Shabbat Shalom!
Tetzaveh / Jy Sal Beveel
- hierdie week se Torah lees.


Eksodus 27:20-30:10;

27

20 En jy moet die kinders van Israel beveel dat hulle vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die kandelaar bring, om gedurigdeur ‘n brandende lamp te hê.
21 In die Tent van Samekoms, buitekant die voorhangsel wat voor die Getuienis is, moet Aäron en sy seuns dit regmaak om te brand van die aand tot die môre voor die aangesig van YAHUVEH. Dit sal ‘n ewige insetting wees in hulle geslagte, van die kant van die kinders van Israel.

*~ Exodus Hoofstuk 28 ~*


1 Dan moet jy jou broer Aäron, en sy seuns saam met hom, uit die kinders van Israel, laat nader kom na jou toe, dat hy vir MY die priesteramp kan bedien: Aäron, Nadab en Abíhu, Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron.
2 En jy moet vir jou broer Aäron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad.
3 Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat EK met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak, om hom te heilig, dat hy vir MY die priesteramp kan bedien.
4 En dit is die klere wat hulle moet maak: ‘n borstas en ‘n skouerkleed en ‘n mantel en ‘n kunstig bewerkte rok, ‘n tulband en ‘n gordel; so moet hulle dan vir Aäron, jou broer, heilige klere maak, en vir sy seuns, dat hy vir MY die priesteramp kan bedien.
5 En hulle moet die goud en die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en die fyn linne neem.
6 En hulle moet die skouerkleed maak van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, as kunstige werk.
7 Dit moet twee skouerstukke hê wat aan mekaar vas is; aan die twee bo-ente moet dit saamgevoeg word.
8 En die band wat daaraan is om dit vas te bind, moet van dieselfde werk en, daarmee saam, uit een stuk wees, van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.
9 En jy moet twee oniksstene neem en die name van die kinders van Israel daarop graveer:
10 ses van dié name op die een steen en die ses ander name op die ander steen volgens hulle geboortes.
11 Met graveerwerk, soos op ‘n seëlsteen uitgesny word, moet jy die twee stene graveer volgens die name van die kinders van Israel. Jy moet hulle maak dat hulle vassit in kassies van goud.
12 En jy moet die twee stene op die skouerstukke van die skouerkleed bevestig as gedagtenisstene vir die kinders van Israel—Aäron moet hulle name op sy twee skouers dra voor die aangesig van YAHUVEH om hulle in gedagtenis te bring.
13 Jy moet dan kassies van goud maak
14 en twee kettings van suiwer goud; gedraai soos toutjies moet jy hulle maak; en maak die kettings, soos toutjies gedraai, aan die kassies vas.
15 Jy moet ook die borstas van beslissing maak van kunstige werk; soos die werk van die skouerkleed moet jy dit maak; van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en van fyn dubbeldraad-linne moet jy dit maak.
16 Vierkantig moet dit wees en dubbel gevou; ‘n span sy lengte en ‘n span sy breedte.
17 En voorsien dit van ‘n steeninvulling van vier rye stene: ‘n ry met ‘n karneool, ‘n topaas en ‘n smarag moet die eerste ry wees.
18 En die tweede ry: ‘n karbonkel, ‘n saffier en ‘n jaspis.
19 En die derde ry: ‘n hiasint, ‘n agaat en ‘n ametis.
20 En die vierde ry: ‘n chrisoliet en ‘n oniks en ‘n sardoniks. Hulle moet in goud vasgesit wees by hulle invulling.
21 En die stene moet volgens die name van die kinders van Israel twaalf wees, volgens hulle name. Soos op ‘n seëlsteen uitgesny word, so moet hulle vir twaalf stamme wees, elkeen volgens sy naam.
