R o m e i n e 1
1 Paulus, 'n dienskneg van Jesus Christus, 'n geroepe apostel, afgesonder tot
die evangelie van God--
2 wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte,
3 aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid
4 en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur
die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here,
5 deur wie ons genade en die apostelskap ontvang het om geloofsgehoorsaamheid te
verkry onder al die heidene ter wille van sy Naam,
6 onder wie julle ook is, geroepenes van Jesus Christus
7 aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is: Genade vir
julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!
8 In die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal dat
julle geloof verkondig word in die hele wêreld.
9 Want God wat ek in my gees dien in die evangelie van sy Seun, is my getuie hoe
ek onophoudelik aan julle dink
10 en altyd in my gebede smeek of ek tog nou eindelik 'n goeie geleentheid sal
vind deur die wil van God om na julle te kom;
11 want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe
mee te deel, sodat julle versterk kan word;
12 dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike
geloof, van julle sowel as van my.
13 Maar, broeders, ek wil julle nie daarvan onkundig laat dat ek my dikwels
voorgeneem het om na julle te kom nie en ek is tot nog toe verhinder sodat ek
ook onder julle een of ander vrug kan insamel net soos onder die ander heidene.
14 Teenoor Grieke sowel as nie Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense
is ek 'n skuldenaar.
15 Vandaar die verlange van my kant om ook aan julle wat in Rome is, die
evangelie te verkondig.
16 Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag
van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die
Griek.
17 Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof,
soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.
18 Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die
goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid
onderdruk,
19 omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan
hulle geopenbaar.
20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke
verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat
hulle geen verontskuldiging het nie;
21 omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of
gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul
onverstandige hart is verduister.
22 Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword
23 en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid
van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende
diere.
24 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan
onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer
25 hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel
vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.
26 Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het
die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is;
27 en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en
in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid
bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.
28 En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou
nie, het God hulle oorgegee aan 'n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam
nie:
29 hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug,
ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid;
30 nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards,
grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers;
31 onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig,
32 mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge
doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle
goedkeuring skenk aan die wat dit doen.
2
1 Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder
verontskuldiging; want waarin jy 'n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want
jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.
2 En ons weet dat die oordeel van God na waarheid is oor die wat sulke dinge
doen.
3 En meen jy, o mens wat hulle oordeel wat sulke dinge doen, en dit self doen,
dat jy die oordeel van God sal ontvlug?
4 Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en
lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot
bekering wil lei nie?
5 Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou
toorn as 'n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige
oordeel van God
6 wat elkeen sal vergeld na sy werke:
7 aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en
onverganklikheid soek die ewige lewe;
8 maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die
ongeregtigheid gehoorsaam is grimmigheid en toorn;
9 verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaad doen, oor die
Jood eerste en ook oor die Griek;
10 maar heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat goed doen, vir die Jood
eerste en ook vir die Griek.
11 Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie.
12 Want almal wat sonder wet gesondig het, sal ook sonder wet verlore gaan; en
almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word;
13 omdat nie die hoorders van die wet by God regverdig is nie, maar die daders
van die wet geregverdig sal word.
14 Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die
wet doen, is hulle vir hulleself 'n wet, al het hulle geen wet nie;
15 omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan,
terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling
beskuldig of ook verontskuldig,
16 in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus
sal oordeel, volgens my evangelie.
17 Kyk, jy dra die naam van Jood en steun op die wet en beroem jou op God,
18 en jy ken sy wil en onderskei die dinge waar dit op aankom, omdat jy uit die
wet onderrig word,
19 en jy is oortuig dat jy 'n leidsman is van blindes, 'n lig vir die wat in
duisternis is,
20 'n opvoeder van onverstandiges, 'n leermeester van onervarenes, omdat jy die
beliggaming van die kennis en die waarheid in die wet het
21 jy dan, wat 'n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat 'n mens nie
mag steel nie, steel jy?
22 Jy wat sê dat 'n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat
'n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof?
23 Jy wat jou op die wet beroem, onteer jy God deur die oortreding van die wet?
24 Want, soos geskrywe is, die Naam van God word om julle ontwil onder die
heidene gelaster.
