Shabbat Shalom!
Nitzavim / Vayelech - Jy Staan / En Hy Het Gegaan
- hierdie week se Torah lees.


Deuteronomium 29:9-31:30

29

9 Onderhou dan die woorde van hierdie verbond en volbring dit, sodat julle voorspoedig kan uitvoer alles wat julle doen. (Ro 2:13)
10 Julle staan vandag almal voor die aangesig van YAHUVEH julle ELOHIM: julle hoofde, julle stamme, julle oudstes en julle opsigters—al die manne van Israel;
11 julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling wat binne-in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter,
12 om oor te gaan in die verbond van YAHUVEH jou ELOHIM—en in sy eedswering—wat YAHUVEH jou ELOHIM vandag met jou sluit;
13 sodat Hy jou vandag vir Hom as volk kan bevestig en vir jou ‘n ELOHIM kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het.
14 En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie,
15 maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van YAHUVEH onse ELOHIM staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie.
16 Want julle weet self hoe ons in Egipteland gewoon en hoe ons dwarsdeur die nasies getrek het waardeur julle getrek het.
17 En julle het hulle verfoeisels en hulle drekgode, hout en klip, silwer en goud, by hulle gesien,
18 sodat daar onder julle geen man of vrou of geslag of stam mag wees wat sy hart vandag van YAHUVEH onse ELOHIM afwend om die gode van dié nasies te gaan dien nie, sodat daar onder julle geen wortel mag wees wat gif en wilde-als dra nie,
19 en as hy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel—om so die bewaterde saam met die dorstige weg te ruk!
20 YAHUVEH sal hom nie wil vergewe nie, maar dan sal die toorn van YAHUVEH en sy ywer teen dié man rook, en die hele vloek wat in hierdie boek geskrywe is, sal op hom rus; en YAHUVEH sal sy naam onder die hemel uitdelg. (Ex 32:32, Op 3:5, 20:12,15)
21 En YAHUVEH sal hom tot sy ongeluk van al die stamme van Israel afskei volgens al die vloeke van die verbond wat in hierdie wetboek geskrywe is.
22 En die volgende geslag, julle kinders wat ná julle opstaan, en die uitlander wat uit ‘n ver land kom, sal sê, as hulle die plae van daardie land sien en sy siektes wat YAHUVEH daarin laat uitbreek het—
23 ook swawel en sout deurdat sy hele oppervlakte uitgebrand is, wat nie besaai word en niks laat uitspruit nie, waarin hoegenaamd geen plante opslaan nie, soos die omkering van Sodom en Gomorra, Adma en Sebóim wat YAHUVEH in sy toorn en in sy grimmigheid omgekeer het—
24 en al die nasies sal sê: Waarom het YAHUVEH so met hierdie land gedoen? Wat beteken hierdie groot toorngloed?
25 Dan sal hulle antwoord: Omdat hulle die verbond van YAHUVEH, die ELOHIM van hulle vaders, verlaat het wat Hy met hulle gesluit het toe hulle deur Hom uit Egipteland uitgelei is,
26 en hulle ander gode gaan dien en hulle daarvoor neergebuig het, gode wat aan hulle nie bekend was nie, en wat Hy hulle nie toebedeel het nie,
27 daarom het die toorn van YAHUVEH teen daardie land ontvlam om daaroor die hele vloek te bring wat in hierdie boek geskrywe is.
28 En YAHUVEH het hulle uit hulle land uitgeruk in toorn en in grimmigheid en in groot verbolgenheid; en Hy het hulle weggeslinger na ‘n ander land, soos dit vandag is.
29 Die verborge dinge is vir YAHUVEH onse ELOHIM; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet. (Spr 25:2)

