Juda afgetrek om te veg teen die Kanaäniete wat
op die Gebergte en in die Suidland en in die Laeveld gewoon het.
10 Juda het dan teen die Kanaäniete uitgetrek, die inwoners van Hebron--maar die
naam van Hebron was tevore Kirjat-Arba en hulle het Sesai en Ahíman en Talmai
verslaan.
11 En daarvandaan het hy uitgetrek teen die inwoners van Debir--maar die naam
van Debir was tevore Kirjat-Sefer.
12 En Kaleb het gesê: Hy wat Kirjat-Sefer verslaan en dit inneem, aan hom sal ek
my dogter Agsa as vrou gee.
13 Daarop het Otniël, die seun van Kenas, die jonger broer van Kaleb, dit
ingeneem; en hy het sy dogter Agsa aan hom as vrou gegee.
14 En toe sy aankom, het sy hom aangespoor om van haar vader 'n stuk grond te
vra; en toe sy van die esel afklim, sê Kaleb vir haar: Wat wil jy hê?
15 En sy sê vir hom: Gee my tog 'n geskenk; omdat u my na 'n dor land versit
het, moet u my waterfonteine gee. Toe gee Kaleb haar fonteine op die hoogte en
fonteine in die laagte.
16 En die kinders van die Keniet, die swaer van Moses, het saam met die kinders
van Juda opgetrek uit die Palmstad na die woestyn van Juda wat in die suide van
Arad lê; en hy het heengegaan en met die volk saamgewoon.
17 En Juda het saam met sy broer Símeon getrek, en hulle het die Kanaäniete
verslaan wat in Sefat gewoon het en dit met die banvloek getref; daarom noem
hulle die stad Horma.
18 En Juda het Gasa met sy grondgebied en Askelon met sy grondgebied en Ekron
met sy grondgebied ingeneem.
19 En die HERE was met Juda, sodat hy die gebergte in besit geneem het; maar die
bewoners van die laagte kon hy nie verdrywe nie, omdat hulle ysterwaens gehad
het.
20 En hulle het Hebron aan Kaleb gegee, soos Moses gespreek het; en hy het die
drie seuns van Enak daaruit verdrywe.
21 En die kinders van Benjamin het die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem,
nie verdrywe nie, sodat die Jebusiete saam met die kinders van Benjamin in
Jerusalem woon tot vandag toe.
22 En die huis van Josef, hulle het ook opgetrek na Bet-el, en die HERE was met
hulle.
23 En toe die huis van Josef Bet-el laat bespied--maar die naam van die stad was
tevore Lus--
24 sien die spioene 'n man uit die stad uitkom, en hulle sê vir hom: Wys ons tog
'n plek om in die stad in te kom, dan sal ons jou 'n guns bewys.
25 Hy wys hulle toe 'n plek om in die stad in te kom; en hulle het die stad
verslaan met die skerpte van die swaard; maar die man en sy hele geslag het
hulle laat gaan.
26 En die man het weggetrek na die land van die Hetiete, en hy het 'n stad gebou
en dit Lus genoem; dit is sy naam tot vandag toe.
27 En Manasse het Bet-Sean met sy onderhorige plekke en Táänag met sy
onderhorige plekke en die inwoners van Dor met sy onderhorige plekke en die
inwoners van Jíbleam met sy onderhorige plekke en die inwoners van Megíddo met
sy onderhorige plekke nie verdrywe nie; en die Kanaäniete het verkies om in
hierdie land te bly woon.
28 Maar toe Israel sterk word, het hy die Kanaäniete dienspligtig gemaak; hy het
hulle egter nie heeltemal verdrywe nie.
29 En Efraim het die Kanaäniete, die inwoners van Geser, nie verdrywe nie; sodat
die Kanaäniete in sy midde in Geser bly woon het.
30 Sébulon het die inwoners van Kitron en die inwoners van Náhalol nie verdrywe
nie; sodat die Kanaäniete in sy midde bly woon het; maar hulle het dienspligtig
geword.
31 Aser het die inwoners van Akko en die inwoners van Sidon en Aglab en Agsib en
Helba en Afik en Rehob nie verdrywe nie;
32 sodat die Aseriete bly woon het onder die Kanaäniete, die bevolking van die
land, want hulle het hulle nie verdrywe nie.
33 Náftali het die inwoners van Bet-Semes en die inwoners van Bet-Anat nie
verdrywe nie, sodat hy bly woon het onder die Kanaäniete, die bevolking van die
land; maar die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat het aan hulle dienspligtig
geword.
34 En die Amoriete het die kinders van Dan die gebergte in gedruk, want hulle
het hul nie toegelaat om na die laagte af te kom nie;
35 sodat die Amoriete verkies het om te bly woon in Har-Heres, in Ajalon en in
Sáälbim; maar die hand van die huis van Josef was swaar, sodat hulle
dienspligtig geword het.
36 En die grens van die Amoriete was van Skerpioen-nek, van die rots af, en
verder op.
2
1 Toe trek die Engel van die HERE van Gilgal op na Bogim en sê: Ek het julle uit
Egipte laat optrek en julle gebring in die land wat Ek julle vaders met 'n eed
beloof het, en gesê: Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie;
2 maar julle mag geen verbond met die inwoners van hierdie land maak nie; hulle
altare moet julle omgooi. Maar julle het nie na my stem geluister nie. Wat het
julle nou gedoen?
3 So sê Ek dan ook: Ek sal hulle nie voor julle uit verdrywe nie, sodat hulle
vyande vir julle sal wees, en hulle gode 'n strik vir julle.
4 En terwyl die Engel van die HERE met hierdie woorde al die kinders van Israel
toespreek, het die volk hulle stem verhef en geween;
5 en hulle het dié plek Bogim genoem en daar aan die HERE geoffer.
6 Daarna het Josua die volk laat gaan, en die kinders van Israel het elkeen na
sy erfdeel getrek om die land in besit te neem.
7 En die volk het die HERE gedien al die dae van Josua en al die dae van die
oudstes wat ná Josua nog in die lewe was, en al die groot werke van die HERE
gesien het wat Hy vir Israel gedoen het.
8 Maar Josua, die seun van Nun, die kneg van die HERE, het gesterwe, honderd en
tien jaar oud;
9 en hulle het hom begrawe op die gebied van sy erfdeel in Timnat-Heres, op die
gebergte van Efraim, noord van die berg Gaäs.
10 En toe ook daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar 'n
ander geslag ná hulle op wat die HERE en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen
het, nie geken het nie.
11 En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE:
hulle het die Baäls gedien
12 en die HERE, die God van hulle vaders, verlaat wat hulle uit Egipteland
uitgelei het, en hulle het agter ander gode aan geloop, van die gode van die
volke wat rondom hulle was, en hulle daarvoor neergebuig en die HERE geterg.
13 Maar toe hulle die HERE verlaat en die Baäl en die Astartes dien,
14 het die toorn van die HERE teen Israel ontvlam, en Hy het hulle oorgegee in
die hand van rowers wat hulle beroof het; en Hy het hulle verkoop in die hand
van hulle vyande rondom, sodat hulle nie meer kon standhou voor hulle vyande
nie.
15 Waarheen hulle ook al uittrek, was die hand van die HERE teen hulle ten
kwade, soos die HERE gespreek en soos die HERE vir hulle gesweer het. Maar
wanneer hulle dan in groot benoudheid raak,
16 verwek die HERE rigters wat hulle verlos uit die hand van hulle berowers.
17 Na hulle rigters het hulle egter ook nie geluister nie, maar agter ander gode
aan gehoereer en hulle daarvoor neergebuig; gou het hulle afgewyk van die weg
wat hulle vaders bewandel het in gehoorsaamheid aan die gebooie van die HERE: so
het hulle nie gedoen nie.
18 En wanneer die HERE vir hulle rigters verwek, was die HERE met die rigter om
hulle te verlos uit die hand van hul vyande al die dae van die rigter, omdat die
HERE medelyde gehad het vanweë hulle gekerm oor hulle verdrukkers en hulle
verdringers.
19 Maar wanneer die rigter dood was, het hulle nog erger as hulle vaders
gehandel deur agter ander gode aan te loop, om hulle te dien en hulle daarvoor
neer te buig: hulle het niks laat vaar van hulle handelinge en van hulle
hardnekkige wandel nie.
20 Daarom het die toorn van die HERE teen Israel ontvlam, en Hy het gesê: Omdat
hierdie nasie my verbond wat Ek hulle vaders beveel het, oortree en na my stem
nie luister nie,
21 sal Ek ook verder geeneen van die nasies wat Josua by sy dood laat oorbly
het, voor hulle uit verdrywe nie--
22 om Israel deur hulle op die proef te stel, of hulle die weg van die HERE sal
hou deur daarin te wandel soos hulle vaders dit gehou het, of nie.
23 Daarom het die HERE daardie nasies laat oorbly sonder om hulle dadelik te
verdrywe, en hulle nie in die hand van Josua gegee nie.
3
1 En dit is die nasies wat die HERE laat oorbly het om Israel, almal wat al die
oorloë van Kanaän nie geken het nie, deur hulle op die proef te stel--
2 net dat die geslagte van die kinders van Israel dit kan weet--om hulle te leer
oorlog voer, ten minste die wat daar vroeër nie van geweet het nie:
3 vyf vorste van die Filistyne en al die Kanaäniete en Sidoniërs en Hewiete wat
in die gebergte Líbanon gewoon het, van die berg Baäl-Hermon af tot by die
ingang na Hamat.
4 Hulle was dan daar om deur hulle Israel op die proef te stel; om te weet of
hulle na die gebooie van die HERE wat Hy hulle vaders deur Moses beveel het, sou
luister.
5 So het die kinders van Israel dan onder die Kanaäniete, Hetiete en Amoriete en
Feresiete en Hewiete en Jebusiete gewoon,
6 en húl dogters vir hulle as vroue geneem en hulle eie dogters aan húl seuns
gegee en hul gode gedien.
7 En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE
en die HERE hulle God vergeet en die Baäls en die heilige boomstamme gedien.
8 Daarop het die toorn van die HERE teen Israel ontvlam, en Hy het hulle verkoop
in die hand van Kusan Risatáim, die koning van Mesopotámië, en die kinders van
Israel het Kusan Risatáim agt jaar lank gedien.
9 Maar toe die kinders van Israel die HERE aanroep, het die HERE 'n verlosser
vir die kinders van Israel verwek, wat hulle verlos het: Otniël, die seun van
Kenas, die jonger broer van Kaleb.
10 En die Gees van die HERE het op hom gekom, en hy het Israel gerig en
uitgetrek om oorlog te voer; en die HERE het Kusan Risatáim, die koning van
Aram, in sy hand gegee, sodat hy die oorhand oor Kusan Risatáim gekry het.
11 Toe kry die land rus veertig jaar lank. En Otniël, die seun van Kenas, het
gesterwe.
12 En die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die
HERE. Toe maak die HERE Eglon, die koning van Moab, sterk teen Israel, omdat
hulle gedoen het wat verkeerd was in die oë van die HERE;
13 en hy versamel by hom die kinders van Ammon en Amalek. Daarop het hy
weggetrek en Israel verslaan, en hulle het die Palmstad in besit geneem.
14 En die kinders van Israel het Eglon, die koning van Moab, agttien jaar lank
gedien.
15 Maar toe die kinders van Israel die HERE aanroep, het die HERE vir hulle as
verlosser verwek: Ehud, die seun van Gera, die Benjaminiet, 'n man wat links
was. Deur hom stuur toe die kinders van Israel die belasting aan Eglon, die
koning van Moab.
16 En Ehud het vir hom 'n swaard gemaak, aan twee kante skerp, een el lank, en
dit onder sy klere aan sy regterheup vasgegord;
17 en hy het die belasting aan Eglon, die koning van Moab, gebring; en Eglon was
'n baie vet man.
18 En toe hy die belasting volledig afgelewer het, bring hy die mense wat die
belasting gedra het, weg;
19 maar hy self het omgedraai by die gesnede beelde wat by Gilgal was, en gesê:
Ek het 'n geheime opdrag aan u, o koning! Dié sê toe: Stil! En almal wat by hom
staan, het van hom af weggegaan buitentoe.
20 En toe Ehud by hom inkom, terwyl hy in die koel bo-kamer sit wat vir hom
alleen was, sê Ehud: Ek het 'n woord van God aan u! En toe hy van sy stoel af
opstaan,
21 steek Ehud sy linkerhand uit en gryp die swaard van sy regterheup af en steek
dit in sy buik,
22 sodat selfs die hef agter die lem ingedring het en die vet, want hy het die
swaard nie uit sy buik uitgetrek nie, om die lem toegesluit en by die wond
uitgepuil het.
23 Toe gaan Ehud uit op die galery, maar hy het die deure van die bo-kamer agter
hom gesluit en gegrendel.
24 Net toe hy uitgegaan het, kom sy dienaars; en toe hulle sien en kyk: die
deure van die bo-kamer was gegrendel, sê hulle: Hy is seker besig om sy voete te
bedek in die koel kamer.
25 En hulle het gewag totdat hulle verleë was; maar--hy het die deure van die
bo-kamer nie oopgemaak nie! En toe hulle die sleutel gaan haal en oopsluit, lê
hulle heer daar dood op die grond!
26 Maar terwyl hulle nog talm, het Ehud ontvlug en die gesnede beelde
verbygegaan en na Seïra ontsnap.
27 En toe hy aankom, blaas hy op die ramshoring op die gebergte van Efraim, en
die kinders van Israel het saam met hom van die gebergte afgetrek, en hy voor
hulle uit.
28 Toe sê hy vir hulle: Volg my, want die HERE gee julle vyande, die Moabiete,
in julle hand; en hulle het agter hom aan afgetrek en die Moabiete van die
driwwe van die Jordaan afgesny en niemand toegelaat om deur te gaan nie.
29 En hulle het in dié tyd van Moab omtrent tien duisend man verslaan, almal
goed geboude en almal dapper manne, en niemand het vrygekom nie.
30 So moes Moab dan dié dag buig onder die hand van Israel; en die land het
tagtig jaar lank gerus.