22 Jy moet ook by die borstas gedraaide kettings, soos toutjies gedraai, van suiwer goud maak.
23 En maak by die borstas twee goue ringe; en bevestig die twee ringe aan die twee bo-ente van die borstas,
24 en maak die twee goue toutjies aan die twee ringe vas, aan die bo-ente van die borstas;
25 en maak die twee ander ente van die twee toutjies vas aan die twee kassies, en bevestig dié dan aan die skouerstukke van die skouerkleed, aan die voorkant daarvan.
26 Jy moet ook twee goue ringe maak, en bevestig dié aan die twee onder-ente van die borstas, aan die kant wat teen die skouerkleed aan lê, aan die binnekant.
27 En maak twee goue ringe, en bevestig dié aan die twee skouerstukke van die skouerkleed, onderaan, aan die voorkant daarvan, by sy verbinding, bo die band van die skouerkleed.
28 En hulle moet die borstas met sy ringe aan die ringe van die skouerkleed met ‘n pers toutjie vasbind, sodat dit bo die band van die skouerkleed is en die borstas nie van die skouerkleed afskuiwe nie.
29 So moet Aäron dan die name van die kinders van Israel in die borstas van beslissing op sy hart dra as hy in die heiligdom ingaan, om hulle in gedagtenis te bring voor die aangesig van YAHUVEH gedurigdeur.
30 Jy moet ook in die borstas van beslissing die Urim en die Tummim sit, dat hulle op die hart van Aäron kan wees as hy voor die aangesig van YAHUVEH ingaan. So moet Aäron dan die beslissing van die kinders van Israel gedurigdeur op sy hart dra voor die aangesig van YAHUVEH.
31 En jy moet die mantel van die skouerkleed heeltemal van pers stof maak.
32 En die opening vir die hoof moet in die middel daarvan wees. Rondom die opening moet ‘n soom van wewerswerk wees. Soos die opening van ‘n pantser moet dit daaraan wees, dat dit nie kan skeur nie.
33 En maak aan die soom daarvan granaatjies van pers en purperrooi en bloedrooi kleur, aan die soom daarvan rondom, en daar tussenin goue klokkies rondom:
34 ‘n goue klokkie en ‘n granaatjie, ‘n goue klokkie en ‘n granaatjie, aan die soom van die mantel rondom.
35 En Aäron moet dit aanhê om te kan dien, sodat die geluid daarvan gehoor word as hy in die heiligdom, voor die aangesig van YAHUVEH, ingaan en as hy daar uitgaan, dat hy nie sterwe nie.
36 Verder moet jy ‘n plaat van suiwer goud maak en daarop graveer, soos op ‘n seëlsteen uitgesny word: HEILIG AAN YAHUVEH.
37 En maak dit vas aan ‘n pers toutjie, sodat dit aan die tulband kan wees; aan die voorkant van die tulband moet dit wees.
38 So moet dit dan op die voorhoof van Aäron wees, sodat Aäron die skuld kan dra met betrekking tot die heilige dinge wat die kinders van Israel sal heilig—al hulle heilige gawes. En dit moet gedurigdeur op sy voorhoof wees, dat hulle voor die aangesig van YAHUVEH welgevalle mag vind.
39 Jy moet ook die rok van fyn linne kunstig bewerk. Jy moet ook ‘n tulband van fyn linne maak, en ‘n gordel moet jy van veelkleurige werk maak.
40 En maak rokke vir die seuns van Aäron, en maak vir hulle gordels. Ook moet jy vir hulle musse maak, tot eer en tot sieraad.
41 En trek dit jou broer Aäron en sy seuns saam met hom aan. En salf hulle en stel hulle aan en heilig hulle, sodat hulle vir MY die priesteramp kan bedien.
42 Maak ook vir hulle linnebroeke om die vlees van die skaamte te bedek. Dit moet van die heupe tot by die dye wees.
43 En Aäron en sy seuns moet dit aanhê as hulle in die Tent van Samekoms gaan, of as hulle nader kom na die altaar om in die Heiligdom te dien, sodat hulle geen skuld op hulle laai en sterwe nie. Dit is ‘n ewige insetting vir hom en vir sy nageslag ná hom.

