Shabbat Shalom!
Rosh HaShanah / Begin Van Die Jaar
- hierdie week se Torah lees.


Genesis 21:1-22:24; Numeri 29:1-6

21

1 En YAHUVEH het Sara besoek soos Hy beloof het; en YAHUVEH het aan Sara gedoen soos Hy gespreek het:
2 Sara het bevrug geword en vir Abraham in sy ouderdom ‘n seun gebaar op di6e bepaalde tyd wat ELOHIM genoem het.
3 En Abraham het sy seun wat vir hom gebore is, wat Sara vir hom gebaar het, Isak genoem.
4 En Abraham het sy seun Isak besny toe hy agt dae oud was, soos ELOHIM hom beveel het.
5 En Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak vir hom gebore is.
6 En Sara het gesê: ‘n Gelag het ELOHIM my berei: elkeen wat dit hoor, sal oor my lag.
7 Verder sê sy: Wie kon ooit aan Abraham voorspel het: Sara soog kinders? Want ek het ‘n seun gebaar in sy ouderdom.
8 En die kind het opgegroei en is gespeen. En Abraham het ‘n groot maaltyd berei op die dag toe Isak gespeen is.
9 Toe sien Sara hoe die seun van Hagar, die Egiptiese slavin, wat sy vir Abraham gebaar het, spot;
10 en sy sê aan Abraham: Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie. (Gal 4:22-26)
11 En die woord was baie verkeerd in die oë van Abraham vanweë sy seun.
12 Maar ELOHIM het aan Abraham gesê: Laat dit nie verkeerd wees in jou oë ter wille van die seun en van jou slavin nie. Luister na Sara in alles wat sy van jou verlang, want deur Isak sal daar vir jou ‘n nageslag genoem word.
13 Maar Ek sal ook die seun van die slavin tot ‘n nasie maak, omdat hy jou kind is.
14 Toe is Abraham die môre vroeg op, en hy het brood en ‘n sak met water geneem en dit aan Hagar gegee deur dit op haar skouer te sit, en ook die kind, en haar weggestuur. Sy het toe weggegaan en rondgedwaal in die woestyn van Berséba.
15 En toe die water in die sak op was, het sy die kind onder een van die bosse neergewerp
16 en geloop en op ‘n afstand gaan sit so ver as ‘n boog kan skiet; want sy het gesê: Ek wil die dood van die kind nie aansien nie. En sy het op ‘n afstand gaan sit en haar stem verhef en geween.
17 Toe hoor ELOHIM die stem van die seun, en die Engel van ELOHIM het na Hagar geroep uit die hemel en haar gevra: Wat is dit met jou, Hagar? Wees nie bevrees nie, want ELOHIM het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is.
18 Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want Ek sal hom ‘n groot nasie maak.
19 Daarop het ELOHIM haar oë geopen, en sy sien ‘n put! En sy het geloop en die sak vol water gemaak en die seun laat drink.
20 En ELOHIM was met die seun; en hy het opgegroei en in die woestyn gewoon en ‘n boogskutter geword:
21 hy het in die woestyn Paran gewoon; en sy moeder het vir hom ‘n vrou uit Egipteland geneem.
22 In dié tyd het Abiméleg en Pigol, sy leërowerste, met Abraham gespreek en gesê: ELOHIM is met jou in alles wat jy doen.
23 Sweer dan nou vir my hier by ELOHIM dat jy met my en my kroos en my nageslag nie vals sal handel nie; dieselfde guns wat ek jou bewys het, moet jy aan my bewys en aan die land waarin jy as vreemdeling vertoef.
24 En Abraham antwoord: Ek sweer.
25 Maar Abraham het Abiméleg aangespreek oor ‘n put wat die dienaars van Abiméleg met geweld geneem het.
26 Daarop antwoord Abiméleg: Ek weet nie wie dit gedoen het nie, en jy het my dit ook nie meegedeel nie, en ek het daar ook niks van gehoor nie as net vandag.
27 Toe neem Abraham kleinvee en beeste en gee dit aan Abiméleg; en hulle twee het ‘n verbond gesluit;
28 Abraham het naamlik die sewe ooilammers van die kleinvee eenkant uitgekeer.
29 Toe sê Abiméleg vir Abraham: Wat beteken hierdie sewe ooilammers wat jy uitgekeer het?
30 En hy antwoord: Die sewe ooilammers moet jy uit my hand aanneem, sodat dit vir my ‘n getuienis kan wees dat ek hierdie put gegrawe het.
31 Daarom noem hulle dié plek Berséba, omdat hulle twee daar gesweer het.
32 So het hulle dan ‘n verbond gesluit in Berséba. Daarna het Abiméleg en Pigol, sy leërowerste, klaargemaak en na die land van die Filistyne teruggegaan.
33 En hy het ‘n tamarisk in Berséba geplant en daar die Naam van YAHUVEH, die ewige EL OLAM, aangeroep.
34 En Abraham het baie dae as vreemdeling in die land van die Filistyne vertoef.

