30
11 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
12 As jy die volle getal van die kinders van Israel opneem volgens hulle
geteldes, moet hulle, elkeen vir sy lewe, losgeld aan die HERE gee as hulle
getel word, sodat geen plaag onder hulle mag wees as hulle getel word nie.
13 Dit moet hulle gee, elkeen wat na die geteldes oorgaan: ‘n halfsikkel volgens
die sikkel van die heiligdom—die sikkel is twintig gera—’n halfsikkel as
offergawe aan die HERE.
14 Elkeen wat oorgaan na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, moet die
offergawe van die HERE gee.
15 Die ryke moet nie meer en die arme moet nie minder as ‘n halfsikkel bring nie,
as hulle die offergawe van die HERE gee om vir julle siele versoening te doen.
16 Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die
bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in
gedagtenis kan bring voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele
versoening te doen.
17 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
18 Jy moet ook ‘n koperwaskom maak met sy kopervoetstuk, om in te was; en sit
dit tussen die tent van samekoms en die altaar, en gooi water daarin,
19 dat Aäron en sy seuns hulle hande en hulle voete daaruit kan was.
20 As hulle in die tent van samekoms gaan, moet hulle hul met water was, sodat
hulle nie sterwe nie; of as hulle naby die altaar kom om te dien deur ‘n
vuuroffer aan die HERE aan die brand te steek.
21 Hulle moet dan hul hande en hulle voete was, sodat hulle nie sterwe nie. En
dit moet vir hulle ‘n ewige insetting wees, vir hom en sy nageslag in hulle
geslagte.
22 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
23 En jy, neem vir jou van die beste speserye: vyf honderd sikkels fyn mirre en
die helfte soveel geurige kaneel, twee honderd en vyftig sikkels, en twee
honderd en vyftig sikkels geurige kalmoes
24 en vyf honderd sikkels kassie, volgens die sikkel van die heiligdom, en ‘n
hin olyfolie;
25 en maak daarvan heilige salfolie, ‘n salfmengsel soos ‘n salfmenger dit maak;
heilige salfolie moet dit wees.
26 Daarmee moet jy dan die tent van samekoms salf en die ark van die Getuienis
27 en die tafel met al sy gereedskap en die kandelaar met sy gereedskap en die
reukaltaar
28 en die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die waskom met sy voetstuk.
29 So moet jy hulle dan heilig, dat hulle hoogheilig kan wees. Elkeen wat aan
hulle raak, word heilig.
30 Jy moet ook Aäron en sy seuns salf en hulle heilig om vir My die priesteramp
te bedien.
31 En jy moet met die kinders van Israel spreek en sê: Dit moet vir My ‘n
heilige salfolie wees in julle geslagte.
32 Op geen mens se liggaam mag dit uitgegiet word nie; julle mag ook, na
dieselfde voorskrif, so iets nie maak nie: heilig is dit; heilig moet dit vir
julle wees.
33 Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan ‘n onbevoegde laat kom, moet uit
sy volksgenote uitgeroei word.
34 Verder het die HERE vir Moses gesê: Neem vir jou speserye: storaksgom en
naeltjies en gálbanum—speserye en ook suiwer wierook; alles in gelyke
hoeveelhede,
35 en maak daar reukwerk van, ‘n mengsel soos die salfmenger dit maak, met sout
gemeng, suiwer, heilig.
36 En vrywe ‘n gedeelte daarvan heeltemal fyn, en sit ‘n deel daarvan neer voor
die Getuienis in die tent van samekoms, waar Ek met jou sal saamkom; hoogheilig
moet dit vir julle wees.
37 En die reukwerk wat jy moet maak—na dieselfde voorskrif mag julle vir julle
nie maak nie; as iets heiligs aan die HERE moet dit vir jou wees.
38 Elkeen wat so iets maak om daaraan te ruik, moet uit sy volksgenote uitgeroei
word.