*~Deuteronomium Hoofstuk 30~*


1 En as al hierdie dinge oor jou kom, die seën en die vloek wat ek jou voorgehou het, en jy dit ter harte neem onder al die nasies waarheen YAHUVEH jou ELOHIM jou verdryf het,
2 en jy jou tot YAHUVEH jou ELOHIM bekeer en na sy stem luister net soos ek jou vandag beveel, jy en jou kinders, met jou hele hart en met jou hele siel,
3 dan sal YAHUVEH jou ELOHIM jou lot verander en Hom oor jou ontferm; en Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen YAHUVEH jou ELOHIM jou verstrooi het.
4 Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal YAHUVEH jou ELOHIM jou versamel, en daarvandaan sal Hy jou gaan haal.
5 En YAHUVEH jou ELOHIM sal jou bring in die land wat jou vaders in besit geneem het, en jy sal dit in besit neem; en Hy sal aan jou goed doen en jou vermenigvuldig meer as jou vaders.
6 En YAHUVEH jou ELOHIM sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om YAHUVEH jou ELOHIM lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe. (Deut 10:16, Ro 2:28-29)
7 En YAHUVEH jou ELOHIM sal al hierdie vloeke op jou vyande en op jou haters lê wat jou vervolg het.
8 Maar jy sal weer na die stem van YAHUVEH luister en al sy gebooie doen wat ek jou vandag beveel.
9 En YAHUVEH jou ELOHIM sal die goeie aan jou oorvloedig gee in al die werk van jou hand, in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land; want YAHUVEH sal weer oor jou ten goede bly wees soos Hy bly was oor jou vaders,
10 as jy na die stem van YAHUVEH jou ELOHIM luister om sy gebooie en sy insettinge te hou wat in hierdie wetboek geskrywe is; as jy jou tot YAHUVEH jou ELOHIM bekeer met jou hele hart en met jou hele siel.
11 Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie.
12 Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen?
13 Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen?
14 Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen. (Heb 8:10-11)
15 Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk.
16 Wat ek jou vandag beveel, is om YAHUVEH jou ELOHIM lief te hê, in sy weë te wandel en sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge te hou, sodat jy kan lewe en vermenigvuldig en YAHUVEH jou ELOHIM jou mag seën in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.
17 Maar as jou hart hom afwend en jy nie luister nie en jy jou laat verlei, sodat jy jou voor ander gode neerbuig en hulle dien,
18 dan verkondig ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom; julle sal die dae nie verleng in die land waarheen jy oor die Jordaan trek om dit in besit te gaan neem nie.
19 Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag,
20 deur YAHUVEH jou ELOHIM lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae, sodat jy kan woon in die land wat YAHUVEH aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee.

