45
16 Al die mense van die land moet deel hê aan hierdie offergawe vir die vors
in Israel.
17 En op die vors rus die verpligting van die brandoffers en die spysoffer en
die drankoffer op die feeste en op die nuwemane en op die sabbatte, op al die
feestye van die huis van Israel; hy moet die sondoffer en die spysoffer en die
brandoffer en die dankoffers berei, om versoening te doen vir die huis van
Israel.
18 So sê die Here HERE: In die eerste maand, op die eerste van die maand, moet
jy ‘n jong bul sonder gebrek neem en die heiligdom ontsondig.
19 En die priester moet van die bloed van die sondoffer neem en dit aan die
deurposte van die huis stryk en aan die vier hoeke van die omlysting van die
altaar en aan die deurposte van die poort van die binneste voorhof.
20 So moet jy ook doen op die sewende in die maand ter wille van die wat hulle
uit swakheid of uit onwetendheid misgaan het; so moet julle dan vir die huis
versoening doen.
21 In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, moet vir julle die
pasga wees; op die sewedaagse fees moet ongesuurde brode geëet word.
22 En die vors moet op dié dag vir homself en vir die hele volk van die land ‘n
sondofferbul berei.
23 En die sewe dae van die fees moet hy daagliks as brandoffer aan die HERE
gereedmaak sewe bulle en sewe ramme sonder gebrek, gedurende die sewe dae, en
daagliks ‘n bokram as sondoffer.
24 Ook moet hy as spysoffer berei ‘n efa vir ‘n bul en ‘n efa vir ‘n ram en ‘n
hin olie vir ‘n efa.
25 In die sewende maand, op die vyftiende dag van die maand, moet hy op die fees
dieselfde offers gereedmaak gedurende die sewe dae: dieselfde sondoffer,
dieselfde brandoffer en dieselfde spysoffer en dieselfde olie.
*~ Hoofstuk 46 ~*
1 So sê die Here HERE: Die poort van die binneste voorhof wat na die ooste kyk,
moet gedurende die ses werkdae gesluit wees; maar op die sabbatdag moet dit
oopgemaak word; ook moet dit op die dag van die nuwemaan oopgemaak word.
2 En die vors moet deur die voorportaal van die poort van buite af ingaan en by
die deurpos van die poort gaan staan, en die priesters moet sy brandoffer en sy
dankoffers berei; en hy moet aanbid by die drumpel van die poort en dan uitgaan;
maar die poort moet nie gesluit word tot die aand toe nie.
3 Ook moet die volk van die land aanbid voor die ingang van dié poort, op die
sabbatte en op die nuwemane, voor die aangesig van die HERE.
4 En die brandoffer wat die vors aan die HERE moet bring op die sabbatdag, is
ses lammers sonder gebrek en ‘n ram sonder gebrek;
5 en die spysoffer: ‘n efa vir die ram; maar vir die lammers moet die spysoffer
wees wat sy hand kan gee; en ‘n hin olie vir ‘n efa.
6 Maar op die dag van die nuwemaan: ‘n jong bul sonder gebrek en ses lammers en
‘n ram—sonder gebrek moet hulle wees;
7 en as spysoffer moet hy gereedmaak: ‘n efa vir die bul en ‘n efa vir die ram,
maar vir die lammers volgens wat hy kan bekostig; en ‘n hin olie vir ‘n efa.
8 En as die vors ingaan, moet hy deur die voorportaal van die poort ingaan en
met dieselfde weg weer uitgaan.
9 Maar as die volk van die land voor die aangesig van die HERE kom op die
feestye, moet hy wat deur die noordpoort ingaan om te aanbid, deur die suidpoort
uitgaan; en hy wat deur die suidpoort ingaan, moet deur die noordpoort uitgaan;
hy mag nie teruggaan deur die poort waardeur hy ingegaan het nie, maar moet
reguit vorentoe uitgaan.
10 En die vors moet tussen hulle ingaan as hulle ingaan; en as hulle uitgaan,
moet hy saam uitgaan.
11 Verder moet op die feeste en op die feestye die spysoffer wees: ‘n efa vir ‘n
bul en ‘n efa vir ‘n ram, maar vir die lammers, wat sy hand kan gee; en ‘n hin
olie vir ‘n efa.
12 En as die vors ‘n vrywillige offer gereedmaak, ‘n brandoffer of dankoffers as
vrywillige offer aan die HERE, dan moet hulle vir hom die poort oopmaak wat na
die ooste kyk; en hy moet sy brandoffer en sy dankoffers berei soos hy op die
sabbatdag doen; en as hy uitgaan, moet hulle die poort sluit nadat hy uitgegaan
het.