*~ Hoofstuk 31 ~*
1 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Kyk, Ek het Besáleël die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda,
by sy naam geroep;
3 en Ek het hom vervul met die Gees van God, met wysheid en verstand en kennis
en bekwaamheid vir allerhande werk,
4 om kunstige planne uit te dink, om dit uit te voer in goud en silwer en koper,
5 en deur snywerk in stene wat ingelê moet word, en deur houtsnywerk; om
werksaam te wees in allerhande werk.
6 En kyk, Ek het hom Ohóliab bygegee, die seun van Ahísamag, van die stam van
Dan. En in die hart van elkeen wat kunsvaardig is, het Ek wysheid gegee, dat
hulle alles wat ek jou beveel het, kan maak:
7 die tent van samekoms en die ark van die Getuienis en die versoendeksel wat
daarop moet wees, en alles wat behoort by die tent,
8 en die tafel met sy gereedskap en die suiwer kandelaar met al sy gereedskap en
die reukaltaar;
9 ook die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die waskom met sy voetstuk
10 en die kunstige klere en die heilige klere van die priester Aäron en die
klere van sy seuns, om die priesteramp te bedien;
11 ook die salfolie en die reukwerk van speserye vir die heiligdom—net soos Ek
jou beveel het, moet hulle dit maak.
12 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
13 Spreek jy met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte
onderhou, want dit is ‘n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die
mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig.
14 Onderhou dan die sabbat, want dit moet vir julle heilig wees. Hy wat dit
ontheilig, moet sekerlik gedood word; want elkeen wat daarop werk verrig, dié
siel moet uitgeroei word onder sy volksgenote uit.
15 Ses dae lank kan werk verrig word, maar op die sewende dag moet dit wees ‘n
dag van volkome rus, heilig aan die HERE. Elkeen wat op die sabbatdag werk doen,
moet sekerlik gedood word.
16 En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in
hulle geslagte as ‘n ewige verbond.
17 Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae
het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus
en Hom verkwik.
18 En Hy het aan Moses, toe Hy geëindig het om met hom te spreek op die berg
Sinai, die twee tafels van die Getuienis gegee, tafels van klip, beskrywe met
die vinger van God.
*~ Hoofstuk 32 ~*
1 Toe die volk sien dat Moses vertoef om van die berg af te kom, het die volk
rondom Aäron versamel en vir hom gesê: Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit
trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons
weet nie wat van hom geword het nie.
2 En Aäron sê vir hulle: Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue,
julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my.
3 Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na
Aäron gebring.
4 En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar ‘n
gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit
Egipteland laat optrek het.
5 Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor ‘n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en
gesê: Môre is daar fees tot eer van die HERE.
6 En hulle het die ander dag vroeg klaargemaak en brandoffers geoffer en
dankoffers aangebring; daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en
hulle het opgestaan om te speel.
7 Toe sê die HERE vir Moses: Gaan heen, klim af, want jou volk wat jy uit
Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel.
8 En hulle het gou van die weg afgewyk wat Ek hulle beveel het. Hulle het vir
hulle ‘n gegote kalf gemaak en daarvoor neergebuig en daaraan geoffer en gesê:
Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.
9 Verder het die HERE vir Moses gesê: Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is
‘n hardnekkige volk.
10 Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer.
Dan sal Ek jou tot ‘n groot nasie maak.
11 Maar Moses het die HERE sy God om genade gesmeek en gesê: Waarom, o HERE, sou
u toorn ontvlam teen u volk wat U met grote krag en met ‘n sterke hand uit
Egipteland uitgelei het?
12 Waarom sou die Egiptenaars spreek en sê: In kwaadwilligheid het Hy hulle
uitgelei om hulle in die berge om te bring en hulle van die aardbodem af te
vernietig? Wend U af van die gloed van u toorn, en laat dit U berou oor die
onheil van u volk.
13 Gedenk aan Abraham, Isak en Israel, u knegte, vir wie U by Uself gesweer en
aan wie U gesê het: Ek sal julle nageslag vermenigvuldig soos die sterre van die
hemel, en hierdie hele land waarvan Ek gespreek het, sal Ek aan julle nageslag
gee, dat hulle dit vir ewig kan beërwe.
14 Toe het dit die HERE berou oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy sy volk sou
aandoen.
