46
13 Die Woord wat YAHUVEH tot die profeet Jeremia gespreek het aangaande die
koms van Nebukadrésar, die koning van Babel, om Egipteland te verower.
14 Verkondig dit in Egipte en laat dit hoor in Migdol; ja, laat dit hoor in Nof
en in Tagpánhes. Sê: Staan reg, en maak jou klaar, want die swaard het verslind
wat rondom jou is.
15 Waarom is jou ruitery neergewerp? Dit het nie bly staan nie, omdat YAHUVEH
dit omgestoot het.
16 HY het baie laat struikel, ja, die een val oor die ander, sodat hulle gesê
het: Staan op en laat ons teruggaan na ons volk en na die land van ons geboorte
weens die verdrukkende swaard.
17 Hulle het daar geroep: Farao, die koning van Egipte, is oorlogsrumoer; hy het
die bepaalde tyd laat verbygaan.
18 So waar as EK leef, spreek die Koning, wie se Naam is YAHUVEH van die
Leërskare, daar sal sekerlik een kom soos Tabor onder die berge en soos Karmel
by die see.
19 Maak vir jou toebereidsels om in ballingskap te gaan, o inwoner, dogter van
Egipte; want Nof sal ‘n woesteny word en dit sal verniel word, sonder inwoner
wees.
20 Egipte is ‘n pragtige vers; ‘n steekvlieg kom, dit kom van die noorde af.
21 Ook is haar huurtroepe daar by haar soos kalwers uit die stal; maar hulle het
ook omgedraai, almal saam gevlug, hulle het nie bly staan nie; want die dag van
hulle ondergang het oor hulle gekom, die tyd van hulle besoeking.
22 Haar geluid is soos van ‘n slang wat wegseil; want met ‘n leërmag trek hulle
en kom na haar met byle soos houtkappers.
23 Hulle kap haar bos om, spreek YAHUVEH; want hulle is onberekenbaar: want
hulle is meer as sprinkane, sodat ‘n mens hulle nie kan tel nie.
24 Die dogter van Egipte staan beskaamd; sy is oorgegee in die hand van die volk
uit die Noorde.
25 YAHUVEH van die Leërskare, die ELOHIM van Israel, sê: Kyk, EK doen besoeking
oor Amon van No en oor Farao en Egipte en sy gode en sy konings, ja, oor Farao
en die wat op hom vertrou;
26 en EK sal hulle oorgee in die hand van die wat hulle lewe soek, en in die
hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, en in die hand van sy dienaars.
Maar daarna sal dit bewoon word soos in die dae van die voortyd, spreek YAHUVEH.
27 Maar jy, my kneg Jakob, wees nie bevrees nie; en wees nie verskrik nie, o
Israel! Want kyk, EK verlos jou uit ver plekke en jou kroos uit die land van
hulle gevangenskap; en Jakob sal terugkom en stil en gerus wees sonder dat
iemand hom verskrik.
28 Jy, o my kneg Jakob, wees nie bevrees nie, spreek YAHUVEH, want EK is met jou.
Want EK sal ‘n einde maak aan al die nasies waarheen EK jou verdryf het; maar
aan jou sal EK geen einde maak nie, maar EK sal jou tugtig met mate, al sal EK
jou sekerlik nie ongestraf laat bly nie.
Johannes 19:31-37;
31 En dat die liggame nie op die Sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit
die voorbereiding was—want die dag van daardie Sabbat was groot—het die Jode
Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word.
32 Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en van die
ander een wat saam met HOM gekruisig was;
33 maar toe hulle by YAHUSHUA kom en sien dat HY al dood was, het hulle SY bene
nie gebreek nie.
34 Maar een van die soldate het met ‘n spies in SY sy gesteek, en dadelik het
daar bloed en water uitgekom.
35 En hy wat dit gesien het, het dit getuig, en sy getuienis is waaragtig; en hy
weet dat hy die waarheid spreek, sodat julle kan glo.
36 Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word: "Geen been van
HOM sal gebreek word nie". (Ex 12:46; Ps 34:20)
37 En weer sê ‘n ander Skrif: "Hulle sal sien in WIE hulle gesteek het". (Sag
12:10)