3
23 Ook het ek die HERE in dié tyd gesmeek en gesê:
24 Here, HERE! U het begin om u kneg u grootheid en u sterke hand te laat sien;
want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke
magtige dade kan doen soos U?
25 Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie
goeie bergland en die Líbanon!
26 Maar die HERE het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie;
maar die HERE het vir my gesê: Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor
hierdie saak spreek nie.
27 Klim op die top van Pisga en slaan jou oë op na die weste en na die noorde en
na die suide en na die ooste, en bekyk dit met jou oë; want jy mag oor hierdie
Jordaan nie gaan nie.
28 Gee dan bevel aan Josua, en versterk hom en bemoedig hom, want hy sal voor
hierdie volk uit deurtrek, en hy sal hulle die land wat jy sal sien, laat erwe.
29 En ons het in die dal teenoor Bet-Peor gebly.
*~ Hoofstuk 4 ~*
1 Luister dan nou, Israel, na die insettinge en die verordeninge wat ek julle
leer om te doen, sodat julle mag lewe en inkom en die land wat die HERE, die God
van julle vaders, aan julle sal gee, in besit mag neem.
2 Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar
niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag
onderhou, wat ek julle beveel.
3 Julle oë het gesien wat die HERE weens Baäl-Peor gedoen het; want al die manne
wat agter Baäl-Peor aan geloop het, dié het die HERE jou God onder jou uit
verdelg.
4 Julle daarenteen wat die HERE julle God aangehang het, is vandag nog almal in
die lewe.
5 Kyk, ek het julle insettinge en verordeninge geleer soos die HERE my God my
beveel het, om so te handel in die land waarheen julle gaan om dit in besit te
neem.
6 Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor
die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie
groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk.
7 Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse
God so dikwels as ons Hom aanroep?
8 En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge
het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?
9 Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet
wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou
lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak:
10 die dag dat jy voor die aangesig van die HERE jou God by Horeb gestaan het,
toe die HERE aan my gesê het: Vergader die volk vir My, en Ek sal hulle my
woorde laat hoor, dat hulle kan leer om My te vrees al die dae wat hulle op die
aarde lewe, en dit aan hulle kinders kan leer.
11 Toe het julle nader gekom en onder aan die berg gaan staan; en die berg het
met vuur gebrand tot in die middel van die hemel, met duisternis, wolke en
wolkedonkerheid.
12 En die HERE het met julle uit die vuur gespreek; julle het ‘n stem van woorde
gehoor, maar geen verskyning gesien nie—net ‘n stem was daar.
13 Toe het Hy aan julle sy verbond verkondig wat Hy julle beveel het om te doen,
die tien woorde, en dit op twee kliptafels geskrywe.
14 Ook het die HERE my in dié tyd bevel gegee om julle die insettinge en
verordeninge te leer, dat julle dit kan doen in die land waarheen julle oortrek
om dit in besit te neem.
15 Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele—want julle het géén
verskyning gesien op die dag dat die HERE by Horeb uit die vuur met julle
gespreek het nie—
16 sodat julle nie verderflik handel deurdat julle vir julle ‘n gesnede beeld,
‘n gelykenis van enige afgodsbeeld, maak nie: ‘n afbeelding van man of vrou,
17 ‘n afbeelding van enige dier wat op die aarde is, ‘n afbeelding van enige
gevleuelde voël wat in die lug vlieg,
18 ‘n afbeelding van enigiets wat op die aarde kruip, ‘n afbeelding van enige
vis wat in die water onder die aarde is;
19 dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan, en as jy die son sien en die maan
en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle
neerbuig en hulle dien nie—dinge wat die HERE jou God aan al die volke onder die
hele hemel uitgedeel het.
20 Maar die HERE het julle geneem en julle uit die yster-smeltoond, uit Egipte,
uitgelei om sy erfvolk te wees soos dit vandag is.
21 Ook was die HERE toornig op my om julle ontwil, en Hy het gesweer dat ek oor
die Jordaan nie sal gaan en nie sal kom in die goeie land wat die HERE jou God
jou as erfenis sal gee nie.
