O p e n b a r i n g 1
1 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy
diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel
aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het,
2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles
wat hy gesien het.
3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en
bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
4 Johannes aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat
is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is,
5 en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en
die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons
van ons sondes gewas het in sy bloed
6 en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die
heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.
7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom
deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja,
amen!
8 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en
wat was en wat kom, die Almagtige.
9 Ek, Johannes, julle broeder en deelgenoot in die verdrukking en in die
koninkryk en lydsaamheid van Jesus Christus, was op die eiland wat Patmos genoem
word, ter wille van die woord van God en om die getuienis van Jesus Christus.
10 Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my 'n groot stem
gehoor, soos van 'n basuin, wat sê:
11 Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien
in 'n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna
en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa.
12 Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my
omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars,
13 en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met 'n kleed aan
wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met 'n goue gordel.
14 Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vuurvlam,
15 en sy voete soos blink koper wat gloei soos in 'n oond, en sy stem soos die
stem van baie waters.
16 En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en 'n skerp tweesnydende swaard
het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.
17 En toe ek Hom sien, val ek soos 'n dooie aan sy voete; en Hy het sy
regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die
laaste
18 en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En
Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.
19 Skryf die dinge op wat jy gesien het, die wat is, sowel as die wat gaan
gebeur;
20 die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en
die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes,
en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes.
2
1 Skryf aan die engel van die gemeente in Éfese: Dít sê Hy wat die sewe sterre
in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars:
2 Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie
kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels
is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het;
3 en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en
nie moeg geword het nie.
4 Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.
5 Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste
werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as
jy jou nie bekeer nie.
6 Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat Ek ook haat.
7 Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat
oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys
van God is.
8 En skryf aan die engel van die gemeente in Smirna: Dít sê die eerste en die
laaste, wat dood was en lewend geword het:
9 Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die lastering van
die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar 'n sinagoge van die Satan.
10 Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in
die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien
dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon
van die lewe gee.
11 Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat
oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.
12 En skryf aan die engel van die gemeente in Pérgamus: Dít sê Hy wat die skerp
tweesnydende swaard het:
13 Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is.
En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie, selfs in die
dae waarin Antipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waar die Satan
woon.
14 Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die
leer van Bíleam wat Balak geleer het om 'n struikelblok voor die kinders van
Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer.
15 So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat.
16 Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met
die swaard van my mond.
17 Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat
oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee 'n wit
keursteen, en op dié steen 'n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy
wat dit ontvang.
18 En skryf aan die engel van die gemeente in Thiatíre: Dít sê die Seun van God
wat oë het soos 'n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper:
19 Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou
werke, en dat die laaste meer is as die eerste.
20 Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself 'n
profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en
afgodsoffers te eet.
21 En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar
nie bekeer nie.
22 Kyk, Ek werp haar neer op 'n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in
'n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie.
23 En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat
dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee
volgens sy werke.
24 En ek sê vir julle en die ander wat in Thiatíre is, almal wat hierdie leer
nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer
ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie.
25 Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom.
26 En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor
die nasies gee,
27 en hy sal hulle regeer met 'n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel,
net soos Ek ook van my Vader ontvang het.
28 En Ek sal hom die môrester gee.
29 Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.
3
1 En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe
Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat
jy leef en jy is dood.
2 Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe,
want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie.
3 Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as
jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos 'n dief, en jy sal nie weet
in watter uur Ek op jou afkom nie.
4 Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie,
en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is.
5 Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit
die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy
engele.
6 Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.
7 En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía: Dít sê die Heilige, die
Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en
Hy sluit en niemand maak oop nie:
8 Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou 'n geopende deur gegee, en niemand kan
dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie
verloën nie.
9 Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode
is en dit nie is nie, maar lieg Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete
neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het.
10 Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in
die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde
op die proef te stel.
11 Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.
12 Wie oorwin, Ek sal hom 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal
daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die
naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my
God neerdaal, en my nuwe Naam.
13 Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.
14 En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen,
die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:
15 Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar
koud of warm!
16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond
spuug.
17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy
weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak
is nie.
18 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy
kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou
naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.
19 Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.
20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur
oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.
21 Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook
oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.
