Shabbat Shalom!
Chukat / Statuut of Graad
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Rigters 11:1-33

11

1 En Jefta, die Gileadiet, was ‘n dapper held, maar hy was die seun van ‘n hoer; en Gílead was die vader van Jefta.
2 En toe die vrou van Gílead vir hom seuns baar, en die seuns van die vrou groot word, het hulle Jefta weggejaag en vir hom gesê: Jy mag in ons familie nie erwe nie, want jy is die seun van ‘n ander vrou.
3 Daarop vlug Jefta van sy broers af weg en hy gaan woon in die land Tob; en ligsinnige manne het by Jefta aangesluit en saam met hom uitgetrek.
4 En ‘n tyd daarna het die kinders van Ammon oorlog gevoer teen Israel.
5 Maar toe die kinders van Ammon oorlog voer teen Israel, het die oudstes van Gílead Jefta gaan haal uit die land Tob;
6 en hulle het vir Jefta gesê: Kom en wees ons aanvoerder, dat ons kan veg teen die kinders van Ammon.
7 Maar Jefta antwoord die oudstes van Gílead: Het julle my nie gehaat en my uit my vader se huis weggejaag nie? Waarom kom julle dan nou na my, nou dat julle in die benoudheid sit?
8 Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Daarom kom ons nou na jou terug, dat jy met ons kan saamtrek en teen die kinders van Ammon veg, en dat jy ons hoof kan wees oor al die inwoners van Gílead.
9 Daarop antwoord Jefta die oudstes van Gílead: As julle my laat terugkom om teen die kinders van Ammon te veg en die HERE hulle aan my oorgee, dan moet ek julle hoof word.
10 Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Die HERE sal hoorder wees tussen ons. Waarlik, soos jy gesê het, so sal ons doen.
11 So het Jefta dan met die oudstes van Gílead saamgegaan, en die volk het hom as hoof en aanvoerder oor hulle aangestel, en Jefta het al sy woorde voor die aangesig van die HERE in Mispa gespreek.
12 Toe stuur Jefta boodskappers na die koning van die kinders van Ammon om te vra: Wat het ek met u te doen, dat u na my kom om teen my land te veg?
13 En die koning van die kinders van Ammon sê aan die boodskappers van Jefta: Israel het my land geneem toe hy opgetrek het uit Egipte, van die Arnon af tot by die Jabbok en tot by die Jordaan; gee dit dan nou in vrede terug.
14 En Jefta het nog weer boodskappers gestuur na die koning van die kinders van Ammon
15 en vir hom gesê: So sê Jefta: Israel het die land Moab en die land van die kinders van Ammon nie geneem nie.
16 Want Israel het toe hy uit Egipte opgetrek het, deur die woestyn gegaan tot by die Skelfsee en het by Kades gekom.
17 En Israel het boodskappers gestuur na die koning van Edom om te sê: Laat my tog deur u land trek; maar die koning van Edom het geen gehoor gegee nie; en na die koning van Moab het hy gestuur, maar hy wou ook nie. Daarom het Israel in Kades gebly.
18 Verder het hy deur die woestyn gegaan en om die land Edom en die land Moab getrek en gekom aan die oostekant van die land Moab; en hulle het laer opgeslaan oorkant die Arnon, maar nie in die gebied van Moab ingekom nie, want die Arnon is die grens van Moab.
19 Daarop het Israel boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete, die koning van Hesbon, en Israel het vir hom gesê: Laat ons tog deur u land trek na my plek toe.
20 Maar Sihon het Israel nie vertrou om deur sy gebied te trek nie, en Sihon het al sy manskappe versamel, en hulle het laer opgeslaan in Jahas en teen Israel geveg.
21 Maar die HERE, die God van Israel, het Sihon en sy hele volk in die hand van Israel gegee, en dié het hulle verslaan; sodat Israel die hele land van die Amoriete, die inwoners van daardie land, in besit geneem het.
22 En hulle het die hele grondgebied van die Amoriete, van die Arnon af tot by die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaan, in besit geneem.
23 So het die HERE, die God van Israel, dan die Amoriete voor sy volk Israel uit verdrywe, en wil u dit in besit neem?
24 Sal u dit nie in besit neem wat u god Kamos u as ‘n besitting gee, en óns alles wat die HERE onse God voor ons uit verdrywe, in besit neem nie?
25 En is u nou soveel beter as Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab? Het hy ooit met Israel getwis, of ooit teen hulle geveg?
26 Terwyl Israel in Hesbon met sy onderhorige plekke en in Aroër met sy onderhorige plekke en in al die stede wat langs die Arnon lê, drie honderd jaar lank gewoon het, waarom het julle dit dan nie in dié tyd ontset nie?
27 So het ék dan nie teen u gesondig nie, maar ú handel so sleg met my om teen my oorlog te voer. Mag die HERE, die Regter, vandag oordeel tussen die kinders van Israel en die kinders van Ammon!
28 Maar die koning van die kinders van Ammon het nie geluister na die woorde van Jefta wat hy hom laat weet het nie.
29 Toe het die Gees van die HERE op Jefta gekom, en hy het oorgetrek na Gílead en Manasse en verder deur na Mispe in Gílead; en van Mispe in Gílead het hy deurgetrek na die kinders van Ammon.
30 En Jefta het aan die HERE ‘n gelofte gedoen en gesê: As U werklik die kinders van Ammon in my hand gee,
31 dan sal wat uitkom, wat uit die deure van my huis uitkom my tegemoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die HERE behoort, en ek sal dit as ‘n brandoffer bring.
32 Daarop het Jefta deurgetrek na die kinders van Ammon om teen hulle te veg, en die HERE het hulle in sy hand gegee.
33 En hy het hulle verslaan van Aroër af in die rigting na Minnit, twintig stede, en tot by Abel-Kerámim—’n baie groot slag; sodat die kinders van Ammon verneder is voor die kinders van Israel.

