Shabbat Shalom!
Welkom by Vayechi / En Hy Het Gelewe
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Jesaja 42:5–43:10;

42

5 So sê God, die HERE, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel:
6 Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, as ‘n lig van die nasies,
7 om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit.
8 Ek is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.
9 Kyk, die vorige dinge het gekom, en nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle uitspruit, laat Ek julle dit hoor.
10 Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af—julle wat op die see vaar, en alles wat daarin is, eilande en bewoners daarvan.
11 Laat die woestyn en sy stede uitroep, die dorpe waar Kedar woon! Laat die rotsbewoners jubel, van die top van die berge af skreeu!
12 Laat hulle aan die HERE die eer gee en sy lof in die eilande verkondig!
13 Die HERE sal uittrek soos ‘n held; Hy sal die ywer opwek soos ‘n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar.
14 Ek het baie lank geswyg, My stil gehou, My bedwing. Ek sal uitskreeu soos een wat baar, Ek sal hard asemhaal en hyg tegelykertyd.
15 Ek sal berge en heuwels woes maak en al hulle plante laat verdroog; en Ek sal riviere tot eilande maak en waterplasse laat opdroog.
16 En Ek sal blindes lei op ‘n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie.
17 Maar die wat op gesnede beelde vertrou, wat aan gegote beelde sê: Julle is ons gode—dié sal agteruitwyk, diep beskaamd staan.
18 Hoor, julle dowes, en kyk, julle blindes, om te kan sien.
19 Wie is blind buiten my kneg en doof soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die vertroude vriend, en blind soos die kneg van die HERE?
20 Jy het wel baie dinge gesien, maar daar geen ag op gegee nie; die ore oop gehad, maar jy hoor nie.
21 Dit het die HERE behaag ter wille van sy geregtigheid om die onderwysing groot en heerlik te maak.
22 En tog is dit ‘n beroofde en geplunderde volk; hulle is almal gebonde in kerkers, verborge in gevangenisse; hulle het ‘n buit geword sonder dat iemand red, ‘n plundering sonder dat iemand sê: Gee terug!
23 Wie onder julle luister na hierdie dinge? Wie merk op, hoor dit ook vir die toekoms?
24 Wie het Jakob oorgegee as ‘n plundering en Israel aan die berowers? Is dit nie die HERE teen wie ons gesondig het nie? En hulle wou in sy weë nie wandel nie en het na sy wet nie geluister nie.
25 Daarom het Hy oor hulle uitgestort die gloed van sy toorn en die geweld van die oorlog; en dit het hulle rondom aan die brand gesteek, maar hulle het dit nie bemerk nie; en dit het hulle gebrand, maar hulle het dit nie ter harte geneem nie.

*~ Hoofstuk 43 ~*


1 Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!
2 As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.
3 Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland; Ek het Egipte gegee as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.
4 Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe.
5 Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af.
6 Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af,
7 elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het.
8 Bring uit die volk wat blind is en tog oë het, en die dowes wat ore het.
9 Al die nasies het saam vergader, en die volke is versamel. Wie onder hulle kan sulke dinge verkondig? En laat hulle ons die vorige dinge bekend maak! Laat hulle hul getuies bring, dat hulle in die gelyk gestel kan word; en laat hulle hoor en sê: Dit is die waarheid!
10 Júlle is my getuies, spreek die HERE, en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is—voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie.

Openbaring 22:6–21;

6 En hy het vir my gesê: Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; en die Here, die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur.
7 Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar.
8 En dit is ek, Johannes, wat dit gesien en gehoor het; en toe ek dit gehoor en gesien het, het ek neergeval om te aanbid voor die voete van die engel wat my hierdie dinge getoon het.
9 Toe sê hy vir my: Moenie! want ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar. Aanbid God.
10 En hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby.
11 Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.
12 En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.
13 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.
14 Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.
15 Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.
16 Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.
17 En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.
18 Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.
19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.
20 Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!
21 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.