*~Genesis Hoofstuk 22~*


1 Ná hierdie dinge het ELOHIM Abraham op die proef gestel en aan hom gesê: Abraham! En hy antwoord: Hier is ek!
2 Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys. (2 Kron 3:1)
3 Daarop het Abraham die môre vroeg klaargemaak en sy esel opgesaal en twee van sy dienaars en sy seun Isak saam met hom geneem; en hy het hout gekloof vir ‘n brandoffer en opgestaan en na die plek gegaan wat ELOHIM hom aangewys het.
4 Op die derde dag toe slaan Abraham sy oë op en sien die plek van ver af.
5 En Abraham sê aan sy dienaars: Bly julle hier met die esel; ek en die seun wil daarheen gaan om te aanbid en dan na julle terugkom.
6 En Abraham het die hout vir die brandoffer geneem en dit op sy seun Isak gesit, en die vuur en die mes in sy hand geneem. So het hulle twee dan saam geloop.
7 Toe spreek Isak met sy vader Abraham en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek, my seun! En hy sê: Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir ‘n brandoffer?
8 En Abraham antwoord: ELOHIM sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun. So het hulle twee dan saam geloop.
9 Toe hulle kom op die plek wat ELOHIM hom aangewys het, het Abraham daar die altaar gebou en die hout reggelê; daarna het hy sy seun Isak gebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit.
10 Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag.
11 Maar die Engel van YAHUVEH het na hom van die hemel af geroep en gesê: Abraham, Abraham! En hy antwoord: Hier is ek!
12 En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy ELOHIM vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.
13 En toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens ‘n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. En Abraham het gegaan en die ram geneem en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer.
14 En Abraham het dié plek genoem: YAHUVEH YIREH YAHUVEH sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: Op die berg van YAHUVEH sal dit voorsien word.
15 Toe roep die Engel van YAHUVEH vir die tweede keer na Abraham van die hemel af
16 en sê: Ek sweer by Myself, spreek YAHUVEH, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie,
17 dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. (Ex 32:13, Gen 26:5)
18 En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het. (Gen 12:2-3)
19 En Abraham het na sy dienaars teruggekeer; en hulle het klaargemaak en saam na Berséba gegaan. En Abraham het in Berséba bly woon.
20 Ná hierdie dinge het hulle aan Abraham berig gebring en gesê: Kyk, Milka het ook vir jou broer Nahor seuns gebaar:
21 Us, sy eersgeborene, en Bus, sy broer, en Kémuel, die vader van Aram,
22 ook Kesed en Haso en Pildas en Jidlaf en Bétuel.
23 (En Bétuel was die vader van Rebekka.) Hierdie agt het Milka vir Nahor, die broer van Abraham, gebaar.
24 En sy byvrou met die naam van Reüma, sy het ook Tebag en Gaham en Tahas en Máäga gebaar.

Numeri 29:1-6


1 En in die sewende maand, op die eerste van die maand, moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie; dit moet vir julle ‘n dag van trompetgeklank wees.
2 Dan moet julle ‘n brandoffer as lieflike geur vir YAHUVEH berei: een jong bul, een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek;
3 en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes van ‘n efa vir die bul, twee-tiendes vir die ram,
4 en een-tiende vir elke lam van die sewe lammers;
5 en een bokram as sondoffer om vir julle versoening te doen;
6 behalwe die brandoffer van die nuwemaan en die spysoffer wat daarby behoort, en die voortdurende brandoffer en die spysoffer wat daarby behoort, en hulle drankoffers volgens die daarvoor geldende voorskrif—tot ‘n lieflike geur, ‘n vuuroffer aan YAHUVEH.