19
1 Verder het YAHUVEH met Moses en Aäron gespreek en gesê:
2 Dit is die wetsinsetting wat YAHUVEH beveel het deur te sê: Spreek met die
kinders van Israel dat hulle vir jou ‘n rooi koei sonder gebrek bring waar geen
liggaamsgebrek aan is, waarop geen juk gekom het nie.
3 En julle moet haar aan die priester Eleásar gee, en hulle moet haar buitekant
die laer uitbring en voor hom slag.
4 En die priester Eleásar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar
bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die Tent van Samekoms
sprinkel.
5 Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar
bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand.
6 En die priester moet sederhout en hisop en skarlakendraad neem en dit binne-in
die brand van die koei gooi.
7 Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna
mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand toe onrein wees.
8 Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere in die water was en sy
liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees.
9 En ‘n rein man moet die as van die koei bymekaarmaak en buitekant die laer op
‘n rein plek neersit, en dit moet vir die vergadering van die kinders van Israel
bewaar word vir die reinigingswater: dit is ‘n sondoffer.
10 En die een wat die as van die koei bymekaargemaak het, moet sy klere was en
sal tot die aand toe onrein wees. En dit moet vir die kinders van Israel en vir
die vreemdeling wat onder hulle vertoef, ‘n ewige insetting wees.
11 Die een wat aan ‘n dooie, enige lyk van ‘n mens, raak, hy sal sewe dae lank
onrein wees.
12 Op die derde dag en op die sewende dag moet hy hom daarmee ontsondig—dan sal
hy rein wees; maar as hy hom op die derde dag en op die sewende dag nie
ontsondig nie, sal hy nie rein wees nie.
13 Elkeen wat aan ‘n dooie raak, aan die lyk van ‘n mens wat gesterf het, en hom
nie ontsondig nie, verontreinig die Tabernakel van YAHUVEH, en dié siel moet uit
Israel uitgeroei word. Omdat geen reinigingswater op hom uitgegooi is nie, sal
hy onrein wees;sy onreinheid is nog aan hom.
14 Dit is die wet: As iemand in ‘n tent sterwe, sal elkeen wat in die tent kom
en al wat in die tent is, sewe dae lank onrein wees.
15 Ook al die oop goed wat nie met ‘n deksel toegebind word nie, is onrein.
16 En elkeen wat in die oop veld aan iemand raak wat deur die swaard verslaan
is, of aan ‘n dooie of aan ‘n mens se doodsbeen of aan ‘n graf, sal sewe dae
lank onrein wees.
17 Vir die onreine moet hulle dan van die as neem van die sondoffer wat verbrand
is, en daar vars water in ‘n pot op gooi;
18 en ‘n rein man moet hisop neem en dit in die water insteek en op die tent
sprinkel en op al die goed en op die persone wat daar gewees het; ook op hom wat
aan ‘n doodsbeen of aan een wat verslaan is, of aan ‘n dooie of aan ‘n graf
geraak het.
19 En die reine moet die onreine op die derde en op die sewende dag besprinkel
en hom op die sewende dag ontsondig. Dan moet hy sy klere was en hom in die
water bad, en in die aand sal hy rein wees.
20 Maar as iemand onrein word en hom nie ontsondig nie, dan moet dié siel
uitgeroei word uit die vergadering, want hy het die Heiligdom van YAHUVEH
verontreinig: reinigingswater is op hom nie uitgegooi nie, hy is onrein.
21 En dit moet vir hulle ‘n ewige insetting wees. En die een wat die
reinigingswater sprinkel, moet sy klere was; en die een wat aan die
reinigingswater raak, sal tot die aand toe onrein wees.
22 Ja, alles waar die onreine aan raak, sal onrein wees; en die persoon wat aan
hom raak, sal tot die aand toe onrein wees.
*~ Numeri Hoofstuk 20 ~*
1 En toe die kinders van Israel, die hele vergadering, in die woestyn Sin kom,
in die eerste maand, het die volk in Kades gebly. En Mirjam het daar gesterwe en
is daar begrawe.
2 En daar was geen water vir die vergadering nie. Toe het hulle teen Moses en
Aäron saamgekom.
3 En die volk het met Moses getwis, en hulle het gespreek en gesê: Ag, het ons
tog maar gesterwe toe ons broers voor die aangesig van YAHUVEH gesterf het!
4 En waarom het julle die vergadering van YAHUVEH in hierdie woestyn gebring,
dat ons en ons vee daar sou sterwe?
5 En waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons in hierdie slegte plek
te bring? Dit is geen plek van graan of van vye of van wingerdstokke of van
granate nie; ook is daar geen water om te drink nie.
