Shabbat Shalom!
Nasso / Staan Op
- hierdie week se Torah lees.


Numeri 4:21-7:89;

4

21 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
22 Neem die volle getal op ook van die seuns van Gerson volgens hulle families, volgens hulle geslagte.
23 Jy moet hulle tel van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat verplig is om diens te doen, om dienswerk te verrig by die tent van samekoms.
24 Dit sal die dienswerk van die geslagte van die Gersoniete wees by die diens en by die vervoer:
25 hulle moet die tentdoeke van die Tabernakel dra, ook die Tent van Samekoms, sy dekkleed en die dekkleed van robbevelle wat daar bo-oor is, en die bedekking vir die ingang van die Tent van Samekoms
26 en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die poort van die voorhof wat rondom die Tabernakel en die altaar is, en hulle lyne sowel as al die gereedskap wat by die bediening daarvan behoort; en alles wat daarvoor gedoen moet word, moet hulle verrig.
27 Die hele dienswerk van die seuns van die Gersoniete—alles wat hulle moet dra en hulle hele diens—moet wees volgens die bevel van Aäron en sy seuns; en julle moet hulle al hulle drawerk aanwys om dit waar te neem.
28 Dit is die dienswerk vir die geslagte van die seuns van die Gersoniete by die Tent van Samekoms; en wat hulle te besorg het, moet plaasvind onder leiding van Itamar, die seun van die priester Aäron.
29 Wat aangaan die seuns van Merári—dié moet jy tel volgens hulle geslagte, volgens hulle families.
30 Jy moet hulle tel van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig is, om die dienswerk van die Tent van Samekoms te verrig.
31 En dit is wat by hulle drawerk besorg moet word, hulle hele dienswerk by die Tent van Samekoms: die style van die Tabernakel met sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke
32 en die pilare van die voorhof rondom met hulle voetstukke en hulle penne en hulle lyne—al die gereedskap sowel as alles wat by die bediening daarvan behoort. En die gereedskap wat by hulle drawerk besorg moet word, moet julle met die naam aanwys.
33 Dit is die dienswerk vir die geslagte van die seuns van Merári, hulle hele diens by die Tent van Samekoms onder leiding van Itamar, die seun van die priester Aäron.
34 En Moses en Aäron en die owerstes van die vergadering het die seuns van die Kehatiete getel volgens hulle geslagte en volgens hulle families;
35 van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig was insake die dienswerk by die Tent van Samekoms.
36 En hulle geteldes was volgens hulle geslagte twee duisend sewe honderd en vyftig.
37 Dit is die geteldes van die geslagte van die Kehatiete, almal wat by die Tent van Samekoms gedien het, wat Moses en Aäron volgens die bevel van YAHUVEH deur die diens van Moses getel het.
38 En die geteldes van die seuns van Gerson volgens hulle geslagte en volgens hulle families,
39 van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig was insake die dienswerk by die Tent van Samekoms—
40 hulle geteldes was volgens hulle geslagte, volgens hulle families, twee duisend ses honderd en dertig.
41 Dit is die geteldes van die geslagte van Gerson se seuns, almal wat by die Tent van Samekoms gedien het, wat Moses en Aäron volgens die bevel van YAHUVEH getel het.
42 En die geteldes van die geslagte van Merári se seuns volgens hulle geslagte, volgens hulle families,
43 van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig was insake die dienswerk by die Tent van Samekoms—
44 hulle geteldes was volgens hulle geslagte drie duisend twee honderd.
45 Dit is die geteldes van die geslagte van Merári se seuns wat Moses en Aäron volgens die bevel van YAHUVEH deur die diens van Moses getel het.
46 Al die getelde Leviete wat Moses en Aäron en die owerstes van Israel getel het, volgens hulle geslagte en volgens hulle families,
47 van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig was om dienswerk te verrig en die werk van vervoer by die Tent van Samekoms—
48 hulle geteldes was agt duisend vyf honderd en tagtig.
49 Volgens die bevel van YAHUVEH deur tussenkoms van Moses is hulle aangewys elkeen vir sy diens en vir sy drawerk; naamlik die geteldes, soos YAHUVEH Moses beveel het.

