Shabbat Shalom!
Welkom by Shemot / Name
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Jesaja 27:6-28:13;

27

6 In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak.
7 Het Hy hom geslaan met die slag wat sy teëstander getref het? Of is hy gedood met ‘n slagting soos die wat deur Hom gedood is?
8 Met mate het U met hom afgereken toe U hom verstoot het; Hy het hom verdrywe met sy geweldige wind op die dag van die oostewind.
9 Daarom sal hiermee die skuld van Jakob versoen word, en dit is die volle vrug van die wegneming van sy sonde: as hy al die altaarklippe maak soos verbryselde kalkklippe, die heilige boomstamme en die sonpilare nie meer oprys nie.
10 Want die versterkte stad is eensaam, ‘n woning wat ontvolk en verlate is soos die woestyn; daar wei kalwers en daar lê hulle, en hulle eet sy takke af.
11 As sy takke verdor het, word hulle afgebreek; vroue kom en steek dit aan die brand; want dit is ‘n volk sonder verstand. Daarom sal hulle Maker Hom nie oor hulle ontferm nie en sal hulle Formeerder aan hulle geen genade bewys nie.
12 En in dié dag sal die HERE vrugte afslaan, van die stroom van die Eufraat af tot by die spruit van Egipte, en júlle sal ingesamel word, een vir een, o kinders van Israel!
13 En in dié dag sal daar met ‘n groot basuin geblaas word; dan sal kom die wat verlore is in die land Assur en die wat verdryf is in Egipteland, en hulle sal die HERE aanbid op die heilige berg in Jerusalem.

*~ Hoofstuk 28 ~*

1 Wee die trotse kroon van die dronkaards van Efraim, en wee die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal van hulle wat deur die wyn verslaan is.
2 Kyk, die Here het een wat sterk en magtig is, soos ‘n haelstorm, ‘n storm vol verwoesting, soos ‘n stortbui van geweldige, oorlopende waters wat teen die grond gooi met krag.
3 Met voete sal vertrap word die trotse kroon van die dronkaards van Efraim;
4 en die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal, sal wees soos ‘n voorvy voor die vrugte-oes: iemand sien dit skaars of, terwyl dit nog in sy hand is, sluk hy dit weg.
5 In dié dag sal die HERE van die leërskare wees tot ‘n sierlike kroon en ‘n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk,
6 en tot ‘n gees van strafgerig vir hom wat sit oor die gereg, en tot ‘n sterkte vir hulle wat die geveg terugdring na die poort toe.
7 En ook die manne hier wankel deur die wyn en waggel deur sterk drank; priester en profeet wankel deur sterk drank, hulle is verward van die wyn, hulle waggel van sterk drank, hulle wankel as hulle gesigte sien, hulle waggel by die regspraak.
8 Want al die tafels is vol walglike uitbraaksel, sodat daar geen plek is nie.
9 Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is?
10 Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie.
11 Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur ‘n vreemde tong met hierdie volk spreek,
12 Hy wat aan hulle gesê het: Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie.
13 Daarom sal die woord van die HERE vir hulle wees gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie, sodat hulle kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word.

*~ Hoofstuk 29 ~*


22 Daarom, so sê die HERE tot die huis van Jakob, Hy wat Abraham verlos het: Jakob sal nou nie meer beskaamd staan nie, en nou sal sy aangesig nie meer bleek word nie;
23 want as hy, as sy kinders die werk van my hande in sy midde sien, sal hulle my Naam heilig; ja, hulle sal die Heilige van Jakob heilig en vir die God van Israel met ontsag vervul wees;

Matteus 2:1-12

1 En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom
2 en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.
3 En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom;
4 en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word.
5 En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe:
6 En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.
7 Toe het Herodes die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van die ster se verskyning uitgevra;
8 en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys.
9 En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was.
10 En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug.
11 En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre.
12 En omdat hulle in ‘n droom ‘n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad na hul land teruggegaan.