5
6 (5:5) En hulle sal die land Assur met die swaard afwei en die land van
Nimrod by sy ingange. So sal Hy ons dan van Assur bevry, wanneer hy in ons land
kom en ons grondgebied betree.
7 (5:6) Dan sal die oorblyfsel van Jakob onder baie volke wees soos dou van die
HERE, soos reënbuie op die plante, wat op geen mens wag nie en ter wille van
geen mensekind vertoef nie.
8 (5:7) En die oorblyfsel van Jakob tussen die nasies sal onder baie volke wees
soos ‘n leeu onder die diere van die woud, soos ‘n jong leeu onder troppe
kleinvee; wat, as hy deurtrek, vertrap en verskeur sonder dat iemand red.
9 (5:8) Jou hand sal bo jou teëstanders verhewe wees, en al jou vyande sal
uitgeroei word.
10 (5:9) En in dié dag, spreek die HERE, sal Ek jou perde uit jou midde uitroei
en jou strydwaens vernietig.
11 (5:10) Ook sal Ek uitroei die stede van jou land en al jou vestings afbreek.
12 (5:11) Verder sal Ek uitroei die towerye uit jou hand, en jy sal geen
goëlaars meer hê nie.
13 (5:12) En Ek sal uit jou midde uitroei jou gesnede beelde en jou klippilare,
sodat jy jou nie meer voor die werk van jou hande sal neerbuig nie.
14 (5:13) En Ek sal uit jou midde uitruk jou heilige boomstamme en jou stede
verwoes.
15 (5:14) En Ek sal in toorn en grimmigheid wraak neem op die nasies wat nie
geluister het nie.
*~ Hoofstuk 6 ~*
1 Hoor tog wat die HERE sê: Staan op, twis in teenwoordigheid van die berge, en
laat die heuwels na jou stem luister!
2 Hoor, berge, die twis van die HERE! En onwankelbares, grondslae van die aarde!
Want die HERE het ‘n twis met sy volk en sal met Israel ‘n regsgeding hou.
3 My volk, wat het Ek jou aangedoen, en waarmee het Ek jou vermoei? Antwoord My!
4 Ja, Ek het jou uit Egipteland laat optrek en jou uit die slawehuis losgekoop,
en Ek het voor jou uit gestuur Moses, Aäron en Mirjam.
5 My volk, dink tog aan wat Balak, die koning van Moab, beraadslaag het, en wat
Bíleam, die seun van Beor, hom geantwoord het, en wat gebeur het van Sittim af
tot by Gilgal, sodat jy kennis kan dra van die regverdige dade van die HERE.
6 Waarmee sal ek die HERE tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom
tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers?
7 Sal die HERE ‘n welbehae hê in duisende ramme en tien duisende strome van olie?
Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die
sonde van my siel?
8 Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou
anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?
Matteus 21:1-11
1 En toe hulle naby Jerusalem gekom en Bétfagé aan die Olyfberg bereik het,
stuur Jesus twee dissipels uit en sê vir hulle:
2 Gaan na daardie dorp reg voor julle, en dadelik sal julle ‘n eselin vind wat
vasgemaak is, en ‘n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My.
3 En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord: Die Here het hulle nodig;
en dadelik sal hy hulle stuur.
4 En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word die woord wat deur die profeet
gespreek is:
5 Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy
sit op ‘n esel, ja, ‘n jong esel, die vul van ‘n pakdier.
6 En die dissipels het gegaan en gedoen soos Jesus hulle beveel het;
7 hulle het die esel en die vul gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het
daarop gaan sit.
8 En die grootste deel van die skare het hulle klere op die pad oopgegooi, en
ander het takke van die bome afgekap en op die pad gestrooi.
9 En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê:
Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!
Hosanna in die hoogste hemele!
10 En toe Hy in Jerusalem inkom, het die hele stad in opskudding geraak en gesê:
Wie is hierdie man?
11 En die skare sê: Dit is Jesus, die profeet, van Násaret in Galiléa.