15 En Moses het omgedraai en van die berg afgeklim, met die twee tafels van die
Getuienis in sy hand, tafels wat op altwee kante beskrywe was; hulle was op die
een en op die ander kant beskrywe.
16 En die tafels was die werk van God. Die skrif was ook die skrif van God, in
die tafels gegraveer.
17 En toe Josua die stem van die volk hoor hoe hulle juig, sê hy aan Moses: Daar
is oorlogsgeraas in die laer.
18 Maar hy antwoord: Dit is nie die geluid van die wat sing van oorwinning nie;
dit is ook nie die geluid van die wat sing van neerlaag nie: ek hoor die geluid
van beurtgesang.
19 En toe hy naby die laer kom en die kalf en koordanse sien, het die toorn van
Moses ontvlam, en hy het die tafels uit sy hande gegooi en hulle onder aan die
berg verbrysel.
20 En hy het die kalf geneem wat hulle gemaak het, en dit in die vuur verbrand
en dit fyn gemaal. Toe het hy dit op die water gestrooi en die kinders van
Israel dit laat drink.
21 En Moses het vir Aäron gesê: Wat het hierdie volk jou gedoen, dat jy so ‘n
groot sonde oor hulle gebring het?
22 Toe antwoord Aäron: Laat die toorn van my heer nie ontvlam nie. U self ken
die volk, dat hulle deur en deur sleg is.
23 Hulle het dan aan my gesê: Maak vir ons gode wat voor ons uit trek, want
hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat
van hom geword het nie.
24 Daarop het ek hulle geantwoord: Wie goud het, laat dié dit afruk! En hulle
het dit aan my gegee. En ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie kalf het
daaruit gekom.
25 Toe Moses sien dat die volk bandeloos was—want Aäron het hulle bandeloos laat
word tot leedvermaak onder hulle teëstanders—
26 het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vír die HERE is,
kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel.
27 En hy het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat elkeen
sy swaard aangord aan sy heup. Gaan heen en weer van poort tot poort in die laer,
en laat elkeen sy broer en elkeen sy vriend en elkeen sy naaste doodmaak.
28 En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het
van die volk op dié dag omtrent drie duisend man geval.
29 Toe het Moses gesê: Vul vandag julle hand om te offer aan die HERE—want
elkeen is teen sy seun en teen sy broer—sodat Hy vandag ‘n seën oor julle kan
gee.
30 En die volgende dag het Moses aan die volk gesê: Júlle het ‘n groot sonde
begaan; maar nou sal ek na die HERE opklim: miskien kan ek vir julle sonde
versoening doen.
31 En Moses het na die HERE teruggegaan en gesê: Ag, hierdie volk het ‘n groot
sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak.
32 Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar
uit u boek wat U geskryf het!
33 Toe het die HERE Moses geantwoord: Wie teen My gesondig het, dié sal Ek
uitdelg uit my boek.
34 Maar gaan nou en lei die volk waarheen Ek jou gesê het. Kyk, my engel sal
voor jou uit gaan. Maar die dag as Ek besoeking doen, dan sal Ek hulle sonde oor
hulle besoek.
35 So het die HERE dan die volk getref, omdat hulle die kalf gemaak het wat
Aäron vervaardig het.
*~ Hoofstuk 33 ~*
1 Verder het die HERE met Moses gespreek: Gaan heen, trek hiervandaan op, jy en
die volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, na die land wat Ek met ‘n eed
aan Abraham, Isak en Jakob beloof het, met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek
dit gee;
2 en Ek sal ‘n engel voor jou uit stuur—en die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete,
Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdrywe—
3 na ‘n land wat oorloop van melk en heuning; want Ek sal in jou midde nie
optrek nie, omdat jy ‘n hardnekkige volk is; anders sal jy op die weg verteer
word.
4 Toe die volk hierdie onheilspellende woord hoor, het hulle getreur; en niemand
het sy versiersels aangesit nie.
5 Die HERE het naamlik met Moses gespreek: Sê aan die kinders van Israel: Julle
is ‘n hardnekkige volk; as Ek vir een oomblik in jou midde sou optrek, sou Ek
jou vernietig. Maar haal nou jou versiersels van jou af, dan sal Ek weet wat Ek
met jou moet doen.