22 Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.
4
1 Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, 'n geopende deur in die hemel, en die
eerste stem wat ek soos 'n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op
hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.
2 En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan 'n troon in die hemel en Een
sit op die troon.
3 En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en
sardius; en rondom die troon was 'n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos
'n smarag.
4 En rondom die troon was daar vier en twintig trone, en op die trone het ek die
vier en twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue
krone op hulle hoofde gehad.
5 En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe
vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand;
6 en voor die troon was daar 'n see van glas soos kristal, en in die middel van
die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter.
7 En die eerste lewende wese was soos 'n leeu, en die tweede lewende wese was
soos 'n kalf, en die derde lewende wese het 'n gesig gehad soos 'n mens, en die
vierde lewende wese was soos 'n arend wat vlieg.
8 En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle
was rondom en van binne vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê:
Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat
kom!
9 En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan
Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe,
10 val die vier en twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en
aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en
sê:
11 U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag,
want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.
5
1 En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, 'n boek gesien, van
binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël.
2 En ek het 'n sterk engel gesien wat met 'n groot stem uitroep: Wie is waardig
om die boek oop te maak en sy seëls te breek?
3 En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek
oopmaak of daarin kyk nie.
4 En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te
maak en te lees of daarin te kyk nie.
5 Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit
die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak
en sy sewe seëls te breek.
6 En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende
wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar 'n Lam asof Hy geslag is,
met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is
oor die hele aarde.
7 Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon
sit;
8 en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig
ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat
die gebede van die heiliges is.
9 Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy
seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit
elke stam en taal en volk en nasie,
10 en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op
die aarde heers.
11 Toe sien ek, en ek hoor 'n stem van baie engele rondom die troon en van die
lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien
duisende en duisende van duisende;
12 en met 'n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te
ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.
13 En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op
die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon
sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag
tot in alle ewigheid!
14 En die vier lewende wesens het gesê: Amen! En die vier en twintig ouderlinge
het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid.
6
1 En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak; en ek het een van die
vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van 'n donderslag: Kom kyk!
2 En ek het gesien, en kyk, daar was 'n wit perd. En hy wat daarop sit, het 'n
boog; en aan hom is 'n kroon gegee, en hy het uitgegaan as 'n oorwinnaar en om
te oorwin.
3 En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê:
Kom kyk!
4 En 'n ander perd, 'n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is
dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou
doodmaak; en 'n groot swaard is aan hom gegee.
5 En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom
kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was 'n swart perd; en hy wat daarop sit, het
'n skaal in sy hand.
6 En ek het 'n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: 'n Rantsoen koring
vir 'n penning en drie rantsoene gars vir 'n penning; en moenie die olie en die
wyn beskadig nie.
7 En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde
lewende wese sê: Kom kyk!
8 En ek het gesien, en kyk, daar was 'n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam
is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die
vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en
deur die wilde diere van die aarde.
9 En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van
die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle
gehad het.
10 En hulle het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en
waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die
aarde nie?
11 En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle
nog 'n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders
wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.
12 En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n
groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan
het geword soos bloed;
13 en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur
'n groot wind geskud word, sy navye laat afval;
14 en die hemel het weggewyk soos 'n boek wat toegerol word, en al die berge en
eilande is uit hulle plekke versit;
15 en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor
duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek
in die spelonke en in die rotse van die berge,
16 en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die
aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam;
17 want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?
7
1 En ná hierdie dinge het ek vier engele op die vier hoeke van die aarde sien
staan, en hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat geen wind sou
waai op die aarde of op die see of teen enige boom nie.
2 En ek het 'n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël
van die lewende God; en hy het met 'n groot stem geroep na die vier engele aan
wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig
3 en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die
diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.
4 En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd vier en veertig duisend
verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel
5 uit die stam van Juda twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Ruben twaalf
duisend verseëldes; uit die stam van Gad twaalf duisend verseëldes;
6 uit die stam van Aser twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Náftali
twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Manasse twaalf duisend verseëldes;
7 uit die stam van Símeon twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Levi
twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Issaskar twaalf duisend verseëldes;
8 uit die stam van Sébulon twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Josef
twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Benjamin twaalf duisend verseëldes.
