Shabbat Shalom!
Re’eh - Kyk / Aanskou
- hierdie week se Torah lees.


Deuteronomium 11:26–16:17

11

26 Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor—
27 die seën as julle luister na die gebooie van YAHUVEH julle ELOHIM wat ek julle vandag beveel;
28 en die vloek as julle nie luister na die gebooie van YAHUVEH julle ELOHIM nie, maar afwyk van die weg wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop wat julle nie geken het nie.
29 As dan YAHUVEH jou ELOHIM jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, moet jy die seën op die berg Gerísim lê en die vloek op die berg Ebal.
30 Lê hulle nie oorkant die Jordaan, agter die pad in die weste, in die land van die Kanaäniete wat in die Vlakte woon, teenoor Gilgal, by die terpentynbome van More nie?
31 Want julle trek deur die Jordaan om die land in besit te gaan neem wat YAHUVEH julle ELOHIM aan julle sal gee; en julle sal dit in besit neem en daarin woon.
32 Onderhou dan sorgvuldiglik al die insettinge en die verordeninge wat ek julle vandag voorhou.

*~Deuteronomium Hoofstuk 12~*


1 Dit is die insettinge en die verordeninge wat julle sorgvuldig moet hou in die land wat YAHUVEH, die ELOHIM, van jou vaders, jou gegee het om dit in besit te neem al die dae wat julle op die aarde lewe.
2 Julle moet terdeë verniel al die plekke waar die nasies wat julle gaan verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge en op die heuwels en onder elke groen boom.
3 En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn.
4 So mag julle nie doen met YAHUVEH julle ELOHIM nie;
5 maar die plek wat YAHUVEH julle ELOHIM uit al julle stamme sal uitkies om sy Naam daar te vestig om daar te woon, moet julle opsoek en daarheen moet jy kom.
6 En daarheen moet julle jul brandoffers bring en julle slagoffers en julle tiendes en die offergawe van julle hand en julle gelofte— en julle vrywillige offers en die eersgeborenes van julle beeste en van julle kleinvee.
7 En daar moet julle voor die aangesig van YAHUVEH julle ELOHIM eet en vrolik wees, julle en jul huisgesinne, oor alles waar julle jul hand aan slaan, waarin YAHUVEH jou ELOHIM jou geseën het.
8 Julle moet nie doen net soos ons vandag hier doen nie—elkeen net maar wat reg is in sy eie oë.
9 Want julle het nog nie gekom in die rusplek en in die erfenis wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee nie.
10 Maar julle sal deur die Jordaan trek en woon in die land wat YAHUVEH julle ELOHIM julle laat erwe, en Hy sal julle rus gee van al julle vyande rondom, en julle sal veilig woon.
11 Dan moet julle na die plek wat YAHUVEH julle ELOHIM sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, alles bring wat ek julle beveel: julle brandoffers en julle slagoffers, julle tiendes en die offergawe van julle hand en al julle keurgelofte-offers wat julle YAHUVEH sal belowe.
12 En julle moet vrolik wees voor die aangesig van YAHUVEH julle ELOHIM, julle en julle seuns en julle dogters en julle slawe en julle slavinne en die Leviet wat in julle poorte is, want hy het geen deel of erfenis saam met julle nie.
13 Neem jou in ag dat jy jou brandoffers nie bring op elke plek wat jy sien nie.
14 Maar op die plek wat YAHUVEH in een van jou stamme sal uitkies, daar moet jy jou brandoffers bring en daar alles doen wat ek jou beveel.
15 Maar na hartelus mag jy slag en vleis eet ooreenkomstig die seën van YAHUVEH jou ELOHIM wat Hy jou in al jou poorte gee; die onreine en die reine mag daarvan eet, soos van die gemsbok en die takbok.
16 Net die bloed mag julle nie eet nie; jy moet dit soos water op die grond uitgooi.
17 Jy mag in jou poorte nie eet die tiendes van jou koring en jou mos en jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en jou kleinvee en al jou gelofte-offers wat jy sal belowe, en jou vrywillige offers en die offergawe van jou hand nie.
18 Maar jy moet dit eet voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM op die plek wat YAHUVEH jou ELOHIM sal uitkies, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is; en jy moet vrolik wees voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM oor alles waar jy jou hand aan slaan.
19 Neem jou in ag dat jy die Leviet nie aan sy lot oorlaat solank as jy in jou land lewe nie.
20 As YAHUVEH jou ELOHIM jou grondgebied uitbrei, soos Hy jou beloof het, en jy sê: Ek wil vleis eet—omdat jy lus het om vleis te eet—dan mag jy na hartelus vleis eet.
21 As die plek wat YAHUVEH jou ELOHIM sal uitkies om sy Naam daar te vestig, ver van jou af is, dan mag jy van jou beeste en jou kleinvee slag wat YAHUVEH jou gee, soos ek jou beveel het; en jy mag na hartelus in jou poorte eet.
22 Maar soos die gemsbok en die takbok geëet word, so moet jy dit eet; die onreine en die reine moet dit saam eet.
23 Bly daar net vas by dat jy die bloed nie eet nie, want die bloed is die siel, en jy mag die siel nie saam met die vleis eet nie.
24 Jy mag dit nie eet nie; op die grond moet jy dit uitgooi soos water.
25 Jy mag dit nie eet nie, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan as jy doen wat reg is in die oë van YAHUVEH.
26 Net jou heilige gawes wat jy het, en jou gelofte-offers moet jy neem en na die plek kom wat YAHUVEH sal uitkies;
27 en jy moet jou brandoffers, die vleis en die bloed, berei op die altaar van YAHUVEH jou ELOHIM, en die bloed van jou slagoffers moet teen die altaar van YAHUVEH jou ELOHIM uitgegiet word; maar die vleis moet jy eet.
28 Luister sorgvuldig na al hierdie woorde wat ek jou beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan tot in ewigheid, as jy doen wat goed en reg is in die oë van YAHUVEH jou ELOHIM.
29 As YAHUVEH jou ELOHIM die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon,
30 neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? —dat ek ook so kan doen.
31 So mag jy nie handel met YAHUVEH jou ELOHIM nie; want alles wat vir YAHUVEH ‘n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode.
32 Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.

