23
1 En die lewensdae van Sara was honderd sewe en twintig jaar. Dit was die
lewensjare van Sara.
2 En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en
Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween.
3 Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het
gespreek en gesê:
4 Ek is ‘n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my ‘n graf as besitting by
julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe.
5 Toe antwoord die seuns van Het vir Abraham en sê aan hom:
6 Luister na ons, my heer! U is ‘n vors van ELOHIM onder ons. Begraaf u dode in
die beste graf wat ons het; niemand van ons sal u sy graf weier om u dode te
begrawe nie.
7 Toe staan Abraham op en buig hom voor die volk van die land, voor die seuns
van Het;
8 en hy het met hulle gespreek en gesê: As julle dit goedvind dat ek my dode van
my af weg begrawe, luister dan na my en doen vir my ‘n goeie woord by Efron, die
seun van Sohar,
9 dat hy aan my gee die spelonk van Magpéla wat aan hom behoort, wat aan die end
van sy stuk grond lê; laat hy dit vir die volle som aan my gee, dat ek ‘n graf
onder julle mag besit.
10 En Efron het tussen die seuns van Het gesit. Toe antwoord Efron, die Hetiet,
vir Abraham voor die ore van die seuns van Het, van almal wat in die poort van
sy stad ingegaan het:
11 Nee, my heer, luister na my. Die stuk grond gee ek aan u; ook die spelonk wat
daarin is, dit gee ek aan u; voor die oë van die seuns van my volk gee ek dit
aan u; begraaf u dode.
12 Daarop het Abraham hom voor die volk van die land neergebuig
13 en met Efron gespreek voor die ore van die volk van die land: Ja, as dit u
is, ag, luister na my! Ek gee die geld vir die stuk grond; neem dit van my aan,
dat ek my dode daar kan begrawe.
14 En Efron het Abraham geantwoord en aan hom gesê:
15 My heer, luister na my. ‘n Stuk land van vier honderd sikkels silwer—wat is
dit tussen my en u? Begraaf maar u dode.
16 Toe luister Abraham na Efron, en Abraham het aan Efron die geld afgeweeg
waarvan hy gespreek het voor die ore van die seuns van Het—vier honderd sikkels
silwer gangbaar by die koopman.
17 So het dan die stuk grond van Efron wat in Magpéla teenoor Mamre lê, die stuk
grond en die spelonk wat daarin is, en al die bome op die stuk grond wat op die
ganse gebied daarvan rondom staan,
18 die eiendom van Abraham geword voor die oë van die seuns van Het, voor almal
wat in die poort van sy stad ingegaan het.
19 Daarna het Abraham toe sy vrou Sara begrawe in die spelonk van die stuk grond
van Magpéla, oostelik van Mamre, dit is Hebron, in die land Kanaän.
20 So is dan die stuk grond en die spelonk wat daarin was, deur die seuns van
Het aan Abraham afgestaan om dit as graf in eiendom te besit.
*~ Genesis Hoofstuk 24 ~*
1 En Abraham was oud en ver op sy dae, en YAHUVEH het Abraham in alles geseën.
2 Toe sê Abraham aan sy dienaar, die oudste van sy huis wat die opsig gehad het
oor al sy goed: Lê tog jou hand onder my heup,
3 dat ek jou kan laat sweer by YAHUVEH, ELOHIM van die hemel en die ELOHIM van
die aarde, dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die
Kanaäniete onder wie ek woon nie;
4 maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun Isak ‘n vrou te
neem.
5 Toe sê die dienaar vir hom: Miskien sal die vrou my nie wil volg na hierdie
land nie. Moet ek u seun dan maar terugbring in die land waaruit u weggetrek
het?
6 En Abraham antwoord hom: Neem jou tog in ag dat jy my seun nie weer daarheen
bring nie.
7 YAHUVEH, die ELOHIM van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my
geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die
woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee—Hy sal sy engel voor jou uit
stuur, en jy moet vir my seun daar ‘n vrou gaan haal.
8 Maar as die vrou jou nie wil volg nie, dan is jy ontslae van hierdie eed aan
my. Jy moet net my seun nie weer daarheen bring nie.
9 Toe lê die dienaar sy hand onder die heup van Abraham, sy heer, en hy het vir
hom gesweer, met die oog op hierdie saak.
10 En die dienaar het tien kamele van die kamele van sy heer geneem en weggegaan
met allerhande kosbare goed van sy heer by hom: hy het klaargemaak en na
Mesopotámië, na die stad van Nahor, getrek.
11 En hy het die kamele laat neerkniel buitekant die stad by ‘n put, teen die
aand, teen die tyd dat die vroue uitgaan om water te skep,
12 en gesê: YAHUVEH, ELOHIM van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag
ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer.
13 Hier staan ek by die fontein, terwyl die dogters van die manne van die stad
uitkom om water te skep.
14 Laat dit nou tog gebeur: as die dogter aan wie ek sal sê: Hou tog jou kruik,
dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink—dan is sy
dit wat U bestem het vir u kneg Isak, en daaraan sal ek weet dat U guns aan my
heer bewys het.