*~Deuteronomium Hoofstuk 31~*


1 Daarna het Moses gegaan en die hele Israel met hierdie woorde toegespreek
2 en vir hulle gesê: Ek is vandag honderd en-twintig jaar oud; ek kan nie meer uit— en ingaan nie, en YAHUVEH het vir my gesê: Jy mag deur hierdie Jordaan nie gaan nie. (Num 27:12-14)
3 YAHUVEH jou ELOHIM, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor soos YAHUVEH gespreek het.
4 En YAHUVEH sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het;
5 YAHUVEH sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en al volgens die gebod wat ek julle beveel het.
6 Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is YAHUVEH jou ELOHIM wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.
7 Toe het Moses Josua geroep en aan hom voor die oë van die hele Israel gesê: Wees sterk en vol moed, want jy sal met hierdie volk in die land ingaan wat YAHUVEH aan hulle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee; en jy sal hulle dit laat erwe.
8 En dit is YAHUVEH wat voor jou uit trek; Hy sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie; jy mag nie bevrees of verskrik wees nie.
9 En Moses het hierdie wet opgeskrywe en dit gegee aan die priesters, die seuns van Levi, wat die verbondsark van YAHUVEH gedra het, en aan al die oudstes van Israel.
10 En Moses het aan hulle bevel gegee en gesê: Aan die einde van sewe jaar, op die bepaalde tyd van die jaar van kwytskelding, op die huttefees,
11 as die hele Israel kom om te verskyn voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM op die plek wat Hy sal uitkies, moet jy hierdie wet voor die hele Israel, voor hulle ore lees.
12 Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om YAHUVEH julle ELOHIM te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou.
13 En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet hoor en leer om YAHUVEH julle ELOHIM te vrees al die dae wat julle lewe in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem. (Deut 4:10, Deut 6:7)
14 En YAHUVEH het vir Moses gesê: Kyk, jou dae kom nader dat jy moet sterwe; roep Josua, en gaan julle in die tent van samekoms staan, dat Ek aan hom bevel kan gee. Toe het Moses en Josua gegaan en in die tent van samekoms gaan staan.
15 En YAHUVEH het in die tent in ‘n wolkkolom verskyn terwyl die wolkkolom by die ingang van die tent bly staan het. (Ex 33:9)
16 Toe sê YAHUVEH vir Moses: Kyk, jy ontslaap met jou vaders, en hierdie volk sal opstaan, en hulle sal die vreemde gode van die land waarheen hulle gaan, in sy midde agternahoereer en My verlaat en my verbond verbreek wat Ek met hulle gemaak het.
17 Dan sal my toorn op dié dag teen hulle ontvlam, en Ek sal hulle verlaat en my aangesig vir hulle verberg, sodat hulle verteer word en baie onheile en node hulle oorkom. Dan sal hulle op dié dag sê: Het hierdie onheile ons nie oorgekom, omdat onse ELOHIM nie onder ons is nie?
18 Maar Ek sal op dié dag my aangesig heeltemal verberg weens al die kwaad wat hulle gedoen het; want hulle het na ander gode afgewyk.
19 Skryf dan nou vir julle hierdie lied op, en leer dit aan die kinders van Israel; lê dit in hulle mond, dat hierdie lied vir My ‘n getuie teen die kinders van Israel kan wees.
20 Want Ek sal hulle inbring in die land wat Ek aan hulle vaders met ‘n eed beloof het, wat oorloop van melk en heuning, en hulle sal eet en versadig en vet word; dan sal hulle afwyk na ander gode en dié dien, en hulle sal My verag en my verbond verbreek.
21 En as dan baie onheile en node oor hulle kom, dan sal hierdie lied in hulle aangesig as getuie antwoord—want dit sal uit die mond van hulle nageslag nie vergeet wees nie—want Ek ken hulle gedagtes wat hulle vandag koester voordat Ek hulle inbring in die land wat Ek met ‘n eed beloof het.
22 Toe het Moses hierdie lied op dié dag opgeskrywe en dit aan die kinders van Israel geleer.
23 En Hy het aan Josua, die seun van Nun, bevel gegee en gesê: Wees sterk en vol moed, want jy sal die kinders van Israel inbring in die land wat Ek hulle met ‘n eed beloof het; en Ek sal met jou wees.
24 En toe Moses die woorde van hierdie wet klaar in ‘n boek geskryf het tot die einde toe,
25 het Moses aan die Leviete wat die verbondsark van YAHUVEH gedra het, bevel gegee en gesê:
26 Neem hierdie wetboek en sit dit neer aan die kant van die verbondsark van YAHUVEH julle ELOHIM, dat dit daar as getuie teen jou kan wees.
27 Want ék ken jou wederstrewigheid en jou hardnekkigheid. As julle, terwyl ek nog vandag by julle lewe, wederstrewig was teen YAHUVEH—hoeveel te meer dan ná my dood!
28 Laat al die oudstes van julle stamme en julle opsigters by my vergader, dat ek voor hulle ore hierdie woorde kan spreek, en teen hulle die hemel en die aarde as getuies kan neem.
29 Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van YAHUVEH om Hom deur die werk van julle hande te terg.
30 Toe het Moses voor die ore van die hele vergadering van Israel die woorde van hierdie lied tot die einde toe uitgespreek.