*~Deuteronomium Hoofstuk 13~*


1 As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig,
2 en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien,
3 dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want YAHUVEH jou ELOHIM beproef julle om te weet of julle werklik YAHUVEH jou ELOHIM liefhet met julle hele hart en met julle hele siel.
4 Julle moet YAHUVEH julle ELOHIM navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang.
5 Maar dié profeet of dié man wat as dromer optree, moet gedood word, want hy het afval verkondig van YAHUVEH julle ELOHIM wat julle uit Egipteland uitgelei en jou uit die slawehuis verlos het, deur jou af te drywe van die weg wat YAHUVEH jou ELOHIM jou beveel het om daarop te wandel. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
6 As jou broer, die seun van jou moeder, of jou seun of dogter of die vrou wat jy liefhet, of jou vriend wat soos jou eie siel is, jou in die geheim verlok en sê: Laat ons gaan en ander gode dien—wat jy en jou vaders nie geken het nie,
7 uit die gode van die volke wat rondom julle is, naby jou of ver van jou af; van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde—
8 dan moet jy nie inwillig en na hom nie luister nie; ook mag jou oog hom nie verskoon nie, en jy mag jou nie ontferm en niks om sy ontwil wegsteek nie,
9 maar jy moet hom sekerlik doodmaak; jou hand moet eerste teen hom wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk.
10 En jy moet hom stenig, dat hy sterwe; want hy het probeer om jou weg te drywe van YAHUVEH jou ELOHIM wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.
11 En die hele Israel sal dit hoor en vrees, en hulle sal nie meer so ‘n verkeerde ding by jou doen nie.
12 As jy in een van jou stede wat YAHUVEH jou ELOHIM jou gee om daar te woon, hoor sê:
13 Deugniete het by jou opgetree en die inwoners van hulle stad verlei deur te sê: Laat ons gaan en ander gode dien—wat julle nie geken het nie—
14 dan moet jy terdeë ondersoek en naspeur en uitvra, en as dit waarheid is, staan die saak vas, is hierdie gruwel by jou gedoen,
15 dan moet jy die inwoners van dié stad sekerlik verslaan met die skerpte van die swaard deur dit met die banvloek te tref en alles wat daarin is, ook die vee, met die skerpte van die swaard.
16 En al die buit daarvan moet jy op die stadsplein bymekaarbring en die stad en al die buit as voloffer met vuur verbrand aan YAHUVEH jou ELOHIM; en dit moet vir ewig ‘n puinhoop wees, dit mag nie weer opgebou word nie.
17 Ook mag daar niks van wat bangoed is, aan jou hand bly kleef nie, sodat YAHUVEH Hom van die gloed van sy toorn kan afwend en aan jou barmhartigheid kan bewys en Hom oor jou ontferm en jou vermenigvuldig, soos Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het—
18 as jy luister na die stem van YAHUVEH jou ELOHIM om al sy gebooie te hou wat ek jou vandag beveel, deur te doen wat reg is in die oë van YAHUVEH jou ELOHIM.

