1
1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die
Gees van God het gesweef op die waters.
3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.
4 Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig
en die duisternis;
5 en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was
aand en dit was môre, die eerste dag.
6 En God het gesê: Laat daar ‘n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit
skeiding maak tussen waters en waters.
7 God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is,
geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so.
8 En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die
tweede dag.
9 En God het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel,
sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so.
10 En God het die droë grond aarde genoem, en die versameling van die waters het
Hy see genoem. Toe sien God dat dit goed was.
11 En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad
gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die
aarde. En dit was so.
12 Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle
soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte. Toe
sien God dat dit goed was.
13 En dit was aand en dit was môre, die derde dag.
14 En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om
skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel
vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare.
15 Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee
op die aarde. En dit was so.
16 God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die
dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre.
17 En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die
aarde
18 en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die
lig en die duisternis. Toe sien God dat dit goed was.
19 En dit was aand en dit was môre, die vierde dag.
20 En God het gesê: Laat die waters wemel met ‘n gewemel van lewende wesens, en
laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel.
21 En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg,
waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls
volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.
22 En God het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die
waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder.
23 En dit was aand en dit was môre, die vyfde dag.
24 En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle
soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte.
En dit was so.
25 En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die
vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle
soorte. Toe sien God dat dit goed was.
26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat
hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en
oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom
geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en
vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en
die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.
29 Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op
die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal
julle voedsel wees.
30 Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die
kruipende diere op die aarde, waarin ‘n lewende siel is, gee Ek al die groen
plante as voedsel. En dit was so.
31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand
en dit was môre, die sesde dag.
*~ Hoofstuk 2 ~*
1 So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag.
2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die
sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.
3 En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het
van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.
4 Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die
dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het,
5 was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die
veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die
aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie.
6 Maar ‘n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig.
7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy
neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
8 Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die
mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee.
9 En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om
te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die
tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.
10 En daar het ‘n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en
daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword.
11 Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land Háwila
loop waar die goud is.
12 En die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen.
13 En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele
land Kus loop.
14 En die naam van die derde rivier is die Hiddékel. Dit is hy wat oos van Assur
loop. En die vierde rivier is die Frat.
15 Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om
dit te bewerk en te bewaak.
16 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die
tuin mag jy vry eet,
17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet
nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.
18 Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal
vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.
19 En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al
die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou
noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam
wees.
20 So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel
en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het hy geen hulp
gevind wat by hom pas nie.
21 Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap,
het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak.
22 En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en
bring haar na die mens.
23 Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my
vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.
24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle
sal een vlees wees.
25 En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam
nie.
*~ Hoofstuk 3 ~*
1 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God
gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie
eet van al die bome van die tuin nie?
2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag
ons eet,
3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God
gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle
sterwe.
4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;
5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos
God sal wees deur goed en kwaad te ken.
6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir
die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van
sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.
7 Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle
het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.
8 En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in
die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van
die HERE God tussen die bome van die tuin.
9 Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy?
10 En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is
naak; daarom het ek my verberg.
11 En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die
boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?
12 En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my
van die boom gegee, en ek het geëet.
13 Daarop sê die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou
antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.
14 Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek
onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof
moet jy eet al die dae van jou lewe.
15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar
saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.
16 Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou
swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees,
en hy sal oor jou heers.
17 En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou
en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek
is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou
lewe.
18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van
die veld eet.
19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die
aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.
20 En die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat
lewe.
21 En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit
aangetrek.
22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en
kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die
lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!
23 Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk
waaruit hy geneem is.
24 So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin
van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die
boom van die lewe te bewaak.
*~ Hoofstuk 4 ~*
1 En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en
gesê: Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE.
2 Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het ‘n skaapherder geword, en
Kain ‘n landbouer.
3 En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n
offer gebring.
4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van
hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien,
5 maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het
sy hoof laat hang.
6 En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?
7 Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die
sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor
heers.
8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain
teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.
9 Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie.
Is ek my broer se wagter?
10 En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My
van die aarde af.
11 Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om
die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang.
12 As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; ‘n
swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde.
13 Daarop sê Kain vir die HERE: My skuld is te groot om dit te dra.
14 Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig:
‘n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my
doodslaan.
15 Maar die HERE sê vir hom: Daarom, as enigeen Kain doodslaan, sal dit
sewevoudig gewreek word. En die HERE het ‘n teken gegee aan Kain, sodat enigeen
wat hom kry, hom nie sou doodslaan nie.
16 Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land
Nod, aan die oostekant van Eden.
17 En Kain het sy vrou beken, en sy het swanger geword en Henog gebaar. Daarna
bou hy ‘n stad en noem die stad na die naam van sy seun Henog.
