Shabbat Shalom!
Shemini / Agste
- hierdie week se Torah lees.


Levitikus 9:1–11:47;

9

1 En op die agtste dag het Moses Aäron en sy seuns en die oudstes van Israel geroep
2 en aan Aäron gesê: Neem vir jou ‘n bulkalf as sondoffer en ‘n ram as brandoffer, altwee sonder gebrek; en bring hulle voor die aangesig van YAHUVEH.
3 En spreek met die kinders van Israel en sê: Neem ‘n bokram as sondoffer en ‘n kalf en ‘n lam, altwee een jaar oud, sonder gebrek, as brandoffer,
4 ook ‘n bul en ‘n ram as dankoffer om voor die aangesig van YAHUVEH te offer; en spysoffer met olie gemeng; want vandag verskyn YAHUVEH aan julle.
5 Toe het hulle voor die Tent van Samekoms gebring wat Moses beveel het. En die hele vergadering het nader gekom en gaan staan voor die aangesig van YAHUVEH.
6 En Moses het gesê: Dit is die saak wat YAHUVEH julle beveel het om te doen, sodat die heerlikheid van YAHUVEH aan julle kan verskyn.
7 En Moses het vir Aäron gesê: Kom nader na die altaar en berei jou sondoffer en jou brandoffer, en doen versoening vir jou en vir die volk, en berei die offer van die volk, en doen versoening vir hulle soos YAHUVEH beveel het.
8 Toe het Aäron na die altaar nader gekom en die sondofferkalf geslag wat vir hom bedoel was.
9 En die seuns van Aäron het die bloed na hom gebring, en hy het sy vinger in die bloed gesteek en dit aan die horings van die altaar gestryk. Daarna het hy die orige bloed aan die onderkant van die altaar uitgegiet.
10 Maar die vet en die niere en die lap aan die lewer van die sondoffer het hy op die altaar aan die brand gesteek soos YAHUVEH Moses beveel het.
11 En die vleis en die vel het hy buitekant die laer met vuur verbrand.
12 Toe het hy die brandoffer geslag, en die seuns van Aäron het vir hom die bloed aangegee, en hy het dit rondom teen die altaar uitgegooi.
13 Ook het hulle vir hom die brandoffer volgens sy stukke aangegee, met die kop, en hy het dit aan die brand gesteek op die altaar.
14 En hy het die binnegoed en die pote gewas en dit aan die brand gesteek bo op die brandoffer op die altaar.
15 Daarna het hy die offer van die volk gebring; hy het naamlik die sondofferbok geneem wat vir die volk bedoel was, en dit geslag en dit as sondoffer gebring soos tevore.
16 Verder het hy die brandoffer gebring en dit berei volgens voorskrif.
17 En hy het die spysoffer gebring en ‘n handvol daaruit geneem en dit aan die brand gesteek op die altaar, behalwe die môrebrandoffer.
18 Toe het hy die bul en die ram geslag wat vir die volk as dankoffer bedoel was; en die seuns van Aäron het vir hom die bloed aangegee wat hy toe rondom teen die altaar uitgegooi het
19 en die stukke vet van die bul, en van die ram die vetstert en die netvet en die niere en die lap aan die lewer;
20 en hulle het die stukke vet op die borsstukke gesit, en hy het die stukke vet op die altaar aan die brand gesteek.
21 Maar die borsstukke en die regterboud het Aäron as beweegoffer voor die aangesig van YAHUVEH beweeg soos Moses beveel het.
22 Daarna het Aäron sy hande na die volk toe opgehef en hulle geseën. En hy het afgeklim nadat hy die sondoffer en brandoffer en dankoffer gebring het.
23 Daarop het Moses en Aäron in die Tent van Samekoms gegaan; en toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. En die heerlikheid van YAHUVEH het aan die hele volk verskyn
24 vuur het van die aangesig van YAHUVEH uitgegaan en op die altaar die brandoffer en die stukke vet verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en op hulle aangesig geval.