22 Want ek sal in hierdie land sterwe, ek sal oor die Jordaan nie gaan nie; maar
julle sal oorgaan en daardie goeie land in besit neem.
23 Neem julle in ag dat julle die verbond van die HERE julle God, wat Hy met
julle gesluit het, nie vergeet en vir julle geen gesnede beeld maak nie—’n
gelykenis van enigiets wat die HERE jou God jou verbied het.
24 Want die HERE jou God is ‘n verterende vuur, ‘n jaloerse God.
25 As jy kinders en kindskinders sal verwek en julle in die land verouderd sal
wees en verderflik handel deurdat julle ‘n gesnede beeld maak, ‘n gelykenis van
enigiets, en doen u wat verkeerd is in die oë van die HERE jou God om Hom te
terg,
26 dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle
sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit
in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik
verdelg word.
27 En die HERE sal julle onder die volke verstrooi, en ‘n klein klompie van
julle sal onder die nasies oorbly waarheen die HERE julle sal drywe.
28 En daar sal julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie
sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie.
29 Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou
hele hart en jou hele siel soek.
30 As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou
kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister.
31 Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou
nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle
besweer het, nie vergeet nie.
32 Want doen tog ondersoek na die vorige dae wat voor jou gewees het, van die
dag af dat God mense op die aarde geskape het, en van die een einde van die
hemel tot by die ander einde van die hemel, of so iets groots gebeur het of iets
dergeliks gehoor is.
33 Het ‘n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jy gehoor het, en
in die lewe gebly?
34 Of het ‘n god probeer om vir hom ‘n nasie uit ‘n ander nasie te gaan neem
deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur ‘n sterke hand
en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die HERE julle God
met julle voor jou oë in Egipte gedoen het?
35 Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die HERE God is; daar is
geen ander buiten Hom nie.
36 Uit die hemel het Hy jou sy stem laat hoor om jou te onderrig; en op die
aarde het Hy jou sy groot vuur laat sien, en jy het sy woorde uit die vuur
gehoor.
37 En omdat Hy jou vaders liefgehad en hulle nageslag na hulle uitverkies het,
en Hy self jou deur sy grote krag uit Egipte uitgelei het,
38 om nasies groter en magtiger as jy voor jou uit te verdrywe en jou in te
bring om hulle land aan jou as erfenis te gee soos dit vandag is—
39 daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat die HERE God is, bo in die
hemel en onder op die aarde; daar is geen ander nie.
40 En jy moet sy insettinge en sy gebooie hou wat ek jou vandag beveel, dat dit
met jou en jou kinders ná jou goed mag gaan, en dat jy die dae mag verleng in
die land wat die HERE jou God jou vir altyd sal gee.
41 Toe het Moses drie stede afgesonder oos van die Jordaan, teen sonop,
42 sodat hy wat ‘n doodslag begaan het, daarheen kon vlug, wat sy naaste sonder
opset doodgeslaan het, terwyl hy hom van gister en eergister af nie vyandig was
nie; sodat hy in een van hierdie stede kan vlug en in die lewe bly.
43 Beser in die woestyn, in die landstreek van die gelykveld, vir die Rubeniete;
en Ramot in Gílead vir die Gadiete; en Golan in Basan vir die Manassiete.
44 En dit is die wet wat Moses die kinders van Israel voorgehou het.
45 Dit is die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat Moses
meegedeel het aan die kinders van Israel by hulle uittog uit Egipte,
46 oos van die Jordaan, in die dal teenoor Bet-Peor, in die land van Sihon, die
koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het, wat deur Moses en die kinders
van Israel verslaan is by hulle uittog uit Egipte;
47 en hulle het sy land in besit geneem en die land van Og, die koning van Basan,
die twee konings van die Amoriete oos van die Jordaan, teen sonop;
48 van Aroër af, wat aan die kant van die Arnonrivier lê, tot by die berg Sion,
dit is Hermon,
49 en die hele Vlakte oos van die Jordaan, teen sonop tot by die See van die
Vlakte, onderaan die hange van Pisga.