*~Deuteronomium Hoofstuk 14~*

1 Julle is kinders van YAHUVEH julle ELOHIM; julle mag julle ter wille van ‘n dooie nie stukkend kerwe of ‘n kaalte tussen julle oë maak nie.
2 Want jy is ‘n volk heilig aan YAHUVEH julle ELOHIM, en jou het YAHUVEH uitverkies om sy eiendomsvolk te wees uit al die volke wat op die aarde is.
3 Jy mag niks eet wat ‘n gruwel is nie.
4 Dit is die diere wat julle mag eet: ‘n bees, ‘n skaap en ‘n bok;
5 ‘n takbok en ‘n gemsbok en ‘n gestippelde takbok en ‘n steenbok en ‘n ribbok en ‘n eland en ‘n klipspringer;
6 en al die diere wat gesplitste kloue het, en wel heeltemal in twee gesplitste kloue, en herkou onder die diere—dié mag julle eet.
7 Maar die volgende mag julle nie eet nie van die wat herkou en van die wat die gesplitste kloue het: die kameel en die haas en die das, want hulle herkou maar het geen gesplitste kloue nie—onrein is hulle vir julle;
8 ook die vark, want hy het gesplitste kloue, maar is geen herkouer nie—onrein is hy vir julle. Van hulle vleis mag julle nie eet en hulle aas mag julle nie aanraak nie.
9 Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het, mag julle eet.
10 Maar alles wat geen vinne en skubbe het nie, mag julle nie eet nie—onrein is dit vir julle.
11 Al die rein voëls mag julle eet.
12 Maar dit is wat julle uit hulle nie mag eet nie: die arend en die lammervanger en die aasvoël;
13 en die kuikendief en die valk en die gier na sy soorte;
14 en elke kraai na sy soorte;
15 en die volstruis en die naguil en die seemeeu en die kleinvalk na sy soorte;
16 en die steenuil en die steunuil en die silweruil;
17 en die pelikaan en die kleinaasvoël en die visvanger;
18 en die groot-sprinkaanvoël en die reier na sy soorte, en die hoep-hoep en die vlermuis.
19 En al die insekte met vlerke moet vir julle onrein wees; hulle mag nie geëet word nie.
20 Al die rein voëls mag julle eet.
21 Julle mag geen aas eet nie; vir die vreemdeling wat in jou poorte is, kan jy dit gee, dat hy dit eet, of jy kan dit aan ‘n uitlander verkoop; want jy is ‘n heilige volk aan YAHUVEH jou ELOHIM. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.
22 Jy moet noukeurig die hele opbrings van jou saad—wat jaar vir jaar uit die land uitspruit—vertien.
23 En jy moet voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM op die plek wat Hy sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat jy kan leer om YAHUVEH jou ELOHIM altyd te vrees.
24 En as die pad vir jou te lank is, as jy dit nie kan vervoer nie, omdat die plek wat YAHUVEH jou ELOHIM sal uitkies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou af is, as YAHUVEH jou ELOHIM jou sal seën,
25 dan moet jy dit tot geld maak en die geld in jou hand bind en na die plek gaan wat YAHUVEH jou ELOHIM sal uitkies.
26 Dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM en vrolik wees, jy en jou huis.
27 Maar die Leviet wat in jou poorte is, hom moet jy nie aan sy lot oorlaat nie, want hy het geen deel of erfenis saam met jou nie.
28 Aan die einde van drie jaar moet jy uitbring al die tiendes van jou opbrings in dié jaar en dit in jou poorte wegsit;
29 dan moet die Leviet kom—omdat hy geen deel of erfenis saam met jou het nie—en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is, en hulle moet eet en versadig word, sodat YAHUVEH jou ELOHIM jou kan seën in al die werk van jou hand wat jy doen.

