11
26 Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor—
27 die seën as julle luister na die gebooie van YAHUVEH julle God wat ek julle
vandag beveel;
28 en die vloek as julle nie luister na die gebooie van YAHUVEH julle God nie,
maar afwyk van die weg wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te
loop wat julle nie geken het nie.
29 As dan YAHUVEH jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in
besit te neem, moet jy die seën op die berg Gerísim lê en die vloek op die berg
Ebal.
30 Lê hulle nie oorkant die Jordaan, agter die pad in die weste, in die land van
die Kanaäniete wat in die Vlakte woon, teenoor Gilgal, by die terpentynbome van
More nie?
31 Want julle trek deur die Jordaan om die land in besit te gaan neem wat
YAHUVEH julle God aan julle sal gee; en julle sal dit in besit neem en daarin
woon.
32 Onderhou dan sorgvuldiglik al die insettinge en die verordeninge wat ek julle
vandag voorhou.
*~ Hoofstuk 12 ~*
1 Dit is die insettinge en die verordeninge wat julle sorgvuldig moet hou in die
land wat YAHUVEH, die God van jou vaders, jou gegee het om dit in besit te neem
al die dae wat julle op die aarde lewe.
2 Julle moet terdeë verniel al die plekke waar die nasies wat julle gaan
verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge en op die heuwels en onder elke
groen boom.
3 En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle
heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap
en hulle naam van dié plek laat verdwyn.
4 So mag julle nie doen met YAHUVEH julle God nie;
5 maar die plek wat YAHUVEH julle God uit al julle stamme sal uitkies om sy Naam
daar te vestig om daar te woon, moet julle opsoek en daarheen moet jy kom.
6 En daarheen moet julle jul brandoffers bring en julle slagoffers en julle
tiendes en die offergawe van julle hand en julle gelofte— en julle vrywillige
offers en die eersgeborenes van julle beeste en van julle kleinvee.
7 En daar moet julle voor die aangesig van YAHUVEH julle God eet en vrolik wees,
julle en jul huisgesinne, oor alles waar julle jul hand aan slaan, waarin
YAHUVEH jou God jou geseën het.
8 Julle moet nie doen net soos ons vandag hier doen nie—elkeen net maar wat reg
is in sy eie oë.
9 Want julle het nog nie gekom in die rusplek en in die erfenis wat YAHUVEH jou
God jou sal gee nie.
10 Maar julle sal deur die Jordaan trek en woon in die land wat YAHUVEH julle
God julle laat erwe, en Hy sal julle rus gee van al julle vyande rondom, en
julle sal veilig woon.
11 Dan moet julle na die plek wat YAHUVEH julle God sal uitkies om sy Naam daar
te laat woon, alles bring wat ek julle beveel: julle brandoffers en julle
slagoffers, julle tiendes en die offergawe van julle hand en al julle
keurgelofte-offers wat julle YAHUVEH sal belowe.
12 En julle moet vrolik wees voor die aangesig van YAHUVEH julle God, julle en
julle seuns en julle dogters en julle slawe en julle slavinne en die Leviet wat
in julle poorte is, want hy het geen deel of erfenis saam met julle nie.
13 Neem jou in ag dat jy jou brandoffers nie bring op elke plek wat jy sien nie.
14 Maar op die plek wat YAHUVEH in een van jou stamme sal uitkies, daar moet jy
jou brandoffers bring en daar alles doen wat ek jou beveel.
15 Maar na hartelus mag jy slag en vleis eet ooreenkomstig die seën van YAHUVEH
jou God wat Hy jou in al jou poorte gee; die onreine en die reine mag daarvan
eet, soos van die gemsbok en die takbok.
16 Net die bloed mag julle nie eet nie; jy moet dit soos water op die grond
uitgooi.
17 Jy mag in jou poorte nie eet die tiendes van jou koring en jou mos en jou
olie en die eersgeborenes van jou beeste en jou kleinvee en al jou gelofte-offers
wat jy sal belowe, en jou vrywillige offers en die offergawe van jou hand nie.