*~ Hoofstuk 5 ~*
1 En Moses het die hele Israel laat roep en vir hulle gesê: Hoor, Israel, die
insettinge en die verordeninge wat ek vandag voor julle ore uitspreek; julle
moet dit leer en dit sorgvuldig hou.
2 Die HERE onse God het by Horeb met ons ‘n verbond gesluit.
3 Met ons vaders het die HERE hierdie verbond nie gesluit nie, maar met ons
self, ons wat hier vandag almal in die lewe is.
4 Van aangesig tot aangesig het die HERE op die berg uit die vuur met julle
gespreek—
5 ek het in dié tyd tussen die HERE en julle gestaan om aan julle die woord van
die HERE bekend te maak, want julle was bevrees vir die vuur en het nie op die
berg geklim nie—en Hy het gesê:
6 Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei
het.
7 Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
8 Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die
hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die
aarde is nie.
9 Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE
jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die
kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;
10 en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie
onderhou.
11 Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE
sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
12 Onderhou die sabbatdag, dat jy dit heilig soos die HERE jou God jou beveel
het.
13 Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen;
14 maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk
doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of
jou os of jou esel of enige dier van jou, of jou vreemdeling wat in jou poorte
is nie; sodat jou dienskneg en jou diensmaagd kan rus soos jy.
15 En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ‘n slaaf was, en die HERE jou
God jou daarvandaan uitgelei het deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm;
daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.
16 Eer jou vader en jou moeder soos die HERE jou God jou beveel het, dat jou dae
verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat die HERE jou
God aan jou gee.
17 Jy mag nie doodslaan nie.
18 En jy mag nie egbreek nie.
19 En jy mag nie steel nie.
20 En jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.
21 En jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie; en jy mag nie na jou naaste se
huis hunker nie—na sy landerye of sy dienskneg of sy diensmaagd, sy os of sy
esel of iets wat van jou naaste is nie.
22 Met hierdie woorde het die HERE julle hele vergadering op die berg, uit die
vuur, die wolk en die wolkedonkerheid met ‘n groot stem toegespreek, en niks
meer nie; en Hy het dit op twee kliptafels geskrywe en dit aan my gegee.
23 En toe julle die stem uit die duisternis hoor, terwyl die berg met vuur
brand, het julle na my toe aangekom, al die hoofde van julle stamme en julle
oudstes,
24 en gesê: Kyk, die HERE onse God het ons sy heerlikheid en sy grootheid laat
sien, en ons het sy stem uit die vuur gehoor; vandag het ons gesien dat God met
die mens spreek en hy in die lewe bly.
25 Maar waarom moet ons nou sterwe? Want hierdie groot vuur sal ons verteer. As
ons die stem van die HERE onse God nog langer hoor, sal ons sterwe.
26 Want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende God uit die vuur
hoor spreek het soos ons en in die lewe gebly het?
27 Gaan ú naderby en hoor alles wat die HERE onse God sal sê; dan kan ú ons
alles meedeel wat die HERE onse God met u sal spreek, en ons sal dit hoor en
doen.
28 En die HERE het die stem van julle woorde gehoor toe julle met my gespreek
het. Toe sê die HERE vir my: Ek het gehoor die stem van die woorde van hierdie
volk wat hulle met jou gespreek het; dit is alles goed wat hulle gespreek het.
29 Ag, as hulle maar so ‘n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd
te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.
30 Gaan sê vir hulle: Gaan maar terug na julle tente toe.
31 Maar jy, bly hier by My staan, dat Ek jou kan meedeel al die gebooie en die
insettinge en die verordeninge wat jy hulle moet leer, dat hulle dit kan doen in
die land wat Ek hulle sal gee om dit in besit te neem.
32 Sorg dan dat julle doen soos die HERE julle God julle beveel het; julle mag
nie regs of links afwyk nie.
33 In al die weë wat die HERE julle God julle beveel het moet julle wandel,
sodat julle kan lewe en dit met julle goed kan gaan en julle die dae kan verleng
in die land wat julle in besit sal neem.