25 Want die besnydenis is wel nuttig as jy die wet onderhou; maar as jy 'n
oortreder van die wet is, het jou besnydenis onbesnedenheid geword.
26 As die onbesnedene dan die verordeninge van die wet onderhou, sal sy
onbesnedenheid dan nie as besnydenis gereken word nie?
27 En sal hy wat van nature onbesnede is en die wet volbring, jou nie oordeel
wat ondanks letter en besnydenis 'n oortreder van die wet is nie?
28 Want nie hy is 'n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is
besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie;
29 maar hy is 'n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die
hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit
God.
3
1 Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis?
2 Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God
toevertrou is.
3 Want wat maak dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die
getrouheid van God vernietig?
4 Nee, stellig nie! Maar God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig, soos
geskrywe is: Sodat U geregverdig kan word in u woorde en oorwin as U gerig hou.
5 Maar as ons ongeregtigheid die geregtigheid van God bewys, wat sal ons sê? Is
God wat die toorn oor ons bring, dan nie onregverdig nie? Ek spreek
menslikerwys.
6 Nee, stellig nie! Want hoe sal God anders die wêreld oordeel?
7 Maar as die waarheid van God deur my leuen oorvloediger geword het tot sy
heerlikheid, waarom word ek dan nog as sondaar geoordeel?
8 En moet ons nie liewer sê nie, soos ons belaster word en soos sommige beweer
dat ons sê: Laat ons kwaad doen, sodat die goeie daaruit kan voortkom? Hulle
veroordeling is regverdig.
9 Wat dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode
sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is,
10 soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.
11 Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.
12 Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed
doen nie, daar is selfs nie een nie.
13 Hulle keel is 'n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van
adders is onder hulle lippe.
14 Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.
15 Haastig is hulle voete om bloed te vergiet.
16 Verwoesting en ellende is in hulle paaie,
17 en die weg van vrede ken hulle nie.
18 Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.
19 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet
is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees;
20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word
nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
21 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die
wet en die profete daarvan getuig,
22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal
en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie;
23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,
24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die
verlossing wat in Christus Jesus is.
25 Hom het God voorgestel in sy bloed as 'n versoening deur die geloof, om sy
geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore
gedoen is onder die verdraagsaamheid van God
26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig
kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.
27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee,
maar deur die wet van die geloof.
28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die
werke van die wet.
29 Of behoort God net aan die Jode, en nie ook aan die heidene nie? Ja, ook aan
die heidene,
30 aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die
geloof en die onbesnedenes deur die geloof.
31 Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel,
ons bevestig die wet.
4
1 Wat sal ons dan sê, het Abraham, ons vader na die vlees, verkry?
2 Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar
nie teenoor God nie.
3 Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot
geregtigheid gereken.
4 Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na
verdienste;
5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig,
word sy geloof tot geregtigheid gereken.
6 Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder
werke:
7 Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek
is.
8 Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.
9 Hierdie saligspreking dan, sien dit op die besnedenes of ook op die
onbesnedenes? Want ons sê: Aan Abraham is die geloof tot geregtigheid gereken.
10 Hoe is dit dan toegereken toe hy besnede of onbesnede was? Nie as besnedene
nie, maar as onbesnedene.
11 En hy het die teken van die besnydenis ontvang as 'n seël van die
geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou
wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die
geregtigheid toegereken sou word;
12 en ook 'n vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis
is nie, maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham
toe hy onbesnede was.
13 Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy
nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof.
14 Want as hulle wat uit die wet is, erfgename is, dan het die geloof waardeloos
geword en die belofte tot niet geraak.
15 Want die wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen
oortreding nie.
16 Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die
belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet
is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons
almal
17 soos geskrywe is: Ek het jou 'n vader van baie nasies gemaak voor die
aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat
nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.
18 Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens
wat gesê was: So sal jou nageslag wees.
19 En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar
oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe
toestand van die moederskoot van Sara nie.
20 En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is
versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee
21 en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het.
22 Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken.
23 Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie,
24 maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom
wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het,
25 wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons
regverdigmaking.
5
1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse
Here Jesus Christus;
2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade
waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.
3 En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet
dat die verdrukking lydsaamheid werk,
4 en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop;
5 en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is
deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.
