S e f a n j a 1
1 Die woord van die HERE wat gekom het tot Sefánja, die seun van Kusi, die
seun van Gedálja, die seun van Amárja, die seun van Hiskía, in die dae van Josía,
die seun van Amon, koning van Juda.
2 Saamskraap, wegraap sal Ek alles van die aardbodem af weg, spreek die HERE.
3 Ek sal wegraap mense en diere, Ek sal wegraap die voëls van die hemel en die
visse van die see en die struikelblokke saam met die goddelose, ja, Ek sal die
mense uitroei van die aardbodem af weg, spreek die HERE.
4 En Ek sal my hand uitstrek teen Juda en teen al die inwoners van Jerusalem; Ek
sal ook uit hierdie plek uitroei wat van Baäl oorgebly het, die naam van die
afgodsdienaars saam met die priesters;
5 en die wat op die dakke die leër van die hemel aanbid; en die aanbidders wat
by die HERE sweer en sweer by Milkom.
6 Ook die wat van die HERE afvallig word en wat die HERE nie soek en Hom nie
raadpleeg nie.
7 Swyg voor die Here HERE! Want die dag van die HERE is naby; want die HERE het
'n offer berei, sy gaste geheilig.
8 En op die dag van die offer van die HERE sal Ek besoeking doen oor die vorste
en die prinse en oor almal wat uitlandse klere dra.
9 Ek sal ook op dié dag besoeking doen oor almal wat oor die drumpel spring, wat
die huis van hulle here vul met geweld en bedrog.
10 En op dié dag, spreek die HERE--hoor! 'n geskreeu van die Vispoort af en 'n
gehuil van die Nuwe Stad af en 'n groot gekraak van die heuwels af!
11 Huil, o inwoners van die Vysel! want al die koopmans gaan te gronde, almal
wat geld afweeg, word uitgeroei.
12 En in dié tyd sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek en besoeking doen oor
die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die HERE
doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie.
13 En hulle rykdom sal geplunder word, en hulle huise verwoes word; en as hulle
huise bou, sal hulle dit nie bewoon nie; en as hulle wingerde plant, sal hulle
die wyn daarvan nie drink nie.
14 Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig. Hoor! die dag van
die HERE! Bitterlik skreeu die held daar.
15 Dié dag is 'n dag van grimmigheid, 'n dag van benoudheid en angs, 'n dag van
woestheid en verwoesting, 'n dag van duisternis en donkerheid, 'n dag van wolke
en wolkenag,
16 'n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu teen die versterkte stede en teen
die hoë hoekvestings.
17 En Ek sal die mense in benoudheid bring, en hulle sal rondloop soos blindes,
omdat hulle teen die HERE gesondig het; en hulle bloed sal vergiet word soos
stof en hulle ingewande soos drek.
18 Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die
grimmigheid van die HERE te red nie, maar deur die vuur van sy ywer sal die hele
aarde verteer word; want Hy bring vernietiging, ja, 'n verskriklike, oor die
inwoners van die aarde.
2
1 Kom tot julleself, ja, kom tot inkeer, o nasie wat nie skaam word nie!
2 Voordat die besluit baar--soos kaf gaan die dag verby--voordat daar oor julle
kom die toorngloed van die HERE, voordat oor julle kom die dag van die toorn van
die HERE.
3 Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek
geregtigheid, soek ootmoedigheid--miskien sal julle verborge bly op die dag van
die toorn van die HERE.
4 Want Gasa sal verlate wees en Askelon tot verwoesting; Asdod sal op die helder
middag verdryf word, en Ekron sal ontwortel word.
5 Wee die inwoners van die kusstreek, die nasie van die Kretiërs! Die woord van
die HERE is teen julle, Kanaän, land van die Filistyne--Ek verdelg jou, sodat
daar niemand meer woon nie.
6 En die kusstreek sal weiplekke met putte wees vir herders en krale vir
kleinvee.
7 En dit sal wees 'n deel vir die oorblyfsel van die huis van Juda: hulle sal
daarop wei; hulle sal saans in die huise van Askelon gaan lê, want die HERE
hulle God sal op hulle ag gee en hulle lot verander.
8 Ek het gehoor die smaadtaal van Moab en die beskimpinge van die kinders van
Ammon, waarmee hulle my volk gesmaad het, en hoe hulle hul groot gehou het teen
sy grondgebied.
9 Daarom, so waar as Ek leef, spreek die HERE van die leërskare, die God van
Israel: Moab sal word soos Sodom en die kinders van Ammon soos Gomorra--'n veld
van brandnekels en soutpanne en 'n verwoesting vir ewig; die oorblyfsel van my
volk sal hulle berowe, en die res van my nasie sal hulle beërwe.
10 Dit oorkom hulle vir hul trotsheid, want hulle het geskimp op en hulle groot
gehou teen die volk van die HERE van die leërskare.
