R u t 1
1 En in die dae toe die rigters geregeer het, was daar hongersnood in die
land; daarom het 'n man uit Betlehem-Juda weggetrek om as vreemdeling te vertoef
in die veld van Moab, hy en sy vrou en sy twee seuns.
2 En die naam van die man was Eliméleg en die naam van sy vrou Naómi en die naam
van sy twee seuns Maglon en Giljon, Efratiete, uit Betlehem-Juda, en hulle het
gekom in die veld van Moab en daar gebly.
3 En Eliméleg, die man van Naómi, het gesterwe, maar sy met haar twee seuns het
oorgebly.
4 En hulle het vir hulle Moabitiese vroue geneem; die naam van die een was Orpa
en die naam van die ander Rut; en hulle het daar omtrent tien jaar gebly.
5 En toe Maglon en Giljon altwee sterwe, en die vrou sonder haar twee seuns en
haar man oorbly,
6 het sy haar gereedgemaak met haar skoondogters en teruggegaan uit die veld van
Moab, want sy het in die veld van Moab gehoor dat die HERE op sy volk ag gegee
het deur aan hulle brood te gee.
7 So het sy dan haar woonplek verlaat en haar twee skoondogters saam met haar.
Maar toe hulle op pad was om na die land Juda terug te gaan,
8 sê Naómi aan haar twee skoondogters: Gaan heen, draai om, elkeen na die huis
van haar moeder; mag die HERE aan julle guns bewys soos julle aan die dode en
aan my bewys het.
9 Mag die HERE gee dat julle 'n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man;
en sy het hulle gesoen. Maar hulle het hul stem verhef en geween
10 en aan haar gesê: Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk.
11 Maar Naómi sê: Draai om, my dogters! Waarom sou julle met my saamgaan? Het ek
nog seuns in my liggaam, dat hulle julle mans kan word?
12 Draai om, my dogters, gaan heen; want ek is te oud om 'n man te hê. Al sou ek
sê: Ek het hoop! en nog vannag aan 'n man mag behoort en ook seuns baar--
13 sou julle in dié geval kan wag totdat hulle groot geword het? Sou julle in
dié geval julleself opsluit om nie aan 'n man te behoort nie? Ag nee, my dogters,
want dit is vir my baie bitterder as vir julle dat die hand van die HERE teen my
uitgestrek is.
14 Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen,
maar Rut het haar aangehang.
15 Daarop sê sy: Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode
toe; draai om agter jou skoonsuster aan!
16 Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te
draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u
volk is my volk, en u God is my God.
17 Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my
doen en so daaraan toedoen--net die dood sal skeiding maak tussen my en u.
18 Toe sy sien dat sy vas besluit het om met haar saam te gaan, het sy opgehou
om met haar te spreek.
19 En hulle twee het op pad gegaan totdat hulle in Betlehem gekom het. En toe
hulle in Betlehem kom, het die hele stad oor hulle in opskudding geraak, en die
vroue het gesê: Is dit Naómi?
20 Toe antwoord sy hulle: Noem my nie Naómi nie: noem my Mara, want die
Almagtige het my baie bitterheid aangedoen.
21 Vol het ek weggetrek, maar leeg het die HERE my laat terugkom. Waarom sou
julle my Naómi noem, terwyl die HERE teen my getuig het, en die Almagtige my
kwaad aangedoen het?
22 So het Naómi dan teruggekeer en Rut, die Moabitiese, haar skoondogter wat
saam met haar uit die veld van Moab teruggekom het; en hulle het in Betlehem
gekom in die begin van die gars-oes.
2
1 En Naómi het 'n bloedverwant gehad van haar man se kant, 'n vermoënde man, uit
die geslag van Eliméleg, wie se naam Boas was.
2 En Rut, die Moabitiese, het vir Naómi gesê: Laat ek tog die land ingaan en are
optel agter dié een in wie se oë ek genade sal vind. Toe antwoord sy haar: Gaan
my dogter.
3 Daarop het sy heengegaan, en gekom en are opgetel op die land agter die snyers.
En gelukkig kom sy op 'n stuk land af wat behoort aan Boas, uit die geslag van
Eliméleg.
4 En Boas het juis van Betlehem af gekom en aan die snyers gesê: Mag die HERE
met julle wees! En hulle het hom geantwoord: Mag die HERE u seën!
5 Daarop sê Boas aan sy dienaar, die opsigter oor die snyers: Van wie is hierdie
jong vrou?
6 En die dienaar, die opsigter oor die snyers, antwoord en sê: Dit is die jong
Moabitiese vrou wat saam met Naómi uit die veld van Moab teruggekom het;
7 en sy het gesê: Kan ek maar are optel en insamel by die gerwe agter die snyers?
Sy het toe gekom en gebly van vanmôre af tot nou toe; sy het maar min daar in
die huis gesit.
8 Toe sê Boas vir Rut: Luister tog, my dogter: jy moenie op 'n ander land gaan
are optel nie, en jy mag ook nie hiervandaan weggaan nie; maar jy moet jou by my
diensmeisies aansluit.