18 Maar jy moet dit eet voor die aangesig van YAHUVEH jou God op die plek wat
YAHUVEH jou God sal uitkies, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou
slavin en die Leviet wat in jou poorte is; en jy moet vrolik wees voor die
aangesig van YAHUVEH jou God oor alles waar jy jou hand aan slaan.
19 Neem jou in ag dat jy die Leviet nie aan sy lot oorlaat solank as jy in jou
land lewe nie.
20 As YAHUVEH jou God jou grondgebied uitbrei, soos Hy jou beloof het, en jy sê:
Ek wil vleis eet—omdat jy lus het om vleis te eet—dan mag jy na hartelus vleis
eet.
21 As die plek wat YAHUVEH jou God sal uitkies om sy Naam daar te vestig, ver
van jou af is, dan mag jy van jou beeste en jou kleinvee slag wat YAHUVEH jou
gee, soos ek jou beveel het; en jy mag na hartelus in jou poorte eet.
22 Maar soos die gemsbok en die takbok geëet word, so moet jy dit eet; die
onreine en die reine moet dit saam eet.
23 Bly daar net vas by dat jy die bloed nie eet nie, want die bloed is die siel,
en jy mag die siel nie saam met die vleis eet nie.
24 Jy mag dit nie eet nie; op die grond moet jy dit uitgooi soos water.
25 Jy mag dit nie eet nie, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan
as jy doen wat reg is in die oë van YAHUVEH.
26 Net jou heilige gawes wat jy het, en jou gelofte-offers moet jy neem en na
die plek kom wat YAHUVEH sal uitkies;
27 en jy moet jou brandoffers, die vleis en die bloed, berei op die altaar van
YAHUVEH jou God, en die bloed van jou slagoffers moet teen die altaar van
YAHUVEH jou God uitgegiet word; maar die vleis moet jy eet.
28 Luister sorgvuldig na al hierdie woorde wat ek jou beveel, dat dit met jou en
jou kinders ná jou goed kan gaan tot in ewigheid, as jy doen wat goed en reg is
in die oë van YAHUVEH jou God.
29 As YAHUVEH jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting
te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon,
30 neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle
voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het
hierdie nasies hulle gode gedien? —dat ek ook so kan doen.
31 So mag jy nie handel met YAHUVEH jou God nie; want alles wat vir YAHUVEH ‘n
gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns
en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode.
32 Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks
byvoeg en daar niks van weglaat nie.
*~ Hoofstuk 13 ~*
1 As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of
wonder aankondig,
2 en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons
agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien,
3 dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as
dromer optree nie; want YAHUVEH julle God beproef julle om te weet of julle
werklik YAHUVEH julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel.
4 Julle moet YAHUVEH julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy
stem luister en Hom dien en Hom aanhang.
5 Maar dié profeet of dié man wat as dromer optree, moet gedood word, want hy
het afval verkondig van YAHUVEH julle God wat julle uit Egipteland uitgelei en
jou uit die slawehuis verlos het, deur jou af te drywe van die weg wat YAHUVEH
jou God jou beveel het om daarop te wandel. So moet jy dan die kwaad uit jou
midde uitroei.
6 As jou broer, die seun van jou moeder, of jou seun of dogter of die vrou wat
jy liefhet, of jou vriend wat soos jou eie siel is, jou in die geheim verlok en
sê: Laat ons gaan en ander gode dien—wat jy en jou vaders nie geken het nie,
7 uit die gode van die volke wat rondom julle is, naby jou of ver van jou af;
van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde—
8 dan moet jy nie inwillig en na hom nie luister nie; ook mag jou oog hom nie
verskoon nie, en jy mag jou nie ontferm en niks om sy ontwil wegsteek nie,
9 maar jy moet hom sekerlik doodmaak; jou hand moet eerste teen hom wees om hom
dood te maak, en daarna die hand van die hele volk.
10 En jy moet hom stenig, dat hy sterwe; want hy het probeer om jou weg te drywe
van YAHUVEH jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.
11 En die hele Israel sal dit hoor en vrees, en hulle sal nie meer so ‘n
verkeerde ding by jou doen nie.
