Shabbat Shalom!
Welkom by Vayetzei / En Hy Het Weggegaan
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Hosea 12:12-14:10;

12

12 (12:13) En Jakob het gevlug na die veld van Aram, en Israel was diensbaar vir ‘n vrou as loon, en vir ‘n vrou het hy vee opgepas.
13 (12:14) Maar deur ‘n profeet het die HERE Israel uit Egipte laat optrek, en deur ‘n profeet is hulle opgepas.
14 (12:15) Efraim het die HERE bitterlik geterg; daarom sal Hy sy bloedskulde op hom laat neerkom, ja, sy Here sal hom vir die aangedane smaad vergelde.

*~ Hoofstuk 13 ~*


1 As Efraim net gespreek het, was daar siddering; hoog het hy gestaan in Israel. Maar hy het hom skuldig gemaak deur die Baäl en gesterwe.
2 En nou gaan hulle voort om te sondig en het vir hulle ‘n gegote beeld van hulle silwer gemaak, afgode volgens hulle insig, geheel en al smidswerk; van hulle word gesê: Die mense wat offer, vereer kalwers met kusse!
3 Daarom sal hulle wees soos ‘n môrewolk en soos dou wat vroeg weer verdwyn, soos kaf wat wegvlieg van die dorsvloer en soos rook uit die venster.
4 Tog was Ek, die HERE, jou God van Egipteland af, en buiten My het jy geen God geken nie, ja, behalwe My is daar geen Heiland nie.
5 Ek het jou in die woestyn geken, in die land van droogtes.
6 Ooreenkomstig hulle weiveld het hulle versadig geword; toe hulle versadig was, het hulle hart hoogmoedig geword; daarom het hulle My vergeet.
7 Toe het Ek vir hulle soos ‘n leeu geword, soos ‘n luiperd lê Ek by die pad en loer.
8 Ek val hulle aan soos ‘n beer wat van kleintjies beroof is, en Ek skeur hulle borskas oop; en soos ‘n leeuin verslind Ek hulle daar, die wilde diere van die veld sal hulle verskeur.
9 Dit is jou verderf, o Israel, dat jy teen My, jou helper, is.
10 Waar is nou jou koning, dat hy jou kan verlos in al jou stede, en jou regters van wie jy gesê het: Gee my ‘n koning en vorste?
11 Ek gee jou ‘n koning in my toorn, en Ek neem hom weg in my grimmigheid.
12 Saamgebind is die ongeregtigheid van Efraim, weggebêre is sy sonde.
13 Barensweë sal hom oorval, hy is ‘n onverstandige kind; want as die tyd daar is, stel hy hom nie in die kindergeboorte nie.
14 Uit die mag van die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood. Dood, waar is jou pestilensies? Doderyk, waar is jou verderf? Berou bly vir my oë verborge.
15 Wanneer hy vrug dra onder die broers, kom ‘n oostewind, ‘n wind van die HERE, wat uit die woestyn opkom; dan droog sy fontein op en sy bron dor uit. Dié sal ‘n skat van allerhande kosbare voorwerpe roof.
16 (14:1) Samaría sal daarvoor boet, omdat hy weerspannig was teen sy God; hulle sal val deur die swaard, hulle kinders sal verpletter en hulle swanger vroue oopgesny word.

*~ Hoofstuk 14 ~*


1 Bekeer jou, Israel, tot die HERE jou God, want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid.
2 (14:3) Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die HERE; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied.
3 (14:4) Assur kan ons nie red nie, op perde wil ons nie ry nie en tot die werk van ons hande nie meer sê: Onse God nie! Want by U vind die wees ontferming.
4 (14:5) Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend.
5 (14:6) Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan soos die Líbanon.
6 (14:7) Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos dié van ‘n olyfboom en sy geur soos die Líbanon.
7 (14:8) Die wat onder sy skaduwee sit, sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok; die roem daarvan sal wees soos die wyn van die Líbanon.
8 (14:9) Efraim, wat het Ek nog met die afgode te doen? Ek het hom verhoor en hou my oog oor hom. Ek is soos ‘n groen sipres; uit My word jou vrug gevind.
9 (14:10) Wie wys is, laat hom op hierdie dinge let! Wie verstandig is, laat hom dit erken! Want die weë van die HERE is reg; en die regverdiges sal daarop wandel, maar die oortreders daarop struikel!

Johannes 1:41-51;


41 (1:42) Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messías gevind—dit is, as dit vertaal word, die Christus.
42 (1:43) En hy het hom na YAHUSHUA gelei. Toe kyk YAHUSHUA hom aan en sê: Jy is Simon, die seun van Jona; jy sal genoem word Céfas, wat vertaal word Petrus.
43 (1:44) Die volgende dag wou YAHUSHUA na Galiléa vertrek; en Hy het Filippus gekry en vir hom gesê: Volg My.
44 (1:45) En Filippus was van Betsáida, uit die stad van Andréas en Petrus.
45 (1:46) Filippus het Natánael gekry en vir hom gesê: Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: YAHUSHUA , die seun van Josef van Násaret.
46 (1:47) En Natánael sê vir hom: Kan daar uit Násaret iets goeds wees? Filippus antwoord hom: Kom kyk.
47 (1:48) Daarop sien YAHUSHUA Natánael na Hom toe kom en sê van hom: Hier is waarlik ‘n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.
48 (1:49) Natánael sê vir Hom: Waarvandaan ken U my? YAHUSHUA antwoord en sê vir hom: Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.
49 (1:50) Natánael antwoord en sê vir Hom: Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel!
50 (1:51) YAHUSHUA antwoord en sê vir hom: Glo jy omdat Ek vir jou gesê het: Ek het jou onder die vyeboom gesien? Jy sal groter dinge sien as dit.
51 (1:52) En Hy sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.