35
1 Toe het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel bymekaar laat
kom en aan hulle gesê: Dit is die woorde wat YAHUVEH beveel het, om dit te doen:
2 Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir
julle ‘n heiligheid, ‘n dag van volkome rus wees tot eer van YAHUVEH. Elkeen wat
daarop werk verrig, moet gedood word.
3 Julle mag op die sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie.
4 Verder het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek
en gesê: Dit is die saak wat YAHUVEH beveel het:
5 Neem van julle besittings ‘n offergawe aan YAHUVEH. Laat elkeen wat gewillig
is in sy hart, dit bring, die offergawe van YAHUVEH: goud en silwer en koper;
6 en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar;
7 en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout;
8 en olie vir die kandelaar en speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van
speserye;
9 en oniksstene en stene om in te lê, vir die skouerkleed en die borstas.
10 En almal wat kunsvaardig is onder julle, moet kom en alles maak wat YAHUVEH
beveel het:
11 die tabernakel, sy tent en sy dekkleed, sy hakies en sy style, sy dwarshoute,
sy pilare en sy voetstukke;
12 die ark en sy draaghoute, die versoendeksel en die voorhangsel tot bedekking;
13 die tafel met sy draaghoute en al sy gereedskap, en die Toonbrode;
14 en die kandelaar (Menorah) tot verligting, met sy gereedskap en sy lampe, en
die olie vir die kandelaar;
15 en die reukaltaar met sy draaghoute, en die salfolie en die reukwerk van
speserye, en die bedekking vir die ingang van die tabernakel;
16 die brandofferaltaar met sy traliewerk van koper, sy draaghoute en al sy
gereedskap; die waskom met sy voetstuk;
17 die behangsels van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke, en die bedekking
van die poort van die voorhof;
18 die penne van die tabernakel en die penne van die voorhof met hulle lyne;
19 die kunstige klere om in die heiligdom te dien, die heilige klere vir die
priester Aäron en die klere van sy seuns om die priesteramp te bedien.
20 Toe het die hele vergadering van die kinders van Israel van Moses af
weggegaan.
21 En elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees hom aangedryf het,
het gekom: hulle het die offergawe van YAHUVEH gebring vir die werk aan die tent
van samekoms en vir sy hele bediening en vir die heilige klere;
22 die manne het met die vroue gekom, elkeen wat gewillig van hart was; hulle
het gespes en ringe en vingerringe en halssierade, allerhande goue goed, gebring.
En elkeen wat ‘n offer van goud aan YAHUVEH gewy het,
23 en elkeen wat in besit was van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn
linne en bokhaar en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle, het dit gebring.
24 Elkeen wat ‘n offergawe van silwer of koper kon aanbied, het die offergawe
van YAHUVEH gebring; en elkeen wat akasiahout besit het, wat oral by die werk
kon gebruik word, het dit gebring.
25 En elke vrou wat kunsvaardig was, het met haar eie hande gespin en die
spinsel gebring: die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en die fyn linne.
26 En al die vroue wie se hart hulle opgewek het deur kunsvaardigheid, het die
bokhaar gespin.
27 En die owerstes het die oniksstene gebring en die stene om in te lê, vir die
skouerkleed en die borstas,
28 en die speserye en die olie vir die kandelaar en vir die salfolie en vir die
reukwerk van speserye.
29 Elke man en vrou wie se hart hulle aangedryf het om iets by te dra vir al die
werk wat YAHUVEH deur die diens van Moses beveel het om te verrig—as vrywillige
offergawe aan YAHUVEH het die kinders van Israel dit gebring.
30 Daarop het Moses aan die kinders van Israel gesê: Kyk, YAHUVEH het Besáleël,
die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, by sy naam geroep;
31 en Hy het hom met die Gees van ELOHIM vervul, met wysheid, met verstand en
met kennis en bekwaamheid vir allerhande werk;
32 en om kunstige planne uit te dink, om dié uit te voer in goud en silwer en
koper,
33 en deur snywerk in stene wat ingelê moet word, en deur houtsnywerk—om
werksaam te wees in allerhande kunsarbeid.
34 Hy het dit ook in sy hart gegee om ander te onderrig, aan hom en aan Ohóliab,
die seun van Ahísamag, van die stam van Dan.
35 Hy het hulle vervul met kunsvaardigheid om allerhande werk te maak van ‘n
ambagsman en ‘n kunstenaar en van ‘n bewerker van veelkleurige goed in pers en
purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne, en van ‘n wewer hulle wat al die
werk moes verrig en kunstige planne moes uitdink.