*~ Numeri Hoofstuk 5 ~*


1 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
2 Gee bevel aan die kinders van Israel dat hulle uit die laer wegstuur al die melaatse mense en almal wat ‘n vloeiing het, en almal wat deur ‘n lyk onrein is.
3 Man sowel as vrou moet julle wegstuur; buitekant die laer moet julle hulle wegstuur, sodat hulle nie hul laer verontreinig waar EK in hulle midde woon nie.
4 En die kinders van Israel het so gedoen en hulle buitekant die laer gestuur; soos YAHUVEH met Moses gespreek het, so het die kinders van Israel gedoen.
5 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
6 Spreek met die kinders van Israel: As ‘n man of vrou enige menslike sonde doen, sodat ontrou teen YAHUVEH gehandel word, en dié siel skuldig word,
7 dan moet hulle hul sonde wat hulle gedoen het, bely; daarna moet hy wat hy skuldig is, ten volle teruggee en die vyfde deel daarvan byvoeg, en hy moet dit aan dié een gee teen wie hy hom skuldig gemaak het.
8 Maar as die man geen losser het aan wie die skuld teruggegee kan word nie, behoort die skuld wat teruggegee moet word, aan YAHUVEH, aan die priester, behalwe die versoeningsram waarmee hy vir hom versoening doen.
9 En elke heffing van al die heilige gawes van die kinders van Israel wat hulle na die priester bring, moet syne wees.
10 En elkeen se heilige gawes dit moet syne wees: wat iemand aan die priester gee, moet syne wees.
11 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
12 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand se vrou afwyk en ‘n troubreuk teen hom begaan,
13 en ‘n man met haar vleeslike gemeenskap het, maar dit vir die oë van haar man verborge bly en sy nie uitgevind is nie—hoewel sy haar verontreinig het—terwyl daar geen getuie teen haar is en sy nie betrap is nie;
14 en daar kom ‘n gees van jaloersheid oor hom, sodat hy jaloers word op sy vrou terwyl sy haar inderdaad verontreinig het; of ‘n gees van jaloersheid kom oor hom, sodat hy jaloers word op sy vrou terwyl sy haar nie verontreinig het nie;
15 dan moet die man sy vrou na die priester bring, en hy moet haar offer vir haar saambring: ‘n tiende van ‘n efa garsmeel; hy moet daar geen olie op giet en geen wierook daar byvoeg nie, omdat dit ‘n spysoffer van jaloersheid is, ‘n gedenkoffer wat die ongeregtigheid in gedagtenis bring.
16 En die priester moet haar laat nader kom en haar voor die aangesig van YAHUVEH stel.
17 En die priester moet heilige water in ‘n erdepot neem; en van die stof wat op die vloer van die Tabernakel is, moet die priester neem en in die water gooi.
18 Daarna moet die priester die vrou voor die aangesig van YAHUVEH stel en die hare van die vrou losmaak, en hy moet die gedenkoffer op haar hande sit—’n spysoffer van jaloersheid is dit; en in die hand van die priester moet daar wees die water van bitter smart wat die vloek bring.
19 En die priester moet haar besweer en aan die vrou sê: As geen man met jou gemeenskap gehad het nie, en jy, terwyl jy aan jou man toebehoort het, nie afgewyk het in onreinheid nie—wees dan vry van hierdie water van bitter smart wat die vloek bring.
20 Maar as jy, terwyl jy aan jou man toebehoort het, afgewyk en jou verontreinig het deurdat ‘n man behalwe jou eie man met jou vleeslike gemeenskap gehad het—
21 so moet dan die priester die vrou met die eed van vervloeking besweer, en die priester moet aan die vrou sê: Mag YAHUVEH jou tot ‘n vervloeking en ‘n verwensing maak onder jou volk deurdat YAHUVEH jou heup laat inval en jou skoot laat opswel;
22 en mag hierdie water wat die vloek bring, in jou ingewande ingaan om die skoot te laat opswel en die heup te laat inval. Dan moet die vrou sê: Amen, amen!
23 Daarna moet die priester hierdie vervloekinge op ‘n blad skrywe en dit in die water van bitter smart uitwis;
24 en hy moet die vrou laat drink die water van bitter smart wat die vloek bring, sodat die water wat die vloek bring, in haar kan ingaan tot bitter smart.
25 En die priester moet uit die hand van die vrou die spysoffer van jaloersheid neem en die spysoffer voor die aangesig van YAHUVEH beweeg en dit na die altaar bring.
26 Die priester moet ook van die spysoffer ‘n handvol, as gedenkoffer daarvan, neem en dit op die altaar aan die brand steek; en daarna moet hy die vrou die water laat drink.
27 En as hy haar die water laat drink het, dan sal, as sy haar verontreinig en teen haar man troubreuk begaan het, die water wat die vloek bring, as bitter smart in haar ingaan, en haar skoot sal opswel en haar heup inval; en die vrou sal onder haar volk ‘n vervloeking wees.
28 Maar as die vrou haar nie verontreinig het nie, maar rein is, sal sy vry wees en swanger word.
29 Dit is die wet oor die jaloersheid: As ‘n vrou afwyk terwyl sy aan haar man toebehoort, en haar verontreinig;
30 of as oor ‘n man die gees van jaloersheid kom en hy op sy vrou jaloers word—dan moet hy die vrou voor die aangesig van YAHUVEH stel, en die priester moet met haar handel volgens hierdie hele wet.
31 En die man sal vry wees van ongeregtigheid, maar dié vrou sal haar ongeregtigheid dra.