31 Toe kom ná hom Samgar, die seun van Anat, wat van die Filistyne ses honderd
man met 'n osdrywerstok verslaan het; en ook hy het Israel verlos.
4
1 Maar ná die dood van Ehud het die kinders van Israel weer gedoen wat verkeerd
was in die oë van die HERE.
2 Daarom het die HERE hulle verkoop in die hand van Jabin, die koning van
Kanaän, wat in Hasor geregeer het; en sy leërowerste was Sísera, 'n inwoner van
Haróset van die heidene.
3 En die kinders van Israel het die HERE aangeroep; want hy het nege honderd
ysterwaens gehad en die kinders van Israel twintig jaar lank swaar verdruk.
4 En Debóra, 'n profetes, die vrou van Láppidot, het in dié tyd Israel gerig;
5 en sy het gesit onder die palm van Debóra, tussen Rama en Bet-el, op die
gebergte van Efraim; en die kinders van Israel het na haar opgegaan vir
regspraak.
6 Toe laat sy Barak, die seun van Abinóam, uit Kedes in Náftali, roep en sê vir
hom: Het die HERE, die God van Israel, nie bevel gegee nie: Gaan, trek na die
berg Tabor, en neem tien duisend man van die kinders van Náftali en van die
kinders van Sébulon met jou saam?
7 dan sal Ek Sísera, die leërowerste van Jabin, met sy strydwaens en sy menigte
na jou, na die spruit Kison trek, en Ek sal hom in jou hand gee.
8 Maar Barak sê vir haar: As u met my saamtrek, sal ek gaan; maar as u nie met
my saamtrek nie, gaan ek nie.
9 Toe sê sy: Ek sal sekerlik met jou saamtrek, maar die eer sal nie joue wees op
die pad wat jy sal gaan nie; want die HERE sal Sísera in die hand van 'n vrou
verkoop; en Debóra het opgestaan en saam met Barak na Kedes getrek.
10 Daarop het Barak Sébulon en Náftali bymekaargeroep na Kedes toe, en tien
duisend man het op sy voetspore opgetrek, en Debóra het saam met hom opgetrek.
11 En Heber, die Keniet, het hom afgeskei van Kain, van die kinders van Hobab,
die swaer van Moses, en het sy tente opgeslaan tot by die terpentynboom by
Saänáim, naby Kedes.
12 En toe hulle aan Sísera berig bring dat Barak, die seun van Abinóam, na die
berg Tabor opgetrek het,
13 het Sísera al sy strydwaens, nege honderd ysterwaens, en al die manskappe wat
by hom was, uit Haróset van die heidene na die spruit Kison bymekaargeroep.
14 Daarop sê Debóra vir Barak: Maak jou klaar, want dit is die dag waarop die
HERE Sísera in jou hand gee. Trek die HERE nie voor jou uit nie? Toe trek Barak
van die berg Tabor af, en tien duisend man agter hom aan.
15 En die HERE het Sísera met al die waens en die hele leër deur die skerpte van
die swaard in verwarring gebring voor Barak uit, en Sísera het van sy wa
afgeklim en te voet gevlug.
16 Maar Barak het die waens en die leër agternagejaag tot by Haróset van die
heidene, en die hele leër van Sísera het deur die skerpte van die swaard geval;
daar het selfs nie een oorgebly nie.
17 Toe vlug Sísera te voet na die tent van Jael, die vrou van Heber, die Keniet;
want daar was vrede tussen Jabin, die koning van Hasor, en die huis van Heber,
die Keniet.
18 En Jael het uitgegaan Sísera tegemoet en vir hom gesê: Draai uit, my heer,
draai uit na my! Moenie bang wees nie! En hy het na haar uitgedraai, na die
tent, en sy het hom met 'n kombers toegemaak.
19 Daarop sê hy vir haar: Gee my tog 'n bietjie water om te drink, want ek het
dors; sy maak toe die melksak oop en laat hom daaruit drink en maak hom weer
toe.
20 En hy sê vir haar: Gaan staan by die tentdeur, en as iemand kom en jou vra en
sê: Is hier iemand? antwoord dan: Nee.
21 Toe neem Jael, die vrou van Heber, 'n tentpen en vat die hamer in haar hand
en gaan stilletjies na hom en dryf die pen terwyl hy vas aan die slaap was
dwarsdeur die slaap van sy hoof, sodat dit in die grond indring. So het hy dan
bewusteloos geword en gesterwe.
22 En kyk, terwyl Barak Sísera agtervolg, gaan Jael uit hom tegemoet en sê vir
hom: Kom, en ek sal u die man wys wat u soek; en toe hy by haar inkom, lê Sísera
daar dood, met die pen deur die slaap van sy hoof!
23 So het God dan op dié dag Jabin, die koning van Kanaän, voor die kinders van
Israel onderwerp.
24 En die hand van die kinders van Israel het al swaarder gaan druk op Jabin,
die koning van Kanaän, totdat hulle Jabin, die koning van Kanaän, uitgeroei het.
5
1 Op dié dag het Debóra en Barak, die seun van Abinóam, gesing en gesê:
2 Omdat aanvoerders aangevoer het in Israel, omdat die volk hom gewillig getoon
het--prys die HERE!
3 Hoor, o konings! Luister, o vorste! Ek, tot eer van die HERE wil ek sing, tot
eer van die HERE, die God van Israel, wil ek psalmsing.
4 HERE, toe U uitgetrek het uit Seïr, toe U voortgestap het uit die veld van
Edom, het die aarde gebeef, ook het die hemel gedrup, ook het die wolke water
gedrup.
5 Berge het gewankel voor die aangesig van die HERE uit, hierdie Sinai voor die
aangesig van die HERE, die God van Israel.
6 In die dae van Samgar, die seun van Anat, in die dae van Jael, was die paaie
verlate, en die reisigers het langs sypaaie gegaan.
7 Leiers het ontbreek in Israel, ontbreek; totdat ek, Debóra, opgestaan het, ek,
'n moeder in Israel, opgestaan het.
8 Kies hulle nuwe gode, dan is daar oorlog in die poorte; was daar skild of
spies te sien onder veertig duisend in Israel?
9 My hart is vir die aanvoerders van Israel wat hulle gewillig betoon het onder
die volk--prys die HERE!
10 Julle wat op wit eselinne ry, wat op tapyte sit, wandelaars langs die paaie,
dink na!
11 Vanweë die stem van die boogskutters tussen die drinkplekke, besing hulle
daar die regverdige dade van die HERE, die regverdige dade van sy leiding in
Israel. Toe het die volk van die HERE afgetrek na die poorte toe.
12 Word wakker, word wakker, Debóra! Word wakker, word wakker, hef 'n lied aan!
Staan op, Barak! en voer jou gevangenes weg, seun van Abinóam!
13 Toe het die oorblyfsel van die vername manne van die volk afgetrek, toe het
die HERE vir my afgetrek onder die helde.
14 Uit Efraim, die wat hulle wortel in Amalek het; Benjamin, agter jou aan onder
jou manskappe; uit Magir trek die aanvoerders af, en uit Sébulon die wat met die
werwerstaf uittrek;
15 en vorste in Issaskar met Debóra saam; en Issaskar soos Barak: in die dal
storm hulle op sy voetspore. In die afdelings van Ruben was die voornemens van
die hart groot.
16 Waarom het jy tussen die veekrale bly sit en luister na die fluitspel by die
troppe vee? In die afdelings van Ruben was die voornemens van die hart groot.
17 Gílead het rustig oorkant die Jordaan gebly; en Dan, waarom vertoef hy by die
skepe? Aser het bly sit aan die seekus en aan sy baaie rustig gebly.
18 Sébulon is 'n volk wat sy siel gering ag tot die dood toe; ook Náftali op die
hoogvlaktes.
19 Konings het gekom, geveg; toe het die konings van Kanaän geveg by Táänag, by
die waters van Megíddo--geen stuk silwer het hulle geneem nie.
20 Uit die hemel het die sterre geveg, uit hulle bane het hulle teen Sísera
geveg;
21 die spruit Kison het hulle afgedrywe, die spruit van ontmoeting, die spruit
Kison! Tree op, my siel, met mag!
22 Toe het die perdepote geklap van die gejaag, die gejaag van hulle geweldiges.
23 Vloek Meros, sê die Engel van die HERE; ja, vervloek sy inwoners, omdat hulle
die HERE nie tot hulp gekom het nie, die HERE tot hulp onder die helde.
24 Mag bo die vroue geseënd wees Jael, die vrou van Heber, die Keniet; geseënd
wees bo die vroue in die tent!
25 Water het hy gevra, melk het sy gegee, in 'n sierlike skottel het sy dikmelk
gebring.
26 Haar hand steek sy uit na die tentpen en haar regterhand na die werksman se
hamer; en sy hamer Sísera, verpletter sy kop en verbrysel en deurboor die slaap
van sy hoof.
27 Tussen haar voete sak hy inmekaar, val, lê daar! Tussen haar voete sak hy
inmekaar, val; waar hy inmekaarsak, daar lê hy--morsdood.
28 Deur die venster kyk die moeder van Sísera uit, en sy roep deur die
venstertralie: Waarom vertoef sy wa om te kom? Waarom versuim die passe van sy
wa-span?
29 Die skranderste van haar vorstinne antwoord haar, ja, sy self antwoord op
haar woorde:
30 Hulle het seker buit gevind en verdeel dit: een slavin, twee slavinne vir
elke man; 'n buit van bont klere vir Sísera, 'n buit van bont klere,
veelkleurige; 'n bont doek, twee veelkleuriges as buit vir my hals.
31 So moet al u vyande, HERE, omkom! Maar die wat Hom liefhet, is soos die
opgang van die son in sy krag. En die land het veertig jaar lank gerus.
6
1 Maar toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die
HERE, het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Midianiete, sewe jaar
lank.
2 En die Midianiete het die oorhand oor Israel gekry; vanweë die Midianiete het
die kinders van Israel vir hulle die slote gemaak wat op die berge is, en die
gate en die bergvestings.
3 Want as Israel gesaai het, dan trek die Midianiete en Amalekiete en die
kinders van die Ooste uit, en trek teen hulle op:
4 slaan laers teen hulle op en verwoes die opbrings van die land in die rigting
na Gasa, en hulle laat geen lewensmiddele, geen skaap of bees of esel in Israel
oorbly nie.
5 Want hulle het met hul vee en hul tente opgetrek en gekom soos sprinkane in
menigte, terwyl hulle en hul kamele ontelbaar was; so het hulle dan die land
ingekom om dit te verwoes.
6 En Israel het deur die Midianiete baie arm geword, maar die kinders van Israel
het die HERE aangeroep.
7 En toe die kinders van Israel die HERE aanroep vanweë die Midianiete,
8 het die HERE 'n profeet na die kinders van Israel gestuur, en dié het vir
hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Ek self het julle laat
optrek uit Egipte en julle uit die slawehuis uitgelei
9 en julle gered uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van al julle
verdrukkers en hulle voor julle uit verdrywe en hulle land aan julle gegee.
10 En Ek het aan julle gesê: Ek is die HERE julle God; julle mag die gode van
die Amoriete in wie se land julle woon, nie vrees nie. Maar julle het nie na my
stem geluister nie.
11 Toe het die Engel van die HERE gekom en gaan sit onder die terpentynboom wat
by Ofra staan, wat aan Joas, die Abiësriet, behoort het, terwyl sy seun Gídeon
juis koring uitslaan in die parskuip om dit te beveilig teen die Midianiete.
12 En die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die HERE is
met jou, dapper held!
13 Toe vra Gídeon Hom: Ag, my heer, as die HERE met ons is, waarom het al
hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vaders ons van
vertel het, deur te sê: Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie? Maar
nou het die HERE ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.
14 Toe draai die HERE na hom toe en sê: Gaan in hierdie krag van jou en verlos
Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie?
15 Maar hy vra Hom: Ag, Here, waarmee sou ek Israel verlos? Kyk, my geslag is
die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie.
16 Toe sê die HERE vir hom: Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos
een man sal verslaan.
17 En hy antwoord Hom: As ek dan guns in u oë gevind het, doen vir my 'n teken,
dat U dit is wat met my spreek.
18 Verwyder U tog nie hiervandaan voordat ek by U kom en my gawe uitbring en
voor U neersit nie. Hy sê toe: Ek sal bly totdat jy terugkom.
19 Toe het Gídeon ingegaan en 'n bokkie berei, en van 'n efa meel ongesuurde
koeke; die vleis het hy in 'n mandjie gesit en die sous in 'n pot gegooi; en hy
het dit na Hom uitgebring onder die terpentynboom en dit naby neergesit.
20 Maar die Engel van God het vir hom gesê: Neem die vleis en die ongesuurde
koeke, en sit dit op hierdie rots neer en gooi die sous daaroor uit. En hy het
so gedoen.
21 Daarop steek die Engel van die HERE die punt van die staf wat in sy hand was,
uit en raak die vleis en die ongesuurde koeke aan; toe gaan daar vuur op uit die
rots en verteer die vleis en die ongesuurde koeke. Intussen het die Engel van
die HERE verdwyn uit sy oë.
22 Toe Gídeon bemerk dat dit die Engel van die HERE was, sê Gídeon: Ag, Here
HERE! want ek het die Engel van die HERE gesien van aangesig tot aangesig!
23 Maar die HERE sê vir hom: Vrede vir jou! Vrees nie! Jy sal nie sterwe nie.
24 Toe bou Gídeon daar 'n altaar vir die HERE en noem dit: Die HERE is vrede!
Dit staan vandag nog daar by Ofra van die Abiësriete.
25 En in dieselfde nag het die HERE vir hom gesê: Neem die bul van jou vader,
naamlik die tweede bul van sewe jaar, en breek die altaar van Baäl af wat aan
jou vader behoort, en kap die heilige boomstam af wat daar langsaan staan.
26 En bou vir die HERE jou God 'n altaar op die top van hierdie vesting deur
opstapeling, en neem die tweede bul en bring dit as 'n brandoffer met die hout
van die heilige boomstam wat jy moet afkap.
27 Toe het Gídeon tien man van sy dienaars geneem en gedoen soos die HERE aan
hom gesê het; maar omdat hy te bang was vir sy familie en vir die manne van die
stad, om dit oordag te doen, het hy dit in die nag gedoen.