6 Toe het die kinders van Israel hulleself beroof van hul versiersels, van die
berg Horeb af.
7 En Moses het elke keer ‘n tent geneem en dit vir hom buitekant die laer
opgeslaan, ver van die laer af; en hy het dit genoem die tent van samekoms. En
elkeen wat die HERE wou raadpleeg, het uitgegaan na die tent van samekoms wat
buitekant die laer was.
8 En as Moses uitgaan na die tent, staan die hele volk op en gaan elkeen aan die
ingang van sy tent staan. Dan kyk hulle Moses agterna tot hy in die tent
ingegaan het.
9 En as Moses in die tent ingaan, kom die wolkkolom af en gaan by die ingang van
die tent staan, en dan spreek Hy met Moses.
10 En as die hele volk die wolkkolom sien staan by die ingang van die tent,
staan die hele volk op en buig, elkeen aan die ingang van sy tent.
11 Dan spreek die HERE met Moses van aangesig tot aangesig soos ‘n man met sy
vriend spreek. Daarna gaan hy na die laer terug; maar sy dienaar Josua, ‘n
jongman, die seun van Nun, het hom nie uit die tent verwyder nie.
12 Toe het Moses met die HERE gespreek: U sê nou wel aan my: Ek moet hierdie
volk laat optrek, maar U laat my nie weet wie U saam met my sal stuur nie,
hoewel U gesê het: Ek ken jou by die naam, en jy het ook genade in my oë gevind.
13 As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek
U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u
volk is.
14 En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?
15 Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan
optrek nie.
16 Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u
volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk,
onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is.
17 Toe sê die HERE aan Moses: Ook hierdie versoek wat jy uitgespreek het,
daaraan sal Ek voldoen; want jy het genade gevind in my oë, en Ek ken jou by die
naam.
18 Daarop vra hy: Laat my tog u heerlikheid sien.
19 Maar Hy antwoord: Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan en voor jou
die Naam van die HERE uitroep; maar Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig wil
wees, en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.
20 Verder het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My
sien en bly lewe nie.
21 Ook het die HERE gesê: Kyk, hier is ‘n plek by My waar jy op die rots kan
gaan staan.
22 En as my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in die skeur van die rots stel en
jou met my hand oordek totdat Ek verbygegaan het.
23 En as Ek my hand wegneem, sal jy My van agter sien; maar my aangesig kan nie
gesien word nie.
*~ Hoofstuk 34 ~*
1 Toe het die HERE aan Moses gesê: Kap vir jou twee kliptafels soos die eerstes;
dan sal Ek op die tafels die woorde skrywe wat op die eerste tafels was, wat jy
verbrysel het.
2 En hou jou gereed teen die môre, en klim in die môre op die berg Sinai en gaan
daar staan by My op die top van die berg.
3 Maar niemand mag saam met jou opklim nie; laat daar ook niemand op die hele
berg gesien word nie; laat ook geen kleinvee of beeste teen hierdie berg wei nie.
4 Toe het hy twee kliptafels gekap soos die eerstes, en Moses het die môre vroeg
klaargemaak en op die berg Sinai geklim, soos die HERE hom beveel het, en die
twee kliptafels in sy hand geneem.
5 En die HERE het neergedaal in die wolk en daar by hom gestaan. En Hy het die
Naam van die HERE uitgeroep.
6 En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en
genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou;
7 wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding
en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van
die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan
die vierde geslag.
8 Toe het Moses hom gou na die aarde toe gebuig en neergeval
9 en gesê: Here, as ek genade in u oë gevind het, laat dan tog die Here in ons
midde trek; want dit is ‘n hardnekkige volk; maar vergewe ons ongeregtigheid en
ons sonde, en neem ons aan as ‘n erfdeel.
10 Toe antwoord Hy: Kyk, Ek sluit ‘n verbond; voor jou hele volk sal Ek wonders
doen soos daar op die hele aarde en onder al die nasies nie geskape is nie,
sodat die hele volk onder wie jy is, die werk van die HERE kan sien. Want
verskriklik is dit wat Ek aan jou gaan doen.
