13
17 Toe Farao die volk laat trek het, het God hulle nie op die pad na die land
van die Filistyne gelei nie, alhoewel dit nader was; want God het gesê: Die volk
kan dalk berou kry as hulle oorlog sien, en teruggaan na Egipte.
18 Daarom het God die volk laat wegdraai in die rigting na die woestyn, na die
Skelfsee toe. En die kinders van Israel het goed gewapend uit Egipteland
opgetrek.
19 En Moses het die gebeente van Josef met hom saamgeneem; want hy het die
kinders van Israel plegtig laat sweer en gesê: God sal eindelik op julle ag gee;
bring dan my gebeente saam met julle hiervandaan op.
20 So het hulle dan van Sukkot af weggetrek en laer opgeslaan in Etam, aan die
kant van die woestyn.
21 En die HERE het voor hulle uitgetrek, bedags in ‘n wolkkolom om hulle op die
pad te lei, en snags in ‘n vuurkolom om hulle voor te lig, sodat hulle dag en
nag kon trek.
22 Die wolkkolom het nie bedags en die vuurkolom nie snags voor die volk gewyk
nie.
*~ Hoofstuk 14 ~*
1 Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet omdraai en laer opslaan voor Pi-Hágirot,
tussen Migdol en die see. Reg teenoor Baäl-Sefon moet julle laer opslaan by die
see.
3 Dan sal Farao van die kinders van Israel sê: Hulle is verdwaal in die land,
die woestyn het hulle ingesluit.
4 En Ek sal Farao se hart verhard, dat hy hulle agtervolg; en Ek wil My aan
Farao en sy hele leërmag verheerlik, en die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE
is. En hulle het so gedoen.
5 Toe die koning van Egipte berig ontvang dat die volk gevlug het, het die hart
van Farao en van sy dienaars teenoor die volk verander, en hulle sê: Wat het ons
nou gedoen dat ons Israel laat trek het, sodat hulle ons nie meer dien nie?
6 Daarop het hy sy strydwa ingespan en sy manskappe saam met hom geneem.
7 En hy het ses honderd uitgesoekte strydwaens geneem en al die ander strydwaens
van Egipte, en die beste vegsmanne op elkeen daarvan.
8 En die HERE het die hart van Farao, die koning van Egipte, verhard, sodat hy
die kinders van Israel agtervolg het. Maar die kinders van Israel het deur ‘n
hoë hand uitgetrek.
9 En die Egiptenaars het hulle agtervolg—al Farao se perde en strydwaens, sy
ruiters en sy leërmag—en hulle ingehaal terwyl hulle in die laer gestaan het by
die see by Pi-Hágirot, voor Baäl-Sefon.
10 Toe Farao naby kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk, daar
trek die Egiptenaars agter hulle aan; en hulle het baie bang geword. Daarop het
die kinders van Israel tot die HERE geroep.
11 En hulle het vir Moses gesê: Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is
nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen,
dat u ons uit Egipteland uitgelei het?
12 Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus,
dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars
te dien as om in die woestyn te sterwe.
13 Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou
die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle
die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie.
14 Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.
15 Toe vra die HERE vir Moses: Wat roep jy na My? Sê aan die kinders van Israel
dat hulle moet wegtrek.
16 En jy, hef jou staf op en steek jou hand uit oor die see en kloof dit, sodat
die kinders van Israel dwarsdeur die see op droë grond kan trek.
17 En Ek, kyk, Ek sal die hart van die Egiptenaars verhard, sodat hulle agter
hulle aan gaan. En Ek wil My verheerlik aan Farao en sy hele leërmag, aan sy
strydwaens en aan sy ruiters.
18 En die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is, as Ek My verheerlik aan Farao,
aan sy strydwaens en aan sy ruiters.
19 En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar
weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle
weggetrek en agter hulle gaan staan;
20 so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in
gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat
die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie.
21 Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die HERE het deur ‘n sterk
oostewind die see laat wegvloei, die hele nag deur, en die see droog gemaak; en
die waters is gekloof.
22 En die kinders van Israel het midde-in die see getrek op droë grond. En die
waters was vir hulle ‘n muur aan hul regter— en aan hul linkerkant.
23 Toe het die Egiptenaars hulle gejaag en agter hulle aan getrek—al Farao se
perde, sy strydwaens en sy ruiters—die see in.
24 En in die môrewaak het die HERE, in die vuur— en wolkkolom, op die leër van
die Egiptenaars afgekyk en die leër van die Egiptenaars in verwarring gebring.