*~ Numeri Hoofstuk 6 ~*


1 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As ‘n man of ‘n vrou ‘n besondere gelofte aflê, die gelofte van ‘n nasireër, om hom aan YAHUVEH te wy,
3 moet hy hom van wyn en sterk drank onthou; wyn-asyn en asyn van sterk drank mag hy nie drink nie, ja, geen druiwesap mag hy drink nie en geen vars of gedroogde druiwe eet nie.
4 Al die dae van sy nasireërskap mag hy niks eet van alles wat van die wynstok gemaak is nie, selfs nie van die pitte en doppe nie.
5 Al die dae van die gelofte van sy nasireërskap mag geen skeermes oor sy hoof gaan nie. Totdat die dae om is dat hy hom aan YAHUVEH toewy, moet hy heilig wees—hy moet die hare van sy hoof vry laat groei.
6 Al die dae dat hy hom aan YAHUVEH gewy het, mag hy nie by ‘n dooie kom nie.
7 Aan sy vader of sy moeder, aan sy broer of sy suster—aan hulle mag hy hom nie verontreinig as hulle dood is nie; want die wyding van sy ELOHIM is op sy hoof.
8 Al die dae van sy nasireërskap is hy heilig aan YAHUVEH.
9 En as heeltemal onverwags iemand by hom sterwe, sodat hy sy gewyde hoof verontreinig, moet hy op die dag van sy reiniging sy hoof skeer; op die sewende dag moet hy dit skeer.
10 En op die agtste dag moet hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe na die priester, na die ingang van die Tent van Samekoms, bring.
11 En die priester moet een as sondoffer en een as brandoffer berei en vir hom versoening doen vir wat hy uit oorsaak van die dooie gesondig het; so moet hy dan sy hoof op dieselfde dag heilig.
12 Daarna moet hy die dae van sy nasireërskap aan YAHUVEH wy en ‘n jaaroud lam as skuldoffer bring; en die vorige dae moet wegval, omdat sy nasireërskap verontreinig is.
13 En dit is die wet van die nasireër: Op die dag as die dae van sy nasireërskap om is, moet hulle hom na die ingang van die Tent van Samekoms bring;
14 en hy moet sy offer aan YAHUVEH bring: een jaaroud lam sonder gebrek as brandoffer en een jaaroud ooilam sonder gebrek as sondoffer en een ram sonder gebrek as dankoffer
15 en ‘n mandjie ongesuurde koeke van fynmeel, koeke met olie gemeng en ongesuurde platkoeke met olie bestryk, en die spysoffer en die drankoffers wat daarby behoort.
16 En die priester moet dit voor die aangesig van YAHUVEH bring en die sondoffer en brandoffer vir hom berei.
17 Hy moet ook die ram as dankoffer aan YAHUVEH gereedmaak saam met die mandjie ongesuurde koeke; en die priester moet die spysoffer en drankoffer vir hom berei.
18 Dan moet die nasireër by die ingang van die Tent van Samekoms sy gewyde hoof skeer en die hare van sy gewyde hoof neem en dit op die vuur gooi wat onder die dankoffer is.
19 Verder moet die priester die gekookte blad van die ram afneem en een ongesuurde koek uit die mandjie en een ongesuurde platkoek; en hy moet hulle op die hande van die nasireër sit nadat dié sy gewyde hare afgeskeer het.
20 En die priester moet dit beweeg as beweegoffer voor die aangesig van YAHUVEH. Dit is iets heiligs vir die priester saam met die bors van die beweegoffer en die boud van die hefoffer. En daarna mag die nasireër wyn drink.
21 Dit is die wet vir die nasireër wat sy offer aan YAHUVEH beloof op grond van sy nasireërskap, behalwe wat hy verder kan bekostig. Volgens sy gelofte wat hy afgelê het, só moet hy doen volgens die wet van sy nasireërskap.
22 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
23 Spreek met Aäron en sy seuns en sê: So moet julle die kinders van Israel seën deur vir hulle te sê:
24 YAHUVEH sal jou seën en jou behoed;
25 YAHUVEH sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
26 YAHUVEH sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
27 So moet hulle dan MY Naam op die kinders van Israel lê; en ÉK sal hulle seën.