9 Met die oë op die land wat hulle afsny, moet jy agter hulle aan loop. Het ek
die dienaars nie bevel gegee om jou nie aan te raak nie? En as jy dors het, gaan
dan na die kanne en drink van wat die dienaars skep.
10 Toe val sy op haar aangesig en buig na die aarde toe en sê vir hom: Waarom
het ek genade in u oë gevind, dat u in my belang stel alhoewel ek 'n vreemdeling
is?
11 En Boas antwoord en sê vir haar: Aan my is alles omstandig vertel wat jy aan
jou skoonmoeder gedoen het ná die dood van jou man, en dat jy jou vader en jou
moeder en jou geboorteland verlaat het en na 'n volk getrek het wat jy gister en
eergister nie geken het nie.
12 Mag die HERE jou daad vergelde, en mag jou loon volkome wees van die HERE,
die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het.
13 Toe sê sy: So vind ek dan genade in u oë, my heer! Want u het my getroos en
na die hart van u dienares gespreek, alhoewel ek nie soos een van u dienaresse
is nie.
14 En teen etenstyd het Boas vir haar gesê: Kom hierheen en eet van die brood en
steek jou stukkie in die asyn. Daarop gaan sy langs die snyers sit, en hy het
haar gebraaide koring gegee, en sy het geëet en versadig geword en oorgehou.
15 Toe sy weer opstaan om are op te tel, het Boas sy dienaars bevel gegee en
gesê: Sy mag ook tussen die gerwe optel, en julle mag haar nie beledig nie.
16 En julle moet ook so nou en dan vir haar uit die bondels uittrek en dit laat
lê, dat sy dit kan optel; en julle mag haar nie keer nie.
17 En sy het op die land opgetel tot die aand; en toe sy uitslaan wat sy opgetel
het, was dit omtrent 'n efa gars.
18 En sy het dit weggedra; en toe sy in die stad kom, sien haar skoonmoeder wat
sy opgetel het; ook het sy uitgehaal en aan haar gegee wat sy oorgehou het nadat
sy versadig was.
19 Daarop vra haar skoonmoeder haar: Waar het jy vandag opgetel, en waar het jy
gewerk? Mag hy geseënd wees wat in jou belang gestel het! En sy vertel haar
skoonmoeder by wie sy gewerk het, en sê: Die naam van die man by wie ek vandag
gewerk het, is Boas.
20 En Naómi sê vir haar skoondogter: Mag hy geseënd wees deur die HERE, wat sy
guns aan lewende en dode nie onttrek het nie. Verder sê Naómi vir haar: Die man
is ons nabestaande, hy is een van ons lossers.
21 Toe sê Rut, die Moabitiese: Hy het ook nog vir my gesê: By my dienaars moet
jy aansluit totdat hulle klaar is met die hele oes wat aan my behoort.
22 Daarop het Naómi haar skoondogter Rut geantwoord: Dit is goed, my dogter, dat
jy met sy diensmeisies saam uitgaan en aan jou geen kwaad op 'n ander land
aangedoen word nie.
23 So het sy dan by die diensmeisies van Boas aangesluit om are op te tel totdat
hulle met die gars-oes en die koringoes klaar was; en sy het by haar skoonmoeder
gewoon.
3
1 Toe sê haar skoonmoeder Naómi vir haar: My dogter, sal ek nie vir jou 'n
rusplek soek, dat dit goed met jou kan gaan nie?
2 Nou dan, is Boas by wie se diensmeisies jy gewees het, nie ons bloedverwant
nie? Kyk, hy wan vannag op die vloer gars uit.
3 Was jou dan en salf jou en trek jou klere aan, en gaan af na die vloer toe;
laat jou deur die man nie herken totdat hy klaar geëet en gedrink het nie.
4 Maar as hy gaan slaap, let dan op die plek waar hy gaan slaap; kom dan nader,
maak sy voetenent oop en gaan lê; en hy sal jou te kenne gee wat jy moet doen.
5 En sy antwoord haar: Alles wat u sê, sal ek doen.
6 Daarop het sy afgegaan na die vloer en gedoen net soos haar skoonmoeder haar
beveel het.
7 Nadat Boas geëet en gedrink het, en sy hart vrolik was, en hy gaan slaap het
by die ent van die hoop, het sy stilletjies gekom en sy voetenent oopgemaak en
gaan lê.
8 En die man het teen middernag geskrik en vooroor gebuig en--daar lê 'n vrou
aan sy voetenent.
9 En hy vra: Wie is jy? Toe antwoord sy: Ek is Rut, u dienares; brei dan u
vleuel oor u dienares uit, want u is die losser.
10 En hy sê: Geseënd is jy deur die HERE, my dogter! Jy het jou laaste liefde
beter gemaak as die eerste, omdat jy nie agter jongmanne, arm of ryk, aan geloop
het nie.
11 Wees dan nou nie bang nie, my dogter; alles wat jy sê, sal ek vir jou doen,
want die hele stadspoort van my volk weet dat jy 'n deugsame vrou is.