9 Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was 'n groot menigte wat niemand
kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor
die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle
hande;
10 en hulle het met 'n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die
troon sit, en aan die Lam!
11 En al die engele het rondom die troon en die ouderlinge en die vier lewende
wesens gestaan, en hulle het voor die troon op hulle aangesig neergeval en God
aanbid en gesê:
12 Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer
en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid! Amen.
13 Toe het een van die ouderlinge gespreek en vir my gesê: Hulle wat bekleed is
met die wit klere, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom?
14 En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit
die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak
in die bloed van die Lam.
15 Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel;
en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan.
16 Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of
enige hitte op hulle val nie;
17 want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle
na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.
8
1 En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent
'n halfuur lank.
2 En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan
hulle gegee.
3 En 'n ander engel het gekom en met 'n goue wierookbak by die altaar gaan
staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die
heiliges op die goue altaar voor die troon te lê;
4 en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand
van die engel opgegaan voor God.
5 En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar
volgemaak en dit op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en
weerligte en aardbewing.
6 En die sewe engele met die sewe basuine het hulle gereed gemaak om te blaas.
7 En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed
gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En 'n derde van die bome het verbrand, en
al die groen gras het verbrand.
8 En die tweede engel het geblaas, en iets soos 'n groot berg wat brand met
vuur, is in die see gegooi. En 'n derde van die see het bloed geword,
9 en 'n derde van die lewende skepsele in die see het gesterwe, en 'n derde van
die skepe het vergaan.
10 En die derde engel het geblaas, en 'n groot ster wat soos 'n fakkel brand,
het uit die hemel geval, en dit het geval op 'n derde van die riviere en op die
waterfonteine.
11 En die naam van die ster word genoem Alsem; en 'n derde van die waters het
als geword, en baie mense het gesterwe van die water, omdat dit bitter geword
het.
12 En die vierde engel het geblaas, en 'n derde van die son is getref en 'n
derde van die maan en 'n derde van die sterre, sodat 'n derde van hulle donker
sou word en die dag vir sy derde deel nie lig sou gee nie, en die nag net so.
13 En ek het gesien en gehoor 'n engel wat in die middel van die hemel vlieg,
wat met 'n groot stem sê: Wee, wee, wee hulle wat op die aarde woon, vanweë die
orige geluide van die basuin van die drie engele wat nog sal blaas!
9
1 En toe die vyfde engel blaas, sien ek 'n ster wat uit die hemel op die aarde
geval het, en aan hom is die sleutel van die put van die afgrond gegee.
2 En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en daar het rook opgekom uit die
put soos rook van 'n groot oond, en die son en die lug is deur die rook van die
put verduister.
3 En uit die rook het daar sprinkane uitgekom op die aarde, en aan hulle is mag
gegee soos die skerpioene van die aarde mag het.
4 En aan hulle is gesê dat hulle nie die gras van die aarde of enige groenigheid
of enige boom moet beskadig nie, maar net alleen die mense wat die seël van God
nie op hulle voorhoofde het nie.
5 En dit is aan hulle gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf
maande lank gepynig sou word; en hulle pyniging was soos die pyniging van 'n
skerpioen wanneer hy 'n mens steek.
6 En in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal
verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug.
7 En die voorkoms van die sprinkane was soos dié van perde wat vir die oorlog
toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het,
en hulle gesigte was soos die gesigte van mense.
8 En hulle het hare gehad soos vrouehare, en hulle tande was soos dié van leeus.
9 En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle
vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die
oorlog.
10 En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in
hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen.
11 En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in
Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion.
12 Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë.
13 En die sesde engel het geblaas, en ek het 'n stem gehoor uit die vier horings
van die goue altaar wat voor God is,
14 en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los
wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat.
15 Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en
maand en jaar, om 'n derde van die mense dood te maak.
16 En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tien duisend maal
tien duisend; en ek het hulle getal gehoor.
17 En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met
vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos
leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan.
18 Deur hierdie drie plae is 'n derde van die mense gedood, deur die vuur en
deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het;
19 want hulle mag is in hulle bek en in hulle sterte; want hulle sterte is soos
slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan.