15 Hy het nog nie klaar gespreek nie, of daar kom Rebekka uit wat vir Bétuel,
die seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer, gebore is, met haar
kruik op haar skouer.
16 En die dogter was baie mooi van aansien, ‘n jongmeisie, en geen man het haar
beken nie. En sy het afgedaal na die fontein en haar kruik volgemaak en weer
opgekom.
17 Toe loop die dienaar haar tegemoet en sê: Laat my tog ‘n bietjie water uit
jou kruik drink.
18 En sy antwoord: Drink, my heer! Daarop laat sy gou haar kruik op haar hand
afsak en laat hom drink.
19 Nadat sy hom genoeg laat drink het, sê sy: Ek sal vir u kamele ook skep
totdat hulle genoeg gedrink het.
20 Dadelik het sy toe haar kruik in die drinkbak leeggemaak en weer na die put
geloop om te skep en vir al sy kamele geskep.
21 En die man het haar stilswyend betrag om te weet of YAHUVEH sy weg
voorspoedig gemaak het of nie.
22 En toe die kamele genoeg gedrink het, neem die man ‘n goue ring, ‘n
halfsikkel in gewig, en twee armbande vir haar hande, tien sikkels goud in gewig.
23 En hy sê: Wie se dogter is jy? Vertel my tog. Is daar plek vir ons in die
huis van jou vader om te vernag?
24 Toe antwoord sy hom: Ek is die dogter van Bétuel, die seun van Milka wat sy
vir Nahor gebaar het.
25 Verder sê sy vir hom: Daar is ook strooi en voer in oorvloed by ons, ook plek
om te vernag.
26 Toe buig die man hom neer en aanbid YAHUVEH
27 met die woorde: Geloofd sy YAHUVEH, ELOHIM van Abraham, my heer, wat sy
goedertierenheid en sy trou aan my heer nie onttrek het nie. Wat my aangaan,
YAHUVEH het my op die weg gelei na die huis van die broers van my heer.
28 Daarna het die dogter geloop en in die huis van haar moeder vertel wat daar
gebeur het.
29 En Rebekka het ‘n broer gehad met die naam van Laban, en Laban het uitgeloop
na die man buite by die fontein.
30 Want toe hy die ring en die armbande aan die hande van sy suster sien en die
woorde van sy suster Rebekka hoor, naamlik: So het die man met my gespreek—het
hy na die man gegaan, terwyl hy nog daar staan by die kamele by die fontein,
31 en gesê: Kom in, geseënde van YAHUVEH! Waarom staan jy buitekant terwyl ek
die huis reggemaak het en ook plek vir die kamele?
32 En die man het in die huis ingekom—die kamele is afgesaal en vir die kamele
is strooi en voer gegee, en water om sy voete te was en die voete van die manne
wat by hom was.
33 Daarop het hulle ete voor hom neergesit; maar hy het gesê: Ek sal nie eet
voordat ek my saak voorgedra het nie. En hy antwoord: Spreek maar.
34 Toe sê hy: Ek is die dienaar van Abraham.
35 En YAHUVEH het my heer baie geseën, sodat hy groot geword het, en aan hom
kleinvee en beeste, silwer en goud, slawe en slavinne en kamele en esels gegee.
36 En Sara, die vrou van my heer, het vir my heer ‘n seun gebaar nadat sy al oud
was; en hy het aan hom alles oorgegee wat hy besit.
37 En my heer het my laat sweer en gesê: Jy moet vir my seun geen vrou neem uit
die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie;
38 maar jy moet gaan na die huis van my vader en na my geslag en vir my seun ‘n
vrou gaan haal.
39 Toe het ek aan my heer gesê: Miskien sal die vrou my nie volg nie.
40 Maar hy het my geantwoord: YAHUVEH voor wie se aangesig ek gewandel het, sal
sy engel met jou saamstuur, en Hy sal jou weg voorspoedig maak, sodat jy vir my
seun ‘n vrou uit my geslag en uit die huis van my vader kan gaan haal.
41 Dan sal jy ontslae wees van die eed aan my: as jy by my geslag kom en hulle
haar aan jou nie wil gee nie, dan is jy ontslae van die eed aan my.
42 Ek het toe vandag by die fontein gekom en gesê: YAHUVEH, ELOHIM van Abraham,
my heer, as U dan my weg waar ek op gaan, voorspoedig wil maak—
43 ek staan hier by die fontein laat dit nou tog gebeur: die jongmeisie wat
uitkom om te skep en aan wie ek sal sê: Laat my tog ‘n bietjie water uit jou
kruik drink—
44 en wat my sal antwoord: Drink u self, en ook vir u kamele sal ek skep—sy is
die vrou wat YAHUVEH vir die seun van my heer bestem het.
45 Ek het nog nie klaar in my hart gespreek nie of daar het Rebekka uitgekom met
haar kruik op die skouer en na die fontein afgedaal en geskep. Ek het toe vir
haar gesê: Laat my tog drink!