6 Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose
gesterwe.
7 Want nouliks sal iemand vir 'n regverdige sterwe vir 'n goeie mens sal iemand
miskien nog die moed hê om te sterwe
8 maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe
ons nog sondaars was.
9 Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered
word van die toorn.
10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van
sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.
11 En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in God deur onse Here Jesus
Christus, deur wie ons nou die versoening verkry het.
12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die
sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal
gesondig het
13 want vóór die wet was daar al sonde in die wêreld; maar sonde word nie
toegereken as daar geen wet is nie.
14 Tog het die dood geheers van Adam af tot op Moses, ook oor hulle wat nie
gesondig het in die gelykheid van die oortreding van Adam nie, wat 'n voorbeeld
is van Hom wat sou kom.
15 Maar dit is met die misdaad nie soos met die genadegawe nie; want as deur die
misdaad van die één baie gesterf het, veel meer het die genade van God en die
gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig
geword.
16 En nie soos deur één wat gesondig het, is die gawe nie; want die oordeel was
uit één tot veroordeling, maar die genadegawe is uit baie misdade tot vryspraak.
17 Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die
één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die
geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus.
18 Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling
gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot
regverdigmaking van die lewe.
19 Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel
is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel
word.
20 Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die
sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword;
21 sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers
deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.
6
1 Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?
2 Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin
lewe?
3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood
gedoop is nie?
4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos
Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so
in 'n nuwe lewe kan wandel.
5 Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal
ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding;
6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam
van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.
7 Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.
8 As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal
lewe,
9 omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf
nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie.
10 Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd
gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.
11 So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is
vir God in Christus Jesus, onse Here.
12 Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy
begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.
13 En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van
ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit
die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die
diens van God.
14 Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet
nie, maar onder die genade.
15 Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder
die genade? Nee, stellig nie!
16 Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel
om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam
is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot
geregtigheid?
17 Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte
gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer
is,
18 en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid.
19 Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net
soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om
wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die
geregtigheid tot heiligmaking.
20 Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die
geregtigheid.
21 Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou
skaam? Want die uiteinde daarvan is die dood.
22 Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan
God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe.
23 Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die
ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.
7
1 Of weet julle nie, broeders want ek spreek met mense wat die wet ken dat die
wet oor die mens heers so lank as hy lewe nie?
2 Want die getroude vrou is deur die wet aan die lewende man gebonde; maar as
die man sterwe, is sy ontslae van die wet van die man.
3 Daarom dan, as sy 'n ander man s'n word terwyl haar man lewe, sal sy 'n
egbreekster genoem word; maar as die man sterwe, is sy vry van die wet, sodat sy
nie 'n egbreekster is as sy 'n ander man s'n word nie.
4 So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet dood deur die
liggaam van Christus, om aan 'n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die
dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra.
5 Want toe ons in die vlees was, het die sondige hartstogte wat deur die wet
kom, in ons lede gewerk om vir die dood vrugte te dra.
6 Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons
dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die
oudheid van die letter nie.
7 Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die
sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die
begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie.
8 Maar die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en in my allerhande
begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood.
9 En sonder die wet het ek vroeër gelewe, maar toe die gebod kom, het die sonde
weer opgelewe en ek het gesterwe.
10 En die gebod wat die lewe moes wees, dié het vir my geblyk die dood te wees.
11 Want die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en my verlei en daardeur
gedood.
12 Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed.
13 Het die goeie dan vir my die dood geword? Nee, stellig nie! Maar wel die
sonde, dat dit kon blyk sonde te wees, omdat dit deur die goeie vir my die dood
bewerk, sodat die sonde deur die gebod uitermate sondig kon word.
14 Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder
die sonde.
15 Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek
haat, dit doen ek.
16 En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is.
17 Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.
18 Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om
te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.
19 Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie,
dit doen ek.
20 Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die
sonde wat in my woon.
21 Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my
aanwesig.
22 Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens;
23 maar ek sien 'n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my
gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.
24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?
25 Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!
26 So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees
die wet van die sonde.
8
1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir
die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van
die wet van die sonde en die dood.
3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die
vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit
ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees,
4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel
nie, maar na die Gees.
5 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is,
geestelike dinge.
6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en
vrede,
7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie
aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.
