14
1 Kyk, daar kom ‘n dag vir YAHUVEH; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in
jou verdeel word, o Jerusalem!
2 Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die
stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte
van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking
sal nie uit die stad uitgeroei word nie. (Jes 13:16, Joël 3:12)
3 En YAHUVEH sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy
stryd, die dag van oorlog.
4 En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan
die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n
baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die
ander helfte na die suide.
5 En julle sal vlug in die dal van my berge—want die dal van die berge sal loop
tot by Asal—en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die
dae van Ussía, die koning van Juda. Dan sal YAHUVEH my ELOHIM kom, al die
heiliges met U! (Mat 24:30-31)
6 En in dié dag sal daar geen lig wees nie, die sterre sal duister wees.
7 En dit sal ‘n enige dag wees wat aan YAHUVEH bekend is—geen dag en geen nag
nie; maar teen die aand sal dit lig word.
8 En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte
daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer
en winter sal dit so wees. (Op 22:1-2, Eseg 47:1-9)
9 En YAHUVEH sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal YAHUVEH een wees,
en sy Naam een.
10 Die hele land sal soos die Vlakte word, van Geba tot by Rimmon, suid van
Jerusalem; maar Jerusalem self sal hoog wees en woon op sy plek, van die poort
van Benjamin af tot by die plek van die vorige poort, tot by die Hoekpoort, en
van die toring Hanáneël tot by die parskuipe van die koning.
11 En hulle sal daarin woon, en daar sal geen banvloek meer wees nie, en
Jerusalem sal in veiligheid woon. (Lev 25:18-19)
12 En dit sal die plaag wees waarmee YAHUVEH al die volke sal tref wat opgetrek
het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog
op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong
wegteer in hulle mond.
13 En in dié dag sal ‘n groot verwarring van YAHUVEH onder hulle kom, sodat die
een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen
die hand van die ander.
14 En Juda sal ook in Jerusalem veg, en die rykdom van al die nasies rondom sal
ingesamel word: goud en silwer en klere—’n groot hoeveelheid.
15 En soos hierdie plaag is, sal die plaag wees van die perde, die muile, die
kamele en die esels en van al die diere wat in daardie laers is.
16 En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal
jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, YAHUVEH van die leërskare, en
om die huttefees te vier.
17 En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die
Koning, YAHUVEH van die leërskare, te aanbid nie—hulle sal geen reën kry nie.
18 En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal
val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee YAHUVEH die nasies tref wat
nie opgaan om die huttefees te vier nie.
19 Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie
optrek om die huttefees te vier nie.
20 In dié dag sal op die klokke van die perde staan: Heilig aan die HERE! En die
potte in die huis van YAHUVEH sal wees soos die komme voor die altaar.
21 Ja, al die potte in Jerusalem en Juda sal aan YAHUVEH van die leërskare
heilig wees; en almal wat wil offer, sal kom en daarvan neem en daarin kook; en
in dié dag sal daar geen Kanaäniet in die huis van YAHUVEH van die leërskare
meer wees nie.
Lukas 2:1–20
1 En in daardie dae het daar ‘n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele
wêreld ingeskryf moes word.
2 Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië
was.
3 En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad.
4 En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die
stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van
Dawid was,
5 om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het,
wat swanger was.
6 En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar;
7 en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die
krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
8 En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in
die nag oor hulle skape wag gehou het.
9 En meteens staan daar ‘n engel van ELOHIM by hulle, en die heerlikheid van
YAHUVEH het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig.
10 En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n
goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,
11 dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat
YAHUSHUA, die Messias, is.
12 En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke
toegedraai is en wat in die krip lê.
13 En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare
wat YAHUVEH prys en sê:
14 Eer aan YAHUVEH in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n
welbehae!
15 En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir
mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat
YAHUVEH aan ons bekend gemaak het.
16 En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die Kindjie wat in
die krip lê.
17 En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan
hulle van dié Kindjie vertel is.
18 En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan
hulle vertel is;
19 maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink.
20 En die herders het teruggegaan en YAHUVEH verheerlik en geprys oor alles wat
hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is.