Shabbat Shalom!
Welkom by Shemini / Agtste
- hierdie week se profetiese leeswerk.


2 Samuel 6:1–7:17;

6

1 Daarna het Dawid weer al die uitgesoektes in Israel, dertig duisend, versamel;
2 en Dawid het hom klaargemaak en met al die mense opgetrek wat by hom was, van Báäle-Juda, om die ark van God, waaroor die Naam uitgeroep is, die Naam van die HERE van die leërskare wat op die gérubs troon, daarvandaan te gaan haal.
3 En hulle het die ark van God op ‘n nuwe wa vervoer en dit uit die huis van Abinádab, wat op die heuwel is, gebring. Terwyl Ussa en Agjo, die seuns van Abinádab, die wa drywe,
4 met die ark van God, het Agjo voor die ark geloop.
5 En Dawid en die hele huis van Israel het voor die aangesig van die HERE gespeel met allerhande instrumente van sipreshout, naamlik met siters en harpe en tamboeryne, en bekkens en simbale.
6 En toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit vasgehou, want die osse het gestruikel.
7 Daarop het die toorn van die HERE teen Ussa ontvlam, en God het hom daar getref oor dié vergryp, sodat hy daar by die ark van God gesterf het.
8 En Dawid het ontroerd geword, omdat die HERE ‘n skeur aan Ussa geskeur het; daarom het hy daardie plek genoem Peres-Ussa, tot vandag toe.
9 En Dawid het daardie dag vir die HERE bevrees geword en gesê: Hoe kan die ark van die HERE na my kom?
10 Daarom wou Dawid nie die ark van die HERE by hom in die stad van Dawid laat inkom nie, maar Dawid het dit na die huis van Obed-Edom, die Gittiet, laat wegdraai.
11 En die ark van die HERE het drie maande lank in die huis van Obed-Edom, die Gittiet, gebly, en die HERE het Obed-Edom en sy hele huis geseën.
12 En toe aan koning Dawid meegedeel is: Die HERE het die huis van Obed-Edom en alles wat aan hom behoort, geseën ter wille van die ark van God, het Dawid gegaan en die ark van God met vreugde uit die huis van Obed-Edom na die stad van Dawid gebring.
13 En toe die draers van die ark van die HERE ses treë geloop het, het hy ‘n bees en ‘n vetgemaakte kalf geoffer.
14 Daarby het Dawid met alle mag gedans voor die aangesig van die HERE; en Dawid was omgord met ‘n linneskouerkleed.
15 So het Dawid en die hele huis van Israel dan die ark van die HERE met gejuig en basuingeklank opgehaal.
16 Toe die ark van die HERE die stad van Dawid inkom, kyk Migal, die dogter van Saul, juis deur die venster en sien koning Dawid huppel en dans voor die aangesig van die HERE; en sy het hom in haar hart verag.
17 Nadat hulle dan die ark van die HERE ingebring en dit op sy plek neergesit het binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het, het Dawid brandoffers en dankoffers gebring voor die aangesig van die HERE.
18 Toe Dawid gereed was met die brandoffer en dankoffers, het hy die volk in die Naam van die HERE van die leërskare geseën
19 en aan die hele volk, die hele menigte van Israel, manne sowel as vroue, aan elkeen een broodkoek en een stuk vleis en een rosynekoek uitgedeel. Daarop het die hele volk elkeen na sy huis gegaan.
20 Toe Dawid terugkom om sy huisgesin te seën, het Migal, die dogter van Saul, Dawid tegemoetgegaan en gesê: Hoe het die koning van Israel homself vandag geëer, dat hy homself vandag voor die oë van die slavinne van sy dienaars ontbloot het soos een van die ligsinnige mense hom somaar ontbloot!
21 Maar Dawid sê vir Migal: Voor die aangesig van die HERE wat my verkies het bo jou vader en bo sy hele huis, deur my as vors aan te stel oor die volk van die HERE, oor Israel—ja, voor die aangesig van die HERE sal ek vrolik wees!
22 En ek sal my nog geringer ag as dit—ek sal nederig wees in my eie oë en met die slavinne van wie jy gepraat het, met hulle sal ek myself eer.
23 En Migal, die dogter van Saul, het tot die dag van haar dood geen kind gehad nie.