12 Nou dan, dit is sekerlik waar dat ek die losser is, maar daar is nog 'n
losser, nader as ek.
13 Bly vannag oor; en as hy jou môre wil los, goed, hy kan los; maar as hy nie
lus het om jou te los nie, dan sal ék jou los, so waar as die HERE leef! Bly lê
tot môre.
14 En sy het tot die môre aan sy voetenent bly lê. Maar nog voordat een die
ander kon herken, het sy opgestaan; want hy het gesê: Dit mag nie bekend word
dat die vrou op die vloer gekom het nie.
15 Daarna sê hy: Gee die tjalie wat jy om het, en hou dit oop. En sy het dit
oopgehou, en hy het ses mate gars afgemeet en dit op haar gesit en die stad
ingegaan.
16 Toe sy by haar skoonmoeder kom, het dié gevra: En toe, my dogter? En sy het
haar alles vertel wat die man aan haar gedoen het,
17 en gesê: Hierdie ses mate gars het hy my gegee, want hy het gesê: Jy moet nie
met leë hande by jou skoonmoeder kom nie.
18 En sy antwoord: Sit stil, my dogter, totdat jy weet hoe die saak uitval; want
die man sal nie rus tensy hy vandag nog die saak afgehandel het nie.
4
1 En Boas het opgegaan na die poort en daar gaan sit. En toe die losser juis
daar verbygaan van wie Boas gespreek het, sê hy: Vriend, kom nader, en sit hier!
En hy het nader gekom en gaan sit.
2 Daarop neem hy tien man uit die oudstes van die stad en sê: Sit hier! En hulle
het gaan sit.
3 En hy sê vir die losser: Die stuk grond van ons broer Eliméleg wil Naómi, wat
uit die veld van Moab teruggekom het, verkoop.
4 Nou het ek gedink, ek sal jou dit meedeel en sê: Koop dit voor die wat hier
sit, en voor die oudstes van my volk; as jy wil los, los dan; maar as jy nie wil
los nie, gee my te kenne, dat ek dit kan weet, want daar is niemand om te los
behalwe jy nie, en ek ná jou. En hy antwoord: Ek sal los.
5 Daarop sê Boas: Die dag as jy die grond uit die hand van Naómi koop, dan
verwerf jy tegelyk Rut, die Moabitiese, die vrou van die dode, om die naam van
die dode in stand te hou oor sy erfdeel.
6 En die losser sê: Ek kan dit nie vir my los nie, anders bederf ek my erfdeel;
neem jy my lossingsreg oor, want ek kan nie los nie.
7 En dít was vroeër in Israel die gebruik by lossing en by ruiling om enige saak
van krag te maak: die een trek sy skoen uit en gee dit aan die ander; dit was
dan die bekragtiging in Israel.
8 Daarom het die losser vir Boas gesê: Koop dit vir jou; en hy het sy skoen
uitgetrek.
9 Toe sê Boas aan die oudstes en al die mense: Julle is vandag getuies dat ek
alles wat aan Eliméleg en alles wat aan Giljon en Maglon behoort het, uit die
hand van Naómi koop.
10 En ook Rut, die Moabitiese, die vrou van Maglon, verwerf ek vir my as vrou om
die naam van die dode oor sy erfdeel in stand te hou, sodat die naam van die
dode onder sy broers en uit die poort van sy woonplek nie uitgeroei word nie.
Julle is vandag getuies.
11 Toe sê al die mense wat in die poort was, en die oudstes: Ons is getuies; mag
die HERE die vrou wat in jou huis inkom, maak soos Ragel en soos Lea wat saam
die huis van Israel gebou het; en verwerf mag in Éfrata en maak 'n naam in
Betlehem!
12 En mag jou huis word soos die huis van Peres wat Tamar vir Juda gebaar het--uit
die nageslag wat die HERE jou uit hierdie jong vrou sal gee!
13 So het Boas Rut dan geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het by haar
ingegaan, en die HERE het vir haar swangerskap gegee, en sy het 'n seun gebaar.
14 Toe sê die vroue vir Naómi: Geloofd sy die HERE wat aan jou vandag 'n losser
nie laat ontbreek het nie! En mag sy naam in Israel geroem word!
15 Hy sal vir jou een wees wat jou siel verkwik en jou grysheid versorg; want
jou skoondogter wat jou liefhet, het hom gebaar, sy wat vir jou meer werd is as
sewe seuns.
16 En Naómi het die kind geneem en op haar skoot gesit, en sy het sy pleegmoeder
geword.
17 En die buurvroue het hom 'n naam gegee en gesê: Vir Naómi is 'n seun gebore!
En hulle het hom genoem Obed; hy was die vader van Isai, die vader van Dawid.
18 En dit is die stamboom van Peres: Peres was die vader van Hesron,
19 en Hesron die vader van Ram, en Ram van Ammínadab,
20 en Ammínadab van Nagson, en Nagson van Salma,
21 en Salmon van Boas, en Boas van Obed,
22 en Obed van Isai, en Isai van Dawid.