28 En toe die manne van die stad die môre vroeg opstaan, lê die altaar van Baäl
daar omgegooi en die heilige boomstam wat daar langsaan gestaan het, afgekap en
die tweede bul geoffer op die altaar wat daar gebou was!
29 Toe sê hulle, die een vir die ander: Wie het hierdie ding gedoen? En onderwyl
hulle ondersoek en uitvra, sê hulle: Gídeon, die seun van Joas, het hierdie ding
gedoen!
30 Toe sê die manne van die stad vir Joas: Bring jou seun uit, hy moet sterwe,
omdat hy die altaar van Baäl omgegooi het, en omdat hy die heilige boomstam wat
daar langsaan gestaan het, afgekap het.
31 Maar Joas sê vir almal wat by hom staan: Wil júlle vir Baäl veg? Of wil julle
hom help? Die wat vir hom veg, sal vanmôre nog gedood word. As hy 'n god is,
laat hy vir homself veg, omdat hy sy altaar omgegooi het.
32 Daarom het hy hom op dié dag Jerúbbaäl genoem en gesê: Laat Baäl teen hom
veg, omdat hy sy altaar omgegooi het.
33 Toe het al die Midianiete en Amalekiete en die kinders van die Ooste
aanmekaargesluit en deurgetrek en in die laagte van Jísreël laer opgeslaan.
34 En die Gees van die HERE het Gídeon vervul; en hy het op die ramshoring
geblaas, en die Abiësriete is agter hom aan opgeroep.
35 Ook het hy boodskappers gestuur in die hele Manasse, en dié is ook agter hom
aan opgeroep; ook het hy boodskappers gestuur in Aser en in Sébulon en in
Náftali, en hulle het opgetrek, hulle tegemoet.
36 Toe het Gídeon met God gespreek: As U werklik deur my hand Israel wil verlos
soos U gespreek het--
37 ek sal die wolvlies op die dorsvloer neerlê: as daar net op die vlies dou is,
terwyl die grond oral droog is, dan sal ek weet dat U deur my hand Israel wil
verlos soos U gespreek het.
38 En dit was so: toe hy die volgende môre vroeg opstaan, het hy die vlies
uitgewring en die dou uit die vlies uitgedruk, 'n kom vol water.
39 Toe het Gídeon met God gespreek: Laat u toorn nie teen my ontvlam nie, en
laat my net hierdie keer mag spreek; laat my tog net hierdie keer met die vlies
'n proef neem: laat dit op die vlies alleen droog wees terwyl daar op die grond
oral dou is.
40 En die HERE het daardie nag so gedoen: op die vlies alleen was dit droog,
maar oral op die grond was daar dou.
7
1 Daarna het Jerúbbaäl, dit is Gídeon, en al die manskappe wat by hom was, vroeg
klaargemaak, en hulle het laer opgeslaan by die fontein Harod, terwyl die laer
van die Midianiete ten noorde van hom was, van die heuwel More af in die dal.
2 Toe sê die HERE vir Gídeon: Die manskappe by jou is te veel vir My om die
Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te
sê: My eie hand het my verlos.
3 Roep dan nou tog uit voor die ore van die manskappe en sê: Die wat bang is en
bewe, kan teruggaan en wegdraai van die gebergte van Gílead af. Toe het daar van
die manskappe twee en twintig duisend omgedraai, en tien duisend het oorgebly.
4 Daarop sê die HERE vir Gídeon: Die manskappe is nog te veel; bring hulle af na
die water, dan sal Ek hulle daar vir jou uitsoek; en van wie Ek aan jou sê:
Hierdie een mag met jou saamgaan--dié mag met jou saamgaan; maar elkeen van wie
Ek aan jou sê: Hierdie een mag nie met jou saamgaan nie--dié mag nie gaan nie.
5 Hy bring toe die manskappe af na die water; en die HERE sê vir Gídeon: Elkeen
wat met sy tong die water oplek soos 'n hond lek, moet jy eenkant laat staan; en
elkeen wat op sy knieë vooroor buig om te drink, anderkant.
6 En die aantal van die wat gelek het met hul hand na hul mond toe, was drie
honderd man; en al die ander manskappe het op hulle knieë vooroor gebuig om
water te drink.
7 Toe sê die HERE vir Gídeon: Deur die drie honderd man wat gelek het, sal Ek
julle verlos en die Midianiete in jou hand gee; maar al die ander manskappe kan
elkeen na sy woonplek gaan.
8 Daarop neem hulle die padkos van die manskappe en hulle ramshorings in hul
hand; en hy het al die manskappe van Israel laat gaan, elkeen na sy tente toe;
maar die drie honderd man het hy agtergehou, terwyl die laer van die Midianiete
onderkant hom in die laagte was.
9 En daardie nag het die HERE vir hom gesê: Staan op, gaan af in die laer, want
Ek gee dit in jou hand.
10 En as jy bang is om af te gaan, gaan jy dan saam met jou dienaar Pura af na
die laer toe
11 en luister wat hulle praat; en daarna sal jou hande sterk word, en jy sal in
die laer aftrek. Hy gaan toe af saam met sy dienaar Pura tot by die buitenste
lyn van die gewapendes wat in die laer was.
12 En die Midianiete en Amalekiete en al die kinders van die Ooste het in die
laagte gelê soos sprinkane in menigte, en hulle kamele was ontelbaar soos die
sand aan die seestrand in menigte.
13 En toe Gídeon aankom, vertel 'n man aan 'n ander juis 'n droom en sê: Kyk, ek
het 'n droom gehad: Daar rol 'n hard gebakte garsbrood in die laer van die
Midianiete en kom tot by die tent en slaan dit dat dit omval en keer dit
onderstebo, en toe lê die tent daar!
14 En die ander een het geantwoord en gesê: Dit is niks anders nie as die swaard
van Gídeon, die seun van Joas, die Israeliet; God het die Midianiete en die hele
laer in sy hand gegee.
15 Toe Gídeon dan die verhaal van die droom en sy uitlegging hoor, het hy
aanbid; en hy het teruggekeer na die laer van Israel en gesê: Maak klaar, want
die HERE gee die laer van die Midianiete in julle hand.
16 En hy het die drie honderd man verdeel in drie dele en aan hulle almal
ramshorings en leë kruike, met fakkels binne-in die kruike, in die hand gegee
17 en aan hulle gesê: Kyk na my en maak net so; en kyk, as ek by die buitenste
lyn van die laer kom, dan moet julle maak net soos ek maak.
18 En as ek en almal wat by my is, op die ramshoring blaas, moet julle ook op
die ramshorings blaas rondom die hele laer, en julle moet sê: Vir die HERE en
vir Gídeon!
19 Toe kom Gídeon en die honderd man wat by hom was, by die buitenste lyn van
die laer, met die begin van die middelste nagwaak toe hulle skaars die wagte
uitgesit het, en hulle blaas op die ramshorings en slaan die kruike stukkend wat
hulle in hul hand gehad het.
20 Toe blaas die drie dele op die ramshorings en breek die kruike en hou met
hulle linkerhand die fakkels en met hulle regterhand die ramshorings om te
blaas, terwyl hulle uitroep: Die swaard van die HERE en van Gídeon!
21 En hulle het bly staan elkeen op sy plek, rondom die laer. Daarop hardloop
die hele laer, en hulle skreeu en vlug.
22 En toe die drie honderd op die ramshorings blaas, het die HERE die swaard van
die een teen die ander gerig, ja, in die hele laer; en die laer het gevlug na
Bet-Sitta, na Seréda toe, tot by die oewer van Abel-Mehóla by Tabbat.
23 En die manskappe van Israel uit Náftali en uit Aser en uit die hele Manasse
is opgeroep, en hulle het die Midianiete agternagejaag.
24 Ook het Gídeon boodskappers gestuur in die hele gebergte van Efraim om te sê:
Trek af die Midianiete tegemoet, en sny hulle van die waters af tot by Bet-Bara
en die Jordaan. So het dan al die manskappe van Efraim bymekaargekom en die
waters beset tot by Bet-Bara en die Jordaan.
25 En hulle het twee vorste van die Midianiete gevang, Oreb en Seëb; en Oreb het
hulle gedood by die rots Oreb, en Seëb gedood by die parskuip Seëb, en hulle het
die Midianiete agtervolg; en die hoof van Oreb en van Seëb het hulle na Gídeon
gebring, oorkant die Jordaan.
8
1 Toe sê die manskappe van Efraim vir hom: Wat is dit wat u ons aangedoen het,
dat u ons nie geroep het toe u weggetrek het om teen die Midianiete te veg nie?
En hulle het heftig met hom getwis.
2 Maar hy sê vir hulle: Wat het ek nou gedoen in vergelyking met julle? Is die
na-oes van Efraim nie beter as die wynoes van Abiëser nie?
3 God het die vorste van Mídian, Oreb en Seëb, in julle hand gegee, maar wat kon
ek doen in vergelyking met julle? Toe bedaar hulle opgewondenheid teenoor hom
nadat hy hierdie woord gespreek het.
4 En Gídeon het gekom by die Jordaan, en hy en die drie honderd man wat by hom
was, het oorgetrek, moeg en besig om te agtervolg.
5 En hy sê aan die manne van Sukkot: Gee tog broodjies vir die manskappe wat op
my voetspore volg, want hulle is moeg, en ek is besig om Seba en Sálmuna, die
konings van die Midianiete, agterna te jaag.
6 Maar die vorste van Sukkot vra: Is die handpalm van Seba en van Sálmuna nou al
in u hand, dat ons aan u leër brood moet gee?
7 Toe sê Gídeon: Daarom, as die HERE Seba en Sálmuna in my hand gee, sal ek
julle vlees met woestyndorings en distels dors.
8 En daarvandaan het hy opgetrek na Pnuel en met hulle net so gespreek; maar die
manne van Pnuel het hom geantwoord net soos die manne van Sukkot geantwoord het.
9 Daarop spreek hy ook met die mense van Pnuel en sê: As ek met vrede terugkom,
sal ek hierdie toring omgooi.
10 Seba en Sálmuna was toe in Karkor, en hul leër by hulle, omtrent vyftien
duisend, al wat oor was uit die hele leër van die kinders van die Ooste; maar
die gesneuweldes was honderd en twintig duisend man wat die swaard kon uittrek.
11 En Gídeon het opgetrek met die pad van die tentbewoners, ten ooste van Nobag
en Jógbeha, en hy het die leër verslaan terwyl die leër gerus was.
12 En Seba en Sálmuna het gevlug, maar hy het hulle agternagejaag en die twee
konings van Mídian, Seba en Sálmuna, gevang nadat hy die hele leër uiteengejaag
het.
13 En toe Gídeon, die seun van Joas, terugkom uit die geveg, van die nek Heres
af,
14 vang hy 'n seun van die mense van Sukkot en vra hom uit; en dié het vir hom
die vorste van Sukkot en sy oudstes opgeskrywe, sewe en sewentig man.
15 En toe hy by die mense van Sukkot kom, sê hy: Hier is Seba en Sálmuna oor wie
julle my gesmaad het deur te sê: Is die handpalm van Seba en van Sálmuna nou al
in u hand, dat ons aan u vermoeide manskappe brood moet gee?
16 Daarop neem hy die oudstes van die stad saam met die woestyndorings en die
distels, en hy het die manne van Sukkot daarmee 'n les geleer.
17 En die toring van Pnuel het hy omgegooi en die manne van die stad gedood.
18 En hy het Seba en Sálmuna gevra: Wat vir manne was dit wat julle by Tabor
gedood het? En hulle antwoord: Soos u, so was hulle: elkeen van gestalte
koninklike seuns.
19 Daarop sê hy: Dit was my broers, seuns van my moeder. So waar as die HERE
leef, as julle hulle laat leef het, sou ek julle nie doodmaak nie.
20 En hy sê aan Jeter, sy eersgeborene: Staan op, maak hulle dood! Maar die seun
het sy swaard nie uitgetrek nie, omdat hy bang was; want hy was nog 'n seun.
21 Toe sê Seba en Sálmuna: Staan u self op en val op ons aan, want soos die man
is, is sy krag. Gídeon het toe opgestaan en Seba en Sálmuna gedood, en die
maantjies wat aan die nekke van hulle kamele was, het hy geneem.
22 Daarop sê die manne van Israel vir Gídeon: Heers oor ons, u sowel as u seun
en u kleinseun, want u het ons verlos uit die hand van die Midianiete.
23 Maar Gídeon antwoord hulle: Ek wil nie oor julle heers nie, en ook my seun
mag nie oor julle heers nie: die HERE sal oor julle heers.
24 Verder het Gídeon vir hulle gesê: Ek wil aan julle 'n versoek doen: Gee nou
elkeen vir my die ring uit sy buit! Want hulle het goue ringe gedra, omdat hulle
Ismaeliete was.
25 Toe sê hulle: Ons wil dit graag gee; en hulle het 'n mantel uitgesprei en
elkeen 'n ring van sy buit daarop gegooi.
26 En die gewig van die goue ringe wat hy gevra het, was sewentien honderd
sikkels goud, behalwe die maantjies en die oorversiersels en purper klere wat
die konings van Mídian gedra het, en behalwe die kettings wat aan die nekke van
hulle kamele was.
27 En Gídeon het daar 'n skouerkleed van gemaak en dit in sy stad, in Ofra,
opgestel; en die hele Israel het dit daar agternagehoereer, en dit het vir
Gídeon en sy huis 'n strik geword.
28 So moes die Midianiete dan buig voor die kinders van Israel, en hulle het hul
hoof nie meer opgetel nie; en die land het in Gídeon se dae veertig jaar lank
gerus.
29 En Jerúbbaäl, die seun van Joas, het in sy huis gaan woon.
30 En Gídeon het sewentig seuns gehad wat uit sy lende voortgekom het, want hy
het baie vroue gehad.
31 En sy byvrou wat in Sigem was, het ook vir hom 'n seun gebaar, en hy het hom
die naam Abiméleg gegee.
32 En Gídeon, die seun van Joas, het gesterf in goeie ouderdom en is begrawe in
die graf van sy vader Joas, in Ofra van die Abiësriete.