*~ Numeri Hoofstuk 7 ~*


1 En op die dag toe Moses die Tabernakel klaar opgerig en dit gesalf en geheilig het met al sy gereedskap, en die altaar met al sy gereedskap, en hy dit gesalf en geheilig het,
2 het die owerstes van Israel, die hoofde van hulle families, offers gebring—hulle was die owerstes van die stamme, hulle wat oor die geteldes gestaan het—
3 hulle het hul offer voor die aangesig van YAHUVEH gebring: ses tentwaens en twaalf beeste; ‘n wa vir twee owerstes en ‘n bees vir elkeen; en hulle het dit voor die Tabernakel gebring.
4 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
5 Neem dit van hulle aan, dat dit kan gebruik word om die dienswerk van die Tent van Samekoms te verrig; en jy moet dit aan die Leviete gee, aan elkeen volgens sy dienswerk.
6 Toe het Moses die waens en die beeste geneem en dit aan die Leviete gegee:
7 twee waens en vier beeste het hy aan die seuns van Gerson gegee volgens hulle dienswerk;
8 en vier waens en agt beeste het hy aan die seuns van Merári gegee volgens hulle dienswerk, onder leiding van Itamar, die seun van die priester Aäron.
9 Maar aan die seuns van Kehat het hy niks gegee nie; want die diens van die Heiligdom het op hulle gerus: hulle moes dit op die skouers dra.
10 En die owerstes het die inwydingsgawe van die altaar gebring op die dag toe dit gesalf is, en die owerstes het hulle offer voor die altaar gebring.
11 En YAHUVEH het aan Moses gesê: Elke owerste moet, elkeen op ‘n afsonderlike dag, sy offer bring vir die inwyding van die altaar.
12 En hy wat op die eerste dag sy offer gebring het, was Nagson, die seun van Ammínadab, van die stam van Juda.
13 En sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die Heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
14 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
15 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
16 een bokram as sondoffer;
17 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Nagson, die seun van Ammínadab.
18 Op die tweede dag het Netáneël, die seun van Suar, die owerste van Issaskar, aangebring—
19 hy het sy offer gebring: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
20 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
21 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
22 een bokram as sondoffer;
23 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Netáneël, die seun van Suar.
24 Op die derde dag die owerste van die kinders van Sébulon, Elíab, die seun van Helon.
25 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
26 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
27 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
28 een bokram as sondoffer;
29 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Elíab, die seun van Helon.
30 Op die vierde dag die owerste van die kinders van Ruben, Elísur, die seun van Sedéür.
31 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
32 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
33 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
34 een bokram as sondoffer;
35 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Elísur, die seun van Sedéür.
36 Op die vyfde dag die owerste van die kinders van Símeon, Selúmiël, die seun van Surísaddai.
37 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
38 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
39 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
40 een bokram as sondoffer;
41 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Selúmiël, die seun van Surísaddai.
42 Op die sesde dag die owerste van die kinders van Gad, Éljasaf, die seun van Réhuel.