*~ Hoofstuk 7 ~*


1 En terwyl die koning in sy huis woon, nadat die HERE hom rus gegee het van al sy vyande rondom,
2 sê die koning vir die profeet Natan: Kyk tog, ék woon in ‘n huis van sederhout, maar die ark van God woon binnekant ‘n tentdoek.
3 Toe sê Natan aan die koning: Gaan heen, doen alles wat in u hart is, want die HERE is met u.
4 Maar in dieselfde nag kom die woord van die HERE tot Natan en sê:
5 Gaan sê aan my kneg, aan Dawid: So spreek die HERE: Sou jy vir My ‘n huis bou om in te woon?
6 Ek het tog in geen huis gewoon van die dag af dat Ek die kinders van Israel uit Egipte laat optrek het tot vandag toe nie; maar Ek het rondgetrek in ‘n tentwoning.
7 Oral waar Ek onder al die kinders van Israel rondgetrek het, het Ek ooit ‘n woord gespreek met een van die stamme van Israel, wat Ek aangestel het om my volk Israel op te pas, en gesê: Waarom bou julle nie vir My ‘n huis van sederhout nie?
8 So moet jy dan nou aan my kneg, aan Dawid, sê: So spreek die HERE van die leërskare: Ek self het jou geneem uit die weiveld agter die skape weg, om ‘n vors te wees oor my volk, oor Israel;
9 en Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en het al jou vyande voor jou uitgeroei; en Ek sal vir jou ‘n groot naam maak soos die naam van die grotes wat op die aarde is;
10 en Ek sal vir my volk Israel ‘n plek bestel en hom plant, dat hy op sy eie plek kan woon en nie langer verontrus word nie. En kwaaddoeners sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie,
11 naamlik van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. Maar Ek sal jou rus gee van al jou vyande; en die HERE gee jou te kenne dat die HERE vir jou ‘n huis sal stig.
12 As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig.
13 Hy sal vir my Naam ‘n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid.
14 Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ‘n menslike roede en met slae van mensekinders.
15 Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het.
16 En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.
17 Volgens al hierdie woorde en volgens hierdie hele gesig, so het Natan met Dawid gespreek.

Markus 9:1–13


1 En Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God met krag sien kom het nie.
2 En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle alleen op ‘n hoë berg in die eensaamheid geneem; en Hy het voor hulle van gedaante verander,
3 en sy klere het blink geword, baie wit soos sneeu, wit soos geen bleiker op aarde dit kan maak nie.
4 En daar het aan hulle verskyn Elía saam met Moses, en hulle was in gesprek met Jesus.
5 Toe spreek Petrus en sê vir Jesus: Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons dan drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en vir Elía een.
6 Want hy het nie geweet wat om te sê nie, want hulle was heeltemal verskrik.
7 En daar kom ‘n wolk wat hulle oordek; en uit die wolk kom ‘n stem wat sê: Dit is my geliefde Seun, luister na Hom!
8 En meteens kyk hulle rond en sien niemand meer by hulle nie, behalwe Jesus alleen.
9 En onderwyl hulle van die berg afklim, gee Hy aan hulle bevel om aan niemand te vertel wat hulle gesien het voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie.
10 En hulle het die woord vir hulleself gehou en onder mekaar gevra wat dit beteken om uit die dode op te staan.
11 En hulle vra Hom en sê: Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elía eers moet kom?
12 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Dis waar, Elía kom eers om alles te herstel; en tog, hoe staan daar dan van die Seun van die mens geskrywe dat Hy baie moet ly en verag word?
13 Maar Ek sê vir julle dat Elía al gekom het, en hulle het aan hom gedoen alles wat hulle wou, soos van hom geskrywe is.