6 Daarop gaan Moses en Aäron van die vergadering af weg na die ingang van die
Tent van Samekoms, en hulle het op hul aangesig geval; toe verskyn die
heerlikheid van YAHUVEH aan hulle.
7 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
8 Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer Aäron, en
spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee. So moet jy dan
vir hulle water uit die rots laat vloei en die vergadering en hulle vee laat
drink.
9 Toe neem Moses die staf voor die aangesig van YAHUVEH weg soos HY hom beveel
het.
10 En Moses en Aäron het die vergadering voor die rots laat byeenkom, en hy het
vir hulle gesê: Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit
hierdie rots laat vloei?
11 Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en
daar het baie water uitgekom, sodat die vergadering gedrink het en hulle vee.
12 Toe sê YAHUVEH vir Moses en Aäron: Omdat julle in MY nie geglo het om MY voor
die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie
vergadering nie in die land inbring wat EK aan hulle gegee het nie.
13 Dit is die waters van Mériba waar die kinders van Israel met YAHUVEH getwis
het en HY HOM onder hulle as die Heilige laat ken het.
14 Daarna het Moses uit Kades boodskappers na die koning van Edom gestuur: So sê
jou broer Israel: Jy weet self al die moeilikheid wat ons oorgekom het.
15 Ons vaders het na Egipte afgetrek, en ons het baie dae in Egipte gewoon, en
die Egiptenaars het ons en ons vaders sleg behandel.
16 Toe het ons YAHUVEH aangeroep, en HY het ons stem gehoor: HY het ‘n Engel
gestuur en ons uit Egipte uitgelei. Hier is ons nou in Kades, ‘n stad op die
grens van jou grondgebied.
17 Laat ons tog deur jou land trek: ons sal nie deur lande of wingerde trek nie
en die water uit die putte nie drink nie; ons sal die koningsweg hou; ons sal
nie regs of links uitdraai nie, totdat ons deur jou grondgebied getrek het.
18 Maar Edom antwoord hom: Jy sal deur my nie trek nie, anders sal ek jou met
die swaard tegemoettrek.
19 Toe sê die kinders van Israel vir hom: Ons sal met die grootpad trek, en as
ons van jou water drink, ek en my vee, gee ek die prys daarvoor. Laat my net te
voet deurtrek—verder niks nie.
20 Maar hy antwoord: Jy sal nie deurtrek nie. En Edom het uitgetrek hom tegemoet
met baie manskappe en met ‘n sterk hand.
21 So het Edom dan geweier om Israel toe te laat om deur sy grondgebied te trek.
Daarop het Israel van hom af weggedraai.
22 En die kinders van Israel, die hele vergadering, het van Kades af weggetrek
en by die berg Hor gekom.
23 En YAHUVEH het met Moses en Aäron by die berg Hor, op die grens van die land
Edom, gespreek en gesê:
24 Aäron sal by sy volksgenote versamel word, want hy mag nie kom in die land
wat EK aan die kinders van Israel gegee het nie, omdat julle teen my bevel
wederstrewig was by die waters van Mériba.
25 Neem Aäron en sy seun Eleásar, en laat hulle op die berg Hor opklim;
26 en trek Aäron se klere uit en trek dit sy seun Eleásar aan; en Aäron sal daar
by sy volksgenote versamel word en sterwe.
27 Toe het Moses gedoen soos YAHUVEH beveel het: hulle het op die berg Hor
geklim voor die oë van die hele vergadering.
28 En Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit sy seun Eleásar aangetrek. En
Aäron het daar gesterwe op die top van die berg, maar Moses en Eleásar het van
die berg afgeklim.
29 En toe die hele vergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van
Israel Aäron beween dertig dae lank.
*~ Numeri Hoofstuk 21 ~*
1 Toe die Kanaäniet, die koning van Arad, wat in die Suidland gewoon het, hoor
dat Israel met die pad van Atarim kom, het hy teen Israel geveg en sommige van
hulle as gevangenes weggevoer.
2 Daarop het Israel aan YAHUVEH ‘n gelofte gedoen en gesê: As U hierdie volk
heeltemal in my hand gee, sal ek hulle stede met die banvloek tref.
3 En YAHUVEH het gehoor na die stem van Israel en die Kanaäniete oorgegee. En hy
het hulle en hul stede met die banvloek getref en die plek Horma genoem.
4 Toe trek hulle van die berg Hor af weg op pad na die Skelfsee om die land Edom
om te trek; maar die siel van die volk het op die pad ongeduldig geword.
5 En die volk het teen ELOHIM en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit
Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen
water nie, en ons siel walg van die ellendige kos.
6 Toe stuur YAHUVEH giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en
baie mense uit Israel het gesterwe.
