54
1 Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie! Breek uit in gejubel en juig, jy
wat geen weë gehad het nie! Want die kinders van die eensame is meer as die
kinders van die getroude, sê YAHUVEH.
2 Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings
oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in.
3 Want jy sal regs en links uitbreek, en jou nageslag sal nasies in besit neem
en verwoeste stede bevolk.
4 Wees nie bevrees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie; en vrees geen skande
nie, want jy sal nie nodig hê om te bloos nie; maar jy sal die skande van jou
jonkheid vergeet en aan die smaad van jou weduweeskap nie meer dink nie.
5 Want jou Maker is jou Man; YAHUVEH-[Tzva'ot] van die leërskare is sy Naam; en
die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde
genoem word.
6 Want soos ‘n verlate vrou en ‘n bedroefde van gees het YAHUVEH jou geroep, en
soos ‘n vrou uit die jeugtyd as sy versmaad was, sê jou God.
7 Vir ‘n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou
vergader.
8 In ‘n uitstorting van toorn het Ek vir ‘n oomblik my aangesig vir jou verberg,
maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê YAHUVEH, jou Verlosser.
9 Soos in die dae van Noag is dit vir My: soos Ek gesweer het dat die waters van
Noag nie meer oor die aarde sou gaan nie, so het Ek gesweer dat Ek nie op jou
toornig sal wees of jou sal dreig nie.
10 Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou
nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê YAHUVEH, jou Ontfermer.
11 Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in
sierklei, en Ek grondves jou in saffiere;
12 en jou borswerings maak Ek van robyne en jou poorte van karbonkels en jou
hele ringmuur van edelgesteentes.
13 En al jou kinders sal deur YAHUVEH geleer wees, en die vrede van jou kinders
sal groot wees.
14 Deur geregtigheid sal jy bevestig word; wees ver van verdrukking, want jy
hoef nie bevrees te wees nie; en ver van verskrikking, want dit sal nie by jou
kom nie.
15 As hulle ook die aanval begin—dit is nie uit My nie; wie jou aanval, sal oor
jou val.
16 Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring
volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.
17 Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat
teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte
van YAHUVE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek YAHUVEH.
*~ Hoofstuk 55 ~*
1 O Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop
en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!
2 Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat
nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle
siel hom in vettigheid verlustig.
3 Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met
julle ‘n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid.
4 Kyk, Ek het hom tot ‘n getuie van die volke gemaak, tot ‘n vors en ‘n gebieder
van die nasies.
5 Kyk, nasies wat jy nie geken het nie, sal jy roep; en nasies wat jou nie geken
het nie, sal na jou hardloop, ter wille van YAHUVEH jou God en van die Heilige
van Israel, omdat Hy jou verheerlik het.
1 Petrus 3:8–22
8 En eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en
ontferming, vriendelik.
9 Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën
inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan
beërwe.
10 Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir
wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie.
11 Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en
dit najaag.
12 Want die oë van YAHUVEH is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar
die aangesig van YAHUVEH is teen die kwaaddoeners.
13 En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie?
14 Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En
vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie.
15 Maar heilig YAHUVEH ELOHIM in julle harte en wees altyd bereid om
verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop
wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;
16 met behoud van ‘n goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle
kwaad spreek soos van kwaaddoeners, húlle beskaam mag word wat julle goeie
lewenswandel in Christus belaster.
17 Want dit is beter, as die wil van ELOHIM dit eis, dat julle ly wanneer julle
goed doen as wanneer julle kwaad doen.
18 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die
onregverdiges, om ons tot ELOHIM te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees,
maar lewend gemaak deur die Gees;
19 in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis,
20 wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van ELOHIM een maal gewag
het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit
is agt, siele deur water heen gered is;
21 waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die
vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot ELOHIM om ‘n goeie gewete—deur
die opstanding van YAHUSHUA die MASHIACH
22 wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van ELOHIM is, terwyl
engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.