Shabbat Shalom!
Terumah / Offer
- hierdie week se profetiese leeswerk.


1 Konings 5:12-6:13;

12

12 En YAHUVEH het aan Salomo wysheid gegee volgens SY belofte, en daar was vrede tussen Hiram en Salomo, en hulle twee het ‘n verbond gesluit.
13 Verder het koning Salomo uit die hele Israel die dwangarbeiders laat opkom, sodat die dwangarbeiders dertig duisend man was.
14 En hy het hulle gestuur na die Líbanon, tien duisend elke maand by beurte; een maand was hulle op die Líbanon, twee maande tuis; en Adoníram was oor die dwangarbeid.
15 Salomo het ook sewentig duisend draers en tagtig duisend klipkappers op die gebergte gehad,
16 behalwe die hoofopsigters van Salomo wat oor die werk was, drie duisend drie honderd wat bevel gevoer het oor die mense wat die werk doen.
17 En die koning het bevel gegee om groot klippe, kosbare klippe uit te breek om die fondament van die huis met gekapte klippe te lê.
18 En die bouers van Salomo en die bouers van Hiram en die Gibliete het dit gekap en die boomstamme en die klippe bewerk om die huis te bou.

*~ 1 Konings Hoofstuk 6 ~*


1 En in die vier honderd en tagtigste jaar ná die uittog van die kinders van Israel uit Egipteland, in die vierde jaar van Salomo se regering oor Israel, in die maand Sif—dit is die tweede maand—het hy die huis vir YAHUVEH gebou.
2 En die huis wat koning Salomo vir YAHUVEH gebou het, was sestig el in sy lengte en twintig in sy breedte en dertig el in sy hoogte.
3 En die voorportaal, aan die voorkant van die hoofvertrek van die huis, was twintig el in sy lengte, oor die breedte van die huis; tien el in sy breedte aan die voorkant van die huis.
4 En hy het aan die huis vensters gemaak met smal latwerk.
5 En teen die muur van die huis het hy rondom ‘n aanbousel opgetrek, aan die mure van die huis rondom die hoofvertrek en die binneste vertrek, en hy het dit rondom in verdiepings gemaak.
6 Die onderste verdieping was vyf el in sy breedte en die middelste ses el in sy breedte en die derde sewe el in sy breedte; want hy het vir die huis rondom buitekant inkortings gemaak, om nie in die mure van die huis in te las nie.
7 En toe die huis gebou is, is dit opgetrek van klippe, kant en klaar uit die breekplek: hamers en koubeitels, enige ystergereedskap, is nie gehoor by die huis toe dit gebou is nie.
8 Die ingang van die onderste verdieping was aan die suidelike sykant van die huis, en wenteltrappe het opgegaan na die middelste, en van die middelste na die derde.
9 En toe hy die huis klaar gebou het, het hy die huis oordek, by wyse van vakke en rye, met sederhout.
10 En hy het die aanbousel teen die hele huis gebou; vyf el was elke verdieping hoog; en hy het dit aan die huis bevestig met sederbalke.
11 En die Woord van YAHUVEH het tot Salomo gekom en gesê:
12 Wat hierdie huis betref, wat jy besig is om te bou—as jy wandel in MY insettinge en MY verordeninge uitvoer en al MY gebooie onderhou om daarin te wandel, dan sal EK MY Woord wat EK tot jou vader Dawid gespreek het, aan jou vervul;
13 dan sal EK onder die kinders van Israel woon en MY volk Israel nie verlaat nie.

Markus 12:35-44;


35 En terwyl YAHUSHUA in die tempel leer, antwoord HY en sê: Hoe sê die skrifgeleerdes dat die Christus die seun van Dawid is?
36 Want Dawid self het deur die Heilige Gees gesê: "YAHUVEH het tot my Here gespreek: Sit aan MY Regterhand totdat EK U vyande gemaak het ‘n voetbank van U voete. (Ps 110:1)
37 Dawid self noem HOM dus Here; waarvandaan is HY dan sy seun? En die groot menigte het graag na HOM geluister.
38 En HY het aan hulle in SY onderrig gesê: Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van begroetinge op die markte hou
39 en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye—
40 hulle wat die huise van die weduwees opeet en vir die skyn lang gebede doen. Hulle sal ‘n swaarder oordeel ontvang.
41 En YAHUSHUA het reg voor die skatkis gaan sit en gekyk hoe die skare geld in die skatkis gooi. En baie rykes het veel ingegooi.
42 En daar kom een arm weduwee en gooi twee geldstukkies in, dit is ‘n oortjie.
43 Toe roep HY SY dissipels na HOM en sê vir hulle: Voorwaar EK sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het.
44 Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.