*~ Exodus Hoofstuk 36 ~*
1 So moet dan Besáleël en Ohóliab en elkeen wat kunsvaardig is, in wie YAHUVEH
wysheid en verstand gegee het om met kennis al die werk tot vervaardiging van
die heiligdom te verrig, dit maak net soos YAHUVEH beveel het.
2 En Moses het Besáleël en Ohóliab geroep en elkeen wat kunsvaardig was, in wie
se hart YAHUVEH wysheid gegee het; elkeen wie se hart hom opgewek het om aan die
werk te gaan om dit klaar te maak.
3 En hulle het voor die oë van Moses ontvang al die offergawes wat die kinders
van Israel vir die verrigting van die werk by die vervaardiging van die
heiligdom gebring het. Maar húlle het vir hom nog elke môre vrywillige
offergawes gebring.
4 Toe het al die kunsvaardige manne wat met al die werk by die heiligdom besig
was, man vir man, van die werk af gekom waar hulle mee besig was,
5 en hulle het met Moses gespreek en gesê: Die volk bring meer as wat nodig is
vir die uitvoering van die werk waarvan YAHUVEH die vervaardiging beveel het.
6 Daarop het Moses bevel gegee, en hulle het ‘n oproep deur die laer laat gaan
en gesê: Laat geen man of vrou verder enige werksaamheid verrig in verband met
die offergawe vir die heiligdom nie. Toe het die volk opgehou om te bring;
7 want die boustof was vir hulle genoeg om die hele werk tot stand te bring; ja,
daar het oorgebly.
8 So het dan almal wat kunsvaardig was onder die werksmense die tabernakel uit
tien tentdoeke vervaardig; uit fyn dubbeldraad-linne en pers en purperrooi en
bloedrooi stowwe, met gérubs; as kunstige werk het hy dit gemaak.
9 Die lengte van elke tentdoek was agt en twintig el en die breedte van elke
tentdoek vier el. Al die tentdoeke het een maat gehad.
10 En hy het vyf van die tentdoeke aanmekaargewerk, die een aan die ander; en
weer vyf tentdoeke het hy aanmekaargewerk, die een aan die ander.
11 En hy het lissies van pers stof gemaak aan die soom van die buitenste
tentdoek van die een stel; so het hy dit gemaak aan die soom van die laaste
tentdoek van die tweede stel.
12 Vyftig lissies het hy gemaak aan die een tentdoek, en vyftig lissies het hy
gemaak aan die rand van die tentdoek wat aan die tweede stel behoort het. Die
lissies was die een teenoor die ander.
13 Hy het ook vyftig goue hakies gemaak en die tentdoeke saamgevoeg, die een aan
die ander, met die hakies, sodat die tabernakel een geheel was.
14 Verder het hy doeke van bokhaar gemaak as ‘n tentseil oor die tabernakel: elf
tentdoeke het hy dit gemaak.
15 Die lengte van elke tentdoek was dertig el, en die breedte van elke tentdoek
vier el: die elf tentdoeke het een maat gehad.
16 En hy het vyf van die tentdoeke besonders aanmekaargewerk en ses van die
tentdoeke besonders.
17 En hy het vyftig lissies gemaak aan die soom van die laaste tentdoek van die
een stel, en vyftig lissies het hy gemaak aan die soom van die laaste tentdoek
van die tweede stel.
18 Hy het ook vyftig koperhakies gemaak om die tent saam te voeg, sodat dit een
geheel was (echad).
19 Ook het hy vir die tent ‘n dekkleed van rooigeverfde ramsvelle gemaak en daar
bo-oor ‘n dekkleed van robbevelle.
20 Hy het ook vir die tabernakel die regopstaande style van akasiahout gemaak.
21 Die lengte van die styl was tien el, en anderhalf el die breedte van elke
styl.
22 Elke styl het twee tappe gehad wat met mekaar verbind was. So het hy dit
gemaak vir al die style van die tabernakel.
23 En hy het die style vir die tabernakel gemaak: twintig style aan die
suidekant, na die suide toe.
24 En hy het veertig silwervoetstukke onder die twintig style gemaak: twee
voetstukke onder die een styl vir sy twee tappe en twee voetstukke onder die
ander styl vir sy twee tappe.
25 Hy het ook vir die ander sykant van die tabernakel, aan die noordekant,
twintig style gemaak
26 met hulle veertig silwervoetstukke: twee voetstukke onder die een styl en
twee voetstukke onder die ander styl.