*~ Levitikus Hoofstuk 10 ~*


1 En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van YAHUVEH gebring, wat HY hulle nie beveel het nie.
2 Daarop het daar vuur van die aangesig van YAHUVEH uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van YAHUVEH.
3 Toe sê Moses vir Aäron: Dit is dit wat YAHUVEH gespreek het deur te sê: In die wat naby MY is, wil EK MY as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil EK MY verheerlik. Maar Aäron het stilgebly.
4 En Moses het Mísael en Élsafan, die seuns van Ussíël, die oom van Aäron, geroep en aan hulle gesê: Kom nader, dra julle broers van die heiligdom af weg, buitekant die laer uit.
5 Toe het hulle nader gekom en hulle in hul rokke buitekant die laer uitgedra soos Moses gesê het.
6 Daarop sê Moses aan Aäron en sy seuns Eleásar en Itamar: Laat julle hare nie loshang nie en maak geen skeure in julle klere nie, dat julle nie sterwe en HY in toorn teen die hele vergadering losbreek nie. Maar julle broers, die hele huis van Israel, kan die brand beween wat YAHUVEH aangesteek het.
7 Julle mag ook uit die ingang van die Tent van Samekoms nie uitgaan nie, dat julle nie sterwe nie; want die salfolie van YAHUVEH is op julle. En hulle het gehandel ooreenkomstig die woord van Moses.
8 En YAHUVEH het met Aäron gespreek en gesê:
9 Moenie wyn of sterk drank drink nie, jy of jou seuns saam met jou as julle in die Tent van Samekoms ingaan, dat julle nie sterwe nie; ‘n ewige insetting is dit vir julle geslagte;
10 en julle moet onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig, en tussen wat onrein en wat rein is;
11 en julle moet die kinders van Israel leer al die insettinge wat YAHUVEH deur die diens van Moses aan hulle verkondig het.
12 En Moses het met Aäron gespreek en met sy seuns Eleásar en Itamar wat oorgebly het: Neem die spysoffer wat van die vuuroffers van YAHUVEH oorgebly het, en eet dit as ongesuurde koeke langs die altaar; want dit is hoogheilig.
13 Daarom moet julle dit op ‘n heilige plek eet, want dit is wat aan jou en jou seuns toekom uit die vuuroffers van YAHUVEH; want so is aan my bevel gegee.
14 Ook die beweegbors en die hefboud moet julle op ‘n rein plek eet, jy en jou seuns en jou dogters saam met jou; want as deel wat aan jou en jou seuns toekom, is hulle uit die dankoffers van die kinders van Israel gegee.
15 Die hefboud en die beweegbors moet hulle saam met die vuuroffers van die stukke vet bring om as beweegoffer voor die aangesig van YAHUVEH te beweeg; en dit sal vir jou en jou seuns saam met jou ‘n deel wees wat aan julle vir ewig toekom soos YAHUVEH beveel het.
16 En Moses het rondgesoek na die sondofferbok, maar dit was verbrand! Daarom was hy baie kwaad vir Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron wat oorgebly het; en hy het gesê:
17 Waarom het julle die sondoffer nie op ‘n heilige plek geëet nie? Want dit is hoogheilig, en HY het dit aan julle gegee om die ongeregtigheid van die vergadering weg te neem, om versoening vir hulle te doen voor die aangesig van YAHUVEH.
18 Kyk, die bloed daarvan is nie binne in die heiligdom gebring nie. Julle moes dit sekerlik in die heiligdom geëet het soos ek beveel het.
19 Toe sê Aäron vir Moses: Kyk, hulle het vandag hul sondoffer en hul brandoffer voor die aangesig van YAHUVEH gebring, en sulke dinge het my oorgekom; as ek vandag sondoffer geëet het, sou dit goed gewees het in die oë van YAHUVEH?
20 Toe Moses dit hoor, was dit goed in sy oë.