20 En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie
bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van
goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.
21 En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en
hul diefstalle nie.
10
1 En ek het 'n ander sterk engel uit die hemel sien neerdaal, bekleed met 'n
wolk, en 'n reënboog was oor sy hoof, en sy aangesig was soos die son, en sy
voete soos pilare van vuur;
2 en in sy hand het hy 'n geopende boekie gehad, en hy het sy regtervoet op die
see gesit en sy linkervoet op die land;
3 en hy het met 'n groot stem uitgeroep soos 'n leeu wat brul, en toe hy
uitgeroep het, het die sewe donderslae hulle stemme laat hoor.
4 En toe die sewe donderslae hulle stemme laat hoor het, wou ek skrywe; maar ek
het 'n stem uit die hemel vir my hoor sê: Verseël wat die sewe donderslae
gespreek het, en skryf dit nie op nie.
5 En die engel wat ek op die see en op die land sien staan het, het sy hand na
die hemel opgehef,
6 en hy het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape
het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin
is, dat daar geen tyd meer sal wees nie;
7 maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin
sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding
verkondig het aan sy diensknegte, die profete.
8 En die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het weer tot my gespreek en gesê:
Gaan, neem die geopende boekie in die hand van die engel wat op die see en op
die land staan.
9 En ek het na die engel gegaan en aan hom gesê: Gee my die boekie. Toe sê hy
vir my: Neem en eet dit op, en dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond
sal dit soet wees soos heuning.
10 Toe neem ek die boekie uit die hand van die engel en eet dit op, en in my
mond was dit soet soos heuning; maar toe ek dit geëet het, het my maag bitter
geword.
11 En hy het vir my gesê: Jy moet weer profeteer oor baie volke en nasies en
tale en konings.
11
1 En 'n riet soos 'n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê:
Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid.
2 Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie,
want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee en veertig
maande lank vertrap.
3 En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend twee
honderd en sestig dae lank sal profeteer.
4 Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die
aarde staan.
5 En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind
hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier
gedood word.
6 Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie
geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander
en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil.
7 En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond
opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak;
8 en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem
word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is.
9 En mense uit die volke en stamme en tale en nasies sal hulle lyke drie en 'n
halwe dag lank sien en nie toelaat dat hulle lyke in die graf gelê word nie.
10 Die bewoners van die aarde sal bly en verheug wees oor hulle en sal vir
mekaar geskenke stuur, omdat dié twee profete die bewoners van die aarde gepynig
het.
11 En ná die drie en 'n halwe dag het 'n gees van die lewe uit God in hulle
ingegaan, en hulle het op hul voete gaan staan, en 'n groot vrees het geval op
die wat hulle aanskou het.
12 En hulle het 'n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen!
En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hul vyande het hulle aanskou.
13 En in dié uur het daar 'n groot aardbewing gekom, en 'n tiende van die stad
het geval, en sewe duisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het
bevrees geword en aan die God van die hemel heerlikheid toegebring.
14 Die tweede wee het verbygegaan; kyk, die derde kom gou.
15 En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat
sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy
Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.
16 En die vier en twintig ouderlinge wat voor God op hulle trone sit, het op
hulle aangesig geval en God aanbid en gesê:
17 Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U u groot
mag aangeneem en as koning geheers het.
18 En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om
geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan
die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers
van die aarde te verderf.
19 En die tempel van God het in die hemel oopgegaan, en sy verbondsark is in sy
tempel gesien, en daar was weerligte en stemme en donderslae en aardbewing en
groot hael.
12
1 En 'n groot teken het in die hemel verskyn: 'n vrou wat met die son bekleed
was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof 'n kroon van twaalf
sterre;
2 en sy was swanger en het uitgeroep in haar weë en barensnood.
3 En 'n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was 'n groot vuurrooi
draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone;
4 en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op
die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om
te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het.
5 En sy het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou
regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon.
6 En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy 'n plek het wat deur God gereed
gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend twee honderd en sestig dae
lank.
7 En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer
teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer;
8 en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde
nie.