43 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
44 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
45 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
46 een bokram as sondoffer;
47 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Éljasaf, die seun van Réhuel.
48 Op die sewende dag die owerste van die kinders van Efraim, Elisáma, die seun van Ammíhud.
49 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
50 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
51 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
52 een bokram as sondoffer;
53 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Elisáma, die seun van Ammíhud.
54 Op die agtste dag die owerste van die kinders van Manasse, Gámliël, die seun van Pedásur.
55 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
56 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
57 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
58 een bokram as sondoffer;
59 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Gámliël, die seun van Pedásur.
60 Op die negende dag die owerste van die kinders van Benjamin, Abídan, die seun van Gideóni.
61 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
62 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
63 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
64 een bokram as sondoffer;
65 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Abídan, die seun van Gideóni.
66 Op die tiende dag die owerste van die kinders van Dan, Ahiëser, die seun van Ammísaddai.
67 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
68 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
69 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
70 een bokram as sondoffer;
71 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Ahiëser, die seun van Ammísaddai.
72 Op die elfde dag die owerste van die kinders van Aser, Págiël, die seun van Ogran.
73 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
74 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
75 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
76 een bokram as sondoffer;
77 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Págiël, die seun van Ogran.
78 Op die twaalfde dag die owerste van die kinders van Náftali, Ahíra, die seun van Enan.
79 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
80 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
81 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
82 een bokram as sondoffer;
83 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Ahíra, die seun van Enan.
84 Dit was die inwydingsgawe van die altaar van die kant van Israel se owerstes op die dag toe dit gesalf is: twaalf silwerskottels, twaalf silwerkomme, twaalf goue rookpanne—
85 elke skottel honderd en dertig sikkels silwer, en elke kom sewentig; al die silwer van die goed was twee duisend vier honderd volgens die sikkel van die heiligdom—
86 twaalf goue rookpanne, vol reukwerk; elke rookpan tien sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; al die goud van die rookpanne was honderd en twintig sikkels.
87 Al die beeste vir die brandoffer was twaalf bulle; die ramme twaalf, die jaaroud lammers twaalf, met hulle spysoffer; en twaalf bokramme as sondoffer.
88 En al die beeste vir die dankoffer was vier en twintig bulle; die ramme sestig, die bokramme sestig, die jaaroud lammers sestig. Dit is die inwydingsgawe van die altaar nadat dit gesalf is.
89 En as Moses in die Tent van Samekoms gegaan het om met HOM te spreek, het hy die stem met hom hoor spreek van die versoendeksel af wat op die ark van die Getuienis is, tussen die twee gérubs uit. So het HY dan met hom gespreek.