*~ Levitikus Hoofstuk 11 ~*


1 En YAHUVEH het met Moses en Aäron gespreek en aan hulle gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê: Dit is die diere wat julle mag eet van al die viervoetige diere wat op die aarde is.
3 Alles wat onder die diere gesplitste kloue het, en wel heeltemal gesplitste kloue, en herkou dit mag julle eet.
4 Maar die volgende mag julle nie eet nie van die wat herkou en van die wat gesplitste kloue het: die kameel, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie onrein is hy vir julle;
5 en die das, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie onrein is hy vir julle;
6 en die haas, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie onrein is hy vir julle;
7 ook die vark, want hy het gesplitste kloue, ja, heeltemal gesplitste kloue, maar hy herkou nie onrein is hy vir julle.
8 Van hulle vleis mag julle nie eet nie en aan hulle aas nie raak nie onrein is hulle vir julle.
9 Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het in die water, in die seë en in die riviere dit mag julle eet.
10 Maar alles wat geen vinne en skubbe het in die seë en in die riviere nie, van al die gewemel van die water en van al die lewende wesens wat in die water is ‘n gruwel is dit vir julle.
11 Ja, ‘n gruwel moet hulle vir julle wees; van hulle vleis mag julle nie eet nie, en hulle aas moet julle vir ‘n gruwel hou.
12 Alles wat geen vinne of skubbe in die water het nie ‘n gruwel is dit vir julle.
13 En die volgende moet julle van die voëls vir ‘n gruwel hou hulle mag nie geëet word nie, ‘n gruwel is hulle: die arend en die lammervanger en die aasvoël;
14 en die kuikendief en die valk volgens sy soorte;
15 elke kraai volgens sy soorte;
16 en die volstruis en die naguil en die seemeeu en die kleinvalk volgens sy soorte;
17 en die steenuil en die visvanger en die steunuil;
18 en die silweruil en die pelikaan en die klein aasvoël;
19 en die groot sprinkaanvoël, die reier volgens sy soorte, die hoep hoep en die vlermuis.
20 Al die insekte met vlerke wat op vier pote loop ‘n gruwel is hulle vir julle.
21 Maar die volgende mag julle eet van al die insekte met vlerke wat op vier pote loop: wat bokant die pote springbene het om daarmee op die grond te spring.
22 Van hulle mag julle die volgende eet: die treksprinkaan volgens sy soorte en die boomsprinkaan volgens sy soorte en die springer volgens sy soorte en die voetganger volgens sy soorte.
23 Maar al die ander insekte met vlerke wat vier pote het ‘n gruwel is hulle vir julle.
24 En deur hierdie diere word julle verontreinig elkeen wat aan hulle aas raak, sal tot die aand toe onrein wees;
25 en elkeen wat van hulle aas dra, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees
26 aan al die diere wat gesplitste kloue het, wat nie heeltemal gesplits is nie, en wat nie herkou nie. Onrein is hulle vir julle; elkeen wat aan hulle raak, sal onrein wees.
27 En alles wat op kaal pote loop onder al die viervoetige diere onrein is hulle vir julle; elkeen wat aan hulle aas raak, sal tot die aand toe onrein wees.
28 Ook hy wat hulle aas dra, moet sy klere was en sal onrein wees tot die aand toe. Onrein is hulle vir julle.
29 En die volgende is vir julle onrein onder die ongediertes wat op die aarde wemel: die mol en die muis en die akkedis volgens sy soorte,
30 en die krimpvarkie en die geitjie en die klipsalmander en die koggelmander en die verkleurmannetjie.
31 Hulle is vir julle onrein onder al die ongediertes; elkeen wat aan hulle raak as hulle dood is, sal tot die aand toe onrein wees.
32 En alles waar een van hulle op val as hulle dood is, sal onrein wees; enige houtvoorwerp of kledingstuk of vel of sak, elke ding waarmee werk gedoen word; dit moet in die water gesit word en sal tot die aand toe onrein wees; dan sal dit rein wees.
33 En elke erdevoorwerp waar een van hulle in val alles wat daarin is, sal onrein wees, en julle moet die voorwerp self stukkend breek;
34 enige voedsel wat geëet word waar water op kom, sal daarin onrein wees; en enige drank wat in so ‘n voorwerp, van watter soort ook, gedrink kan word, sal onrein wees.
35 En alles waar iets van hulle aas op val, sal onrein wees; ‘n bakoond of ‘n drievoet moet stukkend geslaan word; hulle is onrein, en onrein moet hulle vir julle wees.
36 Maar ‘n fontein of put, ‘n versamelplek van water, sal rein wees; maar hy wat aan die aas daarin raak, sal onrein wees.
37 En as van hulle aas val op enige saad wat gesaai word dit sal rein wees.
38 Maar as daar water op die saad gegooi word, en van hulle aas daarop val, dan sal dit vir julle onrein wees.
39 En as daar van die diere wat julle as voedsel dien, doodgaan, sal hy wat aan die aas raak, tot die aand toe onrein wees;
40 en hy wat van dié aas eet, moet sy klere was en sal onrein wees tot die aand toe. En hy wat dié aas dra, moet sy klere was en sal onrein wees tot die aand toe.
41 En al die ongediertes wat op die aarde wemel, is ‘n gruwel dit mag nie geëet word nie.
42 Alles wat op die buik seil en alles wat op vier pote loop, ook alles wat baie pote het, naamlik al die ongediertes wat op die aarde wemel julle mag dit nie eet nie, want dit is ‘n gruwel.
43 Moenie julle self ‘n gruwel maak deur enige ongedierte wat wemel nie: julle moet jul daaraan nie verontreinig, sodat julle daardeur onrein word nie.
44 Want EK is YAHUVEH julle ELOHIM; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want EK is heilig; daarom, verontreinig julle self nie deur enige ongedierte wat op die aarde kruip nie.
45 Want EK is YAHUVEH wat julle uit Egipteland laat optrek het om julle ELOHIM te wees. So moet julle dan heilig wees, omdat EK heilig is.
46 Dit is die wet oor die diere en die voëls en al die lewende wesens wat roer in die water en aangaande al die wesens wat op die aarde wemel,
47 om te onderskei tussen wat onrein en rein is, en tussen die diere wat geëet en die diere wat nie geëet mag word nie.