Shabbat Shalom!
Ha’azinu / Luister
- hierdie week se profetiese leeswerk.


2 Samuel 22:1-51;

22

1 En Dawid het die woorde van hierdie lied tot die HERE gespreek op die dag toe die HERE hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul.
2 En hy het gesê: Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder;
3 God is my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting en my toevlug, my verlosser; van geweld het U my verlos.
4 Ek roep die HERE aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos.
5 Want die golwe van die dood het my omring, strome van onheil het my oorval.
6 Bande van die doderyk het my omring, strikke van die dood het my teëgekom.
7 Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het geroep tot my God; en uit sy paleis het Hy my stem gehoor, en my hulpgeroep was in sy ore.
8 Toe het die aarde geskud en gebewe, die fondamente van die hemel het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was.
9 Rook in sy neus het opgegaan, en ‘n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom het gebrand.
10 En Hy het die hemel gebuig en neergedaal, en wolkedonkerheid was onder sy voete.
11 En Hy het op ‘n gérub gery en gevlieg; ja, Hy het verskyn op die vlerke van die wind.
12 En Hy het duisternis rondom Hom as hutte gestel, versameling van waters, diktes van wolke.
13 Uit die glans voor Hom het gloeiende kole gebrand.
14 Uit die hemel het die HERE gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor.
15 En Hy het pyle uitgestuur en hulle verstrooi, bliksems en hulle verwar.
16 En die beddings van die see het sigbaar geword, die fondamente van die wêreld is blootgelê, deur die dreiging van die HERE, vanweë die geblaas van die wind van sy neus.
17 Uit die hoogte het Hy sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, my uit groot waters getrek.
18 Hy het my verlos van my magtige vyand, van my haters, omdat hulle te sterk was vir my.
19 Hulle het my oorval op die dag van my nood, maar die HERE was my steun.
20 En Hy het my uitgelei in die ruimte, Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het.
21 Die HERE het met my gehandel na my geregtigheid; na die reinheid van my hande het Hy my vergelde.
22 Want ek het die weë van die HERE gehou en nie goddeloos van my God afgewyk nie.
23 Want al sy verordeninge was voor my, en sy insettinge—daar het ek nie van afgewyk nie.
24 Maar ek was opreg voor Hom, en ek was op my hoede vir my ongeregtigheid.
25 So het die HERE my dan vergelde na my geregtigheid, na my reinheid voor sy oë.
26 By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg,
27 by die reine, rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.
28 En U verlos die verdrukte volk, maar u oë is teen die hoogmoediges; U verneder hulle.
29 Want U is my lamp, o HERE! En die HERE laat my duisternis opklaar.
30 Want met U loop ek ‘n bende storm, met my God spring ek oor ‘n muur.
31 Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy is ‘n skild vir almal wat by Hom skuil.
32 Want wie is God buiten die HERE, en wie ‘n rots buiten onse God?
33 Die God wat my sterk toevlug is, en Hy het vir my ‘n weg volkomelik uitgesoek.
34 Hy maak my voete soos dié van herte en laat my staan op my hoogtes.
35 Hy leer my hande om oorlog te voer, sodat my arms ‘n koperboog span.
36 En U het my die skild van u uitredding gegee, en u neerbuigende goedheid het my groot gemaak.
37 U het my voetstap onder my ruim gemaak, en my enkels het nie gewankel nie.
38 Ek het my vyande agtervolg en hulle verdelg en nie teruggekom voordat ek hulle vernietig het nie.
39 Ja, ek het hulle vernietig en hulle verbrysel, sodat hulle nie weer opgestaan het nie, maar onder my voete geval het.
40 En U het my met krag omgord vir die stryd, U het my teëstanders onder my laat buk.
41 En U het my vyande vir my laat vlug; my haters, dié het ek vernietig.
42 Hulle het rondgekyk, maar daar was geen verlosser nie; na die HERE, maar Hy het hulle nie geantwoord nie.
43 Toe het ek hulle vermaal soos die stof van die aarde, soos modder van die strate het ek hulle fyngemaal, hulle vertrap.
44 En U het my gered uit die getwis van my volk; U het my bewaar as ‘n hoof van nasies; ‘n volk wat ek nie geken het nie, het my gedien.
45 Uitlanders het al kruipende na my gekom; sodra hulle van my gehoor het, was hulle gehoorsaam aan my.
46 Uitlanders word kragteloos en kom met siddering uit hulle vestings.
47 Die HERE leef! En geloofd sy my rots, en laat verhoog wees die God wat die rots is van my heil!
48 Die God wat my die wraak gee en volke onder my neerwerp;
49 en wat my uitlei onder my vyande uit; ja, U verhef my bo my teëstanders, U bevry my van die man van geweld.
50 Daarom wil ek U loof, o HERE, onder die nasies, en tot eer van u Naam wil ek psalmsing;
51 Hy is dit wat die verlossing van sy koning groot maak en goedertierenheid bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en aan sy nageslag tot in ewigheid.

Romeine 11:1–36;

1 Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook ‘n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.
2 God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif in die gedeelte oor Elía sê nie? hoe hy by God optree teen Israel en sê:
3 Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe!
4 Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself sewe duisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie.
5 Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.
6 En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.
7 Wat dan? Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard.
8 Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.
9 En Dawid sê: Laat hulle tafel vir hulle wees ‘n vangnet en ‘n strik en ‘n struikelblok en ‘n vergelding.
10 Laat hulle oë duister word om nie te sien nie, en buig hulle rug vir altyd krom.
11 Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak.
12 En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!
13 Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek ‘n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening
14 as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red!
15 Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode?
16 En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook.
17 En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat ‘n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom,
18 moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou.
19 Jy sal dan sê: Die takke is afgebreek, sodat ek ingeënt kon word.
20 Goed! Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees.
21 Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie.
22 Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word.
23 Maar ook hulle sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word; want God is magtig om hulle weer in te ent.
24 Want as jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was, en teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat dit van nature is, op hul eie olyfboom ingeënt word?
25 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;
26 en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;
27 en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.
28 Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders.
29 Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.
30 Want soos julle ook vroeër aan God ongehoorsaam was, maar nou barmhartigheid ontvang het deur hulle ongehoorsaamheid,
31 so het hulle ook nou ongehoorsaam geword deur die barmhartigheid aan julle, sodat hulle ook barmhartigheid kan ontvang.
32 Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal barmhartig te kan wees.
33 o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!
34 Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?
35 Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?
36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.