33 Maar net toe Gídeon dood was, het die kinders van Israel weer die Baäls
agternagehoereer en van Baäl-Berít vir hulle 'n god gemaak.
34 En die kinders van Israel het nie gedink aan die HERE hulle God wat hulle uit
die hand van al hul vyande rondom gered het nie.
35 En hulle het geen guns bewys aan die huis van Jerúbbaäl, dit is Gídeon, vir
al die goed wat hy aan Israel gedoen het nie.
9
1 En Abiméleg, die seun van Jerúbbaäl, het heengegaan na Sigem, na die broers
van sy moeder, en hy het met hulle en met die hele geslag van sy moeder se
familie gespreek en gesê:
2 Spreek tog voor die ore van al die burgers van Sigem: Wat is vir julle
beter--dat sewentig man, almal seuns van Jerúbbaäl, oor julle heers, of dat een
man oor julle heers? En dink daaraan dat ek julle gebeente en julle vlees is.
3 Toe die broers van sy moeder al hierdie woorde voor die ore van al die burgers
van Sigem oor hom spreek, het hulle hart Abiméleg gevolg; want hulle het gesê:
Hy is ons broer.
4 Hulle het hom toe sewentig sikkels silwer uit die huis van Baäl-Berít gegee,
en daarmee het Abiméleg ydele en ligsinnige manne gehuur, en hulle het hom
gevolg.
5 En hy het in die huis van sy vader gegaan, in Ofra, en sy broers, die seuns
van Jerúbbaäl, sewentig man, op een klip vermoor; maar Jotam, die jongste seun
van Jerúbbaäl, het oorgebly, want hy het weggekruip.
6 Daarop het al die burgers van Sigem en die hele huis Millo bymekaargekom en
Abiméleg gaan koning maak by die terpentynboom van die gedenkteken wat by Sigem
is.
7 Toe hulle dit aan Jotam meedeel, het hy op die top van die berg Gerísim gaan
staan en sy stem verhef en uitgeroep en aan hulle gesê: Luister na my, burgers
van Sigem, sodat God na julle kan luister.
8 Eendag het die bome gegaan om 'n koning oor hulle te salf en aan die olyfboom
gesê: Wees koning oor ons!
9 Maar die olyfboom het vir hulle gesê: Sou ek my vettigheid opgee wat God en
die mense in my prys, en oor die bome gaan swewe?
10 Toe sê die bome vir die vyeboom: Kom jy, wees koning oor ons.
11 Maar die vyeboom het vir hulle gesê: Sou ek my soetigheid en my goeie vrugte
opgee en oor die bome gaan swewe?
12 Toe sê die bome vir die wingerdstok: Kom jy, wees koning oor ons.
13 Maar die wingerdstok het vir hulle gesê: Sou ek my mos opgee wat God en die
mense vrolik maak, en oor die bome gaan swewe?
14 Toe sê al die bome vir die steekdoring: Kom jy, wees koning oor ons!
15 En die steekdoring het vir die bome gesê: As julle in waarheid my as koning
oor julle salf, kom dan, skuil in my skaduwee; maar so nie, laat daar dan vuur
uitgaan uit die steekdoring en die seders van die Líbanon verteer.
16 As julle dan nou in waarheid en in opregtheid gehandel het deur Abiméleg
koning te maak, en as julle goed gedoen het aan Jerúbbaäl en sy huis, en as
julle aan hom gedoen het na die verdienste van sy hande--
17 julle vir wie my vader geveg en sy lewe gewaag het, en wat hy uit die hand
van die Midianiete gered het,
18 maar wat vandag opgestaan het teen die huis van my vader, en sy seuns,
sewentig man, op een klip vermoor het en Abiméleg, die seun van sy slavin,
koning gemaak het oor die burgers van Sigem omdat hy julle broer is--
19 as julle dan vandag in waarheid en in opregtheid gehandel het met Jerúbbaäl
en sy huis, wees dan vrolik oor Abiméleg, en mag hy ook vrolik wees oor julle.
20 Maar so nie, laat daar dan vuur uitgaan uit Abiméleg en die burgers van Sigem
en die huis Millo verteer; en laat daar vuur uitgaan uit die burgers van Sigem
en uit die huis Millo en Abiméleg verteer.
21 Daarop het Jotam padgegee en weggevlug en na Beër gegaan en daar gebly vanweë
Abiméleg, sy broer.
22 Toe Abiméleg drie jaar oor Israel geheers het,
23 het God 'n bose gees gestuur tussen Abiméleg en die burgers van Sigem, en die
burgers van Sigem het troueloos gehandel teen Abiméleg,
24 sodat die onreg teen die sewentig seuns van Jerúbbaäl sou uitkom, en Hy hulle
bloed sou lê op hul broer Abiméleg wat hulle vermoor het, ook op die burgers van
Sigem wat sy hande versterk het om sy broers te vermoor.
25 So het die burgers van Sigem dan teen hom hinderlae opgestel bo-op die berge
en almal beroof wat op die pad by hulle verbykom. En dit is aan Abiméleg
meegedeel.
26 Toe kom Gaäl, die seun van Ebed, met sy broers en hulle trek oor na Sigem
toe; en die burgers van Sigem het op hom vertrou.
27 En hulle het uitgegaan in die veld en hulle wingerde afgeoes en uitgetrap en
oesfees gehou; daarop het hulle in die huis van hulle god ingegaan en geëet en
gedrink en Abiméleg gevloek.
28 Toe sê Gaäl, die seun van Ebed: Wie is Abiméleg--en wat is Sigem--dat ons hom
sou dien? Is hy nie die seun van Jerúbbaäl, en is Sebul nie sy stadsbestuurder
nie? Dien die manne van Hemor, die vader van Sigem, maar waarom moet óns hom
dien?
29 Ag, was hierdie volk maar in my hand, dan sou ek Abiméleg wegjaag! En met die
oog op Abiméleg het hy gesê: Vermeerder maar jou leër en trek uit!
30 Toe Sebul, die owerste van die stad, die woorde van Gaäl, die seun van Ebed,
hoor, het hy kwaad geword
31 en listig boodskappers na Abiméleg gestuur om te sê: Kyk, Gaäl, die seun van
Ebed, met sy broers, het in Sigem gekom, en kyk, hulle maak die stad teen u op.
32 Maak dan nou in die nag klaar, u met die manskappe wat by u is, en stel 'n
hinderlaag op in die veld.
33 Dan kan u in die môre vroeg as die son uitkom, u gereed hou en 'n aanval teen
die stad maak; en as hy met die manskappe wat by hom is, uittrek na u toe,
handel dan met hom na bevind van sake.
34 Daarop het Abiméleg en al die manskappe wat by hom was, in die nag
klaargemaak en hinderlae in vier dele by Sigem opgestel.
35 En Gaäl, die seun van Ebed, het uitgegaan en by die ingang van die stadspoort
gaan staan; en toe Abiméleg en al die manskappe wat by hom was, opstaan uit die
hinderlaag,
36 sien Gaäl die manskappe en sê vir Sebul: Kyk, daar kom mense van die
bergtoppe af; maar Sebul sê vir hom: Jy sien die skaduwee van die berge vir
mense aan!
37 Maar Gaäl hou aan en sê: Kyk, daar kom mense van die hoogste punt van die
land af, en een deel kom uit die rigting van die eik van die towenaar.
38 Daarop sê Sebul vir hom: Waar is nou jou mond waarmee jy gesê het: Wie is
Abiméleg, dat ons hom sou dien? Is dit nie die manskappe wat jy verag het nie?
Trek nou tog uit en veg teen hulle!
39 Toe trek Gaäl uit voor die burgers van Sigem en veg teen Abiméleg.
40 Maar Abiméleg het hom agtervolg, en hy het voor hom uit gevlug, en baie het
gesneuwel tot by die ingang van die poort.
41 En Abiméleg het in Aruma gebly, maar Sebul het Gaäl en sy broers verjaag, dat
hulle nie in Sigem kon bly woon nie.
42 En toe die mense die volgende dag uittrek in die veld, is dit aan Abiméleg
meegedeel.
43 Daarop het hy die manskappe geneem en hulle in drie dele verdeel en 'n
hinderlaag opgestel in die veld; en toe hy sien dat die mense die stad uittrek,
val hy op hulle aan en verslaan hulle.
44 Want Abiméleg en die dele wat by hom was, het ingestorm en gaan staan by die
ingang van die stadspoort, en die ander twee dele het almal wat in die veld was,
bestorm en hulle verslaan.
45 En Abiméleg het daardie hele dag teen die stad geveg en die stad ingeneem en
die mense wat daarin was, gedood en die stad afgebreek en dit met sout besaai.
46 Toe al die burgers van die toring van Sigem dit hoor, gaan hulle in die
kelder van die tempel van El-Berít in.
47 En toe dit aan Abiméleg meegedeel is dat al die burgers van die toring van
Sigem bymekaargekom het,
48 klim Abiméleg, hy en al die manskappe wat by hom was, op die berg Salmon; en
Abiméleg het byle met hom saamgeneem en 'n boomtak afgekap en opgetel en dit op
sy skouer gesit en aan die manskappe wat by hom was, gesê: Wat julle my sien
doen, doen dit my gou na.
49 Daarop kap al die manskappe ook elkeen sy tak af en hulle volg Abiméleg en
gooi dit op die kelder en steek die kelder bo-op hulle aan die brand, sodat ook
al die mense van die Sigemstoring, omtrent duisend manne en vroue, gesterf het.
50 Daarna het Abiméleg na Tebes getrek en Tebes beleër en dit ingeneem.
51 Maar in die middel van die stad was 'n sterk toring; en daarheen het al die
manne en vroue en al die burgers van die stad gevlug, en hulle het agter hulle
toegesluit en bo-op die dak van die toring geklim.
52 En Abiméleg het gekom tot by die toring en daarteen geveg; maar toe hy nader
kom tot by die ingang van die toring om dit met vuur te verbrand,
53 gooi 'n vrou die boonste meulsteen op die hoof van Abiméleg en verbrysel sy
skedel.
54 Toe roep hy gou die dienaar, sy wapendraer, en sê vir hom: Trek jou swaard
uit en maak my van kant, dat hulle nie van my kan sê: 'n Vrou het hom gedood
nie. Daarop het sy dienaar hom deurboor, en hy het gesterwe.
55 En toe die manne van Israel sien dat Abiméleg dood was, het hulle elkeen na
sy woonplek gegaan.
56 So het God dan die kwaad van Abiméleg vergelde wat hy sy vader aangedoen het
deur sy sewentig broers te vermoor.
57 En al die kwaad van die manne van Sigem het God op hulle eie hoof laat
neerkom; en die vloek van Jotam, die seun van Jerúbbaäl, het oor hulle gekom.
10
1 En ná Abiméleg het Tola, die seun van Pua, die seun van Dodo, 'n man uit
Issaskar, opgetree om Israel te verlos; en hy het gewoon in Samir op die
gebergte van Efraim.
2 En hy het Israel drie en twintig jaar lank gerig; en hy het gesterwe en is in
Samir begrawe.
3 En ná hom het Jaïr, die Gileadiet, opgetree, en hy het Israel twee en twintig
jaar lank gerig.
4 En hy het dertig seuns gehad, wat op dertig jong esels gery en dertig stede
gehad het; dié word tot vandag toe die Jaïrsdorpe genoem wat in die land Gílead
lê.
5 En Jaïr het gesterwe en is in Kamon begrawe.
6 En die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die
HERE, en hulle het die Baäls en die Astartes gedien, en die gode van Aram en die
gode van Sidon en die gode van Moab en die gode van die kinders van Ammon en die
gode van die Filistyne, en hulle het die HERE verlaat en Hom nie gedien nie.
7 Daarom het die toorn van die HERE ontvlam teen Israel, en Hy het hulle verkoop
in die hand van die Filistyne en in die hand van die kinders van Ammon.
8 En hulle het die kinders van Israel verpletter en verdruk in daardie jaar,
agttien jaar lank, al die kinders van Israel wat oorkant die Jordaan gewoon het
in die land van die Amoriete, wat in Gílead was.
9 Daarby het die kinders van Ammon die Jordaan oorgetrek om ook teen Juda en
Benjamin en die huis van Efraim te veg, sodat Israel dit baie benoud gehad het.
10 Toe roep die kinders van Israel die HERE aan en sê: Ons het teen U gesondig,
want ons het onse God verlaat en die Baäls gedien.
11 Maar die HERE het aan die kinders van Israel gesê: Het Ek julle nie van die
Egiptenaars en van die Amoriete, van die kinders van Ammon en van die
Filistyne--
12 en toe die Sidoniërs en Amalekiete en Maoniete julle verdruk en julle My
aangeroep het--julle uit hulle hand verlos nie?
13 Maar julle het My verlaat en ander gode gedien; daarom sal Ek julle nie meer
verlos nie.
14 Gaan heen en roep die gode aan wat julle verkies het; laat dié julle verlos
in die tyd van julle benoudheid.
15 Toe sê die kinders van Israel aan die HERE: Ons het gesondig; maak met ons
net soos dit goed is in u oë; verlos ons tog net vandag.
16 En hulle het die vreemde gode uit hulle midde verwyder en die HERE gedien;
toe het Hy ongeduldig geword oor die moeite van Israel.
17 En die kinders van Ammon is byeengeroep en het laer opgeslaan in Gílead; maar
die kinders van Israel het bymekaargekom en laer opgeslaan by Mispa.
18 Toe sê die manskappe, die vorste van Gílead, die een aan die ander: Wie is
die man wat sal begin om te veg teen die kinders van Ammon? Hy sal hoof wees oor
al die inwoners van Gílead.
11
1 En Jefta, die Gileadiet, was 'n dapper held, maar hy was die seun van 'n hoer;
en Gílead was die vader van Jefta.
2 En toe die vrou van Gílead vir hom seuns baar, en die seuns van die vrou groot
word, het hulle Jefta weggejaag en vir hom gesê: Jy mag in ons familie nie erwe
nie, want jy is die seun van 'n ander vrou.
3 Daarop vlug Jefta van sy broers af weg en hy gaan woon in die land Tob; en
ligsinnige manne het by Jefta aangesluit en saam met hom uitgetrek.
