36
16 Verder het die Woord van YAHUVEH tot my gekom en gesê:
17 Mensekind, toe die huis van Israel in hulle land gewoon het, het hulle dit
verontreinig met hul wandel en met hul handelinge; hulle wandel was voor MY
aangesig soos die besoedeling van die maandelikse onreinheid.
18 Daarom het EK MY grimmigheid oor hulle uitgegiet, vanweë die bloed wat hulle
in die land vergiet het, terwyl hulle dit met hul drekgode verontreinig het.
19 En EK het hulle verstrooi onder die nasies en hulle is versprei in die lande;
EK het hulle geoordeel volgens hul wandel en hul handelinge.
20 En toe hulle by die nasies kom waarheen hulle getrek het, het hulle MY
heilige Naam ontheilig deurdat van hulle gesê is: Hierdie mense is die volk van
YAHUVEH, en hulle moes uit SY land uittrek.
21 Toe het dit MY ter harte gegaan om MY heilige Naam ontwil wat die huis van
Israel ontheilig het onder die nasies waar hulle gekom het.
22 Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here YAHUVEH: EK doen dit
nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van MY heilige Naam
wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het.
23 En EK sal MY grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle
onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat EK YAHUVEH is, spreek die
Here YAHUVEH, as EK MY in julle voor hul oë as die Heilige laat ken.
24 En EK sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar
laat kom, en EK sal julle in jul land bring.
25 Dan sal EK skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul
onreinhede en van al jul drekgode sal EK julle reinig.
26 En EK sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en EK
sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. (Jer
31:31-34)
27 En EK sal MY Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in MY insettinge
wandel en MY verordeninge onderhou en doen. (Joël 2:28)
28 En julle sal woon in die land wat EK aan jul vaders gegee het; en julle sal
vir MY ‘n volk en EK sal vir julle ‘n ELOHIM wees.
29 En EK sal julle verlos van al jul onreinhede; en EK sal roep na die koring en
dit vermenigvuldig, en EK sal geen hongersnood op julle lê nie. (Joël 2:23-26)
30 En EK sal die vrugte van die bome en die opbrings van die veld vermenigvuldig,
sodat julle die smaad van hongersnood nie meer hoef te verdra onder die nasies
nie.
31 Dan sal julle dink aan jul verkeerde weë en aan jul handelinge wat nie goed
was nie; en julle sal vir julleself walglik wees oor jul ongeregtighede en oor
jul gruwels.
32 EK doen dit nie om julle ontwil nie, spreek die Here YAHUVEH; laat dit julle
bekend wees! Skaam julle en bloos oor jul weë, o huis van Israel.
33 So sê die Here YAHUVEH: In die dag as EK julle reinig van al jul
ongeregtighede, sal EK die stede laat bewoon, en die puinhope sal opgebou word.
(Lev 16:30, Jes 49:8, Jes 58:12)
34 En die verwoeste land sal bewerk word, in plaas dat dit ‘n wildernis is voor
die oë van almal wat verbygaan.
35 En hulle sal sê: Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van
Eden; en die stede wat in puin gelê het en verwoes en afgebreek was, is versterk
en bewoon. (Joël 2:3, Jes 51:3)
36 Dan sal die nasies weet wat rondom julle oorgebly het, dat EK, YAHUVEH,
opgebou het wat afgebreek was, beplant het wat verwoes was; EK, YAHUVEH, het dit
gespreek en sal dit doen.
1 Korinthiërs 15:1–58
1 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het,
wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,
2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek
dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.
3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het,
dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
4 en dat HY begrawe is, en dat HY op die derde dag opgewek is volgens die
Skrifte;
5 en dat HY aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf.
6 Daarna het HY verskyn aan oor die vyf honderd broeders tegelyk, waarvan die
meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het.
7 Daarna het HY verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels;
8 en laaste van almal het HY verskyn ook aan my as die ontydig geborene.
9 Want ek is die geringste van die apostels, wat nie werd is om ‘n apostel
genoem te word nie, omdat ek die gemeente van YAHUVEH vervolg het.
10 Maar deur die genade van ELOHIM is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie
tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek
nie, maar die genade van ELOHIM wat met my is.
11 Of dit nou ek of hulle is, so preek ons en so het julle geglo.
12 As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige
onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie?
13 As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek
nie.
14 En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs
ook julle geloof;
15 en dan word ons valse getuies van ELOHIM bevind, omdat ons teen ELOHIM getuig
het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die
dode nie opgewek word nie.
16 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie;
17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is
julle nog in julle sondes;
18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.
19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van
alle mense.
20 Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; HY het die eersteling geword van
die wat ontslaap het.
21 Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook
deur ‘n mens.
22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus
lewend gemaak word;
23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan
Christus behoort by SY koms.
24 Daarna kom die einde, wanneer HY die koninkryk aan YAHUVEH die Vader oorgee,
as HY alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.
25 Want HY moet as koning heers totdat HY al SY vyande onder SY voete gestel
het.
26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.
27 Want "HY het alles aan SY voete onderwerp", maar wanneer HY sê dat "alles
onderwerp is, is dit duidelik dat HY uitgesonder is" (Die Vader) wat alles aan
HOM onderwerp het. (Ps 8:6)
28 En wanneer alles aan HOM onderwerp is, dan sal ook die Seun Self HOM
onderwerp aan die Een (Die Vader) wat alles aan HOM onderwerp het, sodat YAHUVEH
alles in almal kan wees.
29 Anders, wat sal hulle doen wat hulle vir die dode laat doop, as die dode
geheel en al nie opgewek word nie? Waarom laat hulle hul nog vir die dode doop?
30 Waarom is ons ook elke uur in gevaar?
31 Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus
YAHUSHUA, onse Here.
32 As ek in Éfese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel
was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, "laat ons dan eet en drink,
want môre sterf ons!"
33 Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.
34 Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis
van YAHUVEH nie. Ek sê dit tot julle beskaming.
35 Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom
hulle?
36 Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie.
37 En wat jy saai—jy saai nie die liggaam wat sal word nie, maar ‘n blote korrel,
byvoorbeeld van koring of van iets anders.
38 Maar ELOHIM gee dit ‘n liggaam soos HY gewil het, en aan elkeen van die
saadkorrels sy eie liggaam.
39 Alle vlees is nie dieselfde vlees nie, maar die vlees van mense is anders as
die vlees van vee, en dié van visse anders as dié van voëls.
40 En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die
hemelse is anders as dié van die aardse.
41 Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan
en anders die heerlikheid van die sterre; want die een ster verskil in
heerlikheid van die ander ster.
42 So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid,
daar word opgewek in onverganklikheid;
43 daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai
in swakheid, daar word opgewek in krag.
44 ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar
is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.
45 So is daar ook geskrywe: "Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword";
die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.
46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die
geestelike.
47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is YAHUVEH uit die
hemel.
48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse
Mens is, so is ook die hemelse mense.
49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van
die hemelse dra.
50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van YAHUVEH
nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
51 Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie,
maar ons sal almal verander word,
52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal
weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.
53 Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie
sterflike moet met onsterflikheid beklee word.
54 En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie
sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat
geskrywe is: "Die dood is verslind in die oorwinning".
55 "Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?"
56 Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet.
57 Maar ELOHIM sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here YAHUSHUA
Christus.
58 Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig
in die werk van YAHUVEH, omdat julle weet dat julle arbeid in YAHUVEH nie
tevergeefs is nie.