*~ Exodus Hoofstuk 29 ~*


1 En dit is die saak wat jy vir hulle moet doen om hulle te heilig, dat hulle vir MY die priesteramp kan bedien: Neem een jong bul en twee ramme wat sonder gebrek is,
2 en ongesuurde brood en ongesuurde koeke met olie gemeng en ongesuurde platkoeke met olie bestryk. Van fyn koringmeel moet jy dit maak.
3 En sit dit in een mandjie, en bring dit aan in die mandjie saam met die bul en die twee ramme.
4 Dan moet jy Aäron en sy seuns laat nader kom na die ingang van die Tent van Samekoms en hulle met water was.
5 En neem die klere en beklee Aäron met die rok en die mantel van die skouerkleed en die skouerkleed self en die borstas, en bind hom die band van die skouerkleed om.
6 En sit die tulband op sy hoof, en bevestig die heilige kroon aan die tulband.
7 Neem dan die salfolie en giet dit op sy hoof en salf hom.
8 Ook sy seuns moet jy laat nader kom, en laat hulle die rokke aantrek,
9 en omgord hulle met die gordel, Aäron en sy seuns, en bind vir hulle musse om, dat hulle die priesteramp kan besit as ‘n ewige insetting. So moet jy dan Aäron en sy seuns as priesters aanstel.
10 En jy moet die bul aanbring voor die Tent van Samekoms; en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die kop van die bul lê.
11 En slag die bul voor die aangesig van YAHUVEH by die ingang van die Tent van Samekoms.
12 Dan moet jy van die bloed van die bul neem en dit met jou vinger aan die horings van die altaar stryk; en al die orige bloed moet jy aan die onderkant van die altaar uitgiet.
13 En neem al die vet wat oor die binnegoed is, en die lap aan die lewer en die twee niere en die vet wat daaraan is, en steek dit op die altaar aan die brand.
14 Maar die vleis van die bul en sy vel en sy mis moet jy buitekant die laer met vuur verbrand. Dit is ‘n sondoffer.
15 Neem dan die een ram, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop lê;
16 daarna moet jy die ram slag en sy bloed neem en dit rondom teen die altaar uitgooi.
17 En die ram moet jy in sy stukke verdeel, en was sy binnegoed en pote en sit dit by die orige stukke en by die kop.
18 Jy moet dan die hele ram op die altaar aan die brand steek. Dit is ‘n brandoffer aan YAHUVEH; ‘n lieflike geur, ‘n vuuroffer is dit aan YAHUVEH.
19 Dan moet jy die ander ram neem, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop lê;
20 jy moet dan die ram slag en van sy bloed neem en dit stryk aan die regteroorlel van Aäron en aan die regteroorlel van sy seuns, ook aan die duim van hulle regterhand en aan die groottoon van hulle regtervoet. En die orige bloed moet jy rondom teen die altaar uitgooi.
21 Dan moet jy van die bloed wat aan die altaar is, neem en van die salfolie en dit sprinkel op Aäron en op sy klere sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns saam met hom, dat hy heilig kan wees en sy klere sowel as sy seuns en die klere van sy seuns saam met hom.
22 En neem van die ram die vet en die vetstert, ook die vet wat oor die binnegoed is, en die lap aan die lewer en die twee niere met die vet wat daaraan is, en die regterboud—want dit is ‘n wydingsram—
23 en een ronde brood en een oliebroodkoek en een platkoek uit die mandjie met ongesuurde koeke wat voor die aangesig van YAHUVEH is.
24 En lê dit alles op die hande van Aäron en op die hande van sy seuns, en beweeg dit as beweegoffer voor die aangesig van YAHUVEH.
25 Neem dit dan uit hulle hand en steek dit op die altaar aan die brand, bo-op die brandoffer, as lieflike geur voor die aangesig van YAHUVEH. Dit is ‘n vuuroffer aan YAHUVEH.
26 En neem die bors van die wydingsram van Aäron en beweeg dit as beweegoffer voor die aangesig van YAHUVEH; daarna moet dit jou deel wees.
27 En jy moet die bors van die beweegoffer heilig en die boud van die hefoffer, wat beweeg en gehef is van die wydingsram, wat vir Aäron en sy seuns geld.
28 En dit moet vir Aäron en sy seuns wees tot ‘n ewige insetting van die kant van die kinders van Israel, want dit is ‘n hefoffer; en dit sal ‘n hefoffer wees van die kant van die kinders van Israel, van hulle dankoffers—hulle hefoffer aan YAHUVEH.
29 En die heilige klere van Aäron moet vir sy seuns ná hom wees, om hulle daarin te salf en as priesters aan te stel.
30 Die een van sy seuns wat in sy plek priester word, wat in die Tent van Samekoms sal ingaan om in die Heiligdom te dien, moet dit sewe dae lank aantrek.
31 En jy moet die wydingsram neem en sy vleis in ‘n heilige plek kook.
32 Dan moet Aäron en sy seuns die ram se vleis eet en die brood wat in die mandjie is, by die ingang van die Tent van Samekoms.
33 En hulle moet dié dinge eet waarmee versoening bewerk is toe hulle as priesters aangestel en geheilig is; maar ‘n onbevoegde mag daarvan nie eet nie, want dit is heilig.
34 En as daar van die vleis van die wydingsoffer of van die brood tot die môre toe oorbly, moet jy wat oor is, met vuur verbrand; dit mag nie geëet word nie, want dit is heilig.
35 So moet jy dan met Aäron en sy seuns doen net soos EK jou beveel het. Sewe dae lank moet hulle wyding duur.
36 Jy moet ook daagliks ‘n sondofferbul tot versoening berei en die altaar ontsondig deur daarvoor versoening te doen; en jy moet dit salf om dit te heilig.
37 Sewe dae lank moet jy versoening doen vir die altaar en dit heilig. So sal dan die altaar hoogheilig word: elkeen wat aan die altaar raak, word heilig.
38 En dit is wat jy op die altaar moet berei: twee jaaroud lammers gereeld elke dag.
39 Die een lam moet jy in die môre berei, en die ander lam moet jy teen die aand berei,
40 met ‘n tiende van ‘n efa fynmeel, gemeng met ‘n kwart-hin uitgestampte olie, en as drankoffer ‘n kwart-hin wyn vir die een lam.
41 En die ander lam moet jy teen die aand berei. Jy moet dit klaarmaak volgens die môrespysoffer en volgens die drankoffer wat daarby behoort, tot ‘n lieflike geur. Dit is ‘n vuuroffer aan YAHUVEH.
42 Dit moet ‘n voortdurende brandoffer vir julle geslagte wees, by die ingang van die Tent van Samekoms, voor die aangesig van YAHUVEH, waar EK met julle sal saamkom om daar met jou te spreek.
43 En daar sal EK met die kinders van Israel saamkom en die Tent sal deur MY Heerlikheid geheilig word.
44 So sal EK dan die Tent van Samekoms en die altaar heilig. EK sal Aäron en sy seuns ook heilig om vir MY die priesteramp te bedien.
45 En EK sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle ‘n ELOHIM wees;
46 en hulle sal weet dat EK YAHUVEH hulle ELOHIM is wat hulle uit Egipteland uitgelei het om in hulle midde te woon. EK is YAHUVEH hulle ELOHIM.