*~Deuteronomium Hoofstuk 15~*

1 Aan die einde van sewe jaar moet jy ‘n kwytskelding laat plaasvind.
2 En dit is die saak van die kwytskelding: elke skuldeiser moet kwytskeld wat hy aan sy naaste geleen het; hy moet sy naaste en sy broer nie aanmaan nie, want tot eer van YAHUVEH is daar ‘n kwytskelding uitgeroep.
3 Die uitlander mag jy aanmaan; maar wat jy by jou broer het, moet jou hand kwytskeld.
4 Maar daar moet geen arme by jou wees nie, want YAHUVEH sal jou ryklik seën in die land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem;
5 as jy net goed luister na die stem van YAHUVEH jou ELOHIM om sorgvuldig te hou al hierdie gebooie wat ek jou vandag beveel.
6 Want YAHUVEH jou ELOHIM seën jou soos Hy jou beloof het, sodat jy aan baie nasies sal uitleen, maar self nie hoef te leen nie; en jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie.
7 As daar by jou ‘n arme is, een uit jou broers, in een van jou poorte, in jou land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee, dan moet jy jou hart nie verhard en jou hand nie toehou vir jou arm broer nie.
8 Maar jy moet jou hand wyd oopmaak vir hom, en jy moet gewillig aan hom leen, genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek.
9 Neem jou in ag, dat daar in jou hart geen slegte gedagte is nie, naamlik: Die sewende jaar, die jaar van kwytskelding, is naby—en jou oog dan jou arm broer skeef aankyk, en jy hom niks gee nie, en hy teen jou na YAHUVEH roep, en dit sonde in jou word.
10 Jy moet aan hom gewillig gee, en jou hart moet nie bedroef wees as jy aan hom gee nie; want ter wille hiervan sal YAHUVEH jou ELOHIM jou seën in al jou werk en in alles waar jy jou hand aan slaan.
11 Want die arme sal in die land nie ontbreek nie; daarom gee ek jou bevel en sê: Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou land.
12 As jou broer, ‘n Hebreeuse man of ‘n Hebreeuse vrou, hom aan jou verkoop, moet hy jou ses jaar lank dien; maar in die sewende jaar moet jy hom as vryman van jou laat weggaan.
13 En as jy hom as vryman van jou laat weggaan, moet jy hom nie met leë hande laat weggaan nie.
14 Jy moet hom ‘n behoorlike voorraad saamgee van jou kleinvee en jou dorsvloer en jou wyn pers; waarin YAHUVEH jou ELOHIM jou geseën het, daarvan moet jy aan hom gee.
15 En jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf in Egipteland was, en dat YAHUVEH jou ELOHIM jou verlos het; daarom beveel ek jou vandag hierdie saak.
16 Maar as hy vir jou sê: Ek wil nie van jou weggaan nie—aangesien hy jou en jou huis liefhet, omdat dit vir hom goed was by jou—
17 dan moet jy ‘n els neem en dit deur sy oor en in die deur steek, sodat hy vir altyd jou slaaf word; en ook met jou slavin moet jy net so doen.
18 Dit moet nie hard in jou oë wees as jy hom as vry man van jou laat weggaan nie, want die dubbele loon van ‘n dagloner het hy vir jou ses jaar lank ingedien; en YAHUVEH jou ELOHIM sal jou seën in alles wat jy doen.
19 Al die eersgeborenes van die manlike geslag wat onder jou beeste en onder jou kleinvee aankom, moet jy aan YAHUVEH jou ELOHIM heilig; jy mag nie werk met die eersgeborene van jou beeste, en die eersgeborene van jou kleinvee nie skeer nie.
20 Voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM moet jy dit jaar vir jaar eet op die plek wat YAHUVEH sal uitkies, jy en jou huis.
21 Maar as daar ‘n liggaamsgebrek aan is—lam of blind, enige lelike gebrek—dan moet jy dit nie aan YAHUVEH jou ELOHIM offer nie;
22 in jou poorte mag jy dit eet, die onreine en die reine saam, soos die gemsbok en die takbok.
23 Net die bloed mag jy nie eet nie; jy moet dit op die grond uitgooi soos water.