27 En vir die agterkant van die tabernakel, teen die weste, het hy ses style
gemaak.
28 Ook het hy twee style vir die hoeke van die tabernakel aan die agterkant
gemaak.
29 En hulle was dubbel van onder, en net so was hulle bo dubbel tot by die
eerste ring. So het hy dit gemaak vir altwee, vir die twee hoeke.
30 So was daar dan agt style met hulle silwervoetstukke: sestien voetstukke;
twee voetstukke onder elke styl.
31 Hy het ook dwarshoute van akasiahout gemaak: vyf vir die style van die een
sykant van die tabernakel
32 en vyf dwarshoute vir die style van die ander sykant van die tabernakel; ook
vyf dwarshoute vir die style van die agterkant van die tabernakel teen die weste.
33 En hy het die middelste dwarshout gemaak om oordwars te loop, in die middel
van die style, van die een ent na die ander.
34 En hy het die style met goud oorgetrek; en hulle ringe, as plekke vir die
dwarshoute, het hy van goud gemaak. Die dwarshoute het hy ook met goud oorgetrek.
35 Verder het hy die voorhangsel gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi
stowwe en fyn dubbeldraad-linne; as kunstige werk het hy dit gemaak, met gérubs.
36 En hy het vier pilare van akasiahout daarvoor gemaak en dit met goud
oorgetrek; hulle kramme was ook van goud; en hy het daarvoor vier
silwervoetstukke gegiet.
37 Hy het ook vir die ingang van die tent ‘n bedekking gemaak van pers en
purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, veelkleurige werk;
38 en die vyf pilare wat daarby behoort, met hulle kramme; en hy het hulle toppe
en ringe met goud oorgetrek; en hulle vyf voetstukke was van koper.
*~ Exodus Hoofstuk 37 ~*
1 En Besáleël het die ark van akasiahout gemaak; twee en ‘n half el was sy
lengte, en anderhalf el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte.
2 En hy het dit oorgetrek met suiwer goud, van binne en van buite; en hy het
daaraan ‘n goue krans gemaak rondom.
3 En hy het daarvoor vier goue ringe gegiet, aan sy vier voete, só dat twee
ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant was.
4 En hy het draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek;
5 en hy het die draaghoute in die ringe gesteek aan weerskante van die ark om
die ark te dra.
6 Hy het ook ‘n versoendeksel van suiwer goud gemaak. Twee en ‘n half el was sy
lengte, en anderhalf el sy breedte.
7 Ook het hy twee gérubs van goud gemaak. Van dryfwerk het hy hulle gemaak, aan
die twee ente van die versoendeksel.
8 Een gérub aan die een ent en een gérub aan die ander ent. Uit een stuk, saam
met die versoendeksel, het hy die gérubs gemaak, aan die twee ente.
9 En die gérubs het die vlerke boontoe uitgesprei gehou, terwyl hulle met hul
vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte was na mekaar toe. Die
gesigte van die gérubs was op die versoendeksel gerig.
10 Hy het ook die tafel van akasiahout gemaak. Twee el was sy lengte, en ‘n el
sy breedte, en anderhalf el sy hoogte.
11 En hy het dit met suiwer goud oorgetrek en daarvoor ‘n goue krans gemaak
rondom.
12 Hy het ook daarvoor ‘n lys van ‘n handbreed gemaak rondom; en hy het ‘n goue
krans vir die lys gemaak rondom.
13 Hy het ook vier goue ringe daarvoor gegiet; en hy het die ringe vasgesit aan
die vier hoeke van die vier pote.
14 Naby die lys was die ringe as plekke vir die draaghoute om die tafel te dra.
15 Hy het ook die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek om
die tafel te dra.
16 En hy het die gereedskap gemaak wat op die tafel moes wees: sy skottels en sy
rookpanne en sy bekers en sy kanne waarmee gegiet moes word, van suiwer goud.
17 Hy het ook die kandelaar (Menorah) van suiwer goud gemaak. Van dryfwerk het
hy die kandelaar gemaak, sy voetstuk en sy stam; sy kelkies, sy knoppe en sy
blomme was, daarmee saam, uit een stuk.
18 En ses arms het uit die sykante daarvan uitgegaan: drie arms van die
kandelaar uit die een kant en drie arms van die kandelaar uit die ander kant.
