31
1 Daarna het Moses gegaan en die hele Israel met hierdie woorde toegespreek
2 en vir hulle gesê: Ek is vandag honderd en-twintig jaar oud; ek kan nie meer
uit— en ingaan nie, en die HERE het vir my gesê: Jy mag deur hierdie Jordaan nie
gaan nie.
3 Die HERE jou God, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit
verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor
soos die HERE gespreek het.
4 En die HERE sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van
die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het;
5 die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en
al volgens die gebod wat ek julle beveel het.
6 Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie;
want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of
verlaat nie.
7 Toe het Moses Josua geroep en aan hom voor die oë van die hele Israel gesê:
Wees sterk en vol moed, want jy sal met hierdie volk in die land ingaan wat die
HERE aan hulle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee; en jy sal hulle
dit laat erwe.
8 En dit is die HERE wat voor jou uit trek; Hy sal met jou wees; Hy sal jou nie
begewe of verlaat nie; jy mag nie bevrees of verskrik wees nie.
9 En Moses het hierdie wet opgeskrywe en dit gegee aan die priesters, die seuns
van Levi, wat die verbondsark van die HERE gedra het, en aan al die oudstes van
Israel.
10 En Moses het aan hulle bevel gegee en gesê: Aan die einde van sewe jaar, op
die bepaalde tyd van die jaar van kwytskelding, op die huttefees,
11 as die hele Israel kom om te verskyn voor die aangesig van die HERE jou God
op die plek wat Hy sal uitkies, moet jy hierdie wet voor die hele Israel, voor
hulle ore lees.
12 Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou
vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om
die HERE julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou.
13 En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet hoor en leer om die HERE julle God
te vrees al die dae wat julle lewe in die land waarheen julle deur die Jordaan
trek om dit in besit te neem.
14 En die HERE het vir Moses gesê: Kyk, jou dae kom nader dat jy moet sterwe;
roep Josua, en gaan julle in die tent van samekoms staan, dat Ek aan hom bevel
kan gee. Toe het Moses en Josua gegaan en in die tent van samekoms gaan staan.
15 En die HERE het in die tent in ‘n wolkkolom verskyn terwyl die wolkkolom by
die ingang van die tent bly staan het.
16 Toe sê die HERE vir Moses: Kyk, jy ontslaap met jou vaders, en hierdie volk
sal opstaan, en hulle sal die vreemde gode van die land waarheen hulle gaan, in
sy midde agternahoereer en My verlaat en my verbond verbreek wat Ek met hulle
gemaak het.
17 Dan sal my toorn op dié dag teen hulle ontvlam, en Ek sal hulle verlaat en my
aangesig vir hulle verberg, sodat hulle verteer word en baie onheile en node
hulle oorkom. Dan sal hulle op dié dag sê: Het hierdie onheile ons nie oorgekom,
omdat onse God nie onder ons is nie?
18 Maar Ek sal op dié dag my aangesig heeltemal verberg weens al die kwaad wat
hulle gedoen het; want hulle het na ander gode afgewyk.
19 Skryf dan nou vir julle hierdie lied op, en leer dit aan die kinders van
Israel; lê dit in hulle mond, dat hierdie lied vir My ‘n getuie teen die kinders
van Israel kan wees.
20 Want Ek sal hulle inbring in die land wat Ek aan hulle vaders met ‘n eed
beloof het, wat oorloop van melk en heuning, en hulle sal eet en versadig en vet
word; dan sal hulle afwyk na ander gode en dié dien, en hulle sal My verag en my
verbond verbreek.
21 En as dan baie onheile en node oor hulle kom, dan sal hierdie lied in hulle
aangesig as getuie antwoord—want dit sal uit die mond van hulle nageslag nie
vergeet wees nie—want Ek ken hulle gedagtes wat hulle vandag koester voordat Ek
hulle inbring in die land wat Ek met ‘n eed beloof het.
22 Toe het Moses hierdie lied op dié dag opgeskrywe en dit aan die kinders van
Israel geleer.
23 En Hy het aan Josua, die seun van Nun, bevel gegee en gesê: Wees sterk en vol
moed, want jy sal die kinders van Israel inbring in die land wat Ek hulle met ‘n
eed beloof het; en Ek sal met jou wees.
24 En toe Moses die woorde van hierdie wet klaar in ‘n boek geskryf het tot die
einde toe,
25 het Moses aan die Leviete wat die verbondsark van die HERE gedra het, bevel
gegee en gesê:
26 Neem hierdie wetboek en sit dit neer aan die kant van die verbondsark van die
HERE julle God, dat dit daar as getuie teen jou kan wees.
27 Want ék ken jou wederstrewigheid en jou hardnekkigheid. As julle, terwyl ek
nog vandag by julle lewe, wederstrewig was teen die HERE—hoeveel te meer dan ná
my dood!
28 Laat al die oudstes van julle stamme en julle opsigters by my vergader, dat
ek voor hulle ore hierdie woorde kan spreek, en teen hulle die hemel en die
aarde as getuies kan neem.
29 Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk
van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van
die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die HERE
om Hom deur die werk van julle hande te terg.
30 Toe het Moses voor die ore van die hele vergadering van Israel die woorde van
hierdie lied tot die einde toe uitgespreek.