7 En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen YAHUVEH
en teen u gespreek het. Bid tot YAHUVEH, dat HY die slange van ons wegneem. En
Moses het vir die volk gebid.
8 Daarop sê YAHUVEH aan Moses: Maak vir jou ‘n giftige slang en sit dit op ‘n
paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe.
9 Toe het Moses ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit: en as ‘n slang
iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly.
10 En die kinders van Israel het weggetrek en laer opgeslaan in Obot.
11 Daarna het hulle weggetrek van Obot af en laer opgeslaan in Ijje-Haäbárim in
die woestyn wat oostelik aan Moab vas lê.
12 Daarvandaan het hulle weggetrek en laer opgeslaan by die spruit Sered.
13 Daarvandaan het hulle weggetrek en laer opgeslaan oorkant die Arnon wat in
die woestyn is en uit die grondgebied van die Amoriete kom; want die Arnon is
die grens van Moab, tussen Moab en die Amoriete.
14 Daarom word gesê in die Boek van die Oorloë van YAHUVEH: Waheb in Sufa en die
spruite, die Arnon,
15 en die hang van die spruite wat na die streek van Ar afloop en leun teen die
grondgebied van Moab.
16 En daarvandaan het hulle na Beër getrek. Dit is die put waarvan YAHUVEH aan
Moses gesê het: Laat die volk bymekaarkom, dat EK vir hulle water kan gee.
17 Toe het Israel hierdie lied gesing: Spring op, o put! Besing hom!
18 o Put wat die vorste gegrawe het, wat die edeles van die volk gedelf het, met
die septer, met hulle stawe! —En uit die woestyn uit na Mattána toe;
19 en van Mattána na Naháliël; en van Naháliël na Bamot;
20 en van Bamot na die dal wat in die veld van Moab lê, by die top van Pisga, en
oor die wildernis afkyk.
21 En Israel het boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete, en
gesê:
22 Laat my deur jou land trek. Ons sal nie wegdraai in die lande of in die
wingerde nie; ons sal die water van die putte nie drink nie; ons sal die
koningsweg hou tot ons deur jou grondgebied getrek het.
23 Maar Sihon het Israel nie toegelaat om deur sy grondgebied te trek nie; maar
Sihon het al sy manskappe versamel en uitgetrek na die woestyn, Israel tegemoet;
en toe hy by Jahas kom, het hy teen Israel geveg.
24 Maar Israel het hom verslaan met die skerpte van die swaard en sy land in
besit geneem van die Arnon af tot by die Jabbok, tot by die kinders van Ammon;
want die grens van die kinders van Ammon was sterk.
25 So het Israel dan al hierdie stede ingeneem, en Israel het gewoon in al die
stede van die Amoriete, in Hesbon en in al sy onderhorige plekke.
26 Want Hesbon was die stad van Sihon, die koning van die Amoriete; hy het
naamlik oorlog gevoer teen die vorige koning van die Moabiete en het dié se hele
land tot by die Arnon uit sy hand geruk.
27 Daarom sê die spreukdigters: Kom na Hesbon toe! Laat die stad van Sihon gebou
en bevestig word!
28 Want ‘n vuur het uitgegaan uit Hesbon, ‘n vlam uit die vesting van Sihon; dit
het Ar van die Moabiete verteer, die bewoners van die hoogtes van Arnon.
29 Wee jou, Moab! Jy is verlore, volk van Kamos! Hy het sy seuns prysgegee as
vlugtelinge, en sy dogters in gevangenskap, aan Sihon, die koning van die
Amoriete.
30 Toe het ons hulle beskiet; verlore was Hesbon tot by Dibon; en ons het
verwoes tot by Nofag, met vuur tot by Medéba.
31 So het Israel dan gewoon in die land van die Amoriete.
32 Daarna het Moses gestuur om Jaéser te bespied, en hulle het sy onderhorige
plekke ingeneem, en hy het die Amoriete wat daar was, uit hulle besitting
verdrywe.
33 Toe het hulle gedraai en in die rigting van Basan opgetrek. En Og, die koning
van Basan, hy en al sy manskappe het hulle tegemoetgetrek na Edréï om te veg.
34 Daarop sê YAHUVEH vir Moses: Wees nie bevrees vir hom nie, want EK het hom en
sy hele volk en sy land in jou hand gegee; en jy moet met hom doen soos jy
gedoen het met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het.
35 En hulle het hom verslaan en sy seuns en sy hele volk, totdat daar niemand
van hom oor was wat vrygeraak het nie; en hulle het sy land in besit geneem.
*~ Numeri Hoofstuk 22 ~*
1 Daarna het die kinders van Israel weggetrek en laer opgeslaan in die vlaktes
van Moab, oos van die Jordaan van Jérigo.