12 As jy in een van jou stede wat YAHUVEH jou God jou gee om daar te woon, hoor
sê:
13 Deugniete het by jou opgetree en die inwoners van hulle stad verlei deur te
sê: Laat ons gaan en ander gode dien—wat julle nie geken het nie—
14 dan moet jy terdeë ondersoek en naspeur en uitvra, en as dit waarheid is,
staan die saak vas, is hierdie gruwel by jou gedoen,
15 dan moet jy die inwoners van dié stad sekerlik verslaan met die skerpte van
die swaard deur dit met die banvloek te tref en alles wat daarin is, ook die vee,
met die skerpte van die swaard.
16 En al die buit daarvan moet jy op die stadsplein bymekaarbring en die stad en
al die buit as voloffer met vuur verbrand aan YAHUVEH jou God; en dit moet vir
ewig ‘n puinhoop wees, dit mag nie weer opgebou word nie.
17 Ook mag daar niks van wat bangoed is, aan jou hand bly kleef nie, sodat
YAHUVEH Hom van die gloed van sy toorn kan afwend en aan jou barmhartigheid kan
bewys en Hom oor jou ontferm en jou vermenigvuldig, soos Hy aan jou vaders met
‘n eed beloof het—
18 as jy luister na die stem van YAHUVEH jou God om al sy gebooie te hou wat ek
jou vandag beveel, deur te doen wat reg is in die oë van YAHUVEH jou God.
*~ Hoofstuk 14 ~*
1 Julle is kinders van YAHUVEH julle God; julle mag julle ter wille van ‘n dooie
nie stukkend kerwe of ‘n kaalte tussen julle oë maak nie.
2 Want jy is ‘n volk heilig aan YAHUVEH jou God, en jou het YAHUVEH uitverkies
om sy eiendomsvolk te wees uit al die volke wat op die aarde is.
3 Jy mag niks eet wat ‘n gruwel is nie.
4 Dit is die diere wat julle mag eet: ‘n bees, ‘n skaap en ‘n bok;
5 ‘n takbok en ‘n gemsbok en ‘n gestippelde takbok en ‘n steenbok en ‘n ribbok
en ‘n eland en ‘n klipspringer;
6 en al die diere wat gesplitste kloue het, en wel heeltemal in twee gesplitste
kloue, en herkou onder die diere—dié mag julle eet.
7 Maar die volgende mag julle nie eet nie van die wat herkou en van die wat die
gesplitste kloue het: die kameel en die haas en die das, want hulle herkou maar
het geen gesplitste kloue nie—onrein is hulle vir julle;
8 ook die vark, want hy het gesplitste kloue, maar is geen herkouer nie—onrein
is hy vir julle. Van hulle vleis mag julle nie eet en hulle aas mag julle nie
aanraak nie.
9 Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe
het, mag julle eet.
10 Maar alles wat geen vinne en skubbe het nie, mag julle nie eet nie—onrein is
dit vir julle.
11 Al die rein voëls mag julle eet.
12 Maar dit is wat julle uit hulle nie mag eet nie: die arend en die
lammervanger en die aasvoël;
13 en die kuikendief en die valk en die gier na sy soorte;
14 en elke kraai na sy soorte;
15 en die volstruis en die naguil en die seemeeu en die kleinvalk na sy soorte;
16 en die steenuil en die steunuil en die silweruil;
17 en die pelikaan en die kleinaasvoël en die visvanger;
18 en die groot-sprinkaanvoël en die reier na sy soorte, en die hoep-hoep en die
vlermuis.
19 En al die insekte met vlerke moet vir julle onrein wees; hulle mag nie geëet
word nie.
20 Al die rein voëls mag julle eet.
21 Julle mag geen aas eet nie; vir die vreemdeling wat in jou poorte is, kan jy
dit gee, dat hy dit eet, of jy kan dit aan ‘n uitlander verkoop; want jy is ‘n
heilige volk aan YAHUVEH jou God. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se
melk nie.
22 Jy moet noukeurig die hele opbrings van jou saad—wat jaar vir jaar uit die
land uitspruit—vertien.
23 En jy moet voor die aangesig van YAHUVEH jou God op die plek wat Hy sal
uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou
mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat
jy kan leer om YAHUVEH jou God altyd te vrees.