9 En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en
Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele
is saam met hom neergewerp.
10 Toe hoor ek 'n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en
die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want
die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse
God, dag en nag.
11 En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van
hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.
12 Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van
die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede,
omdat hy weet dat hy min tyd het.
13 En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou
vervolg wat die seuntjie gebaar het;
14 maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na
die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang
onderhou word, 'n tyd en tye en 'n halwe tyd.
15 En die slang het uit sy bek water soos 'n rivier agter die vrou aan
uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier.
16 En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak
en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het.
17 En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer
teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van
Jesus Christus hou.
18 En ek het op die sand van die see gaan staan.
13
1 En ek het 'n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op
sy horings tien krone en op sy koppe 'n naam van godslastering.
2 En die dier wat ek gesien het, was soos 'n luiperd, en sy pote soos dié van 'n
beer, en sy bek soos die bek van 'n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en
sy troon en groot mag.
3 En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy
dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan
gegaan.
4 En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid
en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?
5 En 'n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en
aan hom is mag gegee om dit twee en veertig maande lank te doen.
6 En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel
en die wat in die hemel woon, te laster.
7 Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te
oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie.
8 En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die
grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag
is, geskrywe is nie.
9 As iemand 'n oor het, laat hom hoor.
10 As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap; as iemand met
die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word. Hier is die
lydsaamheid en die geloof van die heiliges.
11 En uit die aarde het ek 'n ander dier sien opkom, en hy het twee horings
gehad net soos 'n lam en het gepraat soos 'n draak.
12 En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die
aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond
genees is.
13 Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op
die aarde voor die oë van die mense.
14 En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om
voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat
hulle 'n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig
geword het.
15 En dit is hom gegee om 'n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier
se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie
aanbid nie.
16 En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die
vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee
word;
17 sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam
van die dier of die getal van sy naam het.
18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die
dier bereken, want dit is die getal van 'n mens; en sy getal is ses honderd ses
en sestig.
14
1 En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom
honderd vier en veertig duisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle
voorhoofde geskrywe.
2 En ek het 'n geluid uit die hemel gehoor soos die geluid van baie waters en
soos die geluid van 'n harde donderslag, en ek het die geluid gehoor van
siterspelers wat speel op hulle siters.
3 En hulle het 'n nuwe lied gesing voor die troon en voor die vier lewende
wesens en die ouderlinge; en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd
vier en veertig duisend wat van die aarde vrygekoop is.
4 Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is
maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle
wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam.
5 En in hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek
voor die troon van God.
6 En ek het 'n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met 'n ewige
evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en
stamme en tale en volke.
7 En hy het met 'n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die
uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die
see en die waterfonteine gemaak het.
8 En 'n ander engel het gevolg en gesê: Geval, geval het Babilon, die groot
stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van
haar hoerery.
9 En 'n derde engel het hulle gevolg en met 'n groot stem gesê: As iemand die
dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang,
10 sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng
ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en
swawel voor die heilige engele en voor die Lam.
11 En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag
en nag geen rus nie hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die
merk van sy naam ontvang.
12 Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die
gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.
13 En ek het 'n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf salig is van nou af die
dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul
arbeid, en hulle werke volg met hulle.
14 En ek het gesien, en kyk, daar was 'n wit wolk en een soos 'n Menseseun wat
op die wolk sit, met 'n goue kroon op sy hoof en in sy hand 'n skerp sekel.
15 En 'n ander engel het uit die tempel gekom en met 'n groot stem geroep na Hom
wat op die wolk sit: Slaan u sekel in en maai, want die uur het vir U gekom om
te maai, omdat die oes van die aarde oorryp geword het.
16 En Hy wat op die wolk sit, het sy sekel oor die aarde laat gaan, en die aarde
is afgemaai.
17 En 'n ander engel het uitgekom uit die tempel wat in die hemel is, en hy het
ook 'n skerp sekel gehad;
18 en 'n ander engel wat mag oor die vuur gehad het, het uit die altaar uitgekom
en met 'n groot stem geroep na hom wat die skerp sekel het, en gesê: Slaan jou
skerp sekel in en samel die trosse van die wingerdstok van die aarde in, want sy
druiwe het ryp geword.