Hebreeus 9:1–28

1 So het dan die eerste verbond sowel verordeninge vir die erediens asook sy aardse heiligdom gehad.
2 Want die tabernakel is so ingerig: die eerste, waarin die kandelaar was en die tafel en die toonbrode, wat die Heilige genoem word;
3 en agter die tweede voorhangsel die tabernakel wat genoem word die Allerheiligste,
4 waarin ‘n goue wierookbak was en die ark van die verbond, rondom heeltemal met goud oortrek, waarin die goue kruik met die manna was en die staf van Aäron wat gebloei het, en die tafels van die verbond;
5 en daar bo-op die gérubs van die heerlikheid wat die versoendeksel oorskadu het, waaroor nie nou afsonderlik gespreek kan word nie.
6 En nadat hierdie dinge so ingerig was, het die priesters wel gedurig in die eerste tabernakel ingegaan om die dienste te vervul,
7 maar in die tweede die hoëpriester alleen, een maal in die jaar, nie sonder bloed nie, wat hy offer vir homself en vir die sondes van die volk uit onwetendheid begaan—
8 waarmee die Heilige Gees dít duidelik maak, dat die weg na die heiligdom nog nie geopen is so lank as die eerste tabernakel nog standhou nie.
9 Dit was ‘n beeld met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en offers gebring word, wat hom wat die diens verrig, na die gewete nie volkome kan maak nie,
10 omdat dit net bestaan het in spys en drank en verskillende wassinge en vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling.
11 Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie,
12 ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.
13 Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees,
14 hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.
15 En daarom is Hy Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.
16 Want waar ‘n testament is, moet noodsaaklik die dood van die testamentmaker aangekondig word;
17 want ‘n testament is geldig by sterfgevalle, aangesien dit nooit van krag is so lank as die testamentmaker nog leef nie.
18 Daarom is ook die eerste testament nie sonder bloed ingewy nie;
19 want toe elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk aangekondig is, het hy die bloed van die kalwers en bokke saam met water en skarlakenrooi wol en hisop geneem en die boek self en die hele volk besprinkel
20 en gesê: Dit is die bloed van die testament wat God met die oog op julle verorden het.
21 En hy het ook die tabernakel en al die gereedskap van die diens net so met die bloed besprinkel.
22 En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.
23 Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.
24 Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn;
25 ook nie om Homself dikwels te offer, soos die hoëpriester elke jaar in die heiligdom ingaan met bloed wat nie sy eie is nie,
26 want dan moes Hy dikwels gely het van die grondlegging van die wêreld af. Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen.
27 En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel,
28 so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.