13 Verder moet jy ‘n jaaroud lam sonder gebrek daagliks berei as brandoffer aan
die HERE; elke môre moet jy dit berei.
14 En jy moet elke môre daarby as spysoffer gereedmaak: ‘n sesde van ‘n efa en
‘n derde van ‘n hin olie om die fynmeel te bevogtig, as spysoffer aan die HERE—ewige
insettinge, altyddeur.
15 So moet hulle dan die lam en die spysoffer en die olie elke môre berei as ‘n
voortdurende brandoffer.
16 So sê die Here HERE: As die vors aan een van sy seuns ‘n geskenk gee van sy
erfdeel, dan moet dit vir sy seuns wees: dit is hulle besitting as erfenis.
17 Maar as hy van sy erfdeel ‘n geskenk aan een van sy dienaars gee, dan sal dit
syne wees tot by die jaar van vrylating; dan moet dit aan die vors terugval; net
vir sy seuns moet sy erfdeel wees.
18 En die vors mag niks neem van die erfdeel van die volk om hulle uit hul
besitting te verdring nie; van sy besitting moet hy aan sy seuns ‘n erfdeel gee,
sodat my volk nie verstrooi word elkeen uit sy besitting nie.
Johannes 13:1-19
1 En voor die fees van die pasga het Jesus, omdat Hy wis dat sy uur gekom het
dat Hy uit hierdie wêreld sou oorgaan na die Vader, en omdat Hy sy eie mense in
die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe.
2 En gedurende die maaltyd—die duiwel het dit al in die hart van Judas Iskáriot,
die seun van Simon, ingegee om Hom te verraai—
3 het Jesus, omdat Hy wis dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy
van God uitgegaan het en na God heengaan,
4 van die maaltyd opgestaan en sy bo-klere uitgetrek en ‘n doek geneem en dit om
Hom vasgemaak.
5 Daarna het Hy water in ‘n bak gegooi en die voete van die dissipels begin was
en afdroog met die doek wat Hy omgehad het.
6 Hy kom toe by Simon Petrus en dié sê vir Hom: Here, gaan U my voete was?
7 Jesus antwoord en sê vir hom: Wat Ek doen, begryp jy nou nie, maar jy sal dit
hierna verstaan.
8 Petrus sê vir Hom: U sal my voete in der ewigheid nie was nie! Jesus antwoord
hom: As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie.
9 Simon Petrus sê vir Hom: Here, nie net my voete nie, maar ook die hande en die
hoof.
10 Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te
was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie.
11 Want Hy het geweet wie Hom sou verraai. Daarom het Hy gesê: Julle is nie
almal rein nie.
12 Toe Hy dan hulle voete gewas en sy bo-klere geneem het, gaan Hy weer aan
tafel en sê vir hulle: Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het?
13 Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit.
14 As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook
verplig om mekaar se voete te was.
15 Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het,
ook so te doen.
16 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie,
en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie.
17 As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.
18 Ek spreek nie van julle almal nie—Ek weet wie Ek uitverkies het—maar dat die
Skrif vervul kan word: Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My
opgelig.
19 Van nou af sê Ek dit aan julle voordat dit gebeur, sodat wanneer dit gebeur,
julle kan glo dat dit Ek is.
Lukas 16:1-13
1 En Hy het ook aan sy dissipels gesê: Daar was ‘n ryk man wat ‘n bestuurder
gehad het; en hy is by hom aangeklaag as een wat sy besittings verkwis.
2 En hy het hom geroep en vir hom gesê: Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee
verslag van jou bestuur van sake; want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie.
3 Toe sê die bestuurder by homself: Wat sal ek doen? Want my heer neem die
bestuurderskap van my weg. Spit kan ek nie; om te bedel, skaam ek my.
4 Ek weet wat ek sal doen, sodat wanneer ek van die bestuurderskap afgesit is,
hulle my in hulle huise kan ontvang.
5 Toe roep hy die skuldenaars van sy heer, een vir een, en sê vir die eerste:
Hoeveel skuld jy aan my heer?
6 En hy antwoord: honderd vat olie. En hy sê vir hom: Neem jou skuldbewys, gaan
sit en skryf gou vyftig.
7 Daarna sê hy vir ‘n ander een: En jy, hoeveel skuld jy? En hy antwoord:
honderd mud koring. Toe sê hy vir hom: Neem jou skuldbewys en skryf tagtig.
8 En die heer het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy verstandig
gehandel het; want die kinders van hierdie wêreld is verstandiger teenoor hulle
geslag as die kinders van die lig.
9 En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat
wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.
10 Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat
onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig.
11 As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die
ware goed toevertrou?
12 En as julle nie getrou was in ‘n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie
gee?
13 Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die
ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God
én Mammon dien nie.