8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;
9 julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van
God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort
nie aan Hom nie.
10 Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar
die gees is lewe vanweë die geregtigheid.
11 En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan
sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend
maak deur sy Gees wat in julle woon.
12 Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees
te lewe nie;
13 want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die
Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.
14 Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.
15 Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar
julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba,
Vader!
16 Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;
17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename
van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom
verheerlik kan word.
18 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die
heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.
19 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die
kinders van God.
20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter
wille van hom wat dit onderwerp het
21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van
die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.
22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot
nou toe.
23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees
het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik
die verlossing van ons liggaam.
24 Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie;
want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?
25 Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.
26 En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat
ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike
sugtinge.
27 En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat
Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.
28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle
wat na sy voorneme geroep is.
29 Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om
gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan
wees onder baie broeders;
30 en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy
geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het
Hy ook verheerlik.
31 Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons
wees?
32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee
het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?
33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat
regverdig maak.
34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat
ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.
35 Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of
vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?
36 Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as
slagskape.
37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons
liefgehad het.
38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of
teenwoordige of toekomende dinge
39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde
van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.
9
1 Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie my gewete getuig saam met my
in die Heilige Gees
2 dat dit vir my 'n groot droefheid is en 'n onophoudelike smart vir my hart.
3 Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die
vlees, 'n vervloeking te wees, wég van Christus af.
4 Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die
heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes;
5 aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees Hy wat oor
alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.
6 Maar ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie
almal Israel wat uit Israel is nie.
7 Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar:
in Isak sal jou nageslag genoem word.
8 Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie,
maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.
9 Want dit is die woord van die belofte: Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara
sal 'n seun hê.
10 En nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak,
ons vader.
11 Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het
nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die
werke nie, maar uit Hom wat roep
12 is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien.
13 Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.
14 Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie!
15 Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees
en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.
16 So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar
van God wat barmhartig is.
17 Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in
jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.
18 So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.
19 Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil
weerstaan?
20 Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie
vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?
21 Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een
voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?
22 En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot
lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra
het,
23 juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van
barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid,
24 ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die
heidene?
25 Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en
haar wat nie bemin is nie, beminde;
26 en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! daar sal
hulle genoem word kinders van die lewende God.
27 En Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel
soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word;
28 want Hy volbring 'n saak en verkort dit in geregtigheid, omdat die Here 'n
saak wat verkort is, op die aarde sal doen.
29 En soos Jesaja tevore gesê het: As die Here van die leërskare vir ons nie 'n
nageslag oorgelaat het nie, soos Sodom sou ons geword het en aan Gomorra gelyk
gewees het.
30 Wat sal ons dan sê? Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het
nie, die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof
is;
31 terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die
geregtigheid nie bereik het nie.
32 Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke
van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot.
33 Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion 'n steen van aanstoot en 'n rots van
struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
10
1 Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel
doen, is tot hulle redding.
2 Want ek getuig van hulle dat hulle 'n ywer vir God het, maar sonder kennis.
3 Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie
geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie
onderwerp nie.
4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.
5 Want Moses beskrywe die geregtigheid wat uit die wet is: Die mens wat hierdie
dinge doen, sal daardeur lewe.
6 Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê
nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring;
7 of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te
bring?
8 Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die
woord van die geloof wat ons verkondig:
9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die
dode opgewek het, sal jy gered word;
10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot
redding.
11 Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
12 Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is
Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep.
13 Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
14 Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan
hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder
een wat preek?
15 En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe
lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat
die evangelie van die goeie verkondig!
16 Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het
gesê: Here, wie het ons prediking geglo?
17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
18 Maar ek sê: Het hulle miskien nie gehoor nie? Ja, seker! Oor die hele aarde
het hulle stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle woorde.
19 Maar ek vra: Het Israel dit miskien nie verstaan nie? Ten eerste sê Moses: Ek
sal julle jaloers maak op dié wat geen volk is nie, en Ek sal julle toorn opwek
teen 'n onverstandige volk.
20 En Jesaja durf selfs sê: Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het
nie; Ek het verskyn aan die wat na My nie gevra het nie.
21 Maar van Israel sê Hy: Die hele dag het Ek my hande uitgebrei na 'n
ongehoorsame en teësprekende volk.
