Shabbat Shalom!
Vayakhel / En Hy Het Saamgestel
- hierdie week se profetiese leeswerk.


2 Konings 12:1-17;

12

1 In die sewende jaar van Jehu het Joas koning geword, en hy het veertig jaar geregeer in Jerusalem; en die naam van sy moeder was Síbja, van Berséba.
2 En Joas het gedoen wat reg was in die oë van YAHUVEH, al sy dae waarin die priester Jójada hom onderrig het.
3 Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog geoffer en op die hoogtes rook laat opgaan.
4 En Joas het aan die priesters gesê: Al die geld wat as heilige gawes in die huis van YAHUVEH gebring word, gangbare geld, elkeen se personegeld waarvoor hy geskat is, en al die geld wat iemand vrywillig in die huis van YAHUVEH bring,
5 mag die priesters vir hulle neem, elkeen van sy bekende, en húlle moet die bouvallige plekke van die huis herstel waar ‘n bouvallige plek ook al gevind word.
6 Maar toe in die drie en twintigste jaar van koning Joas die priesters die bouvallige plekke van die huis nie herstel het nie,
7 het koning Joas Jójada, die priester, en die priesters geroep en aan hulle gesê: Waarom herstel julle nie die bouvallige plekke van die huis nie? Nou dan, julle moet geen geld van julle bekendes aanneem nie, maar dit gee vir die bouvallige plekke van die huis.
8 En die priesters het ingewillig om geen geld van die volk aan te neem nie en om die bouvallige plekke van die huis dan ook nie te herstel nie.
9 Toe neem die priester Jójada ‘n kis en boor ‘n opening in sy deksel en sit dit langs die altaar neer aan die regterkant as ‘n mens in die huis van YAHUVEH inkom; en die priesters wat die drumpel bewaak, het al die geld wat in die huis van YAHUVEH ingebring is, daarin gegooi.
10 En toe hulle sien dat daar baie geld in die kis was, het die skrywer van die koning opgegaan en die hoëpriester en dit saamgebind en die geld getel wat in die huis van YAHUVEH gevind is.
11 En hulle het die afgetelde geld oorhandig aan die uitvoerders van die werk wat oor die huis van YAHUVEH aangestel was, en hulle het dit uitbetaal aan die skrynwerkers en die bouers wat aan die huis van YAHUVEH gewerk het,
12 en aan die messelaars en aan die klipkappers, en om houte en gekapte klippe te koop om die bouvallige plekke van die huis van YAHUVEH te herstel, ja, vir alles wat uitgegee moes word aan die huis om dit te herstel.
13 Ewenwel is daar in die huis van YAHUVEH geen silwerskottels, messe, komme, trompette—enige goue gereedskap of silwergereedskap gemaak van die geld wat in die huis van YAHUVEH gebring is nie.
14 Maar hulle het dit aan die uitvoerders van die werk gegee om daarmee die huis van YAHUVEH te herstel.
15 En hulle het nie met die manne afgereken in wie se hand die geld toevertrou was om dit aan die uitvoerders van die werk te gee nie, want hulle het met getrouheid gehandel.
16 Die geld van die skuldoffer en die geld van sondoffers is nie in die huis van YAHUVEH gebring nie; dit was vir die priesters.
17 Destyds het Hásael, die koning van Aram, opgetrek en teen Gat geveg en dit ingeneem; daarna het Hásael sy aangesig gerig om teen Jerusalem op te trek.

2 Korinthiërs 9:6-11


6 Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.
7 Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want ELOHIM het ‘n blymoedige gewer lief.
8 En ELOHIM het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.
9 Soos geskrywe is: HY het uitgestrooi, HY het aan die armes gegee, SY geregtigheid bly tot in ewigheid.
10 En mag HY wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem,
11 sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan ELOHIM deur ons bewerk.

1 Korinthiërs 3:11-18


11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is YAHUSHUA MESSIAS.
12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—
13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van ELOHIM is en die Gees van ELOHIM in julle woon nie?
17 As iemand die tempel van ELOHIM skend, sal ELOHIM hom skend; want die tempel van ELOHIM is heilig, en dit is julle.
18 Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word;