24 En as die pad vir jou te lank is, as jy dit nie kan vervoer nie, omdat die
plek wat YAHUVEH jou God sal uitkies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou
af is, as YAHUVEH jou God jou sal seën,
25 dan moet jy dit tot geld maak en die geld in jou hand bind en na die plek
gaan wat YAHUVEH jou God sal uitkies.
26 Dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en
kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy
moet daar eet voor die aangesig van YAHUVEH jou God en vrolik wees, jy en jou
huis.
27 Maar die Leviet wat in jou poorte is, hom moet jy nie aan sy lot oorlaat nie,
want hy het geen deel of erfenis saam met jou nie.
28 Aan die einde van drie jaar moet jy uitbring al die tiendes van jou opbrings
in dié jaar en dit in jou poorte wegsit;
29 dan moet die Leviet kom—omdat hy geen deel of erfenis saam met jou het nie—en
die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is, en hulle moet
eet en versadig word, sodat YAHUVEH jou God jou kan seën in al die werk van jou
hand wat jy doen.
*~ Hoofstuk 15 ~*
1 Aan die einde van sewe jaar moet jy ‘n kwytskelding laat plaasvind.
2 En dit is die saak van die kwytskelding: elke skuldeiser moet kwytskeld wat hy
aan sy naaste geleen het; hy moet sy naaste en sy broer nie aanmaan nie, want
tot eer van YAHUVEH is daar ‘n kwytskelding uitgeroep.
3 Die uitlander mag jy aanmaan; maar wat jy by jou broer het, moet jou hand
kwytskeld.
4 Maar daar moet geen arme by jou wees nie, want YAHUVEH sal jou ryklik seën in
die land wat YAHUVEH jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem;
5 as jy net goed luister na die stem van YAHUVEH jou God om sorgvuldig te hou al
hierdie gebooie wat ek jou vandag beveel.
6 Want YAHUVEH jou God seën jou soos Hy jou beloof het, sodat jy aan baie nasies
sal uitleen, maar self nie hoef te leen nie; en jy sal oor baie nasies heers,
maar oor jou sal hulle nie heers nie.
7 As daar by jou ‘n arme is, een uit jou broers, in een van jou poorte, in jou
land wat YAHUVEH jou God jou sal gee, dan moet jy jou hart nie verhard en jou
hand nie toehou vir jou arm broer nie.
8 Maar jy moet jou hand wyd oopmaak vir hom, en jy moet gewillig aan hom leen,
genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek.
9 Neem jou in ag, dat daar in jou hart geen slegte gedagte is nie, naamlik: Die
sewende jaar, die jaar van kwytskelding, is naby—en jou oog dan jou arm broer
skeef aankyk, en jy hom niks gee nie, en hy teen jou na YAHUVEH roep, en dit
sonde in jou word.
10 Jy moet aan hom gewillig gee, en jou hart moet nie bedroef wees as jy aan hom
gee nie; want ter wille hiervan sal YAHUVEH jou God jou seën in al jou werk en
in alles waar jy jou hand aan slaan.
11 Want die arme sal in die land nie ontbreek nie; daarom gee ek jou bevel en sê:
Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou
land.
12 As jou broer, ‘n Hebreeuse man of ‘n Hebreeuse vrou, hom aan jou verkoop,
moet hy jou ses jaar lank dien; maar in die sewende jaar moet jy hom as vryman
van jou laat weggaan.
13 En as jy hom as vryman van jou laat weggaan, moet jy hom nie met leë hande
laat weggaan nie.
14 Jy moet hom ‘n behoorlike voorraad saamgee van jou kleinvee en jou dorsvloer
en jou wyn pers; waarin YAHUVEH jou God jou geseën het, daarvan moet jy aan hom
gee.
15 En jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf in Egipteland was, en dat YAHUVEH jou
God jou verlos het; daarom beveel ek jou vandag hierdie saak.
16 Maar as hy vir jou sê: Ek wil nie van jou weggaan nie—aangesien hy jou en jou
huis liefhet, omdat dit vir hom goed was by jou—
17 dan moet jy ‘n els neem en dit deur sy oor en in die deur steek, sodat hy vir
altyd jou slaaf word; en ook met jou slavin moet jy net so doen.