18 En vir Henog is Irad gebore; en Irad was die vader van Mehújael; en Mehújael
was die vader van Metúsael; en Metúsael die vader van Lameg.
19 En Lameg het vir hom twee vroue geneem. Die naam van die eerste was Ada, en
die naam van die tweede Silla.
20 En Ada het Jabal gebaar. Hy was die vader van die tentbewoners en die
veeboere.
21 Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die vader van almal wat op siters en
fluite speel.
22 En Silla het ook gebaar, naamlik Tubal-Kain, ‘n smid wat allerhande koper— en
ysterinstrumente gemaak het. En die suster van Tubal-Kain was Naéma.
23 En Lameg het aan sy vroue gesê: Ada en Silla, hoor na my stem! Vroue van
Lameg, luister na my woord! Voorwaar, ek slaan ‘n man dood wat my wond en ‘n
seun wat my kwes.
24 Want Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewe en sewentig maal.
25 En Adam het sy vrou weer beken, en sy het ‘n seun gebaar en hom Set genoem.
Want, het sy gesê, God het my ‘n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat
Kain hom doodgeslaan het.
26 En ook vir Set is ‘n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die
Naam van die HERE begin aanroep.
*~ Hoofstuk 5 ~*
1 Dit is die stamboom van Adam. Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom
gemaak na die gelykenis van God.
2 Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag
toe hulle geskape is.
3 Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek na sy gelykenis,
na sy ewebeeld, en hom Set genoem.
4 En die dae van Adam, ná die geboorte van Set, was agt honderd jaar. En hy het
seuns en dogters gehad.
5 So was dan al die dae van Adam wat hy geleef het, nege honderd en dertig jaar,
en hy het gesterwe.
6 Toe Set honderd en vyf jaar oud was, het hy die vader van Enos geword.
7 En Set het ná die geboorte van Enos nog agt honderd en sewe jaar gelewe. En hy
het seuns en dogters gehad.
8 So was dan al die dae van Set nege honderd en twaalf jaar, en hy het gesterwe.
9 Toe Enos negentig jaar oud was, het hy die vader van Kenan geword.
10 En Enos het ná die geboorte van Kenan nog agt honderd en vyftien jaar gelewe.
En hy het seuns en dogters gehad.
11 So was dan al die dae van Enos nege honderd en vyf jaar, en hy het gesterwe.
12 Toe Kenan sewentig jaar oud was, het hy die vader van Mahalálel geword.
13 En Kenan het ná die geboorte van Mahalálel nog agt honderd en veertig jaar
gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
14 So was dan al die dae van Kenan nege honderd en tien jaar, en hy het gesterwe.
15 Toe Mahalálel vyf en sestig jaar oud was, het hy die vader van Jered geword.
16 En Mahalálel het ná die geboorte van Jered nog agt honderd en dertig jaar
gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
17 So was dan al die dae van Mahalálel agt honderd vyf en negentig jaar, en hy
het gesterwe.
18 Toe Jered honderd twee en sestig jaar oud was, het hy die vader van Henog
geword.
19 En Jered het ná die geboorte van Henog nog agt honderd jaar gelewe. En hy het
seuns en dogters gehad.
20 So was dan al die dae van Jered nege honderd twee en sestig jaar, en hy het
gesterwe.
21 Toe Henog vyf en sestig jaar oud was, het hy die vader van Metúsalag geword.
22 En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog drie honderd jaar met God
gewandel. En hy het seuns en dogters gehad.
23 So was dan al die dae van Henog drie honderd vyf en sestig jaar.
24 En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom
weggeneem.
25 Toe Metúsalag honderd sewe en tagtig jaar oud was, het hy die vader van Lameg
geword.
26 En Metúsalag het ná die geboorte van Lameg nog sewe honderd twee en tagtig
jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
27 So was dan al die dae van Metúsalag nege honderd nege en sestig jaar, en hy
het gesterwe.
28 Toe Lameg honderd twee en tagtig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek
29 en hom Noag genoem, want hy het gesê: Dit is hy wat ons sal troos oor ons
werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat
die HERE vervloek het.
30 En Lameg het ná die geboorte van Noag nog vyf honderd vyf en negentig jaar
gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
31 So was dan al die dae van Lameg sewe honderd sewe en sewentig jaar, en hy het
gesterwe.
32 En Noag was vyf honderd jaar oud, en Noag het die vader geword van Sem, Gam
en Jafet.
*~ Hoofstuk 6 ~*
1 Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore
is,
2 sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het
vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.
3 Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook
vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar.
4 In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by
die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is
die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.
5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al
die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,
6 het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was
smart in Sy hart.
7 En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die
mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want
dit berou My dat Ek hulle gemaak het.
8 Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE.