13
1 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
2 Stuur vir jou manne uit, dat hulle die land Kanaän wat Ek aan die kinders van
Israel sal gee, kan verken. Van elke vaderlike stam moet julle een man stuur,
elkeen ‘n owerste onder hulle.
3 En Moses het hulle uitgestuur uit die woestyn Paran, volgens die bevel van die
HERE—hulle almal manne wat hoofde was van die kinders van Israel.
4 En dit is hulle name: Van die stam van Ruben: Sámmua, die seun van Sakkur.
5 Van die stam van Símeon: Safat, die seun van Hori.
6 Van die stam van Juda: Kaleb, die seun van Jefúnne.
7 Van die stam van Issaskar: Jígeal, die seun van Josef.
8 Van die stam van Efraim: Hoséa, die seun van Nun.
9 Van die stam van Benjamin: Palti, die seun van Rafu.
10 Van die stam van Sébulon: Gáddiël, die seun van Sodi.
11 Van die stam van Josef, vir die stam van Manasse: Gaddi, die seun van Susi.
12 Van die stam van Dan: Ammíël, die seun van Gemálli.
13 Van die stam van Aser: Setur, die seun van Mígael.
14 Van die stam van Náftali: Nagbi, die seun van Wofsi.
15 Van die stam van Gad: Géhuel, die seun van Magi.
16 Dit is die name van die manne wat Moses gestuur het om die land te verken; En
Moses het Hoséa, die seun van Nun, Josua genoem.
17 En Moses het hulle gestuur om die land Kanaän te verken en vir hulle gesê:
Trek hier in die Suidland op en beklim die gebergte.
18 En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of
swak, of dit min of baie is;
19 en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die
stede is waar hulle in woon, laers of vestings;
20 ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en
wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van
die eerste druiwe.
21 En hulle het opgetrek en die land verken van die woestyn Sin af tot by Rehob,
na die ingang van Hammat—
22 hulle het in die Suidland opgetrek en tot by Hebron gekom; en daar was Ahíman,
Sesai en Talmai, die kinders van die Enakiete. En Hebron is sewe jaar voor Soan
in Egipte gebou.
23 Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar ‘n rank met een tros
druiwe afgesny, en twee het dit aan ‘n draagstok gedra; ook van die granate en
van die vye.
24 Dié plek het hulle die dal Eskol genoem vanweë die tros wat die kinders van
Israel daar afgesny het.
25 En ná verloop van veertig dae het hulle teruggekom van die land te verken.
26 En hulle het weggegaan en by Moses en Aäron en die hele vergadering van die
kinders van Israel gekom in die woestyn Paran, in Kades, en aan hulle berig
gebring, en aan die hele vergadering en hulle die vrugte van die land laat sien.
27 En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons
gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte.
28 Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en
baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien.
29 Die Amalekiete woon in die Suidland, maar die Hetiete en Jebusiete en
Amoriete woon in die gebergte, en die Kanaäniete woon by die see en aan die kant
van die Jordaan.
30 Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus
optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig.
31 Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die
volk optrek nie, want hulle is sterker as ons.
32 So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van Israel versprei oor die
land wat hulle verken het, deur te sê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te
verken, is ‘n land wat sy inwoners verteer; en al die mense wat ons daarin
gesien het, is groot manne.
33 Ons het daar ook die reuse gesien, die kinders van Enak, van die reuse
afkomstig; en ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle oë.
*~ Hoofstuk 14 ~*
1 Toe het die hele vergadering uitgeroep—hulle het hul stem verhef, en die volk
het dié nag geween.
2 En al die kinders van Israel het gemurmureer teen Moses en teen Aäron, en die
hele vergadering het aan hulle gesê: Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het!
Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het!
3 En waarom bring die HERE ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons
vroue en ons kinders sal ‘n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na
Egipte terug te gaan nie?
4 En hulle sê vir mekaar: Laat ons ‘n hoof aanstel en na Egipte teruggaan.
5 Toe het Moses en Aäron op hulle aangesig geval voor die hele vergadering van
die gemeente van die kinders van Israel.
6 En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat
die land verken het, het hulle klere geskeur
7 en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die
land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n buitengewoon goeie land.
8 As die HERE ‘n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit
aan ons gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.
9 Wees net nie teen die HERE opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die
volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle
gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!
10 Toe sê die hele vergadering dat hulle gestenig moet word. Maar die
heerlikheid van die HERE het in die tent van samekoms verskyn voor al die
kinders van Israel.
11 Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En
hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle
gedoen het?
12 Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou ‘n groter en
sterker nasie maak as hulle.
13 Toe het Moses aan die HERE gesê: Maar die Egiptenaars het gehoor dat U deur u
krag hierdie volk onder hulle uit laat optrek het
14 en dit aan die inwoners van hierdie land gesê. Hulle het gehoor dat U, HERE,
in die midde van hierdie volk is; dat U, HERE, duidelik waarneembaar verskyn;
dat u wolk oor hulle staan en U in ‘n wolkkolom voor hulle uit trek bedags en in
‘n vuurkolom by nag.
15 As U nou hierdie volk soos een man ombring, dan sal die nasies wat die tyding
aangaande U gehoor het, spreek en sê:
16 Omdat die HERE hierdie volk nie kon inbring in die land wat Hy hulle met ‘n
eed beloof het nie, het Hy hulle in die woestyn omgebring.
17 Laat dan nou tog die krag van die HERE groot word, soos U gespreek het deur
te sê:
18 Die HERE is lankmoedig en groot van goedertierenheid, wat die ongeregtigheid
en oortreding vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie, wat die ongeregtigheid
van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag.
19 Vergeef tog die ongeregtigheid van hierdie volk na die grootheid van u
goedertierenheid, en soos U hierdie volk van Egipte af tot hiertoe vergewe het.
20 Toe sê die HERE: Ek vergewe, volgens jou woord.
21 Maar so waar as Ek leef en die hele aarde van die HERE se heerlikheid vol sal
word,
22 al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en
in die woestyn gedoen het, en My nou al tien maal versoek het en na my stem nie
geluister het nie,
23 hulle sal die land nie sien wat Ek aan hulle vaders met ‘n eed beloof het nie,
ja, almal wat My verag het, sal dit nie sien nie.
24 Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te
volg—hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in
besit neem.
25 Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die laagte—draai môre weg en trek
tog die woestyn in, op pad na die Skelfsee.
26 Daarna het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê:
27 Hoe lank sal hierdie bose vergadering aanhou dat hulle teen My murmureer? Ek
het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor waarmee hulle teen My bly
murmureer.
28 Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die HERE, waarlik, soos julle voor
my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen.
29 Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes, volgens
julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer
het.
30 Waarlik, júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om
julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua,
die seun van Nun.
31 En julle kinders waarvan julle gesê het: Hulle sal ‘n buit word—dié sal Ek
inbring en dié sal die land leer ken wat julle verwerp het.
32 Maar júlle lyke sal in hierdie woestyn lê.
33 En julle kinders sal soos herders rondtrek in die woestyn, veertig jaar lank,
en sal so die gevolge van julle hoerery dra totdat julle lyke in die woestyn
verteer is.
34 Volgens die getal dae dat julle die land verken het, veertig dae, vir elke
dag een jaar, moet julle jul ongeregtighede dra, veertig jaar lank, en my
teëstand gewaar word.
35 Ek, die HERE, het dit gespreek; waarlik, dit sal Ek aan hierdie hele bose
vergadering doen wat teen My bymekaargekom het. Hulle sal in hierdie woestyn
omkom en daar sterwe.
36 En die manne wat Moses gestuur het om die land te verken en wat ná hulle
terugkoms die hele vergadering teen hom laat murmureer het deur ‘n slegte gerug
aangaande die land te versprei,
37 die manne wat ‘n slegte gerug aangaande die land versprei het, het gesterwe
deur ‘n plaag voor die aangesig van die HERE.
38 Maar van dié manne wat die land gaan verken het, het Josua, die seun van Nun,
en Kaleb, die seun van Jefúnne, in die lewe gebly.
39 En toe Moses hierdie woorde aan al die kinders van Israel gesê het, het die
volk baie getreur
40 en die môre vroeg klaargemaak en op die top van die berg geklim en gesê: Hier
is ons, en ons wil optrek na die plek wat die HERE gesê het, want ons het
gesondig.
41 Maar Moses het gesê: Waarom oortree julle tog die bevel van die HERE,
aangesien dit tog nie sal geluk nie?
42 Moenie optrek nie, want die HERE is nie in julle midde nie—anders word julle
verslaan voor julle vyande.
43 Want die Amalekiete en die Kanaäniete is daar voor julle, en julle sal deur
die swaard val; omdat julle van die HERE afvallig geword het, daarom sal die
HERE nie met julle wees nie.
44 Nogtans het hulle vermetel gehandel om op die top van die berg te klim; maar
die verbondsark van die HERE en Moses het nie uit die laer gewyk nie.
45 Toe het die Amalekiete en die Kanaäniete wat in dié gebergte woonagtig was,
afgekom en hulle verslaan en hulle verstrooi tot by Horma.
*~ Hoofstuk 15 ~*
1 Daarna het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land van
julle inwoning kom wat Ek aan julle gee,
3 en julle ‘n vuuroffer aan die HERE wil berei, ‘n brandoffer of slagoffer—deur
‘n besondere gelofte te volbring of as vrywillige offer of by julle feestye—om
vir die HERE ‘n lieflike geur van beeste of van kleinvee te berei,
4 dan moet die een wat sy offer aan die HERE bring, as spysoffer bring ‘n tiende
van ‘n efa fynmeel, gemeng met ‘n kwart-hin olie;
5 en wyn vir die drankoffer, ‘n kwart-hin, moet jy berei by die brandoffer of
vir die slagoffer, vir elke lam.