11 Vreeslik sal die HERE teen hulle wees, want Hy laat al die gode van die aarde
wegkwyn; sodat hulle Hom kan aanbid elkeen uit sy woonplek, al die kuslande van
die nasies.
12 Ook julle, o Kusiete, deurboordes van my swaard is hulle.
13 Dan sal Hy sy hand uitstrek teen die noorde, en Hy sal Assur vernietig en
Ninevé tot 'n verwoesting maak, dor soos die woestyn.
14 En binne-in die stad sal troppe vee lê en allerhande gediertes by troppe, die
pelikaan sowel as die krimpvarkie op sy kapitele vernag; hoor! daar word gesing
in die venster; verwoesting sit op die drumpel, want hulle het die sederwerk
afgeruk.
15 Dit is die uitgelate stad wat so veilig gewoon het, wat in sy hart gesê het:
Dit is ek, en niemand anders nie! Hoe het dit 'n verwoesting geword, 'n lêplek
vir wilde diere! Almal wat daar verbytrek, spot, skud met die hand.
3
1 Wee die opstandige en die besoedelde, die verdrukkende stad.
2 Dit luister na geen stem nie, dit neem geen tugtiging aan nie; op die HERE
vertrou dit nie, tot sy God kom dit nie nader nie.
3 Sy vorste binne-in hom is brullende leeus; sy regters is aandwolwe wat niks
vir die môre oorlaat nie.
4 Sy profete is ligsinnig, trouelose manne, sy priesters verontreinig wat heilig
is, hulle verkrag die wet.
5 Die HERE is regverdig binne-in hom, Hy doen geen onreg nie; elke môre laat Hy
sy reg aan die lig kom, dit ontbreek nooit nie; maar die kwaaddoener ken geen
skaamte nie.
6 Ek het nasies uitgeroei, hulle hoekvestings is vernietig; hulle strate het Ek
verwoes, sodat niemand meer verbygaan nie; hulle stede is verniel, sodat daar
geen mens, geen inwoner in is nie.
7 Ek het gesê: Mag jy My maar vrees, tugtiging aanneem! Dan sou sy woonplek nie
uitgeroei word nie, nie plaasvind alles wat Ek teen hom bestel het nie. Nogtans
het hulle met ywer al hulle handelinge bederwe.
8 Daarom, verwag My, spreek die HERE, op die dag wat Ek My gereed maak vir die
buit; want dit is my strafoordeel om nasies te versamel, koninkryke te vergader
om my grimmigheid oor hulle uit te stort, al die gloed van my toorn. Want die
ganse aarde sal deur die vuur van my ywer verteer word!
9 Want dan sal Ek aan die volke rein lippe toebring, sodat hulle almal die Naam
van die HERE sal aanroep en Hom met 'n eenparige skouer sal dien.
10 Oorkant die riviere van Kus vandaan sal my aanbidders, my verstrooide
gemeente, my offerande bring.
11 Op dié dag hoef jy jou nie te skaam weens al jou dade waarmee jy teen My
oortree het nie; want dan sal Ek uit jou midde wegruim die wat in jou oormoedig
jubel, en jy sal jou nooit hoogmoedig gedra op my heilige berg nie.
12 En Ek sal tussen jou in laat oorbly 'n ellendige en geringe volk wat by die
Naam van die HERE skuiling soek.
13 Die oorblyfsel van Israel sal geen onreg doen en geen leuentaal spreek nie,
en in hulle mond sal geen bedrieglike tong gevind word nie; maar hulle sal wei
en neerlê, en niemand sal hulle verskrik nie.
14 Jubel, o dogter van Sion, juig, o Israel! Verheug jou en jubel van ganser
harte, o dogter van Jerusalem!
15 Die HERE het jou oordele opgehef, jou vyand weggeveeg; die koning van Israel,
die HERE is by jou, jy sal geen kwaad meer vrees nie.
16 In dié dag sal aan Jerusalem gesê word: Vrees nie, o Sion, laat jou hande nie
slap hang nie!
17 Die HERE jou God is by jou, 'n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor
jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel.
18 Die wat bedroef is, ver weg van die fees, versamel Ek; hulle hoort by jou,
die smaad druk swaar op hulle.
19 Kyk, in dié tyd sal Ek met al jou verdrukkers handel; en die wat kreupel is,
sal Ek red; en die wat verjaag is, versamel; en Ek sal hulle maak tot 'n lof en
tot 'n roem wie se skande oor die hele aarde was.
20 In dié tyd sal Ek julle aanbring, ja, in die tyd wanneer Ek julle versamel;
want Ek maak julle tot 'n roem en tot 'n lof onder al die volke van die aarde,
wanneer Ek voor julle oë julle lot verander, sê die HERE.