*~ Exodus Hoofstuk 30 ~*


1 Jy moet ook ‘n altaar maak om reukwerk te brand. Van akasiahout moet jy dit maak.
2 ‘n El moet sy lengte wees en ‘n el sy breedte—vierkantig moet dit wees; en twee el sy hoogte. Sy horings moet, daarmee saam, uit een stuk wees.
3 En jy moet dit met suiwer goud oortrek: die plaat en die sykante rondom en die horings. En maak daarvoor ‘n goue krans rondom.
4 Maak ook twee goue ringe daarvoor onderkant die krans aan weerskante; jy moet dié aan die twee sykante maak. En hulle moet dien as plekke vir draaghoute om dit daarmee te dra.
5 En maak die draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud.
6 Sit dit dan voor die voorhangsel wat voor die ark van die Getuienis is, voor die versoendeksel wat oor die Getuienis is, waar EK met jou sal saamkom.
7 En Aäron moet daarop reukwerk van speserye aan die brand steek; elke môre as hy die lampe regmaak, moet hy dit aan die brand steek.
8 En as Aäron teen die aand die lampe opsteek, moet hy dit aan die brand steek as ‘n voortdurende reukwerk voor die aangesig van YAHUVEH in julle geslagte.
9 Julle mag daarop geen vreemde reukwerk of brandoffer of spysoffer bring nie. Julle mag ook geen drankoffer daarop uitgiet nie.
10 En Aäron moet een maal in die jaar aan die horings daarvan versoening doen; met die bloed van die sondoffer van versoening moet hy een maal in die jaar daarvoor versoening doen vir julle geslagte. Hoogheilig is dit aan YAHUVEH.