*~Deuteronomium Hoofstuk 16~*


1 Onderhou die maand Abib en hou pasga vir YAHUVEH jou ELOHIM; want in die maand Abib het YAHUVEH jou ELOHIM jou in die nag uit Egipte uitgelei.
2 En jy moet vir YAHUVEH jou ELOHIM as pasga kleinvee en beeste slag, op die plek wat YAHUVEH sal uitkies om sy Naam daar te laat woon.
3 Jy mag geen gesuurde brood daarby eet nie; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode daarby eet, brood van ellende—want baie haastig het jy uit Egipteland uitgetrek—sodat jy al die dae van jou lewe die dag van jou uittog uit Egipteland in gedagtenis kan hou.
4 En daar mag by jou sewe dae lank geen suurdeeg in jou hele grondgebied gesien word nie; ook mag niks van die vleis wat jy die eerste dag in die aand slag, tot die môre toe oorbly nie.
5 Jy mag die pasga nie slag in een van jou poorte wat YAHUVEH jou ELOHIM aan jou gee nie.
6 Maar op die plek wat YAHUVEH jou ELOHIM sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, moet jy die pasga slag, in die aand teen sononder, op die tyd van jou uittog uit Egipte.
7 Dan moet jy dit kook en eet op die plek wat YAHUVEH jou ELOHIM sal uitkies; daarna moet jy in die môre omdraai en na jou tente gaan.
8 Ses dae lank moet jy ongesuurde brode eet, en op die sewende dag is daar ‘n feestyd vir YAHUVEH jou ELOHIM; dan mag jy geen werk doen nie.
9 Sewe weke moet jy tel; vandat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan geslaan word, moet jy sewe weke begin tel.
10 Dan moet jy die fees van die weke hou vir YAHUVEH jou ELOHIM ooreenkomstig die vrywillige offer van jou hand wat jy sal gee, namate YAHUVEH jou ELOHIM jou sal seën.
11 En jy moet vrolik wees voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is, en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat by jou is, op die plek wat YAHUVEH jou ELOHIM sal uitkies om sy Naam daar te laat woon.
12 En jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf in Egipte was; en jy moet hierdie insettinge sorgvuldig hou.
13 Die huttefees moet jy sewe dae lank hou as jy van jou dorsvloer en jou wynpers insameling hou.
14 En jy moet vrolik wees op jou fees, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is.
15 Sewe dae lank moet jy vir YAHUVEH jou ELOHIM fees hou op die plek wat YAHUVEH sal uitkies; want YAHUVEH jou ELOHIM sal jou seën in al jou inkomste en in al die werk van jou hande; en jy moet net maar vrolik wees.
16 Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van YAHUVEH verskyn nie;
17 elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van YAHUVEH jou ELOHIM wat Hy jou gegee het.