46 En sy het dadelik haar kruik van haar laat afsak en gesê: Drink, en ek sal u
kamele ook laat drink. En ek het gedrink, en sy het ook die kamele laat drink.
47 Toe vra ek haar en sê: Wie se dogter is jy? En sy antwoord: Die dogter van
Bétuel, die seun van Nahor wat Milka vir hom gebaar het. Daarop het ek die ring
aan haar neus gesit en die armbande aan haar hande,
48 en ek het my in aanbidding neergebuig voor YAHUVEH en YAHUVEH geloof, die
ELOHIM van Abraham, my heer, wat my op die regte weg gelei het om die dogter van
my heer se broer vir sy seun te gaan haal.
49 As julle dan nou guns en trou aan my heer wil bewys, sê dit vir my; en so nie,
sê dit vir my, dat ek regs of links kan gaan.
50 Toe antwoord Laban en Bétuel en sê: Van YAHUVEH kom die saak; ons kan jou
daar geen kwaad of goed van spreek nie.
51 Daar staan Rebekka voor jou, neem haar en gaan heen, dat sy ‘n vrou kan wees
vir die seun van jou heer, soos YAHUVEH gespreek het.
52 Toe die dienaar van Abraham hulle woorde hoor, het hy hom voor YAHUVEH
neergebuig na die aarde toe.
53 Daarna het die dienaar silwer— en goue goed en klere uitgehaal en dit aan
Rebekka gegee; ook aan haar broer en haar moeder het hy kosbare geskenke gegee.
54 En hulle het geëet en gedrink, hy en die manne wat by hom was, en die nag
oorgebly. Toe hulle die môre vroeg opgestaan het, sê hy: Laat my trek na my heer!
55 Maar haar broer en haar moeder sê: Laat die dogter ‘n dag of tien by ons bly;
daarna kan jy heengaan.
56 Maar hy antwoord hulle: Moet my nie ophou nie aangesien YAHUVEH my weg
voorspoedig gemaak het; laat my trek, dat ek na my heer kan gaan.
57 Toe sê hulle: Laat ons die dogter roep en haar self vra.
58 En hulle het Rebekka geroep en haar gevra: Wil jy met hierdie man saamgaan?
En sy antwoord: Ja.
59 Daarop het hulle Rebekka, hulle suster, en haar oppasser laat trek saam met
die dienaar van Abraham en sy manne.
60 En hulle het Rebekka geseën en aan haar gesê: Ons suster, mag jy duisende van
tien duisende word, en mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem!
61 Toe het Rebekka en haar diensmeisies hulle klaargemaak en op die kamele
weggery en die man gevolg. So het die dienaar dan Rebekka saamgeneem en
weggetrek.
62 En Isak het uit die rigting van die put Lagai-Roï gekom; want hy het gaan
woon in die Suidland.
63 En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld. En toe hy sy oë
opslaan, sien hy meteens kamele aankom.
64 Rebekka het ook haar oë opgeslaan en Isak gesien. Toe het sy van die kameel
afgegly
65 en aan haar dienaar gesê: Watter man is dit wat ons tegemoetloop in die veld?
En die dienaar antwoord: Dit is my heer. Toe neem sy die sluier en bedek haar.
66 Daarop het die dienaar aan Isak alles vertel wat hy gedoen het.
67 En Isak het haar in die tent van sy moeder Sara ingebring en Rebekka geneem,
en sy het sy vrou geword; en hy het haar liefgehad. So is Isak dan getroos ná
die dood van sy moeder.
*~ Genesis Hoofstuk 25 ~*
1 En Abraham het weer ‘n vrou geneem met die naam van Ketúra.
2 En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag gebaar.
3 En Joksan was die vader van Skeba en Dedan; en die kinders van Dedan was die
Assuriete, Letusiete en Leümmiete.
4 En die seuns van Mídian was: Efa en Efer en Henog en Abída en Eldaä. Hulle
almal was seuns van Ketúra.
5 En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het,
6 maar aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee en
hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland.
7 En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy geleef het: honderd
vyf en sewentig jaar.
8 Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef.
En hy is by sy volksgenote versamel.
9 En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die
stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê,
10 die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het. Daar is Abraham
begrawe en sy vrou Sara.
11 Ná die dood van Abraham het ELOHIM sy seun Isak geseën; en Isak het gewoon by
die put Lagai-Roï.
12 En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die
Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het—
13 dit is die name van die seuns van Ismael, hulle name volgens hulle afstamming:
die eersgeborene van Ismael, Nébajot; dan Kedar en Adbeël en Mibsam
14 en Misma en Duma en Massa,
15 Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma.
16 Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers,
twaalf vorste volgens hulle volkstamme.
17 En dit is die lewensjare van Ismael: honderd sewe en dertig jaar; en hy het
die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote.
18 En hulle het gewoon van Háwila tot by Sur wat oos van Egipte lê in die
rigting van Assur. Teenoor al sy broers het hy hom gevestig.