*~ Hoofstuk 6 ~*
1 Dit is dan die gebod, die insettinge en die verordeninge wat die HERE julle
God beveel het om julle te leer, sodat julle dit kan doen in die land waarheen
julle oortrek om dit in besit te neem;
2 dat jy die HERE jou God kan vrees om al sy insettinge en sy gebooie wat ek jou
beveel, te hou—jy en jou kind en jou kindskind al die dae van jou lewe; en dat
jou dae verleng kan word.
3 Hoor dan, Israel, en onderhou dit sorgvuldig, dat dit met jou goed kan gaan en
dat julle baie kan vermenigvuldig soos die HERE die God van jou vaders jou
beloof het, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.
4 Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.
5 Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel
en met al jou krag.
6 En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;
7 en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en
as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.
8 Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband
tussen jou oë wees.
9 En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.
10 En as die HERE jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders,
Abraham, Isak en Jakob, met ‘n eed beloof het om jou te gee—groot en mooi stede
wat jy nie gebou het nie,
11 en huise vol van allerhande goed wat jy nie gevul het nie, en uitgekapte
reënbakke wat jy nie uitgekap, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie—en
jy eet en versadig word,
12 neem jou dan in ag dat jy die HERE nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit
die slawehuis, uitgelei het nie.
13 Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer.
14 Julle mag nie agter ander gode aan loop uit die gode van die volke wat rondom
julle is nie—
15 want die HERE jou God is ‘n jaloerse God by jou—sodat die toorn van die HERE
jou God nie teen jou ontvlam en Hy jou van die aarde verdelg nie.
16 Julle mag die HERE julle God nie versoek soos julle Hom by Massa versoek het
nie.
17 Julle moet die gebooie van die HERE julle God en sy getuienisse en sy
insettinge wat Hy jou beveel het, ywerig onderhou.
18 En jy moet doen wat reg en goed is in die oë van die HERE, dat dit met jou
goed kan gaan en jy kan inkom en in besit neem die goeie land wat die HERE aan
jou vaders met ‘n eed beloof het,
19 terwyl Hy al jou vyande voor jou uit verjaag soos die HERE gespreek het.
20 As jou seun jou later vra en sê: Wat beteken die getuienisse en die
insettinge en die verordeninge wat die HERE onse God julle beveel het?
21 dan moet jy aan jou seun sê: Ons was slawe van Farao in Egipte; maar die HERE
het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte uitgelei.
22 En die HERE het groot en onheilbrengende tekens en wonders voor ons oë in
Egipte aan Farao en sy hele huis gedoen.
23 En Hy het ons daarvandaan uitgelei om ons in te bring, sodat Hy ons die land
kan gee wat Hy aan ons vaders met ‘n eed beloof het.
24 En die HERE het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die Here
onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te
hou soos dit vandag is.
25 En dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie gebooie hou
voor die aangesig van die HERE onse God soos Hy ons beveel het.
*~ Hoofstuk 7 ~*
1 As die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit
te neem, en Hy baie nasies voor jou uit verjaag: die Hetiete, Girgasiete,
Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en
magtiger as jy;
2 en die HERE jou God hulle aan jou oorgee, dat jy hulle verslaan, dan moet jy
hulle geheel en al met die banvloek tref; jy mag geen verbond met hulle maak en
hulle nie genadig wees nie.
3 Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie—jy mag jou dogter nie gee aan sy
seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie;
4 want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die
toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg.
5 Maar julle moet met hulle so doen: hulle altare moet julle omgooi en hulle
klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme omkap en hulle gesnede beelde
met vuur verbrand.
6 Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God
uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.
7 Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat
julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al
die volke.
8 Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle
vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit
die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.
9 Jy moet dan weet dat die HERE jou God God is, die getroue God wat die verbond
en die goedertierenheid hou vir die wat Hom lief het en sy gebooie onderhou, in
duisend geslagte.
10 Maar aan die wat Hom haat, aan elkeen persoonlik, vergeld Hy dit, om hom te
vernietig; Hy sal met sy hater nie versuim nie, hom persoonlik sal Hy dit
vergelde.
11 Hou dan die gebod en die insettinge en die verordeninge wat ek jou vandag
beveel om dit te volbring.