4 En 'n tyd daarna het die kinders van Ammon oorlog gevoer teen Israel.
5 Maar toe die kinders van Ammon oorlog voer teen Israel, het die oudstes van
Gílead Jefta gaan haal uit die land Tob;
6 en hulle het vir Jefta gesê: Kom en wees ons aanvoerder, dat ons kan veg teen
die kinders van Ammon.
7 Maar Jefta antwoord die oudstes van Gílead: Het julle my nie gehaat en my uit
my vader se huis weggejaag nie? Waarom kom julle dan nou na my, nou dat julle in
die benoudheid sit?
8 Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Daarom kom ons nou na jou terug, dat
jy met ons kan saamtrek en teen die kinders van Ammon veg, en dat jy ons hoof
kan wees oor al die inwoners van Gílead.
9 Daarop antwoord Jefta die oudstes van Gílead: As julle my laat terugkom om
teen die kinders van Ammon te veg en die HERE hulle aan my oorgee, dan moet ek
julle hoof word.
10 Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Die HERE sal hoorder wees tussen
ons. Waarlik, soos jy gesê het, so sal ons doen.
11 So het Jefta dan met die oudstes van Gílead saamgegaan, en die volk het hom
as hoof en aanvoerder oor hulle aangestel, en Jefta het al sy woorde voor die
aangesig van die HERE in Mispa gespreek.
12 Toe stuur Jefta boodskappers na die koning van die kinders van Ammon om te
vra: Wat het ek met u te doen, dat u na my kom om teen my land te veg?
13 En die koning van die kinders van Ammon sê aan die boodskappers van Jefta:
Israel het my land geneem toe hy opgetrek het uit Egipte, van die Arnon af tot
by die Jabbok en tot by die Jordaan; gee dit dan nou in vrede terug.
14 En Jefta het nog weer boodskappers gestuur na die koning van die kinders van
Ammon
15 en vir hom gesê: So sê Jefta: Israel het die land Moab en die land van die
kinders van Ammon nie geneem nie.
16 Want Israel het toe hy uit Egipte opgetrek het, deur die woestyn gegaan tot
by die Skelfsee en het by Kades gekom.
17 En Israel het boodskappers gestuur na die koning van Edom om te sê: Laat my
tog deur u land trek; maar die koning van Edom het geen gehoor gegee nie; en na
die koning van Moab het hy gestuur, maar hy wou ook nie. Daarom het Israel in
Kades gebly.
18 Verder het hy deur die woestyn gegaan en om die land Edom en die land Moab
getrek en gekom aan die oostekant van die land Moab; en hulle het laer opgeslaan
oorkant die Arnon, maar nie in die gebied van Moab ingekom nie, want die Arnon
is die grens van Moab.
19 Daarop het Israel boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete,
die koning van Hesbon, en Israel het vir hom gesê: Laat ons tog deur u land trek
na my plek toe.
20 Maar Sihon het Israel nie vertrou om deur sy gebied te trek nie, en Sihon het
al sy manskappe versamel, en hulle het laer opgeslaan in Jahas en teen Israel
geveg.
21 Maar die HERE, die God van Israel, het Sihon en sy hele volk in die hand van
Israel gegee, en dié het hulle verslaan; sodat Israel die hele land van die
Amoriete, die inwoners van daardie land, in besit geneem het.
22 En hulle het die hele grondgebied van die Amoriete, van die Arnon af tot by
die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaan, in besit geneem.
23 So het die HERE, die God van Israel, dan die Amoriete voor sy volk Israel uit
verdrywe, en wil u dit in besit neem?
24 Sal u dit nie in besit neem wat u god Kamos u as 'n besitting gee, en óns
alles wat die HERE onse God voor ons uit verdrywe, in besit neem nie?
25 En is u nou soveel beter as Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab?
Het hy ooit met Israel getwis, of ooit teen hulle geveg?
26 Terwyl Israel in Hesbon met sy onderhorige plekke en in Aroër met sy
onderhorige plekke en in al die stede wat langs die Arnon lê, drie honderd jaar
lank gewoon het, waarom het julle dit dan nie in dié tyd ontset nie?
27 So het ék dan nie teen u gesondig nie, maar ú handel so sleg met my om teen
my oorlog te voer. Mag die HERE, die Regter, vandag oordeel tussen die kinders
van Israel en die kinders van Ammon!
28 Maar die koning van die kinders van Ammon het nie geluister na die woorde van
Jefta wat hy hom laat weet het nie.
29 Toe het die Gees van die HERE op Jefta gekom, en hy het oorgetrek na Gílead
en Manasse en verder deur na Mispe in Gílead; en van Mispe in Gílead het hy
deurgetrek na die kinders van Ammon.
30 En Jefta het aan die HERE 'n gelofte gedoen en gesê: As U werklik die kinders
van Ammon in my hand gee,
31 dan sal wat uitkom, wat uit die deure van my huis uitkom my tegemoet, as ek
in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die HERE behoort, en ek sal dit
as 'n brandoffer bring.
32 Daarop het Jefta deurgetrek na die kinders van Ammon om teen hulle te veg, en
die HERE het hulle in sy hand gegee.
33 En hy het hulle verslaan van Aroër af in die rigting na Minnit, twintig
stede, en tot by Abel-Kerámim--'n baie groot slag; sodat die kinders van Ammon
verneder is voor die kinders van Israel.
34 En toe Jefta in Mispa by sy huis kom, gaan sy dogter juis uit hom tegemoet
met tamboeryne en koordanse; en sy was die enigste kind: hy het geen seun of
dogter buiten haar gehad nie.
35 En net toe hy haar sien, skeur hy sy klere en sê: Ag, my dogter, jy druk my
heeltemal neer, en jy stort my in die ongeluk! Want ek het my mond geopen
teenoor die HERE, en ek kan nie terugtrek nie.
36 En sy antwoord hom: My vader, as u u mond geopen het teenoor die HERE, maak
met my soos uit u mond uitgegaan het nadat die HERE u volkome wraak verskaf het
op u vyande, op die kinders van Ammon.
37 Verder het sy vir haar vader gesê: Laat dít my toegestaan word: laat my twee
maande vry, dat ek kan weggaan en afdaal na die berge en my maagdelike staat
beween, ek en my vriendinne.
38 En hy sê: Gaan! En hy het haar vir twee maande laat gaan. Sy het toe
weggegaan met haar vriendinne en haar maagdelike staat op die berge beween.
39 En aan die end van twee maande het sy na haar vader teruggekom, en hy het die
gelofte wat deur hom gedoen is, aan haar voltrek; en sy het geen man beken nie.
En dit het 'n gewoonte geword in Israel
40 dat die dogters van Israel jaar vir jaar heengaan om die dogter van Jefta,
die Gileadiet, te besing, vier dae in die jaar.
12
1 En die manne van Efraim is saamgeroep en het oorgetrek na Safon toe en vir
Jefta gesê: Waarom het u deurgetrek om teen die kinders van Ammon te veg en óns
nie geroep om saam met u te trek nie? Ons sal u huis bo u met vuur verbrand.
2 Maar Jefta sê vir hulle: Ek en my volk het 'n hewige twis met die kinders van
Ammon gehad, en ek het julle opgeroep, maar julle het my nie uit hulle hand
verlos nie.
3 En toe ek sien dat jy nie help nie, het ek my lewe gewaag en deurgetrek na die
kinders van Ammon; en die HERE het hulle in my hand gegee. Waarom het julle dan
vandag teen my opgetrek om teen my oorlog te voer?
4 Daarop versamel Jefta al die manne van Gílead om teen Efraim te veg; en die
manne van Gílead het Efraim verslaan, omdat hulle gesê het: Julle, Gileadiete,
is vlugtelinge van Efraim, in die midde van Efraim en Manasse.
5 En Gílead het die Efraimiete van die Jordaan-driwwe afgesny; en as die
vlugtelinge van Efraim sê: Ek wil deurgaan--dan vra die manne van Gílead vir
hom: Is jy 'n Efraimiet? As hy sê: Nee,
6 dan vra hulle hom: Sê bietjie: Sjibbolet! En as hy sê: Sibbolet! en nie ag gee
om dit reg uit te spreek nie, dan gryp hulle hom en maak hom by die
Jordaan-driwwe dood. So het daar dan in dié tyd van Efraim twee en veertig
duisend man geval.
7 En Jefta het Israel ses jaar lank gerig; en Jefta, die Gileadiet, het gesterwe
en is begrawe in een van die stede van Gílead.
8 En ná hom het Ebsan, uit Betlehem, Israel gerig.
9 En hy het dertig seuns gehad, en dertig dogters het hy uitgehuwelik en van
buite af dertig dogters vir sy seuns ingebring; en hy het Israel sewe jaar lank
gerig.
10 En Ebsan het gesterwe en is begrawe in Betlehem.
11 En ná hom het Elon, die Sebuloniet, Israel gerig; en hy het Israel tien jaar
lank gerig.
12 En Elon, die Sebuloniet, het gesterwe en is begrawe in Ajalon, in die land
Sébulon.
13 En ná hom het Abdon, die seun van Hillel, die Pireatoniet, Israel gerig.
14 En hy het veertig seuns en dertig kleinseuns gehad wat op sewentig jong esels
gery het; en hy het Israel agt jaar lank gerig.
15 En Abdon, die seun van Hillel, die Pireatoniet, het gesterwe en is begrawe in
Píreaton, in die land Efraim, op die gebergte van die Amalekiete.
13
1 En toe die kinders van Israel weer doen wat verkeerd is in die oë van die
HERE, het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Filistyne, veertig jaar
lank.
2 En daar was 'n man uit Sórea, uit die geslag van die Daniete, met die naam van
Manóag; en sy vrou was onvrugbaar en het geen kinders gehad nie.
3 Maar die Engel van die HERE het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: Kyk, jy
is onvrugbaar en het geen kinders gehad nie, maar jy sal swanger word en 'n seun
baar.
4 Neem jou dan nou tog in ag en drink geen wyn of sterk drank nie en eet niks
wat onrein is nie.
5 Want kyk, jy sal swanger word en 'n seun baar, en geen skeermes mag op sy hoof
kom nie; want die seun sal van die moederskoot af 'n nasireër van God wees, en
hy sal Israel begin verlos uit die hand van die Filistyne.
6 Daarop kom die vrou in en spreek met haar man en sê: 'n Man van God het na my
gekom, en sy voorkoms was soos die voorkoms van die Engel van God, baie
vreeslik; maar ek het Hom nie gevra waar Hy vandaan was nie, en sy naam het hy
my nie meegedeel nie.
7 Maar Hy het vir my gesê: Kyk, jy sal swanger word en 'n seun baar; drink dan
nou geen wyn of sterk drank nie, en eet niks wat onrein is nie; want die seun
sal 'n nasireër van God wees van die moederskoot af tot die dag van sy dood toe.
8 En Manóag het tot die HERE gebid en gesê: Ag, Here, laat tog die man van God
wat U gestuur het, nog 'n keer na ons toe kom, dat hy ons kan leer hoe ons moet
maak met die seun wat gebore sal word.
9 En God het geluister na die stem van Manóag, sodat die Engel van God nog 'n
keer na die vrou gekom het terwyl sy in die veld sit en haar man Manóag nie by
haar was nie.
10 En die vrou het haastig geloop en haar man dit vertel en vir hom gesê: Kyk,
die man het aan my verskyn wat die ander dag na my gekom het.
11 Toe staan Manóag op en loop agter sy vrou aan, en hy kom by die man en vra
hom: Is U die man wat met dié vrou gespreek het? Toe sê Hy: Ja.
12 Daarop vra Manóag: As u woorde nou uitkom, wat moet die leefwyse en die werk
van die seun wees?
13 Toe sê die Engel van die HERE aan Manóag: Vir alles wat Ek aan die vrou gesê
het, moet sy haar in ag neem.
14 Van alles wat van die wingerdstok afkomstig is, mag sy nie eet nie; en geen
wyn of sterk drank moet sy drink nie en niks eet wat onrein is nie; alles wat Ek
haar beveel het, moet sy onderhou.
15 Manóag sê aan die Engel van die HERE: Laat ons U tog ophou, dat ons 'n bokkie
vir U kan berei.
16 En die Engel van die HERE antwoord Manóag: Al hou jy My op, Ek sal nie van
jou brood eet nie; maar as jy 'n brandoffer wil berei, offer dit dan aan die
HERE. Want Manóag het nie geweet dat dit die Engel van die HERE was nie.
17 Daarop vra Manóag die Engel van die HERE: Wat is u naam, dat ons U kan vereer
as u woord uitkom?
18 En die Engel van die HERE sê vir hom: Waarom vra jy dan na my naam terwyl hy
wonderbaar is?
19 Toe neem Manóag die bokkie en die spysoffer en offer dit op die rots aan die
HERE terwyl Hy wonderbaarlik handel voor die oë van Manóag en sy vrou:
20 toe die vlam van die altaar opstyg na bo, het die Engel van die HERE in die
vlam van die altaar opgevaar; en Manóag en sy vrou het dit gesien en met hulle
aangesig op die grond geval.
21 En die Engel van die HERE het verder nie meer aan Manóag en sy vrou verskyn
nie. Daarop bemerk Manóag dat dit die Engel van die HERE was.
22 En Manóag sê vir sy vrou: Ons sal sekerlik sterwe, omdat ons God gesien het.
23 Maar sy vrou sê vir hom: As die HERE ons wou laat sterwe, sou Hy nie uit ons
hand 'n brandoffer en 'n spysoffer aangeneem en ons al hierdie dinge laat sien
en ons nou sulke dinge laat hoor het nie.
24 En die vrou het 'n seun gebaar en hom Simson genoem; en die kind het groot
geword, en die HERE het hom geseën.
25 En die Gees van die HERE het hom begin drywe in die laer van Dan tussen Sórea
en Estáol.
14
1 Toe Simson afgegaan het na Timna, sien hy in Timna 'n vrou uit die dogters van
die Filistyne;
2 en hy het opgegaan en dit aan sy vader en sy moeder vertel en gesê: Ek het 'n
vrou uit die dogters van die Filistyne in Timna gesien; neem haar dan nou as
vrou vir my.