11
1 Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook
'n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.
2 God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie. Of weet julle
nie wat die Skrif in die gedeelte oor Elía sê nie? hoe hy by God optree teen
Israel en sê:
3 Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het
alleen oorgebly, en hulle soek my lewe!
4 Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself sewe duisend manne laat
oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie.
5 Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd 'n oorblyfsel, ooreenkomstig
die verkiesing van die genade.
6 En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die
genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer
genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.
7 Wat dan? Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes
het dit verkry en die ander is verhard.
8 Soos geskrywe is: God het hulle gegee 'n gees van diepe slaap, oë om nie te
sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.
9 En Dawid sê: Laat hulle tafel vir hulle wees 'n vangnet en 'n strik en 'n
struikelblok en 'n vergelding.
10 Laat hulle oë duister word om nie te sien nie, en buig hulle rug vir altyd
krom.
11 Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar
deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak.
12 En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van
die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!
13 Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek 'n apostel van die heidene is,
verheerlik ek my bediening
14 as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red!
15 Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle
aanneming anders wees as lewe uit die dode?
16 En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig
is, dan die takke ook.
17 En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat 'n wilde olyfboom was,
onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van
die olyfboom,
18 moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem dit is nie jy wat die
wortel dra nie, maar die wortel vir jou.
19 Jy sal dan sê: Die takke is afgebreek, sodat ek ingeënt kon word.
20 Goed! Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie
hoogmoedig wees nie, maar vrees.
21 Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook
nie spaar nie.
22 Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor
die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid
bly; anders sal jy ook afgekap word.
23 Maar ook hulle sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word; want
God is magtig om hulle weer in te ent.
24 Want as jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was, en teen die
natuur op die mak olyfboom ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat
dit van nature is, op hul eie olyfboom ingeënt word?
25 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet
nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel
gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;
26 en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit
Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;
27 en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.
28 Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat
die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders.
29 Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.
30 Want soos julle ook vroeër aan God ongehoorsaam was, maar nou barmhartigheid
ontvang het deur hulle ongehoorsaamheid,
31 so het hulle ook nou ongehoorsaam geword deur die barmhartigheid aan julle,
sodat hulle ook barmhartigheid kan ontvang.
32 Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal
barmhartig te kan wees.
33 o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is
sy oordele en onnaspeurlik sy weë!
34 Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?
35 Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?
36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid
tot in ewigheid. Amen.
12
1 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul
liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle
redelike godsdiens.
2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die
vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en
welgevallige en volmaakte wil van God is.
3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is,
dat hy nie van homself meer moet dink as wat 'n mens behoort te dink nie; maar
dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit
aan elkeen toebedeel het.
4 Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde
werking het nie,
5 so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van
mekaar.
6 En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is:
7 is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van
bediening; of wie leer, in die lering;
8 of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie 'n
voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.
9 Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan;
10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander
voorgaan in eerbetoning;
11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here;
12 verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die
gebed.
13 Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid;
14 seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie;
15 wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween;
16 wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle
by die nederige; moenie eiewys wees nie;
17 vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense;
18 as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle
mense.
19 Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is
geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.
20 As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom
iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop.
21 Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
13
1 Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is
geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel,
2 sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die
wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.
3 Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by
die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof
van hom ontvang;
4 want hy is 'n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees
dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is 'n dienaar van God, 'n
wreker om die een wat kwaad doen, te straf.
5 Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die
straf nie, maar ter wille van die gewete.
6 Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat
juis hiermee voortdurend besig is.
7 Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat
belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer
toekom.
8 Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat
'n ander liefhet, het die wet vervul.
9 Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel
nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander
gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos
jouself.
10 Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die
vervulling van die wet.
11 En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons
reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader
by ons as toe ons gelowig geword het.
12 Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die
duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.
13 Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap,
nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.
14 Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die
vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.
14
1 En neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel
nie.
2 Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente.
3 Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom
wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem.
4 Wie is jy wat die huiskneg van 'n ander oordeel? Hy staan of val met
betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom
staande te hou.
5 Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat
elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.
6 Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag
nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here; en wie eet, eet
tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van
die Here, en hy dank God.
7 Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie.
8 Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons
tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die
Here.
9 Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om
oor dode sowel as lewende te heers.
