11
14 Toe sê Samuel aan die volk: Kom, laat ons na Gilgal gaan en daar die
koningskap vernuwe.
15 En die hele volk het na Gilgal getrek en daar Saul voor die aangesig van die
HERE in Gilgal koning gemaak; en hulle het daar dankoffers voor die aangesig van
die HERE geslag, en Saul met al die manne van Israel was daar uitermate vrolik.
*~ Hoofstuk 12 ~*
1 Toe sê Samuel aan die hele Israel: Kyk, ek het na julle geluister in alles wat
julle aan my gesê het, en ‘n koning oor julle aangestel.
2 En kyk nou, die koning sal voor julle uit wandel, en ek het oud en grys geword,
en my seuns is hier by julle. En ek het voor julle uit gewandel van my jeug af
tot vandag toe.
3 Hier is ek; getuig teen my voor die HERE en voor sy gesalfde: wie se bees ek
geneem het, en wie se esel ek geneem het, en wie ek verdruk of hard behandel
het; en uit wie se hand ek omkoopgeld aangeneem het om my oë daarmee toe te
maak—dan sal ek dit aan julle teruggee.
4 En hulle antwoord: U het ons nie verdruk of ons hard behandel nie en uit
niemand se hand iets aangeneem nie.
5 Daarop sê hy vir hulle: Die HERE is getuie teen julle, en getuie is sy
gesalfde vandag, dat julle niks in my hand gevind het nie. En hulle roep: Hy is
getuie.
6 Verder het Samuel aan die volk gesê: Getuie is die HERE wat Moses en Aäron
voortgebring en julle vaders uit Egipteland laat optrek het.
7 Gaan staan dan nou, dat ek met julle gerig kan hou voor die aangesig van die
HERE oor al die regverdige dade van die HERE wat Hy aan julle en julle vaders
gedoen het.
8 Nadat Jakob in Egipte gekom en julle vaders die HERE aangeroep het, het die
HERE Moses en Aäron gestuur; en hulle het julle vaders uit Egipte gelei, en Hy
het hulle op hierdie plek laat woon.
9 Maar hulle het die HERE hul God vergeet; daarom het Hy hulle verkoop in die
hand van Sísera, die leërowerste van Hasor, en in die hand van die Filistyne en
in die hand van die koning van Moab—wat teen hulle geveg het.
10 Toe het hulle die HERE aangeroep en gesê: Ons het gesondig, want ons het die
HERE verlaat en die Baäls en Astartes gedien; maar red ons nou uit die hand van
ons vyande, dan sal ons U dien.
11 En die HERE het Jerúbbaäl en Bedan en Jefta en Samuel gestuur en julle uit
die hand van jul vyande rondom gered, sodat julle veilig gewoon het.
12 Maar toe julle sien dat Nahas, die koning van die kinders van Ammon, teen
julle aankom, het julle aan my gesê: Nee, maar ‘n koning moet oor ons regeer,
terwyl die HERE julle God tog jul koning is.
13 Hier is dan nou die koning wat julle uitgekies het, wat julle begeer het, en
kyk, die HERE het ‘n koning oor julle aangestel.
14 As julle maar die HERE vrees en Hom dien en na sy stem luister en nie
wederstrewig is teen die mond van die HERE nie en julle self sowel as die koning
wat oor julle regeer, die HERE julle God maar volg!
15 Maar as julle nie na die stem van die HERE luister nie en wederstrewig is
teen die mond van die HERE, dan sal die hand van die HERE teen julle wees soos
teen julle vaders.
16 Gaan dus staan, en kyk na hierdie groot saak wat die HERE voor julle oë gaan
doen.
17 Is dit nie koringoestyd vandag nie? Ek sal die HERE aanroep, dat Hy
donderslae en reën gee: weet dan en sien dit in dat julle kwaad groot is wat
julle in die oë van die HERE gedoen het deur ‘n koning vir julle te begeer.
18 Toe het Samuel die HERE aangeroep, en die HERE het donderslae en reën op dié
dag gegee, sodat die hele volk baie bevrees geword het vir die HERE en vir
Samuel.
19 Daarom het die hele volk vir Samuel gesê: Bid tot die HERE u God vir u knegte,
dat ons nie sterf nie, omdat ons by al ons sondes nog kwaad gedoen het deur ‘n
koning vir ons te begeer.
20 Toe sê Samuel vir die volk: Wees nie bevrees nie. Julle het al hierdie kwaad
gedoen; maar wyk nie van die HERE af nie, en dien die HERE met julle hele hart.
21 En julle mag nie afwyk nie, want dan gaan julle agter nietige afgode aan wat
nie kan help of red nie, omdat hulle nietighede is.
22 Want die HERE sal sy volk ter wille van sy grote Naam nie verwerp nie, omdat
dit die HERE behaag het om van julle vir Hom ‘n volk te maak.
Johannes 19:1-17
1 Toe neem Pilatus dan vir Jesus en laat Hom gésel.
2 En die soldate het ‘n kroon van dorings gevleg en dit op sy hoof gesit, en ‘n
purper kleed om Hom gewerp
3 en gesê: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle het Hom in die aangesig
geslaan.
4 Pilatus gaan toe weer buitentoe en sê vir hulle: Kyk, ek bring Hom vir julle
uit buitentoe, sodat julle kan weet dat ek in Hom geen skuld vind nie.
5 En Jesus het uitgekom buitentoe en die doringkroon en die purperkleed gedra.
En Pilatus sê vir hulle: Dáár is die mens!
6 En toe die owerpriesters en die dienaars Hom sien, skreeu hulle en sê: Kruisig,
kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en kruisig Hom, want ek vind
geen skuld in Hom nie.
7 Die Jode antwoord hom: Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat
Hy Homself die Seun van God gemaak het.
8 En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy nog meer bevrees geword
9 en weer in die paleis ingegaan en vir Jesus gesê: Van waar is U? Maar Jesus
het hom geen antwoord gegee nie.
10 En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U
te kruisig en mag het om U los te laat nie?
11 Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.
Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.
12 Hierop het Pilatus probeer om Hom los te laat, maar die Jode het geskreeu en
gesê: As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself
koning maak, kom in verset teen die keiser.
13 En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en op die
regterstoel gaan sit in die plek wat Plaveisel genoem word, en in Hebreeus
Gábbata.
14 En dit was die voorbereiding vir die pasga en omtrent die sesde uur. Toe sê
hy vir die Jode: Dáár is julle Koning!
15 Maar hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle:
Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning
behalwe die keiser nie.
16 Toe het hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het
Jesus geneem en Hom weggelei.
17 En Hy het sy kruis gedra en uitgegaan na die sogenaamde Hoofskedelplek, in
Hebreeus Gólgota,