25 En Hy het die wiele van hulle strydwaens laat insak en hulle met moeite laat
voortgaan. Toe sê die Egiptenaars: Laat ons van Israel af wegvlug, want die HERE
stry vir hulle teen die Egiptenaars.
26 Daarop sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit oor die see, dat die waters
kan terugvloei oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en oor hulle ruiters.
27 En Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die see het teen dagbreek in
sy bedding teruggevloei, en die Egiptenaars het dit tegemoet gevlug. So het die
HERE dan die Egiptenaars binne-in die see gestort.
28 En toe die waters terugvloei, het hulle die strydwaens en die ruiters van
Farao se hele leërmag wat agter hulle die see ingetrek het, oordek. Geeneen van
hulle het oorgebly nie.
29 Maar die kinders van Israel het binne-in die see op droë grond getrek. En die
waters was vir hulle ‘n muur aan hul regter— en aan hul linkerkant.
30 So het die HERE Israel dan dié dag uit die hand van die Egiptenaars verlos.
En Israel het die Egiptenaars dood gesien aan die kant van die see.
31 Ook het Israel die magtige daad gesien wat die HERE aan die Egiptenaars
verrig het. Toe het die volk die HERE gevrees en geglo in die HERE en aan Moses,
sy kneg.
*~ Hoofstuk 15 ~*
1 Toe het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die HERE
gesing; en dit is wat hulle gesê het: Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy
is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp.
2 Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God,
Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef.
3 Die HERE is ‘n krygsman; HERE is sy naam.
4 Hy het Farao se strydwaens en sy leërmag in die see gewerp. En sy beste
vegsmanne het in die Skelfsee gesink.
5 Die watervloede het hulle oordek. Hulle het in die kolke gesink soos ‘n klip.
6 o HERE, u regterhand is verheerlik deur krag. U regterhand, o HERE, verpletter
die vyand.
7 En in u grote hoogheid werp U diegene neer wat teen U opstaan. U stuur u
toorngloed uit: dit verteer hulle soos ‘n stoppel.
8 En deur die geblaas van u neus het die waters hulle opgestapel, die strome het
bly staan soos ‘n wal, die watervloede het styf geword in die hart van die see.
9 Die vyand het gesê: Ek sal agtervolg, inhaal, buit verdeel, my begeerte sal
versadig word van hulle; ek sal my swaard trek, my hand sal hulle uitroei.
10 U het met u asem geblaas: die see het hulle oordek; soos lood het hulle
gesink in die geweldige waters.
11 o HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid,
gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?
12 U het u regterhand uitgestrek, die aarde het hulle verslind.
13 U het deur u guns die volk gelei wat U verlos het; U het hulle deur u krag na
u heilige woning gevoer.
14 Die volke het dit gehoor, hulle het gesidder; weë het die inwoners van
Filistéa aangegryp.
15 Toe is die stamhoofde van Edom verskrik, bewing het die magtiges van Moab
aangegryp. Al die inwoners van Kanaän het gebewe.
16 Verskrikking en vrees het op hulle geval; deur die grootheid van u arm was
hulle stom soos ‘n klip, terwyl u volk deurtrek, HERE, terwyl die volk deurtrek
wat U verwerf het.
17 U bring hulle in en plant hulle op die bergland van u erfenis, die plek, o
HERE, wat U as vaste woonplek vir U berei het, die heiligdom wat u hande gestig
het, o Here!
18 Die HERE sal regeer vir ewig en altoos.
19 Want Farao se perd, met sy strydwaens en sy ruiters, het in die see ingegaan,
en die HERE het die waters van die see oor hulle laat terugkom. Maar die kinders
van Israel het binne-in die see op droë grond getrek.
20 En Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, het ‘n tamboeryn in haar hand
geneem; en al die vroue het uitgegaan agter haar aan, met tamboeryne en in
koordanse.
21 En Mirjam het hulle al singende geantwoord: Sing tot eer van die HERE, want
Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp.
22 Daarop het Moses die Israeliete laat wegtrek van die Skelfsee af, en hulle
het uitgetrek na die woestyn Sur. Hulle het toe drie dae lank in die woestyn
getrek en geen water gekry nie.
23 En hulle het in Mara gekom, maar kon die water van Mara nie drink nie, want
dit was bitter. Daarom heet die plek Mara.
24 Toe murmureer die volk teen Moses en sê: Wat moet ons drink?
25 En hy het die HERE aangeroep, en die HERE het hom ‘n stuk hout gewys; dit het
hy in die water gegooi, en die water het soet geword. Daar het Hy vir hulle ‘n
insetting en verordening vasgestel en hulle daar beproef
26 en gesê: As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat
reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek
geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is
die HERE wat jou gesond maak.