19 En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die
aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God.
20 En die parskuip is buitekant die stad getrap, en bloed het uit die parskuip
gekom tot aan die tooms van die perde, twee honderd myl ver.
15
1 En ek het 'n ander teken in die hemel gesien, groot en wonderlik: sewe engele
met die sewe laaste plae, want daarmee is die grimmigheid van God voleindig.
2 En ek het gesien iets soos 'n see van glas, gemeng met vuur. En die
oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal van sy
naam, het ek by die see van glas sien staan, met siters van God.
3 En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van
die Lam, en gesê: Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig
en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges!
4 Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is
heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade
openbaar geword het.
5 En ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, die tempel van die tent van die
getuienis in die hemel is geopen.
6 En die sewe engele met die sewe plae het uit die tempel uitgekom, bekleed met
rein, blink linne, en om die bors omgord met goue gordels.
7 En een van die vier lewende wesens het aan die sewe engele sewe goue skale
gegee, vol van die grimmigheid van God wat leef tot in alle ewigheid.
8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag,
en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele
voleindig was nie.
16
1 En ek het 'n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi
die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit.
2 Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en
bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy
beeld aanbid het.
3 En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi, en dit het bloed geword
soos van 'n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe.
4 En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die
waterfonteine, en dit het bloed geword.
5 En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en
wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het;
6 want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle
bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien.
7 En ek het 'n ander een uit die altaar hoor sê: Ja, Here God, Almagtige,
waaragtig en regverdig is u oordele.
8 En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee
om die mense met vuur te skroei.
9 En die mense is geskroei met 'n groot hitte, en hulle het die Naam van God
gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom
heerlikheid te gee nie.
10 En die vyfde engel het sy skaal uitgegooi op die troon van die dier, en sy
koninkryk is verduister, en hulle het hul tonge gekou van pyn;
11 en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle
swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie.
12 En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat,
en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die ooste af
kom, reggemaak kon word.
13 En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die
mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom.
14 Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings
van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van
daardie groot dag van die almagtige God.
15 Kyk, Ek kom soos 'n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy
nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.
16 En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon.
17 En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en 'n groot stem het
uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is
verby!
18 En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het 'n groot
aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was
nie so 'n geweldige groot aardbewing.
19 En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het
geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee
die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn.
20 En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie;
21 en groot hael, omtrent 'n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval;
en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag
ontsettend groot was.
17
1 En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en
vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op
die baie waters sit,
2 met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde
het dronk geword van die wyn van haar hoerery.
3 En hy het my in die gees weggevoer na 'n woestyn, en ek het 'n vrou sien sit
op 'n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien
horings.
4 En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en
kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand 'n goue beker gehad, vol gruwels
en die onreinheid van haar hoerery;
5 en op haar voorhoof was 'n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon,
die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.
6 En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die
bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar
sien.
7 Toe sê die engel vir my: Waarom het jy jou verwonder? Ek sal jou die
verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien
horings, wat haar dra.
8 Die dier wat jy gesien het, was en is nie, en sal uit die afgrond opkom en na
die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie van die
grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal
hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is.
9 Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge
waar die vrou op sit.
10 En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie
gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy 'n kort tydjie bly.
11 En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by
die sewe en gaan na die verderf.
12 En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen
koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank
saam met die dier.
13 Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier.
14 Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin want Hy is
die Here van die here en die Koning van die konings en die wat saam met Hom is,
geroepe en uitverkore en getrou.
15 En hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke
en menigtes en nasies en tale.
16 En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en
haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand.
17 Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een
bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die woorde
van God volbring is.
18 En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die
konings van die aarde.
18
1 En ná hierdie dinge het ek 'n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot
mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid.
2 En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die
groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van
allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike
voëls,
3 omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar
hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars
van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid.
4 En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk,
sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.
5 Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede
onthou.
6 Vergeld haar soos sy ook julle vergeld het, en verdubbel dit vir haar volgens
haar werke. Skink vir haar dubbel in die beker waarin sy geskink het.