11 Onderhou wat Ek jou vandag beveel. Kyk, Ek verdrywe voor jou uit die Amoriete,
Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.
12 Neem jou in ag dat jy geen verbond sluit met die inwoner van die land waarin
jy kom nie; sodat hy nie miskien ‘n strik by jou word nie.
13 Maar hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle
heilige boomstamme afkap.
14 Want jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die HERE se Naam is
Jaloers—’n jaloerse God is Hy.
15 Sluit tog nie ‘n verbond met die inwoner van die land nie! As hulle agter
hulle gode aan hoereer en aan hulle gode offer, sal hy jou uitnooi, en jy sal
van sy offer eet;
16 en jy sal van sy dogters neem vir jou seuns, en sy dogters sal agter hulle
gode aan hoereer en jou seuns agter hulle gode aan laat hoereer.
17 Jy mag vir jou geen gegote gode maak nie.
18 Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou; sewe dae lank moet jy
ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand
Abib; want in die maand Abib het jy uit Egipte uitgetrek.
19 Alles wat die moederskoot open, is myne; ook al jou vee wat manlik is, die
eerstelinge van beeste en kleinvee.
20 Maar die eersteling van ‘n esel moet jy met ‘n lam loskoop; en as jy dit nie
loskoop nie, moet jy sy nek breek. Al jou eersgebore seuns moet jy loskoop, en
niemand mag met leë hande voor my aangesig verskyn nie.
21 Ses dae moet jy arbei, maar op die sewende dag moet jy rus. In die ploegtyd
en in die oestyd moet jy rus.
22 Die fees van die weke moet jy ook hou, die fees van die eerstelinge van die
koring-oes; en die fees van die insameling by die wisseling van die jaar.
23 Al jou manspersone moet drie maal in die jaar voor die aangesig van die Here
HERE, die God van Israel, verskyn.
24 Want Ek sal nasies voor jou uitdrywe en jou grondgebied uitbrei, sodat
niemand jou land sal begeer nie terwyl jy opgaan om te verskyn voor die aangesig
van die HERE jou God, drie maal in die jaar.
25 Jy mag die bloed van my offer nie saam met gesuurde brood slag nie, en die
offer van die paasfees mag nie tot die môre toe oorbly nie.
26 Die beste van die eerstelinge van jou grond moet jy in die huis van die HERE
jou God bring. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.
27 Verder het die HERE vir Moses gesê: Skrywe vir jou hierdie woorde op, want
volgens hierdie woorde het Ek ‘n verbond gesluit met jou en met Israel.
28 En hy was daar by die HERE veertig dae en veertig nagte; hy het geen brood
geëet en geen water gedrink nie. En Hy het op die tafels die woorde van die
verbond, die tien woorde, geskrywe.
29 En toe Moses van die berg Sinai afdaal—die twee tafels van die Getuienis was
in die hand van Moses toe hy van die berg afdaal het Moses nie geweet dat die
vel van sy gesig blink omdat hy met Hom gespreek het nie.
30 En toe Aäron en al die kinders van Israel Moses sien, het die vel van sy
gesig geblink! Daarom was hulle bevrees om naby hom te kom.
31 Maar Moses het hulle geroep, en Aäron en al die owerstes in die vergadering
het na hom teruggekom; en Moses het met hulle gespreek.
32 En daarna het al die kinders van Israel nader gekom, en hy het hulle alles
beveel wat die HERE met hom gespreek het op die berg Sinai.
33 Toe Moses klaar met hulle gespreek het, het hy ‘n sluier oor sy gesig getrek.
34 Maar as Moses voor die aangesig van die HERE kom om met Hom te spreek, neem
hy die sluier weg, totdat hy uitgaan. As hy dan uitgaan en aan die kinders van
Israel meedeel wat hom beveel is,
35 sien die kinders van Israel die gesig van Moses, dat die vel van Moses se
gesig blink; daarop trek Moses dan weer die sluier oor sy gesig, totdat hy
ingaan om met Hom te spreek.