10 Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou
broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.
11 Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke
knie buig, en elke tong sal God bely.
12 So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.
13 Laat ons dan mekaar nie meer oordeel nie, maar besluit dít liewer, om nie die
broeder 'n hindernis of struikelblok in die weg te lê nie.
14 Ek weet en is oortuig in die Here Jesus dat niks op sigself onrein is nie,
maar hy wat reken dat iets onrein is, vir hom is dit onrein.
15 Maar as jou broeder deur voedsel gegrief word, dan wandel jy nie meer volgens
die liefde nie. Moenie deur jou voedsel hom te gronde rig vir wie Christus
gesterf het nie.
16 Laat dan van die goeie wat aan julle behoort, nie kwaad gespreek word nie.
17 Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en
vrede en blydskap in die Heilige Gees.
18 Want hy wat Christus hierin dien, is aan God welgevallig en by die mense
geag.
19 Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien.
20 Moenie ter wille van voedsel die werk van God afbreek nie. Alles is wel rein,
maar dit is verkeerd vir 'n mens om te eet as dit tot aanstoot is.
21 Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou
broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie.
22 Het jy geloof? Behou dit vir jouself voor die aangesig van God. Gelukkig is
hy wat homself nie oordeel in wat hy vir geoorloof ag nie.
23 Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is
nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.
15
1 En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat
nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.
2 Want elkeen van ons moet die naaste behaag met die oog op wat goed is tot
stigting.
3 Want ook Christus het Homself nie behaag nie, maar soos geskrywe is: Die
smaadhede van die wat U smaad, het op My geval.
4 Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat
ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.
5 En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind
onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus,
6 sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit
een mond kan verheerlik.
7 Neem daarom mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het, tot heerlikheid
van God.
8 En ek sê dat Jesus Christus 'n dienaar geword het van die besnydenis ter wille
van die waaragtigheid van God, om die beloftes aan die vaders te bevestig;
9 en dat die heidene ter wille van sy barmhartigheid God kan verheerlik, soos
geskrywe is: Daarom sal ek U loof onder die nasies en tot eer van u Naam
psalmsing.
10 En ook sê Hy: Verbly julle, o nasies, saam met sy volk;
11 en ook: Loof die Here, alle nasies, en prys Hom, alle volke.
12 En Jesaja sê ook: Die wortel van Isai sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor
die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop.
13 En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die
geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige
Gees!
14 Maar ek self ook, my broeders, is oortuig aangaande julle, dat julle self ook
vol van goedheid is, vervuld met alle kennis, in staat om ook mekaar te vermaan.
15 Tog het ek ten dele taamlik gewaag om aan julle te skrywe, broeders, as een
wat julle herinner, kragtens die genade wat my deur God gegee is
16 om 'n dienaar van Jesus Christus onder die heidene te wees, 'n dienaar van
die evangelie van God, sodat die offer van die heidene welgevallig kan wees,
geheilig deur die Heilige Gees.
17 Ek het dan rede om te roem in Christus Jesus, in die dinge aangaande God.
18 Want ek sal nie waag om iets te sê van dinge wat Christus nie deur my gewerk
het nie om die heidene tot gehoorsaamheid te bring, met woord en daad,
19 deur die krag van tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God,
sodat ek die evangelieverkondiging van Christus volbring het van Jerusalem af en
rondom tot by Illírikum;
20 maar só, dat ek my eer daarin gestel het om die evangelie te verkondig, nie
waar Christus alreeds bekend was nie om nie op die fondament van 'n ander te bou
nie
21 maar soos geskrywe is: Hulle aan wie niks van Hom vertel is nie, sal dit
sien; en hulle wat nie gehoor het nie, sal dit verstaan.
22 Daarom is ek ook elke keer verhinder om na julle te kom.
23 Maar nou dat ek geen plek meer het in hierdie streke nie en al baie jare die
begeerte het om na julle te kom,
24 sal ek na julle kom wanneer ek na Spanje reis; want ek hoop om julle op my
deurreis te sien en deur julle daarheen voortgehelp te word, as ek eers 'n tyd
lank van julle geniet het.