7 Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet
julle haar pyniging en droefheid aandoen. Omdat sy in haar hart sê: Ek sit as
koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie
8 daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur
sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.
9 En die konings van die aarde wat met haar gehoereer en weelderig geleef het,
sal oor haar ween en oor haar weeklaag wanneer hulle die rook van haar
verbranding sien,
10 terwyl hulle ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, en sê: Wee, wee jou,
o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom!
11 En die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar, omdat
niemand hulle koopware meer koop nie,
12 koopware van goud en silwer en edelgesteente en pêrels en fyn linne en purper
en sy en skarlaken; en allerhande geurige hout en allerhande voorwerpe van ivoor
en allerhande voorwerpe van die kosbaarste hout en van koper en yster en marmer
13 en kaneel en reukwerk en salf en wierook en wyn en olyfolie en fynmeel en
koring en grootvee en skape; en van perde en waens en slawe en mensesiele.
14 En die vrugte wat jou siel begeer, het van jou gewyk, en al die blinkende en
die skitterende dinge het van jou gewyk, en jy sal dit nooit weer kry nie.
15 Die handelaars in hierdie dinge, wat van haar ryk geword het, sal ver weg
staan uit vrees vir haar pyniging, terwyl hulle ween en rou bedrywe en sê:
16 Wee, wee die groot stad wat bekleed was met fyn linne en purper en skarlaken
en versierd met goud en edelgesteente en pêrels, omdat in een uur soveel rykdom
verwoes is!
17 En elke stuurman en die hele menigte op die skepe, en die matrose en almal
wat die see bevaar, het ver weg gaan staan
18 en het uitgeroep toe hulle die rook van haar verbranding sien, en gesê:
Watter stad is soos die groot stad?
19 En hulle het stof op hul hoofde gegooi en onder geween en weeklag uitgeroep
en gesê: Wee, wee die groot stad waarin almal wat skepe op die see het, deur
haar kostelike skatte ryk geword het; want dit is in een uur verwoes!
20 Verbly jou oor haar, o hemel, en o heilige apostels en profete, omdat God
julle oordeel aan haar voltrek het!
21 En een sterk engel het 'n klip opgetel soos 'n groot meulsteen en dit in die
see gegooi en gesê: So, met 'n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi
word en nooit meer gevind word nie.
22 En die stem van siterspelers en sangers en fluitspelers en basuinblasers sal
nooit meer in jou gehoor word nie, en geen kunstenaar van enige kuns sal ooit
weer in jou gevind word nie, en die geluid van die meul sal nooit meer in jou
gehoor word nie.
23 En die lig van 'n lamp sal nooit meer in jou skyn nie, en die stem van
bruidegom en bruid sal nooit meer in jou gehoor word nie; want jou handelaars
was die grotes van die aarde; want deur jou towery is al die nasies verlei.
24 En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op
die aarde gedood is.
19
1 En ná hierdie dinge het ek iets soos 'n groot stem van 'n groot menigte in die
hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die
krag aan die Here onse God!
2 Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer
geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy
diensknegte op haar gewreek.
3 En vir die tweede maal het hulle gesê: Halleluja! En haar rook gaan op tot in
alle ewigheid.
4 En die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval en
God aanbid wat op die troon sit, en gesê: Amen, Halleluja!
5 En 'n stem het uit die troon uitgegaan en gesê: Prys onse God, al sy
diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot!
6 En ek het iets gehoor soos die stem van 'n groot menigte en soos die geluid
van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want
die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.
7 Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die
bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.
8 En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die
fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.
9 Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die
Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.
10 En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid; maar hy het vir my gesê:
Moenie! Ek is 'n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van
Jesus het. Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die
profesie.
11 Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was 'n wit perd, en Hy wat
daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in
geregtigheid.
12 En sy oë was soos 'n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het 'n
Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.
13 En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die
Woord van God.
14 En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en
rein fyn linne.
15 En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en
Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van
die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.
16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van
die konings en die Here van die here.
17 En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met 'n groot stem
uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom
hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God,
18 dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend
en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en
die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot.
19 En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld
gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër.
20 En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die
tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die
merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in
die vuurpoel wat met swawel brand.