27 Daarop het hulle by Elim gekom, waar twaalf waterfonteine en sewentig
palmbome was. En hulle het daar by die water laer opgeslaan.
*~ Hoofstuk 16 ~*
1 Toe hulle van Elim af wegtrek, het die hele vergadering van die kinders van
Israel in die woestyn Sin gekom, wat tussen Elim en Sinai lê, op die vyftiende
dag van die tweede maand ná hulle uittog uit Egipteland.
2 En die hele vergadering van die kinders van Israel het teen Moses en teen
Aäron in die woestyn gemurmureer.
3 En die kinders van Israel het aan hulle gesê: Het ons maar in Egipteland deur
die hand van die HERE gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood
geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele
vergadering van honger te laat sterwe.
4 Toe sê die HERE vir Moses: Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën;
dan kan die volk uitgaan en die dagmaat van elke dag insamel, sodat Ek hulle kan
beproef, of hulle in my wet sal wandel of nie.
5 En op die sesde dag, as hulle berei wat hulle inbring, sal dit dubbel soveel
wees as wat hulle daagliks insamel.
6 Toe sê Moses en Aäron aan al die kinders van Israel: Vanaand, dan sal julle
weet dat die HERE julle uit Egipteland uitgelei het.
7 En môre vroeg, dan sal julle die heerlikheid van die HERE sien, omdat Hy julle
murmureringe teen die HERE gehoor het—want wat is ons, dat julle teen ons
murmureer?
8 Daarop sê Moses: Dít sal gebeur as die HERE julle in die aand vleis gee om te
eet en in die môre volop brood, omdat die HERE julle murmureringe hoor wat julle
teen Hom murmureer. Want wat is ons? Julle murmureringe is nie teen ons nie,
maar teen die HERE.
9 Verder het Moses met Aäron gespreek: Sê aan die hele vergadering van die
kinders van Israel: Kom nader voor die aangesig van die HERE, want Hy het julle
murmureringe gehoor.
10 En onderwyl Aäron die hele vergadering van die kinders van Israel toespreek,
draai hulle na die woestyn toe en meteens verskyn die heerlikheid van die HERE
in die wolk.
11 Ook het die HERE met Moses gespreek en gesê:
12 Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor; spreek met hulle
en sê: Teen die aand sal julle vleis eet en in die môre met brood versadig word;
en julle sal weet dat Ek die HERE julle God is.
13 En in die aand het daar kwartels opgekom en die laer oordek. En in die môre
was daar ‘n doulaag rondom die laer.
14 En nadat die doulaag opgetrek het, het daar oor die woestyn iets gelê wat fyn
en korrelrig was, fyn soos ryp op die grond.
15 Toe die kinders van Israel dit sien, sê hulle vir mekaar: Wat is dit? Want
hulle het nie geweet wat dit was nie. Daarop sê Moses vir hulle: Dit is die
brood wat die HERE julle gee om te eet.
16 Dit is die saak wat die HERE beveel het: Samel daarvan in, elkeen na sy
behoefte: ‘n gomer vir elke persoon volgens julle sieletal; elkeen moet dit neem
vir die wat in sy tent is.
17 En die kinders van Israel het so gedoen: hulle het ingesamel, die een baie en
die ander min.
18 Maar toe hulle dit met die gomer meet, het hy wat baie ingesamel het, niks
oorgehad nie; en hy wat min ingesamel het, nie te min nie. Elkeen na sy behoefte
het hulle ingesamel.
19 En Moses het vir hulle gesê: Niemand moet daarvan laat oorbly tot môre toe
nie.
20 Maar hulle het nie na Moses geluister nie: sommige het daarvan laat oorbly
tot die môre toe. Toe kom daar wurms in en dit bederwe. Daarom het Moses baie
kwaad geword vir hulle.
21 En hulle het dit môre vir môre ingesamel, elkeen na sy behoefte; en as die
son warm word, smelt dit weg.
22 En op die sesde dag het hulle ‘n dubbele porsie brood ingesamel, twee gomers
vir elkeen. En al die owerstes van die vergadering het gekom en dit aan Moses
vertel.
23 Toe sê hy vir hulle: Dit is wat die HERE gespreek het: Môre is dit rusdag, ‘n
heilige sabbat van die HERE. Wat julle wil bak, bak dit; en wat julle wil kook,
kook dit; en bêre vir julle alles wat oor is, om dit te bewaar tot die môre toe.
24 En hulle het dit gebêre tot die môre toe, soos Moses beveel het; en dit het
nie bederwe nie, en daar het geen wurms in gekom nie.
25 Toe sê Moses: Eet dit vandag, want dit is vandag die sabbat van die HERE.
Vandag sal julle dit nie in die veld kry nie.