18 Dit moet nie hard in jou oë wees as jy hom as vry man van jou laat weggaan
nie, want die dubbele loon van ‘n dagloner het hy vir jou ses jaar lank ingedien;
en YAHUVEH jou God sal jou seën in alles wat jy doen.
19 Al die eersgeborenes van die manlike geslag wat onder jou beeste en onder jou
kleinvee aankom, moet jy aan YAHUVEH jou God heilig; jy mag nie werk met die
eersgeborene van jou beeste, en die eersgeborene van jou kleinvee nie skeer nie.
20 Voor die aangesig van YAHUVEH jou God moet jy dit jaar vir jaar eet op die
plek wat YAHUVEH sal uitkies, jy en jou huis.
21 Maar as daar ‘n liggaamsgebrek aan is—lam of blind, enige lelike gebrek—dan
moet jy dit nie aan YAHUVEH jou God offer nie;
22 in jou poorte mag jy dit eet, die onreine en die reine saam, soos die gemsbok
en die takbok.
23 Net die bloed mag jy nie eet nie; jy moet dit op die grond uitgooi soos
water.
*~ Hoofstuk 16 ~*
1 Onderhou die maand Abib en hou pasga vir YAHUVEH jou God; want in die maand
Abib het YAHUVEH jou God jou in die nag uit Egipte uitgelei.
2 En jy moet vir YAHUVEH jou God as pasga kleinvee en beeste slag, op die plek
wat YAHUVEH sal uitkies om sy Naam daar te laat woon.
3 Jy mag geen gesuurde brood daarby eet nie; sewe dae lank moet jy ongesuurde
brode daarby eet, brood van ellende—want baie haastig het jy uit Egipteland
uitgetrek—sodat jy al die dae van jou lewe die dag van jou uittog uit Egipteland
in gedagtenis kan hou.
4 En daar mag by jou sewe dae lank geen suurdeeg in jou hele grondgebied gesien
word nie; ook mag niks van die vleis wat jy die eerste dag in die aand slag, tot
die môre toe oorbly nie.
5 Jy mag die pasga nie slag in een van jou poorte wat YAHUVEH jou God aan jou
gee nie.
6 Maar op die plek wat YAHUVEH jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon,
moet jy die pasga slag, in die aand teen sononder, op die tyd van jou uittog uit
Egipte.
7 Dan moet jy dit kook en eet op die plek wat YAHUVEH jou God sal uitkies;
daarna moet jy in die môre omdraai en na jou tente gaan.
8 Ses dae lank moet jy ongesuurde brode eet, en op die sewende dag is daar ‘n
feestyd vir YAHUVEH jou God; dan mag jy geen werk doen nie.
9 Sewe weke moet jy tel; vandat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan
geslaan word, moet jy sewe weke begin tel.
10 Dan moet jy die fees van die weke hou vir YAHUVEH jou God ooreenkomstig die
vrywillige offer van jou hand wat jy sal gee, namate YAHUVEH jou God jou sal
seën.
11 En jy moet vrolik wees voor die aangesig van YAHUVEH jou God, jy en jou seun
en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is, en
die vreemdeling en die wees en die weduwee wat by jou is, op die plek wat
YAHUVEH jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon.
12 En jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf in Egipte was; en jy moet hierdie
insettinge sorgvuldig hou.
13 Die huttefees moet jy sewe dae lank hou as jy van jou dorsvloer en jou
wynpers insameling hou.
14 En jy moet vrolik wees op jou fees, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf
en jou slavin en die Leviet en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in
jou poorte is.
15 Sewe dae lank moet jy vir YAHUVEH jou God fees hou op die plek wat YAHUVEH
sal uitkies; want YAHUVEH jou God sal jou seën in al jou inkomste en in al die
werk van jou hande; en jy moet net maar vrolik wees.
16 Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van YAHUVEH jou God
verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en
op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande
voor die aangesig van YAHUVEH verskyn nie;
17 elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van YAHUVEH jou
God wat Hy jou gegee het.