7
51 En toe al die werk wat koning Salomo in die huis van YAHUVEH gemaak het,
gereed was, het Salomo die geheiligde gawes van sy vader Dawid ingebring; die
silwer en die goud en die voorwerpe het hy in die skatkamers van die huis van
YAHUVEH neergesit.
*~ 1 Konings Hoofstuk 8 ~*
1 Daarna het Salomo die oudstes van Israel en al die stamhoofde, die
familie-owerstes van die kinders van Israel, by koning Salomo in Jerusalem byeen
laat kom om die verbondsark van YAHUVEH uit die stad van Dawid, dit is Sion, op
te bring.
2 En al die manne van Israel het by koning Salomo op die fees vergader in die
maand Étanim, dit is die sewende maand.
3 Toe al die oudstes van Israel daar kom, het die priesters die ark opgeneem
4 en die ark van YAHUVEH en die tent van samekoms gebring saam met al die
heilige voorwerpe wat in die tent was; naamlik die priesters en die Leviete het
dit gebring.
5 En terwyl koning Salomo en die hele by hom vergaderde gemeente van Israel saam
met hom voor die ark staan, het hulle kleinvee en beeste geoffer wat vanweë die
menigte nie getel of bereken kon word nie.
6 Verder het die priesters die verbondsark van YAHUVEH na sy plek gebring, in
die binneste vertrek van die huis, in die Allerheiligste, onder die vlerke van
die gérubs in.
7 Want die gérubs het die vlerke uitgesprei oor die plek van die ark, sodat die
gérubs die ark en sy draaghoute van bo af beskut het.
8 En die draaghoute was so lank, dat die punte van die draaghoute uit die
Heilige, vlak voor die binneste vertrek, gesien kon word, maar verder buitentoe
was hulle nie sigbaar nie; en hulle is daar tot vandag toe.
9 Daar was niks in die ark nie as net die twee kliptafels wat Moses by Horeb
daarin neergelê het, toe YAHUVEH ‘n verbond met die kinders van Israel gesluit
het by hulle uittog uit Egipteland.
10 En toe die priesters uit die heiligdom uitgaan, het die wolk die huis van
YAHUVEH vervul.
11 En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die
heerlikheid van YAHUVEH het die huis van YAHUVEH vervul.
12 Toe het Salomo gesê: YAHUVEH het gesê dat Hy in donkerheid wil woon.
13 Verseker het ek vir U ‘n woonhuis gebou, ‘n vaste plek vir U om ewig in te
woon.
14 Daarop draai die koning sy aangesig om en seën die hele vergadering van
Israel, terwyl die hele vergadering van Israel staan.
15 En hy sê: Geloofd sy YAHUVEH, die ELOHIM van Israel, wie se hand volbring het
wat sy mond met my vader Dawid gespreek en gesê het:
16 Van die dag af dat Ek my volk Israel uit Egipte uitgelei het, het Ek geen
stad verkies uit al die stamme van Israel om ‘n huis te bou, dat my Naam daar
sou wees nie; maar Ek het Dawid verkies om oor my volk Israel te wees.
17 Toe dit dan in die hart van my vader Dawid was om ‘n huis te bou vir die Naam
van YAHUVEH, die ELOHIM van Israel,
18 het YAHUVEH aan my vader Dawid gesê: Dat dit in jou hart was om vir my Naam
‘n huis te bou—daarin het jy goed gehandel, dat dit in jou hart was.
19 Net maar, jy sal die huis nie bou nie, maar jou seun wat uit jou lendene sal
voortkom, dié sal vir my Naam die huis bou.
20 En YAHUVEH het sy woord vervul wat Hy gespreek het, sodat ek opgestaan het in
die plek van my vader Dawid, en ek sit op die troon van Israel soos YAHUVEH
gespreek het; en ek het die huis gebou vir die Naam van YAHUVEH, die ELOHIM van
Israel,
21 en daar ‘n plek ingerig vir die ark, waarin die verbond van YAHUVEH is, met
ons vaders gesluit toe Hy hulle uit Egipteland uitgelei het.
Lukas 16:1-13;
1 En Hy het ook aan sy dissipels gesê: Daar was ‘n ryk man wat ‘n bestuurder
gehad het; en hy is by hom aangeklaag as een wat sy besittings verkwis.
2 En hy het hom geroep en vir hom gesê: Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee
verslag van jou bestuur van sake; want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie.
3 Toe sê die bestuurder by homself: Wat sal ek doen? Want my heer neem die
bestuurderskap van my weg. Spit kan ek nie; om te bedel, skaam ek my.
4 Ek weet wat ek sal doen, sodat wanneer ek van die bestuurderskap afgesit is,
hulle my in hulle huise kan ontvang.
5 Toe roep hy die skuldenaars van sy heer, een vir een, en sê vir die eerste:
Hoeveel skuld jy aan my heer?
6 En hy antwoord: honderd vat olie. En hy sê vir hom: Neem jou skuldbewys, gaan
sit en skryf gou vyftig.
7 Daarna sê hy vir ‘n ander een: En jy, hoeveel skuld jy? En hy antwoord:
honderd mud koring. Toe sê hy vir hom: Neem jou skuldbewys en skryf tagtig.
8 En die heer het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy verstandig
gehandel het; want die kinders van hierdie wêreld is verstandiger teenoor hulle
geslag as die kinders van die lig.
9 En EK sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat
wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.
10 Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat
onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig.
11 As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die
ware goed toevertrou?
12 En as julle nie getrou was in ‘n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie
gee?
13 Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die
ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God
én Mammon dien nie.