3 Maar sy vader en sy moeder sê vir hom: Is daar onder die dogters van jou
broers en onder my hele volk nie 'n vrou, dat jy heengaan om 'n vrou uit die
Filistyne, die onbesnedenes, te neem nie? En Simson sê aan sy vader: Neem haar
vir my, want sy geval my.
4 Maar sy vader en sy moeder het nie geweet dat dit van die HERE kom nie; want
hy het rede gesoek teen die Filistyne; in dié tyd naamlik het die Filistyne oor
Israel geheers.
5 En Simson het met sy vader en sy moeder afgegaan na Timna; en toe hulle by die
wingerde van Timna kom, storm daar 'n jong leeu brullende op hom af.
6 Maar die Gees van die HERE het oor hom vaardig geword; en hy het dit verskeur
soos 'n mens 'n bokkie verskeur sonder dat daar iets in sy hand was; maar hy het
sy vader en sy moeder nie vertel wat hy gedoen het nie.
7 Toe gaan hy af en praat met die vrou; en sy het Simson geval.
8 En 'n tyd daarna het hy teruggegaan om haar te gaan haal; en toe hy uitdraai
om na die dooie leeu te kyk, was daar 'n swerm bye in die dooie liggaam van die
leeu, en heuning.
9 En hy het dit uitgehaal in sy hande en aldeur geloop en eet, en na sy vader en
sy moeder gegaan en aan hulle gegee; en hulle het geëet, maar dat hy die heuning
uit die dooie liggaam van die leeu uitgehaal het, vertel hy hulle nie.
10 Daarop gaan sy vader na die vrou toe af, en Simson het daar 'n maaltyd berei;
want so het die jongmanne gewoonlik gedoen.
11 En toe hulle hom sien, neem hulle dertig vriende om by hom te wees.
12 En Simson sê aan hulle: Laat my tog vir julle 'n raaisel opgee; as julle dit
vir my reg uitlê gedurende die sewe dae van die maaltyd en dit uitvind, dan sal
ek julle dertig hemde en dertig stel klere gee;
13 maar as julle dit vir my nie kan uitlê nie, dan moet júlle my dertig hemde en
dertig stel klere gee. Toe sê hulle vir hom: Gee maar jou raaisel op, dat ons
dit hoor.
14 En hy sê vir hulle: Spys het uit die eter uitgegaan, en soetigheid uit die
sterke. En drie dae lank kon hulle die raaisel nie uitlê nie.
15 En op die vierde dag sê hulle aan die vrou van Simson: Haal jou man oor dat
hy die raaisel vir ons uitlê, anders verbrand ons jou en die huis van jou vader
met vuur; het julle ons genooi om ons te berowe, of hoe?
16 Toe huil die vrou van Simson by hom en sê: Jy haat my net en het my nie lief
nie; jy het my volksgenote die raaisel opgegee, maar vir my het jy dit nie
uitgelê nie. En hy antwoord haar: Kyk, vir my vader en my moeder het ek dit nie
uitgelê nie, sou ek dit dan vir jou uitlê?
17 Maar sy het die sewe dae wat hulle maaltyd geduur het, by hom gehuil; en op
die sewende dag het hy dit vir haar uitgelê; want sy het hom gepers en so die
raaisel vir haar volksgenote uitgelê.
18 Daarop sê die manne van die stad aan hom op die sewende dag voor
sonsondergang: Wat is soeter as heuning, en wat is sterker as 'n leeu? En hy
antwoord hulle: As julle nie met my kalf geploeg het nie, sou julle my raaisel
nie geraai het nie.
19 En die Gees van die HERE het oor hom vaardig geword. Toe gaan hy af na
Askelon en slaan dertig man van hulle dood, en neem hulle uitrustings en gee die
stelle klere aan die wat die raaisel uitgelê het; en hy het kwaad geword en
opgegaan na die huis van sy vader.
20 En sy vriend wat as sy bruidsjonker gedien het, het die vrou van Simson
gekry.
15
1 Maar 'n tyd daarna het Simson in die dae van die koringoes sy vrou besoek met
'n bokkie en gesê: Laat ek na my vrou in die kamer ingaan; maar haar vader het
hom nie toegelaat om in te gaan nie.
2 En haar vader het gesê: Ek het vir seker gedink dat jy niks om haar gee nie;
daarom het ek haar aan jou metgesel gegee; is haar jonger suster nie mooier as
sy nie? Laat sy tog joue word in haar plek.
3 Maar Simson het vir hulle gesê: Hierdie keer is ek onskuldig teenoor die
Filistyne as ek hulle kwaad aandoen.
4 Toe gaan Simson weg en vang drie honderd jakkalse; en hy neem fakkels en draai
stert teen stert, en sit 'n fakkel in die middel tussen elke twee sterte in;
5 en hy steek die fakkels aan die brand en los hulle in die ongesnyde graan van
die Filistyne; en hy het die miede sowel as die ongesnyde graan en die wingerde
en olyfbome aan die brand gesteek.
6 Toe vra die Filistyne: Wie het dit gedoen? En hulle sê: Simson, die skoonseun
van die Timniet, omdat dié sy vrou geneem en haar aan sy metgesel gegee het. En
die Filistyne het opgetrek en haar en haar vader se huis met vuur verbrand.
7 Daarop sê Simson vir hulle: As julle so maak, sal ek sekerlik nie rus voordat
ek my op julle gewreek het nie.
8 En hy het hulle lendelam geslaan, 'n groot slag. En hy het afgegaan en gebly
in die rotskloof van Etam.
9 Toe trek die Filistyne nader en slaan laer op in Juda en sprei hulleself uit
by Legi.
10 En die manne van Juda vra: Waarom het julle teen ons opgetrek? En hulle sê:
Ons het opgetrek om Simson te bind, om aan hom te doen soos hy aan ons gedoen
het.
11 Daarop trek drie duisend man uit Juda af na die rotskloof van Etam en vra vir
Simson: Weet jy nie dat die Filistyne oor ons heers nie, en wat het jy ons nou
aangedoen? En hy sê aan hulle: Soos hulle aan my gedoen het, so het ek aan hulle
gedoen.
12 Toe sê hulle vir hom: Ons het afgekom om jou te bind, om jou oor te gee in
die hand van die Filistyne. En Simson sê aan hulle: Sweer vir my dat julle nie
self op my sal aanval nie.
13 En hulle antwoord hom: Nee, ons sal jou net vasbind en oorgee in hulle hand,
maar doodmaak sal ons jou stellig nie. Daarop bind hulle hom vas met twee nuwe
toue en bring hom op uit die rots.
14 Toe hy tot by Legi kom, juig die Filistyne hom tegemoet; maar die Gees van
die HERE het oor hom vaardig geword, en die toue wat aan sy arms was, het geword
soos linnedrade wat in die vuur brand, en sy bande het versmelt van sy hande af.
15 En hy het 'n vars eselskakebeen gevind en sy hand uitgesteek en dit geneem en
daar duisend man mee verslaan.
16 En Simson het gesê: Met 'n eselskakebeen het ek een klomp, twee klompe, met
'n eselskakebeen het ek duisend man verslaan.
17 En toe hy klaar gespreek het, gooi hy die kakebeen uit sy hand en noem dié
plek Kakebeenshoogte.
18 Daarop kry hy baie dors en roep die HERE aan en sê: U het deur die hand van u
kneg hierdie groot verlossing gegee, en moet ek nou van dors sterwe en in die
hand van die onbesnedenes val?
19 Toe kloof God die holte wat by Legi is, en daar kom water uit; en hy het
gedrink, en sy gees het teruggekom, en hy het weer opgelewe. Daarom noem hulle
dit Roepersfontein, wat vandag nog by Legi is.
20 En hy het Israel gerig in die dae van die Filistyne, twintig jaar lank.
16
1 En Simson het na Gasa gegaan en daar 'n hoer gesien en by haar ingegaan.
2 Toe die Gasiete die tyding kry: Simson het hier ingekom, omsingel hulle hom en
lê hom die hele nag voor by die stadspoort, maar die hele nag het hulle hul
stilgehou en gesê: Teen dagbreek sal ons hom doodmaak.
3 En Simson het gelê tot middernag; maar teen middernag het hy opgestaan en die
deure van die stadspoort en die twee deurposte gegryp en dié met grendel en al
uitgeruk en op sy skouers gesit en dit opgedra na die top van die berg wat
teenoor Hebron lê.
4 Daarna het hy 'n vrou in die dal Sorek liefgekry, wie se naam Delíla was.
5 Toe kom die vorste van die Filistyne na haar op en sê vir haar: Haal hom oor
en vind uit waardeur sy krag so groot is, en waardeur ons hom kan oorweldig en
hom kan bind om hom te bedwing; dan sal ons jou elkeen elf honderd sikkels
silwer gee.
6 Toe vra Delíla vir Simson: vertel my tog waardeur jou krag so groot is, en
waarmee jy gebind kan word om jou te bedwing.
7 En Simson sê vir haar: As hulle my bind met sewe vars lyne wat nie uitgedroog
is nie, dan sal ek swak word en wees soos 'n ander mens.
8 Daarop het die vorste van die Filistyne vir haar sewe vars lyne gebring wat
nie uitgedroog was nie, en sy het hom daarmee gebind.
9 En terwyl haar spioene in die kamer klaar sit, sê sy vir hom: Die Filistyne op
jou, Simson! Toe verbreek hy die lyne soos 'n vlasdraad breek as dit vuur ruik;
maar sy krag het nie bekend geword nie.
10 Toe sê Delíla vir Simson: Kyk, jy het my bedrieg en vir my leuens vertel;
vertel my nou tog waarmee jy gebind kan word.
11 En hy antwoord haar: As hulle my stewig vasbind met nuwe toue waarmee geen
werk gedoen is nie, dan sal ek swak word en wees soos 'n ander mens.
12 Toe het Delíla nuwe toue geneem en hom daarmee gebind en vir hom gesê: Die
Filistyne op jou, Simson! terwyl die spioene in die kamer klaarsit; maar hy het
dit soos 'n draad van sy arms af verbreek.
13 En Delíla sê vir Simson: Tot nou toe het jy my bedrieg en vir my leuens
vertel; vertel my waarmee jy gebind kan word. En hy antwoord haar: As jy die
sewe haarvlegsels van my hoof met die weefsel saam invleg.
14 Sy druk dié toe vas met die pen en sê vir hom: Die Filistyne op jou, Simson!
En hy het wakker geword uit sy slaap en die weefpen met die weefsel uitgeruk.
15 Toe sê sy vir hom: Hoe kan jy sê: Ek het jou lief! terwyl jou hart nie met my
is nie? Drie maal het jy my nou al bedrieg en my nie meegedeel waardeur jou krag
so groot is nie.
16 En omdat sy hom met haar woorde aldae gepers en by hom aangedring het, het hy
so ongeduldig geword, dat hy kon sterf.
17 En hy het sy hele hart aan haar bekend gemaak en aan haar gesê: Daar het
nooit 'n skeermes oor my hoof gekom nie, want ek is 'n nasireër van God van my
moeder se skoot af: as ek geskeer sou word, sou my krag van my wyk en ek swak
word en wees soos al die mense.
18 Toe Delíla sien dat hy sy hele hart aan haar bekend gemaak het, laat sy die
vorste van die Filistyne roep en sê: Kom hierdie keer op, want hy het sy hele
hart aan my bekend gemaak. Toe kom die vorste van die Filistyne na haar op en
bring die geld met hulle saam.
19 En sy het hom op haar skoot aan die slaap gemaak en 'n man geroep en die sewe
haarvlegsels van sy hoof afgeskeer. En sy het begin om hom te bedwing, en sy
krag het van hom gewyk.
20 Toe sê sy: Die Filistyne op jou, Simson! En toe hy uit sy slaap wakker word,
sê hy: Ek sal vry uitgaan soos die vorige kere en my losruk. Want hy het nie
geweet dat die HERE van hom gewyk het nie.
21 Daarop het die Filistyne hom gegryp en sy oë uitgesteek en hom afgebring na
Gasa en met koperkettings gebind; en hy moes maal in die gevangenis.
22 Maar die hare van sy hoof het weer begin groei sodra dit afgeskeer was.
23 En die vorste van die Filistyne het vergader om 'n groot offer te bring aan
hulle god Dagon en om vrolik te wees; en hulle het gesê: Ons god het ons vyand
Simson in ons hand gegee.
24 En toe die volk hom sien, prys hulle hul god; want hulle het gesê: Ons god
het ons vyand en die rinneweerder van ons land, wat ook baie van ons laat
sneuwel het, in ons hand gegee.
25 En toe hulle hart vrolik was, sê hulle: Roep Simson, dat hy vir ons speel; en
hulle het Simson uit die gevangenis geroep; en hy het voor hulle gespeel, en
hulle het hom tussen die pilare laat staan.
26 Daarop sê Simson aan die dienaar wat hom aan die hand hou: Laat my staan, en
laat my die pilare betas waar die huis op rus, dat ek daarteen kan leun.
27 En die huis was vol manne en vroue, en al die vorste van die Filistyne was
daar, en op die dak omtrent drie duisend manne en vroue wat kyk hoe Simson
speel.
28 Toe roep Simson die HERE aan en sê: Here, HERE, dink tog aan my en versterk
my tog net hierdie keer, o God, dat ek my oor een van my twee oë op die
Filistyne kan wreek!
29 En Simson slaan sy arms om die twee middelste pilare waar die huis op gerus
het, die een met sy regter-- en die ander met sy linkerhand, en leun teen hulle
aan.
30 En Simson sê: Laat my sterwe saam met die Filistyne! En hy buig hom met krag,
sodat die huis inval op die vorste en op al die mense wat daarin was. So was dan
die dooies wat hy by sy sterwe gedood het, meer as die wat hy in sy lewe gedood
het.
31 Sy broers en sy hele familie het toe afgekom en hom opgeneem en opwaarts
gebring en hom begrawe tussen Sórea en Estáol in die graf van sy vader Manóag.
En hy het Israel twintig jaar lank gerig.