21 En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op
die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.
20
1 En ek het 'n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die
afgrond en 'n groot ketting in sy hand.
2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy
het hom gebind duisend jaar lank,
3 en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy
die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna
moet hy dan 'n kort tydjie ontbind word.
4 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die
oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die
getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld
nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang
het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die
duisend jaar lank.
5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie.
Dit is die eerste opstanding.
6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het
die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus
wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.
7 En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis
ontbind word;
8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde
is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is
soos die sand van die see.
9 En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die
heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel
neergedaal en hulle verslind.
10 En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp
waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot
in alle ewigheid.
11 En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se
aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle
gevind nie.
12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is
geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is
geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.
13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het
die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.
14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede
dood.
15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe
nie, is hy in die poel van vuur gewerp.
21
1 En ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die
eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.
2 En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van
God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is.
3 En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is
by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self
sal by hulle wees as hulle God.
4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees
nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die
eerste dinge het verbygegaan.
5 En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan
my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.
6 En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en
die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die
lewe, verniet.
7 Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir
My 'n seun wees.
8 Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en
moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars
hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.
9 En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe
laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal
jou die bruid toon, die vrou van die Lam.
10 En hy het my in die gees weggevoer op 'n groot en hoë berg en my die groot
stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal;
11 en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos 'n baie kosbare
steen, soos die kristalhelder jaspissteen.
12 En dit het 'n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte
twaalf engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die twaalf stamme van
die kinders van Israel.
13 Aan die oostekant was daar drie poorte, aan die noordekant drie poorte, aan
die suidekant drie poorte, aan die westekant drie poorte.
14 En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name
van die twaalf apostels van die Lam.
15 En hy wat met my gespreek het, het 'n goue meetroede gehad, om die stad en sy
poorte en sy muur te meet.
16 En die stad het vierkantig gelê, en sy lengte was net so groot as sy breedte.
En hy het die stad met die meetroede gemeet op duisend vyf honderd myl; sy
lengte en breedte en hoogte was gelyk.
17 En hy het sy muur gemeet op honderd vier en veertig el, volgens 'n mens se
maat, wat die maat van 'n engel is.
18 En die boustof van sy muur was jaspis, en die stad was suiwer goud soos
suiwer glas.
19 En die fondamente van die muur van die stad was versierd met allerhande
edelgesteentes. Die eerste fondament was jaspis, die tweede saffier, die derde
chalcedoon, die vierde smarag;
20 die vyfde sardóniks, die sesde sardius, die sewende chrisoliet, die agtste
beril, die negende topaas, die tiende chrísopraas, die elfde hiasínt, die
twaalfde ametís.
21 En die twaalf poorte was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een
pêrel, en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas.
22 En 'n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige,
is sy tempel, en die Lam.
23 En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die
heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.
24 En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die
konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin.
25 En bedags want nag sal daar nie meer wees nie sal sy poorte nooit gesluit
word nie;
26 en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring.
27 En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen
nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.
22
1 En hy het my getoon 'n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos
kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam.
2 In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die
lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van
die boom is tot genesing van die nasies.
3 En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van
die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien.
4 En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees.
5 En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie,
omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle
ewigheid.
6 En hy het vir my gesê: Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; en die Here,
die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om sy diensknegte te toon
wat gou moet gebeur.
7 Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek
bewaar.
8 En dit is ek, Johannes, wat dit gesien en gehoor het; en toe ek dit gehoor en
gesien het, het ek neergeval om te aanbid voor die voete van die engel wat my
hierdie dinge getoon het.
9 Toe sê hy vir my: Moenie! want ek is 'n mededienskneg van jou en van jou
broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar.
Aanbid God.
10 En hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek
verseël nie, want die tyd is naby.
11 Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog
vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige
nog heiliger word.
12 En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk
sal wees.
13 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die
laaste.
14 Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die
lewe en ingaan deur die poorte in die stad.
15 Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die
moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.
16 Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes
te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.
17 En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom
wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.
18 Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek
hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg
waarvan in hierdie boek geskrywe is.
19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem,
dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en
uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.
20 Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!
21 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.