25 Maar nou reis ek na Jerusalem in diens van die heiliges.
26 Want Macedónië en Acháje het dit goedgevind om iets by te dra vir die armes
onder die heiliges in Jerusalem.
27 Hulle het dit goedgevind, sê ek, en hulle is ook hul skuldenaars; want as die
heidene deel gekry het aan hulle geestelike voorregte, is hulle ook verskuldig
om hulle met stoflike goedere te dien.
28 As ek dit volbring het en vir hulle hierdie vrug veilig oorgebring het, sal
ek by julle langs na Spanje afreis.
29 En ek weet dat as ek na julle kom, ek met die volle seën van die evangelie
van Christus sal kom.
30 Maar ek vermaan julle, broeders, by onse Here Jesus Christus en by die liefde
van die Gees, om saam met my in die gebede te stry vir my by God,
31 dat ek verlos mag word van die ongehoorsame mense in Judéa en dat my
diensbetoning aan Jerusalem aanneemlik mag wees vir die heiliges,
32 sodat ek met blydskap deur die wil van God by julle kan kom en my saam met
julle kan verkwik.
33 En die God van vrede sy met julle almal! Amen.
16
1 Ek beveel by julle aan ons suster Fébé, wat 'n dienares is van die gemeente in
Kenchréë,
2 dat julle haar ontvang in die Here, soos dit die heiliges betaam, en haar
bystaan in elke saak waarin sy julle nodig mag hê. Want sy was vir baie 'n
beskermster en ook vir my.
3 Groet Priscílla en Aquila, my medewerkers in Christus Jesus,
4 wat vir my hulle lewe gewaag het; nie ek alleen dank hulle nie, maar ook al
die gemeentes van die heidene.
5 Groet ook die gemeente by hulle aan huis. Groet Epénetus, my geliefde, wat die
eersteling van Acháje is vir Christus.
6 Groet Maria wat baie vir ons gearbei het.
7 Groet Andronícus en Júnias, my stamgenote en my medegevangenes, wat in aansien
is onder die apostels en reeds voor my in Christus gewees het.
8 Groet Amplias, my geliefde in die Here.
9 Groet Urbánus, ons medewerker in Christus, en Stáchis, my geliefde.
10 Groet Apélles, die beproefde in Christus. Groet hulle wat van die huis van
Aristobúlus is.
11 Groet Heródion, my stamgenoot. Groet hulle wat van die huis van Narcíssus is,
die wat in die Here is.
12 Groet Triféna en Trifósa, vroue wat in die Here arbei. Groet Pérsis, die
geliefde vrou, wat baie in die Here gearbei het.
13 Groet Rufus, die uitverkorene in die Here, en sy moeder en myne.
14 Groet Asínkritus, Flegon, Hermas, Pátrobas, Hermes en die broeders wat saam
met hulle is.
15 Groet Filólogus en Julia, Néreus en sy suster en Olímpas en al die heiliges
wat saam met hulle is.
16 Groet mekaar met 'n heilige kus. Die gemeentes van Christus groet julle.
17 En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot
veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.
18 Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle
verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.
19 Want julle gehoorsaamheid het algemeen bekend geword. Daarom verbly ek my oor
julle, en ek wens dat julle wys mag wees teenoor wat goed is, maar onskuldig
teenoor wat sleg is.
20 En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel. Die
genade van onse Here Jesus Christus sy met julle! Amen.
21 Timótheüs, my medewerker, groet julle, en Lúcius en Jason en Sosípater, my
stamgenote.
22 Ek, Tértius, wat die brief geskryf het, groet julle in die Here.
22 Ek, Tértius, wat die brief geskryf het, groet julle in die Here.
23 Gajus, my gasheer en ook van die hele gemeente, groet julle. Erástus, die
penningmeester van die stad, en die broeder Quartus groet julle.
24 Die genade van die Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.
25 Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk volgens my evangelie en die
prediking van Jesus Christus, ooreenkomstig die openbaring van die verborgenheid
wat eeue lank verswyg is,
26 maar nou geopenbaar is en deur die profetiese Skrifte bekend gemaak is onder
al die heidene, volgens die bevel van die ewige God, tot gehoorsaamheid van die
geloof
27 aan die alleenwyse God, aan Hom die heerlikheid deur Jesus Christus tot in
ewigheid! Amen.