19 Drie kelkies soos amandelblomme aan die een arm, ‘n knop en ‘n blom, en drie
kelkies soos amandelblomme aan die ander arm, ‘n knop en ‘n blom—so was dit aan
die ses arms wat uit die kandelaar uitgaan.
20 Maar aan die kandelaar self was vier kelkies soos amandelblomme, met knoppe
en blomme:
21 daar was ‘n knop onder die eerste paar arms wat daaruit uitgaan; en ‘n knop
onder die tweede paar arms wat daaruit uitgaan; en ‘n knop onder die derde paar
arms wat daaruit uitgaan—vir die ses arms wat daaruit uitgaan.
22 Hulle knoppe en hulle arms was, daarmee saam, uit een stuk alles saam een
stuk dryfwerk van suiwer goud.
23 En hy het sewe lampe daarvoor gemaak en sy snuiters en sy bakkies van suiwer
goud.
24 Van ‘n talent suiwer goud het hy dit gemaak met al sy gereedskap.
25 En hy het die reukaltaar van akasiahout gemaak; ‘n el was sy lengte en ‘n el
sy breedte, vierkantig, en twee el sy hoogte. Sy horings was, daarmee saam, uit
een stuk.
26 En hy het dit met suiwer goud oorgetrek: die plaat, die sykante en die
horings. En hy het daarvoor ‘n goue krans gemaak rondom.
27 Hy het ook twee goue ringe daarvoor gemaak, onderkant die krans aan
weerskante, aan die twee sykante, as plekke vir draaghoute om dit daarmee te dra.
28 En hy het die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek.
29 Hy het ook die heilige salfolie gemaak en die suiwer reukwerk van speserye,
soos ‘n salfmenger dit maak.
*~ Exodus Hoofstuk 38 ~*
1 Hy het ook die brandofferaltaar van akasiahout gemaak. Vyf el was sy lengte en
vyf el sy breedte, vierkantig, en drie el sy hoogte.
2 En hy het sy horings op die vier hoeke gemaak; sy horings was, daarmee saam,
uit een stuk: en hy het dit met koper oorgetrek.
3 Hy het ook al die gereedskap van die altaar gemaak: die potte en die skoppe en
die komme, die vurke en die vuurpanne. Al dié gereedskap het hy van koper gemaak.
4 Ook het hy vir die altaar ‘n traliewerk gemaak, ‘n netwerk van koper, onder sy
lys, onderaan tot by die helfte van die altaar.
5 En hy het vier ringe aan die vier ente van die kopertraliewerk gegiet, as
plekke vir die draaghoute.
6 En hy het die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met koper oorgetrek.
7 En hy het die draaghoute in die ringe gesteek, aan die kante van die altaar,
om dit daarmee te dra; hy het dit hol, van planke, gemaak.
8 Hy het ook die koperwaskom gemaak met sy kopervoetstuk, uit die spieëls van
die diensdoende vroue wat by die ingang van die tent van samekoms gedien het.
9 Hy het ook die voorhof gemaak. Aan die suidekant, na die suide toe, was daar
die behangsels van die voorhof, van fyn dubbeldraad-linne, honderd el lank;
10 daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die
ringe van die pilare was van silwer;
11 en aan die noordekant honderd el; daarby twintig pilare met hulle twintig
kopervoetstukke; die kramme en die ringe van die pilare was van silwer.
12 En aan die westekant was daar behangsels, vyftig el lank; daarby tien pilare
met hulle tien voetstukke; die kramme en die ringe van die pilare was van silwer.
13 En aan die oostekant, teen sonop, was daar vyftig el;
14 vyftien el behangsels vir die een kant, daarby drie pilare met hulle drie
voetstukke;
15 en vir die ander kant—aan weerskante van die poort van die voorhof—vyftien el
behangsels, daarby drie pilare met hulle drie voetstukke.
16 Al die behangsels van die voorhof rondom was van fyn dubbeldraad-linne;
17 en die voetstukke van die pilare was van koper, en die kramme en die ringe
van die pilare van silwer; en die oortreksel van hulle toppe van silwer; en
hulle self, al die pilare van die voorhof, was van silwerringe voorsien.
18 En die bedekking van die poort van die voorhof was veelkleurige werk, van
pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne: twintig el was
die lengte, en die hoogte—tewens die breedte van die stof—vyf el, net soos die
behangsels van die voorhof.
19 Daarby vier pilare met hulle vier voetstukke van koper en hulle kramme van
silwer, en die oortreksel van hulle toppe en hulle ringe van silwer.
20 En al die penne vir die tabernakel en die voorhof rondom was van koper.