17
1 Daar was 'n man van die gebergte van Efraim met die naam van Miga.
2 Dié het aan sy moeder gesê: die elf honderd sikkels silwer wat van u geneem is
en waaroor u 'n vloek uitgespreek het en dit ook voor my ore gesê het--hier is
die geld by my, ék het dit geneem. Toe sê sy moeder: Mag jy geseënd wees deur
die HERE, my seun!
3 En hy het aan sy moeder die elf honderd sikkels silwer teruggegee. Maar sy
moeder het gesê: Ek heilig plegtig die geld aan die HERE; uit my hand is dit vir
my seun om 'n gesnede en 'n gegote beeld te maak; ek sal dit dan nou aan jou
teruggee.
4 Toe hy dan die geld aan sy moeder teruggegee het, neem sy moeder twee honderd
sikkels silwer en gee dit aan 'n goudsmid; en hy het daar 'n gesnede en 'n
gegote beeld van gemaak wat in die huis van Miga gekom het.
5 Die man Miga het naamlik 'n godshuis gehad, en hy het 'n skouerkleed en
huisgode gemaak en een van sy seuns aangestel om vir hom priester te wees.
6 In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was
in sy oë.
7 En daar was 'n jongman van Betlehem-Juda, uit die geslag van Juda; hy was 'n
Leviet wat daar as vreemdeling vertoef het.
8 En die man het uit die stad, uit Betlehem-Juda, getrek om te vertoef waar hy
plek kon kry; en op sy reis het hy in die gebergte van Efraim gekom tot by die
huis van Miga.
9 En Miga vra hom: Waar kom u vandaan? Toe sê hy vir hom: Ek is 'n Leviet, uit
Betlehem-Juda, en ek is op trek om te vertoef waar ek plek kan kry.
10 En Miga sê vir hom: Bly by my, en wees vir my 'n vader en 'n priester, dan
sal ek u jaarliks tien sikkels silwer gee en 'n stel klere en u lewensonderhoud.
En die Leviet het gegaan,
11 en die Leviet het ingewillig om by die man te bly; en die jongman was vir hom
soos een van sy seuns.
12 En Miga het die Leviet aangestel, sodat die jongman sy priester geword het,
en hy was in die huis van Miga.
13 Toe sê Miga: Nou weet ek dat die HERE aan my goed sal doen, omdat ek 'n
Leviet as priester het.
18
1 In dié dae was daar geen koning in Israel nie; en in dié dae het die stam van
die Daniete vir hom 'n erfdeel gesoek om in te woon, want tot dié dag toe het
onder die stamme van Israel geen genoegsame erfdeel aan hom toegeval nie.
2 En die kinders van Dan het uit al die dele van hulle geslag vyf man, dapper
manne, uit Sórea en Estáol gestuur om die land te verken en dit te deursoek, en
vir hulle gesê: Gaan deursoek die land. En hulle het die gebergte van Efraim
ingegaan tot by die huis van Miga en daar die nag oorgebly.
3 Toe hulle by die huis van Miga was en die stem van die jongman, die Leviet,
herken, draai hulle daar af en sê vir hom: Wie het jou hierheen gebring, en wat
maak jy hier, en wat soek jy hier?
4 Daarop sê hy vir hulle: So en so het Miga met my gedoen, en hy het my gehuur,
en ek het sy priester geword.
5 Toe vra hulle hom: Raadpleeg God tog, dat ons kan weet of ons pad waarop ons
reis, voorspoedig sal wees.
6 En die priester sê vir hulle: Gaan in vrede; voor die HERE lê julle pad waar
julle langs sal gaan.
7 Toe gaan die vyf manne weg en hulle kom by Lais; en hulle sien dat die volk
wat daarin was, veilig woon volgens die gewoonte van die Sidoniërs, rustig en
onbesorg; en daar was niemand wat in enigiets leed doen in die land deur vermoë
in besit te neem nie; en hulle was ver van die Sidoniërs af, terwyl hulle met
geen mens gemeenskap gehad het nie.
8 En toe hulle by hul broers kom in Sórea en Estáol, sê hul broers vir hulle:
Wat sê julle?
9 En hulle antwoord: Maak klaar, en laat ons teen hulle optrek! Want ons het die
land gesien, en kyk, dit is baie goed; en julle sit stil! Wees nie traag om te
trek, in te gaan, die land in besit te neem nie.
10 As julle daar kom, sal julle by 'n onbesorgde volk kom, en die land is
alkante toe wyd; want God gee dit in julle hand, 'n plek waar aan niks op aarde
gebrek is nie.
11 Toe het daarvandaan weggetrek, uit die geslag van die Daniete, uit Sórea en
Estáol, ses honderd man, omgord met wapens.
12 En hulle het opgetrek en laer opgeslaan by Kirjat-Jeárim in Juda; daarom noem
hulle dié plek Dan-se-Laer tot vandag toe; dit lê daar agter Kirjat-Jeárim.
13 En daarvandaan het hulle oorgetrek in die gebergte van Efraim en gekom tot by
die huis van Miga.
14 Daarop het die vyf man wat gegaan het om die land van Lais te verken, aan
hulle broers begin sê: Weet julle dat in hierdie huise 'n skouerkleed en
huisgode en 'n gesnede en 'n gegote beeld is? Weet dan nou wat julle moet doen!
15 Hulle het toe daarheen uitgedraai en gekom by die huis van die jongman, die
Leviet, die huis van Miga, en hom na sy welstand gevra.
16 Onderwyl die ses honderd man wat uit die kinders van Dan was, met hulle
wapens omgord voor die ingang van die poort gaan staan,
17 het die vyf man wat gegaan het om die land te verken, opgegaan, daar ingekom,
die gesnede beeld en die skouerkleed en die huisgode en die gegote beeld geneem,
terwyl die priester by die ingang van die poort bly staan saam met die ses
honderd man met wapens omgord.
18 Toe daardie manne dan die huis van Miga ingegaan en die gesnede beeld, die
skouerkleed en die huisgode en die gegote beeld geneem het, vra die priester vir
hulle: Wat maak julle?
19 En hulle sê vir hom: Bly stil, sit jou hand op jou mond en gaan saam met ons,
en wees vir ons 'n vader en 'n priester: is dit beter vir jou om priester te
wees vir die huis van een man of om priester te wees vir 'n stam en 'n geslag in
Israel?
20 Toe word die priester se hart vrolik, en hy neem die skouerkleed en die
huisgode en die gesnede beeld en gaan tussen die manskappe in.
21 En hulle het weggedraai en voortgetrek, met die kinders en die vee en die
waardevolle goed op hulle voorpunt.
22 Nadat hulle 'n hele ent weg was van Miga se huis af, is die manne van die
huise wat by Miga se huis staan, bymekaargeroep, en hulle het die kinders van
Dan agtervolg
23 en na die kinders van Dan geroep. Toe draai dié hulle gesigte om en vra vir
Miga: Wat is dit met jou dat julle bymekaargeroep is?
24 En hy sê: My gode wat ek gemaak het, het julle weggeneem saam met die
priester, en julle trek weg; wat het ek nou oor? En hoe kan julle dan vir my sê:
Wat is dit met jou?
25 Maar die kinders van Dan sê vir hom: Moenie jou stem by ons laat hoor nie,
sodat nie miskien manne met 'n bitter gemoed op julle aanval en jy jou eie lewe
en die lewe van jou huis verloor nie.
26 Daarop gaan die kinders van Dan hulle koers, terwyl Miga, toe hy sien dat
hulle sterker was as hy, omdraai en na sy huis teruggaan.
27 Maar hulle het saamgeneem wat Miga gemaak het, en die priester wat hy gehad
het; en hulle het Lais, 'n rustige en onbesorgde volk, oorval en dié met die
skerpte van die swaard verslaan en die stad met vuur verbrand.
28 En daar was geen redder nie, want dit was ver van Sidon af en hulle het met
niemand gemeenskap gehad nie: dit het in die dal gelê wat by Bet-Rehob behoort.
Hulle bou toe die stad weer op en woon daarin,
29 en noem die stad Dan, na die naam van hulle vader Dan wat vir Israel gebore
is; maar tevore was die naam van die stad Lais.
30 En die kinders van Dan het vir hulle die gesnede beeld opgerig; en Jónatan,
die seun van Gersom, die seun van Moses, hy en sy seuns was priesters vir die
stam van die Daniete tot op die dag van die ontvolking van die land.
31 En hulle het vir hulle die gesnede beeld van Miga opgerig wat hy gemaak het,
al die dae dat die huis van God in Silo was.
19
1 En in dié dae was daar geen koning in Israel nie. En 'n Levitiese man het as
vreemdeling vertoef agter in die gebergte van Efraim; en hy het vir hom 'n vrou,
'n byvrou, geneem uit Betlehem-Juda.
2 Maar sy byvrou het by hom gehoereer en van hom weggegaan na haar vader se
huis, na Betlehem-Juda; en sy was daar vier maande lank.
3 Daarop maak haar man klaar en gaan haar agterna om na haar hart te spreek en
haar terug te bring; sy dienaar was by hom met 'n paar esels. En toe sy hom in
die huis van haar vader bring en die vader van die jong vrou hom sien, was hy
bly om hom te ontmoet.
4 En sy skoonvader, die vader van die jong vrou, het hom teruggehou, sodat hy
drie dae by hom gebly het; en hulle het geëet en gedrink en die nag daar
oorgebly.
5 Maar terwyl hulle op die vierde dag vroeg in die môre opstaan en hy klaarmaak
om weg te gaan, sê die vader van die jong vrou vir sy skoonseun: Versterk jou
hart met 'n stukkie brood, en daarna kan julle weggaan.
6 En hulle het gebly, en hulle twee het saam geëet en gedrink. Daarop sê die
vader van die jong vrou aan die man: Bly tog asseblief die nag oor, en laat jou
hart vrolik wees.
7 Toe die man egter klaarmaak om weg te gaan, het sy skoonvader by hom
aangedring, sodat hy weer die nag daar oorgebly het.
8 Terwyl hy op die vyfde dag vroeg in die môre klaarmaak om weg te gaan, sê die
vader van die jong vrou: Versterk jou hart tog, en vertoef julle tot
agtermiddag. En hulle twee het geëet.
9 Maar toe die man klaarmaak om weg te gaan, hy en sy byvrou en sy dienaar, sê
sy skoonvader, die vader van die jong vrou, vir hom: Kyk, die son sak, dit wil
aand word; bly julle maar die nag oor: kyk, dit is al laat, bly die nag hier
oor, en laat jou hart vrolik wees; dan kan julle môre vroeg klaarmaak vir julle
reis en na jou tente toe gaan.
10 Maar die man wou nie die nag oorbly nie en het klaargemaak en weggetrek en
gekom tot teenoor Jebus--dit is Jerusalem--met 'n paar opgesaalde esels by hom;
ook sy byvrou was by hom.
11 En toe hulle by Jebus kom en die son al baie gesak het, sê die dienaar aan sy
heer: Kom tog, laat ons uitdraai na hierdie stad van die Jebusiete en daarin
vernag.
12 Maar sy heer sê aan hom: Ons kan nie uitdraai na 'n vreemde stad waar nie van
die kinders van Israel is nie, maar ons moet verbytrek tot by Gíbea.
13 Verder sê hy aan sy dienaar: Trek, laat ons nader kom by een van die plekke
en in Gíbea of Rama vernag.
14 So het hulle dan verder verbygetrek; en die son het vir hulle ondergegaan by
Gíbea wat aan Benjamin behoort.
15 Toe draai hulle daar uit om in Gíbea te gaan vernag. En hy het ingekom en
gebly op die plein van die stad, want daar was niemand wat hulle in sy huis
opgeneem het om te vernag nie.
16 Maar kyk, in die aand kom daar 'n ou man uit die veld van sy werk af, en die
man was van die gebergte van Efraim afkomstig en het in Gíbea as vreemdeling
vertoef; maar die manne van die plek was Benjaminiete.
17 En toe hy sy oë opslaan, sien hy die reisiger op die plein van die stad, en
die ou man vra: Waar gaan u heen, en waar kom u vandaan?
18 En hy sê vir hom: Ons trek deur van Betlehem-Juda tot agter in die gebergte
van Efraim; ek kom daarvandaan en het tot by Betlehem-Juda gereis, en ek gaan na
die huis van die HERE; maar hier is niemand wat my in sy huis opneem nie,
19 alhoewel ons esels strooi sowel as voer het, en daar ook brood en wyn is vir
myself en vir u dienares en vir die bediende wat by u dienaars is; daar is aan
geen ding gebrek nie.
20 Toe sê die ou man: Vrede vir jou! alleenlik, al wat u kortkom, is vir my
rekening; u moet net nie op die plein vernag nie.
21 Daarop het hy hom in sy huis ingebring en aan die esels voer gegee; en nadat
hulle hul voete gewas het, het hulle geëet en gedrink.
22 Terwyl hulle hul hart vrolik maak, omsingel die manne van die stad, slegte
manne, meteens die huis en klop hard aan die deur; en hulle spreek met die ou
man, die eienaar van die huis, en sê: Bring die man uit wat in jou huis ingekom
het, dat ons hom kan beken.
23 Daarop gaan die man, die eienaar van die huis, uit na hulle en sê aan hulle:
Nee, my broers, moet tog nie kwaad doen nie, aangesien hierdie man in my huis
ingekom het; moet nie hierdie skanddaad begaan nie.
24 Hier is my dogter wat 'n jongmeisie is, en sy byvrou; laat ek hulle uitbring,
onteer hulle dan en maak met hulle wat goed is in julle oë, maar aan hierdie man
mag julle so 'n skanddaad nie begaan nie.
25 Toe die manne nie na hom wou luister nie, gryp die man sy byvrou en bring
haar uit na hulle daarbuite; en hulle het haar beken en die hele nag deur haar
mishandel, tot die môre toe, en haar laat loop toe die rooidag uitkom.
26 En teen dagbreek het die vrou gekom en neergeval voor die ingang van die man
se huis waar haar heer was, totdat dit lig was.
27 En toe haar heer die môre opstaan en die huisdeure oopmaak en uitgaan om sy
reis voort te sit--kyk, daar lê die vrou, sy byvrou, voor die ingang van die
huis met haar hande op die drumpel.