6 Of vir ‘n ram moet jy as spysoffer berei twee-tiendes van ‘n efa fynmeel, met
‘n derde van ‘n hin olie gemeng.
7 En ‘n derde van ‘n hin wyn vir die drankoffer moet jy as lieflike geur aan die
HERE bring.
8 En as jy ‘n jong bul as brandoffer of slagoffer berei, deur ‘n besondere
gelofte te volbring of as dankoffer aan die HERE,
9 moet hy by die jong bul as spysoffer bring drie-tiendes van ‘n efa fynmeel met
‘n half-hin olie gemeng.
10 En vir die drankoffer moet jy ‘n half-hin wyn bring, as vuuroffer van
lieflike geur aan die HERE.
11 So moet gedoen word by elke bees of by elke ram of by ‘n lam van die skape of
van die bokke.
12 Volgens die getal wat julle berei—so moet julle doen by elkeen volgens hulle
getal.
13 Elke kind van die land moet hierdie dinge op dieselfde manier doen, om ‘n
vuuroffer van lieflike geur aan die HERE te bring.
14 En as ‘n vreemdeling by julle vertoef, of hy wat vir geslagte onder julle is,
en ‘n vuuroffer van lieflike geur vir die HERE berei—soos julle doen, so moet hy
doen.
15 Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir
die vreemdeling wat by julle vertoef. ‘n Ewige insetting in julle geslagte is
dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die HERE wees.
16 Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle
vertoef.
17 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
18 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land kom
waarheen Ek julle bring,
19 moet julle, as julle van die brood van die land eet, ‘n offergawe aan die
HERE afgee.
20 As eersteling van julle growwe meel moet julle ‘n koek as offergawe afgee;
net soos die offergawe van die dorsvloer, so moet julle dit afgee.
21 Van die eerstelinge van julle growwe meel moet julle ‘n offergawe aan die
HERE gee in julle geslagte.
22 Verder, as julle jul misgaan en nie al hierdie gebooie doen wat die HERE aan
Moses meegedeel het nie—
23 alles wat die HERE julle deur Moses beveel het van die dag af dat die HERE
dit beveel het en verder in julle geslagte—
24 dan moet die hele vergadering, as dit buiten wete van die vergadering, in
swakheid gebeur het, een jong bul berei vir ‘n brandoffer as lieflike geur aan
die HERE, met die spysoffer en die drankoffer wat volgens voorskrif daarby
behoort; en een bokram as sondoffer.
25 En die priester moet versoening doen vir die hele vergadering van die kinders
van Israel, en dit sal hulle vergewe word; want ‘n swakheid was dit, en húlle
het hul offer as vuuroffer aan die HERE en hul sondoffer, weens hulle swakheid,
voor die aangesig van die HERE gebring.
26 Dit sal dan die hele vergadering van die kinders van Israel vergewe word, ook
die vreemdeling wat onder hulle vertoef; want dit het die hele volk deur
swakheid oorgekom.
27 En as ‘n enkele siel in swakheid sondig, moet dié ‘n jaaroud bokooi as
sondoffer bring.
28 En die priester moet versoening doen vir die siel wat hom misgaan het, weens
sy sonde in swakheid voor die aangesig van die HERE begaan, om vir hom
versoening te doen; en dit sal hom vergewe word.
29 Wat die kind van die land onder die kinders van Israel aangaan en die
vreemdeling wat onder hulle vertoef—een en dieselfde wet moet vir julle geld,
vir hom wat in swakheid iets doen.
30 Maar die siel wat iets moedswillig doen, van die kinders van die land of van
die vreemdelinge, hy versmaad die HERE; en dié siel moet uitgeroei word onder sy
volk uit.
31 Want die woord van die HERE het hy verag en sy gebod verbreek. Dié siel moet
sekerlik uitgeroei word; sy ongeregtigheid is op hom.
32 En toe die kinders van Israel in die woestyn was, het hulle ‘n man gekry wat
op die sabbatdag hout bymekaarmaak.
33 En die wat hom gekry het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Moses en
Aäron en na die hele vergadering gebring.
34 En hulle het hom in die gevangenis gesit, want dit was nie beslis wat met hom
gedoen moes word nie.
35 Toe sê die HERE vir Moses: Die man moet sekerlik gedood word; die hele
vergadering moet hom buitekant die laer stenig.
36 Toe het die hele vergadering hom buitekant die laer uitgebring en hom
gestenig, dat hy gesterf het, soos die HERE Moses beveel het.
37 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
38 Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle, hulle moet vir hulle
klossies maak aan die hoeke van hul klere, in hulle geslagte, en aan die
hoekklossies ‘n draad van pers stof vasbind.
39 En dit sal julle as klossies dien: as julle dit sien, moet julle aan al die
gebooie van die HERE dink, dat julle dit doen en nie jul hart en jul oë navolg
waar julle agter aan hoereer nie,
40 sodat julle aan al my gebooie mag dink en dit doen, en aan julle God heilig
mag wees.
41 Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het om vir julle
‘n God te wees. Ek is die HERE julle God.