26 Ses dae lank moet julle dit insamel, maar op die sewende dag is dit sabbat;
dan sal dit daar nie wees nie.
27 En op die sewende dag het van die mense uitgegaan om in te samel, maar hulle
het niks gekry nie.
28 Toe sê die HERE vir Moses: Hoe lank weier julle om my gebooie en my wette te
onderhou?
29 Kyk, omdat die HERE julle die sabbat gegee het, daarom gee Hy julle op die
sesde dag brood vir twee dae. Laat elkeen bly waar hy is; laat niemand op die
sewende dag van sy woonplek af weggaan nie.
30 So het die volk dan op die sewende dag gerus.
31 En die huis van Israel het dit MAN genoem. En dit was wit soos koljandersaad,
en dit het gesmaak soos heuningkoek.
32 Verder het Moses gesê: Dit is die saak wat die HERE beveel het: ‘n Gomer vol
moet daarvan bewaar word vir julle geslagte, dat hulle die brood kan sien wat Ek
julle in die woestyn laat eet het, toe Ek julle uit Egipteland uitgelei het.
33 Moses sê toe vir Aäron: Neem ‘n kruik en gooi ‘n gomer vol manna daarin, en
sit dit voor die aangesig van die HERE neer, om dit vir julle geslagte te bewaar.
34 Soos die HERE Moses beveel het, so het Aäron dit voor die Getuienis neergesit
om bewaar te word.
35 En die kinders van Israel het die manna veertig jaar lank geëet totdat hulle
in ‘n bewoonde land gekom het. Die manna het hulle geëet totdat hulle by die
grens van die land Kanaän gekom het.
36 En ‘n gomer is die tiende van ‘n efa.
*~ Hoofstuk 17 ~*
1 Daarop het die hele vergadering van die kinders van Israel, volgens die bevel
van die HERE, van plek tot plek uit die woestyn Sin getrek en laer opgeslaan in
Ráfidim. En daar was geen water vir die volk om te drink nie.
2 Toe twis die volk met Moses en sê: Gee julle vir ons water om te drink. Maar
Moses antwoord hulle: Wat twis julle met my? Waarom versoek julle die HERE?
3 Maar die volk het daar gesmag na water, en die volk het teen Moses gemurmureer
en gesê: Waarom het u ons dan uit Egipte laat optrek om my en my kinders en my
vee van dors te laat omkom?
4 Toe het Moses die HERE aangeroep en gesê: Wat moet ek met hierdie volk doen?
Dit skeel maar min of hulle stenig my.
5 En die HERE het Moses geantwoord: Trek voor die volk uit, en neem van die
oudstes van Israel met jou saam; en neem jou staf waarmee jy die Nyl geslaan
het, in jou hand en gaan weg.
6 Kyk, Ek sal daar voor jou by die rots op Horeb staan; dan moet jy die rots
slaan, en daar sal water uit kom, dat die volk kan drink. En Moses het so gedoen
voor die oë van die oudstes van Israel
7 en die plek Massa en Mériba genoem vanweë die twis van die kinders van Israel
en omdat hulle die HERE versoek het deur te sê: Is die HERE in ons midde of nie?
8 Daarop het Amalek gekom om teen Israel by Ráfidim te veg.
9 En Moses het aan Josua gesê: Kies vir ons manne en trek uit, veg teen Amalek.
Môre sal ek op die top van die heuwel staan met die staf van God in my hand.
10 En Josua het gedoen soos Moses aan hom gesê het, om te veg teen Amalek. Maar
Moses, Aäron en Hur het op die top van die heuwel geklim.
11 En telkens as Moses sy hand ophou, was Israel die sterkste; maar as hy sy
hand laat sak, was Amalek die sterkste.
12 Maar die hande van Moses het swaar geword; daarom het hulle ‘n klip geneem en
dit onder hom neergelê, dat hy daarop kon sit. En Aäron en Hur het sy hande
ondersteun, die een duskant en die ander anderkant. So het sy hande dan vas
gebly tot sononder.
13 En Josua het Amalek en sy volk met die skerpte van die swaard ‘n neerlaag
toegebring.
14 Toe sê die HERE vir Moses: Skrywe dit as ‘n aandenking in ‘n boek en prent
dit Josua in, dat Ek die gedagtenis van Amalek onder die hemel heeltemal sal
uitdelg.
15 En Moses het ‘n altaar gebou en dit genoem: Die HERE is my banier.
16 En hy het gesê: Waarlik, die hand op die troon van die HERE! Oorlog het die
HERE teen Amalek van geslag tot geslag.