28 En hy sê vir haar: Staan op en laat ons trek; maar niemand antwoord nie.
Daarop het hy haar op die esel gelaai, en die man het klaargemaak en na sy
woonplek getrek.
29 Maar toe hy in sy huis kom, het hy 'n mes geneem en sy byvrou gegryp en haar
stukkend gesny volgens haar gebeente in twaalf stukke en dit in die hele
grondgebied van Israel rondgestuur.
30 En elkeen wat dit sien, het gesê: So iets het nie gebeur en is nie gesien van
die dag af dat die kinders van Israel uit Egipteland opgetrek het tot vandag toe
nie; neem dit tog ter harte, gee raad en spreek!
20
1 Toe het al die kinders van Israel uitgetrek, en die vergadering het soos een
man, van Dan tot Berséba, saam met die land Gílead, byeengekom by die HERE in
Mispa;
2 en die hoofde van die hele volk, van al die stamme van Israel, het in die
vergadering van die volk van God gaan staan--vier honderd duisend man te voet
wat die swaard uittrek.
3 En die kinders van Benjamin het gehoor dat die kinders van Israel opgetrek het
na Mispa. Toe sê die kinders van Israel: Vertel julle hoe hierdie misdaad
gepleeg is.
4 Daarop antwoord die Levitiese man, die man van die vermoorde vrou, en sê: Ek
het in Gíbea wat aan Benjamin behoort, gekom, ek en my byvrou, om te vernag.
5 En die burgers van Gíbea het teen my opgestaan en in vyandskap teen my die
huis omsingel in die nag; hulle het gemeen om my dood te maak, en my byvrou het
hulle onteer, sodat sy gesterf het.
6 Toe het ek my byvrou gegryp en haar in stukke verdeel en haar rondgestuur in
die hele gebied van die erfdeel van Israel, omdat hulle 'n gruwel en 'n
skanddaad in Israel begaan het.
7 Hier is julle, kinders van Israel, nou almal: gee julle hier woord en raad!
8 Toe staan die hele volk op soos een man en sê: Geeneen van ons sal na sy tent
toe gaan en geeneen van ons wegdraai na sy huis toe nie;
9 maar dit is nou die ding wat ons Gíbea sal aandoen: Op teen hom volgens die
lot!
10 Ons sal naamlik tien man neem uit elke honderd van al die stamme van Israel,
en honderd uit duisend, en duisend uit tien duisend, om padkos vir die manskappe
te gaan haal, om as hulle gekom het, met Gíbea-Benjamin te handel volgens die
skanddaad wat hy in Israel begaan het.
11 Toe versamel al die manne van Israel by die stad, soos een man saamverbonde.
12 En die stamme van Israel stuur manne deur die hele stam van Benjamin om te
sê: Wat vir 'n misdaad is dit wat onder julle gepleeg is?
13 Lewer dan nou die slegte manne uit wat in Gíbea is, dat ons hulle om die lewe
kan bring en die kwaad uit Israel kan uitroei. Die Benjaminiete wou egter nie na
hulle broers, die kinders van Israel, luister nie;
14 maar die kinders van Benjamin het bymekaargekom uit die stede na Gíbea toe,
om na die oorlog uit te trek teen die kinders van Israel.
15 En die kinders van Benjamin uit die stede is op dié dag getel ses en twintig
duisend man wat die swaard uittrek, behalwe die inwoners van Gíbea wat getel is:
sewe honderd uitgesoekte manne.
16 Uit al hierdie manskappe was daar sewe honderd uitgesoekte manne wat links
was; hulle almal het met 'n klip op 'n haar geslinger sonder om te mis.
17 En die manne van Israel, behalwe Benjamin, is getel: vier honderd duisend man
wat die swaard uittrek, hulle almal was krygsmanne.
18 En hulle het klaargemaak en opgetrek na Bet-el en God geraadpleeg; en die
kinders van Israel het gesê: Wie van ons moet eerste optrek om te veg teen die
kinders van Benjamin? Toe sê die HERE: Juda eerste.
19 Daarop het die kinders van Israel die môre klaargemaak en laer opgeslaan teen
Gíbea.
20 En die manne van Israel het uitgetrek om te veg teen Benjamin, en die manne
van Israel het hulleself in slagorde teen hulle opgestel, na Gíbea toe.
21 Toe trek die kinders van Benjamin uit Gíbea uit, en hulle het op dié dag in
Israel twee en twintig duisend man teen die grond vernietig.
22 Maar die manskappe, die manne van Israel, het hulle sterk gehou en hulle weer
in slagorde opgestel op die plek waar hulle hul die vorige dag opgestel het.
23 En die kinders van Israel het opgetrek en geween voor die aangesig van die
HERE tot die aand toe en die HERE geraadpleeg en gesê: Moet ek weer nader trek
om te veg teen die kinders van Benjamin, my broer? En die HERE sê: Trek teen hom
op!
24 En toe die kinders van Israel die tweede dag nader kom na die kinders van
Benjamin,
25 het Benjamin uit Gíbea op die tweede dag uitgetrek om hulle te ontmoet en van
die kinders van Israel nog agttien duisend man wat almal die swaard uittrek,
teen die grond vernietig.
26 Daarop trek al die kinders van Israel, ja, die hele volk weg, en hulle het na
Bet-el gekom; en hulle het geween en daar gebly voor die aangesig van die HERE
en dié dag gevas tot die aand toe en brandoffers en dankoffers voor die aangesig
van die HERE gebring.
27 En die kinders van Israel het die HERE geraadpleeg--want die verbondsark van
God was in dié dae daar,
28 en Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van Aäron, het in dié dae voor Hom
gedien--en gesê: Moet ek nog weer uittrek om teen die kinders van Benjamin, my
broer, te veg, of moet ek ophou? Toe sê die HERE: Trek op, want môre sal Ek hom
in jou hand gee.
29 En Israel het rondom teen Gíbea hinderlae opgestel.
30 En die kinders van Israel het op die derde dag teen die kinders van Benjamin
opgetrek en hulle teen Gíbea opgestel soos die vorige kere.
31 En die kinders van Benjamin het uitgetrek, die manskappe tegemoet--hulle is
van die stad afgesny--en, soos die vorige kere, het hulle begin om sommige van
die manskappe op die grootpaaie te verslaan, waarvan die een opgaan na Bet-el,
en die ander deur die veld na Gíbea--omtrent dertig man in Israel.
32 Toe dink die kinders van Benjamin: Hulle is voor ons verslaan soos die eerste
keer! Maar die kinders van Israel het gesê: Laat ons vlug en hom van die stad
afsny na die grootpaaie toe.
33 En al die manne van Israel het hulle stelling verlaat en hulle by Baäl-Tamar
opgestel, terwyl die hinderlaag van Israel aanruk uit sy stelling, uit die oop
plek by Geba.
34 En tien duisend uitgesoekte manne uit die hele Israel het teenoor Gíbea
vandaan gekom, en die geveg was hewig; maar Benjamin het nie gemerk dat die
onheil hulle sou tref nie.
35 Toe het die HERE Benjamin voor Israel verslaan, en die kinders van Israel het
op dié dag in Benjamin vyf en twintig duisend een honderd man wat almal die
swaard uittrek, vernietig.
36 So het dan die kinders van Benjamin gesien dat hulle verslaan is. En die
manne van Israel het aan Benjamin terrein gegee, omdat hulle vertrou het op die
hinderlaag wat hulle teen Gíbea opgestel het.
37 Toe het die hinderlaag vinnig na Gíbea gestorm--en die hinderlaag het getrek
en die hele stad met die skerpte van die swaard verslaan.
38 En die manne van Israel het 'n afspraak met die hinderlaag gehad dat hulle 'n
groot rookwolk uit die stad moet laat optrek.
39 Daarom het die manne van Israel omgedraai in die geveg; en die Benjaminiete
het begin om onder die manne van Israel sommige neer te slaan, omtrent dertig
man, want hulle het gedink: Hy is regtig heeltemal voor ons verslaan soos in die
vorige geveg.
40 Intussen het die wolk begin optrek uit die stad, 'n rookpilaar; en toe
Benjamin agter hom omkyk, trek die hele stad al in rook na die hemel op!
41 Toe die manne van Israel dan nou omdraai, het die manne van Benjamin geskrik,
want hulle het gesien dat die onheil hulle gaan tref;
42 en hulle het voor die manne van Israel omgedraai op pad na die woestyn; maar
die geveg het hulle ingehaal, terwyl die wat uit die stede kom, hulle daar
tussenin vernietig:
43 hulle het Benjamin omsingel, hom agtervolg, hom op die rusplek vertrap tot
teenoor Gíbea, aan die oostekant.
44 En daar het van Benjamin agttien duisend man geval, en dit almal dapper
manne.
45 Toe spring hulle om en vlug na die woestyn, na die rots Rimmon; maar hulle
het in die nageveg op die grootpaaie vyf duisend man van hulle gedood en hulle
agternagesit tot by Gídeom en twee duisend man van hulle verslaan.
46 En al die gesneuweldes van Benjamin op dié dag was vyf en twintig duisend man
wat die swaard uittrek, en dit almal dapper manne.
47 Maar ses honderd man het omgedraai en gevlug na die woestyn, na die rots
Rimmon en vier maande by die rots Rimmon gebly.
48 Toe gaan die manne van Israel terug na die kinders van Benjamin en verslaan
hulle met die skerpte van die swaard, sowel mense as diere en alles wat
voorgekom het; ook al die stede wat hulle aangetref het, het hulle aan die brand
gesteek.
21
1 Maar die manne van Israel het al in Mispa gesweer en gesê: Niemand van ons mag
sy dogter aan 'n Benjaminiet as vrou gee nie.
2 En toe die manskappe in Bet-el kom, het hulle daar gebly tot die aand toe voor
die aangesig van God en hulle stem verhef en geween met 'n groot geween
3 en gesê: Waarom, o HERE, God van Israel, het dit in Israel gebeur dat daar
vandag een stam uit Israel vermis word?
4 Daarop het die manskappe die volgende dag vroeg klaargemaak en daar 'n altaar
gebou en brandoffers en dankoffers gebring.
5 En die kinders van Israel het gesê: Wie is daar van al die stamme van Israel
wat nie opgegaan het na die vergadering, na die HERE toe nie? Want daar was 'n
plegtige eed teen die een wat nie opgaan na die HERE in Mispa nie--hy moet
sekerlik gedood word.
6 Toe het die kinders van Israel hulle broer Benjamin jammer gekry en gesê: Daar
is vandag een stam uit Israel afgesny.
7 Wat kan ons doen vir hulle wat oorgebly het, wat vroue aanbetref? Want ons het
by die HERE gesweer dat ons nie van ons dogters aan hulle as vroue sal gee nie.
8 Toe sê hulle: Wie is diegene wat van die stamme van Israel nie opgegaan het na
die HERE in Mispa nie? En kyk, niemand het uit Jabes in Gílead na die laer, na
die vergadering gekom nie.
9 En die volk is getel, en daar was niemand van die inwoners van Jabes in Gílead
nie.
10 Toe stuur die vergadering daarheen twaalf duisend man uit die dapper manne en
gee hulle bevel en sê: Gaan heen en slaan die inwoners van Jabes in Gílead met
die skerpte van die swaard, ook die vroue en die kinders.
11 En dit is die ding wat julle moet doen: Alles wat manlik is, en al die vroue
wat die gemeenskap met die man ken, moet julle met die banvloek tref.
12 En hulle het onder die inwoners van Jabes in Gílead vier honderd meisies
aangetref, jongmeisies wat geen gemeenskap met 'n man gehad het nie, en dié het
hulle na die laer gebring in Silo wat in die land Kanaän lê.
13 Toe stuur die hele vergadering en hulle spreek met die kinders van Benjamin
wat by die rots Rimmon was, en bied hulle die vrede aan.
14 Daarop het Benjamin in dié tyd teruggekom; en hulle het die vroue wat hulle
uit die vroue van Jabes in Gílead in die lewe behou het, aan hulle gegee, maar
só was daar vir hulle nie genoeg nie.
15 En die volk het Benjamin jammer gekry, omdat die HERE 'n skeuring gemaak het
onder die stamme van Israel.
16 Toe sê die oudstes van die vergadering: Wat kan ons doen vir die wat oorgebly
het, wat vroue aanbetref? Want die vroue was uit Benjamin verdelg.
17 Verder sê hulle: Die besitting van die wat oorgebly het, behoort aan
Benjamin, sodat geen stam uit Israel mag uitgedelg word nie.
18 Maar ons self kan hulle geen vroue uit ons dogters gee nie; want die kinders
van Israel het gesweer en gesê: Vervloek is hy wat 'n vrou aan Benjamin gee.
19 Toe sê hulle: Kyk, daar is jaar vir jaar 'n fees van die HERE in Silo wat
noord van Bet-el lê, oostelik van die grootpad wat opgaan van Bet-el na Sigem,
en suid van Lebóna.
20 En hulle het die kinders van Benjamin bevel gegee en gesê: Gaan en lê en loer
in die wingerde.
21 En let op, en kyk, as die dogters van Silo uittrek om hulle koordanse uit te
voer, dan moet julle uit die wingerde uitkom, en julle moet vir julle, elkeen sy
vrou, uit die dogters van Silo vang en na die land Benjamin gaan.
22 En as hulle vaders of hulle broers kom om by ons 'n saak te maak, sal ons vir
hulle sê: Skenk hulle aan óns, want ons het nie vir elkeen 'n vrou in die oorlog
geneem nie. Julle self het hulle mos nie aan hulle gegee nie; in dié geval
alleen sou julle skuldig gewees het.
23 Die kinders van Benjamin het toe so gedoen: hulle het vroue volgens hulle
getal weggedra uit die danseresse wat hulle geroof het; en hulle het weggegaan
en teruggekeer na hul erfdeel toe, en hulle het die stede opgebou en daarin
gewoon.
24 En die kinders van Israel het in daardie tyd daarvandaan weggegaan, elkeen na
sy stam en na sy geslag, en hulle het daarvandaan uitgetrek, elkeen na sy
erfdeel toe.
25 In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was
in sy oë.